Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Hiervandaan
Hiervandaan
Hiervandaan
Ebook205 pages3 hours

Hiervandaan

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Veelbekroonde reisskrywer Dana Snyman vertel die verhaal van sy eie lewensreis, dié van sy familie en van sy land.Hy reis agter stories uit die verlede aan, van die eerste Snyman, seun van ’n wit pa en ’n slavin-ma, tot vandag, waar mense op die platteland hom in hul geheime inlaat. Elkeen van ons het mos sy eie “Inkandla” – tuisdorp – en Dana se reis neem hom onder meer ook na Julius Malema se ouma se huis en na President Zuma se werklike Inkandla in KwaZulu-Natal, waar hy by President Zuma se broer aandoen. Dan keer Dana terug huis toe, via Bloedrivier en die museum waar sy oupa se broek nog uitgestal word...Dana se verhaal is vervleg met die stories van ons almal wat “hiervandaan” is. Eg, warm en gevul met deernis, soos ons Dana leer ken en leer liefkry het.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 20, 2011
ISBN9780624058397
Hiervandaan
Author

Dana Snyman

Dana Snyman is op Stellenbosch gebore. Ná 'n kort, onsuksesvolle universiteitsloopbaan, werk hy onder meer as veiligheidswag, skakelbordoperateur, en boekwinkelklerk. Met die genade van Bo beland hy in die joernalistiek, en vandaar word hy een van Suid-Afrika se mees geliefde skrywers. Hy het al talle gewilde en suksesvolle rubrieke, boeke en verhoogstukke neergepen. Wanneer hy nie op reis is nie, woon Dana op Jacobsbaai aan die Weskus.

Read more from Dana Snyman

Related to Hiervandaan

Related ebooks

Related articles

Reviews for Hiervandaan

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Hiervandaan - Dana Snyman

    Dana Snyman

    Hiervandaan

    Op reis in die geliefde land

    Dana Snyman is op Stellenbosch gebore. Sy pa, oom Coenie, was ’n predikant – een van daardie predikante wat elke vier jaar ’n beroep na nog ’n afgeleë dorpie aanvaar het. Hy skryf op die ou end matriek op die destydse Nylstroom.

    Ná ’n kort, onsuksesvolle universiteitsloopbaan, werk hy onder meer as veiligheidswag, skakelbordoperateur, en boekwinkelklerk. Met die genade van Bo beland hy in die joernalistiek. Hy werk eers as misdaadverslaggewer by Beeld, daarna skryf hy vir Huisgenoot oor enigiets van bomontploffings tot die wêreld-kettieskietkampioenskappe. Van 2004 tot 2008 was hy die reistydskrif Weg se reisskrywer.

    Vandag skryf Dana voltyds aan sy boeke en rubrieke vir onder meer Die Burger, Beeld en Volksblad. Hy het ook al drie suksesvolle eenmanstukke vir Frank Opperman geskryf. Vier boeke met van sy stories is gepubliseer – Uit die binneland, Anderkant die scrap, Op die agterpaaie en Op die toneeel. Op die agterpaaie het in Engels verskyn as On the Back Roads.

     Wanneer hy nie op reis is nie, woon hy op Jacobsbaai saam met Jerry, Kleintjie en Vlooi, sy getroue township-special honde.

    Oor Dana Snyman se werk:

    Al die vertellings dui op die groot eerbied en simpatie wat Snyman vir sy karakters het. Die boek laat jou met nuwe oë na alledaagse gebeure en mense om jou kyk.

    Phyllis Green, Sarie

    Dis een van die rolle van Dana Snyman in die joernalistiek en boekewêreld. Om te vermaak, beslis, maar ook om rekord te hou. Dana is ons man ‘op die toneel’ . . . Hierdie wandelende, spontane stip kyk en neerskryf van ook ágter die klaarblyklike herinner ’n mens aan die nagelate werk van Pole se mees gevierde buitelandse korrespondent, Ryszard Kapu´sci´nski.

    Rachelle Greeff, Rapport Boeke

    Dana Snyman is die optekenaar, ironies, sardonies. Hy skryf tydsdokumente wat vir Jan en alleman bedoel is. Alles word beskryf in helder, sober Afrikaans en wanneer hy Engels inspan, is dit met woorde soos ‘sideboard’, wat sy plek in die volksmond gekry het.

    Joan Hambidge, Beeld

    "Ek kies Dana se bundel [Op die toneel] omdat die verhale deur die bank die werk is van ’n uitstekende vakman en van voor tot agter ruik na mens en na deernis (‘die wese van ons taak’— Van Wyk Louw)."

    Abraham de Vries, Die Burger

    Dana Snyman is namens ons almal op die toneel. Hy het ’n deernisvolle blik op alledaagse mense en hul dinge wat ’n mens nêrens kan leer nie.

    Erns Grundlingh, Insig

    Lofwaardig is ook Snyman se gemaklike, karakteriserende weergawes van gesprekke; en dan veral sy aanvoeling dat pyn nooit ver agter jolyt loop nie.

    Taalgenoot

    Snyman het ’n oog vir die humoristiese en ironiese in die alledaagse . . . ’n plesier om te lees.

    Volksblad

    Dana reis met oop oë deur hierdie wye en soms droewe land en sien ’n storie op ’n myl aankom.

    Elna van der Merwe, Huisgenoot

    "Uit die binneland is ’n plesier om te lees. Die lag met die traan, die heimweë oor dit wat verlore is, maar ook die akkurate beskrywings van die hart van die binneland – Afrikaners in alle gedaantes – kan amper gesien word as die vaslê van die geskiedenis, gewoontes en tradisies van die gewone mens. Die binnelanders."

    Volksblad

    The autobiography of a traveller who finds that the more he goes out to the country the more he travels inwards towards himself, who believes that one gets lost for a reason, this collection is also a warts-and-all biography of a people and a country … magical reportage.

    The Sunday Times

    Packed with authentic South African anecdotes … a gem.

    YOU magazine

    Searching for – and finding South Africa’s secret soul.

    Pretoria News

    He captures the beauty of our diverse country and its people.

    Essentials

    Like his mentor, the writer Bruce Chatwin, he recognises an affinity between writing and travelling as forms of mental exploration ... Intelligent and perceptive, he has an eye for illuminating social detail and a whimsical humour.

    The Witness

    Deur dieselfde skrywer:

    Uit die binneland (2005)

    Anderkant die scrap (2006)

    Op die agterpaaie (2008)

    On the Back Roads (2008)

    Op die toneel (2009)

    Vir Ingrid

    How much past can the present bear?

    – Ivan Vladislavic‘

    DANA-KAART.jpg

    Dana se reis

    Inhoud

    I    Ontstaansgrond

    II    Die binneland in

    III    Nkandla

    DEEL I

    Ontstaansgrond

    Dit lyk asof dit enige tyd kan begin reën toe ek net duskant Franschhoek by die plaas indraai. Die pad na die opstal is geteer en gaan tussen die wingerde deur, verby ’n kerkie en ’n klein begraafplaas.

    Ek ry al hoe stadiger, onder die lae wolke deur.

    Tot nou was dié plaas vir my net ’n naam in boeke en op dokumente in die Kaapse argief, en noudat ek hier is, voel ek ’n bietjie soos die verlore seun wat ná baie, baie jare huis toe kom.

    Links is ’n gronddam. Regs perdestalle.

    Dit is ’n regte, historiese Bolandse plaaswerf, merk ek dadelik. Die opstal het ’n gewel met ’n druiwetros op, en ’n rietdak, en hortjies voor die vensters. Eenkant, omring deur eikebome, is die wynkelder. Naby ’n geboutjie wat na ’n veiligheidswag se kantoortjie lyk, is ’n groot wit-en-blou bord ingeplant:

    WELCOME TO SOLMS DELTA

    Parking

    Wine tasting

    Museum

    Restaurant

    Op die parkeerterrein oorkant die restaurant staan ’n toerbus en ’n paar motors geparkeer. Ek hou langs die bus stil, maar klim eers nie uit nie. Die blou-en-wit kennisgewing tref weer my oog. Dit voel of dit nie hier moet wees nie.

    Hierdie plaas het eens op ’n tyd, meer as driehonderd jaar gelede, behoort aan Christoffel Snyman, die stamvader van die Snymans. Hy en sy vrou, Margo, het hul hele getroude lewe hier gewoon. Hul nege kinders is hier gebore, en hier is Christoffel in 1709 oorlede.

    Hier, kan jy maar sê, kom al ons Snymans vandaan: Oupa en Pa en ek, en al dié vóór en ná ons.

    Ek is lus en bel vir Pa met my selfoon, maar ek sukkel die laaste twee dae om ’n helder gesprek oor die telefoon met hom te voer. Hy is die hele tyd te moeg en te kortasem. Sy hart is gedaan. Gisteraand toe ek hom vertel ek was in die argief en het uitgevind Christoffel Snyman is ons stamvader en ek kom vandag hiernatoe, het hy net iets gesê van sy ooroupagrootjie wat in Pietermaritzburg gewoon het – die ooroorgrootjie wat op die Groot Trek was en in die Slag van Bloedrivier geveg het, wie se name hy ook het: Coenraad Frederik Wilhelmus Snyman. Hierdie oupa Coenraad is al ver-terug-Snyman van wie ek Pa ooit hoor praat het.

    Ek klim uit die bakkie. Dit is altyd vir my vreemd om op ’n plaas soos dié te kom en ’n mens kan oral op die werf rondstap, en eet en drink en wat ook al doen, en jy weet nie eens aan wie die plaas behoort nie.

    Langs die restaurant is ’n hoë geboutjie met ’n soldertrap aan die een kant. Dit lyk na ’n ou kelder. ’n Man kom daarvandaan nader, met ’n geoefende rympie op die lippe: Môre, Meneer. Welkom hier. Wil u van ons lekker wyne proe?

    Die man is een van die gidse hier. Leon Adams. Hy glimlag toe hy hoor ek is ’n Snyman. Als is hier binne. Kom ek wys u. Hy stoot die geboutjie se deur oop.

    Die deur lei na ’n groot vertrek met ’n donker tafel in die middel. In ’n kleiner vertrek langsaan word wyn verkoop. Teen die mure is panele waarop die plaas se geskiedenis in woorde en met sketse en ou foto’s vertel word. Op die eerste paneel is slegs ’n enkele paragraaf:

    Hierdie museum vertel die storie van Delta-plaas. Soortgelyke stories kan vertel word van al die plase in hierdie vallei. Die dinge wat hier gebeur het, weerspieël die hele geskiedenis van Suid-Afrika.

    Leon druk sy handpalms teen mekaar, byna soos ’n predikant op ’n preekstoel, en vertel eers van die San- en Khoi-mense wat eerste hier in die Groot-Drakensteinvallei tussen Franschhoek en die Paarl gewoon het, dan kom hy by 1657… Meneer sien, in 1657 is ’n vrou met die naam Groot Catrijn mos van Batavia af Kaap toe geverban. Hy kyk stip na my. Hierdie Groot Catrijn was mos ’n bandiet – ’n vrouebandiet. Sy’t haar outjie daar oorkant gevermoor, toe stuur hulle haar Robbeneiland toe. Lewenslank.

    Is hy seker sy is Robbeneiland toe verban? wil ek weet, want dit klop nie met wat ek in die argief gelees het nie: Groote Catrijn van der Caab, ’n vrou van Indiese afkoms, is wel in 1657 na die Kaap verban nadat sy haar minnaar vermoor het, maar sy het as ’n wasvrou vir Jan van Riebeeck in die Kasteel begin werk.

    Leon twyfel nou self. Hy roep ’n ander gids in die vertrek langsaan. Tiaan!

    ’n Kêrel met ’n yl snorretjie kom nader. Tiaan Jacobs.

    Is Groot Catrijn Robbeneiland toe gestuur? vra Leon vir hom.

    Nee, man. Sy’t mos Jan van Riebeeck se washer woman geword. Tiaan kom staan by my en vertel sommer verder. Daar in die Kasteel ontmoet sy toe mos vir Hans Christoffel Schneider, Meneer sien. Hy was soort van Van Riebeeck se persoonlike bodyguard. Hulle twee, hierdie Hans Christoffel Schneider en Groot Catrijn … Hulle … Hulle het mos soort van ’n verhouding gehad. Toe, nege maande later, toe gee sy geboorte aan Schneider se kind.

    Dit is min of meer ook hoe dit in die Kaapse argief opgeteken staan: Groote Catrijn, die banneling uit Batavia, het in 1658 ’n buite-egtelike kind gehad by Hans Christoffel Schneider, ’n Duitse soldaat in die Kasteel. Groote Catrijn het die seuntjie Christoffel genoem, en omdat daar ’n Nederlandse bewind aan die Kaap was, het die Schneider in dokumente Snyman geword. Christoffel Snyman.

    Daarom kan ’n mens sê hy was die eerste Snyman, hierdie Christoffel. Die heel, heel eerste Snyman. Tiaan beduie na ’n ander paneel. Daar’s sy handtekening.

    Ek gaan nader. Dit is agter glas: ’n afskrif van Christoffel Snyman se handtekening, soos dit destyds op die plaas se koopkontrak was. Dit is die handskrif van iemand wat behoorlik kon skryf, met draaitjies en krulletjies.

    Tiaan is steeds by my met sy yl snorretjie. Meneer weet van hierdie Christoffel, nè? sê hy. Meneer … Meneer weet hy was nie wit nie, nè?

    Die vae afskynsel van my gesig kaats in glas na my toe terug. Dit is waar. Dit is só. Christoffel Snyman was nie wit nie, want Groote Catrijn was ’n donker vrou van Indiese afkoms.

    Ons stamvader, die heel eerste Snyman, was ’n bruin man.

    Buite reën dit nou, ’n lui sifreëntjie wat sag aan ’n mens se gesig en skouers kom kleef.

    Ek dwaal oor die werf, verby die restaurant na die begraafplaas waar ek vroeër verbygery het. Daar behoort ’n graf vir Christoffel te wees.

    Hoe sou hy gelyk het? Bonkig van lyf, soos baie van ons Snyman-mans? Die opstal waarin hy en Margo gewoon het, staan nie meer nie en net ’n deel van die oorspronklike kelder het behoue gebly. Dit is nou deel van die restaurant.

    Hoe Christoffel die plaas bekom het, is onduidelik. Hans Christoffel Schneider, sy pa, het klaarblyklik voor sy geboorte al uit Groote Catrijn se lewe verdwyn. Groote Catrijn is later getroud met Antonij Janz van Bengale,’n slaaf wat toegelaat is om grond te besit – ’n sogenaamde vryswarte. Antonij en Groote Catrijn het Christoffel grootgemaak. Antonij en Groote Catrijn is omstreeks 1682 dood – moontlik in ’n pokke-epidemie – en dit kan wees dat hul erflating Christoffel in staat gestel het om die plaas te koop.

    Min kan verder met sekerheid oor Christoffel gesê word, behalwe dat hy omstreeks 1690 getroud is met Margo, die dogter van Jacques de Savoye en Marie-Madeleine du Pont, wat saam met die Hugenote in 1688 in die Kaap aangekom het.

    Die begraafplaas is in ’n oopte tussen die wingerde. Die grafte is skoon geskoffel en op party is taamlik nuwe kunsblomme. Hier is ’n Harold Louis Silberbauer, ’n Anna Sybella Schelpe, ’n Gustav Kemp, ’n Josina Klue, en ’n Thomas Ellanes Withington begrawe. Ek stap van graf na graf. Sylvia Elizabeth Bouwer. John Bester. In tere herinnering. In loving memory. Nêrens is ’n Christoffel Snyman nie.

    ’n Sipres se smal skadu roer op die grond, soos ’n vinger wat vies beduie.

    Hier rus ook nie enige ander Snyman nie. Dit is moontlik omdat die plaas ná Christoffel se dood nooit weer aan ’n Snyman behoort het nie. Margo is weer getroud met Henning Viljoen, maar haar en Christoffel se nege kinders – sewe dogters en twee seuns – het van hier af oor die land heen versprei.

    Ek stap terug werf toe, en wonder of dié paadjie in Christoffel se tyd ook hier geloop het. Elkeen van daardie nege kinders, die eerste nege Snymans, moes op ’n dag ’n pad hier van die plaas af gevat het, te voet of te perd of op ’n perdekar of ’n ossewa, om hulle iewers anders te gaan vestig. Party, soos ons deel van die familie, is oor die berge, die binneland in. Eers Graaff-Reinet toe, en later saam met die Groot Trek Natal toe. En nog kinders en kleinkinders het bygekom, wat elkeen sy eie pad gevolg het, nie meer met wa en osse nie, nou ook met ’n motorkar of per trein of op ’n bus. Nóg later was Oupa ook daar, en toe Pa, en toe ek, elkeen op ons eie pad, wat begin het hier op die plaas van oeroupa Christoffel met die donker vel, hier waar die reën nou dynserig oor die wingerde hang.

    Behalwe Christoffel se handtekening agter die glas het hier niks tasbaars van hom op die plaas oorgebly nie. Nie eens ’n ou wynvat waarop sy naam uitgekerf is nie.

    Ek stap weer oor die werf, verby die restaurant waar die reuk van iets soos boontjiesop uit die kombuis kom. ’n Wynbottel se prop klap iewers, en ’n vrou lag, asof iets in haar skiet gegee het.

    In Christoffel se tyd was daar nog olifante hier rond. Daardie eerste opstal was waarskynlik van kleisooie gebou. Dit kon nie ’n romantiese bestaan gewees het nie. Daar was botsings tussen die Hugenote en die Khoi- en die San-mense. Onderling het die Hugenote ook vasgesit, maar dit was nie onaanvaarbaar vir Christoffel en Margo om te trou nie: hy met die bruin vel; sy die dogter van Jacques en Marie-Madeleine de Savoye uit Aeth in Frankryk.

    Die aparte huwelike en aparte woonbuurte en aparte hospitale en aparte skole en aparte parke en

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1