Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Op die spoor van hoop
Op die spoor van hoop
Op die spoor van hoop
Ebook314 pages4 hours

Op die spoor van hoop

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Op die spoor van hoop is ’n dokumentasie van die lewens van mense wat in hul pyn steier, maar tog bly getuig dat God, soos Hy in sy Woord belowe, jou ook nie in die dal van doodskaduwee begewe of verlaat nie. Ná jare in die joernalistiek wéét Jacqueline Leuvennink: Jy kom nie ongeskonde uit ’n opdrag om te skryf oor mense met ’n diep binnepyn nie. Dit vra van jou om jou skoene uit te trek, tussen die lyne te luister, sáám te sug oor ’n skeefgelooptheid. Sy vat dan die spoor op soek na dit wat krom en skeef was, wat uiteindelik insig en deernis gebring het. Om halsstarrig te bly hoop, al is die pad soms lank.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateOct 16, 2013
ISBN9780796316196
Op die spoor van hoop
Author

Jacqueline Leuvennink

Jacqueline Leuvennink beskryf haarself as 'n storie-aandraer. Van verhale waarvoor jou eie hart moet kan stil raak tot veral verhale oor dit wat soms nié gesê word nie. Ná tien maande by die Vroueleërkollege op George is sy na die Universiteit van Stellenbosch waar sy 'n BA-graad met Engels en Sielkunde as hoofvakke verwerf. Hierna het 'n verdere studie-en-swerf-jaar in Europa gevolg. In 1977 het sy, soos sy sê, per ongeluk die joernalistiek betree. Ná twee jaar by Die Burger en vyf jaar by Sarie het sy ook as vryskut-joernalis bydraes gelewer tot onder meer Insig, De Kat, Visi, Rooi Rose, Lééf en Lig. Jacqueline is getroud met Jaco en het twee seuns.

Related to Op die spoor van hoop

Related ebooks

Related articles

Reviews for Op die spoor van hoop

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Op die spoor van hoop - Jacqueline Leuvennink

    Op die spoor van hoop

    Jacqueline Leuvennink

    Lux Verbi

    Vir Wynand, deur wie ek meer as ooit vantevore geleer het wat Christelike hoop beteken.

    "Mooi woorde wat my diep ontroer,

    dié dra ek aan my koning voor"

    T.T. Cloete se Psalm 45 soos aangehaal

    uit die Liedboek van die Kerk.

    twirl.jpg

    Voorwoord

    Jare gelede moes ek ’n onderhoud gaan voer met ’n bekende kunstenaar in die suidelike voorstede van Kaapstad. Ek was vreesbevange.

    In die voorafgaande paar maande kon ek weens swak gesondheid, nadat ek ’n baba verloor het, nie werk nie.

    Die kokon waarin my siekte my vasgeweef het, het ’n veilige weg­kruipplek van die buitewêreld en sy eise geword. En toe hierdie versoek …

    Ek het geweet ek moes weer iewers ’n begin maak, maar dit het gevoel asof die geringste brandertjie my kon kantel.

    Gaan ek in hierdie toestand Engels in my Afrikaanse mond gepas kry?

    Sal ek nog hoegenaamd ’n sinvolle gesprek kan voer met ’n vreemde persoon wie se werk ek bewonder, maar waarvan ek geen kenner is nie?

    En sal hy iets interessants te sê hê wat mense sal wil lees?

    Nietemin het ek myself gedwing om die telefoon op te tel en die afspraak te maak.

    Die oggend van die onderhoud het ek eers ’n wye draai stadlangs gery – om vir my man by sy werk te gaan sê presies hoe bang ek is. Dit het al ’n bietjie gehelp.

    Ná ’n paar bemoedigende woorde het ek verder gery. Die dae van mensvreters ís mos verby. My ma sê so.

    Die uiteinde hiervan was ’n artikel – beslis nie die beste van my loopbaan nie, maar tog goed genoeg om gepubliseer te word.

    Dis nou 27 jaar en baie lêers vol artikels later. Ek sidder om te dink wat ek sou verpas het as my onsekerheid die oorhand gekry het.

    Gelukkig is daar ’n Kenner van nuwe beginne. Een wat by jou bly as jy in die vertreksaal van die lewe soms begin lyk soos Hendrik van Hendrik en die reuse-perske – ’n arme, hartseer seuntjie met net ’n koffertjie met sy pajamas en sy tandeborsel daarin vir die reis wat wag.

    Vandag kyk ek met ’n mate van verwondering terug op elke ervaring en elke kosbare mens wat my werk oor die jare vir my so ’n voorreg gemaak het. ’n Mens leer om so ongeveinsd moontlik agter die waarheid aan te beweeg. En dan probeer jy só daaroor skryf dat dit ander hopelik eerder sal raak en behaag as verveel of beïndruk. Sodat jy, aldus George Weideman, in die woorde vermaak sal ontdek, maar ook salwing vir pyn, ’n gebed, ’n soektog en ’n po­ging om lewensraaisels op te los – iets waar­uit jy genot put en ho­pelik ander ook.

    Mense vra my dikwels watter onderhoude of ervarings het vir my oor die jare uitgestaan. Dié boek is ’n poging om daardie vraag ten dele te beantwoord. Die tema van hoop is méér as bloot ’n naïewe hoop dat alles sal regkom. Dit is gebou op geloof. En die ervarings van die uitsonderlike mense van ons land.

    Jacqueline Leuvennink September 2012

    Delwer na drome

    Esta Steyn

    Sy bly al veertig jaar in die huis teen die kop. Digby Hoedjiesbaai met sy vissersbakkies op die plat, koue Weskus-see.

    Die vrou wat bedags somme maak vir haar aptekerman se skryfbehoefte- en geskenkwinkel, ma is vir ’n laatlamseun en maat is vir haar Bybelstudie-vriendinne. Saldanhabaai se Esta-met-die-blinkbruin-hare-en-seeblou-oë.

    Van wie die mense vir jou sal sê sy is ook die vrou wat haar ander twee seuns verloor het.

    twirl.jpg

    Maar snags word sy wat deur die dag al hierdie dinge is, ook iets meer. Dit gebeur soms al deur die loop van die dag sommer so tussen die wasgoeddraad en die opwasbak met haar. ’n Idee vlieg op. Kom sit op haar skouer. Word iets wat sy met haar begin saamdra. Kry langsamerhand lyf. Tot die storiefonteine van die hemele snags oopgedraai kan word vir lekkerleesstories en draaiboeke soos dié van Kinders van die Sabbatsee, Geraldina die Tweede, Meeulanders en nou weer Droomdelwers.

    Dis haar eerste boek ná ’n lang romanstilte. Ek skryf wanneer iets gereed raak om vertel te word. Jy kan so iets nie druk nie. Jy wag tot jy soms, baie onverwags, net weet nóú is dit die dag.

    Oom Kêppies, storieverteller en een van haar karakters in Droom­del­wers, probeer half stramme­rig verduidelik: "Ek kan self nie sê waar dit vedaan kom nie … Is soesie see self. Hy swel op in jou kop soes ’n groot deining …"

    Esta is ook gebore met en vir stories.

    "My pa, ’n bobaasverteller, het ons met verhale soos Brolloks en Bittergal van Langenhoven gevoer. Ek het vas geglo daar is ’n kabou­ter wat snags die stoele en kaste in sy meubelfabriek kom bou. Hulle sê ek het al as driejarige begin om my eie stories op te maak."

    ’n Skoolmaat uit haar latere Worcester-kindertyd onthou vir Esta as so ’n lieflike, lekker kind met sterretjies in die oë. En die Worcester-mense is mos stérk van opstap teen die wind in Hoogstraat.

    Sy het aanvanklik vreesloos geskryf. Maar deesdae gaan sy ver­sigtiger om met woorde, beplan sy meer. Dalk het my skryf­ka­bouter wat snags my stories vir my kom fluister óók ouer geword – hy moet nou minstens 180 jaar oud wees.

    Die meeste van haar verhale speel aan die Weskus af met sy see, ge­roeste wrakke, klippe, bokkoms, soutpanne en flaminke. ’n Wêreld waar jy nog kan leer van eenvoud en omgee en eerlikheid, soos ’n karakter in die boek dit stel.

    Esta was in ’n stadium van haar lewe bang dat sy nooit weer sou kon lag nie. En toe kom die TV-komediereeks Geraldina die Tweede soos ’n geskenk van Bo. Sy was pas sestig toe Stille Waters se kostelike karakters haar kom oorval het.

    Dit het met ’n borrelende binne-pret uit my gekom – en daarvoor kan ek alleen die Here dank, sê sy vandag.

    Maar eers moes sy deur alles werk wat haar boek Die grafte jubel voorafgegaan het. Esta en Le Roux het hul twee oudste seuns – Daniel en Hein – op onderskeidelik 17- en 24-jarige ouderdom verloor. Daniel is in 1988 in ’n motorfietsongeluk dood en Hein in 1996 in die see toe hy gaan seilplank ry het.

    Drie jaar ná Hein se dood het haar Bybelstudie-vriendinne haar oorreed om te skryf oor dit wat hul gesin so geruk het. Hierdie (ware) verhaal was tog reeds daar. ’n Eie storie. Waar ek gewoonlik sukkel om op dreef te kom, het ek hierdie boek binne tien dae voltooi. Die Here het my hand vasgehou; die woorde vir my gegee. Al wat ek moes doen, was om te tik.

    Sy gaan haal die boek wat reeds sewe keer herdruk is. Ek het agterna nie eens die manuskrip vir spelfoute deurgelees nie. Ek sal dit ook nooit weer lees nie. Dis nou daar vir ander mense.

    En watter skrynend eerlike kroniek van pyn wat uitloop op ’n getuienis van hoop en genesing is hierdie boek nie vir mense nie!

    Die grafte jubel kon Esta weer vorentoe kyk, ingetrek in die kragveld wat haar nou weer met lewenskrag kom voed het. Nou ge­vul met die wete dat Christus nie maar net langs ons staan nie, maar één is met ons.

    Die vrou wie se hart eenmaal in Desember geskeur het oor ’n seun met ’n sagte, warm mond moes in nog ’n Desember langs die see ook tevergeefs na ’n seun met ondeunde oë loop en roep. Maar in Desember 1999 kon sy die volgende skryf:

    Here, ek is die vrou wat gedink het dat sy U ken. U het my langsa­merhand geleer dat U te groot en te almagtig en te oneindig is vir my menslike verstand … Maar U ken my. U weet alles van my af. U weet van my mooipraatjies in die môre en my moeë geprewel in die aand … Dankie dat U my met u Goddelike balsem genees het van die smart wat soos ’n siekte aan my seer liggaam gekleef het.

    Sy kon weer dankie sê vir die hoop wat opnuut oor haar uitge­stort is. En vir dit wat sy van die oudste twee in hul jongste broer, Le Roux jr., opgesluit sien. Sodat sy kon skryf: U is verskriklik goed vir my. Dankie dat ek waarlik kan sê: Dit gaan goed met my.

    Die woord lekker duik telkens op wanneer jy met haar gesels. Esta is iemand wat dinge geniet. Kos, mense, stories, haar tuinman. Wanneer ek soggens vir Cornelius vra hoe dit gaan, sê hy: ‘Mevrou, ek léwe.’ Wonderlik, nè?

    Sy dink ’n oomblik. Nou goed, ek wéét ’n mens leef soms met baie pyn. Maar dis óók deel van die lewe, die proses. ’n Mens is mos eintlik hier op aarde om jou lesse te kom leer. Ek het geleer daar is ’n werkie wat jy moet doen om in alle omstandighede vrede te kan ervaar. Jy moet erken dat Hy in beheer is en Hom daarvoor bedank.

    Die blou oë blink. Hulle behoort aan ’n vrou wat soos die veldblomme van haar droë streek klokslag ná ’n winter uit die grondkors breek. Om op die regte tyd hul koppe te lig. Son toe. Altyd weer son toe.

    2011

    Padlangs met Dana

    Dana Snyman

    Jy kom mos met so ’n lang afdraand af wanneer jy Jacobsbaai nader, lui die e-pos die dag voor ons afspraak. Onder by die stopstraat (waar niemand stilhou nie) draai jy regs …

    En dan hou jy see se kant toe, ontdek ek die volgende oggend. Al met die grondpad tussen die huise in tot by die een sonder ’n nommer.

    Dana kom ons tegemoet; Jerry, Vlooi en Kleintjie stertswaaiend op sy hakke. Al drie onmiskenbaar sypaadjiestamboek-specials. Noem hulle die room van die skuim, stel hulle baas ons aan mekaar bekend.

    Buite oor die blou van Smalbaai, net ’n renosterveldjie verder, skor ’n seemeeu. Dit maak ’n mens vry net om te sien hoe hy op die wind wieg.

    Hy is van altyd af ’n man vir ooptes, gee Dana toe. Die Dana van Daniëlskuil loop nog al die pad met hom saam. Ek wil die vyand van ver af sien aankom …

    En hier aan die Weskus kan hy tog sy armoede behóórlik uitleef, slaan die humor weer kurkdroog deur. Ek sit veel eerder arm hier rond as om iewers in die Kaap weelderig te woon.

    Die wydkyker van beroep is weg by Weg – die tyd­skrif waarvoor hy én sy bakkie, stof en kilometers versamel het op grondpaaie van die Kaap tot in Messina. Die voormalige reisredakteur is klaar met vlieg en turbulensies wat hom ontstig.

    ’n Mens raak seker al hoe meer neuroties soos jou sondes op­hoop, verklaar hy. "Hulle vertel mos van die ou wat net agter in die vliegtuig wou sit, want hy het nog nooit gesien ’n vliegtuig reverse teen ’n berg vas nie …"

    Hy was drie of vier jaar laas op ’n vlug. Hulle kan nou maar vir my poskaarte stuur van al die ver plekke af.

    Tuis skuif hy meestal soggens van vieruur af agter die rekenaar in. Wanneer dit net hy, die geluid van die see en die prentjies in sy kop is. Sodat die regte woorde kans kry om uit die stilte te klim. Sy boek met die mooie titel Hiervandaan verskyn later vanjaar.

    Ons kry ons sit om ’n tafel. Dana maak filterkoffie en bring beskuit te voorskyn. Nee, hy skryf g’n stuk maklik nie. Ek murmureer maar erg daaroor. Dit verg daardie geweer-teen-die-kop van ’n sperdatum om orde in sy woeligheid te kry, helderheid te kry oor iets.

    Ek is ’n groot ontkenner – die meeste joernaliste is. Tot daardie sperdatum op jou is en jy weet Bun (Booyens) wil sy storie die volgende oggend hê.

    Soms stap hy ’n paadjie uit wanneer hy aan ’n idee begin kou of ’n idee aan hom. Ander kere gaan lê hy gewoon op sy Lewis Stores-bank. "Dis waar ‘Pottie Potgieter’ skielik uit die lug geval het. Jy weet, Frank Opperman (wat die naamrol in dié eenmanstuk vertolk) is ’n baie onderskatte akteur – hy het vir baie mense by Ouboet van Orkney snork nie vasgesteek."

    Eintlik kan hy nie verstaan hoe ’n mens ’n skrywer kan wees sonder om te glo nie. Daar is goed wat van ’n plek af kom wat jy nie weet waar dit is nie. Ek maak beslis op my bietjie geloof staat vir inspirasie.

    Hy het vroeg-vroeg al ’n gawe verbeeldingswêreld gehad, ’n enkelkind wat allerlei avonture beleef het in sy Kaprivi-bende – waarvan hy die enigste lid was. En dan was daar altyd mense in sy lewe wat vir hom boeke aangedra het.

    My oupa was ook ’n groot twakprater op sy piesangplasie daar naby Hibberdene. Hy was nie ’n goeie boer nie – hy het al sy piesangs weggegee. Maar hy het snags by die nagsentrale gewerk – dit was mos maar daardie tyd se internet.

    Droom oor skrywerword wat by die klank van vioolmusiek werk, en met sy glas rooiwyn en ’n rolnektrui aan oor die see sit en tuur, was beslis nooit deel van sy aanloop nie. Sóveel verbeelding had hy nie. Ek is in die eerste plek ’n joernalis en trots daarop. Dit is ’n praktiese ding. Jy is ’n vakman. Ek moes al in ’n hotelkamer agterstevoor op ’n toilet sit en tik op my skootrekenaar omdat die muurprop vir die skeermes die enigste een was wat wou werk.

    Ja, daar is vir seker dae dat hy eerder meubels in sy garage sou wou maak, maar ek is nog steeds banger vir Absa as vir Joan Hambidge!

    As enigste kind van Coenraad en Saartjie Snyman was hy sedert sy kinderdae bietjie van ’n trekvoël. In daardie dae het predikante nog elke vier jaar ’n beroep gekry en my pa het hulle meestal aanvaar. Ons is van Daniëlskuil na Naboomspruit na Grootfontein.

    Ná skool het hy slegs ’n paar maande ge-BA voordat hy twee jaar lank Weermag toe is. "Terug by die huis het ek en ons huishulp saam­gespan, en ’n eie sjebien op die been gebring deur bier in die park te verkoop. ’n Hupstoot vir my kontantvloei. My ouers was maar bekommerd daai tyd.

    Die grootste bestiering van my lewe was toe ek die dag die Preto­riase Technikon gebel en die befaamde ateïs George Claassen geantwoord het. Hy het gesê ek moet vir ’n keuringstoets vir joernalistiek kom.

    Daarna is hy Huisgenoot toe – nog voor Steve se eerste buite-egtelike kind – gedryf deur twee eienskappe wat baie joernaliste kenmerk: nuuskierigheid en ’n simpatie vir die ou wat swaarkry.

    "Ek kyk gisteraand na Obama op TV. Hy het maer geword. Jis, ek kry hom jammer, man. Hy is seker al lankal spyt hy is in daardie job."

    Buite hol die honde nou agter mekaar aan oor die stuk renos­ter­veld see toe, niks om hulle te keer nie. Dana tuur hulle ag­ter­na, ver­skuif sy bril. Hulle is nie juis suksesvolle jagters nie – Jerry is al blind.

    In sy tyd by Huisgenoot was hy eenkeer in Nelspruit se omgewing toe ’n kollega voorstel hulle moet ’n draai by die skrywer Chris Barnard op sy plaas gaan maak. "Ek was bang en het teëgestribbel. Dié man is gróót en ons skryf vir Húísgenoot! Maar toe vat Chris ons om sy mango’s en sy lemoene te gaan kyk, niks se gefilosofeer nie. In die bykans twee uur daar was dit sy nugter, aardse kyk na die wêreld wat my opgeval het, ’n man in voeling met die werklikheid."

    Maak jou bekendheid dit nie vir jou moeilik om deesdae nog ano­niem deur die land te beweeg om dinge te bekyk nie? Nee wat, nie regtig nie. Ek hou mos aan die veilige kant; jy het nie ’n probleem as jy met gewone stories rondsmokkel nie. Ek wil nie noodwendig die regering tot ’n val bring nie …

    Die landskapskilderytjies wat hy met soveel empatie teken, het hom geliefd onder sy lesers gemaak. Mense sal vir jou sê Dana se stories het die eerlikheid en eenvoud van ’n volksdeuntjie. Hy pas in ’n mens se sitkamer in, soos ’n vriendin dit stel. Dalk omdat sy eie lyf soos dié van ’n goeie broodbakker déél word van die gereedskap. Hy vertel sonder oordeel of vingerwysing. Jy betrap hom nie op ’n meerderwaardigheid nie. En sy oë kan diep onder ’n ding inkyk as hy oor alledaagse goed skryf.

    Baie daarvan is goed wat soms lank gelede gebeur het, maar steeds in die lug hang. ’n Oom met ’n onhandige das in ’n portretraam. Geroeste, skewe plaasnaambordjies. Gehekelde toiletsitplekomhulsels, die mussie vir die reserwerol in die hoek …

    Dikwels roer dit jou onverwags. ’n Ou sal vir my SMS dat ek hom vanoggend op die toilet laat sit en huil het. Hy grinnik. Dan SMS ek maar terug: ‘Wat het jy vanoggend vir ontbyt geëet?’ Ons mense is wonderlik. Moeilik, maar wonderlik. En eintlik is die Afrikaanse mense in die voorstede baie dieselfde as dié op die platteland. Laasgenoemde is net meer waarneembaar.

    Hy frons, neem nog ’n sluk koffie. Maar Afrika het ’n skrikwek­kende kant. Mense maak mekaar hárd dood. Jy voel soms vreemd waar jy nou is en hoe meer noord jy beweeg, hoe rowwer raak dit. Ek probeer die land vir myself verduidelik deur daaroor te skryf.

    Dit neem my terug na ’n leeskringbyeenkoms in Durbanville ’n week vroeër. ’n Vervaarde Dana, laat omdat hy verdwaal het en hulle hom by die polisiekantoor moes gaan kry, is die spreker. Ont­hou net, julle is nie hier oor Dana nie. Julle is hier omdat julle lief is vir stories, begin hy half voel-voel.

    Maar die groep (oorwegend ouerige) vroue hang aan sy lippe, vra inderdaad later soos kleuters voor slaaptyd vir gunstelingstories. En Dana vertel. Julle weet mos die aarde draai om die ge­bede van ouerige tannies. Mans haak uit, gaan jag, steek mes. My ma was so ’n ACVV-tannie, breek hy opnuut by baie harte in.

    Ek dink nie ek het al ooit weer so veilig gevoel soos tussen daai jolige ACVV-tannies in die bussie op pad na Barkley-Wes se kinderhuis toe nie, gaan hy ongestoord voort. Vroue met halleluja’s op hulle lippe en oorgehaal, grétig om goed te doen. Almal so vrólik. Solank hulle tog net kan dién!

    Dis doodstil in die volgepakte saal. Dana die storieman vertel van die talle tannie-trane oor die kinderhuiskinders, die manier waarop die krimpelien-rokbrigade hul blydskap onder die kinders gaan plant het. Hy praat soos hy skryf: Teen die tyd dat die bus uiteindelik weer vertrek, kry die eerste kind reeds ’n galaanval van die oordaad van die besoek …

    En sy gehoor in die moderne, lugverkoelde biblioteeksaal ry mee­gesleur sáám in daardie stowwerige bus – hulle ruik, voel en kén daar­die tannies met die goeie harte.

    Jy skryf met ’n sagte hand? vra ek ’n week later. Jaaa, gee hy huiwe­rig toe. Maar ’n mens is bang vir valse simpatie. Op jou klein maniertjie is jy as skrywer ook mos ’n skepper, skuif jy ook maar mense rond.

    Dis meer as ’n uur en twee sarsies koffie later. Die beskuit is amper op. Ons is traag om te vertrek. Teen die muur is ’n foto van een van die honde alleen op ’n eindelose grondpad. Nog ’n entjie verder hang ’n treffende skildery, ook van ’n pad wat tot in die verte strek. Bokant die kaggel is ’n enkel, skuins houtkruis van dryfhout.

    Ek en my man groet, onderneem om weer te kom. Dit was goed om seelangs saam te loop. Iets in Dana laat jou glo dat selfs wanneer hy so ’n bietjie voetpad mag misloop, hy nou-nou weer oor die oopte op die regte pad aangestap sal kom.

    Deesdae is dit weer net hy en sy honde en sy woorde in die huis op Jacobsbaai. En soms, net soms, begin die woorde op ’n vreemde manier ook in die wind wieg.

    2011

    Vrede op Shalom

    Angus Buchan

    Dis ’n weeksoggend, maar dit lyk soos ’n Sondag in die doopkamer op Shalom, Angus Buchan se plaas in KwaZulu-Natal. Sy drie dogters, twee skoondogters, drie klein­dogters én vier kleinseuns is bymekaar vir ’n woelige fotosessie op versoek van die tydskrif Lig. Die glimlaggende oupa het vooraf gewaarsku die fotograaf sal moet gou speel. Drie van die jong mighty men is nog in doeke …

    Dis ’n gemoedelike, onderling gemaklike klompie daar in die somerhitte. Angus, ge-hoed en ge-denim, Bybel onder die blad, is soos altyd in die middel van als.

    Vir die foto’s staan hy breëbors met die twee jongstes, Josiah en Ruben, op die arm. Duidelik op sy gelukkigste tussen sy kleinkin­ders. En op sy plaas – daar waar almal teen dié tyd deel van die familie is – van Peggy en Moyra, hul bejaarde voorbidders, tot die jongste kind in die kinderhuis en in die skool op die plaas.

    Van sy rol as die hoof van dié uitgebreide familie sê hy: "Ek mag nie doen wat ek wil op Shalom

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1