Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kroes
Kroes
Kroes
Ebook338 pages7 hours

Kroes

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Pattie Peters is vir die eerste keer in haar jong lewe smoorverlief. Op ‘n mooi – en ‘n goeie – man. Sy naam is Laki Pappasani en hy wil graag met haar trou. En sy met hom. Maar wat sal haar anties sê? En wat van haar pa en al die ander mense? Want Laki is dan ‘n wit man. En sy? Sy’s eintlik ‘n coloured girl van die Strand ...
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateSep 1, 2011
ISBN9780795703263
Kroes

Read more from Pat Stamatelos

Related to Kroes

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kroes

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kroes - Pat Stamatelos

    Hoofstuk 1

    My dadda maak my die oggend wakker. Ek lê nog warm onder die komberse, met net my bruin krulkop wat uitsteek.

    Pettie, sê hy saggies terwyl hy oor my hare streel, Mamma is weg. Sy kom nie weer huis toe nie. Onse mamma is dood, Pettie.

    Ek knik my kop en staar hom grootoog aan. Dis nes of Dadda vir my sê die oggendkoffie is koud. Daar is nie ’n vloed van trane nie, nie die besef van wat die dood nou eintlik beteken nie.

    Dit vat ’n lang ruk voor ek besef dat die oggendkoffie nooit weer warm sal wees nie. ’n Kind van agt aanvaar die dood gouer en makliker as grootmense. So wil dit voorkom. Dis snaaks, maar dit is so.

    Na my dadda my die slegte nuus vertel het, huil ek tog later ’n bietjie, maar die besef van die dood is nog nie heeltemal daar nie. My susters en broer se oë is wasig en rooi van die huil, maar hulle kyk weg as ek hulle aanstaar.

    Die volgende paar dae voel dit vir my ek loop in ’n dwaal. Baie dinge gebeur om my, maar ek word nooit ingesluit nie. Mense kom, praat in fluisterstemme, skud hand en gaan dan net so skielik weer. Soms kyk hulle my kant toe, skud die kop en vee oë af. Ek kry ’n bietjie skaam vir al die aandag en vlug vinnig kamer toe.

    Ek onthou die begrafnis. Die sand wat op die kis gestrooi word, die vroue in swart klere en big party hats. Met droë oë staar ek na die huilende mense. Ek dink: Hoekom staan en huil hulle nou oor mý mamma? Sy was mos nie hulle mamma nie. Toe ek sien hoe hulle huil, wil ek ook huil.

    Eintlik onthou ek die swartbedekte kniekoppe en stowwerige skoene beter as die gesigte. Die mense staan my amper toe. Ek kyk na die groot gat by my voete, en bo die gat die blink boks. Ek kyk goed daarna. Dis die eerste keer dat ek so iets sien. Die handvatsels blink. Hulle lyk asof hulle met Mamma se Brasso blinkgevryf is.

    Ek weet my mamma lê in die boks en ek praat met haar.

    Die handvatsels blink, Mamma. Hulle lyk net so mooi soos jou potte in die sitkamer. Mamma lê nou in die blink boks, maar wat van my? Wie gaan nou my brekfis maak, my lunchboksie inpak, my klere stryk? Ek wens Mamma kon al dié dinge sien, Mamma sou ook surprised gewees het om so baie mense hier te sien. So baie wat oor Mamma huil. Ek self het nie geweet so baie mense is lief vir Mamma nie.

    Die graaf vol sand word voor my ingestoot en met ’n onseker hand vat ek ’n vuis vol, skaam-skaam. Ek kyk op en sien hoe die mense my dophou, en ek voel so ’n bietjie important. Die boks begin stadig te sak. Laer en laer die donker gat in. Ek voel skielik baie verdrietig en die trane rol. Ek strooi die bietjie sand kis se kant toe. In my gedagtes groet ek my mamma.

    Die bietjie sand is vir jou, Mamma. Koebaai. Koebaai.

    Maar my mamma kan my nie hoor nie, sy is regtig dood.

    Die dae voor my mamma se dood onthou ek goed. Miskien glo niemand my vandag nie, maar ek het eenkeer ’n stukkie uit die Bybel vir haar gelees. Die mense in die kombuis raas en sy kan nie mooi hoor wat ek lees nie. Sy tel die koppie op wat langs die bed op die kassie staan en slinger dit deur die oop deur tot teenaan die gangmuur. Dit spat in stukkies.

    My oudste suster, Kay, kom kyk. En nou, Mamma? vra sy en lag ’n bietjie, maar onse mamma lag nie.

    Mamma is moeg en siek. Sy moet hospitaal toe; sy weet dit, maar sy wil nie. Sy is bang, want haar niggie Joey is kort tevore ook hospitaal toe ná ’n lang siekbed, en na net een dag in die hospitaal is sy dood. Mamma het gedink Joey moes maar liewer by die huis gebly het, dan het sy nie so jonk doodgegaan nie.

    Mamma se voet is seer en stukkend. Dadda praat met haar daaroor.

    Die ambulance kom, Nel. Sê vir die mense by die hospitaal vannie seer voet. Hulle sal kyk daarna. Jy moenie vergiet nie, sê vir hulle.

    En nou is sy dood. Die warm koppie koffie is koud.

    ’n Mens se brein is ’n snaakse ding . . . Dinge wat jy dink hy sal onthou, vergeet hy dadelik, maar ander dinge bly, en jy wonder jare later daaroor. Dis dinge wat jou later laat wakker lê. Amper soos ’n tiekieboks. Jy gooi jou tiekies in terwyl jy praat en jy praat lekker en jy gee nie ’n thought vir die tiekies wat jy reeds ingegooi het nie, maar dan, ewe skielik, wil een tiekie nie deurval nie. Hy sit vas en jy weet nie hoekom nie. Jy slaan die boksie met die sagte kant van jou vuis en miskien vloek jy ook ’n bietjie, maar die tiekie bly sit. En hóm gaan jy onthou, die tiekie wat vasgesit het, maar die ander het jy lankal vergeet. So is die mens se brein. Party dinge bly vassit.

    So is dit die aand toe ons hospitaal toe gaan om vir Mamma te gaan kuier. Die aand voor haar dood. My dadda neem ons en ons sit ingeryg in sy second-hand kar. Kay sit voor, sy is die oudste. Agter is dit ek, Dorie en my ouboet, Stewie. Ons is stil, ons weet nie wat voorlê nie. Dadda het gesê onse mamma is baie siek.

    Die eerste ding wat ek sien toe ons nader aan die bed stap, is die boggel onder die deken, en ek weet Mamma het gesê. Hulle het ’n ding onder die komberse gesit sodat die komberse nie aan haar seer voet raak nie. Ons sien dit almal raak.

    Sy het vir hulle gesê, sê Dadda tevrede.

    Ek is bly sy het vir hulle gesê, sê Kay.

    Ek en Dorie en Stewie sê niks, maar ons kan sien sy het gesê van die seer voet.

    Ek kan nie onthou of Mamma iets gesê het en wat ons gesê het nie. Haar oë lê diep en donker in haar kop, swart krulle uitgesprei oor die wit kussings. Sy sit-lê teen die kussings en kyk na ons. Haar vier kinders en haar man. Ek wil haar ’n drukkie gee, maar ek is te klein en die bed is te hoog. Sy lê daar bo en ek staan hier onder.

    Met die gaan tel Dadda my op en ek soen haar saggies, bang ek maak haar seer. Die ander kinders groet ook. Sy lyk net moeg, soos iemand wat nou opgee.

    In my gedagtes sien ek haar staan in die kombuis, een voet op ’n stoel, elmboog op die knie, sigaret tussen die vingers en tong tussen die tande. Dan dink sy diep en ver terwyl sy vir die potjie op die stoof wag om die kos klaar te kook.

    Nou lê sy plat en die visiting time is verby en ons is op pad huis toe.

    Ons loop vinnig tot by ons kar onder die groot boom. Die ligte om die hospitaal is min en die parkeerplek donker. ’n Man lê op die naat van sy rug langs ’n motorfiets, net so ’n entjie van ons kar af. Hy lê uitgestrek, bene ver uitmekaar, die leerbaadjie toegezip en sy oë toe. Kompleet soos iemand wat op ’n kruis vasgespyker is. Hy lê doodstil. Dis aardig en ek voel bang. Dadda sluit die kar oop en ek klim eerste in. Ek is klein, maar ek weet van die skollies.

    Selfs in die donkerte van die boom kan mens sien dis ’n wit man. Dadda staan lank na hom en kyk, maar van ver af. In die veiligheid van die kar druk ek my neus plat teen die ruit. Die ander staan ook ’n oomblik stil om na die uitgestrekte figuur te staar. My dadda is nie seker of hy nader moet gaan nie. Miskien het die man hulp nodig, maar hy kan ook besope wees. Ons kinders moedig Dadda nie aan om nader te gaan nie, en hy draai die rug. So laat ons die man daar lê.

    Dadda start die kar en sit die ligte aan. Nog ’n keer kyk ons na die man wat steeds roerloos daar lê. Dadda swaai die karretjie se stert en ons is weg.

    Soos ’n tiekie wat bly vassit, bly die ding van daardie donker nag in my brein. Hy sit behoorlik vas. Sê nou maar die man het ’n hartaanval of so iets gehad en het net gelê en wag op ’n goeie Samaritaan om hom te help? Miskien was hy nie ’n skollie nie, nooit dronk nie. En sê nou onse dadda het gaan kyk, hom gehelp – sou die liewe Heer nie miskien onse mamma gesond gemaak het nie?

    Ek weet nie, maar ek dink daaraan. Die tiekie bly vassit. Ons dadda moes gaan kyk het, maar hy het nie. Die volgende oggend is Mamma dood.

    Die antie van langsaan troos en sê: As die funeral eers verby is, sal dinge weer olraait kom. Die liewe gat aan, let the funeral pass. Life goes on, dearie, life goes on.

    Wat verder by die huis gebeur het, weet ek nie, want die dag na my mamma se begrafnis het my dadda my weggegee.

    Hoofstuk 2

    Jy moet vir Kay gaan help met die pakwerk, Pettie. Jy gaan na Kitty en Maggie toe. Net vir ’n visit, nè? Jy sal weer hys toe kom, ek promise.

    Dis net ’n visit, sê Dadda.

    Ek knik my kop, dis goed so. Dis altyd lekker by Kitty en Maggie. Hulle is my mamma se niggies, maar  ’n bietjie ouderder as Nel, and more set in their ways, sê Dadda altyd.

    Waarom weet ek nie, maar ons is geleer om die twee ou anties op hul name te noem. Niks van die ge-antie vir hulle nie. Die susters bly al jare lank in die Strand. Hulle is erg oor my en ek oor hulle. Die Kleurlinge en wittes bly naby mekaar in die Strand, albei binne spoegafstand van die beach; ek sal baie kan gaan swem. Kitty en Maggie het vir die begrafnis gekom en oorgebly. Mamma is Woensdag dood, Saterdag begrawe en Sondag was my lot bepaal.

    Kay slaan haar arms om my en druk my vas. Jy sal elke holiday hys toe kom, my sussie. Kitty en Maggie sal goed sorre vir jou. Jy moet soet wees.

    Dit klink skielik vir my na ’n baie lang visit. Ek wil huil, maar ek sluk die trane weg. Dis asof Kay nou ook koebaai sê. Kay was nog altyd baie gaaf. Selfs toe ek destyds haar sywurm van die cardboard wat bo-op die glas was laat afval het, was sy nie kwaad nie. Sy werk al en soms bring sy vir ons lekkers en Pepsi-Cola saam.

    Sy druk my weer styf vas. Uit haar mou haal sy ’n sakdoek en snuit hard. Ons loop slaapkamer toe en begin my goedjies inpak.

    Iemand kom by die voordeur in. Ek ken die antie en sy probeer om saggies met my dadda te praat, maar ons kan haar in die kamer hoor.

    Gaan die kind al vandag weg? wil sy weet.

    Ja, vandag. Dis bieter so. ’n Kind het ’n ma nodig en sy is nog klein. Kitty en Maggie is good old girls. Hulle sal sorre virrie kind, daaroor hoef ek my nie te worrie nie.

    Ag shame, nè, sê die buurvrou en stem dan haastig saam: Dja, wat anners kan djulle doen?

    Niks, niks anners nie. Sy moet van die hartseer af wegkom.

    Hulle praat nog, meestal oor my. Wat Dadda sê van die hartseer klink vir my snaaks. Die hartseer is mos in jou. Die memories van my mamma is in my brein, ek sal hulle saamvat, nie agterlaat nie. Maar ek sê niks. Grootmense weet van beter. So sê Dadda altyd.

    Ek het my klaargemaak vir ’n visit soos Dadda gesê het, maar daarna besluit Dadda-hulle ek moet liewer by die anties bly. Ek is nie gevra nie.

    Dadda dink dis die beste en ek neem hom nie kwalik nie, maar ek kan net nie verstaan nie. Kay werk al, maar Dorie en Stewie is nog albei op skool, ons kan mos saam-saam skool toe loop en terug, ons kan mekaar vertroos. Maar my dadda het anders besluit.

    Oompie Spykers vat ons Strand toe, vir Kitty, Maggie en vir my. Hy is ’n oujongkêrel soos Kitty en Maggie oujongnooiens is, maar oompie Spykers is anders. Dadda sê oompie Spykers is queer oorlat hy nooit getrou het nie. Maar die anties is hom goedgesind en sê oom Spykers is a good old soul, altyd daar as ’n mens hom nodig het.

    Kitty sit voor, ek en Maggie agter, die ingepakte cardboard suitcase in die boot. Eers toe oompie Spykers die kar start, sien ek hom.

    Hy sit by die groot hek en sy ogies knip-knip. My hart krimp tot die grootte van ’n peanut en ek wil huil. Hy is net ’n basterbrak, maar ek is mal oor hom. Dadda was lief om vir mense te vertel van die garedraad wat Mamma om Prinsie se nek moes vasmaak, dan loop ek en Prinsie loop agter my aan, die garedraad styf in my handjie.

    My mense sal my nie vergeet nie, maar hy? Hy draai sy kop eenkant toe, so asof hy wil sê: Dis nou koebaai, kry nou jou ry.

    Nog ’n maal kyk ek om, nog ’n maal waai ek my hand heen en weer, heen en weer. My familie staan op die sypaadjie en waai terug. My brak lig sy neus so effens asof hy nog ’n laaste reukie van sy kleinmies wil kry.

    Stil-stil is ons Strand toe, dis nou ek en die anties. Oompie Spykers is vrolik soos altyd, so ken ons hom.

    Die oom gee vet op die grootpad en hoe nader die huis, hoe vroliker word die oom. Ek kan die drank op sy asem ruik, my anties seker ook, maar wat kan ons sê? Hy begin sing en klap dan so in die ry hande. Ons hou asem op en bid dat die karretjie koers hou.

    O Sanatjie, my Sanatjie, waar is djy . . . sing die oom. Oor en oor dieselfde klaagliedjie, maar die oom het nie ’n Sanatjie nie. Oompie Spykers, soos my dadda gesê het, is queer. Hy is lief vir die jongetjies, nie vir die girls nie.

    Kitty en Maggie bly in ’n klein huisie in iemand se jaart. Die mense in die huis is Slams en vra min huur vir die pondok. Daar is amper niks grond in die jaart nie. By Mamma en Dadda se huis is daar baie grond om te speel, maar hier, waar kan ek speel? Alles voel so vreemd.

    Die anties werk albei in Somerset-Wes. Kitty by die CNA en Maggie by die poskantoor. Hulle besluit dis beter as ek ook in Somerset skoolgaan. Ek kan die bus saam met hulle haal Somerset toe.

    Ek word geleer die wit mense sit op die voorste banke in die bus en die bruin mense sit heel agter. Maar party ooms en anties is opstandig en skuif dan parmantig voorlangs in. As dit ’n doubledekkerbus is, moet die bruin mense bo gaan sit.

    Lateraan plak hulle bordjies op wat sê Europeans Only en toe hou die ooms, anties en bus drivers op om te baklei oor wie sit waar. Maar ek weet nie wat die groot woord beteken nie en die aand vra ek Kitty daaroor. Sy lees koerant, kyk vinnig na my en sê: Dis ’n hoge woord virrie donnerse wit mense, en toe lees sy verder. Toe weet ek.

    Maandag gaan ek saam om my skooluniform te koop. Die volgende dag is ons na my nuwe skool. In die hoof se kantoor staan ek langs die desk terwyl hy my inskryf, daarna vat die antie en meneer my na my klaskamer toe. Ek voel so skaam tussen die vreemde kinders. Amper soos ’n indringer, iemand wat anderplek hoort. Die kinders staar my aan, probeer my opsom.

    Ek wens ek is terug in my mamma se huis. Hoekom het jy doodgegaan, Mamma? Ek voel so eensaam.

    Dae word weke. My anties is goed vir my en probeer altyd net die beste vir my koop, al moet hulle dit vir lang tye lay-by. Soms wens ek hulle wil nie altyd die beste koop nie. Soos die swart reënjas. Ek haat die ding. Hy is van warm materiaal en as hy nat word, ruik dit effens. Dis te groot om maklik op te vou. Ek beny die ander kinders hul ligte plastiekreënjasse.

    Op ’n dag dra ek die jas en met die loop tussen die banke slaan ek ’n paar kinders se boeke van hul tafels af. Die rye is nou en die jas wyd; ek kan dit nie in my tas druk soos die ander kinders met hul plastiekjasse maak nie. Ek voel sleg oor die boeke op die vloer. Juffrou is kwaad.

    Trek uit die jas! sê sy hard.

    Dis ’n ongeluk, wil ek sê, ek is jammer, wil ek sê, maar die woorde bly in my keel vassit. Ek is bang vir die juffrou en die trane brand agter my ooglede.

    Ek voel kwaad en opstandig. As jy nie doodgegaan het nie, Mamma, dan was ek nie nou hier in die skool met die groot jas nie. Dan het die kinders nie nou vir my gelag nie.

    My verwyte is verniet. Daar is geen terugdraai nie. Ek weet dit nou. My dadda het my vir altyd weggegee. Ek word inkennig en begin later hakkel.

    Daardie dae het die skole nog twee sessies. Vir die uur se lunchtime gaan ek na Kitty by die winkel. Die bestuurder gee nie om nie. Hy hou van Kitty en is simpatiek oor die kind wat hulle nou moet grootmaak. Sy en Maggie is nie meer jonk nie, dit moet moeilik wees.

    Die maande word jare, maar die visit gaan aan. Soos ek groter word, word die verlange na my mamma al hoe sterker, maar ek sê niks vir die anties nie. Die anties praat baie, maar altyd oor die werk. Mamma se naam word nooit genoem nie. Hulle vra nie: Hoe gaan dit by die skool, wat maak jy smiddae by die huis, wat dink jy? nie. Hulle is albei moeg as hulle van die werk af kom, maar dis al waaroor hulle praat, werk. Tot vervelens toe. Hulle praat oor my kop en ek het niks om te sê nie.

    Dadda sal my onderhou, so was die belofte, maar na die tweede maand droog die geld op. Die anties kla baie daaroor, nie voor my nie, maar ek hoor hulle, die pondok is klein. Dadda is ook arm. Dis seker makliker om van ’n kind daar ver te vergeet as van dié in jou huis.

    Vakansies gaan ek terug huis toe, maar ook nie altyd nie. My broer en susters word soos vreemdelinge en soms voel ek soos ’n besoeker in my eie huis. Erika van oorkant die straat het nou nuwe maatjies, ons speel nie meer soos vroeër nie.

    Ek sien nie meer uit om huis toe te gaan nie. Die ergste is dat almal dink ek is so gelukkig. Die anties spoil my, en bly ek dan nie by die see nie? Hulle wens hulle was ek! Ek voel ek moet meer dankbaar wees.

    Soos met my verjaarsdae. Elke verjaarsdag is dit dieselfde. Ek kry ’n duur geskenk en my anties sing Happy Birthday. Dan kyk hulle my vas in die gesig om te sien hoe bly ek oor die geskenk is.

    Djy wiet, Maggie het dit self uitgesoek en dit kos baie. Djy wiet sy koep nie cheap goete nie. Dis expensive. Laaik djy dit?

    Ja, ek laaik dit. Hoe kan ’n mens nou nie van so ’n duur geskenk hou nie?

    Dan vra Maggie weer: Laaik djy dit rêrig? Hy is very expensive. Djy moet mooi na djou present kyk.

    Ek sal, ek belowe.

    Hy lyk miskien nie expensive nie, maar as ek djou moet vertel hoeveel hy gekos het . . . sê Kitty weer.

    Ek is dankbaar! Ek is dankbaar! Ek kan dit net nie in woorde uitdruk nie. Soms voel ek hulle moet liewer iets goedkoops koop, soos my mamma en dadda altyd gemaak het.

    Daar’s iets in die papiersak vir jou, Pettie, sê Mamma en daarmee is dit uit en gedaan. Jy speel met jou speelding en sy weet jy is bly. Finish en klaar. Watse dankbaar ook nog!

    My anties werk en ek moet self sien en kom klaar. Hulle wil nie die voordeursleutel vir my gee nie. Jy gaan dit verloor, sê hulle, Rachmat moet die sleutel hou en vir jou kom oopsluit.

    Rachmat Ralouin is ons landlady se niggie, jonk en Slams. Sy sluit elke dag oop en maak vir my ’n broodjie; dis nou wanneer die tweede sessie by die skool end gekry het. Ek is elke dag dieselfde tyd by die huis, maar Rachmat is nooit daar as ek tuis kom nie. Ek sit eers ’n ruk op my tas en wag, besluit dan om haar te gaan soek. Haar huis is ver van ons s’n. Is dit al só laat? vra sy laggend as sy haar deur vir my oopmaak.

    Op sulke dae wil die trane rol. Ek sukkel om die veranderinge in my lewe te verwerk en met die verloop van tyd word dit erger, nie makliker nie. Honderd maal moet ek verduidelik hoekom ek by my anties bly. Hoekom bly jy dan nie by jou dadda-hulle nie? Gaan kuier jy? Stuur hy geld?

    Die trane het gevloei, maar net saans, in die donker.

    Die jaar is 1960 en Kitty lees voor uit die Argus wat sy van die werk af saamgebring het. Verwoerd is in die gesig geskiet, sê sy, nogal by die showgrounds, can you imagine! Maar hulle sê hy is olraait.

    In die gesig! roep Maggie verbaas uit. Nei, die man se aim was te hoog. ’n Bullet in die hart sou die job gedoen het.

    Hulle praat asof die dood niks is nie en ek voel skielik bang vir hulle skerp woorde. Ek sit op die harde kombuisstoel, my knieë teen my bors en my arms om my bene gevou. Van êrens diep in my snik ek saggies: Ek wil my ma hê. Ek wens sy was nie dood nie.

    Die anties is stom geskok, die koerantberig nou vergete. Hulle staar my stil maar beskuldigend aan. Hulle oë sê: Is jy nou nog nie oor jou mamma se dood nie!

    Ek dink baie aan die dood en ek wil ook dood wees, dan sal ek by my mamma wees. Maar ek weet nie hoe om dood te gaan nie.

    Hoofstuk 3

    Dis in standerd ses dat ek en Lorrain bevriend raak. Sy is alles wat ek wil wees maar nooit kan wees nie. Sy is beeldskoon. Lang reguit hare, mooi oë en pragtige, perfekte tande. Sy is slim, vriendelik en gewild. En sy lyk wit.

    Hoekom Lorrain juis vir my kies om maats mee te wees, weet ek nie. In vergelyking met haar is ek lelik en inkennig. Kitty en Maggie sê die rede dat sy so lief is om by my te boer en oor te slaap is omdat haar ma die een man na die ander aanhou. Hulle trek gedurig van plek tot plek. Daar is geen standvastigheid in haar lewe nie, ook min liefde. Die aandag en stabiliteit waarna sy smag, kry sy by ons, in ons pondok.

    Lorrain het net een fout, miskien twee: sy het lang vingers en ag, is sy tog lief vir die kêrels! En die kêrels vir haar. Sy maak my baie dinge wys, dinge wat die anties my nie sal vertel nie.

    Op ’n dag word ek grootmeisie, soos die anties dit noem.

    Kitty sê ek moet nou oppas, ek kan nou bybies kry, ek moenie my voete onder ’n klong se kombers insteek nie.

    Lorrain kraai van die lag met die aanhoor van dié storie.

    Jy is somma stupid om dit te glo! Jy moet mos eers iets doen. Ek meen, dis nie só easy nie.

    Ons is albei dertien en nuuskierig. Lorrain oorreed my om Vrydagaand by haar oor te slaap. Eers is ek huiwerig, maar aan Lorrain is daar geen keer as sy eers op ’n ding besluit het nie. Tuis vra ek baie mooi of ek by Lorrain kan oorslaap. Die anties dink lank en stem toe ’n bietjie teësinnig in.

    Die middag is ek daar weg met my tassie, my pyjamas en tandeborsel ingepak. Dis eers na die middagbroodjie dat Lorrain my die ding mooi vertel.

    "Pettie, ek het gesien hoe die mense elke aand daar

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1