Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Rigtingbedonnerd
Rigtingbedonnerd
Rigtingbedonnerd
Ebook559 pages10 hours

Rigtingbedonnerd

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Wie is die Afrikaner vandag? Met ’n tas vol vrae reis die joernalis Fred de Vries van Orania na Pretoria om met uiteenlopende Afrikaners te praat: politici (FW de Klerk, Pieter Mulder), musieksterre (Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Fokofpolisiekar), sakemanne (Jannie Mouton), skrywers (Koos Kombuis, Antjie Krog) en selfs ’n vakbondleier ( Flip Buys) kom aan die woord. Hy ontmoet ook talle gewone Afrikaners – boere, polisielede en onderwysers - wat iets van die Afrikaner se psige aan hom verklap. De Vries gaan ook terug in die eskiedenis, besoek kunstefeeste en monumente en luister na Afrikaanse musiek om vas te stel wie die Afrikaner in die 21ste eeu is. Vir almal vra hy dieselfde vraag: is daar nog plek vir dié wit volk aan die suidpunt van Afrika en indien wel, waar is hul emosionele tuiste - hul Nkandla - in pres. Jacob Zuma se woorde?
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 13, 2012
ISBN9780624058021
Rigtingbedonnerd

Related to Rigtingbedonnerd

Related ebooks

Related articles

Reviews for Rigtingbedonnerd

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Rigtingbedonnerd - Fred de Vries

    Rigtingbedonnerd-web-cover.jpgRigtingbedonnerd op die spoor van die Afrikaner Post-94Fred de Vries

    Vertaal deur Zandra Bezuidenhout

    Tafelberg

    Opgedra aan:

    My ouers, wat al twee nog geleef het toe ek dit geskryf het

    "Wat ik voel is onverklaarbaar. Het is of ik om die tijd moet treuren, hoe langer ik naar de strandfoto kijk. Treurnis om het Europa dat achter ons ligt, om een specifiek idee van ‘modern’ dat de das zou worden omgedaan."

    — Henk van Woerden in Notities van een luchtfietser.

    Inhoud

    Inleiding

    DEEL 1 – Verward en onseker in Suid-Afrika

    1. Weemoedig in Verwoerdburg

    2. Wysheid in ’n boek

    3. Intermezzo

    DEEL 2 – Wat is ’n Afrikaner?

    4. Bloedrivier

    5. Anglo-Boereoorlog

    6. ’n Dag by die Apartheidsmuseum

    7. Terries-skiet in Angola

    8. Die groot argitek, FW de Klerk

    9. Intermezzo

    DEEL 3 – Rigtingbedonnerd?

    10. Orania

    11. Moederaarde

    12. ’n Stad

    13. Die taal

    14. Die politiek

    15. Intermezzo

    DEEL 4 – Ons is nie almal so nie

    16. Alien inboorling

    17. Antjie Krog

    18. Oor die kleurgrens

    19. Bitterkomix

    20. Fokofpolisiekar

    21. Intermezzo

    DEEL 5 – Quo vadis, Afrikaner?

    22. Nkandla

    23. Die armes

    24. Die rykes

    25. Afrikaners en geloof

    26. Onwillige Voortrekkers

    DEEL 6 – Die toekoms

    27. ’n Plekkie onder die son?

    28. G’n land vir sissies

    Bibliografie

    Bedankings

    Inleiding

    Wat neuk ons so met die Hollanders? het die rubriekskrywer Max du Preez eenkeer in die dagblad Beeld gewonder. Daardie gehyg na Holland moes lankal iets van die verlede gewees het. Dit het met niks anders as ’n minderwaardigheidskompleks te make nie. Die naelstring, as daar ooit so iets was, is geslagte gelede al geknip, was Du Preez, wat homself in die rubriek ’n volbloed-Afrikaan noem, se slotsom.

    Hy slaan die spyker op die kop. Sy gebruik van die woord neuk is al klaar ’n teken van diepliggende verskille tussen Afrikaners en Nederlanders. In Afrikaans het dit – anders as in Nederlands – niks met seks te make nie, maar beteken dit om iemand op te dons, of soos hierbo, om met iets of iemand te sukkel. Dis nogal ’n dubbelsinnige manier van sê, daardie: Wat neuk ons so met die Hollanders?

    Maar vir wat neuk ek nou eintlik so met die Afrikaners? Ek het met hulle kennis gemaak toe ek in 1992 vir die eerste keer in Suid-Afrika was. Tot in daardie stadium het ek nooit regtig besef dat jy wit Suid-Afrikaners rofweg in twee groepe kan indeel nie: Engelstaliges en Afrikaanssprekendes, of Engelse en Afrikaners. My enigste prentjie van wit Suid-Afrikaners was gebaseer op televisiebeelde uit die jare tagtig, waar polisiemanne met hul kenmerkende plat pette en knuppels onder swart betogers ingespring het. Ons het gehoor hoe apartheidsleiers soos PW Botha en Pik Botha (’n minister met so ’n naam was natuurlik vir ons skreeusnaaks, want pik is ’n Nederlandse slengwoord vir die manlike geslagsdeel) Suid-Afrika se beleid met ’n bulderende stem op Engels verdedig. Of daar was onderhoude met onversetlike boere met hul kort hare en kakieklere.

    Die minder emosionele beelde het my laat terugdink aan die Nederland van vroeër toe daar nog Christelike partye soos die KVP, SGP en CHU was . . . en politici soos Boer Koekoek. Daardie behoudende Nederland van Gerard Reve se roman uit 1947, De Avonden, het verdwyn nadat ons die groot veranderinge van die jare sestig en sewentig beleef het. Ons sou die volgende dekade ingaan as progressief en verdraagsaam, oftewel tolerant. Die Nederlanders kon goed saamleef met hul langhaarsoldate, hul liberale dwelmbeleid en hul bralose feministe. ’n Mens kon jou skaars indink dat hierdie blatant rassistiese Afrikaners dieselfde wortels as ons gehad het. Dalk was dit ook een van die redes waarom ons in die sewentiger- en tagtigtigerjare so heftig teen apartheid gekant was: om die historiese bande onder die mat in te vee; want as iets daarvan nog in ons agterlike, ingetroude grootooms en -tantes oorgebly het, het ons baie ver van hulle af weggegroei.

    Die praktyk was ’n ander storie en het net deels met die clichéagtige beelde ooreengestem. Ja, dit was maklik om boerse rassiste te kry, maar die meeste Afrikaners was warm, gasvry, uiteenlopend en onvoorspelbaar. Uit die aard van die saak was hulle stewig gewortel in die bodem van die Kaap, die Vrystaat en die Transvaal. Maar so los van hul Europese agtergrond as wat Max du Preez dit wou hê, was hulle darem ook nie. Die meeste van my vriende en kennisse – digters, skrywers, musikante, akademici, joernaliste, kunstenaars, swerwers, avonturiers en drinkebroers – het op skool saam met Afrikaans as vak ook Nederlandse voorgeskrewe boeke gehad. Daarby weet die meeste van hulle van Herman van Veen, Boudewijn de Groot, Stef Bos, WF Hermans, Jan Wolkers en sommige selfs van Willem Elsschot. Die filosowe met wie ek gesels het, het meer belang gestel in die Franse postmoderniste as die denke van swart Afrikane, en die regse groepe het noue bande gehad met eendersgesindes in Holland, Vlaandere en Skandinawië. Om die waarheid te sê, hulle het nog oorgenoeg met die Nederlanders en ander Europeërs geneuk.

    Gaandeweg het ek ’n obsessie begin ontwikkel met die Afrikaners, soos ’n mens met ’n musiekgroep of ’n skrywer behep kan raak. Soos ’n molekule wat om ’n kern beweeg. Soms het my ontmoetings gevoel asof daar feromone aan die werk was – daardie geurlose chemiese reaksie wat ’n toestand van opwinding en verrukking teweegbring. Dit het telkens tydens etes, drankies, digtersaande en konserte gebeur, op helder maanligaande en wanneer die geur van jasmyn swaar in die lug gehang het. Dit was soos ’n soort verliefdheid, met dieselfde diepte en die waan van onbegrensde moontlikhede. Sulke aande was eindeloos, gebalsem in wyn en musiek en literatuur wat my kop laat draai en my hart laat sing het. Dit was ’n vreemde gevoel van tuiskoms. En ek kon met trots sê: Party van my beste vriende is Afrikaners.

    Maar dan ook weer: so eenders en tog so totaal anders. Want daar was ook ontelbare oomblikke dat ek volledig uitgesluit gevoel het, dat ek soos daardie molekule teen die kern gebots en in die niet weggeskiet het, gedink het dat ek iets snap en tog absoluut niks daarvan verstaan het nie. Oomblikke van diep teleurstelling en bodemlose eensaamheid, van suur wyn, aaklige musiek en ’n taal wat sy subtiliteite en geheime nie wou prysgee nie. Dis dán wanneer die euforie plek gemaak het vir die swart gat. Ek het soos ’n buitestander gevoel, ’n regte uitlander.

    Dit het nogtans intens gebly. En nooit vervelig nie. Dieselfde vraag het oor en oor by my opgekom: Wie is hulle eintlik, hierdie Afrikaners?

    Een van my kennisse, Johann Rossouw, ’n filosoof met ’n somber geaardheid, het my gewys op ’n geskiedkundige gebeurtenis wat in Maart 1707 plaasgevind het. Op ’n dag in die nasomer het vier jongmanne, goed gekoring, die rustige Stellenbosch te perd binnegery. By die watermeul aan die rand van die dorp het hulle by die meulenaar en skrywer Dirk Simonsz ingebars. Hulle het so gevloek en tekere gegaan dat Simonsz hulle summier uitgesmyt het. In die verbygaan het hulle boonop sy vrou vir ’n hoer uitgemaak.

    Landdros Johannes Starrenburg en heemraad Jan Botma het op die petalje afgekom. Drie van die vier mans het hulle vinnig uit die voete gemaak, maar die 16-jarige Hendrik Biebouw wou nie padgee nie. Hy het die landdros met ’n meelsak probeer slaan en dié het hom met ’n sweep gedreig. Biebouw het hom kordaat aangekyk en die historiese woorde gespreek: . . . ik wil niet loopen, ’k ben een Africaander, al slaat die landrost mijn dood, of al setten hij mijn in den tronk, ik sal nog niet wil swijgen.

    ’n Mens kan dit afmaak as ’n onbenullige voorval en dronkmanspraatjies, maar daar het meer in gesteek. Die hele storie het hom in 1707 afgespeel, 55 jaar nadat Jan van Riebeeck aan die Kaap de Goede Hoop ’n verversingspos gestig het om vars produkte aan die skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie te lewer. Die kolonisering het geleidelik verloop. In 1662 was daar sowat 150 Europeërs aan die Kaap, maar teen 1707 het hulle aangegroei tot meer as 1 500 vryburgers – meestal boere of arbeiders en gewoonlik analfabete – wat as soldate of matrose deur die VOC in diens geneem is. Hulle het ’n armoedige bestaan gevoer en kort voor lank agterdogtig geraak oor die Hollandse regering.

    Dit was ook met Hendrik Biebouw se ouers die geval. Sy pa, Dietlov, het uit Mecklenburg in Duitsland gekom. Hy het die rang van korporaal gehad en homself as ’n vry chirurgyn beskryf, wat daarop neergekom het dat hy ’n gerekende doktersassistent was, hoewel sy handtekening uit ’n kruisie bestaan het. In Kaapstad het hy ’n slavin gekoop by wie hy ’n kind verwek het. Later is hy getroud met Willemijntjie Adriaanse, ’n Rotterdamse weeskind wat in 1688 saam met ’n groep Hugenote-vlugtelinge aan die Kaap geland het. Willemijntjie en Dietlov het vier kinders gehad, onder wie Hendrik, wat op 28 Mei 1690 gebore is.

    Hendrik Biebouw was dus ’n eerstegenerasie-Kapenaar, ’n arm rakker – waarskynlik ’n boerekneg – met ’n bruin halfsuster wat haarself ook nie meer as ’n Europeër beskou het nie. Dis presies wat hy onder die gebore Duitser landdros Starrenburg se neus wou vryf: Ik ben een Africaander! Dít was dus die oomblik dat daar aan die suidpunt van Afrika ’n volk ontstaan het wat hulle sou losmaak van hul onderdanigheid aan die Hollandse VOC en sou ontwikkel tot die unieke wit stam van Afrika wat deur die eeue heen ’n eie geskiedenis, taal, kultuur en fisieke kenmerke ontwikkel het.

    Biebouw het bedroë daarvan afgekom. Hy is eers in die tronk gegooi en toe op ’n VOC-skip gesit, waarna hy in 1719 êrens in die vreemde oorlede is. Maar dié rebelse gees sou onder die nageslag voortbestaan. Hierdie vryheidsdrang het weer opgeduik in die volksverhuising van die Voortrekkers wat die Kaap rondom 1830 in groot getalle verlaat het om aan die Engelse juk te ontsnap. Biebouw se oormoed steek ook kop uit by die generaals van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) – daardie bittereinders wat tevergeefs probeer het om die Britse oormag te verslaan.

    Verder het sy hardkoppigheid voortgeleef in die apartheidstratege wat kort ná die Tweede Wêreldoorlog, toe die hele wêreld nog diep geskok was oor die Jodevervolging, besluit het om rassisme in wette vas te lê en die swart meerderheid permanent buite die speelveld te plaas. En Biebouw se oorlewingsdrang leef post-1994 voort by die Afrikaners wat nou as gekortwiekte minderheid probeer om hul plek te vind in die nuwe, demokratiese Suid-Afrika met die ANC aan die stuur van sake.

    Dis oor laasgenoemde groep wat hierdie boek gaan. Die idee het ’n paar jaar gelede ontstaan nadat ek vir verskillende publikasies met ’n hele verskeidenheid Afrikaners onderhoude gevoer het en al hoe meer gefassineerd geraak het deur hul verskille en ooreenkomste met die Nederlanders. Terselfdertyd was ek verbaas oor al die teenstrydighede wat inherent is aan die Afrikaner – ’n plofbare, byna selfvernietigende mengsel van onbegrip, halsstarrigheid en innemendheid.

    Die vraag wat soos ’n paal bo water staan, is wat met ’n volk gebeur wat as ’n klein minderheid ’n hele land beheer het en dan meteens alle politieke mag verloor deur dit aan die voormalige vyand oor te dra. Hoe oorleef hulle so ’n terugslag? Hoe verwerk hulle die trauma? En bowenal: Hoe handhaaf hulle hul in ’n land wat al sedert 1652 gekenmerk word deur gewelddadige konflikte oor grond, goud en diamante? ’n Land waar bloed nie ophou vloei nie – van die amper volledige uitwissing van die Boesmans tot by die huidige plaasmoorde op wit boere. Hoe hanteer jy in so ’n situasie begrippe soos skuld en boetedoening, wraak en vlug?

    Dit beteken dat bruin Afrikaanssprekendes buite die bestek van hierdie boek val. Hulle was in die apartheidsjare tweederangse burgers en het dus met heeltemal ander probleme te kampe gehad. Hulle was destyds te donker om dieselfde regte as wit mense te geniet; ras het vir die apartheidsdenkers swaarder geweeg as kultuur. Die premier HF Verwoerd, wat in Nederland gebore is, was woedend toe daar in 1960 onder die Kaapse Afrikaners stemme opgegaan het om vir die bruin mense verteenwoordiging in die parlement te gee. Ek sal nie die geskiedenis ingaan as die man wat die Afrikanervolk op die pad van verbastering geplaas het nie, het hy driftig aan sy vrou gesê.

    Verwoerd moes geweet het dat dit onsin was, want die suiwerheid van ras – daardie witheid waarop Afrikaners hulle soms so graag beroep – is ’n fabel. Toe die Hollanders, Duitsers en Franse aan die einde van die 17de eeu en in die loop van die 18de eeu na die Kaap gekom het, was daar ’n nypende tekort aan vroue, met die gevolg dat die slawe, voormalige slawe en die inheemse bevolking goed te pas gekom het as metgeselle. Afrikaners is ’n gemengde volk, of kreole. Dis nie om dowe neute dat die digter Breyten Breytenbach in 1973 voor ’n gehoor van 800 Kapenaars beweer het nie: Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan verbind ( . . .) In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid.

    Max Du Preez het natuurlik ook ’n punt beet: Afrikaners is lankal nie meer Europeërs nie en nog minder Hollanders. Al sou hulle dit so graag anders wou hê en al klou party so vas aan Herman van Veen, Derrida en Vlaams Belang, is Afrikaners wit Afrikane wat dikwels kleurlingbloed in hul are het. Vier eeue gelede het hulle ’n kolonie gestig; daarna het hulle aangepas, vermeng en vermenigvuldig. En anders as die Franse, Belgiese en Portugese koloniste in Algerië, die Kongo en Angola, het hulle daarin geslaag om te oorleef in ’n land wat beslis nie vir sissies is nie. Hulle het gekoloniseer en is gekoloniseer. Hulle het onderdruk en is onderdruk.

    Hulle het ’n taal, Afrikaans, ontwikkel wat veel ryker is as Nederlands, waarin hulle pragtige prosa en poësie skryf met woorde soos sekelmaan, mondmusiek, kaalgatmeisies, dronkverdriet, hardegat en padkos. Hulle het barre togte onderneem en bittere oorloë gevoer. Hul vroue en kinders het aan die einde van die 19de eeu in Engelse konsentrasiekampe krepeer. Byna 28 000 van hulle het daar gesterf; hul plase is afgebrand en hulle het die oorlog verloor. Dit het die Afrikaner uiteraard geweldig getraumatiseer gelaat. Op die basis van nooit weer nie – ’n gedagte wat ook deur die Jode in Israel en die Tutsi’s in Rwanda uitgespreek word – het hulle gevolglik ’n stelsel ontwerp waardeur hulle as ’n minderheid vir altyd gevrywaar sou wees teen vervolging en onderdrukking: apartheid, oftewel die berugte model van afsonderlike ontwikkeling.

    Vanaf 1948 het hulle langer as veertig jaar die volstrekte mag behou en hulle skuldig gemaak aan dít wat hulle self so gevrees het: onderdrukking en diskriminasie. Hulle het die muishond van die wêreld geword en is bespotlik gemaak in liedjies soos I never met a nice South African (wat die eerste keer in die Britse televisiereeks Spitting Image gesing is). Hulle kon nie meer visums kry nie en almal het hul sportmanne en -vroue die rug toegekeer.

    Maar hulle het nog steeds laer getrek – ’n metafoor vir die kring ossewaens waaruit hulle in 1838 by Bloedrivier ’n Zoeloemag uitgedun het. Hulle was vreesbevange vir die swart gevaar en die rooi gevaar. In die tagtigerjare het die townships in vlamme opgegaan, die veiligheidsmagte het oortyd gewerk en boikotte het die ekonomie verlam. Maar Afrikaners met sterk vanne soos Botha, Kriel, Viljoen, Vlok en Malan het hulle verder ingegrawe.

    Tot op ’n dag in Februarie 1990, toe president FW de Klerk (wat destyds as aartskonserwatief beskou is) redelik onverwags aangekondig het dat apartheid se dae getel was. Die verbod op die swart en kommunistiese politieke partye is opgehef en Nelson Mandela sou ná 27 jaar in gevangenskap vrygelaat word. Vir baie was dit ’n geweldige skok: Dit het die einde beteken van die lewe soos hulle dit geken het. Dit was ’n kwessie van wag op die nag van die lang messe, op ’n bloedbad en wraak. Alles is in die stryd gewerp om ’n vreedsame oorgang in die wiele te ry: Geweld tussen verskillende swart groeperinge is aangeblaas; daar was bomaanslae en ’n poging tot ’n militêre oorname is op die nippertjie ontlont. Dit was egter alles tevergeefs.

    Op 27 April 1994 het die onvermydelike gebeur: Die eerste demokratiese verkiesing het plaasgevind en byna 20 miljoen mense het ure lank tougestaan om te kan stem. Toe die stemme getel en die uitslag bekend gemaak is, was wit oorheersing vir altyd verby. Sommige het die uitkoms van die verkiesing as ’n doodsvonnis gesien; ander was in die wolke en het gedroom van ’n reënboognasie.

    Die Afrikaner sou egter jare lank in ’n skoktoestand verkeer. Hulle het ’n unieke proses deurgemaak en het alle politieke mag prysgegee. Maar in ruil waarvoor? Het De Klerk se toespraak van 2 Februarie 1990 die begin van die einde vir die Afrikanervolk aangekondig? Was daar nog enigsins plek vir ’n wit mens in Suid-Afrika? Of sou dit uiteindelik met hulle gaan soos met die Franse koloniste in Algerië, die Pied-Noirs, van wie daar rondom onafhanklikheid in 1962 oor ’n miljoen weggetrek het nadat hulle beskuldig is van terrorisme, marteling, koloniale rassisme en die stook van geweld?

    Dit moes by Afrikaners ’n bekende dog onheilspellende herinnering gewek het. Wat was hul reaksie? Honderdduisende het weliswaar in die daaropvolgende jare na Australië, Nieu-Seeland, Engeland, Kanada en ander dele van Afrika verhuis. Maar miljoene het dapper agtergebly daar waar hulle in ’n worsteling met die verlede en hul identiteit betrokke sou raak. Van die drie pilare wat die Afrikanervolk tydens apartheid gedefinieer het, was daar weinig oor. Die Nasionale Party bestaan nie meer nie, die Nederduitse Gereformeerde Kerk loop leeg en die eens magtige Afrikaner-Broederbond het verwater tot ’n organisasie sonder byt wat as die Afrikanerbond bekend staan. Vroeëre indelings soos verlig en verkramp, of die latere links en regs, is in die nuwe Suid-Afrika so goed soos dood en begrawe.

    Wat gee dan in die jaar 2012 inhoud aan die begrip Afrikaner? Afrikaners kan beswaarlik ’n politieke stuiwer in die armbeurs werp. Wat hul ekonomiese posisie betref, word hulle bedreig deur beleidsmaatreëls soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie, wat die voorheen benadeelde groepe ’n kans gee om hul posisie te verstewig. Prakties gesproke beteken dit dat die regering feitlik nie meer Afrikaners in diens neem nie, sodat hulle voorlopig maar van ’n loopbaan op daardie terrein kan vergeet. Dit beteken ook dat swart ondernemings die tenders en staatskontrakte kry.

    Afrikaners se taal verkeer onder druk, die geskiedenisboeke is herskryf en Afrikaanse plek- en straatname word stadig maar seker verander. Al wat van die Afrikanerdom oorgebly het, is ’n geskiedenis en ’n taal, poësie, liedjies en miskien die kerklewe, hoewel dit ook aan groot veranderinge onderhewig is, skryf die sosioloog T Dunbar Moodie in sy essay The Unraveling of Afrikanerdom. Hy wonder of die taal en kultuur sterk genoeg is om te oorleef tussen die ruïnes van apartheid en in ’n wêreld waarin individualisme hoogty vier.

    Maar voorlopig is die Afrikaner nie van plan om te midde van al die woelinge in die land te verdwyn nie. Toe ek Pieter Mulder, die adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, gevra het wat sy definisie van die Afrikaner is, het hy my geïrriteerd aangekyk. Hoe ongelooflik dat jy dit moet vra, het hy gesê. Vra dit vir ’n Skot en hy sal vir jou sê dat jy dit van binne voel. ’n Wallieser sal sê hy verstaan nie wat so moeilik daaraan is om te weet wie jy is nie. Ek sê: ’n Afrikaner definieer homself. Maar natuurlik gaan dit om taal, kultuur en geskiedenis. As jy jou daarmee kan vereenselwig, is jy ’n Afrikaner. Kyk wat gebeur in die wêreld. Meestal word jy gedefinieer deur jou teenstanders, veral as hulle jou probeer seermaak deur maatreëls soos regstellende aksie. Dan is ’n wit vel skielik ’n baie belangrike aspek.

    Met ander woorde: die buitewêreld definieer die mate van Afrikanerskap. Verkeer taal en kultuur onder druk, dan bloei die patriotisme. Gaan die lewe doodgewoon sy gang, dan is daar ander faktore wat die oorhand kry as dit by identiteit kom – kwessies soos materiële welvaart en geloof.

    ’n Bruikbare indeling van die moderne, postapartheid-Afrikaner het ’n paar jaar gelede gekom van dr. Theuns Eloff, ’n progressiewe intellektueel en destyds reeds die rektor van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Hy het ’n skets gemaak van twee asse wat mekaar kruis. Die een as stel die geesdrif oor die nuwe Suid-Afrika voor en die ander die waardering vir die Afrikaanse taal en kultuur. Rofweg kry jy dan vier hoofgroepe en allerlei tussenvorme.

    Eerstens het jy diegene vir wie taal en kultuur besonder belangrik is en wat hulle in woord en soms in daad verset teen die nuwe Suid-Afrika. Eloff noem hulle die aktiewe teenstanders. Dit is dikwels ekstremistiese groepe soos die Afrikaner Weerstandsbeweging van wyle Eugène Terre’Blanche, wat hom vir ’n Volkstaat beywer het.

    Dan het jy die groep wat hulle nie soveel bekommer oor taal en kultuur nie en ook nie veel belang stel in die nuwe Suid-Afrika nie. Dit is dikwels die hoërinkomstegroepe wat baat gevind het by die ekonomiese groei wat ná 1994 plaasgevind het. Hulle stuur deesdae hul kinders na Engelstalige skole en dink heimlik dat die land op die afdraande pad is. Emigrasie is vir hulle ’n moontlikheid. Jongmense val dikwels in hierdie groep. Eloff noem hulle passiewe teenstanders.

    Die derde kategorie bestaan uit mense wat eintlik nie meer in voeling met die Afrikaner-kultuurgoed is nie; hulle identifiseer sterk met die nuwe Suid-Afrika en sy versoeningspogings. Hulle voel skuldig oor die verlede en dink dat te veel klem op taal en kultuur die broodnodige versoening in die wiele kan ry. By hulle kry jy ’n goeie dosis politieke korrektheid. Vir Eloff is hulle die insluitende voorstanders.

    Laastens het jy die groep wat omgee vir die Afrikaner-erfgoed, maar tog betrokkke voel by die nuwe land. Hulle gebruik die beskikbare grondwetlike ruimte in die media, howe en politiek om hul idees sterker onder die breër publiek se aandag te bring en die regte van ’n minderheidsgroep te verdedig. Hulle skroom nie om uitsprake te maak wat dalk polities inkorrek is nie, is sterk gekant teen die ANC en allermins van plan om die land te verlaat of die stryd gewonne te gee. Hulle is dieaktiewe voorstanders.

    Verteenwoordigers van al vier groepe kry staanplek in hierdie boek, insluitende die digters, die denkers, die drinkers, die musiekmense, die skrywers, die politici, die aktiviste, die gelowiges, die rassiste, die emigrante, die moeilikheidmakers, die plattelanders en die rykes. ’n Kaleidoskoop van Afrikaners ontplooi teen die agtergrond van ’n land wat met rasse skrede verander, waar die voordele van apartheid nou byna daarmee heen is en dit tyd geword het vir nuwe, nierassige toekomsvisies en koalisies.

    Is hulle rigtingbedonnerd? Miskien. Laat vier Afrikaners om ’n tafel sit en jy sal immers vier verskillende politieke oortuigings en vier verskillende kerkverwantskappe hê. Kyk jy egter ’n bietjie nader, sal jy sien dat byna elkeen dieselfde doel het: Om waardig te oorleef en te bly voortleef as Afrikaners, verkieslik ín Suid-Afrika. Dit is slegs die manier waarop die verskillende groepe hierdie doelwit wil bereik wat verskil.

    Hierdie boek is ’n persoonlike speurtog deur die hele Afrikanerdom – na die mites, die opportuniste en die aktiviste. Dit is ’n reis deur stede en na plase, deur dorpies en oor eindelose vlaktes om uiteindelik uit te kom by ’n antwoord op die vraag: Is daar nog plek vir ’n wit mens in Suid-Afrika?

    DEEL EEN

    Verward en onseker in Suid-Afrika

    Chapter1

    WEEMOEDIG IN VERWOERDBURG

    Die traanklier, oftewel die glandula lacrimalis, lê buitekant die oogbal – heel voor, teen die kant van die oogkas. Traanafskeiding word op verskillende maniere gestimuleer, onder meer deur psigiese prikkels. Jy voel dit opwel, daardie warm gloed agter jou oë. Dan stoot die vloeistof buitentoe en begin langs jou neus en wange afloop. Die mediese wetenskap kon egter nog nooit heeltemal verklaar waarom volwassenes huil nie. Wanneer iets met ons gebeur wat ons voete onder ons uitslaan sodat ons op daardie oomblik nie weet hoe om te reageer nie, begin die trane loop, sê Ad Vingerhoets, ’n Nederlandse professor in emosies en welstand in sy boek oor dié onderwerp.

    Op ’n herfsdag in 1992 het ’n huilbui my oorval. Nie dat ek maklik huil nie, maar daardie dag het ek behoorlik gesnik en die trane het gerol. Rooi oë, snotneus. Hoewel ek vyf jaar lank in Kenia en Uganda gewoon het, was ek sielsongelukkig in Suid-Afrika.

    Ons het al ’n paar maande lank hier gewoon, maar ek het g’n snars van die land verstaan nie; en van die mense selfs nog minder. Dit was glad nie die Afrika wat ek geken het nie. Ek het gedink ek sou hier, soos in Oos-Afrika, maklik met swart mense kon vriende maak, maar allesbehalwe. Swart mense het vir jou baas en master gesê, maar ’n paar kilometer verder klipgegooi en blokkades opgerig wat die townships in wanorde gedompel het. In Kenia en Uganda het ons swart bure gehad; hier was in die hele omgewing, afgesien van huishulpe en tuinwerkers, nêrens ’n swart persoon in sig nie.

    My vrou het by die Nederlandse ambassade gewerk. Ons het aan die begin van September 1992 in Suid-Afrika aangekom. Die rit van die lughawe na ons tydelike woonstel in Pretoria was alreeds ’n ontnugtering. Dit was vroegoggend en die dorre spul wat by ons verbygeflits het, het my aan aartappels in goiingsakke laat dink. En toe ek ’n paar dae later iewers in Pretoria se middestad wou gaan koffie drink, is ’n swart man wat skielik by my aan tafel kom sit het, summier weggewys. Dalk het hy nie al sy varkies op hok gehad nie, maar die voorval het my bra ongemaklik laat voel.

    Ook die nuusuitsending op die aand van 7 September, toe ons nog net vier dae in die land was, onthou ek glashelder. Ons moes aanskou hoe die weermag van die destydse tuisland Ciskei op ’n groep betogers skiet wat onder aanvoering van Ronnie Kasrils, ’n ANC-leier en Kommunis, deur ’n veiligheidskordon probeer breek het om op te ruk na die hoofstad Bisho (vandag Bhisho), waar hulle die militêre leier, Oupa Gqoso, wou dwing om af te tree. Hulle het nie daarin geslaag nie en in die proses het 29 mense gesterf en is sowat 200 gewond. Dít was die plek wat ek teen die einde van 1992 aangetref het – ’n land in totale verwarring wat op die randjie van ’n apokalips gehuiwer het.

    Die eerste wit Suid-Afrikaners wat ek leer ken het, het administratiewe werk by die Nederlandse ambassade gedoen. Hulle was Afrikaners wat taamlik goed Nederlands kon praat. Dit was nie lank nie, of ons is uitgenooi na ’n braai by iemand se huis.

    ’n Braai, só het dit geblyk, is ’n ritueel wat veel meer om die lyf het as die gewone Nederlandse barbecue. ’n Braai is die plek waar die manne die kanse van die Bokke en die Bulle uitpraat en hul haat vir Province lug. Verder luister jy na avonture oor jag, visvang en weermagkampe in die bos. Die braai het sy eie onmiskenbare geur: ’n mengsel van smeulende hout en vleis wat verskroei. En as die Castle-bier begin trek, peul die stories uit oor misdaad en geweld en oor die kaffers wat die land in sy moer stuur.

    Die braai, wat gewoonlik Sondagmiddae gehou word, het seremonies van sy eie. Vuurmaak en vleisbraai is die mans se werk, wat beteken dat hulle rondstaan om ’n rokende rooster vol vleis; maag vorentoe, arms oor die bors gevou, blikkie bier teen die onderarm wat die biseps laat bult. Een van hulle staan reg met ’n tang om die tjoppies en boerewors om te draai net voor dit tot houtskool verbrand. Die aangewese kleredrag is ’n hemp (meestal kakie), ’n halfmasbroek en insteekskoene sonder sokkies, of plakkies. Die vrouens sit ’n entjie verder weg in ’n kring. Hulle drink witwyn met ysblokkies en het vooraf die pasta- en vrugteslaai voorberei.

    Dit het ’n hele paar braaie gekos voordat ek tot die essensie daarvan deurgedring het. Dit is egter steeds nie een van my gunsteling-aktiwiteite nie, want ek is nie mal oor vleis op die kole nie en die skeiding tussen die twee geslagte laat my altyd dink aan ouderwetse Nederlandse verjaardagvierings. Aanvanklik wou ek ook niks weet van die Bokke of die Bulle se kanse in die volgende wedstryd, Naas Botha se fiksheidsvlak of Kobus Wiese se besering nie.

    Dit was nie ’n sagte landing nie, om die minste te sê. Ná ’n paar weke in die gemeubileerde woonstel in Pretoria se middestad het ons bagasie opgedaag en kon ons na ons eintlike woonplek trek. Terwyl ander diplomate stylvol in die boomryke buurte aan die oostekant van Pretoria gewoon het, moes ons uitwyk na ’n huis in Verwoerdburg. Die buurt se naam was Clubview en die straat was Cambridgeweg. Al het dit Engels geklink, was alles so Afrikaans soos kon kom.

    Verwoerdburg was die prototipiese wit voorstad met meestal plat, vierkantige huise met ’n taamlike groot tuin, swembad en omheining. Sondae is jy vergas op die geluide van grassnyers, tuinsproeiers en honde. In die week was dit net die honde. Die wit posbode op sy rooi fiets het vir hul daaglikse opwinding gesorg. Ons huis was met ’n alarmstelsel toegerus, maar so ingewikkeld om te aktiveer dat ons dit nooit gebruik het nie. Die hekke was toe nog nie so hoog soos deesdae nie en ook nog sonder ’n geëlektrifiseerde draad.

    Op my wandelinge het ek plek-plek op ’n ingeboude wawiel in die omheinings afgekom en hier en daar op ’n klein metaal-windpompie in die tuin. Ek het toe nog nie besef dat dit simbole van die kollektiewe geheue van die landelike Afrikaner was nie. Die wiel was ’n herinnering aan die ossewaens van die Groot Trek en die metaal-windpompies aan die plaas waar oupa of oupagrootjie op hul dag geboer het.

    Die plaas, soos ek later sou verstaan, simboliseer ’n onderliggende, prekapitalistiese Afrikaneronafhanklikheid – die plek waar die boer volledig baas was en na sy gesin omgesien het. Dit was ’n Tuin van Eden, gewortel in ’n geskiedenis van deursettingsvermoë, volharding en onverskrokkenheid, soos dit liries in die sogenaamde plaasromans beskryf word, vol verwysings na die liefdevolle, mistieke lotsverbondenheid met die grond. Die plaas is die ware Afrikaner se tuiste.

    Nie te ver van ons huis af nie was daar ’n winkelsentrum op die Amerikaanse model: van enorme afmetings en heeltemal onderdak. Die sentrum se naam was Centurion, met ’n Pick n Pay en ’n menigte kleiner winkels, afgesien van die aansienlike aantal skoonheidsalonne waar dames met lang, gepermde hare met groot geduld hul vals naels laat opplak het. Verder het jy veral ouer mans met snorre en kortbroeke teëgekom; met velskoene en ligblou kouse wat tot net onder die knie strek en ’n kam wat tussen die kous en die kuit uitsteek. Aanvanklik wou ek vir hulle vuil kyke gee en rassiste deur my tande sis. Maar gelukkig het ek my bedwing, want in werklikheid was dit merendeels doodgewone mense.

    In die geheel gesien, was die eerste paar maande in Suid-Afrika ’n vervreemdende ervaring. As my vrou soggens vroeg werk toe gery het, het ek by die huis agterbly. Ek het ’n tweedehandse silwer Toyota Cressida aangeskaf en geworstel deur Die kust van de Goede Hoop, ’n standaardwerk oor Suid-Afrika deur die joernalis Allister Sparks, wat my net nie kon boei nie. Dikwels het ek uit verveling stad se kant toe gery waar die Voortrekkermonument, wat in die 1930’s deur Gerard Moerdyk (die seun van Nederlandse immigrante) ontwerp is, links in die verte uitgetroon het. Ek het die vierkantige granietkolos hooghartig afgemaak as ’n wanstaltige, vertonerige stuk nasionaal-sosialistiese argitektuur, ’n verlengstuk van die geboue wat ek in Pole en Oos-Duitsland gesien het – Kultuurpaleise, soos hulle daar genoem is. Eers ’n paar jaar later sou ek dié monument besoek.

    In die stad het ek veral in Sunnyside se winkelsentrum rondgehang waar daar ’n goeie boekwinkel en musiekwinkel was wat my veral pynlik bewus gemaak het van die veel groter keuse wat in Nederland beskikbaar was. Ek het gewoonlik smiddae by die gewilde Grapevine in Esselenstraat geëet, wat deur ’n Griek bestuur is. Daar was ’n terras, skaflike koffie en gebak. Ek het my lyf kosmopoliet in Pretoria gehou, aantekeninge in ’n notaboekie gemaak, verbygangers dopgehou en ’n beeld probeer vorm van byderwetse jongmense in hierdie land.

    Vroegmiddag wanneer die hitte oor jou neergesak het, het die mistroostigheid toegeslaan. Daardie oomblik wanneer dit voel asof die dag onbehoorlik lank voortsleep, wanneer alle energie uit jou liggaam getap is en selfs die vlieë lus het vir niks. Wanneer Pretoria se moderne geboue uit die sestiger- en sewentigerjare ál langer skaduwees begin gooi oor die pylreguit strate wat mekaar loodreg kruis op die Amerikaanse patroon. Wanneer die katte indommel en die son elke regdenkende mens uit die strate laat vlug. Dis op sulke oomblikke dat dit lyk asof almal iets sinvols het om te doen – behalwe jy. Dís wanneer die melancholie jou insluk en jou soos ’n neulerige kind aanhoudend lastig val met die vraag: Wat maak jy hier?

    Terug by die huis was daar weinig anders te doen as om op die bank te gaan lê en te probeer wakker bly met Sparks se boek wat bladsy vir bladsy deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis waad, vol Khoi-Khoi, Xhosas, Sotho’s, Zoeloes, Cosatu’s, UDF’s, ANC’s, PAC’s, SAKP’s, Bophuthatswanas, Ciskeis, Bothas, Buthelezi’s, Mbeki’s en Malans – ’n eindelose reeks stamme, afkortings, tuislande en name. Probeer nou om daaruit iets wys te word.

    Saans het ek in daardie voorstedelike huis gesit en ’n bietjie televisie gekyk, waar die nuus om die beurt in Afrikaans en Engels aangebied is. Snaaks genoeg is dit net die Afrikaanse nuuslesers wat ek goed onthou. Miskien omdat hulle so outyds gelyk het: Mariëtta die skooljuffrou Kruger en die nimmer veranderende Riaan dra hy nou ’n pruik of nie? Cruywagen. Dit het gelyk asof die vyftigerjare hier nog byna tasbaar was.

    Dié patroon het hom in daardie eerste maande dagin en daguit herhaal: leë dae en saans op televisie die politieke chaos waarvan ek nog niks verstaan het en waarmee ek geensins in voeling was nie. Die strydkreet wat ons in ons hoërskooljare tydens anti-Francobetogings aangehef het – Hul stryd, ons stryd, internasionale solidariteit – het nie hier opgeklink nie. Dit was hul stryd. En só het dit gebeur dat ek dit een aand nie langer kon uithou nie en in een van my wat maak ek hier?-oomblikke snikkend aan my diplomaatvrou gebieg het dat dit vir my verskriklik was om hier te moet wees.

    Een ding het intussen vir my duidelik geword: Dis nie ’n land vir sissies nie.

    En nou, vele jare later, sit en tik ek hierdie woorde in ’n huis op die dorpie Vrede in die Vrystaat wat ek in 2005 as ’n naweekplekkie aangeskaf het. Maar laat ek eers gou verduidelik hoe ek hier beland het. In 1995 is ek en my vrou terug Nederland toe, waar ons ses jaar gewoon en ek vir De Volkskrant gewerk het – eers as Afrika-redakteur en later as Rotterdamse korrespondent. Toe kry my vrou ’n pos by die Nederlandse ambassade in Asmara, die hoofstad van Eritrea.

    Dit was rampspoedig om te sien hoe dié land vinnig op pad was om die Noord-Korea van Afrika te word. Die pers was nie vry nie, lede van die opposisie is gevange geneem en die grense met Ethiopië en die Soedan was gesluit. Jy kon nêrens heen nie. Bowendien het die rol as eggenoot van ’n diplomaat my nie gepas nie. Dit was ’n kloustrofobiese bestaan waarteen ons verhouding nie bestand was nie. In plaas daarvan om druipstert na Nederland terug te keer, het ek verder suid gevlieg, Johannesburg toe, met die idee om ’n boek te skryf oor die Suid-Afrikaanse Beat-digter Sinclair Beiles.

    Só het dit gekom dat ek al weer nege jaar in Suid-Afrika woon en nou hier op Vrede agter my lessenaar sit en skryf. Die huis se deure staan wawyd oop; die hond lê by my voete; die voëls sing, kwetter en fluit. Danksy die milde reëns staan alles vol in die bloei, met pers blomme oral waar jy kyk, terwyl die vye aan die bome ryp word. Dis nog steeds genadeloos warm, maar daaraan is ek nou al gewoond.

    Môre gaan ek in Ouhout, die plaaslike kroeg, saam met die prokureur weglê aan biefstuk, skyfies en ’n Castle. Daar kry jy altyd vars nuus oor hierdie dorp met sy eienaardige inwoners wat, nes ek, probeer agterkom waarnatoe die land op pad is. Die meeste van hulle het nie veel hoop nie. Die paaie op Vrede is die ene gate. Swart mense woon nou in die wit dorp. Daar word fondsinsamelings gehou om die wit begraafplaas op te knap.

    Ek sien altyd uit na ’n aandjie in Ouhout. Met ’n windmakerige hoesit sal ek die manne by die kroegtoonbank groet, onder wie die oudpolisieman Nelis en sy vriend Stoffies, elkeen geplant op ’n kroegstoeltjie met ’n rum-en-coke voor hulle. Tien teen een sal ek met ’n halwe oog rugby of krieket op die televisie kyk. Hulle sal met my Afrikaans praat en ek, die ewige buitestander, sal my bes probeer in ’n mengsel van Afrikaans, Engels en Nederlands. ’n Hollander tussen Afrikaners. Nog lank nie op die punt dat ek soos Hendrik Biebouw kan uitroep: Ik ben een Africaander! nie, maar darem ’n hele ent minder deurmekaar en swartgallig as in 1992, al voel die verblyf in Suid-Afrika nog altyd soos ’n motorrit op ’n grondpad waar jy slinger-slinger probeer houvas kry. Af en toe kom jy op die spoor en skiet jy vorentoe. Soms val jy lelik vas. Dis nog steeds nie ’n land vir sissies nie.

    Maar nou eers terug na 1992 en hoe ek my teësin in Suid-Afrika en die Afrikaners oorkom het. Die eerste ligpunt was ’n uitstappie na Groot-Marico, ’n dorp so ’n uur se ry wes van Pretoria. Ons is soontoe genooi deur Santa en Egbert van Bart, wat elke jaar ’n fees rondom die skrywer Herman Charles Bosman reël.

    Santa en Egbert het gelyk asof hulle uit ’n ander eeu ontsnap het. Die brandmaer Egbert, seker diep in die veertig, is ’n man met lang, yl hare, ’n ruie bos baard en taamlik gehawende klere. Santa se hare was soos ’n Afrikaanse Pippie Langkous s’n gevleg en haar rok het op haar enkels gehang. Onervare soos ek was, het ek toe nog nie geweet dat dit die Voortrekker-voorkoms was nie, tipies van ’n tyd voor die Afrikaner-psige deur apartheid gekleur is.

    Santa en Egbert was nie juis gewild by die plaaslike gemeenskap nie, het ek in Vrye Weekblad gelees. Hulle was te ruimdenkend en te alternatief vir die konserwatiewe Groot-Marico. Ons het by hul huis tee gedrink – ’n soort Hansie-en-Grietjie-huisie propvol snuisterye en met soveel plante dat die sonlig nie tot by die tapyt deurgedring het nie. Daarna het Egbert ons na ’n natuurgebied by die rivier geneem en ons allerlei dinge oor die bome, struike en geneeskragtige plante langs die pad vertel. Dit was ’n heerlike, ontspanne dag en toe ons die aand by die huis kom, kon ek met ’n dankbare hart sê: Aangename mense, uiteindelik!

    Die tweede openbaring sou ’n paar weke later kom. Ek het intussen ’n paar kontakte in die plaaslike musiekwêreld gemaak en ingeloer by Shifty Records, ’n klein, onafhanklike platemaatskappytjie met ’n kantoor in Yeoville. Daar het ek gesels met Warrick Sony, ’n musikant en vervaardiger. Warrick het

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1