Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

'n Engel in die hoenderhok
'n Engel in die hoenderhok
'n Engel in die hoenderhok
Ebook245 pages5 hours

'n Engel in die hoenderhok

Rating: 3 out of 5 stars

3/5

()

Read preview

About this ebook

Dit is die jare sewentig en saam met bittersoet popdeuntjies en Springbokradio-vervolgverhale sak ’n donker wolk oor die land. Die hoogbloei van apartheid en die grensoorlog vind ook weerklank in die Besters se huis in Pretoria, waar Helena Bester starend in die donker lê en luister na hoe haar ouma roggelend snork en onsamehangend mompel. Soms moet Helena met stinksalf die pyne uit haar ouma se lyf help vryf, maar vir die groter verdriet van hierdie gesin is daar geen voor die hand liggende kuur nie. En dit is daarom dat Helena elke kort-kort met haar sakkie snygoed in die badkamer verdwyn. Wanneer die brandpyn in haar dy opskiet en sy die warm bloed teen haar been voel afloop, slegs dan voel dit vir haar asof sy beheer kry oor die chaos wat dreig om haar te oorweldig. Helena veg teen die verswelgende oortuiging dat sy na haar pa aard, dat sy van al vyf hulle kinders die meeste na haar dronklap-, chauvinsitiese polisieman-pa aard. En nadat sy een nag moes aanhoor hoe haar pa haar broer met die vuis toetakel omdat hy nie na wense op die rugbyveld presteer het nie, gaan haal sy die rewolwer waar sy dit weggesteek het. Daardie rewolwer wat haar pa oënskynlik in ’n dronk waas aan haar gegee het. Sy voel die koel, swart staal en loop in die donker gang na haar pa-hulle se slaapkamer. ’n Oomblik lank dink sy nog aan die mooi man wat sy eendag by ’n lamppaal sien staan het, die engel wat haar enkele mooi droom lewend hou, en stoot dan die kamerdeur oop … Gerda Taljaard se debuutroman, ’n tragikomedie wat die leser dompel in ’n maalkolk van wanhoop en byna waansinnige humor, gaan oor die selfverwesenliking van ’n jong vrou. Op ’n verbluffende wyse wys Taljaard aan haar lesers dat die lewe so verskriklik en terselfdertyd so mooi kan wees.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780624051039
'n Engel in die hoenderhok
Author

Gerda Taljaard

Gerda Taljaard het as student reeds verskeie pryse vir kortverhale ontvang. In 2006 is sy as die wenner van die De Compagnie-prys vir beste kortverhaal aangewys. Dié kortverhaal word opgeneem in die versamelbundel Die melkweg het ’n ster laat val. Haar debuutroman ’n Engel in die hoenderhok verskyn in 2009 by Tafelberg.

Read more from Gerda Taljaard

Related to 'n Engel in die hoenderhok

Related ebooks

Related articles

Reviews for 'n Engel in die hoenderhok

Rating: 3 out of 5 stars
3/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    'n Engel in die hoenderhok - Gerda Taljaard

    ’n Engel in die hoenderhok

    Gerda Taljaard

    Tafelberg

    Vir Rodger

    Hoofstuk 1

    Jy’s nes jou pa.

    Ma se woorde vlieg in slow motion oor die lendelam kombuistafel en tref my vol in die maag. My kwesbare macaroni-en-kaas-maag. Die Frigidaire hou op roggel. Die koue donkerte sluk Bossie se geblaf in. Langsaan word selfs tannie Issie se alewige gekerm stil. Ma se lippe beweeg nog, maar die res van haar woorde raak weg in die deurmekaar kombuis tussen skeefgetrekte Heart-kastrolle en -panne en vuil vadoeke. Ek word doof. Soos dit altyd met my op skool ook gebeur het wanneer die seuns iets smerigs kwytgeraak het. Beskermingsmeganisme, sê my rooikopvriendin, Dot, altyd. Jy word pure wyfiedier wat in ’n testosteroongedrewe wêreld moet oorleef. Jy hoor nie wat hulle sê nie, maar weet tog instinktief wat hulle vuil bekke gerep het. En jy hoef ook nie psychic te wees om dit uit te figure nie – hulle ou favourite woordjie wat hulle graag op banke uitgekrap en op toiletmure gesmeer het: p-oe-s. Stemlose labiale eksplosiewe sluitklank. Kort hoë geronde agtervokaal. Stemlose alveolêre frikatief. En aangesien hulle nie op die skoolgrond kon oorgaan tot die fisieke daad nie – verbale verkragting.

    Julle’s een en dieselfde, jy en daai pa van jou. Ma se stem kom soos in ’n tonnel van ver af na my. Sy wring ’n verbleikte vadoek in haar hande. Jy’s wragtig net so vol stront soos hy.

    Haar woorde omsingel my. Die klank in haar stem, die vrees in haar oë, die manier waarop haar mond trek, die smerige kombuis, alles laat my verlang na die sakkie skerpgoed tussen die skoene in my deurmekaar kas. My kosbare pienk glitter-pennesakkie wat sy vyf jaar gelede half verleë op my vyftiende verjaardag saam met dr. Jan van Elfen se Wat meisies moet weet aan my gegee het. Seker maar om tampons en ander onbetaamlike voorwerpe uit die oog en uit die hart te hou. My geheime sakkie met die gesteelde naelvyltjie, skêrtjie, Boetie se groen knipmessie, halfverroeste Minora en ’n gevaarlike skerf gerookte glas wat antie Bep nog vir ons kinders met die sonsverduistering uitgedeel het. Dit is het glas van’t roosvenster uit de kathedraal in Eindhoven, die werd gebombardeerd tijdens de Tweede Wereldoorlog, het sy nog gesê. Ons kinders het daardie dag opgewonde en half bang hoog op die nok van antie Bep se sinkdak met die stukkies gekleurde glas voor ons oë gesit en wag vir die duisternis wat oor die land moes kom. Herdenking van daardie laaste asem wat haar lelike oranje kombuisgordyne sommer middeldeur sou skeur.

    En toe die maan uiteindelik voor die son kom inskuif, het die musiek weer in my losgekom – dawerend hierdie keer, sodat ek my balans verloor en amper van die dak geval het.

    Die skottelgoedwater spat om Ma se driftige hande, sy plak ’n bord in die droograk neer. Sy het haar rug op my gekeer, haar skouers gespanne.

    Ek het my moer gestrip omdat ek my kamer met Ouma moet deel. Ses maande lank. ’n Halwe jaar voor daar moontlik plek vir haar in Huis Herfsgety sal oopgaan. Wanneer een of ander suutjiespoep of fossiel of suurstofdief – soos Pa hulle noem – genadiglik sal doodgaan of siekeboeg toe gestuur word.

    Ouma wat snags soos ’n ondier snork sodat ek voor ’n toets nie ’n oog toegemaak kry nie. Wat my vier keer per nag opjaag om gou vir haar ’n bietjie water of ’n hartpilletjie of samboksalf of staaldruppels te gaan haal. Wat my douvoordag wakker poep terwyl ek nog in die afterglow van ’n wet dream in my bed lê en broei.

    Ouma met haar alewige Springbokradiostories en Hospitaaltyd, onthou! op haar draadloos wat altyd kliphard aan is en so effens van stasie af is wanneer ek moet leer. Met haar blou koos onder die bed – al is die toilet direk oorkant my kamerdeur. En haar Fiesta-haarsproei en 4711 en stink salwe wat die kamer vol damp en my sinusse laat oppak.

    En natuurlik haar Big Ben-wekker wat my die hele nag met sy harde getik wakker hou en om vyfuur die oggend, wanneer ek uiteindelik heeltemal kapoet insluimer, met ’n helse geskal afgaan. En dan begin die gevroetel en gesoek na pille en onderklere en skoene soos ’n broeis knaagdier in die kas. Of in haar koffer en hoededoos hier al onder my bed, terwyl sy al prewelende ’n gesprek met haarself voer.

    Dis nie regverdig nie, Ma! Ek het op die Panelite-tafel gehamer. Skottels en ingeduikte kastroldeksels het gekletter. Die All Gold-bottel het van die tafel gerol. Appetite’s Temptation in sy moer in. Hoekom kan sy nie maar in die buitekamer slaap nie, hè, Ma? My stem was te skerp. Ek kon voel hoe my nekare swel, my gesig warm word.

    Toe sien ek hoe Ma skrik. Hoe sy bang word vir my. Terugdeins van my. Sy het soos ’n vasgekeerde slagdier met haar rug teen die opwasbak gestaan en haar hande het gebewe. Toe trek dit soos skrapnel uit haar mond, dit wat sy seker al jare lank vir my wou sê: Jy’s nes daai pa van jou.

    Duiwelskind, dus. Heintjiepik se dogter, soos Ouma sal sê.

    Ek buk om die gemors skoon te maak, glip ’n stuk glas by my broeksak in. Die tamatiesous lê bloederig tot onder die tafel, ’n slagveld. Maar dit vertroos my op ’n vreemde manier. Ek is die jongvrou van Orléans. Jeanne d’Arc wat haar eie onsigbare oorlog teen die wêreld moet baklei, vrou-alleen.

    Ek bal my vuiste en wens ek kan ’n strydkreet skreeu sodat dit deur die hele huis sal weergalm, deur die hele buurt. Deur die ganse Moot, sodat my gille uiteindelik teen die Magaliesberg sal vasslaan. Sodat die dassies en klipspringers en miskien ’n laaste luiperd en die ou mal grotbewoner met die dreadlocks sal opskrik.

    En ek wens ek kon alles voor my wegfoeter – Ma inkluis. Die wêreld soos Muhammad Ali neuk tot dit verdomp reg is.

    Gaan vat die rotgif en gooi dit in jou man en daardie nikswerd seun van jou se koffiefles totdat hulle bloed poep, het die stem in Daisy de Melker se kop vir haar gesê.

    In Ouma se Bybel met die lelike gehekelde boekmerk sê God vir Abraham: Gaan slag jou enigste geliefde seun, Isak, op die altaar as brandoffer vir my.

    Oor my platespeler se een faktap speaker gil Jim Morrison:

    Father . . .

    Yes, son?

    I want to kill you . . .

    In my ou geskiedenishandboek beveel Dingaan sy impi’s: Maak dood die towenaar! Moer die Boer met knopkierie en assegaai.

    In Tsafendas se binnegoed hits die lintwurm hom aan: Dimitri, maak dood die verdrukker!

    En die duiwel in die lukwartboom langs die agterstoep sis vir my: Sweet lips, loop haal die pik en byl en hamer en skroewedraaier uit die garage en maak vrek jou ma en pa.

    Die agterstoep se sifdeur klap hard agter my. Ek kyk op, probeer die sterre sien, maar hulle swerm weg.

    Sweet lips . . . hoor ek weer die stem uit die lukwartboom, maar ek hou my doof. Die macaroni stoot op in my keel. Ek moet hard sluk. Langsaan hoor ek tannie Issie na haar oorlede man roep. Hy is verlede jaar doodgeskok toe hy aan ’n duiwehok in hulle jaart gesweis het. Met sy kaal voete in ’n plas water gestaan en werk. Tannie Issie het sedertdien nog nie ophou roep na hom nie. Johan! Johan! skreeu sy die nag in, haar stem rou. Liefde tot in die dood, soos Ma sê.

    ’n Verskietende ster trek ’n streep teen die swart lug.

    Toe ek klein was, het Pa die sterre vir my gewys.Die Suiderkruis lê hier, sien jy? Die Skerpioen se stert is daar. Dáár is die Krismisboom. En sien jy die Drie Susters?

    Jis, dis mooi, Pa, sou ek dan sê.

    Ek het altyd gedink die Drie Susters is my eie sussies. Gretha, Marie en Gertie in een of ander verheerlikte vorm. In ’n ander dimensie. Dalk soos hulle gelyk het in ’n vorige lewe, of soos hulle sal lyk in ’n lewe wat nog moet kom.

    Maar Pa se Chinameid is sommer nog mooier, het Pa gesê. So mooi soos die maan. Hy het my styf teen hom vasgehou, sodat ek sy Tiger Balm en Rennies kon ruik.

    ’n Man het al spore op die maan getrap, my kind. Ons het opgekyk na die maan, ek en hy, asof ons die astronaut daar kon sien, ruimtepak en al.

    Hulle sê dis alles in die sterre geskryf, Helena, die mens se toekoms én verlede, waar ons vandaan kom, waarheen ons gaan. Hy het sy ken op my kop laat rus. Weet jy hoe hierdie omgewing waar ons bly, ontstaan het, meisiekind?

    Ek het my kop geskud, al het hy my hoeveel keer reeds vertel. En al het ons op skool geleer dat dit deur water gevorm is – ’n minder dramatiese proses as sy weergawe.

    Miljoene der miljoene jare gelede, het Pa uitgelê, toe die groot reptiele nog die aarde bewandel het, het hier ’n tamaai meteoriet neergedonder wat hierdie holte tussen die berge gevorm het. Selfs Eugène Marais skryf oor hierdie vrugbare vallei waarin ons bly, my kind. Dan het Pa so ’n hartseer klankie in sy stem gekry, want Eugène Marais is sy groot hero en volgens hom sy sielsgenoot. Soms het hy vir ons uit Die groot verlange voorgelees en ek weet hy het hom dan verbeel hy is ook so ’n tragiese held wat nog tragies sal sterf ook. Hy het inderdaad al haarfyn aan sy eie begrafnis beplan met ’n droewige kleurlingkoor uit Eersterust wat Bly by my, Heer sal sing sodat almal in hulle trane stik. En natuurlik sal die polisie-orkes die laaste taptoe trompetter totdat al wat weduvrou is in die oop graf wil spring.

    Partykeer, wanneer Ma nie naby was nie, het hy ook vertel van sy vergeefse liefde vir ’n balletdanseres wat hy ontmoet het toe hy nog basviool gespeel het. Maar toe los sy beeldskone ballerina hom, glo vir ’n man met geld. Toe trou hy maar met Ma.

    Dit het my nog altyd de bliksem in gemaak, dié ou storietjie, dat Ma sy tweede keuse was, dat sy eintlik nie goed genoeg is vir hom nie. Terwyl sy sekerlik die een is wat eintlik op hóm kan neersien. Ma het darem matriek agter haar naam. Dis meer as wat hy kan sê met net standerd agt. Maar soos Ouma sê, die Besters het hulle nog altyd verbeel hulle is pure engeletjorts, en g’n mens weet hoekom nie.

    As kind het Pa gedurig van die landbouskool op Brits af weggeloop. Hy vertel hoe oupa Jan hom selfs een keer by die sendingstasie voor ’n klomp mense as ’n wegloophotnot uitgekryt het.

    En ouma Dollie was glo een van daai ma’s wat favourites gehad het, wat haar drie uitverkore seuns, Kotie, Gawie en Attie, openlik voorgetrek het omdat hulle uitgeblink het op skool. Terwyl Pa en sy twee lelike susters met hulle stadige koppe en aweregse streke aan die agterspeen moes suig.

    Pa sê terwyl hy by die koshuis was, wou hy met alle mag huis toe gaan, en as hy uiteindelik by die huis kom, wou hy eerder weer so gou moontlik terug kosskool toe. Om sy verlange na sy ma te stil, het hy soms net daar op die lande ’n waatlemoen met sy knipmes oopgesny. Net die kroon uitgeëet en in die rooi vleis gehuil. Niemand kon hom daar sien nie, behalwe miskien die bobbejane en ’n paar bandiete. Nou sit hy nie meer sy mond aan waatlemoen nie, al is hy ’n meester met die opsny daarvan, veral oor Kersfees as hy dronk is.

    Naderhand is hy as die swartskaap van die Besters gebrandmerk – hulle het almal geleerdheid gehad of ryk getrou, hy het poliesman geword. Maar mettertyd het hy almal met sy grappe en kwinkslae en stories oorrompel. Die stugste mens kon hy laat lag, vermaak. Waar hy in geleerdheid te kort geskiet het, het hy met sy gevatheid daarvoor opgemaak. Vandag nog. Al sê Boetie dis so ’n regte fifties sin vir humor wat niemand eintlik meer verstaan nie.

    Ek probeer weer troos soek in die sterre, vee vererg die trane uit my oë. Voel hoe Bossie op my voete kom lê, ruik haar vertroostende hondereuk. As sy so op my kom lê, weet ek sy wil gaan stap. En sy maak seker dat as sy dalk insluimer, gaan sy nie op ’n geleentheid uitmis nie.

    Bossie is, soos Pa dit altyd stel, ’n polisiehond op ongeskiktheidspensioen. Toe sy dit as jong hond nie by die hondeskool kon maak nie, het Pa haar hier aangebring en sy’s ’n bleddie ordentlike hond, nie soos die Hollanders se brak wat ’n mens op onfatsoenlike plekke besnuffel en jou dan in ’n ongemaklike posisie teen hulle sitkamerbank vaspen nie.

    Sy het al twee werpsels gehad, albei kere dertien kleintjies. Arme Ma het alles gedoen om te probeer keer. Vir Bossie ’n plastiekbroek aangetrek elke keer wanneer sy op hitte kom, sodat net haar stert uitsteek. Selfs goed by die apteek gaan koop om aan haar boude te smeer wat kwansuis die brakke van die buurt sou weghou.

    Alles verniet, as ons maar weer sien, is haar tepels en kwassie geswel en gaan skrop sy nes in die garage.

    Die eerste keer het sy haar kleintjies op Marie se bed gaan kry. Natuurlik soontoe gesluip toe niemand kyk nie. Die hele matras flenters gekrap van pyn. Toe sê Ouma nog: En wie sê diere kry nie barensnood nie? Ma het gehuil oor die matras wat toe moes meidekamer toe.

    Met die tweede werpsel het die klein boggher van ’n Willempie Pretorius met sy haasbek vir Ma by die kerk kom vra: Wie’t nou die meeste kleintjies gekry, Tannie of Tannie se brak? Ma was toe al ver swanger met Gertie en haar maag het behoorlik tuit gestaan.

    Miskien moet Ma ook goed aan haar boude smeer, het Boetie droogweg opgemerk.

    Jare later toe ek Ma as skoorsoekerige tiener gevra het waarom sy en Pa dan vyf kinders gehad het terwyl hulle dit duidelik nie kon bekostig nie, het sy gesê: Sussie, watse vraag vra jy my dan nou? Jong, ek’t gekeer laat dit bars. En die pil akkordeer nie met my nie, hoor. Sy het verleë gelag. "Partymaal was ek en die hond en die meid almal gelyk in die ander tyd – drie swanger tewe. Dan moet jy darem sien hoe kyk die bure ons uit.

    Maar Ma’s bly vir julle almal, het sy sag gesê. Julle moes tog almal hier gewees het en buitendien het ek altyd geweet ek sal baie kinders hê. En julle pa het so mooi met my gewerk terwyl ek swanger was.

    Ma se swanger liggaam was haar beskutting, weet ek nou. Het haar veilig laat voel en is van die min dinge wat sin gemaak het in haar onseker bestaan.

    Van jongs af kon sy blykbaar kinderstemme om haar hoor. Nie soos die veraf gezoem van bye in die bloekomlaning op haar ouma se werf op Wysfontein, of die eentonige gegons van sonbesies in die Pilanesberg waar sy grootgeword het nie. Dit het helder na haar gekom waar sy kruisbeen op die koel sementvloer van haar koshuiskamer op Rustenburg gesit het, sê sy. Stemme wat na haar roep en gesels en skaterlag. Wat sing en rympies aftel: olke bolke riebietjie stolke.

    Die klanke het saam met die laatmiddagson soos ’n boodskap deur die venster geval: Geseënd is jy onder die vroue, Martha Catharina, moeder van vele sal jy wees. En so het dit ook geskied toe sy later met haar poliesman getroud is – want vir ’n man in uniform het sy nog altyd ’n swakte gehad, sê Ma.

    Die een ná die ander het ons toe gekom, meestal onverwags. Eers Gretha, die blonde dogtertjie wat met haar pose vir al wat leef en beef wil sing en voordra. Ma vertel hoe die dokter met haar eerste swangerskap ’n padda met haar urine ingespuit het, toe begin die ou platanna ’n paar uur daarna spontaan stringe eiers teen die wande van haar glasbak lê – te aardig, sê Ma. Toe sê die dokter se ontvangsdame: Mevroutjie, jy kan maar begin wol koop, hier’s ’n kleintjie op pad.

    En toe Ma agt maande later met pynlike kontraksies in die kraamsaal lê, vra ou dokter Steyn of sy studente maar kan by wees met die bevalling. Arme Ma wou nog teenstribbel, maar net daar ontsluit sy en dit was nie lank nie, toe is Gretha daar in al haar gillende glorie. Met die jong studentjies wat alles bleek gadeslaan. Een het selfs haar hand kom vashou want Pa was daardie dag al weer besig om rugby te speel.

    Toe kom ek, blykbaar ’n verstrooide kind met boksterte wat saam met haar denkbeeldige maatjie op dun-dun bene trippel en nooit heeltemal wis waar sy haar bevind nie.

    Ma het my glo in die Mary Font gaan kry, al het ouma Dollie haar gewaarsku teen die Roomse Gevaar. Dat sy moes oppas vir daardie onderduimse spul nonne. Maar Ma sê die nonnas was goed vir haar, al sal hulle niks weet van kinders baar en sulke goed nie, ten minste is hulle vroue met baarmoeders en eierstokke. Dis meer as wat die meeste dokters kan sê. En toe die tyd kom dat ek gebore moes word, het sy in ’n stadium deur die pyn gedink daar staan ’n engel langs haar bed. Maar toe’s dit eintlik ’n ou Ierse non in haar wit gewaad en gestyselde kappie wat Ma se voorkop kom afvee het.

    Pa sê hy’t in elk geval niks teen Katolieke nie, ten minste gee hulle kos en klere aan armes en deel hulle nie Bybels uit aan honger mense soos die blessitse Protestante nie. Hulle verwag seker die armes moet die Bybels eet, want lees kan hulle tog nie, sê Pa. Het met my eie twee oë gesien hoe ’n ou man sy stert in die veld met Bybelbladsye afvee, Deuteronomium 3.

    Boonop het die Beckers se seun, ou simpel Sarel, ná drie maande uit ’n koma wakker geword toe ’n Roomse buurtante hom met heilige water uit Lourdes besprinkel het. Hy is nou wel nie heeltemal reg nie – lag partykeer so onnosel met ’n wiegende kop vir niks, maar ten minste lewe hy en gee hy baie vreugde vir antie Becker.

    Drie jaar ná my geboorte het Boetie sy opwagting gemaak, die seuntjie wat met sy skurwe wintervoete en rugbybal saam met die Augustuswind al om en om die huis waai. As Pa daardie herfsdag nie met ’n snotspoed Moedersbond toe gejaag het nie, is Boetie sweerlik agter in sy vangwa gebore.

    Daarna het Marie gekom, die slim enetjie met bolwange en kuiltjies en blink neutbruin oë – die kind wat sonder ophou vrae vra. Toe Ma vir Ouma vertel sy’s swanger met Marie, het sy glo al die pad van Skuinsdrif gekom om vir Pa te kom preek: Bert, jy moet my arme kind bietjie kans gee, jy maak haar gedaan.

    Uiteindelik Gertie, die droomkind met haar matroosrokkie wat in haar eie wêreld van roosprinsesse en boomdwerge leef. Toe Ma op Republiekdag met Gertie in die kraamsaal lê, het haar ryk neef wat snydokter geword het, oom Rennie, blykbaar aangebied om Gertie by haar te koop. Hy het net twee seuns en het gereken Ma sal in haar armoede dalk so ’n geleentheid aangryp. Of hy regtig ernstig was, weet g’n mens nie. In elk geval het Ma geweier.

    Ma se babas het maklik uit haar lyf geglip, want ook haar liggaam het van haar geheime bestemming geweet, so vertel sy graag. Maar haar skoonouers was nie geneë met dié baby boom nie, al het die regering dit ook vir volk en vaderland aangemoedig. Hoe op aarde is dit moontlik dat jy weer swanger is, Marthie? Ouma Dollie se swart oë was daardie dag skerper as gewoonlik, sê Ma. "Julle sukkel al klaar so om kop bo water te hou. Jy

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1