Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ontdek jou sielskrag
Ontdek jou sielskrag
Ontdek jou sielskrag
Ebook128 pages2 hours

Ontdek jou sielskrag

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dreig probleme om jou te oorweldig? Is jy in ’n geldkrisis, is jou huwelik op die rotse, of stamp jy voortdurend kop met ’n kollega? In die spirituele sielkunde is die uitgangspunt dat jy van nature toegerus is om hierdie probleme te oorkom. Hierdie boek help jou om die sielskrag te ontdek wat jou in staat sal stel om:• insig in jouself en ander te kry• vrede te maak met die teenstrydighede in jouself en ander• die betekenis van jou lewe te ontdek en uit te leef• lief te wees vir jouself, ander en jou omgewing• al jou probleme, bekommernisse en struikelblokke te oorkom.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 16, 2012
ISBN9780624054351
Ontdek jou sielskrag

Related to Ontdek jou sielskrag

Related ebooks

Related articles

Reviews for Ontdek jou sielskrag

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ontdek jou sielskrag - Dr. Hennie J. de Villiers

    Ontdek jou sielskrag

    Oorwin jou probleme en leef betekenisvol

    Hennie J. de Villiers

    Tafelberg

    Probleme stel ons in staat om verstandelik en spiritueel te groei

    M.Scott Peck

    Hierdie boek word opgedra aan my kinders, Johann, Marita en Madeleine.

    My innige dank en waardering gaan aan my vrou, Elze, vir haar vertroue en ondersteuning in my skryfwerk, asook dat sy dit vir my gun om baie ure ongestoord te skryf.

    Ek sê ook dankie vir my kinders aan wie ek die boek opdra, wat my voortdurend inspireer om te skryf.

    Verder wil ek dankie sê vir die volgende persone wat ’n belangstelling toon in my skrywe:

    My suster Henriëtte van Aarde, Dirk Maree, asook Dolf en Corrie Davel asook Johann Roos.

    Baie dankie vir dr. Francois Smith vir die redigering van hierdie boek, nie slegs met uitmuntende taalkunde nie, maar ook met insig en leiding in my denke.

    Ook dankie aan my opdraggewende redakteur, Ansie Kamffer, vir haar hulp en leiding om die boek te publiseer.

    Inleiding

    Liewe leser

    Almal van ons ervaar van tyd tot tyd probleme in ons lewe. Soms is hierdie probleme so ernstig dat ons hele lewe daardeur ontwrig word, en sommige van ons voel dan dat dit nie meer die moeite werd is om te lewe nie. Ons staan egter altyd voor ’n keuse: Kry maniere om die probleme te oorwin, of gaan ten gronde.

    Verskillende mense en instansies het ons nog altyd probeer help met ons probleme, en in hierdie boek kom die hulp vanuit ’n nuwe terrein in die sielkunde, naamlik die spirituele sielkunde. Dit word so genoem omdat hierin erkenning gegee word aan die spirituele dimensie van die mens, en spesifiek gekyk word na watter rol dit in ons lewe speel. Hoewel baie mense spiritualiteit gelykstel aan godsdiens, onderskryf die spirituele sielkunde nie ’n spesifieke godsdiens se leerstellings nie.

    Die fokus val in hierdie boek op die rol van die siel in die mens se lewe. Die uitgangspunt is dat die siel ’n spirituele entiteit is wat oor vermoëns beskik wat die mens in staat stel om sy probleme te oorwin. As sielkundige het ek hierdie siening in my praktyk nagestreef en dit het inderdaad mense in staat gestel om hul probleme te oorwin.

    Die boek is nie ’n akademiese verhandeling vir hoogs geleerde mense nie, en is so geskryf dat almal dit sal kan verstaan en die riglyne hierin prakties in hul lewe sal kan toepas. Daarom kan jy die boek as ’n handleiding gebruik vir die hantering van jou probleme, maar dit kan ook aangewend word vir besprekings in studiegroepe. Ek glo die boek sal jou help om die probleem waarmee jy tans worstel te oorwin.

    Hennie J. de Villiers

    1

    JOU WARE SELF

    ’n Woord vooraf

    Die uitgangspunt van hierdie hoofstuk is dat die lewe vol kontraste is. Dit is hoekom die lewe nie slegs vol genot is nie en daar altyd pynlike probleme bestaan. In die kontras tussen siel en liggaam is die standpunt dat jy ’n siel is – dit is jou ware self. Jou ware self is die teenpool van jou liggaam, wat jou fisieke self is. As siel beskik jy oor vermoëns waarmee jy jou probleme kan oorwin, maar jy is in ’n voortdurende tweestryd met jou fisieke self, wat jou wil verhinder om jou probleme te bowe te kom.

    In dié hoofstuk word ook verduidelik dat daar nuwe sienings is oor wie God is, maar dat dit uiteindelik slegs God is wat jou in staat stel om oor jou fisieke self te heers. Jy moet vasstel wat die unieke betekenis van jou lewe is en daardie betekenis verwesenlik. Jy kan dit net doen indien jy die probleme oorwin wat in die pad staan van ’n betekenisvolle lewe.

    Die lewe se kontraste

    Een van die belangrikste kenmerke van die lewe is dat dit uit kontraste bestaan. Hierdie kontraste is nie slegs fisiek van aard soos byvoorbeeld lig en duisternis, warm en koud, of dag en nag nie; ook niefisieke kontraste bestaan soos liefde en haat, of glo en twyfel. Hierdie boek gaan veral oor die kontras tussen siel en liggaam.

    ’n Kontras wat ons almal raak, is pyn en genot. Naas die dinge wat ons genot gee, is daar dinge wat ons pyn aandoen. Een van die dinge wat pyn veroorsaak, is ons probleme.

    Elkeen van ons ervaar gereeld die een of ander pynlike probleem. Daar is altyd iets wat uit die bloute in ons lewe gebeur wat vir ons ’n probleem meebring, soos byvoorbeeld ’n ongeluk van die een of ander aard, ’n ernstige siekte, ’n liefdesverhouding wat verbreek word, ’n egskeiding, ’n kind wat die pad byster raak, ’n sakeonderneming wat misluk, ’n finansiële krisis, ’n afdanking en baie ander dinge. Ook ouderdom gaan met probleme gepaard. Al meer mense het deesdae ook die probleem dat hulle voel die lewe is doelloos en depressie kom toenemend voor.

    Alles is relatief

    Hoekom bestaan die lewe uit kontraste, en waarom moet ons dus benewens genot ook pyn ervaar? Die antwoord hierop is dat alle dinge relatief is. Met ander woorde geen ding bestaan op sy eie nie, dit bestaan in verhouding met sy teenoorgestelde. Dit is belangrik dat jy jou sal vergewis van wat dit beteken dat alle dinge relatief is. (Sien die Addendum vir ’n uiteensetting hiervan.)

    Die kontraste van die lewe is vir ons ’n leerskool, omdat kontraste ons in staat stel om dinge in die lewe te ervaar. So byvoorbeeld ervaar ons liefde in verhouding met dinge soos vrees, haat en vergelding, en andersom. Ons kan eers werklik ervaar wat dit behels om te glo wanneer ons weet wat dit is om te twyfel. Ons kan ook eers die ware aard van iets opbouends leer ken nadat ons iets destruktiefs ervaar het. Die genot van die lewe word ook relatief tot die pyn van probleme ervaar.

    In hierdie leerskool kry ons ook insigte. Omdat alles uit kontraste bestaan, kan ons ’n insig kry in wat die teenpool van elke ding behels. So kan ons ’n idee vorm van wat die siel is, omdat dit die teenpool is van ons liggaam, wat aan ons goed bekend is. Die ervaring van kontraste help ons om met ons selfontwikkeling vooruitgang te maak.

    Die voordeel van probleme is dat dit jou na maniere laat soek om dit te oorwin. Dit laat jou spontaan uitroep: God, help my! Daarmee soek jy nie net na God om jou te help nie, maar ook na vermoëns in jouself om die probleme te bowe te kom. Sodoende ontdek jy jou sielsvermoëns. Wat hierdie vermoëns is en hoe jy dit kan inspan om jou probleme te oorwin, vorm die kern van hierdie boek.

    Ons reaksie op probleme

    Mense het verskillende reaksies wanneer hulle pynlike probleme ervaar. Baie kan nie aanvaar dat hulle ’n probleem het nie, en sommige voel dat die lewe teen hulle is. By talle is daar die verwagting dat die lewe net voorspoed en genot vir hulle moet verskaf; hulle voel hulle het die reg op ’n lewe sonder probleme. By ander is daar die neiging om probleme te ontken, omdat hulle nie die pyn daaraan verbonde wil beleef nie.

    Miskien is die bestaan van probleme vir jou onaanvaarbaar en nie regverdig nie. Miskien kan jy nie vrede maak daarmee dat jy tans in ’n ernstige probleem vasgevang sit nie. Dit is selfs moontlik dat jy God daarvoor verwyt. Jy verwyt God dalk ook vir die pynlike probleme van miljoene mense as gevolg van dinge soos armoede, hongersnood, aardbewings, oorstromings, oorloë, pandemiese siektes of terrorisme.

    Baie mense is deesdae in opstand teen God oor die probleme op hierdie planeet. Hulle vra hoekom God dit toelaat. Baie draai dan ook hul rug op God en sê daar bestaan nie ’n God van liefde nie. Hulle verwag van God om die pynlike probleme op hierdie planeet weg te neem omdat hulle slegs ’n lewe van genot wil hê. Hulle wil dit nie aanvaar dat alle dinge relatief is nie en dat die genot van die lewe bestaan in verhouding met pynlike probleme nie.

    Jou uitdaging is om die werklikheid van die lewe te aanvaar, naamlik dat probleme ’n onvermydelike deel daarvan is. Dan sal jy nie meer teleurgesteld en opstandig wees wanneer jou lewe vol probleme is nie. Jy sal met ander oë daarna kyk en probeer vasstel wat jy daaromtrent kan doen. Jou probleme hoef jou nie te oorweldig en te vernietig nie. Jy kan ’n effektiewe lewe lei waarin jy jou probleme oorwin.

    Deur die eeue heen was daar nog altyd vir die mens hulp en raad oor wat hy kan doen om sy probleme te oorwin. Hierdie boek bied hulp aan vanuit ’n nuwe oord, ’n nuwe benadering in die sielkunde wat tans sy beslag kry.

    Die spirituele sielkunde

    By vele sielkundiges in die Westerse wêreld is daar deesdae die neiging om ’n holistiese benadering te volg. Dit behels onder meer dat aanvaar word dat die mens oor ’n spirituele dimensie beskik, en die rol van hierdie dimensie word deeglik uitgestippel. In die tradisionele sielkunde is die spirituele dimensie nog altyd verwaarloos, maar vanweë die klem op spiritualiteit in die nuwe benadering word dit die spirituele sielkunde genoem. (Sien die Addendum vir die redes vir die ontstaan van hierdie nuwe benadering.)

    Hierdie boek is geskryf in navolging van die beginsels van die spirituele sielkunde, maar dit is belangrik om daarop te let dat die siening van spiritualiteit nie dié van ’n spesifieke godsdiens is nie. Wat wel hier gehuldig word, is die opvatting dat die mens oor ’n onsterflike spirituele entiteit beskik, wat die siel genoem word, en dat dit die siel is wat die mens in staat stel om sy probleme te oorkom.

    In die tradisionele sielkunde word hierdie opvatting van die siel nie in ag geneem nie. Daar word wel van sielkunde gepraat, ’n term wat die indruk skep dat die siel as spirituele entiteit wel ter sprake is. Die woord sielkunde is egter tradisioneel net ’n ander benaming vir psigologie; die woord psige is net met die woord siel vervang, omdat siel en psige as sinonieme beskou word. Die term psigologie verwys na die wetenskap van die psige en is ’n oorblyfsel van die spekulatiewe psigologie waarin die psige as die draer van alle bewuste

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1