Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles
God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles
God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles
Ebook519 pages8 hours

God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles

Rating: 2 out of 5 stars

2/5

()

Read preview

About this ebook

Die vraag of God bestaan, waar alles vandaan kom en wat die sin van ons lewe op aarde is, is so oud soos die berge. In dié boek antwoord bekende Suid-Afrikaners, twaalf gelowiges en twaalf ongelowiges, die diepste vrae van die mens se bestaan met verstommende openhartigheid.Afrikaanse meningsvormers lê hul diepste oortuigings bloot: die skrywer Antjie Krog, die teoloog Christina Landman, die digter Breyten Breytenbach, kommentator Rhoda Kadalie, skrywer Cecile Cilliers en tv-persoonlikheid Dave Pepler. Hul antwoorde verras: by van die ongelowiges is daar partykeer vonke van geloof, en by van die gelowiges skaduwees van twyfel.Die twee samestellers maak ook ’n ongewone paar: die wetenskapsjoernalis George Claassen, ’n uitgesproke ongelowige, en die oudpredikant Frits Gaum, ’n oortuigde Christen. Hul indringende vrae word reguit en roerend eerlik deur die bydraers beantwoord. Die uiteenlopende bydraes bring vars perspektiewe tot die godsdiensdebat en beloof om groot reaksie in die Afrikaanse media te ontlok.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 7, 2012
ISBN9780624054153
God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles
Author

George Claassen

George Claassen is 'n bekroonde wetenskapjoernalis en gereelde artikelskrywer vir die Afrikaanse dagblaaie. Hy is die skrywer van 'Geloof, bygeloof en ander wensdenkery' asook medesamesteller van 'Die groot aanhalingsboek' en 'Goed om te weet'. Hy was hoof van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch tussen 1994 en 2001.

Related to God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles

Related ebooks

Related articles

Reviews for God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles

Rating: 2 out of 5 stars
2/5

1 rating1 review

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 2 out of 5 stars
    2/5
    Ek dog ek gaan Afrikaans lees, maar toe is dit 'n klomp Engelse aanhalings. Om nie te wil vertaal nie is luiheid en kniebuig aan die arrogansie van Engelssprekendes.

Book preview

God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen

God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles

George Claassen en Frits Gaum

Tafelberg

Glo my, vlieg moet jy vlieg

FRITS GAUM

Vroeg in 2011 het George Claassen aan my geskryf: Ek glo nie in God nie, maar dis vir my nogal verbasend hoe sommige gelowiges soos jy en ander teologie-mense ons tog verdra! . . . Het jy al daaraan gedink dat ons twee miskien as redakteurs ’n boek kan saamstel met essays waarin besin word oor die bestaan van God en wat dit beteken om gelowig of ateïsties te wees?

Ek het geantwoord: Ek dink die idee van ’n boek waaraan ’n paar mense op uitnodiging deelneem, is uitstekend. Ek meen so ’n ‘gesprek’ waarin ons almal eerlik (maar steeds ook beleefd . . . ek sou sê Christelik!) moet wees, is as deel van die bestaande Afrikaanse diskoers oor hierdie dinge noodsaaklik.

Só is hierdie boek gebore. Ná ’n bietjie heen en weer het ons saamgestem dat dié titel net mooi sê wat ons beoog: God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George stel in die hoofstukke wat volg aan twaalf ongelowiges (of hoe hulle hulself ook al sou wou noem) tien vrae, en ek doen dit op my beurt met twaalf gelowiges. Hy aanvaar verantwoordelikheid vir sy vrae, sy gespreksgenote vir hul antwoorde, en ek vir my vrae en my medewerkers vir hul antwoorde.

By die lees van die essays blyk dit dat daar by van die ongelowiges tog partykeer vonke van geloof is, en by van die gelowiges skaduwees van twyfel. Al die gespreksgenote is woordvaardig, sommige selfs briljant met die woord, soos party ook met die Woord. Almal is eerlik, soms skrynend so. Selde, maar ongelukkig enkele kere tog, is daar onder die 24 tekens van arrogansie, ’n keer of wat van groot selfversekerdheid. Maar meestal is daar beskeidenheid en begrip vir mense wat anders dink, en dikwels opmerkings soos: Vir my maak dit só sin . . . maar elke mens het die reg op sy of haar eie oortuigings. En daar is ook humor – alles hoef nie altyd so bitter ernstig te wees nie, al gaan dit oor bitter ernstige sake.

Hierdie boek het te doen met die diepste vrae van die mens se bestaan: Wie is ek?, Is daar ’n God?, Waar kom alles vandaan?, Waarheen is alles op pad? Die antwoorde op die Wie is ek?-vraag is van die onthullendste in die boek: dit sny immers tot die allerpersoonlikste van jou menswees. Soms sê dit wel ook iets van die skrywers as enkeles verkies om eerder te sê wát hulle is as wié hulle is.

Die doel met die boek?

Dat ons Afrikaners/Afrikaanssprekendes/Afrikaanses ’n slag intelligent en beleefd praat sonder om op mekaar te skree (soos alte dikwels in koerantpolemieke oor hierdie en ander sake gebeur). En dat ons luister sonder om die laaste woord in elke gesprek op te eis.

Die vraag na God en die waarvandaan en waarheen van alles is so oud soos die berge – ook onder Afrikaners. Dis nie die nuwe demokratiese bestel in ons land wat dit die eerste keer wakker gemaak het nie, hoewel die versnelde sekularisasieproses in die laaste kwarteeu sekerlik daartoe bygedra het. Vrae hieroor en oor verwante sake is al openlik in die vroeë Kaap gestel, het in die liberale rigting van die negentiende eeu behoorlik kop uitgesteek en in die Johannes du Plessis-saak in die 1920’s en 1930’s in die NG Kerk en Afrikaanse gemeenskap uitgebars . . . om toe jare lank vanweë die toespitsing op samelewingskwessies (apartheid!) gesmoor te word. Deesdae is die openlike twyfelaars oor God en geloof om elke hoek en draai te vinde.

’n Kwynende geloof?

Beteken dit dat (die Christelike) geloof in God aan die kwyn en op sterwe na dood is? Nogal nie. Volgens die Duitse Stigting vir Wêreldbevolking se meting was daar middel 2011 vir die eerste keer meer as sewemiljard mense op die planeet. Operation World meen dat nagenoeg ’n derde van die wêreldbevolking (32,5%) aan die begin van die 21ste eeu Christene was. Van Afrika se miljard mense was 48,4% toe Christene. Die swaartepunt van die Christendom het in die afgelope eeu na die Suidelike Halfrond verskuif. Latyns-Amerika is die Christelikste kontinent met meer as 90% van sy inwoners wat hulself Christene noem. Vir die eerste keer in die geskiedenis is daar nou ’n godsdiens – die Christelike geloof – wat in byna al die wêrelddele sterk teenwoordig is. Die Christelike geloof is die grootste godsdiens op Aarde. Islam is tweede (21,1%), Hindoeïsme derde (13,6%) en Boeddhisme vierde (12,9%). Sowat 15% van die wêreldbevolking het volgens Operation World geen godsdiens nie.

Volgens die South African Christian Handbook (2005-2006) oorheers die Christelike geloof in Suid-Afrika. In die 2001-sensusopname het 79,8% van die bevolking aangedui dat hulle Christene is. Van die swart mense in Suid-Afrika het 79,9% gesê hulle is Christene; 86,8% van die wit mense het so gesê, 87% van die bruin mense en 24,4% van die Indiërs. (Die 2011-sensusopname bevat nie vrae oor godsdiens en kerkverband nie.)

Die NG Kerk se wetenskaplike opname, Kerkspieël 2010, het bevind dat die totale lidmaattal van die NG Kerk oor die afgelope dertig jaar van sowat 1,4 miljoen tot 1,1 miljoen (2010) gedaal het. Indien een-derde van die sowat eenmiljoen hoofsaaklik wit mense wat die afgelope sestien, sewentien jaar geëmigreer het, lidmate van die NG Kerk was, verklaar dit die verlies van nagenoeg 300 000 lidmate in dié tyd. Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK, familiekerk van die NG Kerk met hoofsaaklik bruin en swart lidmate) het ongeveer 575 000 lidmate. Inligting wat in November 2010 deur Markdata ingesamel is, dui daarop dat die breër gereformeerde kerkfamilie in daardie stadium 46% van Afrikaanssprekendes onder hul lidmate getel het. Markdata meen dat 28% van Afrikaanssprekendes aan Pinkster- en charismatiese kerke behoort, terwyl sowat 6% van hulle geen kerk of geloof het nie.

Natuurlik moet al hierdie syfers en persentasies met omsigtigheid hanteer word. Daar is dikwels allerlei vreemde redes waarom mense aandui dat hulle aanhangers van ’n bepaalde godsdiens of kerk is. Boonop beteken ’n formele verbintenis aan ’n geloof en kerk min as dit nie vir die betrokkenes regtig waarde het nie. Dié mense wat net naby die kerk kom as daar iets op hulle gegooi word – water, konfetti of kluite – se kerklidmaatskap beteken feitlik niks nie en hul geloofsverbintenis is verdag.

Maar bloot statisties gesproke, is die Christelike geloof nie aan die kwyn nie. In Europa, ja, dalk ook in Noord-Amerika. Maar nié in Asië (die Christendom groei byvoorbeeld redelik sterk in China) of Afrika of Suid-Amerika nie. En dit staan soos ’n paal bo water dat daar in die jaar van onse Here 2012 oor die wêreld heen baie miljoene toegewyde Christen-gelowiges is, al is dit nie moontlik om hulle met sensus- of ander opnames sekuur te tel nie.

Afrikaners en die angs van die tye

Die demokratisering van Suid-Afrika en die gepaardgaande transformasie het onvermydelik tot groot onsekerheid – en selfs vertwyfeling – by wit mense, by name die Afrikaners, gelei. In die anderhalwe dekade wat op die euforie van 1994 gevolg het, het nagenoeg ’n miljoen mense die land verlaat om ’n heenkome elders te gaan soek. En dit ís so dat die geloofwaardigheid van die Afrikaanse kerke weens hul ondersteuning van apartheid by baie onder verdenking gekom het.

Christina Landman skryf in Beeld van 27 Desember 2007 dat een van die reaksies van sommige gelowiges (seker juis ook Afrikaners) op die ommekeer in die land was om meer fundamentalisties en irrasioneel te word. Sy skryf dit is ’n ou en universele verskynsel. Met die Verligting in Europa in die sewentiende eeu het mense gereageer deur hulle in nie-denke terug te trek. Baie gelowiges in Suid-Afrika het die afgelope tien jaar ‘revivalisties’ gereageer op die angs wat die tye meebring, skryf sy. Hulle gaan na saamtrekke waar hulle dans, lofprys en ’n ander wêreld skep waarin hulle kan oorleef .

Jan van der Merwe se navorsing vir sy doktorstesis aan die Universiteit van die Vrystaat, "Afrikaners in post-apartheid Suid-Afrika: ’n Antropologiese perspektief " (2009), werp ander lig op die saak. Sy navorsing het Afrikaners van tussen agtien en dertig jaar in die Suid-Vrystaat, asook studente aan universiteite in Pretoria, Johannesburg, Stellenbosch en Bloemfontein, betrek. Hy meen die resultate is verteenwoordigend van alle jong Afrikaners.

Hierdie empiriese studie het ten opsigte van godsdiens en Afrikaanse kerke bevind dat feitlik al die respondente hulself as Christene beskou. Nagenoeg ’n derde van die respondente was gereelde kerkgangers en aktiewe lidmate binne hul onderskeie gemeentes. Ongeveer een-derde van hulle het aangedui dat hulle minder gereeld kerk toe gaan. Hul kerkbywoning het gewissel van een keer per maand tot een keer in agt maande. Die ander het hulself as Christene beskou, maar was in wese kerkloos.

Uit die navorsing het dit duidelik geword dat jong Afrikaners ten opsigte van godsdiens twee teenstrydige sienings handhaaf. Aan die een kant vra hulle groter individualisme en vryheid van denke; aan die ander kant is daar ’n groeiende behoefte aan geestelike warmte, godvresendheid en ’n gevoel van godsdienstige geborgenheid.

Van der Merwe meen die nuwe Suid-Afrika met sy liberale Grondwet het ongetwyfeld meegehelp dat hedendaagse Afrikaners meer vrydenkend geraak het ten opsigte van moraliteit en waardes (onder meer oor voorhuwelikse seks en homoseksualiteit). Jong Afrikaners voel al hoe meer tuis in die geglobaliseerde samelewing waarin ’n postmoderne lewens- en wêreldbeskouing aan die orde van die dag is. Afrikaners se persepsies en waardeoordele ten opsigte van Christenskap het volgens Van der Merwe sedert 1994 ’n metamorfose ondergaan. Daar is ’n nuwe openheid, en verdraagsaamheid en verskeidenheid word geakkommodeer. Al die respondente het gevoel dat die Afrikaanse kerke minder veroordelend moet wees en dat hulle groter menslikheid, Christelike liefde en verdraagsaamheid teenoor alle Suid-Afrikaners moet openbaar.

My twaalf gespreksgenote is wel ouer as Van der Merwe se navorsingsgroep, maar ek glo nie hulle sal heeltemal ontuis voel in die jongeres se geselskap nie. Hulle skort byvoorbeeld nie hul verstand op as dit by hul geloof kom nie, hulle is nie fundamentalisties nie en onttrek hulle nie aan die werklikhede van ons tyd deur na ’n nie-wêreld te wil ontvlug nie. (Christelike fundamentalisme = die alte letterlike verstaan van al die dele van die Bybel, dikwels gepaardgaande met ’n goeie skeut onverdraagsaamheid.) My gespreksgenote is denkende mense wat baie bewus is van die omstandighede in die land en in die wêreld, wat weet van die groot deurbrake wat die wetenskap amper daagliks maak, wat rekening hou met die gesekulariseerde, postmoderne, geglobaliseerde tyd waarin ons leef, maar vir wie die Bybel steeds belangrik is en wat in God glo. In hierdie boek vertel hulle waarom.

Die wetenskap en ons diepste vrae

Één van die redes waarom hierdie 21ste-eeuse gelowiges nie sommer hul geloof prysgee nie, is omdat hulle – met al die respek wat hulle vir die wetenskap en die prestasies van die wetenskap het – nie dink dat die wetenskap ooit die allerantwoord op ons diepste vrae na ons oorsprong en die sin van ons bestaan sal kan gee nie. Natuurlik dink nie alle wetenskaplikes hulle kan (of sal nog kan) nie. Maar party tog wel.

Soos die storie van dié paar wetenskaplikes wat gereken het hulle het nou min of meer alle antwoorde op alle vrae en dat God regtig oorbodig geraak het. Hulle is toe vrymoedig genoeg om ’n oudiënsie aan te vra om vir God te gaan sê dis tyd om te abdikeer. Die wetenskap weet nou genoeg van wat bo die Aarde, onder die Aarde en op die Aarde gebeur; God kan rustig aftree. God het geduldig na hul relaas geluister en toe gesê dis goed, God sal doen soos hulle vra, mits hulle net eers ’n mensmaakkompetisie hou. Soos in die Begin. Ja, antwoord die wetenskaplikes toe opgewonde, kom ons hou so ’n kompetisie! En hulle buk daar en dan om van die grond van die Aarde af op te tel. Nee, nee, nee, keer God hulle toe. Soos héél in die Begin. Uit niks.

In Mei 2010 is aangekondig dat wetenskaplikes van die J Craig Venter Institute in Rockville, Maryland, vir die eerste keer kunsmatige genetiese stof in ’n leë bakteriesel geplaas het om ’n nuwe, lewende sel te vorm. Hulle het leë selle van die bakterie Mycoplasma mycoides van kunsmatige DNS voorsien, en die bakteriesel het – danksy instruksies van die kunsmatige DNS – net soos ’n normale lewende sel vanself begin dupliseer.

Die wetenskap het dus daarin geslaag om sélf en sélfs lewe te skep . . .

Henk Huismans van die Universiteit van Pretoria se Departement Genetika het egter gewaarsku dat mense nie met hul verbeelding op hol moet gaan nie. Daar is nie skielik kunsmatige lewe uit niks geskep nie; lewe is bloot suksesvol gekopieer, het Huismans gesê. Craig Venter, wat die navorsing gelei het, het dit beaam. Lewe is nie van nuuts af geskep nie, het hy verduidelik. Die doel is om lewe te ontwikkel uit dit wat reeds bestaan deur sintetiese DNS te gebruik om selle te herprogrammeer om nuwe selle te vorm (Die Burger, 22 en 26 Mei 2010).

Die eintlike probleem wat ontstaan as jy die wetenskap hemelhoog aanslaan, as die wetenskap so te sê vir jou jou god word, is dat jy dan sukkel om enige sin in die lewe te vind. Dan sal jy waarskynlik saam met die ateïs Bertrand Russell (’n bietjie geparafraseer) moet sê: Ek is die produk van oorsake wat geen doel of sin het nie. My oorsprong, groei, hoop, vrees, liefde en geloof is die gevolg van ’n toevallige saamkom van atome. Al die eeue se toewyding, inspirasie en inspanning stuur af op uitwissing met die uiteindelike dood van die sonnestelsel. Die hele tempel van menslike prestasies sal uiteindelik onvermydelik begrawe moet word in die puinhoop van die heelal. Dít is my, ons almal, se bestemming (aangehaal deur John Ortberg in Faith and Doubt, 2007).

Daar is mense wat sal wil onderskryf wat Russell gesê het. Dís soos dit is, sal hulle reken. En selfs uit die Bybel aanhaal: alles kom tot niks, het die Prediker mos al laat hoor. Maar ek dink die meeste mense op ons klein blou planeet in die steeds uitdyende heelal het nie vrede met so ’n siening nie. Hulle soek hot en haar na sin en betekenis in ons so tydelike hier-wees. En baie van hulle vind dit in God.

Richard Swinburne, die Oxfordse teoloog, het in Is There a God? (1996) geskryf dat dit buitengewoon is dat daar enigiets is wat wel bestaan. Die natuurlikste staat is sekerlik niks: geen God, geen heelal, niks. Maar daar ís iets, skryf hy. Die oerknal, natuurlike seleksie en evolusie verklaar wetenskaplik hoe dinge van ’n bepaalde punt af kon ontwikkel het, maar dit verklaar nie hoe iets uit niets te voorskyn kon gekom het nie. Die fisikus Stephen Hawking meen met sy formules dat die oorsprong van dinge in die wette van die fisika te vinde is (Time, 15 November 2010). Maar wat is die oeroorsprong van dié wette? Niks? Of ’n wonderwerk?

Geloof: ’n waagstuk, ’n sprong, ’n geskenk

Geloof is nie ’n eenvoudige saak nie. Dis ’n waagstuk, ’n sprong. Dis om te glo (sonder om te kan bewys) dat God bestaan. Om nie te glo nie, is ook ’n waagstuk; dis ook ’n sprong. Dis om te glo (sonder om te kan bewys) dat God nié bestaan nie.

Henri Nouwen, die Katolieke priester wat as gewonde geneser die rand van die samelewing die sentrum van sy geloofsuitlewing gemaak het, gebruik die beeld van sweefstokartieste wat hul waagtoertjies sonder veiligheidsnette as vlieërs (springers) en vangers uitvoer (Sabbatical Journey, 1998). Die vlieër klim met die touleer op en gryp die sweefstok vas. Hy (of sy) spring van die platform af en swaai deur die lug. Hy gebruik sy liggaam om momentum te kry, swaai al hoe vinniger en hoër. Die vanger hang met sy knieë aan ’n ander sweefstok; sy hande swaai los om uit te reik.

Die oomblik van waarheid breek aan wanneer die vlieër sy sweefstok laat los en begin vlieg. Daar is van daardie oomblik af net mooi niks wat keer dat hy grond toe, en na sy dood toe, val nie. Alles hang van die vanger af. Hy bereken sy swaai presies en kom by die vlieër uit as dié begin om momentum te verloor. Sy hande gryp die arms van die vlieër vas. Die vlieër kan hom nie sien nie; vir hom is alles ’n warreling. Maar die vlieër voel hoe hy uit die lug gepluk en na veiligheid gebring word.

Die vlieër-arties moet sy vanger volkome vertrou. Die vlieër doen eintlik niks – die vanger doen alles. As die vlieër na die vanger toe vlieg, moet hy net sy arms en hande uitstrek en wag. En die vanger se hande moenie sweet nie. Sy hande moet droog wees (ingevryf met droë magnesiumpoeier!) om ráák te vang.

Glo my, een of ander tyd moet álmal van ons, gelowig en niegelowig, ons sweefstokke laat los. Vlieg moet ons vlieg. Sommige los sonder hoop op ’n vanger. Ander los en glo en vertrou dat die vanger sy werk sal doen.

Wie glo en intelligent met sy of haar geloof omgaan, twyfel partykeer ook. Sal ek regtig raak gevang word? En ja, ’n mens se geloof ontwikkel, verander – positief gestel: dit groei. Toe ek ’n kind was, het ek soos ’n kind geglo, maar noudat ek ’n man geword het, glo ek soos ’n man. Wat uiteindelik elke keer weer tot die besef lei dat geloof ’n waagstuk is – en tot die ou, ou insig dat ons in ’n dowwe spieël ’n raaiselagtige beeld sien. En nie goeie antwoorde op alle goeie vrae kan gee nie. Maar dat ons, deur Gods genade, die geloof behou, ten spyte van.

Geloof is op stuk van sake ’n geskenk wat God aan jou gee. Maar jý moet ook iets doen. Jy moet jou hande uitsteek en die geskenk aanvaar. Of as jy dit een of ander tyd verloor, daarna gaan soek. As jy nie jou hande uitsteek en die geskenk aanvaar of daarna gaan soek nie, sal jy dit ook nie (weer) kry nie.

Wie is jy?

Ten slotte: Wie is Frits Gaum?

Ek is ’n (afgetrede) predikant, het op 35 kanker gehad wat al meer as 35 jaar lank genees is, het ’n vrou, Henda, drie kinders, ’n skoonseun en een (amper twee) kleinkinders. Ek was stigter-direkteur van Bybelkor/Bybel-Media en sewentien jaar lank redakteur van die oudste steeds bestaande Afrikaanse blad in die land, Kerkbode. Later van tyd is die hoofartikels wat ek tydens die Suid-Afrikaanse oorgangsperiode, 1994-2004, in Kerkbode geskryf het, in ’n doktorsproefskrif onder die loep geneem. Die proefskrif ontleed die artikels tot op die been en evalueer dit krities – maar, en daaroor is ek dankbaar, meen nie dat ek en my geskrifte destyds verkramp of verstok of vasgevang in uitgediende idees was nie. Ek hét met die jare sommige idees en opvattings wat ek in my jonger dae gehad het, hersien en – in die lig van nuwe lig – aangepas, selfs drasties verander. Ek het agtergekom dat om te lewe is om te verander (as jy nie verander nie, is jy dood). Ek het ook verskoning gevra waar ek besef het dat van my vroeëre opvattings mense seergemaak het, en het selfs namens en in opdrag van die NG Kerk ’n amptelike stuk geskryf om vir die kerk se rol tydens die apartheidsjare verskoning te vra.

Gelukkig was ek nie altyd verkeerd nie en daarvoor vra ek nie verskoning nie. 

Ek is lief vir die kerk waarvan ek ’n predikant is, maar nie blind vir sy/haar foute nie. Daarom het ek ’n boek, Fluit-fluit, die kerk is uit? (2011), geskryf waarin ek die sondes van die kerk in die algemeen en die NG Kerk in besonder uitwys – maar gelukkig ook die baie, baie goeie goed opnoem wat die kerk, en die NG Kerk, doen en gedoen het.

Liefde doen niemand kwaad aan nie en ek wens dat iets daarvan in my lewe gesien kan word. Onreg doen mense kwaad aan en ek probeer hard om dit oral raak te sien en altyd te bestry. Vergifnis maak heel en ek wil graag vergewe en vergewe word.

En ek glo in Jesus Christus, my Vanger wie se hande gebloei het maar nie sweet nie.

Ek glo dat Hy die Alfa en die Omega, die begin en die einde, van my bestaan is.

Ek glo dat Hy die oorsprong en die uiteinde van alles is.

Hy is my Here en my God.

As die klippe van wetenskap begin uitroep . . .

GEORGE CLAASSEN

Tussen 218 en 222 (G.E.[1]) dwing Elagabalus (Bassianus Antoninus), die jeugdige, Siries gebore, transseksuele priester-keiser van die Romeinse Ryk, sy onderdane om ’n swart, koniese meteoriet te aanbid.[2]

In die herfs van 1901 is die komeet Viscara ’n maand lank duidelik sigbaar oor Suider-Afrika. Ook bekend as Die Groot Komeet van 1901, word Viscara deur heelwat Boerekrygers en Engelse soldate in die veld as ’n doemprofesie en voorteken uit die hand van God gesien wat die dood van duisende op die slagveld en in konsentrasiekampe aankondig.[3]

En sedert 2007 ruk duisende Afrikanermans jaarliks op na ’n plaas buite Greytown in die KwaZulu-Natalse platteland om hul onsekerheid oor hul aardse bestaan in vaste sekerheid oor wat ná die dood kom, te omskep. Hulle hang aan die lippe van die lekeprediker Angus Buchan, wat ’n nuwe moraliteit verkondig en ’n ewige lewe vir die voorbeeldiges belowe. Die Buchan-fenomeen is maar net een vorm van bygelowigheid waarin rasionele denke by Afrikaners opgehef word om ruimte te skep vir ’n onbewese en onsigbare skepper van die heelal en lewe op Aarde. Saam met die ander twee voorbeelde bied dit ’n mikrokosmiese beeld van die geskiedenis van Homo sapiens, die menslike spesie, se gehegtheid en verknogtheid aan een of ander hoër gesag wat aanbid moet word en by wie antwoorde oor die onverklaarbaarheid en dikwelse wreedheid en ongenaakbaarheid van die aardse bestaan gesoek word.

Hoe verklaar ’n mens vandag die verskynsel van religieuse onderdanigheid aan een of ander hoër orde van gesag of krag wat jou in staat sou stel om moreel te leef, selfs die strewe en verwagting in jou brein skep dat die aardse bestaan net die voorloper is tot iets beters hierna en dan nog vir ewig ook? Is daar redes om nog in God te glo of een of ander god te aanbid? Is geloof in ’n bonatuurlike wese, ’n Intelligente Ontwerper, die Groot Onsigbare, hoegenaamd versoenbaar met die ontdekkings van die wetenskap en die ontvouende wêreld van kennis en die steeds krimpende onkundesfeer?

Hoe kan religie, of dan die aanbidding van ’n skepper-god, tot voordeel van evolusionêre fiksheid wees en hoe pas religie in by ’n natuur waarin evolusie so ’n kardinale rol speel?

’n Evolusionêre bioloog en antropoloog van Oxford-universiteit, Robin Dunbar, beskryf religie en geloof in gode as ’n enigma en raaisel. In our everyday lives, most of us make at least some effort to check the truth of claims for ourselves. Yet when it comes to religion, studies show that we are most persuaded by stories that contradict the known laws of physics. Tales of supernatural beings walking on water, raising the dead, passing through walls, foretelling the future, and the like, are universally popular. At the same time, however, we expect our gods to have normal human feelings and emotions. We like our miracles, and those who perform them, to have just the right mix of otherworldliness and everyday characteristics.[4]

Dunbar noem vier moontlikhede waarom geloof in ’n skeppingsgod nog voordelig kan wees en tot die mens se evolusionêre fiksheid kan lei:

Om voldoende verduidelikingstruktuur aan die heelal te gee en ons toe te laat om dit te beheer, moontlik deur die bemiddeling van ’n geesteswêreld. Dié moontlikheid is nie ’n geldige rede waarom religie tot evolusionêre fiksheid kan lei nie, glo Dunbar.

Om ons beter te laat voel oor die lewe, of ten minste in aanvaarding van sy slegste nukke (Karl Marx se beskrywing van religie as ’n opium van die massas). Dit is ’n geldige verklaring, volgens die meeste navorsingstudies. Hierdeur vervul religie duidelik ’n plasebo-effek; dit dien as troosmiddel om die lewe meer draaglik te maak.

Religie en godsdienste verskaf ’n sekere soort morele kode en dwing dit op; sodoende skep dit maatskaplike orde. Volgens Dunbar is dié moontlikheid ongeldig omdat sekulêre samelewings dikwels veel minder misdaad het as lande waar godsdiens sterk staan.

Religieuse geloof kan moontlik ’n sin vir gemeenskaplikheid, van groeplidmaatskap skep. Dit is die geldigste van die vier moontlikhede, glo Dunbar.

In die komplekse verhouding wat tussen wetenskap en religie bestaan, word veral drie modelle uitgesonder:

1. Die teoloog en natuurwetenskaplike Ian Barbour se model. Barbour onderskei vier maniere waarop geloof en wetenskap in verhouding teenoor mekaar staan.[5]

Konflik: Die twee wêrelde van wetenskap en religie verkeer in botsing weens die uiteenlopendheid van hul vertrekpunte. Die konflik vind neerslag in Christus se woorde, As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie . . . (Matteus 18:2) – geloof dus soos ’n klein kindjie. Dit staan reëlreg teenoor die essensie van die wetenskaplike metode dat jy niks kan glo sonder bewyse gebaseer op die natuurwette nie, soos die astrofisikus Carl Sagan sê, Extraordinary claims require extraordinary evidence.[6]

Onafhanklikheid: Die Nederlandse teoloog Gijsbert van den Brink noem dit ook die boedelskeidingsmodel; geloof en wetenskap se kategoriale verskille bring mee dat hulle nie met mekaar in botsing kan kom nie.[7]

Dialoog: Volgens Barbour bestaan bepaalde raakvlakke of analogieë tussen geloof en wetenskap waaroor dan dialoog gevoer kan word. In ’n groot mate pas die Templeton Foundation se gesprekke om dialoog tussen wetenskap en religie aan te moedig, asook die toekenning van die Templeton-prys, binne dié versoeningsmodel.

Integrasie: Volgens Barbour is wetenskap en godsdiens heeltemal versoenbaar omdat die wetenskap se bevindings deur ’n skeppende godheid moontlik gemaak is en steeds word. Hy beskou wetenskaplike teorieë dus as God se werktuie om sy skepping in stand te hou en te ontwikkel.

Barbour verwerp die konflik- en onafhanklikheidsmodelle en steun dialoog en die integrasie van geloof en wetenskap.

2. Die paleontoloog Stephen Jay Gould se NOMA-model.

Gould, verbonde aan Harvard tot sy dood in 2001, het die beginsel van respectful noninterference (respekterende nie-inmenging ) tussen wetenskap en religie geformuleer. Hy noem dit die Beginsel van NOMA – Nie-oorvleuelende Magisteria. Gould beklemtoon dat die verhouding gekenmerk moet word deur intense dialogue between the two distinct subjects, each covering a central facet of human existence . . . I do not see how science and religion could be unified, or even synthesized, under any common scheme of explanation or analysis; but I also do not understand why the two enterprises should experience any conflict . . . Science tries to document the factual character of the natural world, and to develop theories that coordinate and explain these facts.

Daarteenoor staan religie: Religion, on the other hand, operates in the equally important, but utterly different, realm of human purposes, meanings and values – subjects that the factual domain of science might illuminate, but can never resolve. Similarly, while scientists must operate with ethical principles, some specific to their practice, the validity of these principles can never been inferred from the factual discoveries of science.[8]

3. Richard Dawkins se model van onversoenbaarheid tussen wetenskap en geloof.

Volgens Dawkins is aansprake dat wetenskap en godsdiens versoenbaar is, oneerlik. Dit strand op die "undeniable fact that religions still make claims about the world which, on analysis, turn out to be scientific claims . . . they make wanton use of miracle stories, which are blatant intrusions into scientific territory. The Virgin Birth, the Resurrection, the Raising of Lazarus, the manifestations of Mary and the Saints around the Catholic world, even the Old Testament miracles, all are freely used for religious propaganda, and very effective they are with an audience of unsophisticates and children."

Dawkins glo elkeen van bogenoemde wonderwerke maak inderdaad aanspraak op wetenskaplikheid, a violation of the normal running of the natural world. Om in wonderwerke te glo, is om die wette van die natuur omver te gooi terwyl dit die een wat glo onmiddellik in die veld van die wetenskap plaas. As teoloë eerlik wil wees, moet hulle ’n keuse uitoefen, skryf Dawkins. You can claim your own magisterium, separate from science’s, but still deserving of respect. But in that case you have to renounce miracles.[9]

Dawkins word veral in dié siening gesteun deur die wetenskapsfilosoof Daniel Dennett (Breaking the Spell – Religion as a Natural Phenomenon), die neurowetenskaplike Sam Harris (The End of Faith) en die joernalis en kommentator Christopher Hitchens (God Is Not Great – How Religion Poisons Everything).

Vandag laat die invloed van wetenskaplike bevindings en die al groter wordende eiland van kennis die oseaan van onkunde onder die invloed van religieuse aansprake toenemend krimp, om Thomas Henry Huxley, die negentiende-eeuse Britse bioloog, te parafraseer. In Suid-Afrika toon ’n vergelyking tussen die sensusstatistiek van 1996 en 2001 hoe die watervlak van hierdie oseaan besig is om te sak: in 1996 het 11,7% (4 638 897) Suid-Afrikaners aangedui hulle het geen godsdiens nie; in 2001 het dit gestyg tot 15,1% (6 767 165).[10]

Ondanks die feit dat die VSA gewoonlik as ’n hoogs religieuse land beskou word, glo ongeveer een uit elke ses Amerikaners (16,1%) nie meer in ’n godheid wat hul lewe beheer nie – 59% daarvan mans en 41% vroue. Die syfer vir ongelowiges is meer as twee keer hoër as wat dit in die vroeë 1990’s was: By some key measures, Americans ages 18 to 29 are considerably less religious than older Americans. Fewer young adults belong to any particular faith than older people do today. They also are less likely to be affiliated than their parents’ and grandparents’ generations were when they were young. Fully one-in-four members of the Millennial generation – so called because they were born after 1980 and began to come of age around the year 2000 – are unaffiliated with any particular faith. Indeed, Millennials are significantly more unaffiliated than members of Generation X were at a comparable point in their life cycle (20% in the late 1990s) and twice as unaffiliated as Baby Boomers were as young adults (13% in the late 1970s). Young adults also attend religious services less often than older Americans today. And compared with their elders today, fewer young people say that religion is very important in their lives.[11]

Die groeiende tendens, veral onder die jeug, om nie meer waarde aan religie te heg nie, word geïllustreer deur ’n berig van Reuters waarin vermeld word dat Switserland se kiesers die eerste keer in Oktober 2011 die keuse sou hê om vir ’n party te stem wat vrye denke onder een sambreel plaas. We decided we had to stand up and tell our politicians that it’s time they recognised that there are a lot of non-religious people in their electorate, het die 42-jarige Andreas Kyriacou, leier van die Vrydenkersparty, aan Reuters gesê. We, and probably a lot of Swiss people who have never thought about humanism or atheism, are tired of the influence the churches and religion still exert in this country.[12]

Die kindermolestering-skandaal wat die Katolieke Kerk toenemend die afgelope dekade teister, het dié tendens van afvalligheid en onthutsing met religieuse instellings versnel. Volgens navorsing deur die Pew Forum on Religion & Public Life in die VSA, compared with their elders today, young people are much less likely to affiliate with any religious tradition or to identify themselves as part of a Christian denomination. Fully one-in-four adults under age 30 (25%) are unaffiliated, describing their religion as ‘atheist,’ ‘agnostic’ or ‘nothing in particular’. This compares with less than one-fifth of people in their 30s (19%), 15% of those in their 40s, 14% of those in their 50s and 10% or less among those 60 and older.[13]

Dié syfers toon ’n toenemende dagbreekervaring by al hoe meer mense wat tot die besef kom dat daar geen enkele rede is om vandag nog te glo of te moet glo dat een of ander godheid ons lewe skep, beheer en finaal beëindig nie. Daarvoor het die wetenskap sedert Copernicus en Galileo in die vyftiende en sestiende eeu, Darwin in die negentiende eeu en moderne bevindings – veral dié van die moderne genetika, evolusionêre biologie, argeologie, palaeontologie, fisika en chemie – vandag te verdoemend die verhale wat in die Bybel, die Koran, die Bhagavad Gita en ander heilige boeke voorkom, blootgestel aan die soeklig van rasionele denke gegrond op waarneming en bewyse.

Op die vraag of geloof en rede inderdaad versoenbaar is, is daar verskillende standpunte. In die lig van die oorweldigende bewyse wat die wetenskap byvoorbeeld oor evolusie, die Aarde se ouderdom en ander Bybel-weersprekende feite gebring het en steeds bevind, aanvaar heelwat gelowiges vandag evolusie as ’n meganisme van God om lewe op Aarde te skep en te laat ontwikkel. Soveel gelowiges is egter tevrede om glad nie te vra na bewyse wanneer dit kom by God se bestaan nie.

In 2006 het die Suid-Afrikaans gebore en getoë Britse wetenskaplike Lewis Wolpert in sy briljante boek, Six Impossible Things Before Breakfast – The Evolutionary Origins of Belief, Lewis Carroll se Through the Looking-Glass nadergetrek om Alice se blootstelling aan die irrasionele denke van die Wit Koningin te illustreer. Alice vind dit moeilik om in onmoontlike dinge te glo ("one can’t believe impossible things"), al vermaan die Wit Koningin haar om net diep asem te haal en haar oë toe te maak.

Maar die Wit Koningin laat haar nie van stryk bring nie. I daresay, you haven’t had much practice . . . When I was your age, I always did it for half-an-hour a day. Why, sometimes I’ve believed as many as six impossible things before breakfast, vertel sy aan Alice.[14]

Een van die mees onverklaarbare verskynsels van die moderne mens se denke is die verbete en vasklouende karakteristiek om, ondanks oorweldigende bewyse tot die teendeel, steeds te bly glo in gode, God of een of ander Spirituele Hoër Orde. Om dit te verklaar, het een van die insiggewendste en interessantste studierigtings die afgelope twee dekades ontwikkel – die moderne neurowetenskap se soeke na ’n verklaring vir geloof in ’n godheid, ook binne antropologiese verband.

Waarom glo so ’n groot deel van die Aarde se bevolking – en so ’n substansiële deel van die Afrikaanssprekendes wat hier op die moederkontinent van die mens se ontstaan woon – steeds dat hul lewens deur God beheer word? In sommige wetenskaplike kringe is dit in ’n stadium aan ’n god-geen wat dan deel van sommige mense se genetiese samestelling sou uitmaak, toegeskryf. Toe die New Yorkse genetikus Dean Hamer eerste met hierdie gedagte van ’n god-geen na vore gekom het, het die media op groot skaal daaroor berig.

Hamer probeer kwantifiseerbare verklarings vir die oorsprong van godsdienstigheid in mense soek deur geloof en spiritualiteit psigometries te ontleed en te kyk na ’n studie van die brein deur middel van neuropsigologie. Hy glo spiritualiteit is geneties oorerflik en hy skryf dit toe aan die teenwoordigheid (of in die geval van ongelowiges, afwesigheid) van die VMAT²-geen. Hamer glo VMAT² beïnvloed die monoamienvlakke in die brein wat mense ’n ingeburgerde gees van optimisme gee en dit word volgens hom weerspieël in jou fisieke en sielkundige uitkyk op die lewe.[15]

Hamer se navorsing is deur opvolgende studies reeds lankal gediskrediteer en verkeerd bewys en het sterk kommentaar, ook aan religieuse samelewings, ontlok. Die Anglikaanse priester John Polkinghorne het aan The Daily Telegraph gesê, "The idea of a God gene goes against all my personal theological convictions. You can’t cut faith down to the lowest common denominator of genetic survival. It shows the poverty of reductionist thinking."[16]

Kom ons praat dan liewer van ’n god-meem of religie-meem. Richard Dawkins neem dié evolusionêre proses

Enjoying the preview?
Page 1 of 1