Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Snoeiskêr
Snoeiskêr
Snoeiskêr
Ebook337 pages5 hours

Snoeiskêr

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die duime is met ’n soort skêr of tang afgesny, en geoordeel na die merke aan die vingerbeentjies, is dieselfde instrument in elke geval gebruik. Moontlik ’n gewone snoeiskêr, net baie skerp. Langs ’n Johannesburgse mynhoop word een van die lyke gekry, in die veld naby die Mosambiekgrens lê nog twee, ’n ander in ’n bloedbespatte kamer van ’n derderangse hotel in Hillbrow, almal met die afgesnyde duime op die bors geplaas. Die misdaadverslaggewer Patricia de Beer begin verbande lê tussen die verskillende gevalle. Is hier ’n reeksmoordenaar aan die werk? Sy praat met haar vriende in die Eenheid vir Geweldmisdaad, en toe supt. Pine Pienaar en sy span agterkom dat daar jare gelede op ’n plaas naby Vrede ’n plaasmoord was waarin ’n vrou se duime afgesny is en op haar bors gelaat is, begin hulle Patricia gelyk gee. Op ’n verlate grondpad in Mpumalanga bring ’n donker man met ligbruin, byna geel oë sy dubbelkajuitbakkie in ’n stofwolk tot stilstand. Hy lees Patricia se artikel oor ’n moordenaar wat sy onversadigbare bloedlus met ’n snoeiskêr bevredig. Hy kyk na haar foto by die artikel, luister ’n ruk na die getik van sy bakkie se warm enjin. Hy draai die aansitter en die bakkie brul. Hy sal haar adres maklik kry. Alle paaie lei na die hel, en soms moet jy duimgooi daarheen. Piet Steyn se spanningsdebuut is ’n vuishou op die krop van die maag. Kru, gewelddadig, kniediep in van die land se somberste werklikhede. Dit is ook geskryf met diepgaande kennis van die karakters wat in hierdie omstandighede leef en sterf, en met ’n meesterlike beheer van spanning en die onverwagse.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780624052494
Snoeiskêr

Read more from Piet Steyn

Related to Snoeiskêr

Related ebooks

Related articles

Reviews for Snoeiskêr

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Snoeiskêr - Piet Steyn

    Snoeiskêr

    Piet Steyn

    Vir Annie

    left_brack.jpg 1 right_brack.jpg

    Vrystaat, Julie 2002

    Dit is laat Sondagmiddag. Die kuiermense is weg en alles het stil geword. Ou mense sit en verlang na kinders en kleinkinders, en jong mense verlang na iets of iemand wat hulle nie eers ken nie. Dis daardie tyd van die week wanneer die lewe tot stilstand kom en diep asemhaal voordat alles weer Maandag in al sy gejaagdheid begin. Selfmoordtyd, noem hulle dit.

    Die winterson hang laag en vuurrooi in die weste en kleur die Oos-Vrystaatse veld goud en koper. Vir ’n vreemdeling sal die landskap dalk dood en vaal lyk, maar vir die inwoners van hierdie hartland lewe die veld met kleure wat voortdurend verander soos die son sak. Die westewind het vandag weer sterk gewaai en die veldbrande vanaf die N3 aangejaag, brande wat hulle deur niks of niemand laat keer nie. Die boere het nie eens probeer nie. Ondervinding het geleer dat drade knip en vee uit die pad van die verwoesting jaag die enigste uitweg is. Dis ook hierdie rook wat verantwoordelik is vir die bloedvlek teen die horison.

    Koos Moloi het egter nie tyd om die natuur te bewonder nie. Hy trap sy dikwielfiets reg teen die ondergaande son en sterk westewind in. Hy moet wikkel, anders gaan die donker hom vang. Sonder ’n lig op dié grondpad, wat meer klip as grond is, kies die dikwiel hoeka sy eie pad. Die skaapvleis en bier druk sy maag swaar af op sy bobene, maar hy moet trap en sy oë en ore oophou vir die boere se bakkies. Hierdie tyd van die week … Sjô! Dis net so en jy sit soos ’n dooie mot teen ’n bakkie se verkoeler vas.

    Daar is dit juis nou, die gedreun van ’n voertuig! Koos sukkel omkyk-omkyk om die dikwiel uit die spore en gruiswalle te dwing. Die goudkleurige Toyota-bakkie donder teen ’n hoë spoed by hom verby, en Koos weet hy sal nog ’n hele ruk stof en klippies kou. Hy vloek, mompel nog ’n ruk en probeer moeisaam weer sy fiets op koers kry.

    para_brac.jpg

    Waar die stukkie teerpad uit die dorp ophou en die grondpad begin, trek ’n man met ’n opvallend donker gelaatskleur en ’n opgehewe litteken aan sy voorkop sy wit bakkie van die pad af. Sy hoofpyn is nou so erg dat dit lyk asof hy deur ’n glas water na die pad kyk. Gaan weg! skreeu hy, prewel dan saggies: Asseblief. Hy druk sy hande oor sy ore, knyp sy oë toe. Met rukkende hande maak hy die paneelkissie oop, krap naarstig daarin. Hy kry sy Gerber-mes en gooi dit op die sitplek langs hom neer. Uiteindelik die botteltjie pille! Hy ruk die prop af en droogsluk ’n hand vol kapsules. Is dit Prozac of Valium? wonder hy. Maak nie eintlik saak nie, solank dit net hierdie helse hoofpyn sal laat ophou en sy gedagtes tot bedaring sal bring. Hy haal ’n bottel brandewyn onder die sitplek uit en vat ’n paar slukke.

    Hy draai die venster van die bakkie oop en laat sy bloedbelope oë oor die donkerwordende landskap gaan. Waar op aarde is hy, en hoe het hy hier gekom? Hy laat sy kop op die stuurwiel sak en wag vir verligting. As hy net ’n halfuur kan slaap sonder die verdomde hoofpyn! En die verwyte. Die ewige stryd …

    Aanvanklik kon hy hom met pille en brandewyn losmaak van die verlede. Maar stelselmatig het die dosis groter en groter geword totdat dit nie regtig meer effektief was nie. Nou is die stemme weer terug: Jy mag nie slaap nie … Hy hoor dit so duidelik! Jy het daardie nag ook aan die slaap geraak …

    Fok weg! Die kreet skeur deur sy bors en die bakkie se kajuit word gevul met pyn en hy ruk sy kop regop en ’n kreet skeur uit sy bors, maar die klank word dof in die bakkie se kajuit gesmoor. Fok weg! Ek kon nie help nie, hulle was te veel! prewel hy saggies en laat sak weer sy kop op die stuurwiel. Ag, hel, asseblief. Laat los my net dat ek kan slaap. Genoeg is genoeg, ek wil nie so wees nie!

    left_brack.jpg 2 right_brack.jpg

    Angola, 1981

    Die plan is baie eenvoudig, sê Peet en boor met die lem van sy mes onder een van sy vuil duimnaels in.

    ’n Ruk lank bekyk Nick die kamp daar onder in die sandsloot deur sy verkyker. Hoe wil jy dit doen? vra hy. Trek maar rang op my en gee sommer plan A en plan B gelyk. As daar vrekgemaak moet word, was jy nog altyd die slimste.

    Peet se oë blits weg van die meslem. Wat sou Nick daarmee bedoel? Hulle kom mos al ’n lang pad saam, hulle verstaan mekaar. Lyk self eenders. Dié dat die ander Recces hulle die tweeling noem. Sy blik keer terug na waar die punt van die lem onder die duimnael doenig is en hy begin praat. Ek het so gedink …

    Onthou net, daar mag dalk nog baie Swapo’s in die omgewing wees. Wat ons ook al doen, sal iets soos die Gunfight at the OK Corral nie werk nie.

    Maar sal jy my donnerswil ’n kans gee om te praat?

    En sonder om een keer weer na sy buddie te kyk, het Peet die plan uiteengesit, sy blik strak op die mes se kantelende lem. Hy wat Peet is, sal kyk hoeveel hy sonder enige geraas van kant kan maak. Nick sal vuurdekking gee as dinge verkeerd loop. Nick se geboë hoof verraai sy skeptisisme. Hoekom wil Peet altyd alles en almal met daardie verdomde mes bykom?

    Peet is onversteurbaar. Onthou, as een van hulle twee keer poep, is hy wakker en dan skiet jy, te hel met die lawaai.

    Hoekom skiet ons hulle nie en kry klaar nie? Jy wil net altyd alles fokken sny …

    Kom ons probeer eers my manier. Dis stiller, en ek verkies dit so.

    Goed, gaan geniet jy jouself met daardie lelike mes, ek sal jou van die wal af dekking gee. Los net vir my ook iets om op Fort Doppies mee te gaan brag.

    para_brac.jpg

    Peet kom regop agter die rots en gee die laaste twee tree na die wag. Hy voel die adrenalien deur hom pomp. Hy leun oor die lae rots, sit sy linkerhand oor die wag se mond, ruk sy kop terug en stamp die Gerber in sy slagaar in. Peet wag totdat die bloed uit die man se nek ophou pomp en hy ophou skop en spartel. Hy laat hom in ’n sittende posisie teen die klip terugsak, terwyl hyself platval en na die naggeluide luister. Vir ’n oomblik toe hy die man se agterkop warm teen sy bors gevoel het, het daar akute beelde deur sy gedagtes geflits … die tou en die houe … die bloed … die twee gekneusde borste …

    Nou is alles nog doodstil, behalwe die gesnork van die drie slapendes. Hy kyk oor die rots na Nick en kry sy teken om aan te gaan. Hy seil saggies deur die wit sand, om die klip, en vermy ’n leë drankbottel wat die wag langs die klip neergesit het. Hy sien die pad wat hy uitgewerk het soos ’n rolprent en hy beweeg stil na nommer twee. Hierdie een lê in sy slaapsak met sy rug na Peet, ’n paar tree weg van die ander. Een van die ander mompel in sy slaap, hoes dan en draai om. Peet lê doodstil in die sand en hy weet dat hy probleme het as een van hulle nou wakker word. Daar is niks waaragter hy kan wegkruip nie.

    Asof nommer drie se gehoes hom wakker gemaak het, draai nommer twee op sy rug en mompel iets onverstaanbaars voordat hy weer begin snork. Peet lê ’n armlengte van hom af en kan die stoppelbaard op sy gesig sien, selfs die paar grys strepe daarin. Hy lê vir bykans tien minute doodstil en haal vlak asem, hy wil nie eens sy kop beweeg om vir Nick te kyk nie, want die moontlikheid is steeds daar dat een van die drie onraad vermoed en maak of hy slaap. Enige beweging van sy kant sal hierdie stukkie sloot in ’n hel van vlieënde lood verander.

    Eindelik is hy tevrede, kyk op en kry Nick se duim-in-die-lug-teken van agter die bos op die wal.

    Peet seil die laaste entjie op sy maag en stamp die groot mes in nommer twee se keel in, terwyl hy met sy ander hand sy mond toedruk. Ook hierdie een spook en spartel terwyl sy lewensbloed by sy keel uitpomp. Peet se geluk is dié keer kortstondig: Nommer twee skop die borde en bekers waaruit hulle geëet het raak en die ander twee kom regop in hulle slaapsakke.

    Nick se Uzi met die knaldemper hoes ’n paar keer gedemp, en dan is dit weer stil in die kamp. Niks beweeg nie. Oomblikke lank lê Peet stil met sy hand steeds oor nommer twee se mond. Hy luister weer na die nag se geluide. Ná die Uzi se geraas het selfs die insekte stil geword, maar begin weer een vir een deel word van die nagkoor. In die verte hoor hy ’n jakkals tjank en ver na die suide iets soos geweervuur. Dan hoor hy Nick se stem van agter die bos: Jy het nou amper ’n fokkop gemaak met daardie blikoopmaker van jou. Jy kan die vent nou maar los, of wil jy hom eers soen?

    Peet staan op en voel hoe sy hart in sy borskas ruk. Hy ruik die bloed en voel dit op sy hande. Hy haal diep asem, wag totdat sy emosies onder beheer is en haal dan die snoeiskêr van sy webbelt af. Terwyl Nick teen die wal afgly, stap hy na nommer een en knip sy twee duime elkeen by die tweede lid af. Die skêr is skerp en hy hoor die nou reeds bekende girtsgeluid wanneer dit deur die senings en been sny.

    Magtag, Peet! skreeu Nick. Al weer daardie verdomde snoeiskêr? Is jy bedonnerd? Dan sien hy die waansinnige staar in Peet se oë, draai om en stap weg in die sloot op. Hieraan sal hy nooit gewoond raak nie.

    Nick klim teen die wal van die spruit uit en gaan sit eenkant op ’n miershoop en wag dat Peet sy makabere ritueel voltooi. Gelukkig is hierdie mense reeds dood, en ten minste is daar nie nog ’n geskreeu ook nie! Sien wil hy dit beslis nie weer nie, hierdie afknip van die duime wat dan langs mekaar op die slagoffer se bors gerangskik word. Daarna is Peet gewoonlik weer normaal en die beste pel om mee bos toe te gaan. Dis net hierdie ding met die snoeiskêr …

    Toe Peet fluitend uit die sloot kom, is dit asof niks gebeur het nie. Yes, partner, sê hy ongeërg. Kom ons laat waai huis toe.

    Kan dit dieselfde mens met die waansinnige geel oë wees wat hy in die sloot gesien het? Nick is ’n oomblik verstom. Wat van hul gewere, ammunisie en die landmyne? vra hy toe hy tot verhaal kom.

    Op ’n hoop gepak met ’n stuk plastiese springstof en ’n tydontsteker, sê Peet en begin in ’n suidelike rigting aanstap. Kom, roer jou gat, roep hy oor sy skouer. Oor ’n rukkie gaan hier ’n moerse lawaai wees en dan moet ons weg wees.

    Nick volg hom kopskuddend.

    Peet neurie saggies ’n kinderliedjie: Siembamba, mama se kindjie, draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop dan is hy dood …

    left_brack.jpg 3 right_brack.jpg

    Suid-Afrika, 2002

    In een van Pretoria se oostelike voorstede sit Patricia de Beer in haar meenthuis op die sitkamermat. Om haar lê ’n klomp Sondagkoerante oopgesprei. Sy hoor die laatmiddagverkeer op die N1. Sondagmiddae is maar baie stil en die meeste van die tyd baie vervelig. Dis net sy en haar tienerseun, Henk. Hulle word wel naweke uitgenooi om iewers te gaan kuier, maar sy is te bewus daarvan dat die uitnodigings nie juis oor Henk gaan nie.

    Sy is 37 en as sy die spieël moet glo heel aantreklik met min grys in die natuurlike swart hare. Kom eet jy en Henkie Sondag by ons, sal van haar vriende byvoorbeeld heel onskuldig nooi, en soos klokslag is daar dan in die geselskap ’n ongetroude aan wie sy voorgestel moet word. Maar in hierdie stadium probeer sy nog om oor Charl te kom. Hy is Henk se pa, en hoewel hulle in belang van Henk as vriende uitmekaar is, was die egskeiding nie sonder trane en trauma nie.

    Sy is nie nou gereed en ook nie lus vir nuwe verhoudings nie. Henk verg ook nog baie van haar tyd en aandag, hy mis sy pa baie. Nie dat daar juis baie tyd is om saam deur te bring nie, nie met haar werk as misdaadverslaggewer en Henk se vol skoolprogram nie. Naweke is egter hulle s’n en sy probeer dit so hou.

    Sy laat sak die koerant op haar skoot en staar na die son wat agter Fort Klapperkop se rantjies sak en dink ’n wyle aan hul Sondagroetine: Laat slaap, kerk toe, koerante koop, eet, slaap en dan miskien ’n draai maak by Hatfield se vlooimark. Die kosmakery is vir haar ’n hoogtepunt van die week, want dit is die enigste geleentheid wat sy het om regte kos voor te berei: skaapboud (wat oorbly kom later die week op toebroodjies), gebakte aartappels, lang boontjies, rys en pampoen. Dan ruik haar huis soos haar ma se kombuis op Damplaas.

    Henk!

    Ja, Ma?

    Sy kan hoor sy aandag is elders. Hoe lyk jou sportprogram volgende naweek? Kan ons nie vir die langnaweek by Oupa-hulle gaan kuier nie?

    Sorrie, Ma, ons speel ’n friendly teen Sentraal in Bloemfontein en ek sal die hele naweek weg wees.

    Sy weet hy sit in die studeerkamer voor die rekenaar. Skaars veertien jaar oud en hy weet klaar meer van die moderne tegnologie as sy. Haar oë draai byna onwillekeurig na haar troufoto wat tot die ontsteltenis van haar vriendinne steeds teen die muur hang. Wat hulle nie kan verstaan nie, is dat sy en Charl baie mooi tye saam beleef het. Sy is steeds lief vir hom en kan nie help om soos ’n bakvissie nog lam in die knieë te word as sy aan hom dink nie. Hulle onderskeie werke het net geen tyd gelaat om by mekaar uit te kom nie.

    Charl is ’n oud-Recce wat in die Angolese bosoorlog naam gemaak het. Ná die oorlog was hy onder meer militêre attaché in verskeie Afrikalande. Met die ontbanning van die ANC en die nuwe, meer verteenwoordigende weermag het hy besluit dit is tyd vir ’n verandering. Sedertdien was hy in bevel van verskeie landmynverwyderingsoperasies in veral Angola en Mosambiek. Tans is hy betrokke by ’n sekerheidsmaatskappy in Irak.

    In die beginjare as misdaadverslaggewer was sy weer permanent agter stories aan. Soos die weermag Charl se passie is, is stories hare en droom sy ook van die groot scoop wat haar naam in die joernalistiekwêreld sal vestig. Toe Charl se ouers nog op Rietfontein gewoon het, was dit vir hulle albei moontlik om rond te rits. Henk kon by sy oupa en ouma bly. Soos hy groter geword het, het hy hulle egter nodiger begin kry. En juis toe het die drie van hulle verder uitmekaar gedryf, en ’n permanente skeiding, met so min moontlik skade aan Henk, was die enigste oplossing. Dit het natuurlik ook meegebring dat sy haar werk moes afskaal, veral wat die rondryery betref.

    Ma, roep Henk. Ek gaan net gou by oom Blackie ’n rekenaarspeletjie haal, ek is nou terug.

    Sê sommer vir hom hy moet kom koffie drink. Sê vir hom hier is melktert, roep sy agterna toe hy soos ’n warrelwind by die voordeur uittrek.

    Blackie sal haar laat beter voel. Hy is ’n geswore oujongkêrel, en hy sê self hy is met sy rekenaar getroud. Hy woon in die meenthuis net langs hulle, en hy en Henk is geesgenote, veral as dit by rekenaars kom. Blackie is ’n rekenaarboffin in die Suid-Afrikaanse Polisiediens se speurafdeling, en hy dra sy skootrekenaar saam met hom soos ’n gewone speurder sy vuurwapen dra. Hy is vir haar ’n wonderlike vriend op wie se ondersteuning sy altyd kan reken, sonder dat hy enige gunsies terug verwag. Sy het al gewonder of hy nie gay is nie en of hy maar net nie in vroumense belang stel nie. Dalk is hy regtig met sy rekenaar getroud? Hy is lekker rond en oorgewig, altyd met ’n glimlag en gereed vir ’n grap – ’n baie gawe en joviale mens.

    In hierdie stadium probeer Blackie hard om vir Henk ’n vaderfiguur te wees, onder meer deur soveel moontlik van Henk se sportgeleenthede by te woon. Dié verhouding het haar in die begin nogal bekommer, want Henk is nou op ’n kritieke stadium van sy seksuele ontwikkeling. Toe sy egter vir Blackie daaroor konfronteer, was sy antwoord: Pat, moenie worrie nie, ek neuk nie met kinders nie, ek neuk nie eens met grootmense nie! Hulle is te oninteressant – die goed het dan nie eens Word en Windows nie!

    Sy sug en tel weer die koerant op. Sy wil nie regtig lees nie, maar sy soek na daardie klein, onbenullige storietjies wat moontlik grotes kan word. ’n Beriggie waarin sý en niemand anders nie ’n groot storie sien.

    Die deur gaan oop en Henk en Blackie kom ingeloop.

    Ek het geweet die melktert sal jou laat uitkruip! Wat’s nuus? Sy skuif die koerant weg en gaan sit op ’n stoel.

    Nee, ou girl, jy is mos die nuushond. Ek is maar net ’n polisiemannetjie met ’n computer, sê hy en vly hom op die rusbank neer. Henk, ek het nie verniet so ver geloop nie, kla hy onmiddellik. Sit die koffiewater op en bring die melktert. Laasgenoemde eerste, asseblief. Hy vee die paar lang swart hare wat langs die kant van sy kop oorgebly het agter sy ore in.

    Wat gebeur op die Plein wat interessant is? vra sy. Dalk laat val hy iets wat sy kan gebruik.

    Tricia, wil jy nou hê ek moet my jop verloor? Jy weet mos ek mag nie praat nie. Jy moet maar jou eie snuffelwerk doen met daardie klein, mooi wipneusie van jou. Tensy jy natuurlik belowe dat jy vir my sal sorg as hulle my fire. Hy hou haar reaksie ’n rukkie met ’n groot glimlag dop, kug dan en gaan dan met ongewone erns voort: Die groot nuus is, soos jy seker iewers in daardie berg koerante raakgelees het, dat ons Len Matthee se moordenaar aangekeer het. Hy neem ’n bord met ’n stuk melktert by Henk. Nogal een van sy mede-studente … Waar gaan die wêreld heen?

    Wil Ma ook hê?

    Nee, net koffie, asseblief. Oom Blackie hou nie van vet vroumense nie. Dis haar beurt om sy reaksie gade te slaan. En die Enge van der Hoven-storie? vra sy, oënskynlik tevrede daarmee dat sy koekvurkie ’n breukdeel van ’n sekonde tussen bord en mond gehuiwer het. Ek het in die week ’n onderhoud met haar pa gevoer en hy is nie baie beïndruk met die SAPD se vermoëns nie.

    Pat, jy weet tog Enge het al in Amsterdam probleme met die polisie gehad. Oor dwelms. Sy is ’n ou kalant. Dit sal haar pa nie vir die pers sê nie. Wat van julle klomp by die koerant? Weet julle nie van die een of ander slegding wat ons in hegtenis kan neem nie? Ons kan doen met ’n bietjie positiewe publisiteit.

    Nee, maar ek het ’n gevoelentheid in my lyf dat die groot storie nie meer ver is nie, miskien is dit op hierdie oomblik besig om iewers te gebeur, sê sy. En agter haar sak die son rooi agter die rante weg.

    para_brac.jpg

    Vir Koos Moloi het die son te vroeg ondergegaan. Reeds toe die son laag en rooi in sy oë was, wou die grondpad en die dikwiel mekaar nie mooi verstaan nie. Nou, in die halfdonkerte, is dit ’n saak van onmoontlikheid, veral so sonder ’n lig. Daarom klim hy maar af en stoot die ryding na die regterkant van die pad sodat hy ten minste die aankomende verkeer kan sien. Die teerpad kan in elk geval nie meer ver wees nie.

    In die skemerdonker sien hy die bakkie met die kappie wat half van die pad af getrek is. Dis nie een van die nuwe generasie bakkies nie, sien Koos. En dit het ’n Mpumalanga-nommerplaat – nie mense van dié omgewing nie. Toe hy sy fiets verbystoot, sien hy die bestuurder lê met sy kop op die stuurwiel. Die res van die bakkie lyk leeg. Is daar iets fout? Hy druk sy hand deur die oop venster en stamp liggies aan die man. Haou, jy kan nie hier sit en slaap nie! Die tsotsi’s sal jou kom vat hieso …

    G’n reaksie nie … Dalk is hy dood. Maar dan hoor Koos die man iets mompel. Hei, wêna! roep hy weer en stamp ’n bietjie harder.

    Die bestuurder lig verward sy kop en kyk met wilde, geel oë om hom rond. Nie ’n swart man nie, sien Koos, maar donker genoeg om dalk bruin te kan wees. Die man skrik toe hy Koos sien, deins van hom terug en skree iets wat Koos nie mooi kan hoor nie. Dan sien Koos Moloi die mes, en dit is die laaste ding wat hy in sy lewe sien.

    para_brac.jpg

    Die pille en die drank het hom in ’n onrustige slaap laat val. Hy droom, en vasgevang in die tuimeling van beelde voel hy die ruk aan sy skouer. Hy pleit om genade. Hy voel weer die ruk en skrik wakker. Waar is hy? Hy kyk verward rond, sy oë brand. Daar is ’n gesig by die venster! Hy gil, kantel terug en voel die mes langs hom op die sitplek. Met al sy krag stamp hy die lem in die gesig in en gryp dan sy kop vas.

    Dis nou stil, niemand meer by die venster nie. Hy val-klim by die deur uit en trap byna op die man wat langs die bakkie lê. Die man het ’n mes in sy oog. Langs hom lê ’n dikwielfiets, om sy kop ’n plas bloed. Hy hurk by hom, ruk die mes uit sy oogkas en saag-sny die man se duime af. Hy sit die duime op die man se bors, mooi langs mekaar gerangskik. Toe strompel hy terug na die bakkie, kry die brandewynbottel onder die sitplek en vat ’n paar slukke.

    Dit raak rustig in hom, die woeling is stil … die hoofpyn het hom verlaat. Hy vryf oor die litteken aan sy voorkop, leun terug teen die bakkie. Hoe het hy hier gekom? Hierdie godverlatenheid, die paar liggies van ’n sielige dorpie. Waar op aarde is hy?

    Dan kom die maan op en hy kan meer van die omgewing sien. Hy sien waar die teerpad ophou en die grondpad begin. Hy kan nou sien dat die rook wat hy ruik, kom van ’n plakkerskamp ’n ent verder langs die teerpad. Hy hoor kinderstemme, mense wat na mekaar roep.

    Helder motorligte skuif nou in tussen die dowwe liggies van die buitewyke van die dorp. Die motor kom na sy kant toe. Die man en sy fiets, hulle lê in die middel van die pad! Hierdie een was ’n fout, besef hy. Dit was nie beplan nie. Dis die verdomde pille en brandewyn se skuld! Hy sal van die lyk en die fiets ontslae moet raak.

    Die motor wat van die dorp op pad was, draai genadiglik af. Hy slinger die twee duime in die veld in, laai die lyk agter op die bakkie en trek die bak se rubbermat daaroor. Die fiets gooi hy bo-op die mat, en die groot plas bloed op die teerpad skop hy met gruis en klippe toe.

    ’n Voertuig kom op die grondpad aan, en hy klim vinnig in die Nissan, draai sy gesig weg van die aankomende ligte en hou die bebloede mes in sy regterhand vasgeklem. Die voertuig dreun egter verby in ’n wolk van stof en klippe.

    Nou moet hy maak dat hy wegkom. Hy skakel die Nissan aan en maak ’n U-draai. Stadig ry hy in die rigting van die dorp en probeer herkenbare bakens in die lig van die maan uitmaak. Hy moet eers agterkom waar hy is voordat hy kan beplan hoe om by die huis te kom.

    Die teerpad lei oor ’n bruggie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1