Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Goree
Goree
Goree
Ebook81 pages1 hour

Goree

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dié drama, ’n liries en droomagtige maar tegelyk ook skreiend pynlike stuk oor herinnering en ongeregtigheid, is reeds in 1978 geskryf, in die hoogbloei van apartheid en twee jaar ná die Soweto-opstand. Dit is etlike kere opgevoer, maar word nou die eerste keer gepubliseer. Dit is in wese ’n versetdrama, maar die artistieke krag en durende relevansie daarvan lê in die wyse waarop dit wys hoe pynlik intiem verset en lojaliteit verstrengel is. Goree word gesien as Small se mees persoonlike letterkundige werk; hy het dit self beskryf as ’n gefiksionaliseerde outobiografie. Die titel van die teks is ook die naam van die gehuggie naby Robertson waar Small grootgeword het. Die drama gaan oor ’n bruin man wat ’n bom in ’n supermark geplant het en dan weens die terreurdaad verhoor en opgesluit word. Gedurende die verhoor en ook in sy tronksel tree hy deur middel van terugflitse in ’n voortdurende gesprek met die verlede, spesifiek met die sleutelmomente wat sy identiteit en sy verset bepaal het. Die klimaks van die drama is ’n gesprek – ’n konfrontasie – in die tronksel waaraan die aangehoudene, sy vrou en sy pa, sowel as die Afrikaanse bewaarder deelneem. Die klimaks wentel om die gewaarwording dat gevangene en bewaarder verdeel én saamgesnoer word deur dit wat hul onderskeie identiteite bepaal. Dit gaan hier om óns taal, óns kerk en óns grond. Dit is daarom só betekenisvol dat hierdie drama, wat aanvanklik in Engels geskryf is, nou in Afrikaans gepubliseer word. Die skrywer se verset teen sy onderwerping deur taalgenote word hierdeur die bevestiging van ’n grondliggende lojaliteit.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 20, 2013
ISBN9780624065432
Goree
Author

Adam Small

Adam Small is op 21 Desember 1936 op Wellington gebore. In 1953 matrikuleer hy aan die St Columba-skool van die Christian Brothers in Athlone op die Kaapse Vlakte. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad vir ’n graad in Tale en Filosofie en voltooi in 1963 ’n MA cum laude oor die filosofie van Nicolai Hartmann en Friedrich Nietzsche. In hierdie tyd studeer hy ook aan die Universiteite van Londen en Oxford. In 1959 word Adam dosent in filosofie aan die Universiteit van Fort Hare, en in 1960 word hy een van die akademiese grondleggers van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe hy as die eerste hoof van die Departement Filosofie aangestel word. Hy raak in die vroeë sewentigs betrokke by die Swartbewussynsbeweging. In 1973 bedank hy onder druk by die UWK. Hy woon daarna in Johannesburg, waar hy die hoof is van die Universiteit van die Witwatersrand se studentegemeenskapsdienste. In 1977 vestig hy hom weer in die Kaap en is tot 1983 werksaam as direkteur van die Wes-Kaaplandse Stigting vir Gemeenskapswerk. Hy keer in 1984 terug na die UWK as hoof van die Departement Maatskaplike Werk. Einde 1997 tree hy uit diens. Adam Small het in 1957 met Verse van die liefde gedebuteer. Van sy ander bekende digbundels sluit in Kitaar my kruis (1961) en Sê Sjibbolet (1963). Sy bekendste toneelstuk is Kanna hy kô hystoe (1965).

Read more from Adam Small

Related to Goree

Related ebooks

Related articles

Reviews for Goree

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Goree - Adam Small

    ADAM SMALL

    GOREE

    vertaal deur Daniel Hugo

    TAFELBERG

    Met liefde opgedra

    aan my reeds lank ontslape ouers

    en aan my kinders

    John en Leon, Zaidee en Peter

    Die heel eerste opvoering van The Orange Earth vind reeds in 1978 plaas in die Baxter-teater, Kaapstad, onder spelleiding van Jo Dunstan, met Bill Curry as Johnny Adams.

    In die Engels is dié stuk as vollengte-radiodrama deur die BBC uitgesaai, met Yvonne Bryceland as Babie en ook aangebied as verhoogstuk in Atlanta (Georgia, VSA) en Knoxville (Tennessee, VSA). ’n Verkorte weergawe is in Desember 1996 deur RSG uitgesaai.

    Die Afrikaanse weergawe van Goree moet nog opgevoer word. Die vertaler het heelwat korter as die Engelse BBC-teks gegaan. ’n Goeie regisseur sal natuurlik die tekste

    met mekaar in verband bring.

    Die tydsgewrig van Goree is die diep, donker dae van rassistiese Apartheid, ’n siek bestel van onderdrukking wat bitterheid en woede by bruin- en swartmense in die hand gewerk het. Goree probeer ’n blik gee op hierdie werklikheid van die sestigs en sewentigs veral.

    KARAKTERS

    • Johnny Adams

    • John (Jan) Adams, vader van Johnny

    • Babie¹ Adams

    • Bokkie Visagie (tronkbewaarder)

    1 Spreek verkieslik uit soos op Engels: Baby.

    Die spel begin met die ontploffing van ’n kragtige tuis­gemaakte bom en die warboel daarna op ’n straat in die middestad.

    (PANIEK EN VERWARRING OP STRAAT)

    VERSLAGGEWER: O my God, wat het . . . het . . . hier gebeur? (POUSE) Kan u . . . Kan julle sê wat hier gebeur het?

    VROU: Daar oorkant. Ek het daar oorkant gestaan . . .

    VERSLAGGEWER: Wáár? Dáár?

    VROU: Toe . . . gebeur dit . . . Dit het geklink soos . . . Ag, Here tog . . . Ek het geskree, en geskree . . . Dit het geklink soos . . . ek weet nie wat nie . . . soos . . . (SY GIL)

    (TERSELFDERTYD – IN ’N TERUGFLITS – VIND DIE ONT­­PLOFFING PLAAS. DIE TUISGEMAAKTE BOM ONT­PLOF IN ’N BESIGE WINKELSENTRUM IN DIE MIDDE­STAD)

    VROU: Ag, Here . . .

    MOEDER: Deirdre! Deirdre!

    VROU: Ek het . . . geskree . . .

    Dogtertjie: (BESEER EN BEANGS) Mammie! Mammie-e-e . . .

    Sekuriteitswag: Dit is Multimarket Sekuriteit hier . . . Dit is die Sekuriteitsafdeling wat praat . . . Mense, asse­blief . . . sal julle asseblief kalm bly en die gebou dadelik verlaat, onmiddellik. Maar bly net kalm. Dit is Multimarket Sekuriteit hier . . . ons vra u om die gebou onmiddellik te verlaat, asseblief. Ek herhaal . . .

    (SY STEM WORD GEDOOF DEUR ’N VROU SE SNIKKE)

    STEM: Wat het hier gebeur?

    STEM: Liewe God! Wat de . . .

    STEM: Die polisie . . . sal iemand asseblief die polisie roep . . .

    STEM: Hulle kom . . .

    STEM: . . . en die ambulans . . .

    STEM: Ja.

    STEM: Oukei.

    STEM: Ag, Here tog! Kyk! Kyk! Nee, néé . . .

    (SIRENES VAN AMBULANSE EN POLISIEVOERTUIE. BANDE SKREE TOT STILSTAND, MOTORDEURE OOP EN TOE)

    POLISIEMAN: Almal, staan trug! Staan terug, asseblief! Trug, trug, asseblief . . . (HY PRAAT MET HOMSELF) Stedelike donnerse terrorisme!

    (’N ERNSTIG BESEERDE VROU KERM)

    Ek sal hier kyk, Sakkie! Praat jy met die mense. Gebruik die luidspreker, Sakkie! Kry net al die mense hier weg! (HY PRAAT VOORT TERWYL SY KOLLEGA DIE SKARE TOESPREEK. HY PRAAT EINTLIK MET HOMSELF) Donnerse terroriste! Waar het die bom ontplof?

    SAKKIE: (OOR LUIDSPREKER) Dit is die polisie wat praat. Sal almal asseblief dadelik die gebou verlaat. Ter wille van u eie veiligheid.

    POLISIEMAN: Donnerse terroriste!

    VERSLAGGEWER: Sersant, dink u dit was ’n daad van . . . stedelike geweld?

    POLISIEMAN: Wat?!

    VERSLAGGEWER: Ek bedoel, was dit ’n terroriste-aanval?

    POLISIEMAN: Skryf wat jy wil, man! Kom net uit my pad, asseblief! Ons het nie nou tyd om te mors nie, hier’s werk wat gedoen moet word! (VIR ’N ANDER POLISIEMAN) Hennie! Kom help my hier!

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1