Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Bloedgrond
Bloedgrond
Bloedgrond
Ebook396 pages7 hours

Bloedgrond

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Grondeise tref die gemeenskap van Nieu-Skotland in Mpumalanga. Dit, en die ou seer van die uitwissing van ’n gesin, het almal op hol: Daar’s stadskind Erin wat nou haar familie moet kom ondersteun, oud-soldaat Andrew Buchanan, wie se gesin jare gelede uitsonderlik wreed uitgemoor is, die plaasadel-MacFarlanes met hul spogplase, wrokkige werkers met verbintenisse in hoë plekke en die plaaslike polisiediens – nie aldag ewe bedrewe of eerlik nie, maar sersant Elsie Redelinghuys vat nie nonsens nie.Dan word ’n bekende boer vermoor. Is dit ’n “gewone plaasmoord”, verbind aan die smagting na land, ’n plekkie van jou eie – of skuil hier iets anders? Waarom is die grond van Nieu-Skotland so deurdrenk van bloed?
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 30, 2011
ISBN9780624058625
Bloedgrond
Author

Malene Breytenbach

Dr Malene Breytenbach het drie meestersgrade asook ’n doktorsgraad in joernalistiek. Sy en haar man woon op Stellenbosch. Malene het verskeie liefdesverhale op haar kerfstok, sowel as die gewilde romans Gister is ’n ver land, Pluimprinse en Bloedgrond.

Related to Bloedgrond

Related ebooks

Related articles

Reviews for Bloedgrond

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Bloedgrond - Malene Breytenbach

    Bloedgrond

    Malene Breytenbach

    Tafelberg

    My eerste redakteur, Madri Victor, en haar opvolger, Hester Carstens, het met hul intelligente leiding dié roman se geboorte help bestuur. Aan albei, baie dankie.

    Die kundige redigeerder Jomarié Dick verdien ook my dank.

    Ek moes heelwat navorsing doen om die outentisiteit van Bloedgrond te probeer verseker. Miskien het ek plek-plek gefaal, maar dit is nie die skuld van die mense wat my met inligting gevoer het nie. Aan hulle is ek baie dank verskuldig.

    Eerstens bedank ek my man, Willie, professor eers in volkekunde en vervolgens in politieke wetenskap, wat ’n boorling van Nieu-Skotland is en op die plaas Arthur’s Seat grootgeword het. Hy het my deurgaans met inligting gehelp, veral oor die Swazi’s en die omgewing.

    My dogter, Karen, wat die hofverslaggewer van die Cape Times was toe dié boek geskryf is, en advokaat Hansie Botha het waardevolle regsinsigte verskaf.

    Ons vriende Gret en Jaap Cilliers van Ermelo, by wie ons al so baie op die plaas gaan kuier het dat hul landskap deel van my geword het, en hul oud-recce-seun, Japie, het gewaardeerde bydraes tot die geboorte van Bloedgrond gelewer.

    Advokaat Leon van Rooyen en Susan het verhale van die Matotoland-omgewing vertel wat ek met dankbaarheid kon inkorporeer.

    Doktor Judora Spangenberg het waardevolle insette oor die sielkunde gelewer.

    Andries Fokkens het met sy nieamptelike en persoonlike insigte die verhaal help stuur.

    Lt.kol. Barry Visser het my oor verskeie aspekte van die Spesiale Magte ingelig. Daarsonder sou outentisiteit ontbreek het.

    Laastens, maar allesbehalwe die minste, bedank ek kaptein Anneke van der Vyver, mediaskakelbeampte van die SAPD, vir haar verbeeldingryke en konstante bystand en inligting.

    "Land is the only thing in the world that amounts to anything, for ’tis the only thing in this world that lasts ’Tis the only thing worth working for, worth fighting for – worth dying for." – Margaret Mitchell, Gone with the Wind

    Die SAPD se range het verander sedert dié roman geskryf is. Die range in Bloedgrond is dié wat tydens die skryf van die roman gegeld het.

    Deel 1

    1

    Die oproep kom net na tien die oggend deur toe Erin in haar studeerkamer voor die rekenaar sit, hard aan die skryf aan ’n artikel oor wolboerdery. Sy voel dadelik ongerus omdat haar broer haar in die dag skakel. Hy kontak haar gewoonlik net in die aand, want hy sê altyd bedags is hy te besig vir klets. Iets moet verkeerd wees.

    Erin. Hoe gaan dit? vra hy, maar sy stem klink bewerig, nie normaal nie.

    Dit gaan goed dankie, Bob, ek is net toegegooi onder werk. Hoe gaan dit daar by julle? Is iets fout dat jy my dié tyd van die dag skakel?

    Ja, daar’s fout. Gróót fout. Dis die verdomde grondeise. Skielik is hier ’n eis teen ons vir ’n moerse groot deel van Misty, en Sylvia sit met ’n eis vir Annendale! Die regering en die Swazi’s wil nou ons grond onder ons uitruk.

    Agge nee Bob, dis verskriklik! Maar volgens wet sal die eise nie slaag as die eienaar die grond reeds voor 1913 besit het nie. Dunedin en Misty is van voor 1913 in ons familie se besit, en dit sal geld vir Annendale ook. Ek weet darem iets van dié dinge af, probeer Erin paai.

    Ja, jy skryf mos oor dié goed vir die koerante, so jy sal weet dat ons nou ’n blerrie slim advokaat nodig het. Sal Ferdie ons nie kan help nie? Hy’s tog familie, al is dit aangetroud.

    Erin huiwer ’n oomblik. Sy het nog nie vir die familie vertel dat sy op skei staan omdat haar man en sy dwalende oog ’n verhouding met sy sekretaresse aangeknoop het nie. Sy het hulle nou pas een aaklige oggend betrap.

    Ferdie spesialiseer mos eintlik in strafreg, maar hy hét al een of twee grondrestitusiesake suksesvol verdedig hier in Gauteng, sê sy versigtig.

    Nou ja, vra hom asseblief, of moet ek? Hulle het die grondeienaars laat weet ons moet bewyse voorlê en dalk nog onderhandel. As die onderhandelinge nie slaag nie, gaan ons hof toe, en as ons nie ’n ooreenkoms bereik nie, word ons grond onteien.

    Moenie bekommer nie, Bob. Hier in Suid-Afrika geld gewillige verkoper, gewillige koper nog en mense word vergoed vir hulle grond. Ferdie sal dit ook vir jou vertel.

    Ja, maar vir hoe lank? Ons hou nie van die rigting waarin dinge deesdae neuk nie. Buitendien gaan dit vir ons nie bloot om geld nie. Dis ons erfgrond, ons is met ons naelstringe daaraan verbind. Hoe gee ’n mens so iets net weg? Oupa Rob het die plaas aan my bemaak en hy is nou éérs die moer in. Ek wil mos nie die helfte van my woonplaas afstaan nie. Dan kan ek netsowel ophou boer, jirre, dan verarm ek verdomp vinnig. Die eisers is glo die Malaza Family Trust and Land Claims Committee.

    Die Malazas? vra Erin verdwaas. Hul eie arbeiders!

    Ja, die donners eis ’n deel van Misty op grond van huurarbeid, maar hulle eis sommer die hele blerrie Annendale ook, as grondrestitusie. Is dit nie verdomp verregaande nie? Hulle verteenwoordiger, Ngafane, wou voorgee dat sy pa en oom se beeste op ’n groot deel van Misty en op Annendale gewei het. Hy het sy eis direk by die direkteur-generaal van Grondsake ingedien. Ek moet binne dertig dae allerlei inligting aan die direkteur-generaal gee.

    Ek is verstom, Bob. Wie sou ooit kon dink die Malazas sou grond eis? Maar oukei, ek sal met Ferdie praat en vra dat hy jou bel.

    Kom julle twee liewer die naweek hiernatoe. Ons kan mos nie behoorlik oor die foon praat nie.

    Erin sit doodstil, nikssiende, by haar lessenaar nadat hulle ’n ruk lank verder gesels het en haar broer afgelui het. Naderhand staan sy op en loop na haar koffietafel waar ’n hoop Landbouweekblaaie lê. Sy tel een op om te kyk of daar iets oor grondeise in is, maar sy sit dit weer neer en gaan staan by die venster waar sy na die tuin kyk. Sy voel skielik soos ’n uitgesuigde lemoen.

    Ongelukke kom in drieë. Hierdie is die tweede slag binne ’n week. Eers betrap sy haar man besig om sy sekretaresse in sy kantoor warm te vry. Die posisie waarin hul lywe was, half oor die lessenaar, het verklap dat dit nie sommer by soen sou bly nie. Sy het hulle woedend gekonfronteer en die hele sak patats oor hul maande lange verhouding het uitgekom. Sy wat Erin is sukkel al hóé lank en ondergaan al wat behandeling is om swanger te raak, en Ferdie gaan mors sy saad, sy lewenskrag, op die tert wat hy ses maande gelede as sy sekretaresse aangestel het! Blond, maer en oorywerig. Natuurlik het Janet van die begin af haar wip gestel om die aantreklike, suksesvolle advokaat te vang, en sy arme vrou kan maar na die hel gaan. ’n Regte femme fatale wat nie omgee om ’n man se vrou te vertrap om te kry wat sy wil hê nie.

    Erin het gedink haar wêreld spat uitmekaar, so seer en woedend was sy. Maande lank al wroeg sy omdat sy nie kan swanger raak nie – en intussen loop hy rond. Hulle is skaars twee jaar getroud. Hy is reeds ’n keer geskei en staan veertig se kant toe, kinderloos, sy al diep in die dertig. Die tyd om kinders te kry raak min.

    Nou kan sy maar van kinders vergeet. Dis ’n groot hartseer in haar lewe.

    Sy het Ferdie Bakkes nogal juis ontmoet toe hulle saam by ’n grondeise-saak betrokke was, sy as verslaggewer en hy as advokaat vir die verdediging. Hy was indrukwekkend, hoogs aantreklik. Hy was die eerste man in jare wat haar voete onder haar kon uitslaan nadat sy jare lank oor haar vermoorde jeugliefde getreur het en nie regtig haar hart vir iemand anders kon oopmaak nie. Op hul eerste afspraak het hulle gaan uiteet en tot twee-uur die oggend gesels. Hy het haar die hof gemaak en haar nie dadelik probeer bed toe sleep nie. Dit het gesorg dat sy hom bewonder en respekteer. Die jakkals. Eers ná die troue het sy kolle verskyn – sy venynige streep en oog vir vroue. Nou dink sy aan die baie kere by partytjies wat hy diep in gesprek geraak het met die een of ander vrou. Sy wou nie ’n jaloerse teef wees en hom daaroor verwyt of konfronteer nie. Dikwels het hy tot diep in die nag op kantoor gebly. Hy het alewig weggegaan om elders hofsake by te woon.

    Hy het genoeg geleenthede gehad om haar te verneuk. Nou raak sy geleidelik oortuig daarvan dat hy waarskynlik lankal rondgeloop het, maar dit so slinks gedoen het dat hy dit vir haar kon wegsteek. Die liefde wat daar in haar vir hom was, is doodgesmoor.

    Ten spyte van haar stelselmatige ontnugtering selfs voor sy hulle betrap het, maak sy brutale verraad bitter seer. Almal praat mos, en die laaste een om uit te vind is die arme, stiksienige vrou. Vernederde, ontoereikende vrou.

    Waarom het hy tog met haar getrou? Was hy eers lief vir haar en toe vind hy uit dat sy tog nie al sy behoeftes bevredig nie? Sy het hard probeer. Waar het sy dan tekortgeskiet? Hy het nooit enige aanduiding gegee dat hy haar ontoereikend vind nie, maar terwyl hy die goeie eggenoot gespeel het, het hy ’n ander vrou nagejaag. Dié oënskynlik verstandige man kan toe ook deur wellus oorrompel word.

    Hulle het nog in haar huis gewoon, die huis waarvoor haar pa die deposito geskenk het. Ferdie het by haar ingetrek, maar hulle het beplan om in die nabye toekoms ’n nuwe huis te laat ontwerp deur ’n argitek. Hulle het glad gaan erwe kyk in goeie voorstede en moes nog net besluit waar om te koop. Daardie huis sal nou nie meer gebou word nie. In elk geval, nie vir háár nie. Met die woorde Gaan soek vir jou ’n ander blyplek het sy hom uit die huis verban. Nou is hy tydelik tuis in ’n residensiële hotel in Arcadia.

    Juis nou wil sy hom nié ’n guns vra nie. Haar wrewel is bitter in haar keel. Maar sy sal moet. Bob-hulle weet van niks.

    Sy kan dit oor die boeg gooi dat Ferdie op dié manier kan boete doen vir wat hy haar aangedoen het. Steeds aandoen. Die trane, die vernedering, die woede. Die gevoel dat sy nie goed genoeg is nie. Minderwaardig en nie meer jonk genoeg nie. Sy is nou wel nie ’n skoonheid nie, maar sy’s intelligent, ’n professionele vrou in haar dertigs wat hard probeer om goed te lyk. Sy trek mooi aan en versorg haar. Ferdie het hoë standaarde en verwagtinge gehad. Hy het kwansuis daarvan gehou dat sy vrou ’n brein het en vir haarself kan dink. Maar sy moes oppas dat sy nie gewig aansit nie. Hy wou hê sy moes op ’n sekere manier aantrek en haar altyd grimeer. Hy wou ’n trofee-vrou gehad het. Sy kon haarself nou nie as sodanig beskryf nie, maar sy het gedink dat sy merendeels aan sy standaarde voldoen. En daar’t hy nou geval vir ’n maer, sexy blondine met nie te veel verstand of geleerdheid nie.

    Hy, aan die ander kant, is vreeslik slim en gevat en baie puntenerig oor sy voorkoms en beeld. Niemand kry hom onder nie. Hy wen sy hofsake, al sy argumente. Dit het nooit gehelp om met hom te stry nie. Erin het maar altyd tweede gekom in enige onderonsie. Hy is ’n verbete argumenteerder en ’n lelike verloorder. Hy weet net waar om iemand se swak plek uit te ruik en die mes daar in te steek. In die hof, met sy swart toga, is hy Dracula, spot sy altyd. Mense is bang vir hom.

    Hy wou nooit troeteldiere in die huis hê nie – dit sou glo die huis laat stink. Sy wou so graag ’n hond of kat gehad het, want sy het met diere grootgeword. Nou gaan sy vir haar ’n Great Dane kry, wat sy nog altyd begeer het, en sommer ’n Siamese kat ook. Die kat kan by haar op die bed slaap. Waarom het sy nie gedínk dat iemand wat nie van troeteldiere hou nie, ’n skroef los het nie? Sy ís so lief vir diere.

    Sy het waaragtig toegelaat dat Ferdie haar twee jaar lank manipuleer. Sy is kwaad vir haarself oor haar swakheid. Hoe het dit gebeur dat sy vir dié man val? Waar was haar sesde sintuig?

    Nou gaan sy hom trompop konfronteer, eise stel en eenvoudig aandring dat hy help. Behoed sy siel as hy nie wil nie. As sy ooit op die oorlogspad was, is dit nou. Die ou Erin is dood. Hier kom die nuwe een.

    Erin loop by die ontvangs van Ferdie en twee ander advokate se kamers in en kan spoeg van woede toe sy sien dat Janet, die verleidster, die tert, nog stééds daar sit, al het Ferdie in wat seker ’n oomblik van swakheid en berou was, gesê hy gaan haar vra om te bedank. Janet kyk half verskrik, half uitdagend op. Staan stadig uit haar stoel op. Hare perfek gesny in ’n blonde vag, grimering taamlik swaar, maar perfek, ’n blou breistofrok vleiend aan haar mooi lyf. Erin voel somber in haar swart broekpak, haar voshare vandag te styf agter haar kop vasgemaak. Sy kan nooit so sexy soos dié Janet wees nie, al probeer sy hoe hard. Elegant kan sy haal, maar niemand gaan in die straat hul nek verrek om twee keer na haar te kyk nie. Sy het nooit gedink skoonheid is só belangrik nie. Mense moet ander eienskappe ook hê om hulle werklik aantreklik te maak, het sy geglo. Nou moet sy aanvaar dat voorkoms tog maar vir ’n man soos Ferdie van opperste belang is.

    Ek kom sien my man, kry Erin darem kalm uit sonder dat haar stem skril word. Hy ís nog my man. Jy hoef my nie aan te kondig nie.

    Sy loop na Ferdie se kantoor, maak die deur oop en loop beslis in. Hy kyk op van sy lessenaar waar hy agter ’n groot oop wetboek sit en aantekeninge maak. Die ongemaklikheid kom lê dik, voelbaar tussen hulle.

    Hy staan op. Hallo, Erin.

    Hallo, Ferdie. Ek is net hier omdat ons jou hulp nodig het en ek skat jy skuld my nogal groot vir wat jy my aangedoen het. Dis payback time.

    Wie is ‘ons’? vra hy, sit sy pen neer en stap agter die lessenaar uit. Sy ruik die bekende naskeermiddel. Sy het dit nog vir hom gekoop. Haar emosies woed stormagtig, maar sy dwing haar tot kalmte.

    Bob het my gebel. Die Malazas eis deel van Misty en die MacFarlanes se Annendale. Bob-hulle is baie omgekrap.

    Maar jou mense boer al vir meer as ’n honderd jaar daar, van vóór 1913! Dan sal ’n grondeis mos nie slaag nie.

    Ja, so het ek vir Bob gesê, maar die Malaza-clan was ook nog altyd daar. Soos ons het hulle daar grootgeword. Jy sal met Bob moet praat. Mense raak maklik paniekerig as hulle nie vertroud is met die grondregtewette nie.

    Ja, maar óns weet mos hoe werk die Wet op die Herstel van Grondregte en Grondhervorming en die Kommissie op die Herstel van Grondregte. Als sal oukei wees, Bob-hulle het ’n sterk saak teen die eisers.

    Hy beduie dat sy by die koffietafel moet gaan sit en hy gaan sit oorkant haar. Hulle praat soos hoflike vreemdelinge, maar Erin is intens bewus van die frons tussen sy wenkbroue, sy duur pak, vleklose wit hemp, soel vel en ondersoekende donker oë. Sy nabyheid. Janet sit natuurlik daar buite en wonder wat praat hulle. Hoop sy hulle bespreek hul egskeiding?

    Bob het mos nie huurarbeiders op Misty nie? vra Ferdie. Dit wil sê mense wat op die grond woon en hulle vee daar laat wei of gewasse plant en in ruil daarvoor arbeid aan die eienaar of huurder verskaf.

    Die Malazas woon daar, maar hulle het nie vee nie. Die werkers is al geslagte lank daar, hulle ouers en grootouers was ook, maar hulle is almal betaal vir hulle arbeid, met geld en kos.

    Nou ja, dit maak van hulle plaaswerkers en nie huurarbeiders nie, sê Ferdie. Daar is soveel oneerlike eise en kansvatters dat ’n mens versigtig moet wees. Bob moet net kan bewys dat die Malazas ’n kontantloon ontvang het, eerder as weidings- en plantregte.

    Bob sê hy kán bewys hulle het vergoeding ontvang oor die hele tydperk wat hulle op die grond gewoon het.

    Dan is daar, soos ek gesê het, nie regtig ’n probleem nie.

    Ongelukkig wil Bob nou hê ons moet die naweek plaas toe gaan sodat ons die hele besigheid kan bespreek. Sy sien die onwilligheid op sy gesig. "Ek skat ons het nie juis ’n keuse nie. Dis ’n krisistyd vir hulle. Ons gaan bly by my ouers op Dunedin." Hy weet sy is nie gek oor Bob se vrou Marianne nie en daarom bly hulle nooit op Misty nie. Sy gee met haar huiwering te kenne dat hy die reg om haar ouers ook syne te noem verbeur het.

    Hy sug en kyk weg, asof hy dit swaar oorweeg. Ag, nou ja, dan moet ons seker gaan.

    Erin bekyk hom met skrefiesoë. Ons sal maar moet toneelspeel, my amper gewese man. Ek kan hulle nie nou nog skok met jou rondlopery nie. Ek sal hulle later vertel.

    Hy knik, vermy haar oë. Ek sal jou Saterdagoggend agtuur kom haal.

    Goed.

    Sy groet koel en loop uit. Janet sit meerkatregop op haar stoel, nuuskierig en gespanne. Erin knik net vir haar en stap na die hyser, vies vir haarself omdat sy van kop tot tone bewe. Hopelik het sy ten minste vir Ferdie gelyk asof sy in beheer is van haar emosies. Nou het sy die verspotte begeerte om in trane uit te bars. Sy is meteens verlore, voel ’n vreeslike verlies. Sy moet haar regruk en byt op haar lip.

    Daar moet nou nét nie ’n derde skok op pad wees nie. Tans kan sy nie veel meer hanteer nie, al probeer sy dit alles met bravade wegsteek.

    2

    Sylvia MacFarlane haal haar pos af by die poskantoor op Ermelo en sien die geregistreerde kennisgewing van die Grondeisekommissaris soos ’n slang in haar hand. Sy word yskoud, vries eintlik van kop tot tone van skrik. Sy gaan staan in ’n hoek van die poskantoor, maak dit oop en kyk. Wie op aarde eis wat? Sy sien dis die Malaza Family Trust and Land Claims Committee. Wat? Kon die Malazas sowaar saamgesweer het, en nou eis hulle Annendale, háár erfplaas? Binne net dertig dae moet sy iets doen om dit te keer. Die brief is ’n bliksemslag uit ’n blou hemel.

    Verslae en bewend staan sy met die kennisgewing in haar hande, haar knieë so lam dat sy van die poskantoor na die naaste kafee moet strompel en soet tee bestel. Daar lees sy die kennisgewing oor en oor, probeer om dit klein te kry. Sy weet nie wanneer sy laas so geskok was nie. Dis vermetel verby, en verregaande, en soos iets uit ’n nagmerrie, maar dáár is dit – swart op wit en heeltemal amptelik. Iewers in staatskantore sit gesiglose, genadelose beamptes en werk gevoelloos met mense se hele bestaan, asof hulle net syfers is en nie wesens van vlees en bloed wat hartaanvalle en beroerte kan kry van skok nie. Asof hulle nie onlosmaaklik verbind is aan hul bodem nie.

    Nadat Sylvia haar tee gedrink het, gaan sy na die dameskleedkamer om haar gesig met koue water af te spoel. ’n Doodsbleek vrou kyk na haar terug uit die spieël. Met bewende hande haal sy haar pakkie sigarette uit en steek een aan. Sy trek die rook diep in haar longe in. Emfiseem is haar voorland, dit weet sy, maar ’n sigaret kalmeer haar. Sy druk die sigaret in die wasbak dood, spoel dit skoon en gooi die stompie in die drommetjie.

    Net daarna bel sy haar seun, Mac, en vertel hom die ontstellende nuus.

    Kom so gou jy kan plaas toe dat ons dit kan bespreek.

    Ma, dit klink nou baie erg, kom sy besorgde en ontstelde stem oor die selfoon. Maar ek sal Saterdag afvlieg, en Ma moenie worry nie, ons sal dit hanteer.

    Dit is een van die swartste dae in haar lewe.

    Annendale is my erfgrond. My familie, my ouers, het al die jare op Annendale geboer en gewoon. En die Buchanans ná hulle. Andrew woon nou daar. Ek kan dit mos nooit verkoop nie. Is dit nie verregaande dat die klomp Malazas dit nou eis nie?

    Mac kyk met begrip en deernis na haar. Ek kan verstaan dat Ma dit nie wil verkoop nie, al is daar nou skielik die grondeis. Maar is dit nie vir Ma ’n swaar las om na Annendale én Lothian om te sien nie? Ek is net ’n deeltydse boer. Ma moet na alles kyk en ons weet tog dat Ewan nie gaan boer as hy dan nou medies wil swot nie.

    Met Andrew se hulp kan ek maklik al twee plase aan die gang hou, stry Sylvia. Hy is ’n baie goeie plaasbestuurder. En buitendien, ek het vir hom daardie huis op Annendale gebou. Dit het baie goeie sekuriteit en die radiobeheer sodat hy ons contact tussen die boere en die polisie kan wees. Hy help om ons veilig te hou. As daar enige misdaad hier rond gebeur, is dit meesal hy wat die boere en polisie oor die radio waarsku. Dit het alles geld gekos, maar die plantasies is nou net só dat dit ’n goeie inkomste behoort in te bring.

    Ja, goed, Andrew is nuttig as plaasbestuurder, maar wat ek nie kan kleinkry nie, is hoekom die vee-, voertuig- en koperdiefstal wat nou so erg is, nie minder word as hy dan so help met veiligheid nie.

    Die veiligheid van die distrik hang nie net van hom af nie, Mac. Hy kan net so goed wees soos samewerking met die polisie hom toelaat, en dit sukkel maar deesdae.

    Ma is tog so partydig vir hom. Altyd aan sy kant.

    Ek is nie net partydig nie, Mac. Ek sal moeilik sonder hom klaarkom.

    Sylvia weet Mac dink sy hou Andrew aan en beskerm hom oor die tragedie van sy gesin. Sy wonder of Mac nie jaloers is omdat Andrew hom byna soos haar eie seun gedra nie. Ten minste is Andrew altyd naby, terwyl Mac in Pretoria praktiseer. Geliefd maar meesal afwesig. Andrew en Mac verskil hemelsbreed en hulle kom eintlik net ter wille van haar oor die weg.

    Weet Andrew al dat daar ’n grondeis op Annendale is? vra Mac.

    Nee, ek het nog uitgestel om hom te vertel. Hy sal net so geskok wees om te hoor dat dit juis die Malazas is.

    Ja, ek kan my net indink hoe kwaad dit hom gaan maak.

    Sy sit met die kennisgewing van die grondeis in haar hand, stokstyf van wrewel. Hoe durf die Malazas aanspraak maak op ’n plaas wat al van lank voor die Anglo-Boereoorlog in haar familie se besit is?

    Moenie worry nie, Ma, troos Mac weer. Ons gaan dit beveg, prokureurs, advokate en wie ook al nodig is, kry om ons te help.

    Ja, met alles wat ons het. Ek gaan waaragtig nie sommer boedel oorgee nie. Bob het my gesê dat hy dadelik vir Erin laat weet het. Haar Ferdie is mos ’n advokaat en hy kan ons help. Bob sê hulle twee kom dié naweek kuier en dan kan ons almal koppe bymekaarsit.

    Sy smag na ’n sigaret, maar waag dit nie om voor haar geneesheer-seun te rook nie.

    Mac, Sylvia en Andrew sit later die naweek op die stoep van Lothian en praat oor die grondeise.

    Mac dink ons kan ons suksesvol teen die eis verdedig, sê Sylvia vir Andrew, en buk af om te speel met die ore van haar Skotse terriër Wallace, wat by haar voete lê. Die ander honde lê ’n entjie weg en hou haar oor hul pote dop.

    Ek sou so dink! sê Andrew hoogs verontwaardig. Hierdie regering moenie dink hulle kan hier doen wat die fokken Zimbabwiese regering met sý mense doen nie, die beste plase eenvoudig van die wit boere afvat. Dis ’n donnerse skande hoe dit daar gaan. Ons ou plaas behoort lankal aan ’n Zanu-politikus. Moet ons nou hier dieselfde paadjie loop?

    Sy uitdrukking is kwaai en bitter, en Sylvia verstaan dit. Hy het sy geboorteland verloor en nou is hy bang die geskiedenis herhaal hom. Hy wil nie van Annendale afgegooi word nie. Ongelukkig dat dit op Annendale is waar hy moet bly, en ewig aan die tragedie van die moord op sy gesin herinner word. Hy het egter nie geprotesteer toe hy die pos as plaasbestuurder daar kry nie, en hy was dankbaar dat sy vir hom ’n nuwe huis op die plaas laat oprig het.

    Ek wil ook nie hê jy moet jou nuwe tuiste verloor nie, Andrew, sê sy. Dit was ingesluit in ons dienskontrak.

    Nee jissis, dit sal ’n gatslag wees. Ek is ook nie meer vandag se kind nie, Sylvia. Ek is al in die veertig. Ek betaal nog onderhoud vir my kind en vandag is ek ’n arm man. Nes my pa moes ek als verloor en weer oorbegin. Ek sien nie kans om gou weer te trek nie.

    Sylvia voel geweldige deernis vir hom. Sy lewe is in haar hande. Mac sit en tuur net in die verte en neem nie aan die gesprek deel nie.

    Andrew kyk na Sylvia met sy ysblou oë, sy pa se oë. Die denneplantasie op Annendale is reg vir kap. Dit behoort vir jou ’n pot geld in te bring.

    Ons kan nie kap as daar ’n grondeis teen ons ingestel word nie, Andrew. Dan gaan staan alles mos stil.

    Die fokken Malazas is ook oral – op Misty, Annendale, ander plase. Hulle verbeel hulle nou hulle kan die grond afvat net oor hulle jare lank daar geplak het. Miskien moes jy en Bob Bell nie vir hulle sulke mooi huise gebou het nie. Hulle bly gans te lekker. Nou wil hulle sommer alles vat.

    Mac staan op. Verskoon my, ek wil net ’n paar oproepe gaan maak.

    Nadat hy weg is, sug Sylvia. Andrew kan Mac tog so irriteer wanneer hy stry oor die regte van werkers en of ’n mens hul lewens moet probeer verbeter. Andrew dink ná Zimbabwe se debakel net in terme van grondonteiening en onwettige plakkery. Hy sien gevaar om elke hoek en draai. Maar vandag kan sy nie help om te dink hy het ’n punt beet nie. Sy voel net so bedreig, verontreg en bekommerd.

    Jy weet, ek het altyd gedink julle moet my veras as ek doodgaan en my as strooi oor Annendale, sê sy. Ek kan netsowel doodgaan as ek die grond moet verloor.

    Hy frons. Moenie praat van doodgaan nie, Sylvia. Jy gaan nog lank lewe. Al moet ek daarvoor sorg.

    Sy glimlag. Hoe gaan jy daarvoor sorg, Andrew?

    Ek gaan jou oppas.

    Nadat Andrew weg is, gaan Sylvia na haar slaapkamer in die groot huis en die honde tou agterna. Hulle los haar nooit alleen nie. Sy gaan sit voor die spieëltafel en kyk na haarself. Nou is haar eens dik, donker krulhare grys en haar bruin oë het lagrimpels aan die kante. Die spore van die jare sit daar, die myle wat almal kry. Maar sy hou darem nog goed. Sy wil nie soos haar oorlede man in siekte en ellende vergaan nie.

    Op haar dag was sy baie mooi, dit het mense vir haar gesê. Toe haar Ewan terminaal was met kanker het sy gehoor mense spekuleer, nie óf sy weer gaan trou nie, maar wánneer.

    Net toe kom die Buchanans uit Zimbabwe en sy raak verlore. Dat sy so desperaat lief sou word vir iemand wat vir haar verbode was, was nie iets wat sy ooit kon voorsien het nie. Haar gemoedstoestand het gewissel van ekstatiese hoogtes tot dieptes van ellende. Dit het haar met skuldgevoelens gelaat wat tot vandag nog voortduur.

    Nou het sy net haar herinneringe en die verlange, nostalgie, melankolie en skuldige gewete van daardie onstuimige tyd oor. Ook die afgryse, die nagmerries en die eensaamheid wat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1