Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kyk my in die oë
Kyk my in die oë
Kyk my in die oë
Ebook168 pages3 hours

Kyk my in die oë

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Kyk my in die oë is die eerste in sy soort in Afrikaans. ’n Reguit en insiggewende storie van een mens se pad met bipolêre gemoedstoornis.Die verhaal speel af teen die agtergrond van ’n besige nuuskantoor waar Elsabé as joernalis werk, onder andere tydens die moord op Marike de Klerk. Elsabé vertel openhartig hoe dié siekte (en mense se reaksie daarop) haar in 2001 platgeslaan het, en hoe sy weer opgestaan en begin loop het – tussen inrigtings, hospitale, breinskokterapie en stereotipes deur.Haar raak beskrywings laat lesers verstaan hoe dit voel om manies “mal te wees”.Die boek sal van waarde wees nie net vir diegene wat self aan die siekte ly, hul vriende en familie, en mense in die gesondheidsektor nie – dit is ook ’n meesleurende ware verhaal van wanhoop en ’n nuwe begin.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 15, 2011
ISBN9780624058441
Kyk my in die oë
Author

Elsabé Brits

Elsabé Brits is 'n veelbekroonde wetenskapjoernalis wat in 1999 by Die Burger in Kaapstad begin werk het, ná ses jaar as joernalis by 'n gemeenskapskoerant in Polokwane. Sy skryf nou vir Netwerk24.com en steeds vir Media24 se Afrikaanse dagblaaie. Haar eerste boek, Kyk my in die oë, oor bipolêre gemoedstoornis, het in 2011 by Tafelberg verskyn. Hoewel Elsabé spesialiseer in wetenskapjoernalistiek, was dit haar liefde vir feite én vergete verhale wat haar die spoor van Emily Hobhouse laat volg het. Emily het sedertdien onlosmaaklik deel van haar lewe geword.

Related to Kyk my in die oë

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kyk my in die oë

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kyk my in die oë - Elsabé Brits

    Inhoud

    1 Die jaar toe ek leer voel het

    2 Ek is nie meer ek nie

    3 Die monster het ’n naam

    4 Om te moet verduidelik

    5 ’n Faks met alles daarop

    6 Die heel moeilikste jaar

    7 In Valkenberg se gange

    8 Die lewe is ’n moordsaak

    9 Alles is anders

    10 Ek is nog hier!

    11 Die eerste reis

    12 Die ontdekking van die wêreld

    13 Jy is mý monster

    Diegene wat teen monsters veg, moet sorg dat hulle self nie ook monsters word nie. As jy te lank die afgrond instaar, staar die afgrond ook in jou in.

    – Friedrich Nietzsche

    Daar is soveel wysheid in Nietzsche se woorde: "Diegene wat ’n hoekom het om voor te leef, kan byna enige hoe verduur."

    – Viktor Frankl

    1

    DIE JAAR TOE EK LEER VOEL HET

    My oupa se kar kom bons-bons oor die hobbels in die grondpad af. Die stof maak strepe voor die ligte. Hulle stop skuins voor die huis. Mense klim uit. Los die kardeure oop.

    Ek kyk by my kamervenster uit en sien my ma hardloop na my oupa toe. Hulle arms swaai soos hulle beduie en praat. Die honde blaf.

    My oom, ’n groot man, sit binne-in die kar saam met my tannie, sy arms om haar skouers. Ek hoor hoe sy huil, skree en babbel. Die maan se lig gooi vreemde skaduwees oor hulle.

    Tanna is siek, sê my ma in die verbygaan. Ons noem my tannie nog altyd net Tanna.

    Hoe is sy siek? vra ek.

    My ma staan voor die spieël om grimering aan te sit. Baie siek, ons moet haar hospitaal toe vat.

    Hester kom die kamer binne. Nadat my ouma dood is, het my oupa weer getrou, en sy is dié tannie se kind. Sy is net ’n jaar ouer as ek. Ons loer weer deur die venster. Hester wil niks sê oor wat in die kar tot hier by ons aangegaan het nie.

    Klak-klak maak my ma se hakskoene op die eetkamerteëls terwyl sy handsak in die hand tot in die kombuis stap. Julle gaan nou ’n bietjie alleen moet bly, praat my ma haastig. Sluit die deur van die binnekant af, maar moenie die sleutel in die deur hou nie. Ek sal hom weer oopsluit van buite af. Julle maak nie die deur vir enigiemand oop nie. Bel ouma Ellie-hulle as iets gebeur. Julle moet nou gaan slaap, want ons gaan laat terugkom.

    Die deur gaan toe. Ons loer deur die venster en sien hoe die rooi ligte op die stofpad verdwyn. Weg met Tanna wat huil. Weg na die hospitaal. Sommer net so.

    Net daar raak ek en Hester mal. Onbeheersd. Ons hardloop reguit na die beddens toe, spring trampolien, gil en lag. My sussie, Hanlie, probeer nog keer, maar ons lag haar af.

    Die volgende is my pa se kroeg. Van der Hum-likeur, klink so na iets wat groot-groot-mense drink. Ek skink vir elkeen ’n proppie en ons cheers dit af. Sommer ’n bietjie pepermentlikeur ook? Ja!

    Ek besluit om die verbode slee te bou – die een wat op die gladde eetkamerteëls ry. Ek en Hester sleep mekaar in die 25 liter-plastiekdrom heen en weer oor die teëls. Dit maak dik krapmerke, maar ek gee nie om nie. Ek doen wat ek in my sesjarige bestaan nog altyd wou doen: Neem diep slukke yskoue melk net so uit die beker uit; rol die dik roomvel op my vinger en lek dit af.

    Ons gaan aan en aan. Heen en weer in die huis – ons sit nie ons voete buite nie. Ons speel soos apies in die huis, maar wat besig is om te gebeur, maak ons ook bang.

    Skielik sing die voëltjies buite, en ons besef dit is môre. ’n Ligte paniek trek deur my. Waar is my ma? Tranerig maak ek my sussie wakker. Sy weet ook nie.

    Kyk hoe lyk die huis! Ons het al die vadoeke vuilgemaak. Sommer ’n klomp handdoeke ook. In die badkamer lê die nat strepe oor die teëls. Oral lê speelgoed rond.

    Net my pa se kroeg is piekfyn. Niemand sal ooit weet ek het myself daar so ’n bietjie gehelp nie; sommer so ’n lek in die whiskybottel gegee ook. Hê!

    Ons het nie my oupa se kar gehoor nie. Net die sleutel wat in die kombuisdeur draai toe my ma oopsluit.

    Hester, pa Hans wag vir jou in die kar dat julle kan huis toe gaan, sê my ma.

    Hester loop vinnig verby my ma.

    Wat het julle gedoen?

    Gespeel.

    Jy is sopnat gesweet. Tot jou hare.

    Waar is Tanna?

    In Sterkfontein. Dis ’n hospitaal vir mense wat nie siek-siek is nie, maar siek soos sy is. My ma is te uitgemergel om te veel met my te raas, en die bediendes het alles weer reggepak.

    Dit was lank voordat ek weer vir Tanna gesien het. Sy het anders gelyk. Haar oë was diep en sy wás anders. Sy het baie gehuil en baie gepraat. Soms was sy weer net stil.

    Ek weet dit is 1979, want almal praat van die nuwe dekade. Stadig skryf ek 1-9-7-9 op ’n stukkie papier. Ek sit dit in my juwelekissie met die ballerina wat draai. Ek wil die jaar nie vergeet nie.

    2

    EK IS NIE MEER EK NIE

    Ek sit met die padkaart van Kaapstad op my skoot, terwyl die fotograaf bestuur. Ons ry in Belhar rond op soek na die naasbestaandes van twee mans wat gisteraand op ’n trein vermoor is.

    Dit is wat ek doen, dag vir dag. Moord ná moord. Jy móét dit en jy móét dat kry, en doen. Soms is ons agtuur die oggend al op moordtonele, bomtonele, kindermoorde, gyselaarstonele, brande, taxi-moorde. Skepe sink, ek is daar. Busse brand, ek is daar – in die reën, of in die son. Op die Kaapse Vlakte wat brand van die geweld.

    Soms ry ons van die een moord na die volgende. Daar was al soveel waaroor ek geskryf het.

    Daar was die man wat sy vrou laat vermoor het. Die mans wat gehuur is om dit te doen, het haar verkrag en in die badkamer verdrink, terwyl haar baba in die kamer langsaan gelê en huil het. Die ander kind het agter die rusbank weggekruip.

    Lank nadat die polisie op die toneel aangekom het, het hulle die angsbevange kind gevind, styf van die skok. Daai man is skuldig bevind, maar hy het my uit die tronk uit gedreig, want hy het geglo iets in my berig het die polisie op sy spoor gesit.

    Daar was die aanvalle op die Golden Arrow-busse vroeg in die oggend waarvoor ek baiekeer voor sesuur soggens in Guguletu, Nyanga, Delft en Khayelitsha was. Die lyke en beseerdes het gestrooi gelê. Soms was daar meer as een aanval op ’n dag.

    Daar was die reeks moorde op laerskoolmeisies op die Kaapse Vlakte. Die een ontbindende lyk ná die ander is gevind. En een dag, terwyl ons saam met die polisie stap: een van die vermiste kinders se skoene in die gras. Net so, asof sy hom gou uitgeskop het om kaalvoet te hardloop.

    Daar was lang en uitmergelende gyselaarsdramas waar mense altyd gesterf het. Waar jy uur ná uur sit en wag vir inligting. Honger, dors en baiekeer met die behoefte na ’n toilet. Jy kan dit meestal nie waag om die toneel verlaat nie, want nét wanneer jy dit doen, gebeur iets en die ure se wag was verniet. Daar was die vermoorde man in Athlone aan wie se bloed ek per ongeluk gevat het. My hand het gegly oor die gladde rooi vloeistof op die reling waarlangs hy gehardloop het, soos seep het dit gevoel. Al wat ek kon doen, was om my hand aan my broek af te vee.

    Daar was die jong vrou wat die aand ná werk verdwyn het. Haar motor is twee dae later gevind, maar haar verminkte, verkragte liggaam eers lank daarna in die bosse. Ek het die fout gemaak om haar arme ma te probeer troos, terwyl ek eintlik te ongemaklik en onbekwaam daarvoor was. Sy was te hartseer toe sy hoor die ontbinde liggaam is gevind. Daarna het ek mense nooit weer probeer troos nie – net simpatie betuig.

    En dan, die vrou wie se man haar geslaan het, weer en weer. Sy het van hom gevlug en op haar eie gaan bly. Tot een aand, toe kom kap hy die woonsteldeur met ’n byl af. Net so. Sy vlug by die trappe af, terwyl die bure die polisie bel. Terwyl sy na die polisielede hardloop, skiet die man haar in die rug – dood.

    Die volgende dag het ek na die bloedspore by die woonstel gestaan en kyk. Die kapmerke aan die kosyn, want die deur bestaan nie meer nie. Die vrees het nog stil in die lug gehang.

    Jy praat met wildvreemde huilende ma’s. Pa’s wat stik aan die trane. Diep binne-in jou moet jy grawe vir die vermoë om ’n gesprek versigtig te probeer voer. Om vrae te vra sonder om aanstoot te gee. Om nie onnosel te wees nie. Respek te betoon, maar nie met leë hande weg te stap nie. Om daardie balans te vind in ’n heelal van pyn sodat almal voel dis ’n wen-wen-gesprek.

    Soms word mense flou. Soms word hulle kwaad. Baie kan nie praat nie. Ander wil nie praat nie.

    Hoe verduidelik ek dat ek net my werk probeer doen? "Môre, Mevrou. Ek is Elsabé Brits van Die Burger. Ek is jammer om te pla. Sal u asseblief ’n rukkie met my gesels oor so en so en … oor wat gebeur het?"

    Daardie gevoel in my hart wanneer ek klop aan die deur van mense wat pas ’n geliefde verloor het, kan ek net met ’n ander joernalis deel. Maar joernaliste tob of praat nie juis oor dié ervarings nie. Jy gaan dus terug kantoor toe, drink koffie en rook ’n sigaret indien daar tyd is, skraap jou menswees byeen en skryf die storie, want dit is deadline en die nagkantoor wag. Fokus.

    * * *

    Dit is die oggend van 19 Junie 2001. Ek en die fotograaf is op pad na Belhar. Dit voel asof dit die honderdste moordstorie is wat ek vir die koerant moet dek, en dalk is dit ook. Elke hartseer verhaal laat ’n merk op my.

    Presies ’n week gelede het ek en dieselfde fotograaf Kalkbaai toe gery, ook op soek na mense wie se seun op ’n trein vermoor is. Die ma was só ontsteld ons kon nie by die huis ingaan nie; die vermoorde se broer het maar gou met ons op die stoep gepraat terwyl ek die ma binne hoor ween. Om te hoor hoe iemand ween, nie huil nie, vat iets uit jou weg. Geen woorde kan vertel hoe dít klink nie. Selfs nie ’n foto kan dit vasvang nie.

    Dit is ’n geluid wat in my liggaamselle gaan sit het.

    Ons kry die woonstel in Belhar. Ry op ry armoedige apartheidswoonstelle staan langs mekaar ingepak. Wasgoed flap in die wind.

    My gedagtes dwaal na die omgewing waar ek grootgeword het, so anders as die Kaap. ’n Plaas omring deur kleinhoewes – of plotte, soos ons dit genoem het – buite Vanderbijlpark. ’n Droë landskap waar die ryp wit in die winter lê en kosmos langs die pad groei. Daar het donderbuie die reent hard en lekker laat val en ’n mens kon die somer ruik – nie soos hier in die Kaap waar die reent in vlae teen jou gesig waai en jy niks daarvan kan ruik nie. Soms ruik dit net na vis en vullis waar ek vlakby die hawe werk, nie na sonbesies en stof nie.

    Die mense was meestal fabriekswerkers van Yskor, of ander ambagsmanne wat sukkel-sukkel met groente en pluimvee geboer het op plotte waar skrootyster lê en roes.

    Op laerskool het ons kaalvoet skool toe gegaan, waar ons pouses gespeel het tot die sweet ons aftap, sonder dat ons ooit geweet het ons ouers kry eintlik swaar. Eers op hoërskool het ons geleer van terroriste, bomaanvalle in die Wimpy en landmyne op die grens, die rooi gevaar en die swart gevaar, satanisme, dwelms (wat niemand óóit gesien het nie), drank, tienerswangerskappe en demoniese boodskappe op AC/DC-plate. Skielik was baie dinge in die lewe verkeerd en sonde.

    Op hoërskool is ek in jeugweerbaarheid vertel van alles wat gevaarlik is en wat my rol in die lewe moet wees: eggenote en ma. In beroepsvoorligting het ons huiswerk afgeskryf, want eintlik moet ’n jong meisie B.A., verpleegkunde of onderwys gaan swot, of so iets. Toe ek navraag doen oor paleontologie, het die onderwyser gesê dit is iets wat Engelse mans doen, daar is nie werk vir vroue nie, en boonop moet ’n mens in die veld in die grond krap saam met ’n klomp swartes. Dit is gevaarlik vir ’n wit vrou. Dit was die jare tagtig.

    Ons is Christelik-Nasionaal soveel gemors ingeprent, veral op die sogenaamde veldskole waar leiers kastig geïdentifiseer is, dat ek nou nog nagmerries daarvan kry. Die twee veldskole waarop ek in 1985 en 1988 was, was van die mees traumatiese ervarings van my lewe, veral die gebrek aan slaap en die herhaaldelike indoktrinasie oor al die gevare.

    Sondagskool was nie veel beter nie, want ek kan nou nog nie begryp hoekom die swart mense wat in 1987 by my oupa se begrafnis was, buite die kerk moes wag nie. Dis mense wat vir my oupa gewerk het en ook gelowig was! Maar hier, op die Kaapse Vlakte, het baie mense al hulle huise vir my oopgemaak, mense wat ek van geen kant af ken nie, om hulle pyn en ervarings met my te deel.

    Die wasgoed wapper in die wind voor my gesig. Ons vra oral aanwysings, mense beduie ons na die regte woonstel.

    Die vrou nooi ons met rooigehuilde oë binne. Ek gaan sit, soos soveel keer tevore in ’n wildvreemde, treurende mens se huis, en vra haar intieme vrae, sê nee dankie vir iets om te drink. Ek begin voel-voel. Beroep my op my instink oor wanneer ek watter vraag kan vra. Dis soos om op iemand anders se pad van pyn te stap en na spore te soek.

    Ons

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1