Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Rodriguez
Rodriguez
Rodriguez
Ebook296 pages4 hours

Rodriguez

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

1990. Mosambiek. Vroeër was hy die student Skerf Malan, maar toe word hy gewerf om aan koverte operasies deel te neem. Nou is hy die agent Rodriguez, die “inside man”, ’n wit man wat namens Nasionale Intelligensie die Renamo-beweging moet infiltreer. Hy dra reeds letsels wat sinoniem is met sy beroep, maar gaan steeds onverskrokke voort met sy taak. Spanning en intrige uit die boonste rakke deur ’n bekroonde skrywer.
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateMay 20, 2012
ISBN9780795800351
Rodriguez

Read more from Piet Van Rooyen

Related to Rodriguez

Related ebooks

Related articles

Reviews for Rodriguez

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Rodriguez - Piet van Rooyen

    Rodriquez

    Piet van Rooyen

    Queillerie

    And now the morrow was arising with a faint gleam in the east, and already the sunrise had parted the moist shadows from high heaven, when suddenly there emerged from the forest a grotesque stranger, pitifully unkempt and gaunt with starvation. He stretched his hands in entreaty to us on the shore.

    The Aeneid – Virgil

    1

    Dit het skaars lig geword in die dieptes van die Mosambiekse bos. Bo vee die son met ’n bleek gloed aan die toppe van die bome, maar onder het die slierte donker nog nie van die woudvloer af gelig nie. Geen wind waai nie. Alles roerloos. Die takke van die oeroue bome hang swaar van die dou. Daar is net die sagte geskarrel van insekte oor blare en droë hout, voëls wat tentatief met vaak stemme mompel, vog wat van die blare af drup. Iewers ver weg klink die dowwe hale van ’n stamper op ’n blok. Die dag begin soos enige ander. Dis eeue al so. Dis die ou-ou Afrika wat ontwaak uit sy dieptes van sluimering.

    Des te meer steurend kom die veraf geluid. Dit pas nie in hierdie oerwoud, hierdie stadig-druppende plek nie. Die klank kom aanvanklik as ’n vibrasie, ’n rammeling van ver onder die reikwydte van die oor. Net die olifante is in staat om so laag te luister. Waar hulle doekvoet deur die woudpaaie beweeg, steek hulle vas en skud hul koppe verergd met tande en swaar flappende ore.

    Dit dring harder, dreigender. Die mense, die enkele menslike bywoners van hierdie woud, hoor dit ook nou. Die een na die ander verstyf hulle rondom die vroegoggend dinge waarmee hulle besig is. Die vroue hou die stampers gestol bokant die stampblokke, die borste hangend aan die reeds verrekte spiere wat aan die skraal skouers gehaak sit. Maer mans verpoos waar hulle aan ’n panga of skoffelpik sit en slyp, die enkele skor woorde gestol op die tonge. Honger boepens-kinders hou op teem. Almal hou die ore gereed, en luister. Elkeen probeer op sy eie manier verstaan wat die vreemde gedoef beteken.

    ’n Troppie skugter woudduikers skarrel verskrik weg uit die oop kol waar hulle aan die soet gras aan die knibbel was. Hulle spits die volle aandag in die rigting van die gedreun. Skaduwees flerts oor hulle, breek die blougrys antiloop-gedaantes op in gekamoefleerde strepe van lig en skemer. Blouape gryns agterdogtig, hul tande taai van die stroop. Aaphande verslap. Woudvrugte plons swaar op die blaremat.

    Woep-woep-woep, dring die vibrasie na die binnekant van die ore, na die organe in die binneste van die liggame. Dis die gedruis van ’n warrelwind. Dit raak harder. Nou duidelik. Dis die ystergedrog. Dis die oorlog wat aankom, weet die mense nou goed.

    Die helikopter, in donkergroen-en-swart kamoeflering, kom laag oor die boomtoppe geskeer. Boomblare dans ’n gekke dans. Die toppe van die woudreuse skud in die warrelwind. Die troppie duikers skarrel onder die digste takke deur, asems fluitend in die kele. Ape gil met ’n geklapper van tande, die kleinstes weggekruip in die arm-oksels van die moeder-ape.

    In ’n oopte sak die dier neer op sy ysterpote. Die lemme skree met ’n hoë, skril geluid, woep gaandeweg stadiger, minder skril. ’n Deur skuif oop. ’n Man klim uit. Hy draf gebukkend uit onder die warreling van lemme. Hy staan ’n oomblik verstar in die verskuiling van die bos, lig die voorarm na bo. ’n Groet? ’n Afwysende gebaar?

    Die man is kort en bonkig. Sy hare is swart en gekrul. Sy vel is blas, sy gelaat soel. Hy’s blank, maar beswaarlik. Sy skouers is breed en blokkig. Sy boarms is gespierd tot op die been. Hy dra ’n T-hemp met afgesnyde moue. Sy linkerarm is verbrand tot bo teen die skouer. ’n Rooi vlek lê gestreep oor sy wang. Hy het een dowe oor. As hy sy kop so draai, pla die geraas van die lemme hom nie te erg nie.

    Die helikopter lig stadig. Die son blink op die ruite. Binne-in kan ’n mens niks sien nie. Die stuk meganika hang ’n oomblik roerloos bo die dak van blare. Met ’n flitsing van lemme teen die opkomende son skiet dit weg na vanwaar dit gekom het.

    Die geskende man buk oor sy rugsak, trek ’n bottel met blou vloeistof daar uit, neem ’n enkele sluk. Dan druk hy die knoppie op die handgrootte digitale satellietstelsel (ook bekend as ’n globale posisioneringstelsel) en kyk waar hy is. Hy knik die kop. Hy’s tevrede met sy posisie. Hy swaai die sak oor sy skouers en begin stap. Rodriguez het gearriveer. Die menslike hulpbron, soos dit in agentetaal bekendstaan, is geplaas.

    2

    Rodriguez het ’n goeie ruitverwysing gehad van die sentrum van die basis. In sy sak dra hy ’n brief gerig aan PappaGeneraal Afonso Dhlakama, President van Renamo, Mosambiek.

    Dis ’n vervalste brief, die storie daarin is ’n leuen, maar dis sy enigste stukkie hoop op lewe. Hy’s bereid om die kans te waag. Die goeie skeut patriotisme wat kleintyd by hom ingeboesem en deur sy tyd in die Diens bevestig is, het steeds groter waarde gedra as sy vrees vir die dood. Die ererol van jong helde uit die Afrikaner-verlede het hom help moedhou: Jopie Fourie, Gideon Scheepers, Jack Hindon, Henri Slegtkamp, Danie Theron. Hy’t hulle almal soos ou vriende in sy gedagtes gedra. Daar was foto’s uit geskiedenis op skool, boeke op sy pa se rak. Hy’t saam met hulle grootgeword. Bykomstighede vir die lewenspad. Rigtingwysers na Eendag.

    Die paspoort in sy rugsak is ’n Suid-Afrikaanse paspoort, vir Manuel Rodriguez. Dis ook vals. Die foto daarop is sy eie gesig. Hy het direk in die kamera gekyk, sonder bril of glimlag, sy hare langer as gewoonlik, langer as wat Monique daarvan hou, maar presies die prentjie van die man wat vroegoggend in die woud afgelaai is en nou hier deur die woud aangestap kom.

    Naby die basis het hy die wit hemp uit sy rugsak gehaal, dit oopgerol en oor ’n afgebreekte droë tak gespan. Met die wit hemp voor hom gehou, het hy voetjie vir voetjie wydsbeen oor die olifantpad nadergestap. Hy was elke oomblik ’n landmyn onder sy voete te wagte. Hy’t al een maal tevore ’n landmynaanval oorleef, op die Namibiese grens, vanuit die binnekant van ’n pantserkar. Sy linkeroor is nou nog doof. Hy kan maar net hoop dat Renamo nie so na aan hulle eie basis landmyne sou plant nie. En dat die olifante klaar afgetrap het wat hier te trappe was ná die vroeëre guerrillastryd.

    Hy’t die basis gehoor voordat hy dit gesien het. Eers die dowwe gestamp van die stampers op die hol blokke. Daarna ’n hond wat blaf. Toe mensestemme. Die stemme was doodgewoon, nie-militêr nie, sonder ’n sweem van aggressie. Op die ingewing van die oomblik het hy die rugsak op die grond neergesit, die wit hemp van die stok losgemaak, en bo-oor sy T-hemp aangetrek. Toe’t hy doodluiters die basisperimeter ingestap.

    Die vroue wat aan die rand van die basis aan die vuurmaakhout bymekaar maak was, het hom oopmond aangestaar, die kinders het verskrik ophou speel. Die jong soldate wat agter die vroue aangedrentel het, was te verbaas om na die gewere te reik. Bom dia! het hy na links en na regs gegroet.

    Hy het gehoop dat hy met die ploffende woorde en sy vriendelike aard na die basisbewoners toe kon loop en uitskiet. Bom dia! Bom dia! Hy het agter die woorde geskuil en doelgerig nader bly stap. Die dowwe klank van die stampers op die stampblokke, iewers vorentoe tussen die bome, het saam met die hartklop in sy borskas bly dreun. Hy het sy treë aangepas by die ritme daarvan. Elke tree was ’n berekende voet vorentoe. Hy het hom gedwing om kalm te bly, nooit te dink aan die witwarm snyding van die koeëls deur sy hemp en deur sy rug nie.

    Sy medisyne was sterk, die woorde van sy aankoms salwend genoeg. Niemand het hom probeer keer nie. Die groetende man het vreedsaam, bedaard, onskuldig voorgekom. Hy’t geen wapens gedra nie, net ’n wit hemp en ’n rugsak. Tog was daar ’n duidelike teken van gesag in sy houding. ’n Besoeker. Laat ons hoor watter nuus hy bring. Seriti, die krag van die vreemdeling.

    Eers by die ingang na die binnekant van die basis het ’n soldaat ’n geweerloop in sy maag gesteek. Die soldaat se oë was groot en wydgerek. Rodriguez het vermoed hy was gerook. Een of ander bosdwelm in die brein gehad. Toe eers het die vrees vir Rodriguez beetgepak. Hy het sy hande hoog gelig en aanhoudend sag begin prewel: Caro falar com o Presidente. Tenho messages para ele – Ek wil met die president praat. Het boodskappe vir hom!

    Ele está procurando por papa! het die soldaat na binnetoe geroep. Twee van sy makkers het nadergestap, outomatiese gewere gereed. Daar was nou drie gewere in die middel van Rodriguez se maag. Die senubol in sy solar plexus het onaangenaam gejeuk.

    Vá buscar Gaspar! het een van die soldate gesê. ’n Ander een het sy geweerloop uit Rodriguez se maag getrek en vinnig tussen die hutte ingestap.

    Oomblikke later het hy teruggekeer, sy geweer nog meer paraat, voor sy bors in vyf-en-veertig grade na bo gekantel, in die gereedhou-posisie, die hande styf om die geweergreep geklem. Hy was in sy soldaat-element, kon Rodriguez duidelik sien. Agter hom het ’n ander, jong, maer soldaat aangedrentel gekom. Hy was omtrent dieselfde ouderdom as die ander, maar in kraakskoon kamoefleerdrag en met ’n pistool aan die gordel. Daar was ’n spierwit armband om elk van sy boarms gespan. Op sy bors was ’n wit-en-rooi Renamo-kenteken. Op sy kop ’n heldermaroen baret, windmaker-skeef oor sy voorkop getrek. Hy het met ’n stokkie tussen sy tande loop en speel.

    O que temos aqui? – Wat het ons hier? het die nuwe soldaat gesê.

    So het Rodriguez die eerste keer vir Jose Armando Gaspar ontmoet.

    3

    Rodriguez was drie weke in die basis voordat generaal Dhlakama opgedaag het. In hierdie drie weke is hy, op Gaspar se bevel, baie sorgvuldig in ’n hut toegesluit, met ketting en slot. Hy kon slegs onder streng bewaking in die bos gaan ontlas. Daar was ’n ou geroeste kan met water in die hut, om te drink. Hy het ook van die water gebruik om mee te was.

    ’n Jong meisie het twee maal per dag vir hom kos gebring: wit, geklonte pap, sonder suiker of melk, sommer so onder die geslote deur ingestoot. Tussen die latwerk van die muur deur kon hy haar gesig sien, die skadu’s en lig wat strepe oor haar wange gooi. Sy het nie haar naam gesê nie, net ’n sagte steun gegee as sy die kos neersit. Wanneer die waterkan leeg was, het hy dit plat op sy kant gedraai en onder die deurspleet gestoot. Die meisie het dit gevat en gaan volmaak. Dit was rivierwater, kon hy sien, bruin en met die smaak van vars klei.

    Die meisie het ’n wye, vuil rok gedra wat waarskynlik vroeër rooi of pienk was, hopeloos te groot vir haar maer lyf. Rodriguez het die blik in haar oë probeer peil in die wisselende lig, maar sy’t nooit opgekyk nie. Tog was haar gelaatstrekke kalm en ontspanne. Uit die vredigheid van haar gesig het hy sy eie bietjie hoop op lewe wakker gehou. Ten minste het hy geweet dat Dhlakama se koms sy lot sou beslis. Hy het vir Gaspar die brief gewys met die amptelike briefhoof en die stempel op. Gaspar het die brief dadelik in sy eie sak gesteek. Later het hy laat weet dat Rodriguez vir Pappa kon sien. Dat hy vir Pappa moes wag.

    Niemand was gereed vir Dhlakama se koms nie. Onverwags het hy uit die lug neergedaal. Net Gaspar het soos gewoonlik uitgevat gesit in sy netjiese bospak, die materiaalhulse wit op sy moue, sy helder baret op die kop. Gaspar was altyd vir alles gereed. Hy kon altyd die helikopter van ver af hoor, minute voor die ander. Hy het sy kop op ’n primitiewe manier geroer en in die lug gesoek. Sy ore het gedraai. Hy het geweet, en kon presies wys, uit watter rigting die helikopter kom. Hy was werklik goed daarmee, om te luister. Die ander soldate het allerhande stories hieroor oor hom vertel, en was bang. Hulle het gesê dat hy selfs die sagste gefluister snags uit die hutte kon hoor, wanneer die wind stil was, en dat ’n mens niks kon sê wat nie vir sy ore bedoel was nie.

    Rodriguez het in sy onderbroek lê en slaap, natgesweet in die hitte van die somernamiddag. Tot binne-in die warboel van sy onrustige drome het die helikopterlemme ingedring, hulle vibrasies laag en dreigend. Hy het in die helikopters van sy oudae gery, die versamelbeeld uit al die helikoptervlugte van sy verlede. Die lyke van sy maats was in swart zip-plastieksakke langs hom op die helikoptervloer uitgepak. Die sakke was dig toegetrek. Tog kon hy die individuele vorms van hulle gesigte teen die swart seildoek sien stulp, hulle een vir een herken. Hy kon sien hoe hulle monde oop en toe gaan in hulle angstige pogings om lug te kry. Woep-woep-woep, het hulle monde aan die swart seile gesuig. Maak oop, maak oop die sakke! Hulle lewe nog! wou hy gil, maar daar was niemand om te luister nie. Net hy alleen tussen al die dooies. Hy was meteens helder wakker.

    Die helikopter het met ’n oorverdowende lawaai bo-op die basis kom hang, toe stadig neergesak tussen walms stof en dwarrelende blare. Hoenders het verward om die kante van die grashutte geskarrel. Die geskree van kinders was hoorbaar selfs bo die gefluit van die helikopterlemme. Daar was ’n duidelik hoorbare daling in geluid toe die loods die enjin afskakel. Die skerp gefluit het stadigaan stil geword. Kinders het die huil gesluk. Die lemme het al hoe stadiger geswiep. Twee soldate het by die oop deur van die helikopter uitgespring, hulle gewere na vore gerig, op hulle knieë gesak en stip heen en weer getuur, na denkbeeldige vyande in die bos. Toe het Pappa uitgeklim, netjies in ’n kamoefleerpak met rooi epoulette.

    Vanuit die skuiling van sy hut kon Rodriguez die vyf sterre en ’n vlag duidelik op die breë epoulette sien blink. Definitief die grootbaas self! Hy het ’n plat swart aktetas in sy regterhand gedra. ’n Dik, groen, gevlegte koord het oor sy skouer en linkerarm gehang. Die swart baret op sy kop was nuut en netjies. Daar was ’n groot swaarraambril op sy gesig. Hy het regop onder die stadig-swaaiende lemme uitgestap, en eenmaal kortaf in die algemene rigting van die basis gesalueer.

    Gaspar het dadelik nadergedraf, op aandag geruk, die hakke teen mekaar geklap, en flink terug gesalueer. Toe het hy die tassie by Pappa geneem en vooruit gestap na die binnekant van die basis toe. Pappa het hom ’n enkele goedkeurende klop op die skouer gegee. Die twee nuwe soldate het hulle in ’n breë agterhoede gevolg.

    Teen laatmiddag het Gaspar vir Rodriguez kom haal. Rodriguez was gereed. Hy het hom in die tussentyd vars geskeer en sy wit hemp aangetrek. Gaspar het hom met die geweerloop beduie waarnatoe om te loop. Hulle het ’n slingerpaadjie gevolg al dieper na die binnekant van die basis toe. Eenkant het ’n hond aanhoudend geblaf. Binne-in ’n ruigte kiaatbome was ’n groen tent nuut opgeslaan. Voor die tent het ’n opvoutafeltjie gestaan met ’n rooi plastiek-koelboks op. ’n Rooi handdoek het eenkant aan ’n tak gehang om droog te word. In die skadu van die digste bome het ’n houttafel met ’n grys-en-wit geruite tafeldoek gestaan. Daar was vier stoele rondom die tafel gerangskik. Op ’n kassie op ’n paal langs die tent het vier wit poustertduiwe gepronk. Die dun geluid van die duiwestemme het vreemd en onvanpas geklink hier in die Mosambiekse bos.

    Gaspar het vir Rodriguez beduie om op een van die stoele te gaan sit. Hyself het direk agter die wit man gaan staan. Rodriguez kon die loop van die geweer teenaan sy rug sien speel in die skaduwees wat die laatmiddagson op die sand gegooi het. Figure in ’n skaduspel, ’n man wat sit, en ’n ander met ’n skadugeweer.

    Toe het Dhlakama uit sy tent nadergekom en oorkant Rodriguez plaasgeneem. Hy was vars gewas en het nou ’n groen gevegshemp gedra, sonder rangtekens. Hy het Rodriguez se brief woordeloos op die tafel tussen hulle neergesit en dit gelyk gestryk met die vuis. Toe het hy die enkele woord in Portugees gesê: Sim?

    Rodriguez het geweet dat dit nou sy toets was.

    4

    Hy het geweet wat in die brief staan. Hy het die woorde oorspronklik self gehelp formuleer. Daarna het hy dit dikwels gememoriseer, sy rol daarvolgens oor en oor loop en inoefen, juis vir hierdie oomblik.

    SWARTZHOUT BPK.

    Posbus 31102

    Pietersburg

    Republiek van Suid Afrika

    Generaal Afonso Dhlakama

    President en Opperbevelvoerder

    Renamo

    Die Dieptes van die Bos

    Mosambiek

    Waardige Generaal

    My naam is Petrus Gerhardus Swartz. Ek is ’n prominente sakeman van Pietersburg, in Suid-Afrika. Ek besit ’n sakeryk van etlike miljoene dollars. My hoofvertakking is die invoer en uitvoer van alle soorte edelhout. As stokperdjie maak ek staanhorlosies. Ek besit ook verskeie swaar vragmotors en grondverskuiwingstoerusting.

    Ek stuur hiermee vir mnr. Manuel Rodriguez as my verteenwoordiger na u. Ek vertrou hom ten volle. Die doel van sy besoek is om aan u die moontlikheid te noem om groot hoeveelhede edelhout vanuit u Renamo-beheerde woudomgewing te ontgin vir klandestiene uitvoer na Suid-Afrika. Ek stel veral in panga-panga (Millettia Stuhlmannii), pau-rosa (Berchemia zeyheri), Sandalo (Spirostachys Africana), pau-ferro (mondzo) (Swartzia madagascariensis) en swarthout (African blackwood, Dalbergia melanoxylon) belang. Betaling sal in kontant geskied, in Amerikaanse dollars. U mense saag die stompe en my mense kom laai dit.

    Hoewel dit nie my primêre veld van vaardigheid is nie, sou ek u ook in kontak kon bring met geloofwaardige internasionale wapenhandelaars, met wie ek op vorige geleenthede sake gedoen het, en wat wapens van enige aard op kort kennisgewing kan verskaf. Indien u dit so verkies, sou ek bereid wees om hierdie wapens vanuit Durban-hawe via Malawi op my eie risiko na u te vervoer en te ruil vir die hout (’n eenvoudige aflaai-oplaai-operasie). Ek verwag natuurlik vrye deurgang deur Renamo-gebied en gewapende beskerming so ver moontlik. My eie mense stuur ek ook gewapend in, as dit u goedkeuring wegdra.

    Mnr. Rodriguez is ’n Portugeessprekende Suid-Afrikaner wat in koloniale tye in Angola grootgeword het. Hy dra kennis van houtontginning, maar is terselfdertyd ook ’n oudoffisier van die Flechas in Angola, en ’n opgeleide militêre strateeg. Hy werk al jare vir my. U is welkom om van sy kundigheid gebruik te maak, terwyl hy onder u beskerming is. Hy sal u verder oor sy agtergrond en posisie kan inlig. U sal verstaan dat sy teenwoordigheid op die oomblik slegs ’n verkenningstog is, tot tyd en wyl ons oor prys, hoeveelhede en lewering kan onderhandel.

    U is welkom om rond te vra na my en my sakebedrywighede.

    Met dank

    Petrus Gerhardus Swartz

    Rodriguez speel hierdie brief vinnig weer ’n keer in sy kop af, voordat hy begin praat. Hy praat vinnig en baie: Dankie vir die geleentheid, generaal. Ek gaan nie na u welstand uitvra nie. Ek vertrou u is gesond. Dankie vir u mense se gasvryheid van die afgelope weke. Ek het goed geëet. Ek weet u is ’n besige man. Ek is dankbaar vir die geleentheid om u uiteindelik te sien. Ek kan nie veel meer sê as wat u voor u het nie. Ek is bereid om vrae te beantwoord so ver ek kan. Ek is bewus dat my lewe in u hande rus. Rodriguez het vorentoe op die stoel

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1