Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Op vlerke van geloof
Op vlerke van geloof
Op vlerke van geloof
Ebook756 pages5 hours

Op vlerke van geloof

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Op vlerke van geloof is die kroon op Solly Ozrovech se skryfwerk wat strek oor meer as 30 jaar. Dit bevat 366 dagstukke vol troos, bemoediging en hoop. Met elke dagstuk sê Solly Ozrovech: Vertrou op God, skuil by Hom, Hy sal vir jou krag gee sodat jy kan vlieg met arendsvlerke en kan hardloop in die wedloop van die lewe sonder om moeg te word.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateDec 12, 2012
ISBN9780796314772
Op vlerke van geloof
Author

Solly Ozrovech

Solly Ozrovech is a beloved South African author of best-selling spiritual books and daily devotionals. His practical approach to faith has captured the hearts of many people, while his homespun wisdom provides honest answers to the complex questions of contemporary life.

Read more from Solly Ozrovech

Related to Op vlerke van geloof

Related ebooks

Related articles

Reviews for Op vlerke van geloof

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech

    cover.jpg

    Op vlerke van geloof

    Solly Ozrovech

    LUX VERBI

    Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! – Psalm 106:1

    Tematiese indeling

    As jy op ’n spesifieke dag ’n dagstuk soek wat iets te sê het vir jou gevoel of omstandighede, of as jy meer wil lees oor ’n sekere onderwerp, soek in die tematiese indeling die trefwoord wat jou situasie of die onderwerp die beste beskryf, en lees die dagstuk(kies) wat daar aangedui word.

    Arbeidsvreugde 4 Augustus

    Bekering 9 Desember, 20 Desember, 26 Desember

    Bekommernis 1 Maart, 15 Maart, 28 November

    Beloftes van God 17 Februarie, 24 November

    Bemoediging 2 Januarie

    Beproewing 22 Maart, 21 September, 3 Oktober, 12 Oktober, 18 November

    Beskerming 5 Februarie, 1 April

    Besluitneming 18 Desember

    Betroubaarheid van God 7 April, 21 April, 18 Junie, 25 Junie, 20 Julie, 23 Julie, 17 Augustus, 6 Oktober, 17 November

    Bitterheid 11 Augustus

    Christus is met jou 23 April, 23 Desember

    Dag van die Here 10 Junie

    Dankbaarheid 26 Februarie, 1 Junie, 18 September, 23 Oktober, 31 Desember

    Depressie 3 Februarie

    Diensbaarheid 15 Januarie, 20 Mei, 9 September, 19 November

    Dood 8 Maart, 21 Maart, 26 Maart, 15 April, 27 April, 14 Julie, 15 September, 29 September, 1 November, 21 November, 4 Desember

    Droefheid 4 Februarie, 27 Februarie, 13 Maart, 1 Augustus, 19 Augustus, 8 September, 10 Oktober, 17 Oktober, 25 Oktober

    Eensaamheid 28 Februarie, 13 November

    Ewige lewe 2 Junie, 3 Julie, 22 Augustus, 26 Augustus, 9 November

    Gawes van God 13 Januarie, 30 Julie, 5 Augustus

    Gebed 3 Januarie, 16 Januarie, 18 Januarie, 24 Februarie, 7 Maart, 20 Maart, 25 Maart, 26 April, 20 Junie, 13 Julie, 28 Julie, 12 Augustus, 21 Augustus, 30 Augustus, 7 September, 14 September, 5 Oktober, 11 Oktober, 13 Oktober, 16 Oktober, 20 Oktober, 28 Oktober, 31 Oktober, 3 November, 22 November

    Gebedsverhoring 2 April, 14 April, 2 Augustus, 28 September

    Geduld 7 Oktober

    Geestelike groei 7 Januarie, 8 Januarie, 16 Mei, 28 Mei, 30 Mei, 11 September, 16 September

    Gehoorsaamheid 31 Januarie

    Geloof 6 Januarie, 19 Januarie, 15 Februarie, 10 Maart, 18 Maart, 23 Maart, 5 April, 17 April, 29 April, 6 Junie, 23 Junie, 15 Julie

    Geloofsekerheid 29 Oktober

    Geluk 10 Julie, 20 Augustus

    Gemeenskap van die heiliges 22 September

    Genadegawes 24 Maart

    Genade van God 20 Januarie, 25 Desember

    Gesin 13 Desember, 15 Desember

    Getuienis 11 Maart, 6 Mei, 11 November

    God gee om 12 Junie

    God gee oorwinning 25 April

    God het jou lief 5 Januarie, 2 Februarie, 2 Maart, 30 Maart, 16 Julie

    God het ’n plan met jou 13 Februarie, 15 Junie

    God is almagtig 14 Januarie, 30 September

    God is altyd daar vir jou 16 Desember

    God is getrou 18 Februarie, 25 Februarie, 28 Maart

    God is goed 9 Februarie, 30 Desember

    God is in beheer 18 April, 4 Oktober

    God is in jou lewe 21 Desember

    God is jou toevlug 28 Januarie

    God is met jou 8 Junie, 8 Julie, 24 September, 12 November, 2 Desember

    God sorg vir jou 3 April, 3 Junie, 30 November

    God voorsien 15 Oktober

    God se wil 21 Januarie, 23 Januarie

    God se Woord 7 Desember, 8 Desember

    Heilige Gees 2 Mei, 3 Mei, 4 Mei, 9 Mei, 15 Mei, 17 Mei, 18 Mei, 19 Mei, 22 Mei, 23 Mei, 25 Mei, 26 Mei, 29 Mei, 31 Mei

    Heiligmaking 11 Mei, 24 Augustus

    Herinneringe 21 Mei, 18 Augustus

    Hoop 17 Januarie, 6 Maart

    Inspirasie 14 Mei, 14 Augustus

    Jesus Christus 2 Julie, 21 Julie, 6 Augustus, 1 September, 1 Desember, 10 Desember, 12 Desember, 19 Desember, 27 Desember

    Kersfees 28 Desember

    Kindskap van God 1 Februarie, 10 Mei, 5 November

    Koninkryk van God 31 Maart

    Leiding van God 22 Januarie, 2 September

    Lewe in oorvloed 1 Januarie, 16 April

    Lewenskwaliteit/lewensvervulling 17 Maart, 4 Julie

    Liefde 13 April, 8 Mei, 17 Junie, 31 Julie, 3 September, 30 Oktober, 7 November, 23 November, 22 Desember

    Liefde vir God 9 Maart, 11 Junie

    Lofprysing 10 Januarie, 14 Februarie, 27 Julie, 13 September, 21 Oktober, 2 November, 4 November, 14 November

    Luister 29 Januarie, 14 Maart, 19 September

    Lyding 19 Februarie, 19 April, 9 Junie, 21 Junie, 3 Augustus, 1 Oktober

    Medelye 23 Februarie, 24 Julie, 29 Augustus, 20 November

    Minderwaardigheidskompleks 5 Junie

    Mislukking 10 Februarie, 5 Maart, 1 Julie, 17 Julie

    Moed 7 Julie, 26 Julie, 25 Augustus, 6 Desember

    Moedeloosheid 13 Mei, 11 Julie

    Naby aan God 10 November

    Navolging 6 April, 22 Junie

    Nederigheid 24 Junie

    Nuwe lewe in God 20 April, 27 Mei, 15 Augustus, 20 September

    Om te gee 27 Oktober

    Onrus 6 September

    Ontsteltenis 29 November

    Oordeel 30 April

    Oorwinning 9 Augustus

    Opstanding 18 Julie, 31 Augustus

    Ouderdom 11 Januarie, 24 April

    Ouerskap 14 Desember

    Patriotisme 9 Julie

    Pinkster 1 Mei

    Positiewe ingesteldheid 4 April, 28 Augustus

    Prioriteite 12 April, 27 Junie, 17 September

    Seën 16 November

    Selfbeeld 5 Julie

    Selfvertroue 22 Oktober

    Selfondersoek 5 September, 11 Desember, 29 Desember

    Skepping/beeld van God 19 Oktober, 15 November

    Skuldbelydenis 22 Februarie

    Spanning 19 Julie

    Sukses 6 Julie

    Teleurstelling 25 November

    Toekoms 28 April, 7 Junie, 23 Augustus, 23 September

    Toewyding aan God 10 September

    Twyfel 6 Februarie

    Veranderinge 24 Januarie

    Vergifnis 27 Maart, 8 April, 10 Augustus

    Verhouding met God 29 Junie, 7 Augustus

    Verlange na God 8 November

    Verlossing 26 Januarie, 3 Desember

    Versoeking 11 April, 25 Julie

    Versoening 16 Augustus

    Versterking 25 September

    Vertroosting 4 Januarie, 9 Januarie, 27 Januarie, 30 Januarie, 12 Februarie, 16 Februarie, 21 Februarie, 29 Februarie, 12 Maart, 9 April, 7 Mei, 14 Junie, 19 Junie, 30 Junie, 22 Julie, 13 Augustus, 27 September, 27 November, 17 Desember

    Vertroue 8 Februarie, 22 April, 26 Junie, 2 Oktober, 9 Oktober

    Voorbidding 11 Februarie, 24 Oktober

    Vrede 12 Januarie, 25 Januarie, 7 Februarie, 20 Februarie, 3 Maart, 16 Maart, 29 Maart, 10 April, 24 Mei, 4 Junie, 16 Junie, 28 Junie, 29 Julie, 8 Augustus, 27 Augustus, 4 September, 12 September, 26 September, 18 Oktober, 26 Oktober

    Vredesboodskapper/vredemaker 8 Oktober

    Vrees 4 Maart, 19 Maart, 13 Junie, 24 Desember

    Vreugde 12 Julie, 14 Oktober, 6 November

    Vryheid 12 Mei

    Waarheid 5 Mei

    Waarom-vrae 26 November

    Wederkoms van Christus 5 Desember

    Januarie

    Hemelse Vader

    Aan die begin van die nuwe jaar kom ons na U toe, die Almagtige en Alwyse, wat van die begin af ook die einde sien.Voordat ons die nuwe, onbekende pad betree, moet ons eers bely dat ons alleen veilig sal wees as U met elke tree ons hand vashou. As die pad voor ons donker lyk, laat ons in die lig van die geloof verder gaan. As te veel vir ons oog verborge is, laat ons getrou bly aan dit wat ons wel weet en sien. As ons nie ons bestemming in die verte kan bemerk nie, maak ons dankbaar vir die enkele treë wat ons wel kan sien. As ons u wese nie kan begryp nie, laat ons kinderlik vertrouend aan u beloftes vashou. As dit ons soms aan geloof ontbreek, laat ons nooit die liefde en die hoop verloor nie en, Here, kom ons ongeloof tot hulp. As ons nie insig in u plan met ons lewe het nie, laat ons dit in gehoorsaamheid nie bevraagteken nie. As ons hierdie jaar suksesvol is, hou ons dankbaar, nederig en ootmoedig. As teleurstelling en mislukking op ons wag, bewaar ons van wanhoop. Of ons drome en ambisies bewaarheid word en of ons ideale tot as word in ons hande, dierbare Vader, omarm ons met u liefde en leer ons dat alles ten goede meewerk.Maak ons blymoedige kinders van U in hierdie jaar. Ons bid dit in die Naam van Hom wat deur sy dood dit vir ons moontlik gemaak het om die lewe te kies – Jesus Christus, ons lewende Here en Verlosser.

    Amen

    1 Januarie

    Sê ja! vir die lewe

    LEES Johannes 10:1–17

    Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. – Johannes 10:10

    Die nuwe jaar strek voor jou uit – ’n tyd van onbeperkte geleenthede om goed te doen en voluit te lewe.

    Al is jou verlede dalk vol frustrasie en bitterheid; al voel jy dalk dat jy geen aansporing het om iets aan te pak nie omdat dit tog nie die moeite werd sal wees nie; al het jy dalk min rede om die hede of die toekoms met groot vertroue te bejeën, onthou: Die toekoms behoort aan jou. Die keuse of jy dit opbouend of afbrekend, positief of negatief gaan beleef, is altyd joune.

    God het aan jou die lewe geskenk met ’n doel. Jy kan alleen volheid en bevrediging van lewe ervaar wanneer jy volgens hierdie doel lewe. En die vervulling van jou lewensdoel hang af van jou verhouding met Jesus Christus. Wanneer jou lewe ’n geestelike fondament het, het dit ook ’n geestelike doel. As jy hierdie waarheid aanvaar en in jou lewe tot openbaring laat kom, waarborg dit vir jou vreugde en tevredenheid. Dan sê jy dawerend JA! vir die lewe in al sy volheid en rykdom.

    Volheid van lewe behoort aan God. Hy gee dit oorvloedig aan dié wat gewillig is om dit te ontvang en reg te gebruik. Neem dit vir jou. Dit is jou voorreg en jou verantwoordelikheid.

    GEBED

    Bron van my lewe, ek aanvaar met dankbaarheid u gawe van ware lewe en leef van dag tot dag vanuit u volheid en genade.

    2 Januarie

    Die bediening van bemoediging

    LEES 1 Tessalonisense 5:12–18

    Praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. – 1 Tessalonisense 5:14

    Die slagspreuk wat vandag in die wêreld geld, is: Elkeen vir homself! Die blye boodskap leer ons egter die teendeel: Ons word opgeroep om mekaar te bemoedig, te help en om met mekaar geduldig te wees. Dit is ’n uitdaging in ’n wêreld van selfsug, waar mense geen tyd, oog of hart het vir hul medemens nie.

    Hierdie hartelose wêreld het bemoediging so dringend nodig. Hoe verlang die persoon wat langs die pad uitgesak het nie na ’n vriendelike woord, ’n warm handdruk of ’n spontane glimlag nie!

    God skenk aan ons soveel geleenthede om hierdie bediening te beoefen en ons laat hulle ongebruik verbygaan. Hoe rampspoedig sou dit nie gewees het as die barmhartige Samaritaan ook anderkant verbygeloop het nie!

    Daar is soveel mense op die slagveld van die lewe wat smag na ’n beker koue water, na ’n vriendelike gebaar om hul donker hemel te verlig. Die Meester was gewillig om ’n melaatse met liefde en genesing aan te raak. Ons, sy dissipels, durf nie minder doen nie!

    GEBED

    Meester van barmhartigheid en genade, leer my na u voorbeeld om my medemens te bemoedig deur die krag van die Heilige Gees.

    3 Januarie

    Christus, ons voorbeeld

    LEES Lukas 6:12–16

    In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. – Lukas 6:12

    Baie Christene vergeet hoe belangrik gebed is. Dis is vir hulle ’n lastigheid in plaas van die dinamiese dryfkrag van hul lewe. Christus leer ons egter hoe belangrik gebed is. Hy het dikwels tot sy Vader gebid en ook voor elke krisis of beslissing. Dan het Hy uit hierdie versterkende afsondering gekom met innerlike kalmte en selfversekering. Die volmaakte wil van God vir sy lewe was dan vir Hom duidelik.

    As dit vir Christus nodig was om so ’n noue band met sy Vader te handhaaf, het ons dit oneindig meer nodig. Gebed is die krag van ons geestelike lewe. Jou geloof kan nie ondermyn word as jy gedurig jou gebedslewe versterk nie. Jy kan nie struikel as jy op jou knieë is nie!

    Wysheid om die lewe te hanteer volgens die wil van God word geskenk aan dié wat dit in gebed van hul Vader afsmeek. Sonder gebed is dit onmoontlik om sy krag en leiding te ondervind. Gebed is dus nie ’n eindpunt nie, maar deel van ’n proses wat van dag tot dag voortgesit moet word.

    GEBED

    Here Jesus, help my om aan my gebedslewe dieselfde voorkeur te gee as wat U daaraan gegee het, sodat u wil altyd in my lewe tot openbaring sal kom.

    4 Januarie

    God gee lig

    LEES Jesaja 40:1–5

    Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby … – Jesaja 40:2

    Niemand kan die droefheid wat die dood bring, ontvlug nie. Ons leef in ’n wêreld gevul met pyn, lyding, ongeluk, beproewings en die dood. In só ’n tyd is daar net Een wat lig in die duisternis kan gee, wat die hart kan heel wat deur droefheid gebroke is, wat vrede in die binneste en kalmte in die gewonde gemoed kan bring: God ons Vader.

    Hy het dit vir Job en vir Paulus en vir ontelbare skares gedoen. Hy wil dit ook vir jou doen.

    God waarborg nie dat jy vry sal wees van alle droefheid nie, maar belowe wel sy liefdevolle vertroosting en krag in die stryd. Geloof is nie ’n wondermiddel om die lewe maklik te maak nie, maar ’n genademiddel om ons sterk genoeg vir die uitdagings te maak. Dit neem nie die las weg nie, maar gee ons die krag om dit te dra.

    Die kruis van Jesus Christus demonstreer aan ons dat selfs die onskuldiges in hierdie wêreld ly, en dat God se vertroosting ons kan laat triomfeer oor alle verlies. Hierdie wete gee ons krag om met blymoedigheid en sonder murmerering ons eie kruis agter die groot Kruisdraer aan te dra.

    GEBED

    Heilige Vader, U wat die toevlug en sterkte van beproefde kinders is, vertroos hulle wat op hierdie oomblik deur donker dieptes gaan.

    5 Januarie

    God sal jou nie laat los nie

    LEES Deuteronomium 33:26–29

    Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou. – Deuteronomium 33:27

    Eensaamheid is iets heel anders as om alleen te wees. ’n Mens begeer soms om alleen te wees, maar eensaamheid is ’n pynlike ervaring. Elkeen van ons beleef tye wanneer dit voel niemand verstaan of gee om wat met ons gebeur nie. Wanneer hierdie gevoel jou lewe oorspoel, voel dit selfs of God ver weg en onbelangstellend is en jy begin jouself bejammer.

    As jou eensaamheid jou tot wanhoop dryf en jou geestelike lewe daardeur bedreig word, plaas jou verwagting in die liefdevolle en almagtige God en wees bewus van sy teenwoordigheid. Só sal jy gaandeweg verseker word dat Hy met jou is oral waar jy gaan en in alles wat jy doen.

    Al lyk dit asof jy God verloor het – Hy sal jou nooit laat los nie. Sy liefde vir jou is onsterflik en ewig en Hy bemin jou net soos jy is. Hy glo in jou selfs wanneer jy jou vertroue in jouself verloor. Onder jou is sy ewige arms altyd. Toe Josua bevrees geword het vir die onbekende pad wat hy moes aandurf, het God hom die belofte gegee: Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie (Jos 1:5). Neem dié belofte ook vir jou.

    GEBED

    Heilige God, ek loof U vir die blye wete dat u teenwoordigheid in my lewe nie afhang van my gevoelens nie, maar dat u onsterflike liefde my van dag tot dag dra met ewige arms.

    6 Januarie

    Geloof in die storm

    LEES Markus 4:35–41

    Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie? – Markus 4:40

    Op ’n dag sit ’n seuntjie rustig in sy pa se kajuit en speel, terwyl ’n storm buite woed en die skip gevaarlik kantel. Iemand vra vir hom hoe hy so rustig kan speel terwyl almal in lewensgevaar verkeer. Sy antwoord was kinderlik-gelowig: My pa is die kaptein van hierdie skip. Waarom sal ek bang wees? Te midde van die storms in ons lewe moet ons só ’n geloof behou.

    Waar Christus teenwoordig is, bedaar die storms van die lewe. Wanneer die koue winde van droefheid tierend in ons lewe loei, is daar vrede en vertroosting in die wete dat Hy by ons is. In elke storm wat ons skud, gee Hy ons ’n vrede waarvan geen storm op aarde ons kan beroof nie.

    Christus bring bedaring wanneer ons probleme ongeloof, twyfel of wanhoop in ons lewe ontketen. Hy vertel ons van ’n Vader wat in liefde ons hand vat sodat ons nooit uit die sfeer van sy bewaring kan wegdryf nie. Aanvaar hierdie heilswaarheid in die geloof of bly magteloos in die storm ronddobber.

    GEBED

    Meester, U wat die storms beheer, dankie dat U my hand hou. Lei my na waters waar daar vrede is, om u Naam ontwil.

    7 Januarie

    Groei om te lewe

    LEES Efesiërs 4:1–16

    Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. – Efesiërs 4:15

    Elke Christen moet begeer om vooruit te gaan in sy geestelike lewe, want sonder groei is daar stagnasie en dood. Daarom is die metodes wat ons gebruik om ons geestelike groei te stimuleer van die allergrootste belang.

    Mense wat na geestelike groei hunker, neem dikwels hul toevlug tot ongesonde mistisisme. Dit is gevaarlik. Hierdie mense mislei hulself deur te dink dat hulle vooruitgaan deur eie vernuf. Geeneen van die vorms van mistieke spiritualiteit dra egter die goedkeuring van Christus weg nie en kan nooit met sy Naam of leerstellings verbind word nie.

    Dit is ’n uitdaging om te groei tot gelykvormigheid aan ons Meester deur die krag van sy inwonende Gees. Om deur die Gees van God besit te word, vereis geen verborge of misterieuse rites nie. Christus gee aan jou sy Gees en dit is jou plig om Hom in jou lewe en dade tot openbaring te laat kom.

    Wanneer Hy in jou lewe teenwoordig is, straal jy dit uit deur jou praktiese en liefdevolle diens. Hoe meer jy sy Gees toelaat om deur jou te werk, hoe meer sal jy bewus wees van sy teenwoordigheid en al hoe meer groei na Christus toe.

    GEBED

    Here, U het vryelik u Gees aan my geskenk. Gee dat ek sal groei om slegs ú heerlikheid in die wêreld te weerkaats.

    8 Januarie

    Geestelike droogte

    LEES Job 23:1–17

    As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan. – Job 23:3

    Hoe innig jy ook al begeer om die teenwoordigheid van Christus in jou lewe te ervaar, daar sal ongetwyfeld tye van geestelike droogte kom. In sulke tye voel God so ver en sug ons soos Job: As ek maar geweet het waar om God te vind … (23:3).

    As dit is wat jy op die oomblik deurmaak, onthou dat hierdie tyd kan lei tot geestelike groei en volwassenheid. Dit is uiters belangrik dat jy sal vasklou aan jou geloof in God en nie toelaat dat jou emosies jou geestelike diepte vernietig nie. Bepeins die woorde van Psalm 42:9: Tog sal die Here weer op ’n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag ’n lied vir Hom sing, ’n gebed tot die God van my lewe.

    Geestelike droogte kan ook veroorsaak word deur onwilligheid om die wil van God vir jou lewe te aanvaar. As jy volhard om iets te doen teen die wil van God, is jy besig om jou skuld soos ’n muur op te bou, om jouself van Hom te skei. Bely jou skuld voor God. As daar dan nog by jou geestelike barheid en eensaamheid is, wees verseker dat God met jou is en wag om jou krag te gee, jou skuld te vergewe en jou te lei tot ’n voller en ryker lewe.

    GEBED

    Heilige Vader, wat ook al die oorsaak mag wees van die geestelike droogte in my lewe, ek bevestig my geloof in u wil vir my lewe en my opregte liefde vir U.

    9 Januarie

    God se vertroosting

    LEES Jesaja 41:8–12

    Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. – Jesaja 41:10

    Die dood van ’n dierbare kom altyd as ’n geweldige skok. Jou verlies oorweldig jou en jy besef die toekoms hou moeilike beslissings én veranderinge in.

    Al is jou verlies op hierdie oomblik pynlik en byna ondraaglik, hou altyd vas aan God se belofte van bystand en troos: Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel (Jes 66:13).

    Wanneer jy worstel met pyn ná die dood van ’n geliefde, kan jy ryke vertroosting put uit die Skrif en die ervarings van ander wat dieselfde pad geloop het. ’n Wyse man het aan ’n bedroefde vriend gesê: Ek het nie gekom om jou te vertroos nie – alleen God kan dít doen. Ek het net vir jou kom sê hoe diep en innig ek met jou meevoel in jou verlies. God gebruik mense wat opreg omgee om kanale van sy vertroosting te wees.

    Vertrou van dag tot dag op God. Hy sal sy vertroosting skenk soos ’n lentereën in die barre woestyn. As jy op Hom vertrou het toe jou lewensboom oortrek was met lentebloeisels, kan jy Hom ook nou in die koue van jou wintersmart vertrou.

    GEBED

    Ek pleit om u vertroosting, Here, soos U dit alleen kan gee. Skenk genesing vir my verskeurde gemoed en laat my deur my trane die reënboog van hoop sien.

    10 Januarie

    Sing tot eer van die Here

    LEES Psalm 149

    Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot sy lof in die vergadering van sy troue dienaars. – Psalm 149:1

    Het jy al in jou lewe ervaar dat daar ’n bevrydende krag in dankbaarheid en lofprysing is?

    Dit wil voorkom asof daar in die mens ’n onweerstaanbare neiging is om te murmureer en te kla. Só ’n gesindheid kan vernietigend op ’n mens se lewe inwerk. Om te kla kan ’n lewenspatroon word wat afbrekend is vir almal wat by jou lewe betrokke is.

    Regdeur die Bybel en veral in die Psalms weerklink die oproep tot lof en dank: Dank die Here; Loof die Here, o my siel!

    Wanneer jou hart oorloop van lof en jy die goedheid van God uitjubel, word jy bewus van ’n nuwe krag wat deur jou liggaam vloei.

    Lof en dank verhef ’n mens se lewe tot ’n nuwe vlak. Hierdie krag maak dit maklik om met jou probleme te worstel en jou moeilikhede te oorkom. Dit laat hulle nie verdwyn nie – o nee! Maar lofprysing plaas ’n lied in jou hart, selfs in die donkerste nag.

    GEBED

    As ek rondom my kyk, Vader, word ek bewus van soveel skoonheid waarvoor ek U moet dank en loof dat daar nie tyd oorbly om te kla nie. Help my om altyd u lof te besing, selfs in die nag van beproewing.

    11 Januarie

    Wanneer jy oud word

    LEES Prediker 12:1–8

    Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor … die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar niks aan nie. – Prediker 12:1

    Dit is ’n pynigende gedagte om te dink dat jou jeug vir ewig verby is. Die ouderdom bring gewoonlik ook matelose eensaamheid met hom saam: Medereisgenote val weg langs die pad. Die omgewing waarin jy jou bevind, is dikwels nie meer dié waarin jy grootgeword of jou lewenstaak verrig het nie. Jou kragte kwyn al hoe vinniger. En die moeilikste om te aanvaar is dit: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie (Joh 21:18).

    En tog: vir die Christen-bejaarde is dit ’n troos om te weet dat God ook ’n God van die ouderdom is, dat daar by Hom oorvloedige vergoeding is vir die skade wat die jare aan ons lewe doen. Waar Hy liggaamskragte wegneem, skenk Hy meer geestelike krag. Krag van buite word vervang deur krag van binne. Dan verstaan ons die woord van die Here wat sê: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige (Sag 4:6).

    GEBED

    Heilige Vader, dankie dat ek nie slegs verloor met die wentelende jare nie, maar dat ek ook oneindig baie wen omdat ek u kind is en gelowig op U kan vertrou, ook in die ouderdom.

    12 Januarie

    Christus laat my sy vrede na

    LEES Johannes 14:15–31

    Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. – Johannes 14:27

    Christus het sy vrede aan ons gegee, want Hy het geweet die soektog na vrede sou deel wees van die mens se lewe. En ons soek sy vrede omdat ons weet dat die wêreld se vrede maar ’n floue weerkaatsing is van die vrede wat God toesê.

    Om Christus se vrede te kan opeis, moet ons eers kinders van God word deur Hom in die geloof aan te neem (Joh 1:12). Ons moet sy vergifnis aanvaar en gereinig word van alle ongeregtigheid. Ons moet sy heerskappy en teenwoordigheid in ons lewe begeer en toelaat. Ons leuse moet wees: Die Here is by ons. Dan moet ons sy wil vir ons lewe soek, aanvaar en gehoorsaam. Na die voorbeeld van Christus moet ons streef om God te behaag en ons eie wil by sy wil aan te pas.

    Christus gee aan ons die wonderlikste vrede: die vrede van God! Hierdie vrede is enig en anders, volkome en konstant, universeel en eg. Om deel te kan hê daaraan moet ons ’n vaste geloof hê in Jesus Christus, die bron van vrede; die verhouding tussen ons en God moet gesond wees, en ons moet in vrede met onsself en ons medemens leef.

    GEBED

    Ek dank U, liefdevolle Vader, dat ek u vrede kan opeis omdat Jesus Christus die pad na U vir my oopgemaak het.

    13 Januarie

    Elke dag is ’n gawe van God

    LEES Psalm 118

    Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. – Psalm 118:24

    Die dag van vandag is ’n onbeskryflike gawe van God aan jou. Dit beteken nie dat alles voorspoedig sal verloop of dat jy nie versoek sal word nie, maar as jy met dankbaarheid die gawe aanvaar, sal jy bewus word van sy genade in jou lewe.

    Jy kan jou jare tel volgens die syfer of volgens die inhoud daarvan. ’n Lang lewe wat leeg is aan geloof, liefde, arbeid en genade, is baie kort as God dit meet. En ’n kort lewe, gevul met vreugde, geloof, arbeid en liefde, kan lank wees as God sy meetsnoer daarlangs lê. Dit is hóé jy elke oomblik van elke dag benut wat bepaal wat die gehalte van jou lewe is.

    In sy onmeetlike genade laat God dit aan ons oor om te besluit hoe vandag sal wees. Moontlik het jy reeds met vrees gedink aan die teëspoed wat jou kan inhaal. Miskien voel jy moedeloos en terneergedruk nog voor die dag begin het. Sulke gedagtes is teenproduktief en maak jou onnodig ongelukkig.

    Om ander gelukkig te maak sal jou eie geluk verseker. Hul geluk sal jou geluk wees en ’n warm gloed van jubelende blydskap sal oorspoel na elke nuwe môre van jou lewe.

    GEBED

    Skepper-God, ek aanbid U as die gewer van hierdie dag. Dankie vir die voorreg om dit tot u eer te gebruik en dit met ander te deel.

    14 Januarie

    God is groter as jou probleem

    LEES 2 Korintiërs 4:7–15

    In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1