Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Bygelowe en waar hulle vandaan kom
Bygelowe en waar hulle vandaan kom
Bygelowe en waar hulle vandaan kom
Ebook609 pages9 hours

Bygelowe en waar hulle vandaan kom

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Het jy geweet dat die titel Macbeth van Shakespeare nie in ‘n teater in die Verenigde Koninkryk genoem word nie? Dit sal ongeluk oor die opvoering bring. Daarom staan dié klassieke werk dáár as die Skotse Drama bekend.

Weet jy dat geboue in Oos-Asië glad nie ‘n vierde verdieping het nie, en dat geboue in Hong Kong geen verdieping met ‘n syfer vier daarin het nie. Verdieping 4, 14, 24, 34 en 40 tot 49 ontbreek in dié wolkekrabbers. Baie mense in China, Korea en Japan ly aan tetrafobie en het ‘n vrees vir die syfer vier. Dit bring onheil, glo hulle.

Waarom word groen nie in Franse teaters gebruik nie en violet nie in Italiaanse teaters nie? Want daar bestaan verskeie bygelowe hieroor wat van kultuur tot kultuur verskil. En boonop kan ‘n bygeloof in een kultuur, ‘n volksgeloof in ‘n ander wees.

Net soos in dr. Anton Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom vertel hy die leser in Bygelowe en waar hulle vandaan kom van ’n duisternis bygelowe wat wêreldwyd bestaan, en werp hy soms ook lig oor die herkoms daarvan.

Dié naslaanbron is die eerste omvattende Afrikaanse woordeboek oor bygelowe wat in Suid-Afrika verskyn.
LanguageAfrikaans
PublisherPharos
Release dateJan 31, 2013
ISBN9781868901357
Bygelowe en waar hulle vandaan kom
Author

Anton F. Prinsloo

’n Dief aan die kers – skelm woorde deur die eeue volg op twee susksevolle Pharos-publikasies deur dr. Anton F.Prinsloo, naamlik Spreekwoorde en waar hulle vandaan en Bygelowe en waar hulle vandaan kom. Toe dr. Anton Prinsloo tien jaar oud was, is sy eerste twee verhale in die destydse dagkoerant, Die Transvaler, gepubliseer. Sedertdien is hy in die wetenskap van taal geïnteresseerd, maar veral in die herkoms van Afrikaanse woorde en uitdrukkings. Hy was voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Taaladviesraad van die destydse SAUK. Hy het verskeie artikels vir linguistiese tydskrifte geskryf en het nie minder nie as agt boeke gepubliseer. Hy is reeds ‘n dekade lank die skrywer van die rubriek “Taalkruie”, wat in die dagblad, Volksblad, verskyn. Dr. Prinsloo het onder meer pryse van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV en die FAK vir sy skryfwerk ontvang.

Read more from Anton F. Prinsloo

Related to Bygelowe en waar hulle vandaan kom

Related ebooks

Related articles

Reviews for Bygelowe en waar hulle vandaan kom

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Bygelowe en waar hulle vandaan kom - Anton F. Prinsloo

    logo.jpg

    BYGELOWE

    en waar hulle vandaan kom

    Anton F. Prinsloo

    Waarskuwing

    Bygelowe is nie kinderspeletjies nie.

    Is jy te bang om op Vrydag die 13de onder ’n swart kat deur te loop, laat staan nog ’n leer? Het jy gedink jy is veilig omdat jy melk oor die dier uitgegooi het? Het jy troukoors maar wil eers vroegtydig sien hoe jou lewensmaat gaan lyk (sodat jy kan wegkruip of emigreer, indien nodig)? Het jy vergeet om jou gewese vrou oor die drumpel te dra en nou sit jy met maandelikse onderhoud vir haar? Het jy ’n vrat (selfs met een hekshaar op) wat jy aan ’n politikus wil gee? Het jy jou vinger op ’n ouijabord verstuit? In dié boek is duisende bygelowe, hul oorsprong en teenvoeters vir die bose geeste wat nie kan wag om jou te teister nie. Byeengebring (maar nie op Vrydag die 13de nie) uit alle dele van die wêreld, maar ook die heelal: van die son, maan en sterre tot by jou man se groottoon wat korter as die een langsaan is en wat die rede is hoekom hy onder die pantoffelregering staan. Pasop dus.

    So sou ek graag wou voortgaan, maar ek skryf dié waarskuwing (met toegegooide spieëls en knoffel in ’n sakkie om my nek) op 5 Mei 2012 (ook geskryf as 05/05/12). Ek is nie bygelowig nie, maar 0+5+0+5+1+2 is gelyk aan – nee, ’n mens tart nie die noodlot nie.

    AFP

    Johannesburg

    Wat is bygeloof?

    Die eenvoudigste definisie van ’n bygeloof is dat dit iets is waaraan mense vas glo en wat nie wetenskaplik of met logika verklaar kan word nie. Onmiddellik bring dit die groot godsdienste van die wêreld in die gedrang. Die Inuïet- en Afrika-nasies, byvoorbeeld, se volksgeloof geld dikwels as hulle godsdiens, al word dit waarskynlik deur buitestanders as bygeloof beskou. Mense wat nie die Christelike geloof aanhang nie, kan die vaste geloof in ’n maagdelike geboorte (wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie) as bygeloof beskou terwyl dit sentraal in die gelowige se lewe staan. Die beginsel van weglating eerder as insluiting is in dié boek gevolg, in navolging van navorsers soos Slotegraaf & Koorts (2006).

    Soortgelyke, anderstalige bygeloofwoordeboeke deel sekere eienskappe waaraan bygeloof geïdentifiseer kan word. Byvoorbeeld: Daar word geglo dat sekere handelinge of verskynsels altyd voorspoed of onheil voorspel; dat sekere voorwerpe, diere of mense altyd geluk of teenspoed bring; en dat die gebeure nie wetenskaplik verklaar kan word nie. Bygelowe kan van kultuur tot kultuur wissel, maar daar is duisende wat as universeel beskou kan word.

    Bygelowe berus op geluk en ongeluk. Geluk kan nie gekoop, gewil of omgekoop word nie. Toe die antieke mense van bose geeste gepraat het, het hulle ongeluk of onheil bedoel. Daarmee kon hulle verduidelik hoekom dinge verkeerd loop.

    Daar is amper niks onder die son waaroor daar nie bygeloof bestaan nie. Katte (wit en swart), honde, varke, hase, albatrosse, haaie en ander diere, blomme, plante, getalle, priesters, vroue, gaap en nies is maar enkele van die sake waaroor bygelowe ontstaan het. Matrose, byvoorbeeld, het ’n duisternis bygelowe gehad, wat dikwels eers in die verligte 20ste eeu besweer is. Afgesien van die syfer 13, Vrydag en lere, is daar ook boomgeeste waarvoor jy moes oppas. Dan was daar die bose oog wat vandag nog, veral in Italië, mense van vrees laat ril. Selfs ’n koei se speen moes dopgehou word, want as dié dier s’n seer is, het vroulief melk op die stoof laat oorkook. Daar is honderde maniere vir ’n jong meisie om vas te stel met wie sy gaan trou en hoe hy sal lyk. Buiten bygelowe waarvoor daar verklarings bestaan het, is daar ook nog talle wat geen oorsprong het maar nie minder gevaarlik is om te verontagsaam nie. Ongelukkig verskil bronne so dikwels oor dieselfde bygeloof dat daar dikwels geen klaarheid oor die oorsprong of gebruik is nie.

    Bygelowe is ook nie tot die Middeleeue beperk nie. In sy tweejaarlikse verslag oor die stand van die publiek se begrip van die wetenskap het die Amerikaanse National Science Foundation in April 2001 onder meer die volgende bevind: 30% van alle volwasse Amerikaners glo dat Vreemde Vlieënde Voorwerpe (UFOs) ruimteskepe van ander beskawings is; 60% glo in buitesintuiglike waarnemings (ESP); 40% dink dat astrologie wetenskaplik is; 32% glo in gelukkige nommers; 70% aanvaar magnetiese terapie as wetenskaplik gefundeerd; en ’n kwart tot helfte van die Amerikaanse bevolking glo in spoke en spookhuise en dat met die dooies gekommunikeer kan word. (Newport & Strausberg: 2001).

    Toeligting

    Hoe soek ek?

    Die meer as 6 000 bygelowe is alfabeties ingedeel onder trefwoorde wat die vernaamste onderwerp van die bygeloof verteenwoordig. So sal bygelowe oor hekse oorwegend onder die trefwoord heks behandel word; dié oor katte onder kat, en dié oor matrose onder matroos.

    Die trefwoorde word op enkele uitsonderings na in die enkelvoud opgeneem.

    Die pyltjie → beteken kyk by, vergelyk, byvoorbeeld → VERKEERDE VOET beteken dat die leser by die trefwoord verkeerde voet moet kyk. Alle woorde wat in KLEIN KAPITALE gedruk is, is as trefwoorde in die woordeboek opgeneem. In die volgende voorbeeld onder die trefwoord oogkleursel kan ’n leser meer inligting onder die trefwoord bose oog vind:

    oogkleursel Dit is in antieke Egipte gebruik om ’n kring om die oë te trek sodat die BOSE OOG nie daardeur kon dring nie. Die duiwel het geen mag teen die krag van ’n kring nie.

    Hoe werk die register?

    Die register deel die bygelowe in meer as 100 spesifieke kategorieë in. Dit maak dit vir ’n leser moontlik om bygelowe wat byvoorbeeld in spesifieke lande voorkom maklik na te slaan. Onder Italië in die register vind ’n leser ’n lys van trefwoorde waar bygelowe behandel word wat in dié land voorkom, onder meer amulet, bose oog, edelsteen, ekster, koraal, perdeby, sokker, vampier en wensbeentjie. Onder Kanada vind lesers verwysings na tente en troukoors en kan hulle dáár gaan oplees.

    As ’n mens normaalweg na ’n bygeloof oor byvoorbeeld BOSE GEESTE soek, is dit onmoontlik om te raai dat dit onder die trefwoorde Afrika-bygeloof, baba, Basotho-bygeloof, besem, boerbok en vele ander verskyn. Hierdie inligting word maklik in die register nageslaan.

    A

    aardmannetjie In Engelse en Skotse bygeloof word dié feetjie die brownie genoem. Dit is ’n bedrywige, hardwerkende fee wat ongemerk in huise en skure woon. ’n Mens hoor hom soms laat in die nag as hy skottelgoed was (totdat jy nugter word). Hy sou vroeër wanneer nodig die vroedvrou gaan ontbied en in Cornwall het hy gesorg dat ’n swerm bye gou sitplek kry en begin nes bou. Room of brood en melk kon vir hom voorgesit word, maar ander geskenke het hom woedend gemaak. Om van hom ontslae te raak, moes ’n mens vir hom ’n pak klere maak: hy sou dit aantrek en vir altyd verdwyn.

    Die boggart van die Britse graafskap Yorkshire en die bogle (spook) van Skotland is vyandiggesinde aardmannetjies wat nie van poltergeists onderskei kan word nie; → POLTERGEIST.

    abrakadabra Vir tandpyn, ontsteking en ander siektes moes ’n perkamentamulet om die nek gedra word met dié woord in ’n omgekeerde piramide (self ’n magiese simbool); → AMULET. So nie moes die woord geskryf word, elke keer minus ’n letter, en soos die letters minder geword het, is geglo, sou die pyn ook verminder.

    abrakadabra

    brakadabr

    rakadab

    akada

    kad

    a

    Dié towerformule met die driehoekvorm is moontlik die eerste keer deur die Romeinse digter Q. Severus Sammonicus in Latyn (ongeveer 200 n.C.) opgeteken. Aanvanklik is dit net beskou as ’n woord met groot krag wat deur towenaars opgesê is om ’n mitiese Persiese songod se hulp in te roep. Ander bronne skryf die oorsprong toe aan sektes, waaronder dié van die Egiptenaar Basilides (ongeveer 125 n.C.). Hy het as oppergod Abraxas verkondig en aanbid. Dié is beskou as die god van alle gode en die bron van goddelike openbaringe, die heerser oor al 365 hemels of sirkels van die skepping – een vir elke dag van die jaar. Die bygeloof ten opsigte van die naam Abraxas is versterk omdat die som van die letters van die naam in die getalleleer 365 beloop het (a=1, b=2, r=100, x=60, s=200); → GETALLE. Daar is amper volle ooreenstemming dat die woord ‘abrakadabra’ nie ’n verbrouing van die kabbalistiese Hebreeuse habraha dabar (‘seën die voorwerp’) is soos in enkele bronne gespekuleer word nie.

    Afrika-bygeloof Een van die sterkste bygelowe in Afrika is dié in die toorkuns. Die meeste mense glo in towenaars of hekse wat aktief besig is om in mense se lewens in te gryp of dit te beïnvloed. Hulle word geblameer vir armoede, siekte, ongelukke, sakemislukkings, hongersnood, aardbewings, onvrugbaarheid en geboorteprobleme. Enige buitengewone, geheimsinnige of onverklaarbare verskynsel word ook aan hulle toegeskryf. In sommige gemeenskappe word soms van positiewe of negatiewe toorkuns gepraat. Die positiewe genees siektes of los probleme op, byvoorbeeld liefdesprobleme; die negatiewe veroorsaak onheil. Oor die algemeen word Afrikatoorkuns met die bose vereenselwig.

    Daar is ’n algemene bygeloof dat die hekse snags in woude of op see vergader waar hulle mensebloed en -vleis, veral fetusse, verorber. In Nigerië, Kameroen, Ghana, Malawi en Uganda word sommige kinders selfs as hekse beskou.

    ’n Verdere bygeloof is dié oor bose geeste, byvoorbeeld: as iemand siek word, beteken dit dat ’n bose gees in sy liggaam ingetrek het.

    Talle stamme in Afrika het hulle eie bygelowe oor die skepping; → SKEPPINGSBYGELOOF en die REGISTER.

    afrodisiakum Toe tamaties en aartappels van die Amerikas in Europa aangekom het, is dié groente as afrodisiakums beskou. Ook die aspersie en die geelwortel het die mans se gedagtes (en ander dele) gaande gehad, waarskynlik as gevolg van hulle vorm wat aan die penis herinner. Oesters en mossels het hulle aan die vagina laat dink; → OESTER.

    Die bolle van die orgidee lyk na testikels en dié plante was ook gesog. (Die mediese naam vir die siekte wat in die volksmond as ‘pampoentjies’ bekend staan, heet juis orchitis omdat orchis die Grieks vir ‘testikel’ is.) Die antieke mens het geglo dat as ’n ding aan die seksorgane herinner, dit seksuele plesier sou verhoog.

    In Spanje word bultestikels as ’n opwekker beskou – daar is ook nie ’n groot tekort daaraan as ’n mens die stiergevegte wat eie is aan dié land in ag neem nie.

    Ander kossoorte wat volgens bygeloof ereksies sou aanhelp, is appels, artisjokke, kool, preie, seldery en witwortel. ’n Vet akkedis was ook nie te versmaai nie, maar dan moes dit rou geëet word nadat dit in urien gedoop is. Gapermossels en kaviaar was ook gewild by mans.

    Sommige bygelowe vereis dat ’n mens ’n paar hare moet kry van die persoon wat jy wil verlei en dit dan met of sonder sy of haar liggaamsvloeistowwe in ’n konkoksie moet gebruik.

    Sekerlik een van die bekendste bygelowe oor afrodisiakums is dat gedroogde spaansvlieg (ook ‘groenvlieg’ genoem) ’n meisie totaal onderstebo kan slaan. In teenstelling hiermee het die antieke Grieke geglo dat vroue kuis sou bly as hulle op die sogenaamde kuisboom (Vitex agnus-castus, familie Verbenaceae) se blare gaan sit, of ’n aftreksel van die bessies sou drink.

    Ook die gewone gousblom word soms (met meer hoop as verwerkliking) op water getrek. Dié bygeloof kom al ’n lang pad, want daar is ’n byna vergete Afrikaanse uitdrukking as ’n meisie swanger is: ‘Sy het gaan gousblommetjies pluk’.

    Alikreukels wat met verpoeierde erdwurm geëet word, sal ’n man se libido na duiselingwekkende hoogtepunte voer. Daar moet egter gewaak word teen vomering wat die hele proses kan verongeluk. As erektiele disfunksie een van die probleme is, sal ’n haas se niervet dit sommer gou uitstryk.

    Selfs of juis die menslike liggaam is as geredelike bron van opwekkers beskou. ’n Stukkie gebraaide hart (die setel van die liefde – behalwe by die Berbervolk waar die lewer dié funksie vervul), ’n slukkie semen of urien kon met hopelik opbeurende gevolge ingeneem word.

    Verpoeierde renosterhoring verdien spesiale vermelding as ’n afrodisiakum. Veral die Chinese glo aan die magiese krag van die poeier. Dat die renosterfamilie dus in lewensgevaar verkeer, is te verwagte. Ook verpoeierde horing van die EENHORING was gesog.

    In die Middeleeue is blaarslaai dikwels in liefdesdoepa gebruik. Daar is ook geglo dat dit kinderbaring by jong meisies sou bevorder.

    Die Romeinse skrywer van die eerste eeu n.C., Plinius die Ouere, sou die regterlob van ’n aasvoël se long, wat toegenaai was in ’n kraanvoëlvel, aan die man se lyf vasgemaak het. Daarmee is geglo dat die Kaapse bed by wyse van spreke Hollands gemaak is. Daar is ook geglo dat hoendersop die daad sou doen; in Egipte was dit slaaiblare.

    ALRUIN was volgens bygeloof ’n geheimsinnige plant wat onvrugbaarheid in mans en manlike diere kon voorkom, kinderlose vroue swanger kon laat word en liefde tussen man en vrou kon laat blom. Dit is as afrodisiakum beskou, maar het ook oor ander wonderlike eienskappe beskik.

    In sommige ander kulture is geglo dat die mis van ’n ekster wellus by die vrou vir ’n man opwek. So nie, was ’n mengsel van gebrande bokpoot en manlike varings die ware Jacomina vir lesbiese liefde.

    agaat EDELSTEEN.

    akkedis Min mense het al ooit die geluid gehoor wat ’n akkedis maak – indien enige. Maar in Indië word geglo as dié diertjie ’n geluid maak nadat jy iets gesê het, dit jou stelling as die waarheid bevestig. As ’n akkedis daar ’n dorp binnekom en jy hoor dit van links roep, beteken dit voorspoed vir die inwoners; van regs voorspel dit ’n vertraging in die uitvoering van ’n belangrike projek van die hoorder.

    As jy van ’n akkedis droom, beteken dit dat jy ’n geheime vyand het. As een op jou val, is dit nie ’n goeie teken nie. Jy moet dadelik gaan bad en by ’n olielamp jou gunstelinggod vra om jou teen onheil te beskerm; → ook DROOM.

    akker Akkers word al sedert die dae van die druïdes as gelukbringers gedra, want dit het goeie geluk en ’n lang lewe meegebring. In Klein-Asië was die akker die heilige voorwerp van die godin van die natuur. Die Skandinawiërs weer het geglo dat die god van donder, Thor, die eikeboom beskerm het. As ’n akker naby ’n venster geplaas is, sou weerlig nie die huis raak slaan nie. ’n Gedroogde akker is dus vroeër dikwels aan die koord van ’n blinding vasgemaak waarmee dit oop- en toegetrek is as die weerlig buite speel.

    As ’n meisie altyd ’n akker by haar hou, sal sy baie jare lank jonger lyk as wat sy is; → ook DROOM.

    alruin Alruin is ’n giftige plant met ’n baie groot, gevurkte wortel, wat volgens bygeloof skree wanneer dit uit die grond getrek word en wat dié wat dit hoor, laat sterf. (Vandaar ook die ander naam ‘doodskruid’.) In antieke tye is poppies wat uit die wortel gesny is, as gelukbringers en ’n afrodisiakum gebruik. Die wortel is ook vroeër as middel teen lewerkwale gebruik.

    Die vermeende krag van die alruinwortel skuil in die magiese vorm van die wortel wanneer dit uit die grond getrek word. Dit is een van die min natuurlike verskynsels wat die vorm van die menslike liggaam naboots. Dit lyk so baie na ’n man of vrou met die bene oopgesper dat dit sedert die vroegste Griekse tye seksuele konnotasies gehad het.

    Die Romeinse keiser Julianus het glo elke aand ’n oplossing van die wortel in wyn as ’n afrodisiakum gedrink. In dele van Griekeland dra jong mans nog ’n stukkie van die wortel in hulle sakke as liefdespaljas. Gesien die vorm van die wortel is dit nie verbasend dat die antieke mense geglo het dat dit ’n vrou swanger kon maak nie. Die Grieke het ook geglo dat dit pyn kon verlig en die duiwel kon verjaag. Gedurende die Middeleeue is dit as ’n verdowingsmiddel gebruik.

    In Arabië is dit die ‘duiwel se kers’ genoem omdat dit in die donker vanself sou skyn. Die plant sou ook onder die galg van ’n moordenaar groei en floreer op alles wat uit die lyk gedrup het.

    amber EDELSTEEN.

    ambulans ’n Ambulans voorspel altyd ongeluk. As ’n mens een sien, moet jy jou neus toedruk en asem ophou totdat jy ’n swart of ’n bruin hond sien. As die hond nie gou genoeg verskyn nie, moet iemand vir jou ’n ambulans roep.

    ametis EDELSTEEN.

    amulet Amulette moet iemand teen onheil beskerm of vir hom geluk bring. (Die woord ‘amulet’ kom uit Latyn amuletum uit amolire letum met die betekenis die ‘dood laat wegdraai’.) Dit kan aan die persoon gedra, aan ’n voordeur geheg of selfs in ’n motor of babawaentjie gebruik word. In die Middeleeue veral was dit gebruik om dit om die nek van ’n babatjie te hang omdat kindersterftes toe baie meer dikwels voorgekom het. Tradisioneel is geglo dit moet ’n natuurlike voorwerp wees wat nie mensgemaak is nie. Dit kan enigiets wees wat die eienaar glo spesiale mag of krag besit. Tog word ringe, boeke, hoefysters of ander voorwerpe ook as gelukbringers gebruik.

    Dele van diere was ook gewild omdat geglo is dat die draer daarvan die eienskappe van die dier sou verkry. Só is ’n leeu se tand gedra vir moed, ’n tiervel of beer se klou vir krag. Goue voorwerpe was ook gewild omdat geglo is dat goud die trane van die songod was. Gelukbringers in die vorm van ’n hart sou ewigdurende liefde verseker en ook sommer die draer teen hartsiektes beskerm.

    Een van die gewildste gelukbringers in Italië is die rooi soetrissie. ’n Gedroogde een hou die duiwel weg, want hy is bang vir die kleur rooi. Ander gewilde gelukbringers is koraal, ALRUIN, ’n VIERBLAARKLAWER, mensehare, tande, afbeeldings van die menslike hand, medaljons met die beeld van heiliges daarop, ringe met geboortestene en die ABRAKADABRA.

    Die Midianiete en ook die Israelitiese vroue het amulette in die vorm van maantjies gedra (Rigters 8:21, Jesaja 3:18). Die vernaamste Joodse talisman is die mezoezah. Dit is ’n hol metaalbuis waarin ’n klein rolletjie perkament geplaas word met die prinsipiële verklaring van die Jode: Hoor, O Israel. Die Here ons God is een. Hierdie buisie word dan teen die voordeur vasgespyker om die huis veilig te hou. Om dit meer krag te verleen, raak elkeen wat die huis binnegaan daaraan of soen dit. Sommige navorsers meen dat die mezoezah van Egiptiese oorsprong is – die antieke Egiptenare het gelukbringerverse bo die kosyne van hulle deure geverf; → ook GELUKBRINGER.

    angelier Daar bestaan ’n bygeloof dat die angelier die blom van blydskap en vreugde is omdat dit die eerste blom was wat ná Christus se geboorte gesien is. Daar is beslis aanduidings dat die blom nog voor die Christelike era al bestaan het. Dit kon die menslike liggaam van ontbinding vrywaar en nagmerries weghou. Dit sou ook sommer wild by die grafte van minnaars blom en het toe in begrafniskranse gewild geword. Dit hou ook swaarmoedigheid weg.

    In Korea word geglo dat die angelier iemand se toekoms kan voorspel. As drie blomme aan dieselfde stingel in iemand se hare geplaas word en die boonste blom gaan eerste dood, sal die laaste jare van die draer moeitevol wees. As die onderste een eerste verdroog, sal dit vroeg in die lewe al ongeluk meebring. En as al drie tegelykertyd verdroog, sal die hele lewe moeitevol wees.

    ankh Die Egiptiese kruis, ’n figuur soos ’n kruis met ’n lus in plaas van ’n boonste vertikale arm, is veral in ou Egipte gebruik as bygeloof dat dit ’n lang lewe sou verseker.

    Antjie Somers Volgens oorlewering genoem na ’n berugte Kaapse struikrower, Antjie Somers, wat dan tydens die bewind van lord Charles Somerset (1767-1831) aan die Kaap vroueklere sou aangetrek en slagoffers saans voorgelê het as hulle op pad huis toe was.

    Die 18de en 19de eeu was ’n redelik onveilige tyd op die paaie en dié man het ’n historiese figuur geword. Die oorspronklike rower het algaande allerhande skrikaanjaende eienskappe verkry wat seker sou maak dat stout kinders nie laat buite speel nie en op tyd gaan slaap. Die nuwe persona het ’n vreesaanjaende gesig met ’n haaslip en tande soos ’n bobbejaan gehad. Dit kon hoog spring en vlieg, selfs met een kind in die hand. Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse taal is die vroegste verwysing na so ’n rower op 10 Oktober 1866 in The Friend in Bloemfontein.

    Die bygeloof oor dié karnallie het in Tuinstraat (tans Victoriastraat) in die middel van Kaapstad begin. Naby aan die bopunt was ’n donker plek met baie bome. Die plek het ’n sinistere reputasie gehad, veral nadat die Kolonie se laaste beul homself daar opgehang het. Die man was ’n wreedaard wat gevangenes gemartel het. Hy het ook geld ontvang om die lyke van selfmoordenaars aan ’n galg op te hang.

    Antjie se van het sy te danke gehad aan die feit dat sy eintlik net in die somer die spook gespeel het. Sover bekend is dié karakter die eerste suksesvolle drag-kunstenaar in Suid-Afrika se geskiedenis.

    appel Ons is almal geleer dat ’n appel per dag die dokter sal laat wag. Hierdie bygeloof word al geslagte lank van ouer na kind oorgedra – na aanleiding van ’n Engelse spreekwoord. Toetse wat in 1981 by die Leeds-universiteit in Engeland gedoen is, bewys dat mense wat appels eet minder by die dokter besoek aflê as dié wat dit nie doen nie.

    Die appelboom word sedert die vroegste tye in sekere kulture as heilig beskou en kom in Griekse, Romeinse, Noorse en ander legendes voor. Plinius die Ouere (23-79 n.C.), die groot skrywer van antieke Rome, vermeld meer as twintig soorte appels wat in sy tyd algemeen beskikbaar was. Die vrug bevat vitamien C, asook proteïen, pektien, suikers, minerale soute, kalsium en fosfor.

    Sommige bygelowiges verwys na die appel wat Eva vir Adam in die Paradys sou aangebied het om te staaf dat dit die volmaakte vrug is. (Dit nieteenstaande die feit dat die vrug in Genesis nooit ’n appel genoem word nie – dit is veel eerder ’n vy, gesien die vyeblare waarmee die paar hulle bedek het.)

    Om ’n appel te eet sonder om dit eers teen jou klere te vryf, is ’n uitdaging aan die duiwel. ’n Appel kan jou ook help om die naam van jou toekomstige lewensmaat te bepaal. Draai die stingel een keer vir elke letter van die alfabet (begin by A) en as die stingel breek, is daardie letter die aanvangsletter van jou geliefde se naam; → TROUKOORS.

    As ’n mens ’n appel middeldeur sny en die sade binne-in tel, sal dit ook die aantal kinders wees wat jy gedurende jou lewe sal hê, al is dit in meer as een of geen huwelike nie.

    arend Die Amerindiane het ’n hoë dunk van die arend omdat hulle glo dat dit die Skepper is wat oor die land vlieg. Dit bring onheil as iemand ’n arendeier uit die nes steel, en as ’n veer van die voël val, mag net ’n heilige persoon dit tydens ’n spesiale seremonie optel.

    ’n Antieke Egiptiese bygeloof was dat die arend elke tien jaar deur die vure van die hel vlieg en dan in water duik en sy vere afskud en daardeur ’n nuwe lewe verkry. (Dalk was dit net om sy ververing te verklaar.)

    Die Iere het geglo dat Adam en Eva nooit dood is nie, maar in arende verander is en op ’n eiland aan die kus van Ierland gaan bly het. Die arend word beskou as ’n behulpsame voël wat ook aan helde verskyn om hulle teen moeilikheid te waarsku.

    astrologie WAARSÊERY.

    atletiek Atlete is besonder bygelowig: sommige glo dat ’n mens hoendervleis moet eet om vinniger, hoër, verder as die teenstander(s) te presteer. Sommige glo dat ’n mens nie jou sportklere moet was nadat jy ’n wedloop of velditem gewen het nie.

    B

    baard In antieke tye was die baard heilig geag. Aangesien die baard groei al word dit afgeskeer, was dit deur die gode bedoel om altyd gedra te word.

    In die tyd van koningin Elizabeth I van Engeland het die mans hul baarde begin afskeer omdat sy ’n baardbelasting ingestel het. Een van die moontlike redes is dat daar soveel intriges aan die koninklike hof was dat sy nie altyd die bebaarde vriend van die bebaarde vyand kon onderskei nie.

    Desiderius Erasmus (1469-1536), beroemde humanis van die Renaissance, skryf in sy Adagia: Aangesien die baard nie voor volwassenheid klaar gevorm is nie, moet dit as ’n simbool van wysheid beskou word.

    Mans van wie die kleur van hulle hare en baard verskil, is gevaarlik en bring ongeluk.

    ’n Vrou met ’n baard is tot in die 15de eeu as ’n heks beskou en is dikwels op die brandstapel laat sterf.

    baba Engelse oumas, wat baie meer van babas af weet as pediaters, ginekoloë en obstetriste saam, skree: Gods seën! as hulle die kleintjie hoor nies. In Skotland is dié nies ook goeie nuus: die bygeloof daar is dat die kleintjie onder die mag van die feë is totdat hy genies het (waardeur hulle skrik en die wyk neem). Uit ’n ou Engelse rympie is daar bygelowe: ’n Kind wat op Maandag gebore is, is mooi; Dinsdag s’n is saggeaard; Woensdag s’n treurig; Donderdag s’n suksesvol; Vrydag s’n liefdevol en vrygewig; Saterdag s’n hardwerkend; Sondag s’n mooi en slim en goed en vrolik.

    In Ierland mag ’n baba se naels nie geknip gewees het voordat die kind nie ’n jaar oud was nie: dit sou die vingers voorberei om eendag te steel. ’n Baba wat in die nag gebore is, sou in staat wees om spoke en feë te sien. As die kind boonop nog presies om middernag gebore is, sou hy baie intelligent wees, en miskien selfs ’n uitstekende digter word.

    Babas in die weste van Cornwall word met stertjies gebore – dié val af as hulle kort voor geboorte die Tamarrivier oorsteek. Soms word ’n sogenaamde ‘kreunkoek’ ná die geboorte van ’n baba gebak waarvan elke besoeker ’n stukkie moet eet, anders sal die ongeluk die kind tref. Ook met die doop word so ’n koek op pad kerk toe gevat en die eerste persoon wat die moeder teenkom, kry dit as geskenk. ’n Kimbly is ook ’n stuk brood of koek wat so op pad na ’n doop uitgedeel word.

    In Suid-Afrika word babas in die berge gaan haal waar hulle eers bobbejaantjies was – hulle sterte is net voor geboorte afgesny.

    ’n Baba se hare moet nie voor sy of haar eerste verjaarsdag geknip word nie: dit bring ‘slegte hare’ of slegte geluk. Dié bygeloof kom waarskynlik uit Amerindiaanse families. Hulle hare verander op natuurlike wyse in tekstuur tydens hulle lewe, en die wyse oumas het gevind dat die knip daarvan die hare van die baba harder maak en moeiliker om te beheer. Ander het geglo dat babas wie se hare geknip is, siek geword het omdat die korter hare hulle nie warm genoeg gehou het nie.

    ’n Baba kan gedurende geboorte teen bose geeste beskerm word deur ’n mes op die voordeurdrumpel te plaas. Die bose geeste kan nie oor yster of staal beweeg nie en kan dus nie naby die baba kom nie.

    As ’n klein kindjie in Turkye tussen twee mense loop wat nie ’n rituele reiniging ondergaan het nie, sal oop sere op sy lyfie verskyn. Babas wat tydens volmaan gebore word, gaan ’n uiters suksesvolle toekoms tegemoet. Dogters, veral, sal beeldskoon wees wanneer hulle groot is. As die eerste hare van ’n babadogter deur haar ma se broer geknip word, sal sy later ’n welige bos hare hê. Die eerste hare van ’n babaseun moet ook deur sy oom geknip word. Babas wat op ’n Dinsdag gebore is, sal moordenaars word. As die kleine laat op Vrydag gebore word, sal hy eendag groot rykdom verwerf. ’n Laken mag nie op Saterdag oor ’n verekombers gegooi word wat oor ’n baba is nie: die kombers is gereserveer vir lyke wat moet kom.

    Die Filippyne het talle bygelowe oor babas. Die eerste en belangrikste is dat dit ongelukkig is om enigiets, insluitend klere, voor die geboorte vir die kleintjie te koop.Die eerste veertig dae ná die geboorte mag die moeder en baba nie uit die huis gaan nie, want in daardie tydperk is die bose geeste nog aktief op die loer om baba se siel te steel. Om te voorkom dat die baba eendag links sal wees, word hy of sy nooit op die linkersy neergelê nie. Om nie ’n slagoffer van die BOSE OOG te word nie, moet die baba ’n stukkie rooi gare om die arm dra en nie ná sononder uit die huis geneem word nie. Babadoeke mag nie ná sononder buite gehang word nie. Hekse en ander bose geeste kan dit gebruik om die baba te skaad. As die doeke buite vergeet is, moet dit die volgende dag in die wind uitgeskud word. Babas moet net in die maande Januarie, Mei, Augustus of November gespeen word, en altyd wanneer dit volmaan is. Wees versigtig met voorwerpe wat naby die baba geplaas word: die eerste een wat hy optel of aanraak, sal bepaal watter werk hy eendag sal doen. As hy byvoorbeeld aan ’n byl raak, sal hy waarskynlik ’n houtkapper word.

    In Rusland word soms geglo dat ’n pasgebore baba nie aan vreemdelinge gewys moet word totdat die kleine veertig dae oud is nie. Die siel van die baba moet nog in daardie tydperk opdaag – as daar vreemdelinge is, kan die baba dalk hulle siel of energie oorneem met verlies van sy unieke persoonlikheid wat nog moet ontwikkel.

    In dele van Duitsland word geglo dat ’n baba nie op sy linkersy neergelê moet word nie omdat dit hom lomp sal maak wanneer hy groter word.

    In Sri Lanka word ’n klein stukkie goud met die moedersmelk benat en op die tong van die pasgebore baba geplaas. Dit sal groot rykdom en voorspoed vir hom bring.

    Dan is daar bygelowe oor babas wat oor ’n aantal lande versprei het, byvoorbeeld:

    As ’n baba met ’n vlies oor die gesig gebore word, gaan hy of sy baie ryk wees.

    Babas wat voete eerste gebore word, beskik oor towerkragte.

    As ’n baba se eerste tand in die boonste tandkas verskyn, sal hy lank lewe. As hy ook ander reeds ontwikkelde tande het, sal hy uitermate selfsugtig wees.

    Dit is ongelukkig as ’n baba homself in ’n spieël sien voordat hy ses maande oud is.

    Babas wat om drie-, ses-, nege- of twaalfuur gebore word, is besonder gelukkig. Wanneer hulle groot is, sal hulle baie meer insig en intelligensie as die gemiddelde persoon hê.

    Wanneer ’n baba sy moeder se kamer die eerste keer verlaat, moet dit eers teen ’n trap opgedra word om sukses in die lewe te verseker.

    As ’n baba tydens die doopseremonie huil, is dit ’n goeie teken want dit beteken dat die bose geeste sy liggaam verlaat.

    Babas wat op 28 Desember gebore word, sal ’n ongelukkige lewe hê want volgens oorlewering is dit die datum waarop koning Herodes van die Bybel die kinders om die lewe laat bring het om die bedreiging van baba Jesus sodoende uit te wis (Matteus 2:6-18). In die Katolieke Kerk word dié dag die ‘Onskuldigekinderdag’ genoem. In Engeland in die Middeleeue is die kinders aan hierdie droewe dag herinner deur hulle vroegoggend ’n pak slae te gee – dié gebruik het tot in die 17de eeu voortgeduur.

    Babas wat in Meimaand gebore word, sal swak of moeilik wees. As hulle in Mei siek word, sal hulle maklik doodgaan. Maar as ’n mens die baba deur die takke van ’n esdoring trek, sal hy verder geluk ervaar.

    ’n Mens moet nie ’n baba kielie nie – dit sal veroorsaak dat hy later sal hakkel.

    Dit is ongelukkig om ’n ongedoopte baba op te tel sonder om die teken van die kruis te maak. Die doop van ’n baba is veral belangrik in die Katolieke Kerk. As ’n baba ongedoop sou doodgaan, het dié Kerk geglo dat die siel in limbo verkeer, dit wil sê ’n bestemming tussen die hemel en die hel vir die siele van goeie mense wat voor die koms van Christus gesterf het, en ongedoopte babas.

    Gedurende die eerste ses weke ná die kleintjie se geboorte mag die moeder nie slaap tensy iemand anders by die wiegie waak nie. As dit sou gebeur, sal haar baba vir ’n elwekind verruil word; → ELWEKIND. Tog kan dit voorkom word deur ’n mansbroek oor die wiegie te hang wat die elwe sal afskrik.

    As ’n vrou in dié tyd kaalvoet loop, sal haar kind omval en homself beseer wanneer hy leer om te loop.

    ’n Mens mag nie ’n dier slaan met dieselfde sweep as waarmee ’n kleintjie getugtig is nie (!).

    As die baba se eerste tand verskyn, moet hy deur die gesig geklap word om die tandekry daarna te vergemaklik. Maar as die ma haar baba soog terwyl sy op ’n grensbaken by ’n vurk in ’n pad sit, sal hy nooit tandpyn kry nie.

    As die baba se eerste woord ma(mma) is, sal die volgende baba ’n dogtertjie wees; as dit pa(ppa) is: ’n seuntjie.

    As ’n ouer wil hê dat die baba eendag krulhare moet hê, moet die koppie net ná geboorte met wyn gewas word, of die eerste persoon wat sy hare sny, moet krulhare hê.

    As die kleintjie bietjie groter is, mag hy nie hoenderboudjies eet nie: dit sal maak dat hy nooit ’n geheim sal kan hou nie en alles sal uitblaker soos ’n haan wat kraai.

    Om uit te vind of jou baba ’n seuntjie of dogtertjie gaan wees, doen die volgende: Maak ’n trouring aan ’n stukkie gare vas en laat dit oor die palm van die swanger persoon hang. As die ring se beweging ’n ovaal of sirkel beskryf, gaan dit ’n dogtertjie wees; as die ring in ’n reguit lyn heen en weer swaai, ’n seuntjie.

    As ’n mens ’n leë wiegie skommel, sal jy baie babas hê.

    As die baba gebore word terwyl die maan aan die opkom is, sal dit ’n dogtertjie wees, maar om daarvan seker te maak, moet jy ’n pan onder die matras sit; ’n mes sal verseker dat jy ’n seuntjie het.

    ’n Verwagtende ma moet alles eet waarna sy smag anders sal die baba ’n geboortevlek hê in die vorm van die kos wat sy nie geëet het nie.

    Spoke kan aangetrek of gesien word deur ’n kind wat presies om middernag gebore is en ook deur die sewende seun van ’n sewende seun in ’n familie. As die kleine op Kersdag gebore is, sal hy nooit ’n skadelike spook sien nie; → SPOOK en SWANGERSKAP.

    Baba-jaga In Russiese bygeloof ’n vroulike mensvreter wat haar slagoffers, gewoonlik kinders, steel, kook en eet. Sy bewaak die fonteine van die water van die lewe en bly saam met haar twee of drie susters (almal oujongnooiens – wat te verstane is aangesien hulle asems mans ongelooflik afskrik). Sy bly in ’n hut in die woud en haar heining bestaan uit sparre waarop skedels pryk. Om haar eensaamheid te verdryf, vergesel sy dikwels die Dood op sy reise en verslind nuwe siele.

    badkamer Moenie vroegoggend in die badkamer sing nie: dit bring ongeluk mee.

    ’n Jong meisie wat dikwels haar lyf of klere was, gaan met ’n man trou wat te diep in die bottel kyk.

    Dit is slegte geluk om ná ete te gaan bad.

    bagasie In Rusland word geglo dat ’n mens voor jy ’n reis aanpak, eers op jou bagasie moet sit om ’n ramp te voorkom. Die bygeloof het verskillende vorme: volgens sommige moet die voornemende reisiger diep sug terwyl hy daar sit; ander glo die hele gesin moet gaan sit – al moet daar geduik word om ’n plek op die tasse te kry, omtrent soos in die kinderspeletjie met die naam ‘die stoeledans’ (Engels: musical chairs). Die praktykgerigte Russe beweer dat dit net ’n manier is om vir oulaas te dink of jy alles vir jou reis ingepak het en dat dit niks met ongeluk te make het nie.

    banshee Die banshee (Iers: bean-sidhe) is ’n Ierse bygeloof. Dit beteken ‘vrou van die feë’. Hoewel onsigbaar, kon sy snags gehoor word wanneer sy gegil, geskreeu en gekerm het. In sommige dele van Ierland word na haar verwys as die bean chaointe (‘vrou wat weeklaag’) en so ’n deurdringende geluid daarmee voortbring dat dit glas in skerwe kan laat spat. Iemand het dit al beskryf as iets tussen die gekerm van ’n vrou en die gehoe-hoe van ’n uil. Dit het die dood voorspel van ’n lid van die familie van die persoon wat dit aangehoor het. In Ierland was dit ’n soort kompliment, want volgens oorlewering is sy net gehoor deur families van suiwer Ierse afkoms. (Sommige sinici wil dat haar gekerm so erg was dat die aanhoorder liewer self dood wou wees.)

    Die banshee neem drie verskillende vorms aan: ’n jong vrou, ’n waardige ou vrou, of ’n ou wyf. Sy verteenwoordig die Keltiese godin van oorlog en die dood. Sy dra gewoonlik ’n jas met kap of ’n doodskleed. Sy word dikwels afgebeeld waar sy die bloedbevlekte klere uitwas van die mense wat sal sterf.

    Barghest/Bargest/Barguest ’n Gnoomhond waaraan die bygelowiges in Noord-Engeland (en veral Yorkshire) glo. Die dier het reusetande en kloue en hy verskyn net snags. Die geloof was dat diegene wat die ding duidelik sien kort daarna sou sterf. As ’n mens so gelukkig was om dit net so half in die verbygaan op te merk, sal jy bly leef – maar ook net ’n paar maande. Die Demoon van Tidworth, die Swart Hond van Winchester, die sogenaamde Padfoot van Wakefield en die Barghest van Burnley is aanverwante skepsels (en, soos een Engelse bron dit uitdruk, almal sons of bitches). Hulle Walliese teenhangers was die rooioog Gwyllgi, die Hond van Duisternis, en Cwn Annwn, die Honde van die Hel. In die graafskap Lancashire het dié monster as Trash of Striker bekend gestaan, maar daar het dit breë, agterstevoor pote gehad wat ’n spatgeluid gemaak het as dit stap, en dit het verskriklik getjank. In Oos-Anglia is geglo dat dit amfibies is en net een oog het, en dit is Black Shuck genoem. Op die eiland Man was dit die Mauthe Dog; → MAUTHE. Die Manchester Barghest was darem mooier as die ander: dit was koploos.

    bars op die sypaadjie Talle kinders, selfs vandag nog, trap nie op ’n bars in die sement of beton van ’n sypaadjie nie. Die bygeloof hieroor is dat dit jou moeder se rug sal laat breek. Maar dié bygeloof is nie heeltemal so onskuldig as wat dit mag lyk nie: Eintlik was die straf vir die miskenning van die bygeloof dat jou moeder van ’n wit na ’n swart vrou sou verander – die resultaat van laat 19de-eeuse rassisme in Engeland; → ook TENNIS.

    basilisk ’n Soort adder wat in Noord-Afrika hou en wat volgens bygeloof so giftig is dat hy ’n mens kan doodmaak as jy net na hom kyk.

    Die laaste, klein eiertjie van ’n hoender kan soms ’n slangetjie uitbroei wat gelykgestel word met die basilisk. Soms word ’n eier wat sonder geel is, ook so genoem.

    Basotho-bygeloof Die Basotho-bygelowe is soos in ander Afrika-kulture te talryk om ten volle beskryf te word. ’n Artikel op die Internet deur Justinus Sechefo bevat ’n aantal.

    Mens mag onder geen omstandighede ’n graf oornag oopgelaat het nie. Die lyk moes dieselfde dag begrawe word as wat die graf gegrawe is, dit wil sê op die dag van die persoon se dood. As dit nie haalbaar was nie, moes die graf die nag deur mans dopgehou word om te verhoed dat die baloi (‘bose geeste’) naderkom. Geen nagwaak is by die lyk gehou nie en die jeug is dikwels nie toegelaat om die lyk te sien of die begrafnis by te woon nie.

    ’n Lyk moes in ’n sittende posisie begrawe word anders sou dit op die Opstandingsdag nie dadelik kon opstaan as dit geroep word nie. Die erfgenaam van ’n man het die voorreg om die eerste handvol graaf met sand in die graf te gooi. Die res van die familie volg hom van oud tot jonk en almal kan dan help om die graf toe te gooi. Dit wys sommer aan die omstanders wie die regmatige opvolger van die oorledene is. As ’n bedrieër (hoja metlakana) dié posisie valslik wil bekom, sal die voorvadergode met hom afreken. Hy sou dom en selfs kranksinnig word.

    In vroeëre tye is die hut van ’n dooie man, veral een wat nie familie gehad het nie, nie weer bewoon nie en die deur is met klippe of bondels gras toegemaak. Die kraal waarin iemand so dood is, is verlaat en nie meer as geskik vir bewoning beskou nie.

    Skielike of verrassende sterfgevalle, byvoorbeeld veroorsaak deur weerlig, is met groot skok ervaar. Toordokters is dringend gesoek om die dolosse te gooi om die oorsake van dié rampe te openbaar. Hierdie doodsverslae is saans aan die naasbestaandes oorgedra. As kinders na die skielike verdwyning van ’n familielid gevra het, is gesê dat die persoon weggetrek het, nie dat hy dood was nie. Die rede hiervoor was dat dit ook erg ongelukkig was om die naam van die dooie veral tydens die routydperk te noem.

    Die grafte van ou mense en die eienaars van vee is in die veekrale gegrawe aangesien geglo is dat die welgesteldes nie van hulle vee geskei mag word nie. Die klippe van die kraal is verwyder om genoeg ruimte vir die graf te laat en die kraal is ná die begrafnis weer herbou.

    Grafte buite die stat is so ver moontlik vermy omdat dit gevreesde plekke was. As iemand toevallig op die hoop grond bo die graf getrap of gesit het, moes sy voete liggies oor ’n grasvuur getrek word om die ongeluk af te brand.

    Die grond wat vir die graf uitgegrawe was, moes onder geen omstandighede verstrooi word nie, maar na die graf teruggebring word. As daar te veel grond was, is dit ’n hele ent van die graf af in ’n dun laag oor gras gestrooi sodat kwaaddoeners dit nie kon gebruik om die lyk te toor nie.

    Lank gelede moes die persoon wat die lyk in die graf gesit het, eers gesuiwer word.

    ’n Huisspinnekop mag nie gepla word nie, want dit is die pilaar wat die ruggraat van die familie sterk hou.

    ’n Dwarrelwind wat ’n huis binnekom, voorspel die koms van ’n vreemdeling. As die wind jou in die rondte laat draai, moet jy daarin spoeg om die ongeluk wat dit meebring, weg te neem.

    ’n Hond moenie voor mense sit nie en veral nie voor mans met sy rug na hulle toe nie. Dit voorspel suiwer onheil en moet dadelik weggejaag word.

    ’n Persoon wat op ’n lang reis vertrek, sal waarskynlik langs ’n hoop klippe op ’n plek verbygaan. Hy moet ’n klip optel, daarop spoeg en dit op die hoop gooi. Dit sal ’n goeie reis en genoeg kos verseker, nie net tydens die reis nie, maar ook by sy bestemming; → ook GRIEKWA-, XHOSA- en ZULU-BYGELOOF.

    Iemand wat buk om water by ’n borrelende fontein te drink, moet eers die gees daaronder behaag deur ’n groot gerf groen kruie op die water te gooi, anders sal die water woes in sy gesig spring.

    Vroue wat erdewerkpotte maak, moet dit dadelik staak as die dood van iemand in die gemeenskap aangekondig word. As hulle dit nie doen nie, sal die potte kraak.

    Mans moenie broodoorblyfsels uit die pot eet nie, want dit sal maak dat hulle broeke skeur.

    Om te voorkom dat ’n baba ’n deugniet of dief word as hy groot is, mag reëndruppels nie gedurende die eerste twee of drie maande ná geboorte op hom val nie. Daarna word hy op ’n dag in ’n reënbui saggies voor die hut neergesit. Die baba sal natuurlik uit vrees gil. Die familie skree almal: Kyk die dief, die dief, die dief! Die kleintjie word dan skielik opgetel en afgedroog en binnetoe gedra.

    As die kleintjie oud genoeg is om vaste kos te begin eet, moet hy gevoer word deur ’n man wat nie buierig nie en van goeie sedes is. Hy gee die kind ’n stukkie vleis wat gulsig gesuig word en waardeur die goeie karaktertrekke van die man in die baba opgeneem word.

    Volwassenes, met die uitsondering van bejaardes, en jong seuns en dogters, mag nie gedurende die eerste twee of drie maande na ’n geboorte die hut binnegaan nie, aangesien hulle ‘swak gedrag en rondlopery’ onheil na die baba toe sal aantrek.

    Weerlig dwing ook groot respek af. Die lephaka-tlali is ’n plek in die veld waar die gras deur weerlig geskroei is. As iemand per ongeluk daaroor loop, moet sy of haar voete oor ’n grasvuur geskroei word om ongeluk te voorkom.

    Wat voëls betref: Die hadida besit ’n buitengewone en wonderlike gelukbringer. Om dit te kry, word ’n strik in die voël se nes gestel om ’n kuiken te vang. Dié word nie uit die nes gehaal nie, maar net so in die strik gelos. As die wyfie terugkom en die kuiken so sien, sit sy ’n dwelmmiddel op die strik wat die toutjie laat loswikkel. Die dwelm kan dan uitgehaal en as medisyne gebruik word. Maar: as die kuiken die volgende oggend nog in die strik sit en die dwelm is ook nog daar, moet dit uitgehaal word sonder om die voëltjie los te maak. Dit word elke dag gedoen totdat die kuiken weg is en ’n vars stuk dwelm in die nes is. Dit is die eintlike medisyne wat gehou moet word.

    ’n Haan wat soos ’n hen kloekgeluide maak, sal onheil na die eienaar toe bring – dit moet dadelik doodgemaak word. Dieselfde geld ’n hen wat soos ’n haan kraai; → HEN EN HAAN.

    Die hamerkop word ten nouste met weerlig verbind en as een in die stat neerstryk, voorspel dit weerlig. Die voël moet onder geen omstandighede doodgemaak word of sy nes aangeraak of versteur word nie.

    As ’n dikkop naby roep, voorspel dit ook onheil.

    bed Dit is ongelukkig om ’n hoed op ’n bed te laat lê; → HOED.

    As jy ’n beddeken of kwilt maak, moet jy dit klaarmaak anders gaan jy nooit trou nie.

    Jy moet aan dieselfde kant van ’n bed uitklim as waar jy ingeklim het, anders gaan die ongeluk jou tref. Klim ook aan die regterkant van die bed af (soos wat jy van die voetenent af na die bed kyk). Die linkerkant word met die duiwel verbind. Maar as jy daarvan vergeet, probeer dan om eerste jou regterkous en -skoen aan te trek.

    ’n Bed wat noord-suid staan, bring ongeluk, maar volgens ’n ander bygeloof slaap jy die beste as die bed in ’n noord-suidrigting staan, met jou kop na die suide (in die Noordelike Halfrond) en na die noorde (in die Suidelike Halfrond).

    As jy ’n bed opmaak, moenie dat iets dit onderbreek nie, anders gaan jy ’n onrustige nag hê.

    As jy van ’n skoon, wit bed droom, gaan jou bekommernisse verdwyn. As ’n vrou droom dat sy ’n bed opmaak, gaan daar binnekort ’n nuwe beminde in haar lewe wees; → DROOM.

    Kyk elke aand onder die bed voor jy gaan slaap – dit verjaag die duiwel wat daar wegkruip om jou siel in die nag te steel.

    Moet nooit ’n bed met die koppenent na die weste draai nie: dit is soos die dooies begrawe word en bring ongeluk.

    Dit is ongelukkig om oor die onderste katelstyl of oor ’n ander persoon op ’n bed te klim.

    As jy agteruit bed toe loop, sal jy aangename drome hê.

    As jy bid nadat jy reeds in die bed is, gaan jou gebed reguit na die duiwel.

    As jy dors bed toe gaan, sal jou gees begin dwaal en modderwater gaan drink.

    As jy saans gelukkig en laggend bed toe gaan, sal jy die volgende dag siek wees en huil.

    As jy in die bed fluit of sing, sal jy huil voor die volgende aand.

    Nuwe beddegoed moet eers gewas word voordat jy daarop slaap, anders sal jy nagmerries kry. Hierteenoor bring dit geluk as jy nuwe tafeldoeke en handdoeke gebruik voordat hulle gewas is.

    Dit is ongelukkig om met ’n verekombers te slaap waarop ’n seshoekige patroon uitgewerk is. Dié patroon staan soms bekend as ‘Job se moeilikheid’.

    beenvloek Die Australiese inboorlinge glo dat hulle beenvloek noodlottig vir die slagoffers is. Dit is ’n soort moord met geen leidrade nie. ’n Stukkie mens- of dierebeen word tot ’n sekere vorm bewerk en ondergaan ’n aantal geheime rituele. Die slagoffer word gejag, soms jare lank, totdat die geleentheid vir sy agtervolgers daar is om met die been na hom te wys terwyl ’n towerformule opgesê word. Die veroordeelde kan dalk ’n paar dae of weke nog leef, maar sy dood is ’n uitgemaakte saak. (In 2004 het ’n groep inboorlinge met die been na die Australiese eerste minister, John Winston Howard, gewys en hom ritueel vervloek, maar in 2012 was hy nog springlewendig.)

    beer As kos vir bere skaars is, kan hulle oorleef

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1