Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Klassiek reeks: ’n Ander land
Klassiek reeks: ’n Ander land
Klassiek reeks: ’n Ander land
Ebook550 pages7 hours

Klassiek reeks: ’n Ander land

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Teen die einde van die negentiende eeu kom ’n middeljarige besoeker uit Europa in die binneland van Suid-Afrika aan. Versluis is ’n afsydige, aristokratiese Nederlander wat na Bloemfontein kom om van tering te herstel. Hy verken die vreemde land en doen algaande kennis en begrip op van dít wat tot dusver vir hom vreemd was. Dit word ook, uiteindelik, ’n voorbereiding op die onafwendbare einde van die reis: die dood. Die “ander land” word nie net geografies bedoel nie, maar ook die reis na die onbekende. Gerrit Olivier het geskryf: [dis] geen historiese roman nie, maar ’n boek oor die menslike kondisie”, en “groot nie net in omvang nie, maar ook in emosionele diepte en vervlegting van motiewe”.
LanguageAfrikaans
Release dateJun 15, 2013
ISBN9780798159982
Klassiek reeks: ’n Ander land
Author

Karel Schoeman

Karel Schoeman word beskou as een van die grootste literêre geeste ooit in Afrikaans. Gedurende sy leeftyd het meer as 30 romans en tientalle geskiedkundige en outobiografiese werke uit sy pen verskyn. In 1998 ontvang hy die Orde van Ikhamanga. Sy romans verskyn ook in Nederland, die VSA en Frankryk. Schoeman is oorlede op 1 Mei 2017.

Read more from Karel Schoeman

Related to Klassiek reeks

Related ebooks

Related articles

Reviews for Klassiek reeks

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Klassiek reeks - Karel Schoeman

    I

    Dat die reis beëindig is, het hy nie eers geweet nie: van die feit dat hulle aangekom het en die skynbaar oneindige gerammel en gestommel, gekraak, geskud en geswaai van die koets stil ge­word het, was hy nie bewus nie. Daar was die voortdurende beweging van die rytuig en die gedreun van die perdepote, die beknopte ruimte waarin hy met sy mede-passasiers saamgedruk was, die ongemaklike sitplek, die handbagasie wat oral in hoeke en gate ingestop was; daar was die hitte, die felheid van die son op die neergelate blindings, en die stof wat hulle in ’n fyn wolk omhul, wat oral indring en poeieragtig wit oor mense en koffers neersif. Hoeveel dae het dit geduur? Tien dae, het die drywer aan die begin van die tog belowe, maar êrens langs pad het hy die telling verloor, en hy weet nie of die belofte nagekom is nie.

    Hulle beur teen steiltes op, hulle rammel deur die vlak water van driwwe of oor die klipperige beddings van leë spruite, hulle laat die bome en groen weilande van die kus agter en dring dieper in die land, styg na die hoogtes van die groot plato’s, en sien geen teken van beskawing meer nie behalwe enkele wit plaashuise tussen hulle bome, onwesenlik soos lugspieëlings in die verte. Die blindings flap en fladder en ruk los, die felheid van die son verblind hom, die hitte van die lang dae word al hoe meer ondraaglik namate sy koors toeneem, en die fyn siftende stof vererger sy hoes: met gevoellose vingers tas hy in sy onderbaadjiesak na die pildosie, en kan dit nie raakvat nie. Hy raak aan die slaap of verloor kortstondig sy bewussyn, droom onrustig, en skrik wakker om hom telkens weer in dieselfde swaaiende, krakende koets terug te vind, op dieselfde verbleikte vlakte, onder dieselfde onverbiddelike son. Kyk, sê die man langs hom, en leun voor hom oor om die wapperende blinding opsy te druk en uit te kyk na buite, kyk, dis ’n aasvoël. Reeds ylhoofdig van die koors en half versuf kyk hy en sien deur die waas van die stof wat onder die wiele van die koets opgekarring word slegs die wydheid van die veld, die metaalagtige koepel van die lug. Sien jy? vra die man langs hom ongeduldig. Kyk, dáár! Sy vinger wys in die lug en dui ’n stippel in die ruimte aan: roerloos sweef die voël met uitgestrekte vleuels, soekend, wagtend. Hy sluit sy oë weer, maar dít is die beeld wat hom by­bly as vergestalting van hierdie vreemde land: die wye veld waar­oor die roofvoël sweef met uitgestrekte vleuels, geluidloos teen die hemel afgeteken terwyl hy wag op sy prooi.

    Die ander passasiers is in hoofsaak alleenreisende mans met geruite pakke en opsigtige horlosiekettings, wat sigare rook en onder mekaar praat oor die diamantbedryf, handelstransaksies en die jongste nuus uit Engeland: reeds gou ná die vertrek het dit vir hulle duidelik begin word dat hy siek is en daarna het hulle hom sover moontlik probeer vermy of ignoreer, ongemak­lik in sy teenwoordigheid met hul blakende gesondheid, hul luide selfvertroue. Daar is nog ’n paar jonger mans, winkelbedien­des of klerke, wat stilswygend die ander se gesprekke aanhoor en gedienstig oor hulle grappe lag, en twee jong meisies op pad terug huis toe van kosskool, maar ook hulle slaan geen ag op hom nie. Die enigste mede-passasiers wat aan hom aandag skenk, is die middeljarige Joodse egpaar wat van familiebesoek aan Duitsland terugkeer, met hulle reisdekens, waaiers, boeke, kussings en piekniekmandjie volledig bewapen teen die ongerief van die lang tog, en die Engelse onderwyseres – vroeg tydens die reis het hy uit sy onrustige, ylende slaap wakker geskrik en gesien dat sy na hom toe leun om hom haar flessie vlugsout aan te bied, haar oë effens bekommerd op sy gesig. Die Joodse dame dring daarop aan dat hy een van hulle kussings agter sy kop moet neem, haar man leun vooroor om dit vir hom reg te sit, steunend en moeisaam in die vol, stommelende rytuig, en by die stilhouplekke is dit hierdie egpaar wat hulle oor hom ontferm, wat hom behulpsaam is met die uitklim en sorg dat daar vir hom plek gemaak word aan tafel en dat hy iets kry om te eet. Die kos van die herberge en plaashuise kan hy egter nie eet nie: hy sien hoe die Joodse dame en die onderwyseres gedemp met mekaar gesels en in sy rigting kyk. Een keer, onthou hy later, het die man langs hom gesit met ’n bakkie sop en hom met ’n lepel probeer voer soos ’n kind – Kom, sê hy vriendelik, kom, jy moet iets eet. Hy is bewus van die man se klein, behaarde hande en sy goue ringe; hy draai sy kop weg van die vetterige sop. Dit moet naby die einde van die reis gewees het. Later – was dit minúte later, of was dit dáe? – het die man pro­beer om uit ’n veldflessie brandewyn in sy mond te druppel. Kom, hou moed, sê hy, net nog een dag, dan is ons by die huis.

    Dae en ure het egter geen sin meer vir hom nie: koors en delirium neem oor en die reis sal geen einde kry nie, skommelend, skuddend, stampend in die swaaiende rytuig met sy fladderende blindings waarin hulle in ’n veels te klein ruimte saam­gedruk is, warm, klewerig en ongewas, moeg en styf van die lang reis, wit van die stof, met die reuk van sweet, van eau-de-cologne, vlugsout en brandewyn vermeng, vasgevang op daar­die dooie vlakte onder daardie hoë son. Húlle gaan huis toe, dink hy by homself in een van sy laaste oomblikke van helderheid; maar h´y word al hoe verder weggevoer, al hoe dieper in ’n onbekende land.

    Die beweging het bedaar; die koors en die verwardheid het weggevloei en hom swak en vermoeid agtergelaat. Hy maak sy oë oop vir die helderheid, en lê lank na die patrone en kyk om hulle te probeer ontsyfer voordat hy besef dat dit vlekke is op die wit muur van die kamer waarin hy hom bevind. Die muur kan hy uitken, en stadig begin hy ’n verkenningstog deur die kamer, vind ’n stoel en ’n hangkas, en ontdek ’n deur wat half oopstaan en ’n swart vrou wat op die drempel staan en hom aanstaar van onder die doek wat laag oor haar oë om haar kop gebind is. Roerloos bekyk hulle mekaar, en dan draai sy om asof sy op die vlug slaan en hy hoor die geklap van haar kaal voete oor die grondvloer.

    Tyd gaan verby; hy slaap en word weer wakker, sien die wit muur en die deur en ’n vrou wat daar staan, ’n blanke vrou met ’n voorskoot voor en haar hare in ’n stywe bollatjie vasgedraai, wat hom agterdogtig aankyk en dan met huiwering nader kom na die bed, die voorskoot effens voor haar opgelig as besker­ming. Wat sy sê, kan hy nie verstaan nie, haar woorde tegelyker­tyd vertroud en vreemd, en dit duur ’n tyd voordat hy besef dat dit Nederlands is waarin sy hom aanspreek, maar met ’n swaar Duitse aksent. Is u wakker? vra sy bang, en hy knik, maar dit is al waartoe hy in staat is, en dan drywe hy weer terug in be­wusteloosheid.

    Die patrone op die muur het verander wanneer hy weer daarna kyk, want ’n kers brand op die kassie langs die bed en werp skadu’s op die onreëlmatige pleisterwerk. ’n Kort, bebaar­de mannetjie met ’n bril staan by hom terwyl hy iets in ’n leertassie terugstop. So, merk hy op, jy het na ons midde terug­gekeer. Hoe voel jy?

    Swak, antwoord hy, en sy stem is waarskynlik te sag om hoorbaar te wees. Die dokter – want die man is klaarblyklik ’n dokter – grom net by homself.

    Jy was siek gewees, baie siek. Wat het jou besiel om in jóú toestand op reis te gaan? Jy behoort by die huis te wees, onder die sorg van jou eie dokter, nie besig om hier in die binneland van Afrika rond te dool nie. Hy verwag egter geen antwoord nie, werp vinnig ’n blik oor die bed, neem sy tassie en maak hom gereed om te vertrek. Jy moet nou maar probeer aansterk, dit sal ’n tydjie duur – melk as jy lus voel daarvoor, sop, ’n bietjie brandewyn as jy behoefte daaraan het. Ek het vir Frau Schröder gesê, sy sal daarvoor sorg. Dan dink hy aan iets en kom weer nader aan die bed. Het jy geld? vra hy. Kan jy vir hierdie dinge betaal?

    Hy behoort aanstoot te neem aan die man se botheid, besef hy; maar nie nóú nie. Ek het geld, sê hy, en iets in sy toon druk skynbaar tog sy misnoeë uit.

    Dis net sodat ek weet, sê die dokter. Anders moet ons reëlings tref. Sy keil en sy tassie is in sy hand. Ek gaan nou, sê hy. Frau Schröder sal my laat roep as dit nodig is.

    Hy maak sy krag bymekaar om nog ’n vraag te probeer formuleer voordat die man verdwyn. Waar is ek? vra hy.

    Die dokter draai om en kyk hom aan. Jy’s in Bloemfontein, sê hy, jy’t aangekom. Bloemfontein is mos waarheen jy op pad was, nie waar nie? As iemand met longmoeilikhede op ’n passasierskoets klim, is dit maar altyd hiérheen dat hy op pad is – ons is al gewoond daaraan om sterwendes en lyke van die koets af te haal, en j´y is nie die eerste een wat bewusteloos hier in die hotel ingedra is nie. Maar dit wil my nie voorkom asof jy van plan is om jou by die lyke te voeg nie, al het ek in die begin nie gedink dat jy veel kans het nie. Hy glimlag effens, en sy oë is nie onvriendelik agter sy goueraambrilletjie nie, ten spyte van die bruuskheid van sy optrede. Met die hoed wat hy in sy hand hou, maak hy ’n vae afskeidsgebaar in die rigting van die bed, en vertrek.

    Dae gaan verby, daglig en donker wissel mekaar af. Ver weg hoor hy van tyd tot tyd stemme – toevallige los frases of onverstaanbare sinne êrens anderkant ’n binnehof of aan die einde van ’n lang gang, of verwarde manstemme en gelag, ’n deur wat toeklap, die geluid van brekende glas. Dit is ’n hotel waarheen hy bewusteloos uit die koets gedra is, verneem hy van Frau Schröder, en wanneer sy vasgestel het dat hy Duits praat, vertoef sy langer in die siekekamer, al bly sy op ’n afstand van sy bed staan en behou sy haar agterdog ten opsigte van die vreem­deling wat gebring is om onder haar dak te sterwe. Een keer hoor hy die geluid van ’n mannekoor, begelei deur ’n klavier: dit is die Duitse Liedertafel wat elke maand hier vergader, deel Frau Schröder hom mee, en hy dobber tussen slaap en waaksaamheid op daardie verre, bekende volksliedere vol herinne­rings, gesus deur die ontdekking dat dit wat agtergelaat is tog nie so ver is soos wat hy gemeen het nie.

    Dan weer verras die land hom egter met die swaar gedreun van onweer en die gekletter van hael op die sinkdak van sy kamer: ’n donderstorm, sê Frau Schröder, besig om senuwee­agtig aan haar voorskoot te pluk; hulle het vanjaar ’n goeie somer, deel dokter Krause hom mee tydens sy volgende besoek, dit reën mooi, maar die hael het skade aan die vrugteboorde aangerig. Sy kamervenster kyk uit op ’n smal gangetjie en ’n muur, ontdek hy; daglig bereik die vertrek dof en gedemp en berigte van die lewe daarbuite dring indirek tot hom deur, ty­dings van ver wat deur boodskappers aangedra moet word. Hy hoor die geroep van stemme in ’n vreemde taal en die geslof van die bediendes se kaal voete oor die kleivloer; ’n swartman kom van tyd tot tyd die slopemmer leegmaak, huiwerig voor die siek vreemdeling, glimlaggend wanneer hy gegroet word. Die land is tóg vreemd, besef hy; seë en vastelande skei hom ten slotte van dit wat vertroud is, alle skyn ten spyt.

    Op ’n dag vind hy op ’n stoel oorkant sy bed, geduldig besig om te wag dat hy moet wakker word, Herr Hirsch, die koopman wat hom tydens die eindelose tog hierheen versorg het en wat hom nou vrolik toelag. Ek het op siekebesoek gekom, roep hy. Jy mag inderdaad wel vra waarom nóú eers, maar ons goeie Dokter het tot dusver nie gedink dat jy vir sulke inspanning gereed is nie, dus moes ek genoeë daarmee neem om daagliks by hom navraag te laat doen aangaande jou vordering. Ek het jou in elk geval nie vergeet nie, en my liewe eggenote stuur jou ook groete en goeie wense vir beterskap – en, wat van meer praktiese waarde is … Hy spring op en gryp ’n mandjie wat eenkant op die grond staan. Perskes uit ons eie tuin, laatperskes – Vrystaatse perskes, van die beste in die wêreld – en ’n bottel Moët: dokter Krause verseker my dat dit nét is wat jy no­dig het om jou weer op die been te bring, en terselfdertyd om jou ten spyte van jou minder gelukkige aankoms in Bloem­fontein te laat voel dat jy welkom is in ons midde. Stralend van gesondheid, van welvaart, van vriendelikheid sit hy daar oor­kant die bed, bene uitmekaar en hande op die knieë, ’n glimlag op sy bebaarde gesig; die seëlringe, die horlosieketting, die das­speld glinster in die doflig van die kamer. En as daar nog iets mog wees waarmee ons behulpsaam sou kan wees in hierdie onaangename tydjie totdat jy behoorlik aangesterk het – as daar byvoorbeeld briewe sou wees wat jy geskryf wil hê … Moont­lik is daar vriende in Nederland wat van jou aankoms in kennis gestel moet word, handelskonneksies … Afwagtend bly hy daar sit, gretig om van diens te wees.

    Ná die lang swye, die lang onttrekking moet hy weer ’n gesprek aanknoop; uit hierdie stil gebied voer brûe terug na die ander oewer, na die wêreld van ander mense, van briewe en boodskappe, gebare en verpligtings. Hy moet teruggaan, maar lê eers nog die stap en oorweeg, met Hirsch wat oorkant die bed bemoedigend vir hom sit en glimlag. Nee, sê hy uiteinde­lik. Nee, baie dankie, daar is niemand wat in kennis gestel hoef te word nie.

    Vir ’n oomblik kyk Hirsch hom skerper aan, asof hy agter die glimlag besig is om te oorweeg, op te som en tot ’n gevolg­trekking te kom; maar wanneer hy verder praat, is sy stem so lig en sy toon so sorgeloos soos voorheen. As daar dan miskien ánder reëlings is waarmee ek van diens sou kan wees – ek besef dat jy hier vreemd is in ’n vreemde land, en as ék wat hier woon en werk, trouens al vir meer as ’n kwarteeu – ja, bykans dertig jaar – en wat my kontakte en my kennisse hier het, met enig­iets sou kan help …

    Terug oor die brug na die ou vertroude oewer, na die beken­de land, na die lewe wat aangaan. Ek het wissels op ’n plaas­like bank, begin Versluis, maar Hirsch onderbreek hom met ’n vinnige, afwysende gebaar.

    Wanneer jy weer op die been is, sal ek jou aan ons bank­bestuurder voorstel, en intussen is dit nie nodig om jou te be­kommer nie, almal vertrou jou. Daar is weer ’n klein oomblik van stilte, en dan spring hy op. Maar ek stel voor dat ons met die kuur begin, waarom sou ons wag? Reeds is hy besig om met vinnige bewegings van sy klein, behaarde hande die draad­omhulsel van die sjampanjeprop af te wikkel. Ek sal net ’n enkele glasie met jou drink op jou gesondheid, dan moet ek terug wees in my winkel, maar dan bly daar ook des te meer in die fles agter om die middag in die siekekamer vir jou te help verkort. Die prop skiet af, die sjampanje skuim uit en word met ’n servet uit die mandjie opgevang. Dit is wel nie heelte­mal in die toestand waarin mens dit graag sou wil sien nie, maar dit het ’n lang pad gekom – per skip uit Europa en per ossewa verder na ons, jy weet ook self hoe lank en vermoeiend daardie reis is. En daarby moet ek ook toegee dat dit nie so goed verkil is soos wat dit by ons in Europa sou wees nie, maar jy sal hopelik in ag neem dat dit nou die middel van die somer is en dat ys hier in Bloemfontein helaas ’n onbekende luukse is – jy sal die goeie bedoelings maar moet aanvaar en toelatings maak vir Afrika. Twee fluite word uit die mandjie te voorskyn gehaal en die wyn word bruisend ingeskink, ’n fluit word in sy hand gedruk. Op ’n spoedige beterskap, sê Hirsch, en knik hom glimlaggend toe, sy eie glas opgehef. En op ’n lang en aangename verblyf hier in ons midde.

    Hulle drink: Hirsch proe, oorweeg, en vee sy snor dan versigtig met ’n sakdoek af. Maar ek herhaal, jy hoef net te laat weet as daar iets nodig mog wees om jou bestaan in hierdie nuwe leefkring te veraangenaam – dit sal my die grootste ge­noeë verskaf om vir jou ’n rekening oop te maak, en om van elders te verkry wat ek self miskien nie in voorraad het nie. ’n Enkele reëltjie, ’n briefie met een van die bediendes …

    Hy word reeds ylhoofdig van die warm, skuimende sjampan­je nadat hy so lank niks gedrink het nie, besef Versluis. Daar is vaste grond onder sy voete en die buitelyne van die wêreld wat hy so lank gelede agtergelaat het, begin weer dof om hom op­doem. Miskien … begin hy traag, en dadelik breek die mannetjie af en buk oor die bed om te probeer hoor wat hy sê en te help. As u so vriendelik sou wil wees – my skeergerei en ander toiletartikels is in my valies, en skoon linne. Miskien sal u …

    Reeds is Hirsch egter op sy knieë by die tas. Maar met die grootste plesier, jy moes al lankal gepraat het – ék moes trouens self daaraan gedink het. Die knip van die valies is oopgemaak, en terwyl hy praat, is hy besig om die artikels wat hy daaruit te voorskyn haal met vinnige, presiese bewegings in die laaikassie of hangkas te besorg, so vaardig soos ’n kamenier. Jou ander bagasie volg natuurlik met die transportwa, dit duur langer, maar teen die tyd dat jy op is, sal dit wel hier wees, dan sal ons daaraan aandag skenk en weer orde in jou lewe skep na al die ontwrigting van die reis en hierdie lastige siekbed. Boeke, skryfmap en reiswekkertjie word op die kassie langs die bed neergesit; boordjiehouer en mansjetknoopdosie, toiletflessies, skeermes en -kwas, skeerbeker en -riem, klereborsels, sakdoeke, handskoene, dasse, hemde en onderlinne wat almal so lank ge­lede ingepak is, word uitgehaal, en sonder dat die vlotheid van die gesprek selfs vir ’n oomblik versteur word, betrag hy elke afsonderlike voorwerp met ’n vinnige takserende blik, doen ’n waardasie en keur die groottotaal goed: liggies streel die klein, behaarde hande waar die seëlringe aan skitter die gebruiksvoorwerp of kledingstuk wat hulle besig is om weg te sit, vol waar­dering vir die gehalte van die linne of sy, die waarde van silwer, leer of kristal.

    Aan die ander kant voel ek dat ek jou miskien tog moet probeer gerusstel omtrent die land waar jy jou nou bevind. Jy dink moontlik dat jy jou na die rand van die beskaafde wêreld begewe het, my liewe vriend, en ná die uitputtende reis wat jy moes deurmaak om hier te kom, sou dit ook verstaanbaar wees; maar ek kan jou verseker dat dit tog nie so is nie. O ja, ons mis baie van die geriewe en verfynings wat in Europa vanselfspre­kend is, en ons het te make met allerlei probleme wat vir jou heeltemal vreemd sal wees, droogtes en stofstorms en haelstorms, roofdiere en sprinkane, en die geweldige afstande van hierdie land, die isolasie waarin ons noodgedwonge lewe. Maar ons is tog nie hééltemal buite die grense van die beskawing nie, ons hou Europa in stand hier in die hart van Afrika. Sjampanje kan ons hier kry, daarvan hoef ek jou nou nie meer te probeer oortuig nie, en die beste wyn uit Duitsland en Frankryk, en wanneer daar ’n spesiale feestelike geleentheid is, kan ons goeie vriend Schröder hier by die hotel ’n voortreflike eetmaal organi­seer om dit te vier. Ons het ’n leeskamer waar jy insae kan kry in die beste tydskrifte uit Europa, ’n leenbiblioteek, ’n literêre vereniging, en ’n aantal van ons dames het ’n leeskring in die lewe geroep om aandag aan die groot meesters van die wêreld­letterkunde te bestee. Ons het ’n sangvereniging en voortreflike musiekuitvoerings, en as jy iets ligters begeer, is daar danse wat tot dagbreek duur met dames so elegant soos wat jy in enige stad in Europa sal kan vind. Jy kan kroukie by ons speel, en tennis; ons het ’n gimnastiekklub, jy kan perdry, en jaarliks vind daar by ons perdewedrenne plaas wat besoekers van dwarsoor die land aantrek. En ten slotte, as ek tot die persoonlike mag afdaal, wanneer jy ’n bietjie aangesterk het, staan ons eie huis vir jou oop; my eie rytuig is tot jou beskikking vir verkenningstoggies in die omgewing, en my vrou en ek sal dit albei as ’n voorreg beskou om jou te mag vergesel.

    Die valies is uitgepak: waar hy aan die voetenent van die bed staan, straal sy klein, bebaarde gesig. Maar ek vermoei jou, sê hy. Jy wil rus en tot verhaal kom, en ek moet my aandag weer aan my sake skenk – die winkel was lank genoeg onder die klerke se sorg terwyl ons oorsee was, en dit is ook maar die oog van die baas wat die perd vet maak, nie waar nie? Ek sit die bottel op die kassie langs jou, binne handbereik, sodat jy dit op jou gemak kan oopmaak, en daarmee laat ek jou weer in die sorg van die goeie Frau Schröder en ons bekwame dokter Krause. My vriend, ek sê vir jou voorlopig tot siens.

    Hy vul nog gou die glas op die nagkassie voordat hy gaan; op die drempel draai hy om met ’n knipoog en ’n opgehefte hand, en dan is hy weg en sy vinnige voetstappe word stil langs die gang. Vermoei deur die besoek en deur die drukte van die besoeker lê Versluis agteroor teen die kussings sonder om sy hand na die glas sjampanje langs hom uit te steek. Dit moet laatmiddag wees, dink hy, vir die eerste keer weer herinner aan die feit dat die tyd voortgaan en die dae verbygaan buite hierdie kamer waar die lig hom slegs indirek bereik, weerkaats van die muur teenoor sy venster, en hy die afwisseling van lamplig en kerslig, daglig en donker tot dusver onnadenkend aanvaar het. Die gebruiklike skemeragtigheid van die vertrek is besig om te verdiep en die stilte verdig om hom soos water waardeur hy willoos voortgebeur word. rens roep ’n man; êrens word ’n deur toegeklap en rinkel glase. Buite hierdie betowerde kring van stilte en skemer waarin hy vasgevang is, gaan die lewe ver­der; die middagson skyn op die strate en pleine van die stad wat hy nog nie gesien het nie en wat hy hom nie eers kan voor­stel nie, mure weerkaats die volle helderheid van die sonlig en bewaar die hitte van die somer, in die boorde word perskes ryp; Hirsch is terug in sy winkel en gesels met klante en met klerke.

    Die water styg, die vaal kilheid omring hom, die bedbedek­king vang hom soos waterplante vas. ’n Skielike, onverklaarbare paniek gryp hom beet, en met ’n krag waartoe hy hom nie in staat sou geag het nie, gooi hy die komberse van hom af sodat die fluit met sjampanje van die kassie langs die bed afge­slaan word en op die kleivloer aan skerwe spat, swaai sy bene oor die rand van die bed en probeer orent kom. Die enkele ge­welddadige gebaar is egter al waartoe hy in staat is: uitgeput van die inspanning bly hy daar sit, hygend en met koue sweet wat op hom uitslaan, en moet met albei hande aan die rand van die matras vashou om nie te val nie, homself dwing om nie sy bewussyn te verloor nie, verbete verwikkeld in die stryd met ’n onwillige liggaam en gees terwyl ’n oneindigheid verbygaan.

    Hy maak sy oë oop en sien die kamer waar die skemer van die laatmiddag verdiep, sien met ’n sekere afkeer die skraal wit bene wat onder die naghemp uitsteek en die glasskerwe by sy voete op die vloer, die nat vlekke waar die sjampanje wegge­loop het. Hy wil lewe, dink hy met ’n laaste opwelling van energie, uitgeput soos ’n swemmer deur sy stryd met die golwe; en dan val hy weer agteroor op die bed.

    Frau Schröder se aarseling en wantroue verdwyn algaande en die aandag wat hy ontvang, ondergaan ’n dienooreenkomstige verandering: ongevraag word daar vir hom nog kussings ge­bring, en die kers in sy kamer word stilswyend met ’n paraffienlamp vervang. Eers neem hy aan dat dit is omdat hy begin het om met haar Duits te praat, maar algaande besef hy dat dit eerder die ivoorborsels en toiletflessies met silwerdoppies op die laaikassie is wat hierdie toenemende vriendelikheid opge­roep het. Sy kom meer dikwels na sy kamer en vertoef daar om te gesels of een of ander diens aan te bied, gerusgestel wat be­tref sy vermoë om daarvoor te betaal, ’n hoekige vroutjie met hare in ’n bolla vasgetrek, ’n blos van opwinding op haar hoë jukbeendere terwyl sy ’n gesprek aanknoop. Miskien, wanneer hy ’n bietjie beter voel, stel sy voor, miskien sou hy graag van kamer wil verander. Op die oomblik is daar niks beskikbaar nie, maar sy het ’n mooi groot enkelkamer met ’n uitsig op die straat. En met ’n plankvloer, voeg sy as finale lokmiddel by. Maar láter, wanneer hy meer krag het en kans sien vir die verskuiwing.

    Dokter Krause brom in sy baard asof hy besig is om een of ander onherkenbare refrein te neurie en tas Versluis se liggaam af, luister fronsend na sy hart, klop op bors en rug, en brom dan binnensmonds verder terwyl hy sy instrumente in sy dokterstassie bêre. Ek sien mens kan jou nie keer nie, merk hy op. Jy’t jou nou eenmaal voorgeneem om beter te word, maak nie saak watter oordeel die mediese beroep oor jou gevel het nie.

    Versluis glimlag by homself. As ek wou doodgaan, kon ek dit ook in Nederland gedoen het, dokter. Dit sou nie nodig ge­wees het om so ’n lang reis aan te pak nie.

    Was dit jou dokter in Nederland wat jou aangeraai het om hierheen te kom?

    Hulle het my aangeraai om na ’n beter klimaat te gaan. Dit was my eie keuse om na Afrika te kom.

    Krause bly staan asof hy nadink, hoed in die een hand en dokterstassie in die ander soos altyd, asof hy nouliks die tyd kan afstaan om hier te bly gesels. Ek sien dus jy heg glad geen waarde aan dokters en hul menings nie. Nou ja, miskien het jy gelyk, in jóú geval werk dit klaarblyklik. Jy moet al taamlik ver heen gewees het toe jy uit Nederland weg is – hulle het jou in elk geval so na as wat kan kom aan die dood hier uit die koets gedra – maar jy het besluit om te lewe, en hier lê jy vandag nog voor my. Op die oomblik is daar niks meer wat ék vir jou kan doen nie. Gaan maar self so verder met die diagnosering en die behandeling – ek glo trouens dat sulke dinge in ’n sekere mate in die pasiënt se eie beheer is: net in ’n máte, let wel, en daarna het jy geen keuse meer nie, maar dit is ’n ander kwessie, waaroor ons later miskien nog kan gesels. M´y sal jy in elk geval nie weer sien nie, tensy jy my laat roep. Reeds is hy op pad by die kamer uit, so abrup soos altyd, sonder om te groet, asof hy skielik aan ander, belangriker dinge gedink het wat sy aandag heeltemal in beslag neem. Nou sal jy moet besluit wat jy ver­der met jou lewe wil doen, aangesien jy dit teen alle verwagting teruggekry het, voeg hy by, en dan is hy weg.

    Hy wil sy lewe hervat waar dit onderbreek is, dink Versluis: hy wil opstaan, sê hy vir Frau Schröder, wat rooi vlekke op haar hoë jukbeendere kry van opwinding terwyl sy die kneg aansê om ’n leunstoel na die kamer te bring en die kroegman gaan roep om te help, ’n jong Duitser met opgerolde hempsmoue en ’n voorskoot omgebind waar hy agter die kroegtoonbank weg­gehaal is. Wantrouig kyk hy in die kamer rond, ongemaklik in die aanwesigheid van siekte en swakheid met sy kranige jong liggaam en gespierde arms.

    Hy is swakker as wat hy besef het, ontdek Versluis: nouliks het hy hom opgebeur uit die bed of sy bene vou onder hom in en hy kantel, sodat hy soos ’n drenkeling aan die kroegman moet vasgryp, wat hom vang en half dra, half sleep na die stoel. Met vernederende duidelikheid raak hy bewus van die onvermoë van sy liggaam, sy gehyg ná hierdie klein inspanning, die verkreukelde naghemp wat tydens sy siekbed nooit verskoon is nie en die onwelriekendheid van sy ongewaste liggaam, en terselfdertyd ook van die jong man se onbegrip en sy onverskilligheid teenoor die swakheid van die invalide, waarskynlik vermeng met veragting vir sulke hulpeloosheid.

    Uitgeput val hy neer in die leunstoel wat vir hom gereed gesit is, oorweldig deur ’n hoesbui, en die kroegman bly staan daar selfbewus met hande langs die sye, wagtend op verdere opdragte, maar hy kan slegs vir hom knik in bedanking, en die jong man draai om en keer terug na sy kroeg. Dit is slegs die eerste stap hierdie, herinner Versluis hom egter waar hy dub­belgeboë sit nadat die gehoes bedaar het, sy kop op sy knieë, en kom dan orent om verder te gaan. Hy moet skeer, sê hy vir Frau Schröder, wat nog gewillig in die kamer ronddartel, en sy stem is so swak dat sy nie eers sy woorde kan opvang nie. Nee, hy wil geen tee hê nie, verseker hy haar, net warm water en sy skeergerei, ongeduldig oor elke beswaar en elke poging tot uitstel wat sy terugkeer na die lewe vertraag, dog sy skud haar kop. Hy is nog te swak, verseker sy hom, hy kan nie eers ’n skeermes vashou nie, maar wanneer sy merk hoe haar verset hom ontstel, gee sy toe. Sy sal weer vir Gustav stuur, onder­neem sy, en dit is dan ook die jong kroegman wat met skeerwater en handdoek terugkeer en werktuiglik begin om die skeermes te slyp sonder om iets te sê of om Versluis selfs aan te kyk. Gewoond soos wat hy daaraan is om deur lyfkneg of barbier geskeer te word, voel Versluis nogtans ongemaklik oor die diens wat hierdie swygende jong vreemdeling hom nou bewys, stadig, versigtig en ’n bietjie onhandig, met sy tong tussen sy tande vasgebyt in konsentrasie, die punt net sigbaar tussen sy lippe; en weer eens is hy bewus van die man se gebrek aan be­langstelling in wat hy doen en sy versweë minagting vir die kranklike middeljarige vreemdeling wie se toilet hy moet versorg, en daarby ook van sy fisieke aanwesigheid met sy jeug en sy krag, die gespierde wit arms onder die opgestroopte moue, die dik nek en die lae voorhoof waaroor die hare so versigtig in ’n golwende kuif afgekam is. Verneder deur die besef van sy eie hulpeloosheid teenoor die kroegman kan Versluis egter niks vind om vir hom te sê nie, en uiteindelik het die stilte ook te lank geduur om nog verbreek te word. Ongemaklik swyg hulle dus in die swygende kamer, totdat Gustav agteruit tree, skeermes in die hand, sy taak verrig.

    Ek moet iets anders aantrek, sê Versluis dan moeisaam. In die kas is daar ’n skoon naghemp. As jy so vriendelik sal wees …

    Gustav haal dit: werktuiglik maar ongeïnteresseerd word hy gehelp om die ou naghemp oor sy kop te trek, en hy laat dit op sy skoot val om sy naaktheid te bedek terwyl hy in die skone gehys word. Eintlik sou hy ook wil was, besef hy, hinderlik be­wus van die klewerigheid en vuilheid van sy eie liggaam, maar hulp met hierdie intieme handeling kan hy nie van die ander man vra nie, selfs al was hy nie te uitgeput van die inspanning om nog verder te probeer praat nie. Die vuil naghemp bly dan opgebondel op die vloer lê; Gustav neem die skottel skeerwater weg, en dit duur nie lank nie of Frau Schröder kom binne met ’n skinkbord. Ek het vir u tee gemaak, deel sy hom mee met groter opgewektheid as gewoonlik. Het Gustav u goed ge­skeer? Hy is vanmiddag haastig, daar’s vanaand ’n dans in die dorp en my man het gesê hy kan gaan, hy sal self in die kroeg bly. Sy giggel by die vooruitsig van die vermaak waaraan sy self geen deel sal hê nie, en buk om die naghemp op te tel. Ek gaan haal vir u skoon beddegoed, net ’n oomblik. Reeds het sy die bed begin afstroop. Hy het uit die dode teruggekeer, dink Ver­sluis by homself, en sy windsels afgelê. Frau Schröder bondel die gevlekte naghemp, die verkreukelde lakens en slope saam: hy word weer as mens erken en aanvaar, sy gelaatstrekke vir elkeen herkenbaar; hy het na vore getree as reisiger met ’n varkleertoilettassie en flessies met silwerdoppe, as ’n man wat bevele kan gee en betaal vir wat hy verbruik. Hy het weer homself geword.

    Daar kom weer onderskeid tussen dag en nag, tussen patrone van lig en donker en gradasies van skemer en skaduwee: hy herken ’n groei en ’n afneem in die helderheid wat van die muur oorkant sy kamervenster weerkaats word, en daar is af­wisseling tussen die opeenvolgende dae merkbaar. Saterdag bring ’n toename in die lawaai van die kroeg, waaraan Gustav en Schröder hul volle aandag moet wy, sodat Frau Schröder die hotel alleen behartig en haar nie laat sien nie. Sondag is daarenteen ’n dag van skielike stilte, wat selfs in die afsondering van hierdie agterkamer merkbaar is, met die getamp van klokke ver weg in die oggend, en later Hirsch se glimlaggende gesig wat om die hoek van die kamerdeur verskyn.

    So, al op? vra hy. Ek het die berig verneem en kom kyk of dit inderdaad moontlik is, maar dit ís – ek wens jou geluk, en ek verheug my saam met jou. Hy kom van agter die deur te voorskyn en betree die kamer, ’n mandjie in die hand. Al my Christenvriende het hulle vanoggend kerkwaarts begewe, en aangesien daar vir óns handjie vol plaaslike Hebreërs geen moontlikheid van godsdiensoefening bestaan nie, sy dit nou op Sabbat of Sondag, het ek besluit om my aan siekebesoek te wy, wat ook welgevallig is in die oë van die Here, soos ons as kinders geleer het. En dit is ook nie bloot net my geselskap wat ek jou kom bied nie – siedaar! Hy het die mandjie op ’n stoel neergesit en verwyder die doek waarmee die inhoud bedek is. Van my vrou, met haar beste komplimente, ’n skottel hoendersop wat miskien sal help om jou eetlus aan te wakker. En uit ons tuin, ’n beskeie ruikertjie, net om vir jou te bewys dat ons nie van sulke voorregte verstoke is nie, al lewe ons hier ook aan die rand van die woestyn – ’n pand, my vriend, soos Noag se duif hom in die ark gebring het. Hy kyk vinnig in die kamer rond en steek die ruiker dan in die lampetkan op die wastafel – tot die goeie Frau Schröder dit vir jou kan versorg. En ten slotte het ek ’n paar koerante saamgebring, uitgawes van ons plaaslike nuusblaaie oor die afgelope weke, alhoewel ek nie weet of ek jou in hul inhoud sal kan interesseer nie. Vir sover dit die buiteland betref, sal hulle natuurlik net óú nuus bevat, dieselfde nuus, om die waarheid te sê, wat met ons saamgereis het op die skip, en die Suid-Afrikaanse berigte sal vir jou seker nog nie van groot belang wees nie. Sir Barkly, president Bur­gers, Sekhukhune, Cetshwayo – wat beteken hierdie name nou vir ’n nuwe aankomeling in ons midde? Maar as jy my sal toelaat … Reeds is die mandjie op die grond neergesit en die stoel nader getrek. ’n Paar algemene stukkies, ’n oorsigtelike artikel, ’n brief van ’n leser oor een of ander interessante onderwerp – as dit jou nie sal vermoei nie, sal ek graag vir ’n uur of wat ’n bietjie vir jou voorlees.

    Hy gaan sit en haal ’n goue leesbrilletjie te voorskyn, vou ’n koerant oop en sprei dit wyd uit om die karige weerkaatste dag­lig te vang, sy rug na die venster gekeer. Sy voordrag is vlot en lewendig, al lees hy Nederlands en Engels met dieselfde swaar Duitse intonasie, en hy geniet klaarblyklik die klein vertoning wat hy gee. Van tyd tot tyd onderbreek hy die voorstelling met een of ander op- of aanmerking, ’n verklarende of relativerende stukkie kommentaar op die bestuursvorm van die Kaapkolonie of die politieke en finansiële probleme van die Transvaal, ’n uitleg van ’n toespeling op plaaslike omstandighede of ’n Engelse woord wat Versluis moontlik nie sal begryp nie, en dan kyk hy vir ’n oomblik op van die koerant en betrag Versluis met dieselfde vlugtige taksasie waarmee hy die waarde van linne, silwer en leer beoordeel het. Hy verwag egter geen antwoord nie: ont­spanne sit hy daar, een been oor die ander geslaan, met die koe­rant wyd voor hom oopgesprei om die daglig te vang, en ewe ontspanne en ongedwonge maak hy dit ná ’n uur weer toe en staan op.

    Ek het jou hopelik ’n bietjie afleiding verskaf sonder om jou te veel te vermoei, en vir jou ’n mate van kontak met die buite­wêreld bewerkstellig. Ek hoop dat dit nie lank sal duur voordat jy dit self sal kan verken nie, en ek wil selfs hoop dat ons volgende ontmoeting in ons eie woning sal kan plaasvind. Intus­sen kan ek maar net herhaal wat ek gesê het, as jy iets mog be­nodig, staan ek geheel en al tot jou diens. Ek groet jou. Dan is hy weer weg. Die stapel koerante en die skottel met sop wat hy gebring het, bly op die bedkassie agter, en op die wastafel lig die blomme helder op; die geur van eau-de-cologne wat hom om­gewe, hang nog lank in die benoude, effens muwwe hotelkamer.

    Frau Schröder, styf vasgeknoop in haar swart Sondagrok, bring ’n vaas en steek die blomme met skerp, onhandige gebare daar­in. Ja, merk sy op, as mens jou eie put het, kan jy maklik tuinmaak – én as jy tyd het vir sulke dinge. Hulle het natuurlik genoeg water om heeldag te kan natlei, die Hirsche, hy het klerke aan wie hy die winkel kan oorlaat as hulle lus voel om weg te gaan, hy het swartes om al die werk te doen, hulle huis is vol bediendes, sy vrou lig nooit ’n vinger op nie behalwe om af en toe ’n bietjie sop of ’n pastei te maak. Haar afkeuring is duidelik, en dit is ewe duidelik dat sy self geen tyd vir ydelhede soos tuinmaak het nie. Dan versag haar gesig egter vir ’n oom­blik waar sy met die vaas in haar hande staan. Maar hulle het ’n mooi tuin, gee sy toe, ’n blomtuin en ’n vrugteboord, u moet dit sien.

    Die blomme bly lank daar staan, helder, formele jakobreg­ops en gousblomme. By die eerste teken van verdorring maak Frau Schröder aanstaltes om die vaas te verwyder, maar hy keer haar: elke keer wanneer sy hierna in die kamer kom, kyk sy die verwelkende blomme afkeurend aan, maar hy hou hulle op die kassie solank die kleur nog op die blomblare sigbaar is.

    Sonder betrokkenheid blaai Versluis deur die koerante wat Hirsch hier agtergelaat het en kyk na die advertensiekolomme, die aankondigings van vendusies en insolvensies, die sterf- en huweliksberigte, die kennisgewings oor krieketwedstryde, perde­wedrenne en konserte, die name van plekke wat hy nie ken nie en persone wat hy in geen enkele verband kan plaas nie, die eerste sketsmatige topografie van die onbekende land wat wag om verken te word, die skimagtige aanduiding van strome, heuwelrye en dorpe.

    Die land wag, die verwelkende blomme op sy nagkassie is slegs ’n aanduiding van tuine, boorde, plantasies en parke wat hy nog nie eers gesien het nie, ’n herinnering aan die bestaan van die nuwe en vreemde lewe daar buite, soos die geluide wat hom van tyd tot tyd langs die gang af bereik, die stemme, gelag of toeslaan van ’n deur.

    Die swart kneg, Josef, kan vir hom water gaan haal by die put, sê Frau Schröder, en die man sleep ’n heupbad in die kamer in en dra die water emmersgewys met ’n juk vir hom aan, sloffend op sy kaal voete oor die kleivloer, glimlaggend en gewillig al kan hulle hul slegs met moeite vir mekaar verstaanbaar maak, die formele Nederlands van die buitelander en die gebroke Hollands van die kneg ewe onbegryplik.

    Hy wil geen hulp vra nie en begeer trouens ook geen hulp nie: alleen trek hy hom uit en begin hom met klein, versigtige bewegings was terwyl hy met een hand aan ’n stoel vashou. Dit is ’n moeisame proses, en hy lê uitgeput agteroor in die leunstoel wanneer Josef die vuil water kom uitgooi, maar hy het dit reggekry. Hierna laat hy die man elke dag vir hom water bring, en hy begin ook om hom self te skeer, al het sy hande aanvanklik nouliks die krag om die skeermes of -riem vas te hou. Dag na dag kan hy sy vordering sien en kan hy merk hoe die swakheid en die koorsaanvalle, die hoesbuie en kortasemigheid meer selde word. Hy begin hom aantrek, al bly hy vir eers nog in hempsmoue en met pantoffels daar sit, sonder energie vir die stryd met boordjie, das en skoene. Een van die dae sal hy eet­kamer toe kan kom vir sy maaltye, merk Frau Schröder bemoe­digend op.

    Die paar boeke wat hy vir die reis ingepak het, lê op die kassie langs hom, maar hy vind dit nog moeilik om op die woorde te konsentreer, en uiteindelik neem hy maar weer die koerante op wat Hirsch hier agtergelaat het, blaai deur hulle, lees die berigte wat toevallig sy aandag trek, en begin algaande vertroud raak met die name van plekke of persone wat herhaal­delik voorkom, die name van ampsdraers, van firmas en win­kels, van prokureurs, afslaers en agente. Onbekende woorde wat hy in die Nederlandse of die Engelse berigte teëkom, raak so bekend dat hy hul betekenis mettertyd uit die verband kan aflei.

    Hy is beter, dink hy wanneer hy een dag uiteindelik daarin geslaag het om sy laarse aan te trek en vas te ryg. Hy sal opstaan en die eetkamer besoek, hy sal die hotel verken, hy sal uitgaan en die dorp vir die eerste keer sien. Hy sal sy sake gaan reël en miskien na ander huisvesting soek. Die blomme wat nog verwelkend op die wastafel staan, laat hy deur Josef weggooi.

    Hy het hom aangetrek en staan nog langs sy stoel, sy hand op die rugleuning, wanneer daar aan die deur geklop word. Dit is nie die klop van Frau Schröder of van Josef nie; Hirsch sou nie buite bly wag op ’n antwoord nie, en dokter Krause, toe hy nog op siekebesoek gekom het, het nouliks die moeite gedoen om te

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1