Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Moord-en-roof: In die kop van 'n baasspeurder
Moord-en-roof: In die kop van 'n baasspeurder
Moord-en-roof: In die kop van 'n baasspeurder
Ebook398 pages5 hours

Moord-en-roof: In die kop van 'n baasspeurder

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

In die dae toe speurders nog aan hul safaripakke en Grasshopper-skoene uitgeken kon word, was die Moord-en-roofeenheid ewe beroemd as berug. Charles Miller was een van hul topspeurders.

As lid van die Wes-Randse tak het hy verskeie opspraakwekkende moord- en roofsake danksy deeglike speurwerk en 'n uitstekende netwerk opgelos. Bloedbesmeerde moordtonele, donker hole, omstrede ondervragingsmetodes en smerige informante was alles deel van sy werk. Vir hom en sy kollegas het die adrenalien van klappende skote later soos 'n dwelm geword.

Maar om jou lewe elke dag op die spel te plaas, eis sy tol. Miller het later ook telling verloor van hoeveel misdadigers hy in die uitvoering van sy pligte doodgeskiet het.

'n Ware verhaal oor die strewe na geregtigheid en hoe dit dikwels tot 'n ongemaklike dans met die donker kant lei.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 2, 2013
ISBN9780624057598
Moord-en-roof: In die kop van 'n baasspeurder
Author

Albert Blake

Albert Blake is die skrywer van die topverkoper Boereverraaier wat in die rolprent Verraaiers omskep is. In 2014 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Louis Hiemstra-prys vir niefiksie vir Boerekryger: 'n Seun se hoogste offer. Hy matrikuleer aan Grey-kollege in Bloemfontein waarna hy militêre opleiding aan die Valskermbataljon ondergaan. Blake is 'n praktiserende prokureur in Roodepoort.

Read more from Albert Blake

Related to Moord-en-roof

Related ebooks

Related articles

Reviews for Moord-en-roof

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Moord-en-roof - Albert Blake

    Albert Blake

    MOORD-

    EN-ROOF

    In die kop van ’n

    baasspeurder

    Tafelberg

    Een aand beland ek en Charles Miller langs twee halfaangeklamde mans in ’n volgepakte kroeg op Roodepoort. Ons moes ongevraagd luister na die twee se oordrewe vertellinge van hul wedervaringe in die bosoorlog.

    Die twee het luidkeels allerlei aansprake gemaak oor die hewige gevegte waarin hulle in Angola betrokke sou gewees het. Die bravade waarmee hulle die stories uitbasuin het, het eerder op ’n ander waarheid gedui – vir diegene wat ware oorlogsgruwels ervaar het, is dit gewoonlik te erg om daaroor te praat. Ek het al voorheen met sulke dapper grensvegters te doene gekry, wat posttraumatiese stres weens die oorlog as verskoning vir latere gebroke huwelike, onsuksesvolle loopbane en sommer enige ander mislukking gebruik het. Dié soort kafpraters doen die ware slagoffers van die oorlog, die geestelik en liggaamlik verminktes, ’n oneer aan. Namate die twee se grootpratery met die inname van nog dubbels vererger het, het ander omstanders hul eie grenservaringe begin bydra.

    Niemand het hulle juis aan die man gesteur wat langs my gesit het nie. Hy was immers amper sewentig en het hom eenkant gehou. Oor die onderwerp van lewensgevaarlike situasies was Charles opmerklik stil. Tog het hy baie gehad om te sê.

    Die absurditeit van die oomblik het my opgeval. Niemand het geweet my bejaarde maat was voorheen ’n legendariese baasspeurder in die polisie se soms berugte Moord-en-roofeenheid nie. Hulle sou dus ook nie weet dat hy waarskynlik in meer gevaarsituasies was as wat hulle hulle ooit sal kan indink nie. Oor bykans drie dekades het hy voortdurend met die mens se donker kant te doene gehad en was hy amper daagliks in lewensgevaar. As daar een mens was wat met gesag in die rumoer van die kroeg kon praat, was dit hy. Charles was die slagoffer van intense trauma en spanning weens sy werk.

    Maar ons twee het niks gesê nie.

    Die vreemdelinge se grootpratery het vir my ’n onhoudbare verleentheid geword en ons het besluit om na ’n stiller plek te verkas. Daar kon ons die moontlikheid van die optekening en publikasie van sy ervaringe in Moord-en-roof bespreek. Ek sou later besef die rede vir Charles se stilswye daardie aand in 2012 was ingewikkelder as wat ek aanvanklik vermoed het.

    Voor daardie aand het ek en Charles amper twee dekades lank nie werklik kontak met mekaar gehad nie. In sekere opsigte het hy nou vir my broos voorgekom. Dis nie hoe ek hom jare gelede geken het nie . . .

    Ek het Charles meer as dertig jaar tevore ontmoet toe ek as ’n jong prokureur aan die Wes-Rand begin praktiseer het. Hy het die oggend van ons eerste ontmoeting in die lang gang van die landdroshof op Krugersdorp vinnig met dossiere onder die arm aangestap gekom. ’n Fris geboude ligtekopman in sy laat dertigs. Aan sy konserwatiewe kleredrag het ek reeds op ’n afstand gesien hy is ’n speurder. Die tipiese roomkleurige langbroek-safaripak, Grasshopper-skoene en kortgeskeerde hare van daardie era se speurders het hom weggegee.

    Daar was ’n ligte beroering soos hy in die gang afgestap het. ’n Gefluister het hom gevolg.

    Hy was spontaan beleefd en galant toe ek aan hom voorgestel word. Hy was anders as die deursnee-speurder, wat gewoonlik maar agterdogtig is wanneer hulle ’n vreemde prokureur of advokaat ontmoet wat die verdagtes verdedig wat hulle vasgetrek het. Die selfversekerde manier waarop hy met sy kenmerkende bry gepraat het, het ’n soort gesag afgedwing sonder dat hy aanmatigend was. Toe hy my met sy deurdringende ligblou oë aankyk, het ek onwillekeurig van een voet na die ander getrap. Daardie oë moes die gehardste misdadiger ongemaklik gelaat het.

    In die jare daarna het ek hom as ’n meedoënloos toegewyde ondersoekbeampte leer ken. Sy formidabele ondersoekwerk het gesorg dat die gate vir die verdediging toegemaak is. Daarvan getuig die ongekende suksesse van sy ondersoekwerk waaroor wyd in die media geskryf is. Hy hou steeds vol dat daardie suksesse slegs aan spanwerk te danke is en beskou homself glad nie as ’n baas- of topspeurder nie.

    Ondanks sy merkwaardige loopbaan as speurder het Charles om verskeie redes nooit ’n offisier geword nie. Daar was stormagtige momente in sy loopbaan en dit het nie ’n gelukkige einde gehad nie. Soos die misdadigers wat hy aan die man gebring het, is hy self aan die einde van sy loopbaan vervolg.

    Wat volg, is Charles en sy kollegas van Moord-en-roof se verhaal.

    Daar het nog min boeke oor die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Polisie verskyn wat aandag gee aan die bekamping van misdaad en nie net op politieke onrus fokus nie. Waar literatuur wel die optrede van die polisiemag bespreek, word dit meestal voorgehou as deel van die apartheidsmasjinerie wat die destydse politieke bestel moes handhaaf.

    Boeke deur joernaliste soos Jacques Pauw¹ en De Wet Potgieter² het polisiewandade van ’n politieke aard onthul. Hoewel dié boeke veel gedoen het om die duistere kant van die polisie in die apartheidsjare te onthul, kan dit ook verkeerdelik die indruk wek dat die hele polisiemag uitsluitlik korrup was.

    Daarteenoor is daar werke van voormalige hoë polisieoffisiere wat ewewigtigheid inboet omdat dit probeer om alle polisieoptredes tydens die apartheidsjare te regverdig. Die biografieë van genls. Johan van der Merwe³ en Wouter Grovégee ook nie juis aandag aan die lot van polisiemanne op grondvlak nie en veral nie daardie polisiemanne wat nie primêr met die bekamping van politieke oortredings gemoeid was nie.

    Ook oor die geskiedenis van Koevoet, die polisie se berugte teeninsurgensie-eenheid wat in Ovamboland in die destydse Suidwes-Afrika diens gedoen het, het ’n hele aantal werke verskyn.Die storie van die binnelandse gespesialiseerde afdelings van die polisie soos die Moord-en-roofeenheid is egter afgeskeep.Hierdie boek probeer daardie leemte vul.

    Charles Miller se verhaal is veel meer as net die optekening van een polisieman se lewe. Dis enersyds ook ’n misdaadgeskiedenis wat daardie oënskynlike barbaarsheid wat sommige mense tot ondenkbare wreedheid dryf, dokumenteer. Die boek gaan andersyds ook oor ’n spesifieke eenheid van die polisie en die ekstreme omstandighede waaronder sy lede misdaad moes beveg.

    Die primêre taak van die Moord-en-roofeenheid was om ernstige misdade soos gewapende roof en moord te ondersoek en verdagtes op te spoor. Politieke oortredings is deur die veiligheidspolisie en ander ondersoek. Aangesien die Moord-en-roofeenheid misdade in ’n tyd van politieke onrus moes bekamp, het hulle soms noodwendig ook met politieke misdade te doene gehad. Sedert 1976 het politieke onrus toegeneem totdat dit in die middel tagtigerjare en daarna feitlik ononderbroke tot 1994 voortgewoed het. Dit het die bekamping van gemeenregtelike misdade soos moord en roof uiteraard baie moeiliker gemaak.

    Dié boek is ’n geskiedenis van ’n polisie-eenheid deur die oë van ’n wit speurder in die laaste drie dekades van die ou Suid-Afrikaanse bedeling. Charles was van 1962 tot 1992 ’n polisieman – in die hoogbloei van apartheid – en hy en sy kollegas was noodwendig produkte van hul tyd. Charles self, soos ook sy kollegas, het nooit die politieke bestel van die dag bevraagteken nie. Die boek het egter geen politieke bymotiewe nie en is ook nie bedoel as ’n politieke geskiedenis nie. (Daar word wel van tyd tot tyd na mense se ras verwys omdat dit van historiese belang in ’n werk van hierdie aard is.)

    Die Brixtonse Moord-en-rooftak was alombekend en in sommige kringe ook berug. Die Wes-Randse Moord-en-rooftak was heelwat kleiner as Brixton s’n, maar sy lede is aan dieselfde soort gevare blootgestel. Moord-en-roof was nie ’n plek vir sissies nie en was ook nie vir engeltjies bedoel nie. Min kon in dié eenheid aanpas. Nog minder kon dit enduit daar uithou. Dit het ’n spesiale mens geverg om in hierdie hoërisiko-eenheid te aard.

    In ’n land wat skynbaar deurdrenk is met geweld word ons daagliks met misdaadnuus gebombardeer. Ek is etlike kere gevra waarom ek misdade uit die verlede wil ophaal wanneer mense reeds so misdaadvoos is.

    Ek glo egter van hierdie oudpolisiemanne se stories moet vertel word, nie net vir individuele heling nie, maar ook vir die welstand van die gemeenskap. En om hul stories te vertel moet ’n mens ook kyk na die misdade waarmee hulle gewerk het – en meestal opgelos het.

    Van die oudpolisiemanne met wie ek in aanraking gekom het, het ’n geestelike tamheid oor hul ondervindinge getoon. Enkele nabye kollegas van Charles het aan my gesê die herinneringe was te onaangenaam om op te roep. Sommige het Charles selfs afgeraai om sy herinneringe in ’n boek te deel.

    Daar was ook oudlede wat aanvanklik wantrouig was oor my motiewe wanneer ek hulle vir onderhoude genader het. Ander het my gemaan dat dit ’n onnodige waagstuk is om hierdie geskiedenis op te teken. Daar was by sommige steeds ’n onderliggende vrees dat dit ’n heksejag teen hulle sal veroorsaak as hulle hul harte uitstort. Daardie oudpolisiemanne se onverwerkte gevoelens bly steeds opgekrop sonder ’n uitlaatklep en sal seker só saam met hulle na die graf gaan.

    Gelukkig was dit ’n klein minderheid wat nie hul ervaringe wou deel nie. ’n Land se geskiedenis kan nie op lugleegtes gebou word nie. Niemand kan die verlede verander nie en geen deel van die geskiedenis behoort onaangeraak gelaat te word nie. Dit kan skadelik wees om aspekte van ons land se geskiedenis doelbewus te ignoreer of die optekening daarvan te probeer keer. Sulke historiese amnesie is ’n té maklike uitweg vir diegene wat sensitiewe aspekte van die verlede wil vermy.

    Die boek sal onder meer ongeoorloofde ondersoekmetodes deur Moord-en-rooflede bekyk. Die doel is wel nie om ’n morele oordeel uit te spreek nie, maar eerder om die optrede van die speurders te probeer verklaar en objektief te beoordeel.

    Sekere dinge was klaarblyklik vir Charles moeilik om op te roep. Tog het hy al my vrae openhartig beantwoord, al was dit dikwels baie sensitiewe vrae. Hy het een beperking gestel op die publikasie van sy herinneringe: dat geen oudkollega daardeur gekompromitteer mag word nie.

    Jy verklap nooit jou makker se geheime sonder sy toestemming nie. Ek het onderneem om hieraan te voldoen.

    Ek het gevind dat daar onder die meeste lede van die Moord-en-roofeenheid, ondanks ernstige struwelinge wat hulle destyds onderling kon gehad het, steeds ’n besondere kameraderie heers. Ek het ook besef dat die volle geskiedenis van die gebeure waarby Charles betrokke was nie volledig opgeteken sal kan word solank daar nog lewende oudkollegas is nie.

    Pogings om insae in Charles se persoonlike lêer by die polisie te kry, het misluk. Charles het nie tydens sy dienstyd dagboek gehou of aantekeninge van voorvalle gemaak nie. Daar moes dus deels op sy geheue staatgemaak word. Sy herinneringe is aangevul deur koerantberigte, waarvan merkwaardig baie oor Charles se optrede as polisieman in sowel die Afrikaanse as Engelse pers verskyn het. ’n Magdom ander dokumente, waaronder ou dossiere en hofoorkondes, is ook nagegaan. Sommige betrokkenes se name het mettertyd vergete geraak en kon ook nie in ander bronne gevind word nie.

    Die talle onderhoude wat ek met ander oudpolisiemanne gevoer het, was van onskatbare waarde. Dit was kommerwekkend om te sien hoe hulle aspekte van sekere traumatiese gebeure geblokkeer het. Wanneer hul geheues egter verfris is, het hulle met ongeroeste speurvernuf addisionele inligting ingewin, en sorg is gedra om alle feite te kontroleer. Bykans almal van hulle moes, soos Charles, sielkundige behandeling ontvang nadat hulle die polisie verlaat het.

    Hoewel probeer is om lig te werp op die trauma wat polisielede in die voorste linie moes verduur, is die boek nie ’n akademiese sielkundestudie nie. Ek is nie opgelei om my lyf psigiater te hou nie, maar tekens van die trauma by sommige polisiemanne was só ooglopend dat dit nie ’n kenner verg om dit raak te sien nie.

    Ek hoop dat die talle onderhoude wat ek met Charles en sy kollegas gevoer het nie onnodig ou wonde oopgekrap het nie, maar dat dit dalk selfs terapeuties was. Dat dit soms vir hom veeleisend was, was vir my duidelik. Ek is dankbaar dat hulle my behoefte gedeel het om hierdie geskiedenis op te teken.

    Enige gevolgtrekkings wat gemaak word, bly my interpretasie van die gebeure en ek neem alleen verantwoordelikheid daarvoor. Dit kan wees dat Charles of sy oudkollegas met wie ek onderhoude gevoer het nie met van daardie gevolgtrekkings saamstem nie.

    hoofstuk%201_1.TIF.tif

    Op ’n noodlottige Sondagnag in Augustus 1983 stel lede van die Wes-Randse Moord-en-rooftak ’n lokval by ’n fabriek in Boksburg aan die Oos-Rand. Hul doel is om ’n gevaarlike ontsnapte bedrieër vas te trek, maar die lokval loop liederlik skeef. In die treurspel wat volg, sterf vier mense, onder wie die bevelvoerder van die Moord-en-rooftak.

    In die wilde skietgeveg word speuradjudant-offisier Charles Miller ook swaar gewond, maar hy oorleef dit. Hy is ’n veteraan van bykans twee dekades se skietgevegte met misdadigers, maar hierdie keer is daar ’n ander, blywende gevolg. Hy sal voortaan ’n geweldige las met hom moet saamdra: Daardie skuldgevoel van iemand wat kamerade in ’n traumatiese situasie aan die dood afstaan, maar self bly lewe.

    Sondagnagslagting in Boksburg

    Sommige meen finansiële probleme in sy elektriesekontrakteursonderneming op Carletonville het die 28-jarige Johann (Bokkie) Taute daartoe gedryf om in misdaad te verval. Maar sy gewelddadigheid dui eerder op ernstige afwykende gedrag.

    Taute was besig om ’n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf vir bedrog uit te dien toe hy op Woensdag 24 Augustus 1983 op verdere aanklagte in die hof op Oberholzer naby Carletonville moes verskyn. Hy het baie mense gewetenloos ingeloop en gevolglik het hy talle vyande in die myngemeenskap gehad wat om vergelding geroep het.

    Hy het sy vrou toe reeds vanuit die gevangenis laat weet dat hy nie kans sien om nóg tronkstraf uit te dien nie. Sy het hom laat weet dat sy genoeg van sy misdadige gedrag gehad het en dat hy ’n egskeidingsdagvaarding in die tronk kon verwag. Sy en hul drie kinders sou elders ’n heenkome vind. Vir Bokkie Taute was dit olie op die vuur.

    Nog voordat hofverrigtinge daardie Woensdag kon begin, het hy ’n bewaarder oorrompel en sy dienspistool, ’n 9 mm-Beretta, afgeneem en ongesiens by die hofgebou uitgeglip. Daar naby het hy ’n motor gekaap en na myngrond buite die dorp gery, waar hy ’n vriend gedwing het om sy Ford Cortina-bakkie aan hom te oorhandig.

    Taute was nou onkeerbaar op die pad van rampspoed.

    Padblokkades wat die polisie inderhaas opgestel het, kon hom nie keer nie en hy het by ’n vriendin aan die Oos-Rand gaan skuil. Daar is vermoed dat hy en die vriendin nog dieselfde aand ’n vlug van die destydse Jan Smuts-lughawe na Durban gehaal het. Toe sy vrou van sy gewaagde ontsnapping hoor, het sy uit vrees met hul kinders by familie gaan wegkruip.

    Taute was nou landswyd ’n gesoekte man. Nuus oor sy ontsnapping is oor die radio en televisie uitgesaai. Hy moes besef het dat dit net ’n kwessie van tyd was voordat die polisie se net al hoe stywer om hom sou span. Dit het hom net meer desperaat – en gevaarliker – gemaak.

    Die hulp van die Wes-Randse Moord-en-rooftak is vroeg reeds ingeroep. Op die dag van sy ontsnapping het die tweede-in-bevel van die eenheid, die 40-jarige AO Charles Miller, Taute se ouer broer, Hannes Taute, op Elsburg gaan besoek. Dié het ingestem om die speurders te laat weet as sy voortvlugtige broer met hom kontak maak. Hannes was, soos die ander lede van die Taute-familie, uiters besorg oor die geestesgesteldheid van sy jonger broer. Die familie het geglo dat hy dringend sielkundige hulp moes kry voordat hy homself of sy gesin dalk leed aandoen.

    Die volgende Sondagmiddag ontvang speurders van Carletonville inligting dat Taute hom weer aan die Oos-Rand bevind. In oorleg met die bevelvoerder van die Wes-Randse Moord-en-rooftak, maj. Jaap le Roux, is besluit om hom dieselfde middag nog by Hannes se huis te gaan voorlê. Die 39-jarige Le Roux, wat bekend is as ’n uiters bekwame bevelvoerder, het beheer oor die operasie oorgeneem. Hy was een van min speurders met ’n universiteitsgraad wat steeds veldwerk gedoen het.

    Le Roux het versoek dat Charles ook aan die operasie deelneem. Hoewel hy van diens was, het Charles soos gewoonlik onmiddellik ingestem. Die twee mans was meer as kollegas – hulle was ook groot vriende wat mekaar toe al amper twintig jaar geken het nadat hulle in 1964 as jong konstabels in die kaserne vir ongetroudes op Vereeniging ’n kamer gedeel het.

    Vyf speurders en ’n burgerlike wat Taute sou kon uitken, het die Sondagmiddag met twee ongemerkte polisiemotors na Elsburg aan die Oos-Rand vertrek. Die burgerlike was Tollie Tolkin, ’n skagvoorman van Wes-Driefonteinmyn op Carletonville. Die ander drie speurders was AO Nick van der Merwe van Moord-en-roof en serse. Cobus Jacobs en Wally Hattingh, al twee van die Carletonville se speurafdeling.

    Die twee bevelvoerders het met Hannes Taute beraadslaag oor wat hulle gaan doen om sy broer vas te trek. Hannes was uiteraard baie besorg oor sy jonger broer en het die speurders gesmeek om hom geen leed aan te doen nie. Hy het onder meer geëis dat hulle geen vuurwapens in hul operasie gebruik nie. Le Roux het gehoor gegee aan sy versoek, ten spyte van Charles se ongemak met dié besluit.

    Soos hulle verwag het, het Taute sy broer daardie middag gebel. Die plan was om hom na Hannes se ingenieursaak op Boksburg-Wes te lok, waar die speurders hom sou oorweldig. Agter die ingenieurswerke was ’n klein private kroeg waar kliënte onthaal is. Hannes en sy vrou sou sy broer daarheen bring en hom eers gemaklik maak voordat hy ’n teken aan die speurders sou gee om uit hul skuilplekke te kom.

    Die groep is intussen versterk deur Hannes se vennoot Johnny Simpson, wat die uitleg van die fabriek ook haarfyn geken het. Die groepie het in twee voertuie na die fabriek vertrek met Hannes wat later saam met sy vrou in sy eie motor sou volg.

    Die speurders het hul voertuie in ’n nabygeleë fabriek versteek en die groep ontplooi nadat hulle hul plan nogmaals nagegaan en verfyn het. Sers. Jacobs en die skagvoorman Tolkin sou hulself net buite die kroeg versteek, terwyl die ander in die kroeg se toilet weggekruip het. As Taute onverwags die toilet sou gebruik, sou hulle reg wees vir hom. Van der Merwe en Simpson sou van die straat se kant observasie hou.

    Die speurders het onrustig begin raak toe niemand opdaag nie en daar is selfs gevrees dat Bokkie sy broer en skoonsuster moontlik gyselaar geneem het. Maar uiteindelik het Hannes en sy vrou opgedaag. Kort op hul hakke was Bokkie en sy vriendin in die gesteelde Ford Cortina. Hulle het in die kroeg gaan sit en Hannes het vir almal drankies aangebied. Sover het alles volgens plan verloop. Maar Bokkie was soos ’n styfgespande snaar en baie agterdogtig.

    ’n Hele aantal dinge het toe verkeerd geloop.

    Bokkie het daarop aangedring dat sy brandewyn met die gebruiklike Coke en ys bedien word. Omdat daar nie Coke in die kroeg was nie het Hannes se vrou aangebied om dit in ’n buitekamer te gaan haal. Dit was nie deel van die plan dat iemand die kroeg sou verlaat nie. Toe sy die deur oopmaak, het Bokkie vir sers. Jacobs en Tolkin opgemerk, wat intussen te naby aan die kroeg se ingang beweeg het. Omdat Taute vir Tolkin van Carletonville geken het, het hy hom waarskynlik herken. Die twee mans het die vertrek binnegestorm en op die groep afgepyl.

    Hannes het probeer om sy broer vas te gryp, maar het sy greep op hom verloor en teruggesteier toe Tolkin hom per abuis met die vuis bykom. Die twee Taute-broers het na mekaar gelyk en Tolkin het waarskynlik vir Hannes met sy broer verwar. In die harwar is ’n staanlampie op die kroegtoonbank omgestamp, wat die vertrek in halfdonkerte gelaat het. Boonop het die twee vroue vreeslik aan die gil gegaan.

    Bokkie het ’n pistool uit sy sak gepluk en wild begin skiet. Eers het hy Tolkin getref, wat dadelik neergesak het. Die koeël is onder sy linkerarm in en onder die regterarm uit. Jacobs het ’n skoot deur die long gekry en het bo-op Tolkin inmekaargesak.

    Intussen het die drie speurders uit die toilet die kroeg binnegestorm. Le Roux kry ’n skoot deur die aorta net bokant die hart en sterf op die toneel. Sers. Hattingh het gestruikel en met die val sy arm beseer.

    Charles het sy vuurwapen (wat hy by hom gehou het ten spyte van sy bevelvoerder se versekering aan Hannes) uit die holster agter sy rug gepluk. Terwyl hy ’n skoot op Taute afgevuur het, het hy terselfdertyd na hom geduik. Die skoot was mis en met die duikslag word Charles deur Taute raakgeskiet. Die koeël gaan deur sy regterarm en slaan vas teen sy regtersleutelbeen. Dit laat sy regterarm heeltemal lam.

    Nogtans kry Charles die gewrig van Bokkie se hand wat die pistool vashou met sy linkerhand beet. As gevolg van ’n besering wat Charles voorheen in ’n motorongeluk opgedoen het, het hy nie volle krag in sy linkerhand nie. Maar hy slaag tog daarin om Bokkie se hand met die pistool van hom af weg te dwing. Op daardie oomblik trek Taute ’n laaste skoot af.

    Hy tref homself in die kop.

    Hy het slap geword in Charles se greep en afgesak vloer toe terwyl die pistool uit sy hand val. Charles het die pistool weggeskop al was dit nie nodig nie. Taute was reeds bewusteloos.

    Toe Simpson en Van der Merwe (wat verder af in die straat was) die kroeg binnekom, het ’n bloedbad hulle begroet. Hulle het gesien hoe die gewonde Charles oor Le Roux se lewelose liggaam buk en iets prewel. Jacobs het na Charles geroep en gevra dat hy hom van Tolkin se lyk afhaal, maar Charles kon hom nie help nie. Sy eie kragte het as gevolg van sy wonde begin ingee.

    Van der Merwe het ’n ambulans ontbied en die plaaslike polisie se hulp ingeroep. Die gewonde Charles en Jacobs, asook die sterwende Taute en Tolkin, is almal saam in ’n ambulans gelaai. Die ambulanspersoneel se bystand was egter nie van veel waarde nie omdat hulle nie eens in basiese noodhulp opgelei was nie. Omstanders het die gehawende ambulans

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1