Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Bestemmings
Bestemmings
Bestemmings
Ebook255 pages5 hours

Bestemmings

Rating: 2 out of 5 stars

2/5

()

Read preview

About this ebook

Bestemmings bekoor met sprankelende, sexy stories. Ontmoet dié minsame karakters en swerf saam op hulle avontuurlike reise.Die smulpaapvakansie van ’n leeftyd verander in ’n nagmerrie toe Louise Tredoux snap dat sy nou waaragtig aan die verkeerde kant van veertig beland het. Want vir dié reis sou sy tog ’n mansvriend verkies. Nie noodwendig ’n bedmaat nie, sy sou tevrede wees met bloot ’n tafelmaat. Maar op vyf en veertig lê sy stoksielalleen in ’n hotelkamer in Avignon wat soos ’n foto in ’n glanstydskrif lyk. Sy stry teen ’n verterende verlatenheid terwyl sy soos ’n rolprentster op beroemde promenades wandel. Haar trane steek sy weg agter ’n byderwetse sonbril.Elke mens het ’n droomlandskap. Marlene s’n was nog altyd die hoë Toskaanse lug, blouer en wyer as haar man se oë wat haar nie meer kan troos nie. Hulle bestemming is ’n kothuis in Siëna waarheen hulle vir ‘n broodnodige gesinsvakansie vlug wanneer hul uitgekalwerde verhouding ernstige tekens van verval begin toon . . . Op haar sterfbed hunker Kathleen terug na haar jeug, na drie nagte van sensuele oorgawe vóórdat sy geskrik en voet in die wind geslaan het – terug na die veiligheid, verveligheid en voorspelbaarheid van haar huwelik met ’n man van min woorde.As Michelle se bagasie nie op pad na Frankryk weggeraak het nie, sou haar romantiese vakansie in Parys dalk anders verloop het. Nee, dink sy terwyl sy Johan se oë oor haar rug, haar boude en bene voel streel. Gretig versnel sy haar pas om onder sy waarderende blik uit te kom. Sy kan nie haar bagasie blameer nie. Dis net een van daai dinge.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMay 10, 2012
ISBN9780624058243
Bestemmings
Author

Marita van der Vyver

Marita van der Vyver het drie romans vir jonger lesers geskryf voor haar eerste volwasse roman, Griet skryf ’n sprokie, die literêre landskap verander het. Sedertdien is sy ’n voltydse skrywer met vele topverkopers agter haar naam, soos ​Dis koue kos, skat​, ​Die dinge van ’n kind ​en ​Griet kom weer. Sy woon in Frankryk.

Read more from Marita Van Der Vyver

Related to Bestemmings

Related ebooks

Related articles

Reviews for Bestemmings

Rating: 2 out of 5 stars
2/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Bestemmings - Marita van der Vyver

    BESTEMMINGS

    Marita van der Vyver

    Tafelberg

    Aptyd

    Op ’n oggend word Louise Tredoux wakker en skielik wéét sy, met ’n onuitwisbare wete, dat sy nou waaragtig aan die verkeerde kant van veertig beland het.

    Die krisis tref haar in Avignon, in ’n sestiende-eeuse klooster wat as stylvolle hotel ingerig is, op die tweede oggend van ’n kulinêre toer deur die suide van Frankryk. ’n Vakansie waaroor sy jare lank gedroom het, waarvoor sy jare lank gespaar het, om ’n motor te huur en rustig deur die sondeurdrenkte landskap te ry, om by eeue oue klipdorpies stil te hou en piekniekkos op plaaslike markte te koop, watertandprodukte van die omgewing, romerige patees en ronde bokmelkkasies en gevulde olywe en geurige spanspekke, om elke middag ’n rojale piekniek te hou en elke aand in ’n uitstekende restaurant te eet. Van Avignon tot by Monte Carlo, waar sy die toer sal afsluit met die duurste maal wat sy nog aangedurf het, in een van die beste restaurante in die wêreld.

    Die smulpaapvakansie van ’n leeftyd, dis hoe sy daaraan gedink het.

    Sy het nooit gedroom dat sy die reis alleen sou aanpak nie.

    In haar drome, wat haar soms met ’n kwylende mond en ’n knorrende maag laat wakker skrik het, was daar altyd iemand saam met haar in die motor, op die geruite piekniekkombers, in die elegante restaurant. Waarskynlik een van haar mansvriende. Sy kom makliker met mans oor die weg. Nie dat sy ’n tekort aan vriendinne het nie. Louise Tredoux is nie die soort vrou wat bedreig voel deur ander vroue nie.

    Maar vir só ’n reis sou sy tog ’n mansvriend verkies. Nie noodwendig ’n bedmaat nie, sy sou tevrede wees met bloot ’n tafelmaat. Dis hoe sy haar mansvriende in haar gedagtes verdeel, in bedmaats en tafelmaats. Dikwels is die tafelmaats gewese bedmaats – en die bedmaats gewoonlik toekomstige tafelmaats.

    Sy is trots op haar vermoë om die essensie van vriendskap te behou nadat die seksuele passie uit ’n verhouding gesuig is. Seks is soos die druiwedoppe wat die wynmaker weggooi, dis hoe sy dit graag beskryf, terwyl vriendskap die kosbare vloeistof is wat agterbly.

    Ook maar goed sy het hierdie vermoë deur die jare gekweek, besin sy agter die stuur van ’n blinknuwe gehuurde Renault. Skuins voor haar troon die klipperige ruïne van ’n kasteel teen ’n hoë heuwel. Die afgelope jaar of drie het haar sekslewe al hoe meer soos daardie ruïne geword, niks meer as ’n herinnering aan voormalige glorie nie. Ná haar veertigste verjaardag – wat sy met ’n swierige ete vir veertig vriende gevier het, ’n geleentheid wat net weer haar reputasie as gesogte gasvrou bevestig het – het die druiwe al hoe skaarser geword. Deesdae moet sy meestal maar tevrede wees met die wyn van vriendskap.

    Wat haar herinner aan die bottel Châteauneuf-du-Pape wat sy die vorige aand in Avignon gedrink het – op haar eie, helaas – saam met ’n stukkie bottersagte skaapvleis gehul in die geur van roosmaryn. Agneau des Alpilles au romarin, soos die spyskaart van die befaamde restaurant naby die Palais des Papes dit beskryf het. Die gedagte aan die ete – ’n klein rooi vissie met caviar díaubergine as voorgereg, skitterende kristalglase, gestyfde linneservette – vul ’n bietjie van die holte waarmee sy vanoggend in die hotelkamer wakker geword het.

    Sy het in die bed gelê en die stylvolle dekor van die kamer bekyk, swart leer en glansende silwer staal en glinsterende glas teen die onafgewerkte klipmure van die gewese klooster, en gewonder wat die dooie nonne hiervan sou sê.

    En waar hierdie onverwagse leegte in haar binneste vandaan kom.

    Ek is vyf en veertig jaar oud, het sy gedink, en ek lê stoksielalleen in ’n hotelkamer wat soos ’n foto in ’n glanstydskrif lyk. Nadat ek gisteraand, stoksielalleen, een van die beste bottels wyn van my lewe uitgedrink het. En vandag fok ek voort, stoksielalleen, na die volgende formidabele ete.

    Sy het haar tas oorhaastig gepak en in die Renault gelaai, gretig om die pad te vat, verder te reis, weg te kom van hierdie ontredderende gevoel van verlatenheid. Asof geslagte nonne se eensame versugtinge aan die klipmure bly kleef het.

    Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dis al wat die nonne durf vra het. Terwyl Louise Tredoux nog altyd méér as net brood wou hê.

    Nou lê die indrukwekkende ringmuur van die stad langs die Rhône ver agter haar; sy het van die nasionale pad afgedraai na ’n kleiner paadjie wat kronkelend in die rigting van Saint-Rémy-de-Provence loop. En sy is al weer honger, besef sy verras. Nadat sy gisteraand se ete met drie soorte kaas en ’n dekadente macaron praliné-chocolat afgesluit het, het sy gedog sy sou minstens vier en twintig uur lank versadig bly.

    Maar sy weet mos ook al, kos is soos seks. Hoe meer jy kry, hoe meer wil jy hê.

    As jy sonder kos probeer klaarkom, soos enigiemand op ’n streng dieet sal kan getuig, dink jy meestal op ’n obsessiewe manier aan kos. Met seks werk dit aanvanklik ook so – maar dan gaan jy by ’n punt verby waar jy amper in ’n soort non verander. Deesdae dink Louise bra selde aan seks.

    Die feit dat sy vandag aanhoudend daaraan herinner word, skryf sy toe aan hierdie buitengewone kokon van eensaamheid waarin sy haarself teen haar wil toegespin het.

    Sy was haar lewe lank omring deur mense. ’n Vertroetelde jongste kind en enigste dogter wat saam met vyf ouer broers in ’n oorvol pastorie grootgeword het. Op hoërskool en universiteit was sy in lawaaierige koshuise. Daarna jare lank verskillende blyplekke met verskillende mense gedeel – mans en vroue, bedmaats en tafelmaats, heteroseksuele minnaars en homoseksuele sielsgenote – voordat sy vir haar ’n oulike kothuis in Groenpunt gekoop het. Maar selfs in haar kothuis is sy nooit werklik alleen nie; haar sosiale lewe is gans te bedrywig.

    Dis net snags in haar massiewe dubbelbed dat sy soms ’n ander asem mis.

    Sy ry deur die smal hoofstraat van nog ’n klipdorpie. ’n Kerktoring, ’n munisipale kantoortjie, ’n kafee met ’n paar tafels op die sypaadjie, vier ou mans wat op ’n plein onder plataanbome boules speel – en dan spoeg die dorpie haar uit, die landskap oop en groen om haar, heldergroen en grysgroen, wingerde en olyfboorde.

    Die volgende dorpie, weet sy nou al, lê nooit verder as ’n paar kilometer nie.

    Hier kan jy nooit, soos in Afrika se ooptes, jou eensaamheid aan die landskap toeskryf nie. Hier moet jy die oorsaak in jouself soek. En die laaste ding wat sy op hierdie reis wou doen, was om in haar siel rond te krap.

    Hedonisme, dis waarna sy gestrewe het. Skaamtelose, sensuele hedonisme.

    Sy besluit om iewers stil te hou om ’n apéritif te drink.

    Om buite by ’n kafeetafel te sit en haar gesig soos ’n sonneblom al agter die lig aan te draai en na die kenmerkende klienk-geluid van boules-balle te luister. Om van haar siel te vergeet en haar sintuie te bederf.

    Die volgende oggend drentel Louise tussen die kleurryke kraampies van ’n Provençaalse mark om haar piekniekkos uit te soek. Betas hier ’n glansrooi tamatie en ruik daar aan ’n droëwors, proe ’n happie tuisgemaakte kaas by een tafel en snak na haar asem oor die oorweldigende verskeidenheid van olywe by ’n ander tafel. Gladde groenetjies en groot, gekreukelde swartes. Olywe gevul met rooi repies rissie en met flentertjies ansjovis. Olywe gemarineer met agurkies en met uitjies.

    Proe gerus, beduie die gebronste jong man agter die tafel. Sy kies ’n olyf wat vir haar so glinsterend swart soos die jong man se oë lyk en steek dit dankbaar in haar mond. Kou tydsaam aan die sagte, effens bitter vlees, suig die laaste bietjie sap van die harde pit af, en spoeg die pit oplaas byna onwillig uit. Encore? vra sy, en toe hy gul glimlag, tel sy ’n plomp groene op wat met basielie gekruie is. Dié keer eet sy haastiger, gulsiger. Daarna prop sy een met ’n vars vinkelgeur in haar kwylende mond, en ’n enorme swarte met ’n onweerstaanbare knoffelsmaak, en ’n groene met ’n rissievulsel wat haar oë laat traan van genot. Toe sy wéér haar hand uitsteek, merk sy dat die jong man nie meer so gul glimlag nie.

    Sy is besig om haar soos ’n vraat te gedra.

    Aangesien sy steeds nie kan besluit watter soort om te koop nie, beduie sy verbouereerd dat hy vir haar ’n hand vol van alles op die tafel moet gee. Die hele boksemdais, omtrent drie kilogram se olywe, ’n heeltemal oordadige hoeveelheid vir ’n piekniek op haar eie. Beskaamd stap sy weg, met die swaar plastieksak wat soos ’n beskuldiging aan haar arm hang.

    Dis nie brassery nie, probeer sy haarself oortuig. Dis onskadelike epikurisme. Gesonde hedonisme.

    Maar iewers in ’n donker hoek van haar geheue hoor sy haar domineepa prewel. Hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande. Filippense?

    Sy sal die sak olywe in die motor hou. Iets om skelm aan te peusel terwyl sy bestuur, elke keer as die holte in haar so groot word dat dit voel asof daar niks van haar lyf oorbly nie, niks behalwe die duik wat haar boude in die sagte bekleedsel agtergelaat het nie. Brood in die geheim geeet, is lekker. Spreuke. Haar oorlede pa is nie die enigste een wat Bybelverse kan rondgooi nie!

    Net om jou jaloers te maak, skryf sy ’n uur later op ’n poskaart vir haar vriend Dawid. Gisteraand in ’n auberge met ’n asemrowende blomtuin net buite Les Baux de Provence oorgebly en in ’n manjifieke Guide Michelin-restaurant geëet. Kan nie aan genoeg byvoeglike naamwoorde dink om die ete te beskryf nie, so ek noem net die geregte. ’n Ravioli van truffels, ’n biefstuk met wilde sampioene, ’n verruklike roquefort – jammer, daar gaan ek al weer met die byvoeglike naamwoorde – en ’n roomkaas met ’n omhulsel soos ’n donserige pienk perske. Saam met ’n bottel Gigondas. Eat your heart out!

    Louise kyk na die foto op die poskaart – ’n tipiese fontein soos jy hier op elke dorpie aantref, ’n growwe gesig uit klip gebeitel, ’n straaltjie koel water wat in die son skitter, laventelstruike op die agtergrond – en draai dit om om haar boodskap weer vinnig deur te lees. Dawid kan nogal puntenerig wees oor spelfoute en sulke dinge. Sy wonder ’n oomblik of die toon nie dalk te vermakerig is nie. Nee, besluit sy, Dawid ken haar goed genoeg.

    Dawid is die gewese bedmaat wat aanvanklik saam met haar sou kom toer het. Deesdae een van haar gunstelingtafelmaats omdat hy so ’n onversadigbare smulpaap is.

    Iewers in haar agterkop was daar waarskynlik die gedagte – dalk selfs die hoop? – dat hy gedurende hierdie hedonistiese toer weer ’n bedmaat sou word.

    Sy het hom jare gelede versmaai omdat sy maag te groot geword het vir haar smaak. Een van die occupational hazards van smulpape, soos hy dit gestel het, maar vir haar was dit destyds onaanvaarbaar. Seker omdat sy die soort metabolisme het waaroor die meeste mense maar net kan droom; sy stel intens belang in kos, sy maak haar lewe uit kos, maar sy het nog nooit met haar gewig gesukkel nie.

    Deesdae is sy nie meer so onverdraagsaam teenoor boepmae en breë boude nie. Liewer ’n man met ’n maag in die bed, dis hoe sy nou neig om te dink, as ’n leë bed.

    En die hel alleen weet, haar bed was lank genoeg leeg.

    Maar drie maande voordat Dawid saam met haar Frankryk toe sou vlieg, het hy op ’n ander vrou verlief geraak. Só halsoorkop verlief dat hy nie die gedagte kon verdra om haar twee weke lank in Suid-Afrika agter te laat nie. Met die gevolg dat Louise nou vingeralleen op die stoep van ’n Provençaalse kafee sit en poskaarte skryf. Voorheen het sy neergekyk op alleenloper-toeriste wat altyd so naarstig aan die skribbel is, op poskaarte en in briewe en in dagboeke, so ’n onvoldoende skans teen ander mense se nuuskierige oë. Nou het sy een van daardie patetiese poskaartskrywers geword.

    Dis die eerste keer in haar lewe dat sy sonder geselskap deur ’n onbekende omgewing reis, op haar eie tussen vreemde mense wat ’n vreemde taal praat. Haar Frans is beperk tot kosterme; ’n taal wat sy in kookboeke en deur kookkursusse aangeleer het. Sy kan ’n ingewikkelde Franse spyskaart bestudeer – maar sy kan nie ’n eenvoudige gesprek aanknoop met die Franse gesin wat by die tafel langs hare sit nie. ’n Pa met die forse voorarms van ’n vragmotorbestuurder, ’n petite vroutjie met moeë, donker oë, en twee besadigde donkerkopkindertjies.

    Sy kyk vinnig weg van die kerngesinnetjie.

    Tussen haar veeleisende werk en haar besige sosiale lewe het sy nog nooit juis tyd gekry vir selfbejammering nie. Bedags is sy gedurig omring deur klante – meestal professionele mense en welgestelde ladies-who-lunch – in haar klein restaurantjie in die middestad. ’n Knus kuierplekkie met die naam Tournesol. Ná ses saans, wanneer sy die deur met die sonneblom-logo agter haar toetrek, geniet sy haar vryheid. Sy gaan fliek en teater toe, sy word gereeld genooi na kunstentoonstellings en skemerkelkpartytjies, sy behoort aan twee verskillende leeskringe. Helaas kry sy nooit tyd om enigiets behalwe kookboeke te lees nie, maar sy geniet die gesellige geklets met ander vroue op die maandelikse byeenkomste. Sulke heerlike hennepartytjies wat haar op die hoogte hou van wat in die letterkunde-wêreld aangaan – sonder dat sy ooit die moeite hoef te doen om self daardie wêreld te betree.

    Dit help haar ook by die werk. ’n Paar van haar gereelde klante is skrywers en uitgewers. Sy gee graag voor dat sy hul jongste boeke gelees het. Dis ’n ou wit leuentjie wat haar niks kos nie – en hulle altyd lekkerder laat eet.

    En sy onthaal graag, met groot geesdrif, by die huis. Sy kook soos ’n engel, terg Dawid haar dikwels, en sy kuier soos ’n duiwel. Laatnag, ná vele glase wyn, sprankel sy steeds.

    Aag, dis net oor jy nie ’n man en kinders het wat jou energie dreineer nie, spot haar vriendin Riana.

    My lewe is soos ’n oorvol trein, kap Louise dan terug. Daar’s nie plek vir ’n muis nie – wat nog te sê van ’n man en kinders!

    Solank jy onthou dat selfs die volste trein een of ander tyd leegloop, het Riana op ’n keer gesê.

    En tog is dit duidelik dat Riana soms wens sy kon op Louise se trein klim. Sommer net iewers heen ry, maak nie saak waarheen nie, solank dit ver weg is van haar man en haar kinders en haar deurmekaar kombuis.

    Santé! skryf sy ’n dag later vir Riana. Ek sit onder ’n sonsambreel op die strandjie van Cassis, my tone amper in die Mediterreense See, en drink ’n glas koue cassis (wat anders?) voor ek my piekniekmandjie uitpak. Dit sal ’n ligte middagete wees – roosterbroodjies gesmeer met brandade de morue en ’n gemarineerde seekosslaai – want my maag het nog nie mooi herstel van die enorme bouillabaisse wat ek gisteraand in Marseille aangedurf het nie.

    Sy vat nog ’n slukkie uit haar glas en staar ingedagte na die seiljagte wat op die stil see dobber. Sy wonder hoe dit sou gewees het as Riana nou hier langs haar en die piekniekmandjie gesit het. Waaroor hulle sou gesels het.

    Liewer ’n porsie groente waar liefde by is …

    Riana was haar tweede keuse as toermaat – toe dit duidelik word dat Dawid hom nie van sy nuwe geliefde sou kon losskeur nie. Nie dat Riana haar al ooit maklik van haar klouende kinders weggeskeur het nie. Louise moes skaamtelose emosionele afdreiging gebruik. Daar’s niks so sad soos ’n vrou wat alleen in ’n goeie restaurant sit nie. Dis mos wat jy altyd sê. As jy nie saamkom nie, gaan ek ook een van daai sad vroue word …

    Maar nadat Riana oplaas ingestem het, was daar geen perke aan haar opgewondenheid nie. Sy het haar vertrekdatum in rooi omkring op die kalender in haar chaotiese kombuis en elke aand nog ’n dag met ’n swaar swart streep doodgetrek. En toe, skaars ’n week voordat die swart strepe by die rooi kring sou uitkom, beland haar sewejarige seun in die hospitaal met ’n ontsteekte blindederm wat inderhaas verwyder moes word.

    Riana het die kalenderbladsy uitgeskeur en haar vriendin gebel om te sê sy kan nie meer saamgaan nie.

    Hoekom moes dit nóú gebeur? wou Louise weet.

    Goddank dit het nóú gebeur, het Riana geprewel. Haar stem was krapperig oor die telefoon, soos wanneer jy na ’n radio met pap batterye luister. Sê nou Bassie se blindederm het gebars terwyl ek in Frankryk was …

    Ook maar goed, het Louise gedink – nie vir die eerste keer nie – dat ek nooit kinders gekry het nie. Selfopoffering was nog nooit my sterk punt nie. Of sou dit sterker gewees het as ek kinders gehad het?

    Op die nippertjie moes Louise dus haar droomvakansie alleen aanpak. Haar huis was reeds verhuur aan Britse toeriste om haar te help om die spandabelrige toer te bekostig. Haar personeel het lankal verlof gekry vir die twee weke wat die restaurant sou sluit. Dit was te laat om kop uit te trek.

    Sy skrik vir die weemoedige klank van haar eie sug en sluk dadelik die glas cassis leeg.

    Die hele vakansie gaan darem nie nét oor kos nie, skryf sy verder op die poskaart. Vanmiddag gaan ek op ’n bootvaart om die ‘calanques’ (die hoë kranse hier langs die kus) te besigtig. Die seelug sal seker my aptyt prikkel – maar ek belowe jou dis nie die rede vir die uitstappie nie!

    Die volgende paar dae kruie sy rustig deur die rykmansoorde van die Franse Riviera – St. Tropez, Cannes, Juan-les-Pins, Nice – die see altyd skitterend op regterhand.

    As geld ’n reuk gehad het, bespiegel sy terwyl sy deur die hawe van St. Tropez drentel, sou dit só geruik het. Na croissants en sonbrandroom en fruits de mer en sjampanje. Sy pers haar lippe op mekaar, om te keer dat haar mond oophang, en verkyk haar aan die majestueuse seiljagte wat hier geanker lê. Drywende paleise kompleet met rooi tapyte oopgerol op die loopplanke. Rangskikkings van vars rose wat verlate tafels op verlate dekke versier.

    Sy vind die pronksug ’n bietjie obseen. Maar wie is sy om te oordeel? ’n Bedorwe wit vrou uit Afrika wat besig is om haar pad deur die suide van Europa oop

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1