Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Klara
Klara
Klara
Ebook416 pages4 hours

Klara

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dis waar dit geëindig het, toe die trekker se wiel Klara se pa papgedruk het. Toe hulle ná haar pa se dood van Boplaas moes weg en in die Witlokasie moes gaan woon, toe was alles verby. Boplaas het hulle afgeskud. Of so het Klara gedink. Maar die waarheid is dat Boplaas nie klaar was met haar nie. Haar susters kon wegkom – Leen met haar oneerbiedigheid en Martie deur met ’n halwe Duitser te trou en landuit te vlug – maar nie sy nie. Iemand moes omsien na Ma wie se kop heeltemal uitgehaak het, en iemand moes help om Ma se fratskind, Henk, deur matriek te sien, en daarby moes Klara ook nog haar eie geleerdheid kry. Eers toe die ding met Dries, Boplaas se erfgenaam, op die rotse loop, was dit asof Klara haar kon losmaak van haar verlede. En ná hoeveel jaar ook los van Hannes aan wie haar hart verbind geraak het soos ’n lusernland aan ’n leivoor. Maar dit is juis toe sy uiteindelik weggaan dat Klara agterkom hoe onlosmaaklik sy verstrengel is met daardie plaas en sy mense. Klara is ’n verhaal met ’n onweerstaanbare aardsheid. Onheilig snaaks maar ook hartverskeurend. Dis nie aldag dat ’n mens jou só kan verlustig in die vreemde draaie wat die lewe gooi nie.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 15, 2013
ISBN9780624058892
Klara
Author

Mariël le Roux

Mariël le Roux is op 1 Oktober 1947 op die plaas Houmoed naby Worcester gebore. Sy matrikuleer in 1964 aan die Hoër Meisieskool Worcester. Dié ma van vier het haar loopbaan as dosent in Verpleegkunde aan die Universiteite van Wes-Kaapland en Stellenbosch beoefen. Na haar aftrede skryf, lees en reis sy graag. Sy en haar man, Jean, woon op Hermanus.

Related to Klara

Related ebooks

Related articles

Reviews for Klara

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Klara - Mariël le Roux

    Anna en Giel du Toit het drie meisiekinders grootgemaak in hul voor­manshuis op Boplaas in die Boland.

    Ek is die oudste van die drie. My naam is Klara. Nog voor my tweede verjaarsdag was my suster Martjie daar en sewe jaar ná my is Leen gebore. Daar was nog kinders tussen en ná ons, maar hulle het kleintyd al in die hemel se voortuin gaan speel. Ma het nie in dokters geglo nie, net in die Here, en in ant Hannah van Onderplaas. Pa het ons na Oudokter op die grens tussen die lokasie en die onderdorp geneem wanneer ons siek geword het, maar eers as ons oor die heining van die hemel se voortuin begin loer het. Dis ook Pa wat Oudokter se arm drie keer moes draai vir doodsertifikate.

    Ons kleinboet, Henk, het jare later in ons lewe ingesluip, as’t ware deur die agterdeur van ons huis anderkant die spoor, waar ons toe gebly het.

    1

    Die Duitse skemeraand is louwarm. Dis laatsomer in Europa. Septem­bermaand.

    Die dag se hitte is naby die aarde vasgevang onder die enorme denne­bome wat die hele koppie agter Waldkirch bedek. Die son sak stadig en die laaste lig van die dag is bedrieglik hier in Martjie se dorp. Hier, waarheen Ludwig haar gebring het, vyf-en-twintig jaar gelede. Geheimsinnig, intimiderend die hoë bome, tog koesterend. Die skadu onder die bome is selfs bedags swart, of soos Martjie gesê het, ligswart wanneer dit dag is en donkerswart in die nag. Diep, diep in die donker woud, waar die hasie met net drie pootjies vir my langs die voetpaadjie wag … het een van haar stories vir Henk begin. Sy het graag vir hom dié stories van haar woud vertel, die paar keer wat sy saam met Ludwig in Suid-Afrika kom kuier het. ’n Hasie met net drie pootjies … Ja, dit was altyd stories van hasies wat hul beentjies in strikke afruk en wildevarke wat hulle eie pote by die lit afkou om los te kom as hulle in slagysters beland. Ver, ver in haar woud, oorkant die see. Ek het die grusame besonderhede van Martjie se stories geken, want Henk het nagmerries gekry. As ek hom uit sy droom wakker geskud het, het hy, so tussen sy snikke deur, al die afpoot-verhale in die donker nag uitgeblaker.

    Ek het reeds met Martjie se besoek die vorige jaar een aand met haar oor haar stories probeer praat. Dit was net ons twee by die kombuistafel. Skaal bietjie af met die gewelddadigheid, Martjie, Henk verstaan dit nie, hy droom snags daarvan, het ek toe gevra.

    Dis net die waarheid, Klara. Sy het haar opgeruk, opgestaan en haar stoel onder die tafelblad ingestamp. As my stories nie goed genoeg vir julle is nie, sal ek my bek hou en uit julle pad bly. Toe is sy gangaf, kamer toe en het in die bed gaan klim. Die volgende dag is sy met haar tas by ons voordeur uit, na skoonma se huis toe. ’n Paar dae later was hul vakansie verby en is sy saam met Ludwig terug Duitsland toe. Sy het nie kom groet nie.

    Ons het haar ’n jaar later eers weer gesien toe sy kort voor Kersfees by ons huis ingestap het. Toe het ons nie oor haar stories gepraat nie, gemaak asof die ongelukkigheid van die vorige jaar nooit gebeur het nie, want ons was bly om mekaar te sien. Sy het wel weer vir Henk stories vertel wanneer sy die kans gekry het, dit het ek gou agtergekom. Daar was tye wat net sy en Henk by Ma by die huis was, en toe Henk weer nagmerries begin kry, het ek geweet die woudstories het weer begin.

    Elke keer wanneer Martjie kom kuier het, het ek en Henk in die voorhuis geslaap. Ek, soos dikwels tevore, op die sofa en Henk op sy matras voor die sofa. Martjie het my bed gekry en het haar vir die duur van hul vakansie by Leen in die kamer tuisgemaak. Ludwig het by sy ma-hulle gaan intrek.

    Met Martjie se laaste besoek het ek my bes gedoen om Henk se onrustige nagte vir Leen weg te steek. Ek het die middeldeure saans toegetrek en Henk vinnig wakker geskud as ek agtergekom het hy droom. Sodat Leen hom nie moes hoor nie. Ek het die vrede probeer bewaar, stilgebly, vir myself gesê Ludwig en Martjie bly nooit langer as ’n paar weke nie. Dit sou gou verbygaan. Tot Leen vir Martjie met Henk aan die hand die Sondagmiddag, ’n paar dae ná Kersfees, by ons agterdeur sien uitgaan het. Sy het dadelik lont geruik. By Leen kom niemand verby nie.

    Martjie se verhale het ’n patroon gehad. Aan die einde van haar dramas was sy die heldin. Sy het die verminkte diere gered, hul wonde verbind, hulle versorg. En daarna was hulle haar vriende en het sy vir hulle name gegee. Bedags het sy met hulle onder die bome gaan speel. So het sy vir Henk vertel. Sy het hom beloof wanneer hy eendag vir haar kom kuier, kan hy saam met haar woud toe gaan. Dan sal sy vir hom al haar diere gaan wys. Dit het hy my opgewonde vertel. Hy was toe amper vyf.

    Jy beter kom help, Klara, het Leen dié middag vir my uit die kombuis geskree. Dis weer storietyd hier in die agterplaas.

    Ek is traag agter haar aan, want ek het geweet wat kom en ek was nie lus vir nog ’n bakleiery nie.

    Leen het tot voor Martjie geloop waar sy op die boomstomp gesit het met Henk styf langs haar, sy handjie nog in hare. Sy het eers na my toe gedraai, met my gepraat, my skuldgevoelens teenoor Henk aangeblaas. Sy maak die kind se senuwees klaar, kan jy dit nie sien nie, Klara? het sy gesê. Net vanaand kry hy weer nagmerries en is sy bed weer nat. Sy treiter hom, want hy is klein, hy kan nie wegkom nie. Hy het nie ’n keuse nie, hy móét luister.

    Toe het Leen na Martjie gedraai, haar vinger beskuldigend gelig, opstandig en hard gepraat. Sy het geweet dis nie net ek en Martjie en Henk in haar gehoor nie. Ma in haar kamer en die bure weerskante en agter ons moes noodwendig ook na haar luister. Ons huise was naby mekaar, met al die vensters daardie tyd van die jaar wyd oopgespalk om van die hitte, wat vasgesit het onder ons lae sinkdakke, ontslae te raak.

    Jy sit heeljaar met jou gat ghrênd anderkant die see terwyl ons hier in die onderdorp moet aanploeter, het sy losgetrek. Werk nie, want skoonpa stop mos in. Ek dink hy het goeie rede om so oophand met julle te wees. Hy wil julle uit die pad hou. Dis minder moeilikheid vir hom. Die oukêrel het seker nie lus dat sy jagse seuntjie se skandes hier op sy drumpel moet kom rondlê nie. Twee kinders by twee los meisies in een jaar moet ’n aardige bedraggie uit enige man se sak jaag. Maar oupa sal baie geld betaal net om die girlfriend-mammies se bekke toe te klap. Ten minste is die hoerkindertjies nie hier onder oupa en ouma se hooghartige neuse nie. Of dink hulle die dorp weet nie? Dink hulle hul seuntjie kom spog nie hier met sy gesuipte lyf in die kroeg nie? En jy, Martjie, jy weet dit, maar jy is te ingat om hom te los. Leen het ’n oomblik stilgebly, met haar hand oor haar oë gevryf, haar asem diep ingetrek en toe weer na my gekyk. Gaan jy net daar staan? Gaan jy niks doen nie, Klara, gaan jy sowaar toelaat dat sy so met Henk mors? Sy het die agterdeur oopgepluk. Ek fokkof liewer voor ek iemand verongeluk.

    Leen het in die huis ingestorm, is soos ’n orkaan deur die kombuis, deur die voorhuis en by die voordeur uit. Haar frustrasies het daardie middag, soos dikwels vantevore, gewen. Sy kon haar irritasie nie beheer nie. Luidkeels is haar misnoeë saam met haar straat toe.

    Teen die tyd dat ek by ons voordeur uit is om Leen te probeer kalmeer, was die meeste van ons bure al buite, party was al in die straat en ’n paar het by hul vensters uitgehang. Huismoles in Stasiepark was teatertyd. Leen was net buite ons hekkie.

    Jou taal, Leen! My vermaning was halfhartig. Ons omgewing het aan ons almal gekleef. Dit kon seker nie anders nie. Leen het ’n kind van die Witlokasie geword. Sy was elf toe ons sewe jaar gelede dorp toe getrek het. Sy het haar vrees, haar woede en haar magteloosheid weggesteek agter haar hardekwas houding, haar kru taal, die waas van ongevoeligheid waarin sy beweeg het. En sy het daarmee weggekom, haar tong vlymskerp geslyp deur die barheid om haar.

    Dis al taal wat die mense hier rond verstaan, of hoe sê ek, ant Soes? het Leen uit die straat in die rigting van ons agterdraad geskree. Ant Soes se sifdeur het toegeklap.

    Dit was stikdonker buite toe Leen die voordeur later daardie aand hard agter haar toetrek. Moedswillig en uitdagend hard. Ek was nog wakker, onrustig, want ek wou nie die deur sluit toe ek gaan lê het nie – sy het nie ’n sleutel by haar gehad nie. Ek het opgestaan, agter haar aangestap kombuis toe. Dit was vroeg in Januarie, nog skoolvakansie, aan die begin van Leen se matriekjaar. Sy was my regterhand, elke middag ná skool, elke vakansie, met Ma en met Henk.

    Moenie so raas nie, Martjie is weg, sak en pak. Ek het saggies gepraat. Ek wou nie die res van die huis wakker maak nie. Leen het na rook geruik. Het jy al weer gerook?

    Ja, het sy geantwoord, moenie worry nie, dis skadeloos, mens kry nie bybies daarvan nie. Sy het lekker gegiggel. Ag, jy hoef nie vir my simpele ou grappie te lag nie. Ek verdien my rookgeld met my eie twee hande by die viswinkel. Leen het die pakkie sigarette uit haar romp se sak gehaal en dit op die kombuistafel neergesit. Ons sensitiewe sussie het seker weer na skoonma toe gehol. Beter dat sy haar man daar oppas voordat hy hier ook nog loop en kinders maak.

    Jy moet jou rokery los, Leen. Dit stink om jou.

    Sy het deur haar neus gesnork en die doek van die aand se kosskottels, wat ek op die kombuistafel gelos het, opgelig. Wat is hier om te eet? Ek vrek van die honger. Sy het ’n bord uit die kas gehaal, ’n stuk koue wors uit die bak op die tafel tussen haar vingers gevat, dit in die bord laat val en die tamatiesousbottel daaroor omgekeer.

    Môre loop vra jy Martjie om verskoning en jy bring haar huis toe. Volgende week vlieg hulle terug Duitsland toe en dan is dit ’n jaar voor ons haar weer sien. Ek het probeer beheer neem, maar kon myself nie eens oortuig nie.

    Vergeet dit! het Leen beslis gesê. Laat sy haar spookstories maar vir Ludwig se suster se werpsel vertel. Ek soek haar nie hier nie. Ek het Leen by die tafel gelos en weer gaan lê. Die slaap wou nie kom nie. Ek kon haar by die agterdeur hoor, in en uit. ’n Paar keer. Seker buite gaan rook.

    Vrydae, sodra ek die middag tuis is van die werk af, gaan help Leen vir Servaas Visagie in sy viswinkel op die stasie. Hy hou Vrydagaande sy winkel se deure tot laat oop en gee so al sy gereelde klante kans om hul vis te kom koop. Daarna stap hy in die donker saam met haar tot by ons huis.

    Ek kom lewer jou kleinsus af sodat jy nie moet dink sy loop rond nie, het Servaas die eerste keer gesê toe ek vir hulle die voordeur oopmaak.

    Leen was verontwaardig. Wag nou, het sy gesê, ek soek nie ’n lyfwag nie, ek kan na myself kyk.

    Almiskie, het Servaas geantwoord, ek hou my kant skoon. Die wêreld lyk maar so mak. Hier loop baie duiwels rond as die son onder is. Hy het vir Leen gekyk. Hoewel die liewe Leentjie so giftig is dat ek dink selfs die duiwel twee keer sal dink voor hy te na aan haar kom. Servaas het diep in sy keel gelag. Leen het haar tong geklap.

    Ek het hom bedank vir sy bedagsaamheid en hy het omgedraai, straataf gestap na sy ma se huis toe. Hy bly daar saam met haar, net laer af in ons straat, nader aan die spoor.

    Dié oujongkêrel is glad nie onaardig nie, Klara. Dink net, as jy jou flikkers reg gooi, hoef jy nooit weer kos te maak nie.

    Ek het gelag. Servaas Visagie is slim, het ek gesê, hy bly lekker onder sy ma se vlerk. Hy sal nie sy lewe met muisneste kompliseer nie.

    Ja, ja, het Leen geantwoord, voor jy jou oë uitvee, sit jy hoog en droog op die rak. Jy kom nooit uit hierdie huis uit behalwe om te gaan werk nie. Sy het haar oë gerol en weggestap.

    Ek het Martjie dié Sondagmiddag, ’n uur of wat ná Leen se ellelange tirade teen haar woudstories, deur Ma se kamervenster by die voordeur sien uitstap met haar tas in haar hand. Nadat Ma, soos amper elke dag, die soveelste keer al haar klere uit haar kas gehaal en dit deurmekaar op haar bed gepak het, was ek besig om dit op te ruim toe ons hekkie skree. Ek het deur die venster gekyk. Dit was Martjie wat op pad uit was. Net toe het Henk in die agterplaas begin huil. En toe ek ’n paar minute later, met hom aan die hand, voor die huis op die sypaadjie staan, kon ek Martjie reeds die trap van die stasiebrug sien uitklim. Dit sou nie help om na haar te roep nie, sy sou my nie meer hoor nie en ek kon nie agter haar aangaan nie, want dit was net ek en Ma en Henk by die huis.

    Ek kon gedurende die res van hul besoek aan ons land nie by Martjie uitkom nie. Bedags het ek gewerk en wanneer ek by die huis was, het ek my hande vol gehad met Ma en Henk en die huis. En sy wou nie telefoon toe kom die kere dat ek van die tiekieboks by die stasie gaan bel het wanneer Leen by die huis was nie. Ludwig of sy ma het elke keer die foon geantwoord en verskonings uitgedink vir haar. Sy het ons ook nie kom groet voor hulle terug is Duitsland toe nie. Dit was twintig jaar gelede. Ek was toe vier-en-twintig, Martjie twee-en-twintig en Leen sewentien.

    Martjie het met Ludwig getrou toe sy eintlik nog op die skoolbanke moes gesit het. Dit was net ’n bietjie meer as ’n jaar nadat ek vir die laaste keer my skoolrok oor my kop getrek en Martjie nog een jaar van skool oorgehad het. Ludwig is uit Suid-Afrika na Duitsland gestuur om in die familie se tekstielfabriek in Freiburg te gaan werk, ondervinding te gaan opdoen, om daar te gaan leer van die bedryf wat sy pa op ons tuisdorp gevestig het, sodat hy eendag kon oorneem. Hy was pas klaar met skool en hy het Martjie saamgeneem. Sy trofee. Die mooie meisiekind wat na sy pype sou dans om sy guns te behou. Daarvan was hy seker. Hy is nie weermag toe nie, sy pa het toutjies getrek, en sy Duitse paspoort rondgeswaai.

    Ons gaan in ’n klein dorpie in die Swartwoud woon, het Martjie vertel, ons wil nie in die stad bly nie. Ludwig sê hy kan met die trein na die fabriek toe ry, net vyftien minute, dan is hy daar. Romanties het sy dit laat klink. Maar, belangriker, Martjie het ’n wegkomkans gesoek en dit in ’n verbintenis met Ludwig gesien. Hul verhouding was maar ’n paar maande oud toe hy die trouring aan haar vinger steek. Daar was nooit enige tekort aan geld nie. Ludwig se pa was toe reeds lankal ’n skatryk man. Maar eendag het nooit vir Ludwig aangebreek nie. Sy wilde wortels het té diep in die Duitse aarde ingegroei.

    Ná die ongelukkige onenigheid oor haar stories het Martjie nie weer in Suid-Afrika kom kuier nie. Sy het ’n paar keer vir ons kort briefies of niksseggende boodskappe op poskaarte geskryf en toe stil geraak.

    Die eerste jaar, net voor Kersfees, toe ek hoor dat Ludwig op die dorp was en Martjie nog nie by ons huis in Kingstraat opgedaag het nie, het ek tot by Ludwig se ma-hulle se huis gestap. Hy was nie daar nie, ook nie sy ouers nie, net die huishulp.

    Die kleinnooi het nie saamgekom van annerland af nie. Ek weet nie die rede nie. Dit was al. Ek het gevra dat sy Ludwig moet vra om my te kontak, maar dit het nie gebeur nie. Toe ek ’n paar dae later weer aan sy ouers se voordeur klop, het sy ma oopgemaak. Ludwig kuier in die Kaap, het sy gesê. My nie ingenooi nie.

    Waarom het Martjie nie saamgekom nie, Mevrou? Ek wou ’n antwoord hê.

    Dit moet jy maar vir Martjie self vra. Nou moet jy my verskoon, ek het gaste. Sy het die deur tussen ons toegedruk.

    Ek het die volgende jaar weer probeer. Een oggend vroeg, ’n paar dae voor Kersfees, het ek op pad werk toe aan hul voordeur gaan klop. Toe het ek Ludwig by die huis gekry. Hy was nog in sy nagklere. Ons het staan-staan op die voorstoep gesels. Ek wou weet wat aan die gang is. Hy was vaag, het iets gesê van die onheil wat in die Du Toit-gene loop, my laat voel dat ons, haar familie, haar weggedryf het. Uit sy deurmekaarpratery kon ek niks wys word nie.

    Ek het daarna vir ’n lang ruk nog pleitbriewe Duitsland toe gestuur, Martjie probeer omhaal om terug te skryf en vir ons te vertel wat aan die gang is, geskenkies by Ludwig se ouerhuis gaan afgee sodat hy dit namens ons saam kan neem vir haar. Maar later, toe ek lank reeds geen antwoord meer op my briewe en boodskappe gekry het nie, het ek haar laat begaan, het ek ook net geskryf as daar belangrike nuus was om oor te dra, niks meer agter haar aangestuur nie, vir Ludwig ook uitgelos. Ek was besig met my eie lewe, besig om te oorleef in ’n wêreld wat ek nie gekies het nie. En geld of vryheid om na haar toe te gaan, het ek nie gehad nie. Die weke van stilte het maande geword en die maande jare. Die band tussen ons was later dun geslyt.

    En nou is Martjie dood.

    Elke oggend, vandat ek ’n week gelede hier aangekom het, stap ek die halfdonkerte van die woud in. Op ’n pelgrimstog. ’n Gewetenstog. Op Martjie se spore. Dit was nie moeilik om haar wandelpaadjie tussen die bome deur te kry nie. Sy het ons in besonderhede daarvan vertel die paar keer dat sy saam met haar man met Kerstyd huis toe gekom het.

    Ons het Ludwig daardie tyd net gesien wanneer hy haar kom op- en aflaai het. Hy het nooit eens by ons voorhekkie ingekom nie, sommer vir Martjie in die straat getoet. Hy het darem sy hand gelig om te groet wanneer ons buite voor die huis was. Maar dis die naaste wat hy ooit aan ons gekom het.

    Martjie se besoeke aan haar skoonma se huis was gewoonlik vir familiefeeste. Ludwig se ma het ten minste die skyn probeer bewaar. By die bure en vriende die indruk probeer volhou dat hulle hul enigste seun se bruid, van anderkant die spoor, aanvaar het en dat sy by hulle aan huis welkom was.

    Van die eeue oue kerk met die hoë toring agter twee enorme kastaiingbome en die dennewoud rondom haar dorp in die vreemde, het Martjie vir ons by die huis kom vertel, daar aan die begin. Haar wanhopige verknogtheid aan die dennebome word elke dag met my lang wandelings verstaanbaarder. Dit moes haar toevlug gewees het, waar sy haar in haar eie wêreld kon terugtrek, kon toevou, net wanneer sy wou. Waldkirch. Haar dorp, haar wegkruipplek, haar kerk in die woud.

    Die wandelpad tussen die bome deur neem my elke oggend langs die sykant van die kerkgebou verby, maar ek was nog nie binne nie. Ek stel die kontak met Martjie se sitplek op die bank in die voorste ry naby die kersies, nou al die hele week uit. Dis soos sy die plek, waar sy rustig kon word, aan my beskryf het. En dis tyd vir my om op haar plek te gaan sit.

    Ek klim die treetjies na die voordeur van die kerk van die Heilige Margarethe stadig, stywerig, op. My lyf onwillig om te beweeg ná my lang sit op die bankie onder die grootste van die twee kastaiingbome.

    Die kerk se deure word nooit gesluit nie, het Martjie gesê, ek was dikwels bedags en ook al ’n paar keer laataand daar binne. Ek gaan sit altyd in die voorste bank as ek na julle en na Boplaas verlang.

    Die res van die huis het dié aand al geslaap. Ons twee het by die kombuistafel sit en gesels. Sy moes eers ’n rukkie stilbly, die trane terugsluk. Dis partykeer spokerig, grillerig daar binne so laat in die aand, het sy met ’n glimlag vertel toe sy weer haar stem terug gehad het, en soms sommer helder oordag ook. Sy het sag, half agter haar hand en met groot oë gefluister: Die dorp se inwoners vertel baie spookstories oor die kerk. Ek kon sien dat Martjie haar bes doen om die gesprek lig te hou.

    Nee dankie, het ek gesê, ek glo nie aan spoke nie, maar hierdie tyd van die aand is ek baie kwesbaar.

    Martjie het die situasie begin geniet. Hulle sê dis suster Renate wat gedurig daar tussen die banke wag om die sondaars te troos, het sy voortgegaan, die kerkvrou is glo meer as drie eeue gelede op die vloer voor die altaar dood gekry. Geheimsinnig. ’n Beeldskone vrou en bloedjonk. Toe die ander nonne vroegoggend die kerk in is, het hulle op haar afgekom waar sy op die vloer gelê het. Die dorp se mense sê sy is dood lank voor haar werk klaar was, daarom dat die stomme vrou nie rus kan kry nie. Deure gaan gedurig oop en toe en soms waai ’n koue windjie die kersies se vlammetjies plat, maar nooit dood nie.

    Ek slaap vannag sowaar niks, het ek toe gesê. Koue rillings het agter my rug afgeloop.

    Dis sommer stories, man. Ek steur my nie daaraan nie, maar soms, moet ek erken, het Martjie weer grootoog gefluister, staan my nekhare penorent wanneer die vlammetjies so rond en bont in die vreemde windjie skarrel. Sy het onderlangs gelag toe sy van haar stoel af opstaan om kamer toe te gaan. Maar ek raak altyd rustig daar binne. Suster Renate doen haar trooswerk met oorgawe. Dit kan ek eerlik sê.

    Martjie was al halfpad in die gangaf kamer toe toe sy weer omdraai. Ek het nog by die tafel gesit. Sy het om die kosyn van die kombuisdeur vir my geloer. ’n Wit haas het by haar voete gesit toe die nonne haar gekry het. Die haas is die woud in en het daarna elke dag ’n draai by die kerk kom maak. Vir lank. Tot een oggend toe die nonne die haas morsdood in ’n klein verskrompelende bondeltjie …

    Loop slaap, het ek Martjie in die rede geval. Sy het haar storietjie nog altyd geniet, dit was duidelik, veral toe sy sien hoe ek sit en gril. En vat jou suster Renate en haar haas saam kooi toe.

    Toe ek in die twee houtdeure staan, sien ek dat die deur uit die klein voorportaal, waarin ek is en wat na die binnekant van die kerk lei, toe is. Die yslike soliede koperknop is te groot vir die palm van net een van my hande; ek moet met albei hande om die knop vat om dit te draai en druk met al die krag in my arms om die deur ná binne te laat oopswaai. Die skarniere skree en die deur kraak toe ek dit ná ’n paar tellings stadig kan begin oopstoot.

    Binne die kerk is dit stil. Benouend stil. Daar is nie ’n sterfling in sig nie. In die paadjie in die middel van die rye banke stap ek stadig vorentoe in die rigting van die flikkerende vlammetjies van die kersies op die altaar. Die banke is naby mekaar, vir die kortbeenmense van weleer ingepas. In die heel voorste bank skuif ek stadig, eerbiedig in totdat ek in die hoek, naby die kersies, my sit kry. Op Martjie se plek. Die hout onder my is gladgeskuur. Baie lywe se wrywing het daarvoor gesorg. Die leuning druk my lyf regop, ongemaklik en hard is die stuk hout agter my rug. Generasies het reeds die liewe Heer se guns en troos in hierdie stilte kom soek. Martjie ook.

    Reeds met hul eerste besoek aan Suid-Afrika het Martjie my van die kerk vertel. Ons was dorp toe om kos te koop. Toe ons, op pad huis toe, onder die duikweg deur was, het ek en sy op ’n omgevalle bloekomboomstam gaan sit om bietjie te rus.

    Ek gaan amper elke dag in die hoek van die heel voorste bank van die ou kerk op die rand van die woud rus as ek van my lang staptogte tussen die hoë, digte dennebome terugkom. Naby die kersies. Partykeer steek ek self ook ’n kersie aan. Daar loop my kop met my huis toe, na Boplaas toe, na Pa toe, na Ma toe. Martjie het ’n paar tellings stilgebly, haar kop op haar bors laat hang en ek het geweet sy baklei teen die trane. Na julle almal toe. Ek sien vir julle in hierdie wêreld waar julle nou woon, en ek smeek die Heer om julle hier te kom uithaal, want julle hoort nie hier nie. Martjie het stilgebly, na die grond gestaar.

    Ek gaan sit op die dorpsdam se wal daar onder in ons straat wanneer die wêreld hier in die dorp my keel toedruk, het ek gesê, dan verbeel ek my ek sit op Boplaas se damwal en ek dink … Toe kon ek nie ’n woord verder uitkry nie.

    Die dans van die kerse se vlammetjies maak ná ’n tyd die bang in my dood, het Martjie tot my redding gekom, tot ek weer behoorlik kan asemhaal, tot my bene weer lewe kry. Dan stap ek af na die rivier toe wat deur die dorp vloei. Ek stap eers tot by die brug naby die stasie en dan volg ek die paadjie al langs die rivier op. Dis ’n stywe klim onderdeur die takke van die bome op die wal. Die gras op die oewer is welig en groen in die somer. Ek gaan lê dikwels op my rug onder ’n boom tot dit begin skemer word. Daar verbeel ek my ek is onder die wilgers op die wal van die dam op Boplaas. Dis stil daar, want daar kom nie eintlik mense nie. In die winter is die rivier in vloed en moet mens versigtig wees, die gras is altyd nat en seepglad, soms hang die ys soos kristalle aan die lang grasstingels. Sy het opgestaan, haar pakkies opgetel. Hoe gaan julle uit hierdie gemors kom? Ek het nie geantwoord nie, net oor die droë karoobossies na die dorpsdam se kant toe gekyk. Sy het alleen begin aanstap huis toe.

    Ek het daardie dag nog lank daar bly sit, met my eie baklei in my lyf.

    Ná ’n lang ruk van sit op Martjie se plek, skuif ek uit die kerkbank uit en stap tot by die kersies. Ek gooi ’n muntstuk in die blikkie langs die bak vol nuwe kersies, haal een uit en steek dit aan by een van die vlammetjies wat alreeds daar brand. ’n Nuwe vlammetjie om net vir Martjie te dans.

    Toe ek later op die klipmuurtjie van die brug oor die Elzrivier sit, oorweldig ’n eensaamheid, ’n leegheid my. Dis ’n gevoel van magtelose hartseer wat my beethet. Dis hier, onder hierdie brug, waar hulle Martjie onder die ys uitgehaal het een oggend vroeg in Februarie. Ons het nie eens geweet dat sy weggeraak het nie. Haar dorp het twee dae na haar gesoek, het ons later gehoor. Ludwig het ons nie dadelik laat weet nie. Hy het seker self nie geweet hoe lank sy toe al weg was nie, want hulle het al ’n paar jaar nie meer onder dieselfde dak gewoon nie. Van die dorpenaars wat met my geselsies aangeknoop het, het my dié dinge vertel.

    Dit was die vrou by die bakkery waar Martjie in die middae gewerk het, wat die soektog na haar begin het toe sy een middag nie by die winkel opdaag nie. Martjie het in Waldkirch, in die huisie wat Ludwig se pa vir hulle gekoop het, gewoon en Ludwig op ’n ander dorpie, net ’n paar kilometer van Waldkirch af, nader aan Freiburg. Daar het hy in ’n woonstel saam met sy vriendin en hulle kind gewoon. Al jare lank. Dat Ludwig en Martjie nie meer saamgewoon het nie, het ons ook nie geweet nie.

    Die meeste stukke van die legkaart van Martjie se lewe sou ek eers later inmekaar kon pas, maar die hele prentjie is nooit voltooi nie.

    Laat een snikhete middag in Februarie in die Boland, net nadat ek tuisgekom het van die werk af, was daar ’n klop aan my voordeur. Toe ek die deur oopmaak, het ek geskrik, my lyf het koud geword. Dit was Ludwig se pa en ma op my drumpel. Ek het net geknik en beduie hulle moet inkom. Onheil het saam met hulle ingestap. Verlammend. Hulle het versigtig, stram, tot net binne die deur geskuifel. Nee, hulle wou nie sit nie, het die ouman bedank toe ek na die stoele wys.

    Ons kom met slegte tyding, het Ludwig se ma gesê.

    Jou suster is dood. Ludwig se pa het met sy swaar Duitse aksent die boodskap emosieloos oorgedra. Sy het in die rivier geval, onder die ys beland en sy het verdrink. Hy het sy skouers opgehaal, vir sy vrou gekyk en toe verder gepraat. Dié soort ongelukke gebeur maar in die winter in Europa. Hulle het haar gister onder die brug in Waldkirch uitgehaal. Hy het omgedraai, gemik in die rigting van die deur, hom bedink en weer na my gekyk. Ludwig het laat weet hy laat haar veras en hy gaan haar as in die woud strooi.

    Ek was steeds stom. Hulle taak was afgehandel en hulle is by die voordeur uit sonder dat ek een enkele vraag gevra het. Ek het eers later aan al die raaisels gedink, al die dinge in Martjie se lewe waarvoor ek antwoorde nodig gehad het.

    Martjie is al sewe maande gelede dood. Ek het hier in haar aangenome land kom afskeid neem, kom gelykmaak, maar ek sukkel. Onder my is die rivier net ’n klein stroompie water wat afloop na die Ryn toe. Dis moeilik om jou ’n vloed in hierdie kalm kabbeling van die helder water oor die klippe voor te stel.

    Verder op langs die rivier is ’n bankie waar ek onder die oë van die dorpenaars kan uitkom. Ek het al ’n paar keer daar gaan sit. Ek dink mense kom selde daar, want die gras om die bankie staan hoog.

    Ná twintig minute se stap sak ek op die bankie neer.

    My kop kry maklik koers huis toe hier in die vreemde. Elke dag. Na die suidpunt van Afrika. Na Boplaas en sy mense waar my lewe en my storie begin. Na ons huis en ons bure later in die Witlokasie, die buurt waaruit Martjie so desperaat moes wegkom. Na die hopies stowwerige kluite in ons dorp se begraafplaas waar van my mense ver uitmekaar, in droefheid, in verslaentheid ingespit is.

    Elke dag vandat ek ’n week gelede hier aangekom het, probeer ek los drade knoop, verstrengelde drade losmaak. Meer as twee-en-’n-halwe dekades se drade wat planloos verweef geraak het toe armoede ons in ’n drukgang vasgekeer het. Toe ons Boplaas se stof van ons voete moes afskud.

    2

    Loop haal jou pa op die land, Klara. Ma stap by my verby. Haastig. Gangaf, kamer toe, katel toe. Ek sit by die kombuistafel, blaai ou skoolboeke deur, gooi uit, alles wat ek opgegaar het, maak plek vir die nuwe lewe wat vir my op die drumpel wag. Ma was, tot oomblikke gelede, by die stoof besig toe sy skielik omdraai en gang se kant toe begin stap.

    Ai jissie, Ma. Ek is so gatvol vir Ma se nonsens.

    Moenie vir my kom jissie nie, meisiekind, loop sê vir jou pa ek voel ’n warmte oor my spoel. Sê vir hom hy moet sorg dat hy dadelik huis toe kom. Ma is al onder in die gang. Hoe verder sy loop, hoe harder praat sy. Dit sal nie help om Ma teen te gaan nie.

    Ek vat my laphoed in die verbyloop langs die drinkwateremmer op die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1