Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Boereoorlogstories 2
Boereoorlogstories 2
Boereoorlogstories 2
Ebook318 pages4 hours

Boereoorlogstories 2

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 is helderder as ooit in die Afrikaanse leser se geheue. Verkope van die eerste bundel, getitel Boereoorlogstories, het alle verwagting oorskry en het reeds ’n tweede druk van die tweede uitgawe daarvan genoodsaak. In Boereoorlogstories 2 tree ook jonger skrywers tot die gesprek toe, onder andere Christine Barkhuizen Le Roux, Jaco Fouché en Gerda Taljaard. Die verhale van lyding en opoffering wat die eerste bundel gekenmerk het, word in die tweede bundel verbreed met ’n skerper blik op verraad. Die joiner en hensopper kom as uitgeworpene onder die soeklig (“Die groot gemis”, Dolf van Coller) maar ook as feilbare mens in vertwyfeling (“Was Oupa dapper?”, Lappe Laubscher; “Groete daar op Voorstevlei”, Jaco Fouché.) Die verkwikking van humor oor ernstige sake bly nie uit nie. Ook is daar erkenning vir die feit dat alle soldate van die Britse Ryk nie demone was nie (“Eenmaal was daar ’n goeie man”, Marita van Aswegen). En die Boer Gideon Scheepers – vir die Britse Ryk ’n rebel wat teregstelling verdien het vir sy verraad jeens sy regering – word geteken in sy barmhartigheid jeens ’n Engelse vrou op die platteland. Só belig hierdie tweede bundel ’n nog wyer spektrum as die eerste in sterk verhale en ’n idioom wat die tydperk van die Anglo-Boereoorlog lewend hou: vir lesers met ’n voorkeur vir historiese verhale, maar ook vir enige leser wat die kortverhaalkuns waardeer.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMay 16, 2012
ISBN9780624054344
Boereoorlogstories 2
Author

Jeanette Ferreira

Jeanette Ferreira het in die Laeveld grootgeword. Na ’n akademiese loopbaan as o.m. professor in letterkunde, was sy by verskeie uitgewerye werksaam. Sy het al verskeie versamelbundels saamgestel, 12 boeke gepubliseer en is veral bekend vir haar gewilde historiese romans Babette, Catharina en Charlotta.  

Read more from Jeanette Ferreira

Related to Boereoorlogstories 2

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Boereoorlogstories 2

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Boereoorlogstories 2 - Jeanette Ferreira

    Boereoorlogstories 2

    32 verhale oor die oorlog van 1899–1902

    Samestellers en redakteur Jeanette Ferreira

    Tafelberg

    Voorwoord

    In 1998 het die eerste bundel, Boereoorlogstories, verskyn. Dit het groot byval gevind, wat te verstane was omdat dit saamgeval het met die honderdjarige herdenking van die AngloBoere-oorlog (1899–1902). ’n Heruitgawe van die bundel het in 2011 verskyn en soveel belangstelling geniet dat ’n tweede druk van die heruitgawe in dieselfde jaar verskyn en uitverkoop het. Die uitgewer het my versoek om hierdie tweede bundel saam te stel.

    Bydraes wat in hierdie bundel opgeneem is, kom nie net van skrywers wat ’n voorkeur vir historiese fiksie toon nie maar ook van dié wat reeds bekend geraak het vir eietydse literatuur. Kyk mens na boekhandelaars en verspreiders se katalogusse, is dit duidelik dat lesers wêreldwyd bekoring en betekenis in historiese fiksie vind. Die mens skyn ’n behoefte te hê om te weet hoe dit was met dié wat voor ons was. Sulke inligting is geredelik te vind in geskiedenisboeke en argiewe. Maar in fiksie word name en datums mense, want stories gaan oor mense en mense wil van mense lees.

    Dolf van Coller en Nic Tredoux is oorlede voor die ter perse gaan van die bundel en hulle verhale is ’n gewaardeerde nalatenskap.

    Ek is dank verskuldig aan die uitgewer wat die publikasie moontlik gemaak het en aan professor Fransjohan Pretorius wat historiese korrektheid in die verhale gekontroleer het. En veral aan lesers wat stories oor gister nie ongelees wil laat nie.

    Jeanette Ferreira

    Samesteller en redakteur

    Voorwoord

    As redakteur van Boereoorlogstories 2 het Jeanette Ferreira my betrek om as historikus die historiese korrektheid van die agtergrond van elke verhaal in hierdie bundel na te gaan. Ek het die geleentheid aangegryp, omdat ek glo dat elke stukkie historiese fiksie in ’n waarheidsgetroue en geloofbare milieu moet funksioneer. Maar terselfdertyd heg ek groot waarde aan historiese fiksie om geskiedenis as dissipline te bevorder.

    Vantevore het ek al die stuitige opmerking gemaak dat ek so baie vakleeswerk het, ek kry nie kans om fiksie te lees nie – die enigste fiksie waarby ek uitkom, is my geskiedenisstudente se eksamenskrifte.

    Wanneer dit by historiese fiksie kom, raak ek egter besonder geesdriftig. Daar is inderdaad by historici en skrywers van historiese fiksie – en so ook by hul aanhangers – toenemend ’n wedersydse waardering vir mekaar se bydrae tot ons verstaan van die verlede en van onsself, van menswees. ’n Stukkie historiese fiksie waarvan die agtergrond histories korrek en geloofbaar is, staan net soveel sterker, en geniet net soveel meer vertroue by sy lesers, as ’n stuk met twyfelagtige agtergrond.

    Dit is egter vir my opvallend hoe geesdriftig van my beste geskiedenisstudente reageer op ’n fliek of letterkunde met ’n historiese agtergrond (waarvan P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides ’n onlangse voorbeeld is). Die terugvoer was konsekwent dat daardie studente nog nooit ’n taak so geniet het nie. Kennismaking met historiese fiksie lei dus tot ’n groter belangstelling in en verstaan van die geskiedenis. Ek verwag dieselfde reaksie op Boereoorlogstories 2.

    En só dien ons die muses met wedersydse ondersteuning en waardering en geestelike vrug.

    Fransjohan Pretorius

    Departement Historiese en Erfenisstudies

    Universiteit van Pretoria

    Abraham

    Marie Schoeman

    Die perd beur die steil rivierwal uit. Die leisels lê kort in Abraham se hande soos hy die kragtige dier deur bosse en klippe stuur. Ná amper drie jaar in die veld verstaan hulle mekaar.

    Hy hoor die Ingelse se koeëls verby hom vlieg en teen die klipwal vasslaan. Hulle sal moet skiet om te dood, want gan Ingelsman sal ’n Boer te perd vang nie.

    Vos gly oor ’n gladde klipbank en struikel. Abraham skuif halfpad uit die saal en sien die grond nader kom. Vir ’n oomblik dink hy Vos is gekwes, maar die perd kry net betyds trapplek op vaste grond en skiet vorentoe. Abraham hang vir lewe en dood, kry die dier aan sy maanhare beet en trek homself tot in die saal.

    Jammer oor my grootheidswaan, Here, maak hy verskoning toe hy weer sy sit stewig kry en hy en Vos die opdraande verder aandurf. Die mens wik, maar U beskik.

    Die perd gee ’n reusesprong en toe sy pote die gelykte tref, trek hy weg en skeur oor die vlakte. Soos die geweervuur vaer en vaer word, weet Abraham die Ingelse sal hom nou nooit inhaal nie. Hy trek die leisels in en loer oor sy skouer. Die Vetrivier lê blink in die verte en daar is nie ’n Ingelsman in sig nie.

    Vader! hoor hy David roep. Sy seun en drie ander ruiters sit op hulle perde tussen twee bome.

    Dankie, Here, my kind is ongedeerd, bid hy hardop. Hy galop nader.

    Dit is nie veilig vir Vader om so oop en bloot in die vlakte te sit nie, vermaan David toe hy by hulle kom. Die wêreld wemel van die Engelse.

    Hy herken Frans Marx saam met David, maar die ander twee mannetjies, eintlik seuns, ken hy net van sien.

    Ek wonder hoeveel van die manne het weggekom? Hy kyk weer rivier se kant toe om te sien of daar ander ruiters aan die kom is.

    Ek het die kommandant en ’n paar ander manne op hulle perde sien spring, maar ek vrees omtrent die helfte van hulle is by die rivier vasgekeer. Die Engelse het die perde op ’n streep doodgeskiet.

    Sonder hulle perde sal die manne nie wegkom nie. Ons moet gaan help. David wil sy perd spore gee terug rivier toe, maar Abraham gryp die leisels.

    David, ons is vyf. Daar is omtrent ses-, sewehonderd Ingelse. Al was die hele kommando nog bymekaar, het ons nie ’n kans om ons weg deur die Ingelse te skiet nie. Hulle is net te veel.

    Vader, as veldkornet is dit my plig. Ek moet na hulle omsien. Ek weet nie of die kommandant dit gemaak het, of hy nog lewe nie.

    Help sal ons nie kan nie. Ons sal net saam met hulle gevang word. Soveel van sy familie, bure en vriende is daar, maar David is sy kind. As die kommandant eers op sy perd is, sal die Ingelse hom nie maklik vang nie, maar ook hy sal weet daar is nie ’n kans om die manne daar uit te kry nie.

    Jou vader is reg, meen Frans Marx. Ons kan maar net op ’n wonderwerk hoop.

    Wonderwerke is ’n ding waarin Abraham moeilik glo. Hy vryf oor die Bybel in sy binnesak.

    ’n Wonderwerk sal net gebeur as ons dit laat gebeur. David se mond is in ’n dun lyn getrek. Sy kind. Die koppigheid kom ook van hom af.

    Jy glo in ’n wonderwerk as jy dink vyf man kan honderde Ingelse aanvat, berispe hy. Die liewe Here wil hê jy moet die gesonde verstand wat Hy jou gegee het, gebruik. Wil jou nou dié paar manne, Abraham swaai sy arm in die rigting van die ander drie, se lewe ook in gevaar stel? Jy is nou hulle bevelvoerder en jy moet aan hulle veiligheid dink.

    Hy is geen Bybelse Abraham wat sy kind sal offer nie en buitendien vra die Here dit nie van hom nie, dink hy effens skuldig.

    Die veraf klank van skote is skielik duideliker.

    Vader is seker reg. David haal sy hoed af. Ons moet skuiling soek, want die Engelse is oral.

    Hulle hou al met die bome langs totdat David ’n effense hoogtetjie gewaar met ’n digte bos doringbome laer af. As ons die perde tussen die bome vasmaak, sal die Engelse hulle nie maklik sien nie en ons kan hier van die hoogte af die wêreld bespied.

    Hulle galop tot by die bome en klim af. Vir ’n rukkie rus hulle in die koelte, klim dan die opdraand uit en gaan lê op hul mae om af te kyk rivier se kant toe.

    David haal sy verkyker om sy nek af. Vader is reg. Daar is omtrent ses- na sewehonderd Engelse. Hoe het Vader dit geweet?

    As mens mooi luister, hoor jy hoeveel geweervuur uit verskillende rigtings kom.

    Laat ek sien. Frans Marx vat die verkyker by David. Daar is ’n skaapkraal omtrent twee myl van hier af. Hy gee die verkyker weer vir David. Ek wonder of dit nie veiliger sal wees om daar te gaan skuil tot donker toe nie? Ons sal darem die bietjie skaduwee van die klipmure hê.

    David bespied die wêreld. Te gevaarlik om nou oop en bloot soontoe te ry. As almal by die rivier gevange geneem is, gaan die Engelse na ons begin soek.

    Die son gaan ons hier op die klipplaat verbrand. Ons kan nie tussen die bome skuil nie, want as hulle hierlangs ry, gaan ons hulle te laat sien, dink Frans Marx hardop.

    Ons moet in skofte werk, besluit David. Ek, Stefaans en Hendrik sal die eerste uur die wêreld bespied, dan kan jy en my vader onder die bome gaan rus. Daarna is dit julle beurt.

    Abraham weet David wil hom ’n blaaskans gee. Terselfdertyd kan hy die seuns onder sy vlerk hou. Hy wat Abraham is, is nou wel ’n ou man, maar die jong manne moet hom nie onderskat nie. Hy het menige keer gedurende hierdie oorlog die Ingelse ore aangesit.

    Ek dink ek en Frans moet die eerste skof vat. Hy beduie met sy oë vir David na die jong manne. Hulle is nog kinders.

    David verstaan. Is Vader seker? Wil Vader nie eers ’n bietjie rus nie?

    Watwo! Ek is so reg soos hierdie roer. Toe, weg is julle!

    Hy en Frans bekyk die wêreld vir ’n wyle. Daar is niks te sien nie; net dan en wan hoor hulle skote in die verte.

    Dit is hartseer; daar is nie eens ’n bees of ’n skaap in sig nie en só lyk dit oral. Frans laat sak die verkyker op die kliprant. Die Engelse het alles voor die voet doodgemaak. Dit is moeilik om aan hulle as mense te dink.

    Boetie, hulle sal eendag aan hul Maker moet rekenskap gee.

    Oom, ek sal darem graag vir daardie rekenskap verantwoordelik wil wees.

    Die Bybel sê die wraak kom ons nie toe nie. Abraham dink ’n oomblik na. Maar die Goeie Boek sê nie ons mag ons nie verdedig nie. Hy bekyk weer die wêreld.

    Frans wikkel sy baadjie tussen hom en die klipplaat in om die ergste hitte af te weer. As ek bygelowig was, sou ek geglo het dat ek vandag nie naby Oom moes kom nie. Hy draai vir ’n wyle op sy rug.

    Hoe so, boetie? Hy kan die klein snotkop ’n ding of twee leer. Hy is nog nooit gevang – of gewond – soos die klein Marx nie.

    Toe generaal De Wet vir Roberts naby Bloemfontein wou afweer, is ons by Abrahamskraal omsingel en is ek gewond. Ek moes plaas toe en daar het die Engelse my gevang.

    Abrahamskraal? Is dit my naam waarteen jy dit het, boetie?

    Mens mag nie bygelowig wees nie, maar ek dink aan die Engelse wanneer ek die naam Abraham hoor.

    Wel, boetie, dan kan jy gerus wees, want Abraham was die vader van vele. As jy daarvolgens gaan, moet jy verseker wees dat Hy jou sal spaar om baie kinders te hê. Hy wonder hoe goed die mannetjie sy Bybel ken. En jy is net gewond. Hulle kon jou vrekgeskiet het.

    Ja, Oom, maar die Here het ook van Abraham verwag om sy seun te offer. En soos die oorlog nou loop . . . Ek was een keer gelukkig. Mens weet nooit.

    En is Isak geoffer? En is my kind se naam Isak?

    Nee, Oom, maar . . .

    David. Sy naam is David. Dawid het die reus verslaan. Die Here het Abraham belowe dat die land syne sou word.

    Ja, Oom, maar . . .

    Jy sê jy is gevang? Hoe het jy losgekom? Seker omdat hy nie naby ’n Abraham was nie, dink hy met ’n effense glimlag.

    Hulle het my Kaap toe gestuur, na ’n kamp met die naam Groenpunt. Ons moes die Engelse se Eed van Getrouheid aflê en toe stuur hulle my terug. Na die Winburgkonsentrasiekamp. Met die eerste kans wat ons gekry het, het ek en twee ander manne ontsnap.

    En ek dag jy sê jy het die Eed van Getrouheid afgelê?

    Generaal De Wet het vir ons gesê daardie eed tel nie, want die Engelse dwing ons om dit te doen en buitendien is dit oorlog.

    Ek weet darem nie; ’n belofte is ’n belofte. Sonde is sonde.

    Oom, het Oom al die see gesien? Verbeel Oom, so ver soos die oog kan sien, Frans lig sy bolyf en beduie oor die vlaktes, is daar water wat beweeg en raas, beweeg en raas. Daar is nêrens rustigheid of vastrapplek nie. Nee, Oom, ons Boere is gemaak vir die grond. Ek kan nie dink dat die Here dit teen my sal hou nie.

    En hoe kom jy toe weer by ons uit?

    Ons het te voet in die rigting van die rivier geloop, want ons het geweet die een of ander tyd sal ons ’n kommando raakloop. Dit was nie maklik nie. Ons was naderhand so honger dat ons enigiets sou eet wat voorkom. Gelukkig het ons teen die tweede dag ’n paar maer skape teengekom. Was dit koningskos! Frans maak sy oë toe en dit lyk asof hy weer van daardie vleis eet. Dit is nog nie eens twaalfuur nie en die son steek al klaar. Frans verskuif in sy posisie.

    Ja, ek weet nie of ek op die baadjie moet lê of dit liewer oor my kop moet gooi nie. Abraham trek die pante van die kledingstuk – dit wat ná amper drie jaar daarvan oor is – onder hom oop.

    Die sonbesies skreeu al hoe harder. Sy geselskap met Frans raak op. Hulle het die wel en wee van al die familie bepraat en nog steeds is hulle skof nie verby nie. Hy trek sy horlosie vir die hoeveelste keer uit sy sak.

    Sy oë veg teen die lomerigheid toe hy weer deur die verkyker na Ingelse soek. Die koper brand sy hande. Hy is op Doornfontein en die skape en beeste blink van die vet. Hy en David skiet ’n bok sommer vir die lekker – nie om die honger te stil nie. Sus, sy pragtige sestienjarige dogter, het haar broerskind in haar arms en hardloop hom en David tegemoet. Hy spring van sy perd af en omhels die seuntjie – sy naamgenoot – sodat dié kraai van die lag.

    Engelse Oom! Engelse!

    Abraham vlieg regop. Daar is geen Sus of klein Abraham nie. Hulle is dood in Brandfort se konsentrasiekamp, onthou hy. Euforie maak plek vir die stinkende werklikheid.

    Lê plat, Vader, praat David langs hom. Hulle weet ons is hier.

    Hy het aan die slaap geraak. Skaamte kom sit saam met die kwaad vir die Ingelse in sy bors. Hoe is dit dat ons hulle nie gesien het nie? Sou die Marx-mannetjie ook aan die slaap geraak het?

    Die skaapkraal, Oom. ’n Klompie van ons manne wat by die rivier ontsnap het, was op pad soontoe en skielik spring die Engelse daaruit. Hulle het daar weggekruip. Ook maar goed ons het nie soontoe gery nie.

    Die koeëls vlieg oor hulle koppe.

    Ons sal elke koeël moet maak tel. Daar is nie baie oor ná vanoggend se onderonsie nie. David voel oor sy bandelier. Ons sal die Engelse uit hul skuilplek moet rook anders kan hulle ons heeldag hier hou en ons het nie genoeg ammunisie om so lank te veg nie. Hy kyk bekommerd van die een bandelier na die volgende.

    Kyk waarvandaan hulle skiet, mik sekuur en skiet raak, sê Abraham. Hy sit sy hoed op sy geweerpunt en steek dit op sodat dit net-net bo die kliprant uitsteek. Onmiddellik trek ’n paar Engelse koeëls deur die hoed. Die vier jonger manne vuur en dowwe krete word gehoor.

    Het julle! roep klein Marx.

    ’n Hele paar keer herhaal hulle die proses.

    Leer die mense nie? wonder David verstom.

    Hulle het al ’n hele paar man verloor, maar hulle hou net aan en aan, sê een van die jong mannetjies moedeloos. Ek het nog net vyf patrone oor.

    Ons sal dalk nog twee of drie rondtes kan skiet, sê Frans Marx en Abraham hoor die gelatenheid.

    Ons skiet nog een keer en dan maak ons vir die perde en probeer onder hulle uitjaag, beveel David.

    Die Ingelse is vrot skuts, maar daar is baie van hulle. As ons met die perde onder hierdie doringbome uitkom, skiet hulle almal van ons net hier morsdood. Abraham bekyk die gelykte om hulle. Nêrens is daar ’n plek vir skuilgaan nie.

    Ons het nie ’n keuse nie, Vader. Dit is of dit, of hulle skiet ons hier die ewigheid in.

    Of ons kan oorgee. In die lang stilte wat volg, skreeu die sonbesies in sy ore. Hy kan David nie willens en wetens na sy dood stuur nie.

    David kyk na die twee jong manne wat met neergeslane oë teen die kliprant staar. Toe kyk hy na Frans Marx. Frans knik.

    Abraham verbeel hom hy sien ’n blinkigheid in sy seun se oë. David is oor hom bekommerd.

    Sy seun trek sy onderbaadjie en daarna sy wit hemp stadig uit. Hy trek dit oor sy geweerloop en steek dit in die lug. Toe die geweervuur ophou, staan hy op. Abraham hou sy asem op, maar die Ingelse skiet nie weer nie.

    Hy en die ander drie manne kom langs David orent.

    Een vir een kruip die Ingelse uit hul gate en kom stadig nader gery.

    Lieutenant Cooper, blaf die Ingelse offisier. Do you know how many of my men you have murdered?

    Nie Abraham of een van die ander antwoord die man nie. Die Ingelsman kyk hulle een vir een deur. Where is the rest?

    This is it. We are only five. Frans se hoed is laag oor sy oë getrek.

    Die Ingelse offisier se oë slaan op Frans vas. Take off your hat! You? What are you doing here?

    I fight for my people and my country, antwoord Frans dwarsweg.

    Die Ingelsman ken hom seker van daardie kamp in die Kaap af, dink Abraham. Dis waar Frans moet leer Ingels praat het. Oor die water sal hulle nou maar moet. Gelukkig is hy en David darem saam.

    You Dutch! No loyalty.

    My loyalty is to my people, antwoord Frans.

    Die mannetjie moet nou nie te voorwaarts wees nie, dink Abraham. Hy kan die wêreld moeilik maak vir hulle.

    Who is in charge? Die offisier kyk na Abraham.

    I am. David tree vorentoe.

    And you are?

    David Pretorius. Veldkornet.

    Take him, beduie die Ingelsman vir vier van sy manne en knik in die rigting van die doringbome.

    Seker om die perde te gaan haal.

    Turn around, beduie die Ingelsman vir Abraham en die ander drie.

    Hulle het skaars hulle rûe na die bome gedraai of hulle hoor David skreeu. Abraham draai om en begin in daardie rigting hardloop, maar die Ingelse rig soos een man hulle gewere op hom. Frans gryp hom aan die elmboog.

    Weer en weer weerklink sy kind se pynkrete en toe hoor hy duidelik die geluid van been wat kraak.

    My God! Hulle breek sy arms en bene, huil een van die seuns.

    Stil! beveel Frans en verstewig sy greep op Abraham se arm.

    Abraham se binneste wil by sy mond uitdraai. Wat doen julle met my kind?

    What he and all of you have done to my men.

    We did not murder you in cold blood. We are at war! Frans Marx storm in die offisier se rigting, maar die geweerlope draai in sy rigting.

    David se krete word sagter en sagter. Here, nie eens die nuus van sy dogter en kleinseun se dood kan met dié hel vergelyk word nie.

    ’n Flouerige pynkreet van David klink weer op. Abraham ruk los en hardloop ’n paar Ingelse uit die pad. Hy is halfpad na die bome toe iets hom teen die kop tref. Alles word swart voor sy oë en die grond kom nader.

    Toe hy weer tot sy sinne kom, staan een van die Rooinekke oor hom met sy geweerkolf steeds in die lug. Die vier Ingelse wat David onder die bome ingevat het, kom met Abraham-hulle se perde te voorskyn. Hulle knik vir die offisier.

    Abraham soek vir David; hy is nie daar nie.

    Get up and start marching! beveel die Ingelsman.

    My kind! Laat ek net my kind gaan help, soebat Abraham. Here, vir sy kind sal hy aan hulle voete kruip.

    Where he is now, he does not need your help, antwoord die Ingelsman selfvoldaan.

    Not a single shot was fired. You tortured him to death! skreeu Frans Marx.

    Die Ingelse se gewere word weer in sy rigting gelig. March!

    Abraham sukkel tot op sy knieë. Hy reik na die Bybel in die binnesak van sy baadjie. Sy naam was David, Here. David.

    Outeursnota en bronne

    Boje, Johannes Gerhardus. 2009. Winburg’s war: An appraisal of the Anglo-Boer War of 1899–1902 as it was experienced by the people of a Free State district. PhD. Universiteit van Pretoria. Hierin word vermeld dat Johannes Jacobus Erasmus ’n beëdigde verklaring afgelê het dat David Pretorius weggelei is nadat hulle gevang is en dat vier skote gehoor is.

    Marx, P.J. Vryheidsoorlogsherinneringe. Bloemfontein Argief. Hierdie bron stel dit egter dat hulle die liggaam die volgende dag gevind het. David Pretorius se arms en bene was gebreek, maar hulle kon nêrens ’n koeëlwond aan die liggaam vind nie.

    Petrus Marx en sy broer het die vorige dag by De Kruis ontsnap. Frans Marx, wat saam met Abraham en David Pretorius gevang is, was hulle neef.

    Belydenis van ’n gesneuwelde

    Elsa van Zyl-Smit

    Die mynhospitaal aan die Oos-Rand had ’n grysheid wat in die bakstene ingesypel het. Die omliggende mynhope kon g’n bemoedigende bydrae lewer om hierdie gebou as ’n laaste rusplek op die lewensreis te kies nie.

    Dis hier waar my pad met dié van Bart – oom Bart – gekruis het.

    Dit was die vroeë veertigerjare. Alles en almal was daarop gefokus om die Nazi-aanslag af te weer. Talle van ons mediese korps het die Geallieerdes gaan bystaan. My man was aan die Rand gestasioneer en ek as verpleegkundige het ’n pos by die mynhospitaal gekry.

    Vir die ou man op die ysterkatel was ontslag nie meer in die prentjie nie. Op die uitgewaste pajamas en verfrommelde kopkussing was die mynembleem sigbaar. Voor sy bed was ’n Gideonsbybel, ’n bottel Oros en ’n pakkie XXX Extra Strong – alles met komplimente van hospitaalsamaritane.

    Ek, behorende tot die Baby Boomer-generasie, het oom Bart nooit persoonlik geken nie. Oorleweringe rondom hom was wel geil in omloop in ons familie.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1