Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kan ek maar aan jou selluliet vat?
Kan ek maar aan jou selluliet vat?
Kan ek maar aan jou selluliet vat?
Ebook419 pages5 hours

Kan ek maar aan jou selluliet vat?

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Bekroonde en geliefde skrywer André le Roux keer 45 mites oor die liefde op hul kop. Hier is die Kook & Geniet van intieme verhoudings – slegs vir volwassenes. Wat is dit met mans en vroue? Hoekom sukkel ons so? Hoekom is ons so gelukkig? So óngelukkig? Hoekom eet ons so? Worrie ons so? Hoekom lag ons so? Huil ons so? Hoekom kyk ons so sepies? Hoekom stry ons so? Hoekom so baie seks? Hoekom so mín seks? Hoekom trou ons so? Skei ons so? En wat moet jy jou kind leer om verhoudings beter te hanteer? Wat is die vier grootste bedreigings vir die huwelik? Die antwoord lê in gesonde verstand en drie dinge… en hel, dis só opwindend!
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 10, 2010
ISBN9780624050773
Kan ek maar aan jou selluliet vat?
Author

André le Roux

André le Roux is ’n gesoute joernalis wat by onder meer by Beeld, Huisgenoot en Die Burger gewerk het. Hy was jare lank eindredakteur by Sarie en is ’n gewilde rubriekskrywer. Sy boeke sluit talle topverkopers in, soos Op die man af, Nou ja toe en Op die vrou af.

Read more from André Le Roux

Related to Kan ek maar aan jou selluliet vat?

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kan ek maar aan jou selluliet vat?

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kan ek maar aan jou selluliet vat? - André le Roux

    Kan ek maar aan jou selluliet vat?

    Hoe mans se koppe werk (indien wel)

    André le Roux

    Tafelberg

    Vir Marté

    vanselfsprekend

    Voorwoord?

    Wat’s die antwoord?

    Nie eens Freud kon die vraag kleinkry nie

    The great question that has never been answered and which I have not yet been able to answer, despite my 30 years of research into the feminine soul, is: ‘What does a woman want?’

    – Sigmund Freud

    Freud het nagelaat om te vra: Wat wil ’n man hê?

    (Of het hy hoeka geweet?)

    Navorsers – sielkundiges, psigiaters, seksuoloë, neuroloë, ensovoorts – bestee jare se geld om te probeer agterkom wat dit is met mans en vroue.

    Hoe dink vroue? Hoe dink mans (indien wel)? Hoekom is ons so gelukkig? Hoekom is ons so ongelukkig? Hoekom sukkel ons so? Hoekom gaan ons so tekere? Hoekom worrie ons so? Hoekom eet ons so? Hoekom dieet ons so? Hoekom lag ons so? Hoekom huil ons so? Hoekom stry ons so? Hoekom het ons so baie seks? Hoekom het ons so min seks? Hoekom trou ons so? Hoekom skei ons so? Hoekom het ons mekaar so nodig …?

    Die navorsers stuur vraelyste uit, hou vroue en mans onder laboratoriumtoestande dop om te kyk hoe mans hul arms swaai en vroue hul arms vou, hoe ons kommunikeer. Hulle doen moderne breinskanderings om te sien wat gebeur as ons kwaad word of bly is om mekaar te sien, waar die liefde lê. Hulle bestudeer die gedrag van muise om te sien of muise iets vir mense te sê het. Hulle soek in ons hormone na tekens en redes vir wat ons doen en nie doen nie. In ons gene, in die sentrums van die brein. Hulle vra vrae, weerspreek mekaar, en kry net halwe antwoorde.

    Wie’t gesê verhoudings is maklik? Op hul maklikste is dit moeilik … Intieme verhoudings nog moeiliker. En makliker. En swaarder. En ligter. En lekkerder. En wat nog?

    Jou kans om ’n perfekte, getroue tamatie in die supermark raak te loop is honderd keer groter as om ’n perfekte verhouding teë te kom. Maar as jy dit beter verstaan, sal jy dit beter kan hanteer. Probleme sal nie verdwyn nie, maar jy sal dit in ’n beter lig sien. Mense loop gewoonlik verhoudings binne toegerus met net hul hormone, wat later deurmekaar raak.

    Hoe nou? Hoekom? Wat het gebeur? Wat gaan aan? Waar’s die antwoord?

    Soek gaan hulle nog lank soek …

    Maar eintlik hét ons reeds die antwoord: Verhoudings is gesonde verstand. Dis a. ’n eenvoudige vraag, b. humor en c. die liefde.

    En hel, dis opwindend!

    So, a beetle walks into a bar …

    André le Roux

    Mei 2010

    * Die skrywer is nie ’n sielkundige, psigiater, seksuoloog, neuroloog, breinchirurg, terapeut, maatskaplike werker, huweliksberader, lewensafrigter of komediant nie.

    Hy’s ’n joernalis met ondervinding (sedert 1980).

    Ken jou hormone en sulke dinge

    ’n Verwysingsgids

    Adrenalien. Hormoon en neuro-oordragstof wat vinnig styg tydens stresvolle situasies, verantwoordelik vir die veg-of-vlug-reaksie.

    Anandamied. Neuro-oordragstof in die brein betrokke by onder meer motivering. Goedvoel-middel. Ook in sjokolade.

    Androstenool. Sekshormoon en androsteroon se ooreenstemmende feromoon. Klein hoeveelhede in sweet.

    Androsteroon. Steroïedhormoon gevorm tydens die metabolisme van testosteroon in die lewer, uitgeskei in urine.

    Dopamien. Neuro-oordragstof betrokke by beweging. Ook in beloningsentrum van die brein waar dit emosies beïnvloed, en ’n neuro-hormoon, hoofsaaklik om prolaktien onder beheer te hou.

    Endorfien. Chemiese verbinding in die brein soortgelyk aan morfien, afgeskei tydens oefening, pyn, orgasme, ensovoorts. Liggaam se natuurlike pynstiller en ’n goedvoel-middel.

    Estrogeen. Belangrikste vroulike sekshormoon, afgeskei in eierstokke.

    Fenieletielamien. Voorloper van dopamien, noradrenalien en adrenalien. Ook in sjokolade.

    Fenotipe. Jou uiterlike (sigbare) karaktertrekke en gedrag soos bepaal deur jou gene en omgewing. Is uniek en ’n aanduiding/weerspieëling van die stand van jou immuunstelsel.

    Feromoon. Stuur chemiese boodskappe uit waarop ander van dieselfde spesie reageer. Deel van aantrekkingskrag tussen geslagte.

    Ghrelien. Hormoon wat honger aanbring, onder meer in die maag en pankreas.

    Hormoon. ’n Chemikalie deur endokriene kliere afgeskei. Stuur chemiese boodskappe deur liggaam, onder meer verantwoordelik vir jou bui.

    Kopulien. Vroulike seksferomoon. Sterk bindingsmiddel, veral vir ’n man. Kan mans onderdanig maak aan ’n vrou.

    Kortisoon (kortisol). Streshormoon deur die byniere afgeskei. Verhoog bloeddruk en bloedsuiker, verswak immuunstelsel.

    Neuro-oordragstof. Chemiese stof wat boodskappe tussen neurone (senuweeselle) en ander selle oordra.

    Noradrenalien. Voorloper van adrenalien in die outonome senuweestelsel. Help om onwillekeurige liggaamsfunksies te reguleer, soos bloeddruk en polsslag.

    Oksitosien. Vroulike hormoon betrokke by geboorte, borsvoeding en orgasme. Speel ’n sosiale rol, ook ’n emosionele bindingsmiddel.

    Pituïtêre klier. Belangrikste endokriene klier (= inwendig afgeskei) in die brein. Skei hormone en hormonale voorlopers af om onder meer groei, seksuele funksie, stres en skildklierfunksie te beheer.

    Progesteroon. Vroulike sekshormoon betrokke by menstruasie en swangerskap, afgeskei deur eierstokke, en plasenta tydens swangerskap.

    Prolaktien. Hormoon primêr verbind met geboorte en borsvoeding. Ook belangrike sekshormoon.

    Serotonien. Neuro-oordragstof hoofsaaklik in dermkanaal, asook sentrale senustelsel. Beheer bui, eetlus, slaap, ensovoorts.

    Testosteroon. Belangrikste manlike sekshormoon, afgeskei deur die testes.

    Vasopressien. Hormoon, beheer onder meer liggaam se vogbalans. Help ook temperatuur en bloeddruk reguleer. Belangrike bindingsmiddel.

    1. Te sexy vir jou brein

    Die limbiese stelsel

    The chief function of the body is to carry the brain around.

    – Thomas Edison

    Brains.jpg

    Min of meer in die middel van jou brein, diep in die voue verberg onder kartels en kronkels, af tot naby die breinstam, lê ’n deel waarsonder die lewe niks lekker sou gewees het nie. Dit lê tussen die boonste, rasionele gedeelte (neokorteks of serebrale korteks, wat jou intellek huisves) en die onderste, primitiewe brein (so oud soos die berge self, waar aggressie en die veg-of-vlug-instink setel).

    Dus: bo, middel, onder. Netjies in drie lae verpak.

    Jou brein.

    En die middelste deel is jou limbiese stelsel, ook bekend as die beloningsentrum van die brein. Dis sexy en hier gebeur als wat lekker is.

    Daarsonder sou jy nie wou lag of huil nie. Sjokolade sou soos papier gesmaak het en roomys soos watte. Selfs inkopies sou ’n straf gewees het. Jy sou nie wou soen of vry nie, en seks sou net bewegings gewees het. Want dis hier waar die liefde en passie lê.

    Tydens seks sê dit: Moenie ophou nie, julle moet in elk geval voortplant, dis lekker, kom nou, aanhou beweeg en geraas maak. ’n Orgasme stuur rillings deur jou limbiese stelsel, kry vir jou gerus nog. En dis presies wat jy doen – jy kom terug vir nog. Seks raak nie uitgewerk nie.

    Hier, in die limbiese stelsel, lê ook jou emosies. Van vrees tot woede tot blydskap en hartseer. En jou geheue. En reuk.

    Binne-in die limbiese stelsel skuil die amigdala, twee kolle, een in elk van die twee hemisfere van jou brein. Die amigdala sorteer jou geheue uit en besluit wat jy gaan onthou en wat nie, waar dit in die brein gebêre gaan word sodat jy dit later kan terugroep. Dan neem die hippokampus oor – ook deel van die limbiese stelsel – en voer alles wat jy gaan onthou verder tot in jou langtermyngeheue, waar dit gebêre word totdat jy dit weer nodig kry.

    Die amigdala bewaar ook jou sagte eienskappe, soos liefdevolheid en omgee vir mense, jou vriendskappe. Dit bepaal dus sosiale gedrag, ook seksueel.

    In die amigdala lê ook vrees en kwaad word. Dit sê: Pasop, wees bang, daar’s gevaar! Dis wanneer jou veg-of-vlug-instink op aandag spring, jy raak kwaad om te kan baklei.

    Dit lyk of die brein homself balanseer met teenoorgesteldes wat op presies dieselfde plek gebeur: liefde/haat, plesier/pyn, vriendelikheid/woede, selfs humor/woede. Wat nie ’n goeie gedagte is nie, want dit sou beteken liefde kan maklik omswaai na haat, humor na woede, lag na huil. Al dié emosies ontlok dieselfde passie, terwyl dit gewoonlik as teenpole ervaar word. En dit gebeur in jou hipotalamus, ’n ander deel van die limbiese stelsel.

    Maar daar is ’n verskil: Groot gedeeltes van die serebrale korteks, geassosieer met gesonde oordeel en logika, sny uit wanneer jy verlief is, maar net ’n klein gedeelte sny uit wanneer jy iemand haat. Wanneer jy verlief is, het jy dus nie meer so ’n gesonde oordeel of logika nie. Wanneer jy haat weet jy presies hoekom.

    Die hipotalamus reguleer ook die outonome senuweestelsel en bloeddruk, hartklop, honger en dors, en dit plaas jou in die bui vir seks – en die drang om onbeheersd en hardop te lag. Dit beheer ook die pituïtêre klier in jou brein.

    Dié klier sit aan ’n steeltjie net onder die einste hipotalamus. Dis maar so groot soos ’n ertjie, maar skei die lekkerste hormone af en is in beheer van belangrike funksies soos jou groei, bloeddruk, kontraksies tydens geboorte, melkvorming tydens borsvoeding, seksorgane se werking, ensovoorts.

    ’n Vrou se limbiese stelsel is ietwat groter as ’n man s’n en boonop beter ontwikkel. En omdat dit beter ontwikkel is, verstaan jy hom beter as hy vir jou.

    Wat ’n romantiese gedagte: Julle is twee limbiese stelsels op soek na begrip. Soms gaan julle mekaar verstaan, soms nie. Dit maak jul verhouding soms moeilik, soms maklik.

    Maar altyd lewendig.

    Al die dele van die limbiese stelsel is soos in ’n legkaart verweef en funksioneer as ’n gladde, geoefende eenheid. Jy dink met jou hormone sonder dat jy dit weet, op soek na beloning. Só word jy halsoorkop verlief, want jou limbiese stelsel laat dinge outomaties gebeur. As jy jou weer kom kry, is jy verlief sonder dat iemand (of jou brein) jou daarin geken het.

    Mans, het Britse navorsers (2009) vasgestel, word meer verlief met die eerste oogopslag as vroue. Een uit drie mans. Dit duur gemiddeld 8,2 sekondes vir hom om met die eerste oogopslag verlief te raak! As hy minder as 4,5 sekondes na jou kyk, gaan hy nie vir jou val nie, jy’s nie aantreklik genoeg nie. Terwyl vroue ewe lank na mans kyk waarin hulle belangstel of nie belangstel nie, en net een uit tien sê hulle het al liefde met die eerste oogopslag ervaar.

    En hy raak meer as een keer verlief met die eerste oogopslag … dan trou hy.

    Vroue trou op hul beurt makliker vir ander dinge as liefde, soos geld of status. Sy’t die geld of status nodig om te sorg dat haar kinders orraait is.

    Omdat die beloningstelsel in jou brein ook jou motivering bepaal, is dit die dryfveer agter alles wat jy doen. Dit laat jou wonderlik voel, maar kan jou ook oor die afgrond lei, want dit beloon jou op allerhande maniere om jou eie voortbestaan te verseker. Daarom eet jy wanneer jy honger is en drink jy water wanneer jy dors is. Daarom wil jy voortplant (seks hê).

    Maar belangriker: Jy doen dit omdat die beloningsentrum in die limbiese brein jou verseker jy gaan goed voel as jy dit of dat doen. Dit sê vir jou: Hou aan eet, dis lekker. Dis wanneer jy te veel eet sonder om aan die gevolge te dink. Jou honger-hormoon genaamd ghrelien beaam dit: Eet nóg, al is jy reeds versadig. Ná ’n groot ete is daar altyd nog plek vir poeding.

    Kry nog ’n drankie, nog ’n sigaret … al sê die rasionele gedeelte van jou brein: Genoeg, moenie!

    Als ter wille van vinnige bevrediging. Jou beloningsentrum is selfsugtig en ingestel op kortstondige plesier, ongeag wat met jou gesondheid op die lange duur kan gebeur.

    Maar uiteindelik het jy rasionele denke waarmee jy die limbiese stelsel kan veto. Jy’t dus nie ’n verskoning vir enige vergrype nie …

    Die ding is net: Jy sal verby ’n paar verleidelike hormone (komplimente van jou pituïtêre klier) en neuro-oordragstowwe moet kom. Soos vasopressien, oksitosien, dopamien en ’n hele paar ander.

    Mmm, jy weet nie wat op jou wag nie …

    2. Monogamie of nie?

    Die storie van die woelmuis (en die gifpaddatjie van Peru)

    Bigamy is having one husband or wife too many. Monogamy is the same.

    – Oscar Wilde

    There is so little difference between husbands

    you might as well keep the first.

    – Adela Rogers St. Johns

    Hy’s klein en oulik. En baie lieftallig. En woelig.

    Die woelmuis.

    Woelmuise (voles) lyk baie soos ons eie veldmuise, maar met ’n kort stertjie, klein oortjies, ronde koppie en stomp snoet. Doodbang vir uile.

    Party bronne sê daar’s 155 van dié Microtus-spesie (microtus = klein oortjies). Maar net die prêrie-woelmuis is lewenslank getrou aan sy wyfie. Hy help selfs om die kinders groot te maak en is baie besitlik en beskermend teenoor die wyfie. Asof hy weet dis beter vir ’n kind om ’n ma en ’n pa te hê. Twee mense wat die kind beskerm en grootmaak, is immers beter as een.

    Vra enige enkelouer.

    Hormone word afgeskei deur endokriene kliere. Wanneer die mannetjie en wyfie mekaar ontmoet, word die hormoon vasopressien in die mannetjie se brein afgeskei en oksitosien by die wyfie, nes by vroue wanneer hulle geboorte skenk. Dit help met die kontraksies en borsvoeding en maak die ma – en pa – onmiddellik lief vir die baba al is hy hoe lelik.

    Dis die vasopressien en oksitosien wat woelmuise – en mans en vroue – aan mekaar bind. Oksitosien bind ook ouers en kinders, en vriende, aan mekaar. Dit maak jou lief vir jou kat of hond. Dis die rede waarom mense met troeteldiere gouer gesond word wanneer hulle siek is, waarom getroude mense langer lewe en waarom ondersteuningsgroepe inderdaad help. Daar’s oksitosien in ondersteuningsgroepe.

    Oksitosien laat jou ook terugdink aan positiewe ervarings, en navorsers (2007) het agtergekom hoë dosisse daarvan laat jou sommer 80% meer geld weggee aan vreemdelinge. Jy vertrou makliker en raak vrygewig.

    In dié stadium is die woelmuis en sy wyfie nog net vriende. Daar’s oksitosien, maar nog nie vasopressien nie. Tot hulle begin paar, dan vloei die vasopressien. Woelmuise paar driftig, feitlik sonder ophou vir 24 tot 36 uur.

    (Herklaas sal dit nooit in der ewigheid so lank uithou nie! Sy hart …)

    G’n wonder die woelwater-woelmuise woel so nie – hul lewensverwagting is maar drie tot ses maande. Die bittereinders kan dalk twaalf maande haal. Dis eers ná paring dat die prêrie-woelmuis besluit hy bly by daardie wyfie wat hom so gelukkig gemaak het.

    Hoekom?

    Op soek na ’n antwoord het wetenskaplikes in 2004 die grasland-woelmuis nader geroep, een van die oorblywende 154 spesies wat soos skarrelende klein hoertjies die hele veld dek van Europa, Asië, Noord-Amerika tot Noord-Afrika. Die wetenskaplikes het ingemeng met een van die grasland-woelmuis se breinhormone, einste vasopressien.

    Toe kom die wetenskaplikes agter die res van die woelmuis-familie het minder vasopressien-reseptore as die prêrie-woelmuis. In die brein van monogame spesies is neurone wat meer vatbaar is vir oksitosien en vasopressien (die neurone het dus meer reseptore vir oksitosien en vasopressien).

    Die volgende stap was om ekstra vasopressien in die grasland-woelmuis se brein in te spuit, geheg aan ’n skadelose virus, en te kyk wat gebeur.

    Toe gebeur dit.

    Terwyl die ingespuite virus vat en ekstra vasopressien afgeskei word, het daardie woelmuis feitlik oornag getrou geword aan een wyfie! Selfs toe ander woelmuis-wyfies hom wou uitlok deur hul stertjies te swaai het daardie woelmuis sterk gestaan. Tot die dood ons skei en selfs daarna: As sy wyfie doodgaan, bly hy vir die res van sy kortstondige lewetjie selibaat, die arme ding.

    Die wetenskaplikes vermoed die (manlike) hormoon vasopressien word afgeskei tydens paring, nes by die mens, en dit aktiveer die beloningstelsel in die brein wat jou goed laat voel. Nou assosieer die woelmuis daardie lekker gevoel met die bepaalde woelmuis-wyfie met wie hy so pas ure lank gepaar het, en hy kom telkens terug vir nog. Die woelmuis het sowaar verlief geraak – amper nes mense – teenoor die ander woelmuise wat so rondloop omdat hulle nie genoeg vasopressien-reseptore het nie.

    Hoewel monogaam, het wetenskaplikes agtergekom, kan prêrie-woelmuise ook maar ontrou wees en rondloop – nes die mens. (Dit vat ook net een mens of een woelmuis om ’n mooi liefdesverhaal op te neuk …)

    Het jy al ’n woelmuis sien gloei in die donker?

    Dis presies wat wetenskaplikes reggekry het deur ’n woelmuis, met sy komplekse genetiese samestelling, te maak. In 2009 het Amerikaanse navorsers in Atlanta, Georgia, genetiese variante van woelmuise geskep deur nuwe genetiese materiaal in die embrioselle van prêrie-woelmuise in te spuit, weer via die skadelose virus. Die geen wat hulle gebruik het, was vir groen fluoresserende proteïene (gesteel by jellievisse), wat vanself gloei in lig van ’n bepaalde frekwensie.

    Daarmee het hulle bewys die woelmuis se selle is inderdaad in die embrio verander en hul babas sal daardie veranderinge toon. Die wetenskaplikes sal kan sien hoe dit hul gedrag beïnvloed het, en daardeur kan hulle dalk menslike gedrag beter verstaan.

    Hulle hoop dit kan help om menslike sosiale interaksie en binding te ontrafel, of wanneer sosiale vaardighede skeefloop soos by outisme of verslawing, wat ook te doen het met die brein se beloningsentrum.

    Woelmuise het nog ’n nut vir die wetenskap, vir argeoloë. Hulle het ’n sogenaamde vole clock by die diertjies ontdek. Aan die hand van die woelmuise se horlosie kan argeoloë bepaal hoe hulle die afgelope miljoen jaar ontwikkel het. Dit help om argeologiese uitgrawings akkuraat te dateer.

    Gaan na die woelmuis en word wys …

    ◊◊◊

    Of nog beter: die gifpaddatjie van Peru.

    Wetenskaplikes ken reeds dié grootoog-paddatjie, maar eers vroeg in 2010 het hulle agtergekom hy’s die enigste monogame paddatjie in die hele amfibiese wêreld, skaars so groot soos ’n man se duimnael, maar baie skraler. ’n Mens kan hom die woelmuis van die reënwoude noem.

    Hy’s ewe oulik.

    Geel met swart kolle, of swart met ’n oranjegeel netwerk van strepe oor die rug, en ’n kleiner netwerk van witterige kolle op die pote. Daar’s variasie op dié kleurpatrone, met meer rooi of blou.

    Boonop na-aap hy die kleure van ander paddas. Sy naam is nie verniet Ranitomeya imitator nie, die mimic poison frog. Hy’s self giftig, maar hy maak die kleure na van minstens drie ander soorte paddatjies wat nog giftiger is as hy, net om seker te maak sy vyande kry die boodskap.

    Maar terwyl sy rondlopermaats in groot poele baljaar, waar daar genoeg kos vir almal is, is dié gifpaddatjie beperk tot kleiner poele, waar daar nie soveel te ete is nie. Dan besluit hy om by die huis te bly om toe te sien dat die kinders genoeg kos kry.

    Dit het wetenskaplikes agtergekom deur die paddatjies rond te skuif tussen poele van verskillende groottes. Dié in die groter poele met baie kos was promisku, maar dié in die kleiner poele met minder kos was monogaam. Wat vir die wetenskaplikes ’n goeie bewys is dat monogamie die gevolg kan wees van ’n enkele oorsaak – in dié geval die kleiner leefruimte (waterpoel).

    ◊◊◊

    Ná paring lê die wyfie-gifpaddatjie haar eiers op blare. Die monogame mannetjie abba dan elke paddavissie wat uitbroei netjies op sy rug tot binne-in ’n poeletjie water, wat versamel het in die blare van die bromelia-plant, so ’n meter of wat bo die grond, maar meestal op die vogtige woudvloer. Elke poeletjie water kry sowat ses paddavissies, waar die mannetjie hulle sit en oppas. Sodra hy agterkom hulle is honger, roep hy die wyfie, wat ’n onbevrugte eiertjie in elke poeletjie lê.

    Dis kos vir die kleintjies.

    Mannetjie en wyfie werk dus saam ter wille van die kinders se oorlewing.

    (’n Ander promiskue paddatjie van dieselfde spesie lê haar eiers in ’n veel groter poel, en sy los die kleintjies net so dat die mannetjie hulle alleen moet grootmaak. Haar hulp met onbevrugte eiertjies is nie nodig nie, want daar’s genoeg kos in die groter poel.)

    Wel, die gifpaddatjie van Peru is nog meer getrou aan sy maat as die woelmuis, wat mos nou en dan wegglip na ’n ander wyfie toe, al kom hy weer terug.

    DNS-toetse op 12 gifpadda-gesinnetjies het gewys 11 van daardie gesinne se kinders is almal binne die huwelik verwek, maar in die twaalfde familie het een mannetjie sowaar ’n affair met ’n ander wyfie gehad, toe’s daar ’n buite-egtelike paddavissie.

    ’n Mens kan ook nie álle paddas vertrou nie …

    3. Liefde en geraas maak in die tyd van plastieksakke

    Die storie van die vies vrou in die slaghuis

    By all means marry; if you get a good wife you’ll be happy; if you get a bad one you’ll become a philosopher.

    – Sokrates

    Eendag op ’n Saterdagoggend in ’n slaghuis in die Klein-Karoo.

    Die gewone slaghuisgeluide: Stemme, ’n sifdeur wat klap, elke nou en dan die dun geloei van ’n saaglem, kasregister-klanke en kleingeld. Verder, sou ’n mens seker kon sê, is dit vreedsaam en stil.

    Tot daar ’n ou inkom op twee rye spore.

    Dis tienuur in die oggend, maar hy’s matig aangeklam dog sigbaar dronk, soos die uitdrukking lui. En hy praat vreeslik hard, luidrugtig. Hy soek R5 se varkvet. Hy soek dit nóú.

    By die toonbank tussen ander mense staan ’n vrou. Sy is nogal … wel … nogal rond met so ’n hoë boesem. Haar rok trek ’n bietjie op oor haar maag, dit raak glad nie aan haar knieë nie.

    Daar staan sy met enkels in plat skoene en, soos Jan Spies sou sê, so ’n vies trek om die mond, ’n dun mondjie, en ’n frons. Haar hare is ook dun. En die ou gaan druk met sy spore voor haar in, sy moet effens tru staan.

    R5 se varkvet! sê die ou.

    Die eienaar tree tussenbeide en sê vir hom, gaan staan agter in die ry, jy kan mos sien hier’s ander mense voor jou. Die vrou met die vies trek om die mond kry net daar ’n aanval van padwoede. Sy gryp haar pakkie skaaptjops, druk dit in haar plastieksak van OK Foods, ruk haar op en sê: Vir wat ráás jy so vroeg in die oggend?!

    Haar stem styg in desibels tot teen die plafon, twee keer harder as wat die dronk ou praat. Sy betaal, en storm deur toe, enkels in plat skoene …

    Die eienaar gee vir die ou sy varkvet en sê hy moet volgende keer sy eie plastieksak saambring, anders moet hy vir een betaal.

    Nou hoe nou? Vir wat?

    Dis ’n nuwe wet van die regering.

    Nou hoe moet ek dit weet? Ek het nie ’n radio of TV nie!

    Ek sê jou mos nou.

    Die ou dink.

    Hy dink.

    Nou hoekom is die minimum loon in die Wes-Kaap R800 ’n maand en ek kry net R200 ’n maand?

    Dit hang seker af watse werk die ou doen, maar die eienaar glimlag, want hy ken die antwoord.

    Omdat jy nie in die Wes-Kaap is nie.

    Nou wáár is ek dan? kom dit vinnig. Die ou trap ’n ongelykheid in die slaghuisvloer net-net mis.

    Jy’s in die Karoo.

    Nou wáár is die Wes-Kaap dan?

    Daar van Worcester se kant af aan Kaap toe.

    Nuwe inligting.

    Nou dink die ou harder. Wat gemaak met die nuwe inligting?

    Worcester? dink hy.

    Nee, sê hy. Vir R800 ’n maand gaan ek wragtag nie Woester toe nie!

    4. Ek’s malverlief op jou!

    Die eerste stadium van die liefde, oftewel die pienk-lens-effek

    To be in love is merely to be in a state of perceptual anesthesia.

    – H.L. Mencken

    Gravitation is not responsible for people falling in love.

    – Albert Einstein

    Dit begin by daardie eerste kyk in mekaar se oë, die tweede kyk, en dan ’n groot glimlag. Jou oë gaan wyd oop – voor jy skaam afkyk. Jy skuil agter jou hand en giggel. Jy vat aan jou hare, streel met jou tong oor jou lippe (kyk, hier is seksuele potensiaal, volgens Joe Navarro, ’n gewese spesiale agent in teenintelligensie van die FBI en lyftaalkenner), en jy stoot jou borste subtiel uit. Jy strek jou nek (kyk, ek is weerloos). Jy draai jou heupe net effens in die man se rigting (kyk, ek’s vrugbaar).

    En loer weer skalks na hom.

    Jy’s besig om te flankeer.

    Hy glimlag ook, strek en stoot ook sy bors uit, pof homself as ’t ware op, sy rug staan skoon krom. Sy handgebare is groot wanneer hy sy beursie uithaal. Hy vat aan sy ken. En beantwoord jou kyk. In ’n stadium lê julle jul hande oop voor julle (kyk, ek is ongewapen, ek steek niks weg nie, jy kan my vertrou).

    Hy’s besig om terug te flankeer.

    Jou maag maak ’n aangename draai en sy mond water, hy sluk. Jou hart klop vinniger, jou handpalms sweet. Jy voel so lig, jy kan opstyg, terselfdertyd lam. Jy gloei met ’n blos op jou wange. Hý wil sommer ou Beatles-liedjies sing.

    Nou is julle besig om verlief te raak …

    Jy het reeds ’n vae prentjie van hom in jou kop, jou ideale man. Natuurlik bestaan die ideale man, én die ideale vrou. Dis die een op wie jy verlief raak! Later is dit die een met wie jy trou al is dit dalk nie dieselfde een op wie jy die eerste keer verlief geraak het nie.

    Wat daarna gebeur, is ’n ander storie …

    Volgens navorsing kies jy ’n man wat soos jou pa lyk, en hy ’n vrou wat soos sy ma lyk. Of julle kies iemand wat na julself lyk, solank julle net nie té veel na mekaar lyk nie, anders is jul gene dalk te identies en jul kinders se immuunstelsel swakker. Julle wil gesonde kinders hê.

    Wanneer vroue ovuleer, kies hulle mans met ’n manlike voorkoms (vierkantige gesig, reguit wenkbroue, dunner lippe). Andersins kies hulle mans met vrouliker (ronder) gelaatstrekke.

    Julle soek nie na dieselfde kenmerke in mekaar nie: Hy kyk hoe vol jou lippe is (voller lippe, is bevind, laat ’n vrou jonger lyk), die grootte van jou mond, hoe lank en breed jou ken is. Jy kyk na die afstand tussen sy mond en wenkbroue, hoe lank sy gesig is, die afstand tussen sy oë, en die grootte van sy neus.

    En persoonlikheid tel ook.

    Die plaaslike webwerf Health24 publiseer jaarliks die Great South African Sex Survey. Die 2009-meningspeiling het 11 181 respondente gelok, oënskynlik verteenwoordigend van die 2,6 miljoen Suid-Afrikaanse, stedelike volwassenes van 20 jaar+ wat minstens R2 500 per maand verdien en minstens matriek het (voortaan net die Health24-meningspeiling genoem).

    Volgens die meningspeiling word die meeste mans aangetrek deur ’n mooi lyf en voorkoms (het hulle enigiets anders verwag?), terwyl die meeste vroue val vir gesels,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1