Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die ander vennoot
Die ander vennoot
Die ander vennoot
Ebook481 pages6 hours

Die ander vennoot

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hierdie boeiende, interessante roman speel hoofsaaklik af teen die agtergrond van die ekonomiese omwentelinge ná 1994 en gaan oor twee vennote, John Heckrodt en Herklaas Pretorius – vanaf hul jare as boere en jagters in die ou Suidwes tot by hul ondernemings as entrepeneurs in die nuwe Suid-Afrika: die jagveld het net verskuif na die ekonomiese sfeer. Die sagmoedige reus Pretorius raak verteenwoordigend van die immer ongemaklike posisie van die post-kolonis in Afrika, gebrandmerk deur sy kleur en vasgevang in sy vreemdelingskap. Die liefde van ’n besondere vrou gee betekenis aan ’n lewe wat toenemend ’n stryd om oorlewing raak. Vanuit sy kennis van die ekonomiese sake skryf Haasbroek insiggewend en oortuigend oor die intriges van frontmaatskappye, bemagtigingsaksies, oornames en ander transaksies.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 28, 2011
ISBN9780798153515
Die ander vennoot

Related to Die ander vennoot

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die ander vennoot

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die ander vennoot - P.J Haasbroek

    Die ander vennoot

    P.J. Haasbroek

    Human & Rousseau

    Vir Russell Chambers en André Lamprecht, sakekamerade

    Heelwat in die verhaal is waar; die res het ek my verbeel.

    Deel 1

    1

    Soos dit gewoonlik met ’n gatslag gaan, het hulle dit nie verwag nie. Al skakel die rugwerwels nou ineen, witgebleik in die son, was dit tóé nog weggesteek onder vel en hare.

    Pretorius weet nou dat die rinkhals al bakkop gemaak het met daardie laaste wintertoer. En John, sy vennoot, het saamgestem: hul onderneming was moer toe.

    Dit was Juniemaand 1985, met die groep Duitse toeriste na die Kaokoveld. Hul besigheid, Goraseb Safaris, het ’n keerpunt bereik.

    Maar wié kan sê waar begin begin? Of waar lê die laaste omdraaikans?

    Hulle het daardie koue oggend net na ontbyt met hul twee veldvoertuie – spesiaal ingerigte Land Cruiser-bakkies – uit Windhoek gery. Die pad na die internasionale lughawe was stil. In die lughawe se ontvangslokaal is ook nie veel mense nie, net ’n paar Suidwesters, twee verveelde soldate in bruin bosuniforms paraat met gewere, die lughawepersoneel en enkele toeriste.

    Die twee vennote sit stilswyend op ’n bank langs mekaar: die eienaarbestuurders en -operateurs van Goraseb Safaris. Asof hulle stry gekry het. Pretorius probeer dink of daar iets is wat hy dalk vergeet het, goed wat hulle vir die toer benodig. Maar verseg, sy gedagtes maal om sy herinneringe aan Mea. Sy onvermoë om die breuk tussen hulle te verstaan, maak hom nog stiller as gewoonlik. Hy wonder of hy John kan vertel, maar sy vennoot se gemoedstemming ontmoedig hom.

    John se wenkbroue knoop in ’n frons wat na twee baalhake lyk, vlympunte na bo. Hy het opgehou praat oor hul laaste bankstaat, waarop die saldo net-net genoeg is om die diesel, kos en drank vir die toer te dek. Spel ook nie meer sy planne vir die topaasmyn uit nie.

    Die Duitsers kan ons dalk red, het hy op pad lughawe toe gesê. Daarna het sy gesels oor hul besigheid opgedroog. Hy sit met sy hande op sy knieë en vuis maak, strek sy vingers en maak weer vuis.

    Pretorius weet: As John nie iets vind om oor te praat nie, is dit ’n gevaarteken. Hy is omgekrap oor iets. John praat eintlik soos hy dink. Die stroom van sy gedagtes spoel eenvoudig in ’n rustige woordevloed oor sy toehoorders. Dis vir hom gevolglik moeilik om sy planne geheim te hou; sy strategieë is deursigtig.

    Pretorius waardeer sy vennoot se openhartigheid, want dit hou hom op hoogte van sake. En dit help hom om sy kant te bring. Wat nodig is, doen hy. En wat hy doen, weet hy, doen hy goed.

    Hy is meer as net tevrede om John se sakevennoot te wees: hy voel dankbaar dat John die leiding neem, dat hy soveel by hom kan leer. Daarby is hulle ook vriende. Goeie vriende, sonder enige krapperighede of geheime.

    Tot die ding met Mea gekom het. Hy kon dit nog nie met John bespreek nie. As hy John vertel wat gebeur het, sal hy beslis lag. Hy sê altyd mens moenie kop verloor met ’n vroumens nie. Dis net kophou wat keer dat hulle jou ondersit. En dit voel vir Pretorius Mea het hom ondergesit. Behoorlik diep, donker, onder.

    Volgens John is vroumense vir ’n man gemaak om mee te speel – lekker wanneer jy nie met iets anders besig is nie. Dalk dink Mea ook dit was net ’n speletjie. En toe sy daarmee stop, val hy, Pretorius, op sy gat. Dis nie iets wat met John sal gebeur nie. Hy ken die reëls te goed.

    As hy hom aan John se praatjies gesteur het, het hy dalk geweet wat kom. Maar omdat hy ouer in jare is, wou hy hom nie laat touwys maak nie. Ten minste nie in liefdesake nie. Daarin soek elke man mos maar self sy pad vorentoe. En stamp sy eie kop.

    John draai na die groot venster agter hulle en kyk oor die droë oker-en-grys veld, voor hy weer na die stippel van ’n vliegtuig begin soek. Hy doen dit stadig van kant tot kant en van onder tot bo, deeglik, so ver as wat die venster sy uitsig omraam.

    John is soos ’n opgewende veer. Hy weet hulle het die toer broodnodig; hulle kan nie bekostig dat daar fout kom nie. Maar ’n enkele kwartier se wag is genoeg om sy geduld te beproef, en die SAL-vlug van Johannesburg af is al meer as ’n uur laat. Die verwagte aankomstyd is nou 12.20. Nóg ’n aankondiging oor die luidspreker dat die vlug vertraag is, kan die laaste strooi wees, weet Pretorius. Dan sal ’n halfkoel bier uit die yskas nie meer John se frustrasie kan demp nie.

    Pretorius voel self lus vir ’n dop – ’n brandewyn-en-coke. Yskoud in ’n groot glas vol gebreekte ys. Hy steek sy pyp op, maar ná ’n paar trekke druk hy dit weer in sy sak. Mea het nie daarvan gehou dat hy rook nie. As jy rook, het jy g’n asem nie, het sy gesê.

    Nou sit hy maar en kyk na die mense wat verbystap. Toeriste in kleredrag wat hulle dink in Suidwes sal pas. Vroegmiddag is eintlik ’n goeie tyd om toeriste aan die Suidwes-landskap bekend te stel – die droë veld onder ’n lug sonder wolke. Ná die Europese somer steek die sonlig in hul oë en gloei dit op die aanloopbaan, al is dit winter. Hy wed in die aankomsaal al sal die Duitsers sweet afvee, en dadelik bottels water gaan koop, asof hulle bang is hulle ontwater in hierdie halfwoestyn.

    John Heckrodt is net die regte man om hul kliënte te ontvang. Die safarileier in sy kakieklere, bruin geskroei deur die son, sal presies voldoen aan hulle verwagtinge. John boesem vertroue in by die mans, en die vroue se harte klop vinniger as hulle hom na hulle sien aankom op die lughawe. Jonk en sterk, en selfversekerd met sy wegstaansnor.

    Boonop verstaan John die kuns van goeie bemarking; in die safaribedryf begin dit met die regte beeld. Uit die staanspoor oortuig hy hul kliënte dat die toer wat Goraseb Safaris aan hulle bied, die wegbreekavontuur is waarna hulle nog altyd gehunker het. Selfs as dinge verkeerd loop, laat hy hulle dink dis deel van die avontuur – só gaan dit maar in Afrika se wildernis.

    Pretorius glimlag toe hy dink wat John alles sal moet goedpraat wanneer hulle in die Kaokoveld kom. So min geriewe. En erger: soveel ongerief op pad en in die kamp. Hul eenvoudige maaltye – Pretorius se kookvaardighede is beperk tot ’n paar basiese disse wat hy dag ná dag aan hul kliënte voorsit. Saam met lou bier of rooiwyn. En soet swart koffie.

    Die koue nagte en warm dae. En die uitmergelende, droë, warm wind wat oor die woestyn waai en alles met ’n lagie sand bedek. En stof. Stof in jou oë en neus. In hul veldvoertuie is dit net so onvermydelik soos die hitte; die sweetdruppels trek modderspore oor jou voorkop, jou wange en af in jou nek.

    Hul kliënte moet nou net kom dat die safari kan begin. Sonder hulle sal hy en John maar moet terugry Guntsas toe. ’n Ander plan beraam om geld vir die topaasmyn te bekom. John sien dit toe eerste.

    Die stippel van vlug SA830 groei stadig groter uit die blou bokant die gesigseinder, draai noordwes en laat sy wiele sak. Toe die straler land, lyk dit asof sy romp in die lugspieëling smelt en nuwe, plastiese vorms aanneem. ’n Wit seeleeu, ’n boggelrugwalvis wat blink in die steekgras verbyswem.

    Die passasiers sonder bagasie kom eerste uit in die ontvangsaal: sakemanne in donker pakke. Daarna boorlinge van Suidwes, wat luidrugtig deur hulle familie of vriende ontvang word. Die toeriste, vertraag deur die ontvangsklerke en doeaneformaliteite, daag laaste op.

    John hou die Goraseb Safaris-naambord omhoog vir hul groepie. Onder die naam is ’n prentjie van ’n veldvoertuig in silhoeët onder ’n kameeldoring. Daaronder staan in groot drukskrif: Karl & Renata Schiele, Monika Brett, Anchen Leiser, Horst Kuhn, Avenant Gotschalk.

    Pretorius probeer die eienaars van die name eien. Twee van hulle, die meisies, is joernaliste, het John gemeld.

    Of hoer-na-luste? het Pretorius toe gespot.

    Nie dat die Duitsers se beroepe veel verskil sal maak nie; wanneer hulle eers in die veld is, laat almal hul hare hang. John het ondervinding daarvan. Van hom kom die insig dat jy snags naderhand nie weet teen wié jy jou tent moet toehou nie: hiënas of die jagse vroumense. Maar dis ’n oordrywing, weet Pretorius; hulle is nog selde deur hiënas lastig geval.

    Gelukkig is hierdie toergroep beter gebalanseerd. Gotschalk is aan ’n universiteit verbonde; Schiele het sy eie besigheid.

    Die eerste passasier wat op John se bordjie reageer, is Anchen – ’n klein donkerkop wat ’n groot rugsak dra. Haar ronde boudjies wip beurtelings in die lang bont katoenromp. Sy stel haarself voor en Pretorius onthou dat sy in haar aansoek gemeld het dat sy ’n artikel oor Namibië se politiek wil kom skryf.

    Dis nie ’n politieke toer nie, het hy toe beswaar gemaak. Ons gaan mos nie juis mense sien nie.

    Vir John was dit nie ’n probleem nie. Ons twee vertel haar sommer wat sy wil weet. Niks is ooit vir John ’n probleem nie.

    Toe Pretorius haar hand skud, staar sy hom verwonderd aan. Is jy regtig?

    Regtig wat? vra hy uit die veld geslaan.

    Só groot. Jy lyk behoorlik soos ’n olifantjagter met jou kakieklere en hoed. En sulke dik voorarms. Seker van kliënte oor vol riviere dra.

    Dit laat hom grinnik. Vol riviere in Suidwes? Mense het soms snaakse idees oor die land. En erger, oor hóm.

    Hy vertel haar dat hy vir die logistiek van die safari sorg. Hy dra die toerusting en voorrade rond. Soms kom daar olifante in ons kamp in, dan jaag ek hulle weg, oordryf hy ’n bietjie.

    Ek glo dit! sê sy.

    Karl Schiele en sy vrou is albei groot, blond en in hul veertigs. Nuwe safaridrag en oprygstewels – die standaard Out of Africa-uniform. Bausch & Lomb-verkykers, en aan elkeen se gordel ’n veeldoelige Switserse weermagknipmes in ’n leersakkie.

    Frau Renata Schiele vul haar kakiebroek en -hemp soos ’n styfgestopte wurst. Haar man maak ’n grappie oor die loods wat eers wou sien of daar kameelperde op die aanloopbaan is voor hy kom land.

    Of dalk ’n verdwaalde toerbus, trek John die groot Duitser se been.

    ’n Rukkie later kom Horst Kuhn aangedrentel. Hy is geset en rosig van gelaat. ’n Restaurateur van Frankfurt, stel hy homself aan almal voor.

    ’n Fynproewer wat klaarblyklik nie by proe ophou nie, dink Pretorius.

    Jy kan met Herklaas resepte uitruil, spot John. Benewens sy ander werk in die kamp is hy ook ons kok.

    Toe begin hy met ’n uiteensetting van die voortreflikhede van kampkos, soos dit ontwikkel het deur die pioniersgeskiedenis van Suidwes. Tans word dit net deur enkele toegewyde kampkokke, waarvan Herklaas een is, nog behóórlik – dus volgens die tradisionele resepte – voorberei vir enkele gelukkiges. Julle sal almal ná hierdie toer aangename herinneringe met julle kan saamneem van Herklaas se potjies en brade.

    Pretorius stap ’n entjie weg. Waar de hel kom John aan sulke nonsens? Brade, nogal! Hy het al voorheen hierdie voorbrand vir sy beperkte spyskaart moes aanhoor.

    Toe die volgende lid van hul groep opdaag, merk hy hom dadelik. Avenant Gotschalk lyk soos ’n professor: netjiese grys baard en steil hare. En met ’n gereserveerde houding, asof hy voorlopig sy mening oor sy toergenote voorbehou.

    Pretorius wonder vlugtig wat Gotschalk Suidwes toe bring. Hulle kry selde akademici op hul wildernistoere. Dié wat vir ’n ervaring van die wildernis saamkom, is gewoonlik dier- of plantkundiges, of geoloë. Waarin stel doktor Gotschalk, professor in sosiologie, eintlik belang?

    Hoe laat vertrek ons? vra Gotschalk dadelik.

    Pretorius vergeet John se waarskuwing om nooit te spesifiek te wees nie en sê: Twee-uur.

    Monika Brett van Der Spiegel daag laaste op, met ’n breë wit glimlag vir die groepie geskaar om John se naambordjie. ’n Ritseling van waarderende belangstelling volg haar gang tussen die ander passasiers deur. Sy is lank en blond. Wulps geklee in ’n kort kakiebroek en moulose T-hemp met ’n kamoefleerontwerp lyk sy soos ’n advertensie in ’n reisbrosjure.

    Met die aanskoulike gleuf tussen haar borste kan die mooie Monika selfs ’n model wees vir Der Spiegel, bespiegel Pretorius. As die voorbladmeisie die dag nie opdaag nie, neem sy sommer vinnig haar plek.

    Hy merk hoe fors die twee soldate by die uitgang nou skielik met uitgestote borste staan. Hulle staar haar met openlike bewondering aan. Blík-sem, hoe lus is ek nou! lees hy hulle gedagtes. ’n Beskouing wat nog onlangs, voor Mea, ook syne sou kon wees.

    Toe al het die gedagte by hom opgekom, wat later akkuraat blyk te gewees het: As op hierdie toer een van hul kliënte moeilikheid gaan veroorsaak, sal dit mejuffrou Brett wees. Sy is soos die begeerlike Lorelei wat menige skeepsvaarder op die rotse laat strand het. Dalk gaan hierdie Lorelei hulle laat verdwaal in die woestyn.

    Soos so dikwels die laaste tyd, laat dit sy gedagtes somber koers kies na Mea. Sy wat hom alleen in Swakopmund onder die palmlaning langs die see agtergelaat het. Hul takke het hartseer vir haar gewuif toe sy wegry, en aangehou wuif toe sy seker al by Karibib verby was op pad na Okahandja. Of nog verder, naby Windhoek. Terug na die sekuriteit van haar kantoor en haar woonstel.

    ’n Man is nie ’n klip nie; toe hy die bus agternakyk, het hy soos ’n geskopte brak gevoel. Geweeg, soos die Bybel sê, en te lig bevind.

    John roep die toergeselskap bymekaar en verdeel hulle in twee groepe: die Schieles en Monika (voorspelbaar) saam met hom, die ander by Pretorius.

    Herr Schiele en Gotschalk wil eers hul terugvlug gaan bevestig. Pretorius, vergesel deur Kuhn en Anchen, gaan solank hul bagasie in die Land Cruisers pak. Aan syne is die kombuissleepwa met die gasstofie, yskas, eetgerei en proviand vir die week gehaak.

    Hy het self die voertuie verander vir die lang, harde ritte deur die wildernis. ’n Dubbelsitplek is agter onder die aluminiumdak ingebou. Die tweehonderdliter-brandstoftenk het hy oor die agteras ingebou, met ’n staalplaat wat dit teen skerp klippe en stompe beskerm. Daar kom ’n honderd liter water in die vlekvryestaaltenk met die handige kraantjie. Op die dakrak word ’n ekstra spaarwiel, die sakke met twee koepeltente, ligte opslaanbedjies en stoele gepak. Laastens het hy die voertuie sandgeel geverf, met hul naam dramaties op die deure.

    Schiele – ’n vervoerman, sou Pretorius later uitvind – kom staan by en bekyk sy laaiery: hoe hy die drasakke op die dakrak tel en vasbind. Schiele knik goedkeurend; hul toerusting beïndruk hom.

    Toe Monika opdaag, neem sy foto’s van die veldvoertuie. Ook van hul onderneming se naam op die deur.

    Dit was John se plan om ’n naam te gebruik wat niemand sal ken nie. Goraseb Safaris klink so half Boesman, soos ’n pleknaam. Hoe klink Heckrodt en Pretorius Toere vir jou? Soos twee prokureurs, man! Wie wil nou saam met sulke menere veld toe?

    Weet jy wat beteken Goraseb? het Pretorius hom gevra.

    Nee?

    In Himba sê dit die jakkals wat sy knaters lek.

    John het gelag en gesê hy lieg, maar Pretorius weet hy is nog steeds onrustig oor die betekenis.

    Gotschalk kom flink nadergestap. Toe hy na sy bagasie vra, beduie Pretorius na die dakrak.

    Omdat hulle toe eers ná twee vertrek, maak Gotschalk beswaar. Hy verwag stiptelikheid; hy’s nie hier om sy tyd op ’n lughawe te mors nie. Skoon knorrig oor die paar minute. Pretorius neem hom voor om nie weer in dieselfde slaggat te trap nie. Van nou af sal hy die tyd later kies eerder as vroeër.

    Op pad Windhoek toe wil Gotschalk weet hoekom hulle dan nie plaashuise sien nie. Is dit staatsgrond?

    Die plase hier is almal groot, verduidelik Pretorius. Dit reën min, en die veld is net goed vir veeboerdery.

    Ek sien die grond is omhein; dis seker die wit boere s’n.

    Pretorius het al geleer om ’n politieke hoek in die toeriste se vrae te vermy. Hy begin vertel hoe moeilik dit is om met brahmaanbeeste op die groot plase te boer; hulle word wild in die veld. Soms moet die boere hul beeste bymekaarmaak om hulle te brandmerk, of om tollies uit te keer wat moet mark toe. As daar brahmane tussen hulle is en dié gaan aan die hardloop, sal jy hulle heeldag jaag, maar nie weer in die kraal kry nie. Beste is om dan maar jou geweer te vat en die wilde goed soos bokke te loop jag.

    Dit steur hom nie dat Gotschalk sit en gaap nie. As die man met hom politiek wil praat, sal hy hom van die beesboere se probleme vertel, of die sosioloog belangstel of nie.

    Hy kon geraai het dat hy op dié toer nie weer so maklik sou wegkom nie; politiek is soos wilsand waarin jy vasval en nie kan uitkom nie.

    Toe hulle Windhoek se buitewyke binnery, is dit byna drie-uur. Stil en warm en met min mense op die sypaadjies. Voor draai John regs in die rigting van die Duitse Christus Kirche. Hy ry onderkant die fort verby, wat soos ’n lang wit skool met ’n wye stoep op die knop staan.

    Toe Pretorius se passasiers vra, vertel hy hulle die geskiedenis van die fort. Van kaptein Francois, bevelvoerder van die Schutztruppen, wat dit laat bou het.

    Die Alte Feste, noem ons dit. Van hier wou hy die vrede handhaaf. Eers moes hy tussen die Namas en die Herero’s intree, twee oorlogsugtige volke. Kaptein Francois het hulle uitmekaar probeer hou, maar sonder sukses. Soos julle sal sien, is die land baie droog; die bloed het aanhou vloei en nie Suidwes se dors geles nie.

    Namibië, brom Gotschalk.

    Terwyl hulle verby die groot bronsbeeld ry, vestig Pretorius hul aandag op die ruiter: dat hy suidwes oor die stad tuur, maar sy perd het iets opgelet wat uit die noorde kom. Dis altyd ’n verrassing vir besoekers.

    Dalk het die perd daardie tyd al die Swapo-gevaar vermoed. Die meeste mense dink egter net hoe gaaf om die gedagtenis van die dapper Duitse soldate so te eer, sê hy. Niemand dink dis dalk ’n monument vir ’n versiende perd nie. Wil julle gaan kyk?

    Wat anders as koloniale memorabilia is hier om te sien? vra Gotschalk.

    Later, by die Oshikotomeer, sou Pretorius dié vraag weer onthou. Toe Gotschalk langs hom staan en aftuur in die groen diepte en hy hom vra: Wonder jy dalk wat alles onder op die bodem lê, doktor Gotschalk? En hy hom vertel hoe die Duitse magte hul wapens in die watergat gegooi het. Anders sou daar nóg meer koloniale memorabilia in generaal Coen Britz se hande beland het.

    Nou byt Pretorius egter op sy tande en beduie vaagweg verby die kerk. Net so ’n entjie verder is die Tintenpalast, setel van die Suidwes-regering.

    Hy het van die ou geboue gelees, erken Gotschalk. Generaal Von Trotha het sy hoofkwartier hier gemaak. Van hier af sy bevele uitgereik om die Herero’s uit te wis. En sy strafekspedisies uitgestuur. Landwyd.

    Pretorius knik. Dis duidelik dat die doktor hom wil toets. Kan hy Gotschalk nou al vertel van die verskille tussen Suidwes se bevolkingsgroepe, hul botsende belange?

    Nee wat, dit kan wag tot later.

    Julle generaal Von Trotha het nie dwarsboming van sy administrasie geduld nie. Nie deur die Herero’s of die Namas nie, of deur enige ander groep inwoners wat in sy pad gekom het. Daardie tyd was hy die groot generaal. Onverbiddelik en koelbloedig – soos dit ’n Duitse bevelvoerder betaam.

    En die vyand? Was hulle straks anders?

    Ek dink nogal die oorlog hier was effens anders as in Europa. Hendrik Witbooi, Von Trotha se vyand, het soms nogal vreemd ridderlik opgetree. Hy’t glad die Duitse keiser om koeëls gevra sodat hy kon aanhou veg teen hom!

    Gotschalk knik; hy is nie bang om sy kleure te wys nie. En toe? vra hy sarkasties. Wat het daarna gebeur? Ná Von Trotha?

    Ek dink hier het toe vrede gekom, of ’n soort wapenstilstand.

    Nee, meneer Pretorius, die opstandige mense is bloot onderdruk. En ná die Duitse bewind het Pretoria sy soldate hierheen gestuur om die onderdrukking voort te sit.

    Voor hulle draai John regs in Kaiserstrasse. Pretorius kry nog die robot groen en volg John se Land Cruiser.

    Dis nie wat die mense hier in Windhoek glo nie, sê hy steeds gemoedelik. Veral nie die klomp daar bo wat so lekker sit en bier drink nie. Hy wys hoopvol na die mense onder die sambrele en vlae op die balkon van die Gathemann-restaurant bokant die straat.

    Hy wens hy kon sy vennoot bykry om die gesprek met Gotschalk te hanteer. John is ’n ekspert-kakprater oor die politiek. Hy oortuig Gotschalk sommer dat hier nog ’n klomp Nazi’s wegkruip in die Kuiseb. Vriende van Henno Martin en Korn. En hul hond, Otto, wat vir hulle babers vang.

    Gelukkig werk Pretorius se plan: sy passasiers word weer bewus van die hitte en hul ongemak in die veldvoertuig.

    Stop! roep Kuhn. Ons kan almal doen met ’n glas koue bier.

    Pretorius flits sy voertuig se ligte en John bring die Land Cruiser voor hom tot stilstand. Hy beduie boontoe: dat sy passasiers na die restaurant wil gaan. Hulle lus hang uit vir ’n bier! roep hy met sy kop half by die venster uit.

    John maak ’n obsene handgebaar. Hy wil dat hulle nog voor donker by Okahandja uitkom. Kamp opslaan onder die groot doringbome langs die droë rivier. En dalk die mooie Monika gemsbokwortel laat proe.

    Maar hy beduie: Dis reg.

    Hulle parkeer die Land Cruisers en klim saam met die Duitsers teen die trappe op na bo. John voor saam met Frau Schiele, hy agter met sy blik droewig op die wip van Anchen se boudjies. Sy herinneringe aan Mea sal hy nie maklik afgeskud kry nie. Dis asof elke vrou iets van haar oproep, al is dit net haar tone wat uit ’n sandaal loer.

    Hoe baie van hul toere het op net so ’n gemaklike, byna sorgelose trant afgeskop. Van hy en John toeroperateurs geword het, het hulle selde met groot probleme te kampe gehad. Uiteindelik kon hulle alles te bowe kom: voorraad wat opraak; toerusting wat op ongemaklike plekke breek.

    In die veld, ver van alles af, kan die kleinste probleempie groot en gevaarlik raak. Met ’n dieselpyp wat lek, het John se trok sonder brandstof in die Kaokoveld bly staan. Enkele van hulle kliënte het siek geword. Ander was moeilik, regte buffelbulle met geaardhede so rasperig soos kaiingklip. Dan moet John hul klagtes aanhoor en beloof om sy administrasie te verbeter; hy moet toerroetes wysig, tydsindelings verander en onderlinge dispute besleg. Ander wou net uitkom uit die verlatenheid. Terug Windhoek toe, in hemelsnaam, draai om en ry terug! het ’n paar al gepleit.

    Dié keer, onder die kritiese oog van Gotschalk, sal hulle net moet sorg dat niks verkeerd loop nie.

    Die hele groep bestel bier. Hulle kyk belangstellend op die verkeer in die Kaiserstrasse af. Bakkies, ouerige motors, en toe grom twee militêre vragmotors verby. Sandbruin, met seiloordekte bakke.

    Op die sypaadjies weerskante loop mense wat die verskeidenheid van Suidwes-Afrika se bevolking verteenwoordig. Herero-vroue in hul kleurryke wye rokke, Rehoboth-Basters, wit boere met hul gesinne, Damaras en Namas, jonk en oud. Net die Boesmans ontbreek. Snaaks dat die Duitsers nog nie oor hulle navraag gedoen het nie: Wo sind die Buschmänner dann?

    Pretorius voel bly dat die stad so skoon lyk. Dat die mense so sorgeloos en vrolik loop en gesels. Die toeriste sal byna geen teken van spanning oor die situasie op die noordgrens merk nie – die Suid-Afrikaanse magte het sake daar onder beheer. En hier in Windhoek gebeur eintlik nog niks, omdat dit so ver van die grens af is. Swapo se dreigemente klink hol. Die stof van die bom wat in die wassery ontplof het, het lankal gaan lê.

    Dit lyk nie of die toer anders as enige van die vorige toere sal verloop nie. Hulle plan is standaard: noord, na waar daar meer bos en volop wild is, met hom en John as die bestuurders op die paaie wat hulle al hoeveel maal gery het. Die gevaar van gewapende Swapo-insypelaars daar bo het hulle nie eens oorweeg nie; die grensmagte hou die kaplyn skoon.

    Van Windhoek af beplan hulle om na Okahandja te ry, waar hulle vanaand sal slaap, en van daar af na Otjiwarongo, waar hulle kort duskant sal wegdraai na die Waterberg Platopark. John is oortuig dit sal goed wees om die ou Duitse begraafplaas by Waterberg aan te doen: dit sal hul Duitse kliënte betrokke laat voel by die land en sy mense.

    Dan, anderkant Waterberg, wil hulle oudergewoonte op die jagplaas van Hermann Struwig, hul ou skoolvriend, gaan kamp opslaan. ’n Dag lank in die veld elande, gemsbokke en koedoes soek. Dalk kry hulle ook ’n jagluiperd te sien. Daarna verder na Otavi, en verby Tsumeb na die Namutonihek. In die Etoshapark kan hulle nog twee dae tussen Namutoni, Halali en Okaukuejo verdeel, en dan moet hulle by die Otjovasondohek uit na Kamanjab.

    John wil laaste met die Duitsers die Kaokoveld in. Laat hulle bietjie voel wat Rommel in die woestyn moes verduur het.

    Pretorius ken die moeisame tog deur die Joubertberge goed, verby plekke met name soos dromslae: Ombombo en Otjondeka. En na ’n week sal hulle omdraai en weer die lang pad terug vat, moeg en stowwerig en hopelik in ligte luim en goeie vriendskap.

    ’n Kort toer, gepak met indrukke van Suidwes. Die unieke geskenk van oop ruimtes onder ’n hoë blou koepel. Van donker rante bo grasvlaktes, met nog vlaktes agter die rante en nog verder, wasig blou, die berge.

    Tien dae, dan wil John die Duitsers terug in Windhoek hê. Betyds by die lughawe. Waar hulle sal hand skud en groet. Vielen dank. En nog ’n safari sal verby wees.

    As alles goed gaan.

    Toe hulle uit Windhoek wegry, sit die son al goed skuins. Sonder wind of wolke in die lug maak die stof dit byna wit bokant die gesigseinder.

    Pretorius klap die sonskerms af, en langs hom sit Anchen haar donkerbril op. Haar effense glimlaggie laat hom voel sy hou hom geamuseerd dop. Sy lyk vervlaks mooi agter haar bril, merk hy op.

    Elke vrou het haar eie manier om vir ’n man aantreklik te wees. Toe hy, aangepor deur John, destyds in Otjiwarongo meisies begin uitneem het, het hy dit gou agtergekom. Die een se oë, en die ander se manier van praat; keer op keer het iets anders hom aangestaan. Hy kon nie besluit waarvan hou hy die meeste nie. Wie wou hy as ’n nooi hê? Toe kom Mea. Slim, mooi, ja, maar daar was nog iets. Háár kon hy nie weerstaan nie.

    Hy luister na die masjien se gedruis, hoe suis die wiele op die teerpad. Hy het die trok goed gediens en alles wat probleme kan gee deeglik nagegaan, maar hy bly nogtans besorg; die veldvoertuie is al oud en iets kan uitslyt en onverwags breek.

    Hulle ry verby die Otjihaveraberge, geelbruin en gespikkel met vaal struike. In die vallei staan groot kameeldoringbome tussen die droë gras, maar bo in die koppe groei net withaak, spekboom en kanniedood – die seningtaaiste bittereinderbome van die skurweveld.

    Die verweerde rotsbanke en stapels splinterklip wys skakerings van roes en oker, grys en aardbruin. Pretorius wonder of die Duitsers dit ook mooi vind. Ná hul groen land, nou ’n landskap met die kleure van ’n pofadder. ’n Skynbaar onherbergsame wildernis.

    Anchen vra oor die skaduwee in die voue van die klowe, of daar darem ’n watertjie loop?

    Hy skud sy kop. Net as dit die dag reën. Dan spoel die water – dis wat die berge so gekerf het. Maar nou is hulle horingdroog. En koelte is skaars.

    Binnekort gaan een van die Duitsers hom vra hoe hy dit hier uithou. Hul gewone vraag: Is dit vir hom lekker in hierdie harde wêreld? Wíl hy hier wees? Heimlik dink hulle hy het ’n skroef of iets los. Of hy weet net nie hoe vriendelik Europa is nie, hierdie wildeman, Pretorius.

    En later, onvermydelik, die vraag hoekom mense so oor dié dorre land baklei. Oor die geskiedenis van die honger na grond en gebied. Dis verstaanbaar in Angola, ja, dié wonderlik vrugbare land, maar hier in Suidwes!

    Pretorius het nog nooit vir enige van hul kliënte vertel dat hy in Angola gebore is nie. Sal dit enige verskil maak aan hul agterdog oor hom? Dat hy kolonis is, plunderaar van die natuur, net omdat hy verkies om hier te bly. En wat was die Dorslandtrek anders as ’n poging tot verowering van die gebied rondom Humpata?

    Dit help nie om met die buitelanders te stry nie. Hulle beskou die dryfvere van die meeste wittes in Afrika as verdag.

    Hul kamp onder die groot kameeldorings langs die sandloop is die gewone eerste-aandse deurmekaarspul. Die Duitsers is ongewoond aan die tente oor hul koppe en die opslaanbeddens wat onder hulle platval. Hulle ervaar die eerste keer rook in hul oë, en hulle kom in die pad van sy kosmakery.

    Die volgende oggend vroeg ry hulle Otjiwarongo toe. Pretorius ken die roete noord van Okahandja al so goed, hy noem die name van die plase wat bokant die hekke hang voor hy daar verbyry, én die soort bome langs die pad. Mooi bome, al groei daar in Duitsland niks wat so lyk nie.

    Hy wys sy passasiers die twee Omatako-pieke. Hulle spitse word mettertyd hoër, hoog genoeg om berge te wees, vaalblou piramides op die gesigseinder.

    Lyk soos ’n tweeling, merk Anchen op.

    Of twee vennote, soos jy en John, kom dit van Kuhn.

    Beslis goeie bakens, sê Gotschalk.

    Pretorius kyk vlugtig in die truspieëltjie. Die sosioloog se lippe is opmekaar gepers, bitter, asof hy weet hoe ver die Swapo-insypelaars deur die bosse moes loop om hier te kom. Van hulle ontberinge. Wéét Gotschalk dat Swapo die Omatako’s as bakens gebruik op hul pad na Windhoek? Of was sy opmerking onskuldig, net ’n goeie waarneming?

    Oos van die pad strek ’n grasvlakte so ver uit dat dit wegraak in grysblou dynserigheid.

    Waar hou dit op? vra Kuhn.

    Daardie kant lê net die Kalahari se duineveld, antwoord Pretorius. As jy hier by die Omatako’s begin loop, dag na dag reguit oor die vlakte na waar die son opkom, is die Limpopo die eerste rivier wat jy sal kry. Dis anderkant Botswana, die grens van Suid-Afrika.

    Waar kry die boere dan water? vra Kuhn verbaas.

    Hulle sink boorgate en sit windpompe op.

    Toe vertel Pretorius hulle van die sandlope wat soms in die somer afkom as dit reën. ’n Woeste bruin vloed wat gou verbystroom. Daarna vloei dit meestal onder die sand; maak net hier en daar modderige suipings tussen die riete.

    Oos lê die dorsland, sê hy. Ons het ’n groot rivier aan ons suidekant, die Oranje. Maar bokant gaan dit beter: daar vloei die Kunene, die Okavango, die Kwando, en ook ’n stukkie van die Zambezi.

    Gaan ons soontoe ook? vra Anchen.

    Dis te ver en te gevaarlik. Dis waar die Suid-Afrikaanse weermag opereer.

    Noord word die veld ruier, vertel hy verder; daar is meer om te sien as net leë vlaktes. Hulle sal môre die Otaviberge suid van Tsumeb kry. Loodgrys dolomiet bokant digte doringruigtes. Withaak en spekboom groei teen die hange. Dalk sien hulle nog ’n sprokiesboom daar, met sy kaal stam en takke glad soos ’n vrou se arm. Dis die wonderlikste, vreemdste kaalgatboom, en gewoonlik groei dit op die onmoontlikste plekke tussen die rotse, trag hy om hul belangstelling te wek.

    Terwyl die landskap by hulle verbyskuif, dommel die drie Duitse toeriste weg. Hulle het min geslaap die vorige nag. Die kampbedjie in ’n tent en die vreemde naggeluide – jakkalse en die gebalk van ’n donkie – het hulle wakker gehou. Pretorius vertel nog van die verstommende uithouvermoë van gemsbokke – hoe lank en hoekom hulle sonder water kan bly – toe snork Kuhn al agter hom.

    Pretorius kyk vlugtig na Anchen langs hom. Haar oë is toe, maar dit lyk nog steeds asof sy glimlag. Waaraan dink sy?

    Onwillekeurig onthou hy Mea. Hoe hy hom met haar misgis het. Hy het nooit geweet wat sy dink of wat om van haar te verwag nie.

    Dit kan wees dat dit gewoonlik ’n man se probleem is, maar ook dat dit net hy is wat dom en onbeholpe was. Dan sal dit weer gebeur, keer op keer, terwyl hy sukkel om te verstaan. ’n Droewe vooruitsig. Hy sal maar moet ligloop, besluit hy. Vroumense verstaan, is nie ’n maklike ding nie.

    En nog soveel meer hierdie Duitse Mädchen. Van haar weet hy net mooi niks.

    2

    Ná die eerste jaar het Goraseb Safaris ’n klein balans op die bankstate gewys. Heelwat van die skuld wat John aangegaan het om die toerusting aan te skaf was al gedelg, en daar was amper twintigduisend rand in ’n spaarrekening, vir die wis en die onwis.

    Vir John was die banksakkie vol buitelandse note, wat hy sorgvuldig in sy groot huis op Guntsas weggesteek het, egter veel belangriker: die saadkapitaal vir Teufelsbach Gemstones (Pty) Ltd se volgende onderneming.

    Pretorius het gewonder hoekom sy vennoot dit saadkapitaal noem, maar hy wou nie vra nie. Van finansies verstaan hy soveel soos ’n kat van saffraan. Hy ken ’n dieselenjin en hy weet hoe om remme te bloei, maar moenie met

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1