Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die SAW in die Grensoorlog: 1966-1989
Die SAW in die Grensoorlog: 1966-1989
Die SAW in die Grensoorlog: 1966-1989
Ebook995 pages12 hours

Die SAW in die Grensoorlog: 1966-1989

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Wat was die oorsake van die Grensoorlog, hoe dié stryd verloop en wie het dit gewen?

Die militêre historikus Leopold Scholtz bied die eerste omvattende blik in meer as twintig jaar op die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se rol in dié oorlog. Belangrike inligting uit gedeklassifiseerde dokumente – onder meer van die SAW en die Staatveiligheidsraad – werp nuwe lig op die regering se oogmerke in Angola en die destydse Suidwes, die SAW se strategie en die oorgrensoperasies in Angola.

Onderhoude met hooggeplaaste SAW-offisiere en oudsoldate se aangrypende vertellings dra by tot die volledigste beeld tot nog toe van operasies en veldslae soos Cassinga, Savannah, Reindeer, Sceptic, Protea, Moduler en Cuito Cuanavale. Navorsing uit die Kubaanse argiewe is ook betrek.

Scholtz bied vars perspektiewe op jare lange strydpunte, onder meer oor wat by Cuito Cuanavale gebeur het. Deur te vra wat elke party se doelwitte met die oorlog was en of dit bereik is, antwoord hy die omstrede vraag: Wie het die oorlog gewen?
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMay 20, 2013
ISBN9780624054092
Die SAW in die Grensoorlog: 1966-1989
Author

Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is a former journalist and military historian. He has published numerous books - including The SADF in the Border War (Helion, 2015) and The Battle of Cuito Cuanavale (Helion, 2016).

Related to Die SAW in die Grensoorlog

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die SAW in die Grensoorlog

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die SAW in die Grensoorlog - Leopold Scholtz

    Grensoorlog

    Die SAW

    in die

    Grensoorlog

    1966-1989

    Leopold Scholtz

    Tafelberg

    Opgedra aan my ouers

    Skrywersnota

    Vir die grootste deel van die Grensoorlog het ek as joernalis by die Afrikaanse koerante gewerk – aanvanklik by Beeld in Johannesburg (1979-1982) en daarna by Die Burger in Kaapstad. Dié koerante het gereeld berig oor gevegte en operasies waarby die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) in die noorde van Suidwes of oor die grens in Angola betrokke geraak het. Die inligting was meestal baie skraps, want die weermag was suinig met die verskaffing van inligting. Trouens, daar was feitlik deurgaans spanning tussen die koerante in die algemeen en die weermag, want die joernaliste wou altyd méér inligting hê, terwyl die weermag so min moontlik wou bekend maak.

    Afgesien van die vraag of die weermag destyds groter steun onder die wit bevolking sou kon kry as hy meer inligting aan die publiek verskaf het, het die relatiewe gebrek aan feite my as krygshistorikus ook kwaai gefrustreer. Ek sou toe al graag ’n behoorlike onafhanklike analise van die krygsoperasies wou doen, maar dit was onmoontlik. Die enigste beskikbare inligting was die gegewens wat die SAW, Swapo, die MPLA en die Kubane bekend gemaak het. Die propagandistiese aard van hul verklarings het dit egter onder verdenking geplaas.

    ’n Paar jaar gelede het verskeie webwerwe egter begin om oorspronklike dokumente, onder meer van die Staatsveiligheidsraad, die departement van buitelandse sake, die weermag, Amerika, Kuba en die Sowjetunie te publiseer. Vir my was dit van deurslaggewende belang. Danksy dié materiaal, asook ongepubliseerde dokumente in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se dokumentasiesentrum en onderhoude met SAW-veterane, kon ek dié boek aanpak. Dit is maar ’n eerste poging. Soos verdere bronne openbaar gemaak word, sal die prentjie selfs nog vollediger en meer genuanseerd geskets kan word.

    In die skryfproses het ek goeie vriende met verskeie veterane geword, in besonder genl.majj. Roland de Vries en Johann Dippies Dippenaar, asook Ariël Hugo, destyds tweede luitenant in 61 Gemeganiseerde Bataljon-groep wat deesdae by dié eenheid se veteranevereniging betrokke is. Hulle het eindelose geduld aan die dag gelê met my navrae en het ook dele van die manuskrip gelees om akkuraatheid na te gaan. De Vries het geweldig baie moeite gedoen deur sy waarnemings oor verskeie aspekte van die Grensoorlog vir my op skrif te stel.

    Nog twee individue wie se geduld ek tot die uiterste beproef het, is lt.kol. Erika Strydom en Steve de Agrela van die SANW-dokumentasiesentrum, wat ure bestee het om vir my dokumente op te spoor. Verder het ek óf persoonlike onderhoude óf e-poskorrespondensie gevoer met genl. Jannie Geldenhuys; brig.genls. Piet Muller, McGill Alexander en Willem van der Waals; kols. Paul Fouché, CP du Toit, Gerhard Louw, Leon Marais, André Retief, Gert van Zyl en Ep van Lill; kmdt. dr. Jakkie Cilliers van die Instituut vir Sekerheidstudie; lt.kol. prof. dr. Abel Esterhuyse van die Militêre Akademie te Saldanha; maj. Hans Kriek, en lte. Ariël Hugo, Paul Louw, Gert Minnaar en Hubrecht van Dalsen. Die kaarte is goedgunstig deur Camille Burger geteken.

    Teenoor hulle almal my hartlike dank. Sonder hul hulp sou dié boek maar ’n skraal oes opgelewer het.

    Ten slotte, ’n spesiale woord van dank aan my eggenote, Ingrid Scholtz, wat ook ’n historikus is. Sy is in die algemeen my felste kritikus, maar ook my grootste ondersteuner. Sonder haar is ek niks.

    Leopold Scholtz

    Inleiding

    Dié boek is primêr ’n krygsgeskiedenis en nie ’n politieke geskiedenis nie. Die politiek word slegs betrek in soverre oorlog – in die woorde van die Pruisiese militêre teoretikus Carl von Clausewitz – ’n voortsetting van die politiek deur ander middele is. Dit is ook nie ’n sosiale geskiedenis nie, aangesien die uitwerking van die oorlog op die Suid-Afrikaanse en Namibiese samelewing nie in die visier kom nie. Al dié aspekte is reeds uitvoerig in ander werke ondersoek.[1]

    Die SAW in die Grensoorlog, 1966-1989 is ’n geskiedenis van die vegtende partye – die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), die People’s Liberation Army of Namibia (of Plan, Swapo se gewapende vleuel), Fapla (die leër van die Angolese MPLA-regering) en die Kubaanse magte se optrede op die slagveld.

    Ek het hierdie boek om verskeie redes geskryf. Eerstens blyk daar ’n hernude belangstelling in die Grensoorlog onder die Suid-Afrikaanse publiek, veral die wit bevolking, te wees as ’n mens kyk na die aantal publikasies oor die oorlog wat onlangs verskyn het. Baie soldate wat aan die oorlog deelgeneem het, meestal as deel van die SAW, het hul herinneringe op skrif gestel en in druk of op die internet gepubliseer, waar dit blykbaar opgeslurp word deur sowel die geslag wat in die weermag gedien het as ’n jonger generasie wat gretig is om meer te weet van die Grensoorlog waarvan die ouer mense so praat.

    Tweedens is ’n omvattende geskiedenis van die oorlog nog nie aangepak nie. Die voormalige weermagverslaggewer Willem Steenkamp het bewonderenswaardige werk gedoen met sy koffietafelboek,[2] maar dit is reeds in 1989 uitgegee toe die gebulder van die kanonne by wyse van spreke nog gedawer het en baie inligting nog nie bekend was nie. Sedertdien is baie oorspronklike SAW- en ander regeringsdokumente gedeklassifiseer by die SA Nasionale Weermag en die departement van buitelandse sake, en sommige daarvan is op die internet gepubliseer.[3] Dié materiaal stel die historikus in staat om talle geheimenisse van die oorlog te help ontrafel. Goeie werk is ook gedoen deur die militêre ontleder Helmoed-Römer Heitman en die joernalis Fred Bridgland rakende die laaste jaar van Suid-Afrika se betrokkenheid by die oorlog in Angola,[4] maar hierdie boeke het ook al in 1990 verskyn, wat te kort ná die beëindiging van die oorlog is dat ’n behoorlike historiese perspektief kon ontwikkel.

    Derdens het die SAW gedurende die oorlog geglo dat hy die vloei van inligting baie streng moes beheer. Hoewel dit sekerheid op die slagveld bevorder het, het dit ook aanleiding gegee tot ontelbare gerugte, waarvan baie vandag steeds oorvertel word. Dis miskien tyd om dié gerugte bloot te lê.

    Die vierde rede vloei uit die derde. Die gebrek aan inligting in die 1970’s en 1980’s het ’n vakuum geskep wat Swapo, die MPLA en die Kubane, sowel as linksgesinde joernaliste en akademiese joernaliste, gretig gevul het. Hulle het duisende koerantartikels geskryf, selfs boeke en akademiese artikels, waarin Swapo-, MPLA- en Kubaanse propaganda as die evangelie verkondig is. ’n Mens kan dié drie partye sekerlik nie daarvoor blameer nie – propaganda was nog altyd ’n intrinsieke deel van oorlogvoering. Die geveg om persepsies te wen is dikwels ewe belangrik as die geveg op die slagveld. Dit is iets wat die SAW en die Suid-Afrikaanse regering nooit voldoende begryp het nie.

    Bowendien was die Suid-Afrikaanse regering en sy instellings volgens talle lande en individue moreel besmet weens sy apartheidsbeleid. Baie was dus nie geneë om te glo wat regerings- en SAW-woordvoerders kwytgeraak het nie. Hul opponente se weergawe is eerder geglo. In die proses het Swapo-/MPLA-/Kubaanse propaganda die aanvaarde waarheid geword. Dit is tyd dat dié weergawe getoets word teen die feite en inligtingsbronne wat vandag beskikbaar is.

    Weens die volgehoue gebrek aan bronne uit sekere areas van die oorlog kan dié boek feitlik onmoontlik ewewigtig wees. Meer as 90% van die bronne wat ek tot my beskikking gehad het, is Suid-Afrikaans van oorsprong. ’n Paar Swapo-bronne het sedertdien beskikbaar geword, maar die meeste daarvan is só propagandisties van aard dat hulle byna nutteloos is. Die MPLA-argief is steeds gesluit, maar ’n gedeeltelike blik op die Angolese besluitnemingsproses kan deur Sowjet-bronne verkry word wat deels deur die Russiese akademikus Wladimir Sjoebin ontsluit is.[5] Sjoebin, wat die Sowjetunie se hoofskakelbeampte met die Suid-Afrikaanse rebellebewegings was, is wel baie bevooroordeeld en sy werk moet versigtig benader word. Talle verhale van Sowjet-raadgewers by van die Angolese leëreenhede is ook gepubliseer. Dit lewer interessante materiaal op, maar – soos met die verhale van die meeste Suid-Afrikaanse deelnemers – word die oorlog daarmee as ’t ware deur ’n klein sleutelgat beskou.[6] Die enigste historikus

    wat tot dusver toegang tot die Kubaanse argief verkry het, is die Amerikaner prof. Piero Gleijeses, wat die geskiedskrywing ’n groot guns gedoen het deur die sluier oor die Kubaanse betrokkenheid in die oorlog te lig. Weens sy onkritiese bewondering vir Fidel Castro en sy absolute afkeer van die ou Suid-Afrikaanse regering moet sy geskrifte ook met die nodige omsigtigheid benader word.[7]

    Dit is dus moeilik om die akkuraatheid en volledigheid van die bestaande weergawes uit die Sowjet- en Kubaanse perspektief te bepaal. Dit was wel moontlik om met betreklike akkuraatheid ’n geveg of operasie van die Suid-Afrikaanse kant af te rekonstrueer, maar die beeld van die ander kant bly meestal in newels gehul. As dit duideliker was, sou my vertolking van sekere Suid-Afrikaanse optredes moontlik anders kon wees.

    Daar is nog iets wat dié boek nié is nie: Dit is nie polities korrek nie. Ek kom uit ’n konserwatiewe Afrikanergesin wat in God en die Nasionale Party geglo het. Ek het in die Burgermag van die ou SAW en die Reserwemag van die nuwe SANW gedien. Nietemin het ek apartheid agter my gelaat en voel dus geen begeerte om die Nasionale Party-regering of sy dade goed te praat nie. Terselfdertyd wil ek nie toegee aan linksgesinde druk om alles wat die vorige regering en die SAW gedoen het, sonder meer in ’n ongunstige lig te plaas nie.

    Ek is ’n akademiese historikus en geen morele regter nie. Morele uitsprake behoort oorgelaat te word aan diegene wat bevrediging daaruit put om dit te doen. My taak as historikus is om die verlede so akkuraat moontlik te rekonstrueer, om die feite so billik moontlik te ontleed en so goed moontlik te verstaan (wat nie dieselfde as goedkeur is nie). In die proses moet ’n mens van twee uiterstes wegbly. Enersyds is dit om die SAW se rol in die oorlog te romantiseer en enige kritiek as verraad te beskou.[8] ’n Ander weergawe hiervan is die geloof dat wat die militêre magte ook al gedoen het, goed en wonderlik was en dat dit die politici was wat alles opgemors het. Andersyds is daar baie linkse politici, akademici en joernaliste wat alles wat die vorige regering en die SAW gedoen het, voor die voet veroordeel, meestal sonder om hul kritiek op behoorlike navorsing te grond.

    Dit beteken nie dat dié boek die finale woord oor die Grensoorlog spreek nie. Inteendeel. Baie bronne sal nog opduik in die jare wat kom, veral aan die Sowjet-, Angolese, Kubaanse en Swapo-kant, terwyl die SAW-bronne nog nie naastenby uitgeput is nie. Nuwe inligting kan baie dinge wat in dié boek gesê word, moontlik nog verkeerd bewys. Dit is die aard van akademiese navorsing.

    Intussen behoort hierdie boek ten beste as ’n tussentydse verslag beskou te word. Hopelik sal ek of ander akademici hierop kan opvolg, solank politiek en ideologie die akademiese benadering nie oorheers nie.

    In my ontledings word kritiek teen sommige individue uitgespreek. Van hulle – onder wie SAW-deelnemers aan die oorlog – mag dalk vra wat my die reg gee om te kritiseer, aangesien ek nie self enige regte aksie gesien het nie en ook nie ’n ooggetuie was van die meeste gebeure wat beskryf en ontleed word nie. Vir hulle wil ek noem dat ek in 1966 in die ou Leërgimnasium in Voortrekkerhoogte as infanteris opgelei is en tot aan die einde van 1975 in die Regiment Universiteit Stellenbosch (Burgermag) gedien het, toe my militêre diens verby was. Ek is in 1997 opnuut vir die Reserwemag van die nuwe SA Nasionale Weermag gewerf. Ek het as stafoffisier met die rang van kaptein in verskeie posisies by die Kommandement Westelike Provinsie, die Taakmag-Wes by Silwermyn en leërhoofkwartier gedien.

    Ek het dus ’n militêre agtergrond en het voorts al talle akademiese artikels en boeke oor die krygsgeskiedenis geskryf, onder meer twee oor die Anglo-Boereoorlog. As die geskiedskrywing voorts vereis het dat jy ’n ooggetuie van gebeure moes wees, sou 90% van alle geskiedenisboeke waardeloos wees.

    In dié boek word die feite tematies en chronologies ontleed. Die boek begin met die aanvang van die oorlog en die skok van die mislukte Operasie Savannah. Dan skakel dit oor na ’n tematiese benadering met ’n ontleding van die ontwikkeling van die SAW se militêre doktrine en sy militêre en veiligheidstrategie. Dit word opgevolg met ’n chronologiese ontleding van die agtereenvolgende oorgrensoperasies van 1978 tot 1984, toe ’n poging tot vredesonderhandelings aangewend is. Nog drie tematiese hoofstukke volg oor die teeninsurgensieoorlog in Suidwes, Swapo se optrede in ballingskap en internasionale ontwikkelinge. Dan word die klimaks van die oorlog – die sogenaamde Slag van Cuito Cuanavale – weer chronologies opgeneem.

    Die sentrale tema van die boek is dat die Suid-Afrikaanse aanslag op taktiese, operasionele en militêr-strategiese vlak offensief was, maar op veiligheid-strategiese vlak defensief. My rekonstruksie van die Suid-Afrikaanse veiligheidstrategie is dat ’n verdedigende militêre strategie en operasionele en taktiese benadering nie voldoende sou wees om die oorlog te wen nie. Die optrede van die SAW in die noorde van Suidwes en die suide van Angola behoort dus in werklikheid as ’n teenoffensief beskou te word.

    1

    Die aanloop tot die Grensoorlog

    Die oorsprong van die Grensoorlog kan teruggevoer word na 1884 toe die gebied wat vandag as Namibië bekend staan, deur Duitsland geannekseer is. Die anneksasie was teen die wense van die Duitse rykskanselier, Otto von Bismarck, wat sy land primêr as ’n Europese kontinentale moondheid beskou het. In daardie stadium het talle ander Europese moondhede – veral Brittanje en Frankryk – reeds verskeie gebiede in Afrika beset. Bismarck moes egter toegee aan ’n magtige drukgroep wat geglo het Duitsland moet deel wees van die sogenaamde Scramble for Africa as hy internasionaal wil tel. Vandag se Tanzanië, Rwanda, Burundi, Kameroen en Togo is daarna deur die Duitsers gekolonialiseer.[1]

    Die Duitsers was glad nie goeie heersers vir die inheemse bevolking van Duits-Suidwes-Afrika nie. Die emigrasie van Duitse (en Afrikaner-) setlaars is aangemoedig en die inheemse bevolking is – soos ook in verskeie Britse kolonies gebeur het – tot sekere gebiede beperk. Verskeie opstande het gevolg, veral onder die Herero’s, maar dit is genadeloos onderdruk. In 1904 was daar nog so ’n opstand. In reaksie daarop het die Duitse militêre bevelvoerder, genl. Lothar von Trotha, die eerste volksmoord van die 20ste eeu uitgevoer. Op 2 Oktober 1904 het hy beveel dat die ganse Herero-nasie, mans, vroue, kinders en ou mense, die woestyn in gedryf moes word om daar van honger en dors om te kom. Sommige het daarin geslaag om tot in Betsjoeanaland (die hedendaagse Botswana) of Walvisbaai (toe ’n Britse enklave aan die kus) deur te dring, maar die meerderheid het gesterf. Uit ’n bevolking van 60 000 tot 80 000 het slegs sowat 16 000 Herero’s dié veldtog oorleef.[2]

    ’n Opstand deur die Namas in die suide is ook in bloed gesmoor en teen 1907 het die Duitse kolonialiste die hele gebied beheer. Baie van dié wat oorleef het, is in konsentrasiekampe opgesluit, waar sowat die helfte van die inwoners dood is. Teen 1911 het die Nama-bevolking, wat in 1892 op tussen 15 000 en 20 000 geskat is, tot 9 800 gekrimp.[3]

    In 1914 het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en die nuwe Unie van Suid-Afrika het besluit om hom aan Britse kant te skaar. Duits-Suidwes-Afrika (en later ook Duits-Oos-Afrika – nou Tanzanië) is deur Suid-Afrikaanse magte binnegeval en in ’n veldtog van enkele maande beset. By die Vredeskonferensie van Versailles in 1918-’19 is besluit om die Duitse kolonies oor te dra aan die lede van die seëvierende Geallieerde koalisie wat die gebiede in die naam van ’n nuwe internasionale liggaam, die Volkebond, sou bestuur. Suidwes-Afrika (in die volksmond Suidwes), het ’n sogenaamde C-mandaatgebied geword, dus sonder die vooruitsig op onafhanklikheid.[4]

    ’n Opstand deur die Kwanyama-stam, die grootste onder die Ovambo’s in die verre noorde, is met geweld onderdruk, ofskoon nie met dieselfde meedoënloosheid as gedurende die Duitse veldtogte nie. Koning Mandume ya Ndemufayo is in die opstand dood en die Kwanyama is onderwerp. Die Owambo’s het hierdie ding nooit vergeet nie, net soos ons Boere nooit vergeet het dat die Zoeloes Piet Retief vermoor het nie. Dit is ’n lang storie wat niks met kommunisme te doen het nie … meen die skrywer Louis Bothma.[5] Dié gebeure het in die 1960’s oënskynlik ’n groot rol in Swapo se opstand teen die Suid-Afrikaanse bewind gespeel.

    Soos elders in die koloniale wêreld het die Suid-Afrikaners ook rassesegregasie tussen die inheemse bevolking en die setlaars in Suidwes toegepas. Nadat die Nasionale Party in 1948 die bewind in Suid-Afrika oorgeneem het, is die apartheidsbeleid dus ook daar ingestel. In pas met die idee dat Suid-Afrika in swart reserwes of tuislande en blanke gebiede verdeel moet word, het die Odendaal-kommissie ’n soortgelyke beleid vir Suidwes aanbeveel. Gebiedsgrense is vasgestel om ’n spieëlbeeld van Suid-Afrika te skep, maar dié idees is nooit ten volle uitgevoer nie. Net ná die Tweede Wêreldoorlog het die Suid-Afrikaanse regering die Verenigde Nasies (VN), die opvolger van die Volkebond, probeer oorreed om hom toe te laat om Suidwes te annekseer. Met die pas onafhanklike Indië aan die voorpunt van ’n groepering wat weens Suid-Afrika se rassebeleid nie ten gunste daarvan was nie, is toestemming geweier. Suid-Afrika het voortgegaan om Suidwes in die gees van die Mandaat te bestuur, wat beteken het dit het vir alle praktiese doeleindes ’n vyfde Suid-Afrikaanse provinsie geword.

    In die 1960’s het die internasionale druk op Suid-Afrika toegeneem. Liberië en Ethiopië het Suid-Afrika voor die Wêreldhof in Den Haag gedaag en aangevoer dat sy besetting van Suidwes onwettig was. In 1966 het die Wêreldhof die Suid-Afrikaanse regspan se argument dat Liberië en Ethiopië geen regsbelang by die saak het nie, egter aanvaar. Die reaksie van die VN se Algemene Vergadering hierop was om die oorspronklike Volkebond-mandaat terug te trek. Die besluit is in 1971 deur die Wêreldhof bekragtig. Die Suidwes-saak was vinnig besig om in ’n internasionale kwessie te ontaard en die Suid-Afrikaanse regering kon dit nie ignoreer nie.

    Die Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake, Hilgard Muller, het reeds in 1967 formeel aanvaar dat Suidwes-Afrika kragtens die volkereg ’n aparte gebied was. Teen 1972 het die VN se sekretaris-generaal, Kurt Waldheim, en sy persoonlike verteenwoordiger, Alfred Escher, die gebied besoek en ’n belofte van premier John Vorster ontvang dat Suid-Afrika Suidwes nie sou annekseer nie. Vorster het ook onderneem om die gebied nie à la apartheid te verdeel nie en dit as ’n enkele internasionale regseenheid te behou.[6] Al was dit nog ver van die internasionale eis vir onmiddellike onafhanklikheid vir Suidwes, was dit tog ’n toegewing aan die Suid-Afrikaanse kant. Deur met die VN te onderhandel, het Vorster minstens in die praktyk aanvaar dat hierdie wêreldliggaam seggenskap oor Suidwes se toekoms het.

    Weerstand

    Die georganiseerde weerstand teen die Suid-Afrikaanse bewind het in 1959 begin met die stigting van die South West African National Union (Swanu) en die Ovamboland People’s Organisation (OPO). Die OPO is die volgende jaar tot die South West Africa People’s Organization (Swapo) herdoop en het die hooforganiseerder van die weerstand teen die Suid-Afrikaanse besetting geword, terwyl Swanu mettertyd weggekwyn het.[7]

    Suid-Afrika se diskriminerende rassebeleid het grootliks tot die groeiende ontevredenheid onder swart mense in Suidwes bygedra. Die barse manier waarop openbare betogings onderdruk is, het dit vererger. In Desember 1959 het geweld tydens ’n opstand teen die gedwonge hervestiging van Windhoek se swart township in die sogenaamde Ou Lokasie uitgebreek. Die polisie het hardhandig opgetree, 11 mense doodgeskiet en 54 gewond. Soos Marion Wallace in haar geskiedenis van Namibië opmerk: This pivotal historical moment thus served further to radicalise the population and to unite opposition to South African rule, as well as causing [Sam] Nujoma and other OPO leaders to take the decision to go into exile.[8]

    Die Duitse sendeling pastoor Siegfried Groth, wat later een van Swapo se grootste kritici geword het, het oor die 1960’s geskryf:

    Namibian men and women were no longer prepared to accept oppression and humiliation. The prisons in Ovamboland were full to overflowing. Hundreds of people, including women, were whipped in public. The victims had to undress and were then brutally beaten on their buttocks with a six-foot long palm-tree cane.[9] Anyone who tried to resist the South African dictatorship received electric shock treatment and was imprisoned without trial for months or even years.[10]

    Dié onderdrukking was regstreeks verantwoordelik vir Swapo se besluit in 1962 om tot ’n gewapende stryd oor te gaan om die Suid-Afrikaanse besetting van Suidwes (Swapo se naam vir die gebied was Namibië) te beëindig. Dit sou egter tot September 1966 duur voordat die eerste skote afgevuur is.[11]

    In die Grensoorlog in Suidwes en Angola het twee gewapende koalisies teen mekaar te staan gekom in ’n uitgerekte konflik wat 23 jaar sou duur en nie in ’n klinkklare oorwinning vir enige van die partye sou eindig nie. In die een hoek van die kryt was die Suid-Afrikaanse regering en die SAW wat in bondgenootskap was met die Angolese rebellebeweging Unita, oftewel die União Nacional para a Independencia Total de Angola (Nasionale Unie vir die Totale Onafhanklikheid van Angola). ’n Tweede Angolese rebellebeweging, die FNLA, is reeds vroeg in die konflik uitgeskakel en het nie ’n noemenswaardige rol gespeel nie.

    In die ander hoek was Swapo, wat in bondgenootskap was met die MPLA, oftewel die Movimento Popular de Libertação de Angola (Volksbeweging vir die Bevryding van Angola), die kommunistiese diktatuur van pres. Fidel Castro van Kuba en die Sowjetunie. Die MPLA het later die internasionaal erkende regering van Angola geword.

    Hierdie konflik het minstens drie vlakke gehad. Op een vlak was dit ’n burgerregtestryd teen die Suid-Afrikaanse regering se beleid van geïnstitusionaliseerde rassediskriminasie teen swart mense, beter bekend as apartheid. Op ’n tweede was dit ’n anti-koloniale bevrydingsoorlog teen die Suid-Afrikaanse besetting van die gebied. Op ’n derde vlak het die internasionale Koue Oorlog tussen die Kommunistiese Blok en die sogenaamde Vrye Weste (waarby Suid-Afrika homself ingereken het) hom deels hier uitgespeel.

    ’n Mens kan maklik verlei word om, veral vanuit ’n ideologiese oogpunt, die konflik gewoon te beskou as óf ’n oorlog teen die twee onregte van apartheid en koloniale oorheersing óf as weerstand teen kommunistiese imperialisme. Soos ook elders in die wêreld gebeur het, het hierdie drie vlakke so nou met mekaar verweef geraak dat hulle kwalik geskei kan word. As ’n mens al drie vlakke saam sou beskou, kan dit wees onder die sambreel van ’n revolusionêre oorlog wat as ’n insurgensie-en-teeninsurgensie-oorlog gemanifesteer het.

    Uit ’n professionele militêre oogpunt is die Grensoorlog ook baie interessant. Dit was terselfdertyd ’n revolusionêre oorlog, ’n insurgensie-en-teeninsurgensie-oorlog, ’n mobiele konvensionele oorlog wat deur vinnige beweging gekenmerk is én aan sy einde ’n posisionele konvensionele uitputtingsoorlog. Al hierdie aspekte maak ’n behoorlike ontleding van die oorlog soveel noodsaakliker.

    Kaart01-Die-operasionele-gebied.psd

    2

    Die eerste jare en Operasie Savannah

    Die datum wat algemeen as die begin van die Grensoorlog beskou word, is 26 Augustus 1966. Op daardie dag het ’n mag van 130 man in Alouette III-helikopters ’n basis van die People’s Liberation Army of Namibia (Plan, Swapo se militêre vleuel) by Ongulumbashe in Ovamboland in die noorde van Suidwes aangeval. Die groep, onder die aanvoering van kapt. (later kol.) Jan Breytenbach, het bestaan uit 121 polisiemanne en nege lede van 1 Valskermbataljon wat inderhaas as tydelike polisiebeamptes beëdig is. Die mag het Swapo by Ongulumbashe verras en oorweldigend verslaan.[1]

    Die Suid-Afrikaanse regering het aanvanklik besluit dat die polisie, eerder as die SAW, weerstand teen sy oorheersing moes hokslaan, vermoedelik weens sy onwilligheid om te erken dat Swapo ’n ware bedreiging verteenwoordig het. Dit sou die geval wees tot 1974, toe die SAW amptelik toegetree het.

    Die weermag het in daardie jare steeds aan die gevolge gedra van die verwaarlosing wat dié mag in die tydperk direk ná die Tweede Wêreldoorlog ervaar het toe daar ’n uittog van talle ervare Engelssprekende lede was. Dit was die regstreekse gevolg van ’n besluit deur Frans Erasmus, die eerste Nasionale Party-minister van verdediging, om ’n soort regstellende aksie ten gunste van Afrikaner-offisiere in te stel.[2]

    Die meeste van die wapentuig het uit die Tweede Wêreldoorlog gedateer, hoewel ’n beperkte moderniseringsprogram in die vroeë 1960’s begin is.[3] Die infanterie se Lee Enfield-geweer is met die R1 vervang en die Bren- ligte masjiengeweer met ’n LMG van 7,62 mm-kaliber. Die infanterie het ook ’n aantal Saracen- gepantserde personeeldraers uit die vroeë 1950’s gehad. Die belangrikste tenkafweerwapen was egter steeds die ou sesponder-kanon wat uit die Tweede Wêreldoorlog gedateer het (die ENTAC-tenkafweermissiel is in 1966 ingevoer), terwyl die program om die ou drieduimsmortier met die 81 mm te vervang, skaars begin het. Die .303-Vickers uit die Eerste Wêreldoorlog sou nog ’n dekade lank die belangrikste medium-masjiengeweer bly. In die 1950’s het die weermag voorts 206 Centurion-tenks van Brittanje gekoop, maar die helfte daarvan weer vinnig aan Switserland verkoop. Verder was Shermans en Comets uit die Tweede Wêreldoorlog steeds operasioneel.

    Die SAW het wel ’n bruikbare nuwe pantsermotor gehad, die Eland – ’n verbeterde Franse Panhard – met ’n 90 mm-kanon. Die Eland (wat as die Noddy bekend gestaan het, weens die manier waarop hy in ruwe terrein geskud het) het egter net vier wiele gehad wat sy beweeglikheid in die bosse en ruigtes van Afrika dus beperk het. Die voertuig is voorts aangedryf deur ’n ontvlambare petrolenjin in plaas van diesel en het slegs plek gehad vir 20 kartetse vir sy kanon.[4] Die artillerie was toegerus met ligte 25-ponder- (88 mm-) en medium 5,5 duims- (140 mm-) kanonne, wat albei van voor 1945 dateer.[5]

    In 1962 is die vrywilligerstelsel vervang met ’n lotingstelsel waarvolgens sommige jong wit mans nege maande lank diensplig moes verrig. Dit het egter nie genoeg tyd gelaat om hulle op te lei én operasioneel aan te wend nie en gevolglik is algemene, verpligte diensplig van 12 maande in 1968 ingestel. Die meeste infanteriebataljons was nie baie goed nie en ’n rigiede Tweedewêreldoorlogse mentaliteit het steeds in die weermag geheers. Ek is in 1966 in die ou Leërgimnasium in Voortrekkerhoogte opgelei en kan uit eie ervaring getuig dat ek en my makkers slegs vir twee eenhede respek gehad het – die Gimnasium self en 1 Valskermbataljon. Die spesiale magte – die recces – is eers in 1969 gestig.[6] Die Gimnasiumlede sou hulle ongetwyfeld ook gerespekteer het!

    Die punt is dat die Suid-Afrikaanse Leër teen 1966 nie in staat was om enige oorlog te veg nie. ’n Sekere erfenis wat sou sorg dat die organisasie binne enkele jare in ’n hoogs beweeglike en ervare omskep kon word, was wel reeds aanwesig. Die leër het afgestam van twee voorvaders, naamlik die Britse leër en die Boerekommando’s van die 18de en 19de eeu. Wat sy organisasie en sigbare kultuur betref, was die leër in die 1960’s feitlik ’n kloon van die Britse leër. Die uniforms, die wyse waarop soldate gemarsjeer en gesalueer het, offisiere se openbare optrede – alles was in wese Brits. Die organisasie se doktrine is ook beïnvloed deur die Britse ervaring in die Tweede Wêreldoorlog, aangesien die senior offisiere en onderoffisiere meestal veterane van die veldtogte in Somalië, Ethiopië, Libië en Italië teen die Italianers en Duitsers was.

    Die berede-infanterie-tradisie was die opmerklikste nalatenskap van die Boerekommando’s en het ook ’n belangrike rol gespeel. In die enigste stadium van die Tweede Wêreldoorlog waar Suid-Afrikaanse magte betreklik onafhanklik kon opereer – gedurende die besetting van Somalië en Ethiopië in 1940 – het offisiere soos genl.maj. Dan Pienaar hul eenhede in gemotoriseerde infanteriekolonnes georganiseer en in ’n warrelwind-veldtog stof in die oë van die Italianers geskop.[7] Dié tradisie sou, veral met die oorgrensoperasies in Angola vanaf 1975, weer baie gou na vore tree.

    Die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) was eweneens onvoorbereid op ’n oorlog, hoewel hy in daardie stadium betreklik goed toegerus was. In die 1960’s het Suid-Afrika ’n aantal GAM Dassault Mirage III’s by Frankryk aangekoop (waarvan 16 Mirage IIICZ-onderskeppers was en 17 Mirage IIIEZ-grondaanvalsvliegtuie, sowel as verskeie tweesitplek-lesvliegtuie en verkenningsvliegtuie).[8] Toe die Grensoorlog in 1975 begin eskaleer, was die Mirage III wel grotendeels verouder. Sy reikafstand was te beperk vir die groot afstande wat afgelê moes word en sy uitvlugte het soms slegs 40 minute geduur. Die eerste van ’n nuwe besending Mirage F1’s (16 Mirage F1CZ-onderskeppers en 32 Mirage F1AZ-grondaanvalsvliegtuie) is net betyds in 1975 ontvang, hoewel hulle eers in die loop van 1978 operasioneel sou word.

    Tog het maj. (later brig.genl.) Dick Lord in die vroeë 1970’s toe hy uit die Britse vloot-lugmag by die SALM aansluit het ’n mag gevind wat in die strik getrap het om ’n ‘vredestydse’ lugmag te word waar vlieg eerder soos die bedrywighede van ’n eksklusiewe vliegklub geword het.[9]

    Die lugmag het in die 1960’s ook 16 Blackburn Buccaneer Mk. S50- en 8 Canberra B. (1) Mk. 12- en T. Mk. 4-bomwerpers en -lesvliegtuie gekoop. Saam met die Mirages het dit aan Suid-Afrika ’n formidabele bomwerpervermoë gegee. Die Buccaneer-mag is egter in die aanloop tot die 1980’s aansienlik deur ’n hele aantal ongelukke verswak. Volgens Lord het sekere senior SALM-offisiere gemeen hulle weet beter as die Britte hoe om die Buc te onderhou met die gevolg dat dit ’n rampspoedige veiligheidsrekord binne die SALM gehad het.[10] Teen April 1978 is nege Buccaneers aan ongelukke afgestaan. Toe die klimaks van die Grensoorlog in 1987-’88 aanbreek, was slegs vyf oor.[11]

    Die ander belangrike bate in die SALM-arsenaal was helikopters, waarsonder die leër eenvoudig nie sou kon veg nie. Oor die jare is altesame 128 Sud-Aviation Alouette III- ligte helikopters in verskeie besendings aangekoop.[12] Hulle sou later aangewend word in ’n rol waarvoor hulle nooit ontwerp is nie, dié van geskutshelikopters teen Swapo-infiltreerders in die operasionele gebied in die noorde van Suidwes en die suide van Angola.

    Vir troepevervoer, wat noodsaaklik is vir die vinnige ontplooiing van soldate in ’n teeninsurgensie-rol, was ’n groter tuig nodig. Daarvoor is die Aérospatiale Puma gebruik, waarvan 20 in 1970 aangekoop is. Verskeie besendings het daarna gevolg totdat Suid-Afrika teen 1978, toe die Verenigde Nasies ’n wapenboikot teen die land afgekondig het, uiteindelik 69 gehad het. Dié mag is aangevul deur 16 Aérospatiale Super Frelons. Al hierdie helikopters was Frans van oorsprong.[13]

    Die lugmag se ander belangrike taak was die vervoer van voorraad en toerusting. Die SALM – met sowat 40 Douglas C-47 Dakotas uit die Tweede Wêreldoorlog, 9 Transall C-160’s en 7 Lockheed C-130 Herculese – was egter nie voldoende toegerus om ’n beduidende mag op die slagveld van voorraad te voorsien nie. Genl. Constand Viljoen, toe hoof van die weermag, het gou ingesien dat ’n groot deel van die logistieke voorraad nie per vliegtuig vervoer sou kon word nie en eerder per vragmotor daar sou moes kom.[14] Dié gebrek sou die leër se vermoë om langdurig met groot troepemagte diep in Angola te slaan, aansienlik beperk.

    Die vloot sou ’n taamlik ondergeskikte taktiese en operasionele rol in die Grensoorlog speel. In die vroeë 1970’s is die vloot toegerus met twee gemoderniseerde torpedojaers uit die Tweede Wêreldoorlog (wat in die loop van die dekade uit diens gestel is), drie tipe 12-President-klas-fregatte (almal by Brittanje aangekoop) en drie Franse Daphne-klas-duikbote. Hoewel die duikbote danksy hul vermoë om onsigbaar te wees baie bruikbaar vir spesmagte-operasies was, was die vyf groot oppervlakte-skepe nie juis geskik vir die eise van die Grensoorlog nie. Bowendien was hulle nie regtig bedoel om in Suid-Afrika se behoeftes te voorsien nie, maar eerder in dié van Brittanje teen die agtergrond van die Koue Oorlog. In die tweede helfte van die 1970’s sou Israeliese aanvalsvaartuie, wat ook uiters geskik vir klandestiene operasies was, hulle as die vloot se belangrikste oppervlakte-vaartuie begin vervang.[15]

    Vroeë lae-intensiteit-insurgensie

    Die eerste jare van die Grensoorlog was ’n lae-intensiteit-konflik. Nadat Swapo by Ongulumbashe platgeloop is, het hy enkele jare lank uit Ovamboland weggebly. Die groep wat daar uitgewis is, was die eerste van tien uit Zambië wat Ovamboland via Suidoos-Angola of Botswana probeer infiltreer het. Hulle was ook die enigste groep wat daarin geslaag het om die grens oor te steek. Die ander is almal deur die Portugese magte in Angola onderskep en geneutraliseer voordat hulle die grens bereik het.[16]

    Swapo het sy hoofkwartier in 1962 na die Zambiese hoofstad Lusaka verskuif. Daarna het Zambië die hoofvoedingsbron van die insurgensie geword.[17] Ná Ongulumbashe het die Caprivistrook, wat onder meer aan Zambië grens, voorlopig die belangrikste slagveld geword. Dit het die Suid-Afrikaanse regering goed gepas omdat die swaartepunt van die weerstand nie in die Caprivi was nie, maar in Ovamboland verder wes waar 46% van die Suidwes-bevolking gewoon het. Die meeste Swapo-leiers was Ovambo’s en dié organisasie het in Ovamboland die beste kans gehad om die plaaslike bevolking se steun en vertroue te wen. Die Capriviane was ondersteuners van die Caprivi African National Union (Canu) en hul steun het afgehang van die wankelrige alliansie tussen Swapo en Canu.[18]

    Die Caprivistrook het nie vir Swapo veel sukses gebring nie. Twee groepe wat die Caprivi in 1968 probeer binnedring het, is albei onderskep en die insurgente wat nie gesterf het of gevange geneem is nie, het na Zambië gevlug. Swapo het eers weer in 1971 en 1972 geprobeer om Suidwes te infiltreer en het dié keer groter sukses behaal.[19] In Junie 1974 het ’n groot groep guerrillas die Caprivistrook binnegedring, maar almal behalwe ses is in ’n geveg op 23 Junie deur die Suid-Afrikaanse Polisie doodgeskiet. Die oorlewendes het met moeite weggekom.[20]

    Een van hul offisiere, Rahimisa Kahimise, beskryf die uitdagings wat Swapo-insurgente in dié tyd moes trotseer só:

    We had to walk a long distance from Zambia through Angola. Some of our people also died in Angola and some missions could not reach Namibia, because they had to fight through Angola … the battles we were involved in, most of them were in Angola with the Portuguese … by then we had to train new recruits and we also had to fight to get food as we had to walk long distances, and then we had to try and get transport; also after a battle, then you must have more ammunition …[21]

    Intussen het die SAW in toenemende frustrasie toegekyk hoe sy rol in die aanval op Ongulumbashe nie alleen in die openbaar ontken word nie, maar ook hoe die polisie opdrag gekry het om die opstand in die kiem te smoor. Die SAW is ook verhinder om broodnodige gevegservaring in Rhodesië op te doen, aangesien die polisie ook daar aangewend is.[22] Bowendien was die meeste manne wat in die operasionele gebied doenig was, onlustepolisie wie se doeltreffendheid ten beste twyfelagtig was. Volgens die politieke wetenskaplike Annette Seegers was hul benadering een van soek en vang, in ooreenstemming met polisiëring wat op ’n strafregtelike verhoor gemik is.

    Bospatrollies en pogings om die plaaslike inwoners se lojaliteit te wen – wat later ’n sleutelelement van die SAW se teeninsurgensieveldtog sou uitmaak – het ’n sekondêre rol gespeel. Die onlustepolisie is in 1968 uit Suidwes onttrek waarna die polisie ’n teeninsurgensie-opleidingskursus in Pretoria begin het. Tot 1972 is slegs wit polisielede in Suidwes aangewend, maar ná die polisie se ondervinding in Rhodesië waar swart mense in die oorlog gebruik is, het die SAP ook swart polisielede begin ontplooi.[23]

    Hoewel dinge op die oppervlak taamlik rustig gelyk het, was die SAW bekommerd. Senior offisiere het PW Botha, toe minister van verdediging, in die vroeë 1970’s in ’n vertroulike verslag meegedeel dat die SAW nie voldoende op die verwagte stryd voorberei was nie.[24] Toe die eerste van verskeie landwye stakings in 1971 in Suidwes uitbreek en die polisie nie daarin kon slaag om sowel die binnelandse veiligheidsituasie as die insurgensie te hanteer nie, het die Suid-Afrikaanse regering desondanks uiteindelik besluit om die verantwoordelikheid vir die oorlog tog aan die militêre magte oor te dra.

    Ondanks sy gebrek aan gevegservaring was die SAW beter daartoe in staat om hierdie taak te verrig. Dit het meer manne- en vuurkrag gehad, en het reeds in 1960 begin om sommige soldate in teeninsurgensie-oorlogvoering op te lei.[25] Sommige van die senior offisiere soos lt.genl. C.A. Pop Fraser het heelwat teoretiese aandag afgestaan aan die vraag hoe ’n teeninsurgensie-oorlog geveg moet word. Genl. Constand Viljoen het aan die skrywer Hilton Hamann gesê hulle het geweet die polisie sou nie die kapasiteit hê om die opstand te onderdruk nie. We wanted to do it. I wanted to give my people the experience of fighting that kind of war because we all knew it was going to come South Africa’s way. Toe die oomblik reg was, het hulle die geleentheid dus aangegryp.[26]

    Die SAW het op 1 April 1974 finaal die verantwoordelikheid vir die oorlog oorgeneem. Dit was ook net betyds, want skaars drie weke later, op 25 April, is die Portugese fascistiese diktatuur in ’n staatsgreep omvergewerp. Kort daarna het die nuwe Portugese regering aangekondig dat hy hom aan sy kolonies in Mosambiek, Angola en Guinee-Bissau sou onttrek. Hiermee het alles eensklaps verander.

    Operasie Savannah

    Die Suid-Afrikaanse inval in Angola in 1975-’76 het diepgaande gevolge vir die oorlog ingehou. Hoewel die konflikte in Suidwes en Angola in beginsel geskei is, sou hulle toenemend verweef raak totdat dit in ’n finale orgie van bloedvergieting saamgesmelt het. Die besonderhede van Operasie Savannah, soos hierdie inval genoem is, is elders reeds deeglik gedokumenteer.[27] Vir ons doeleindes lê die waarde daarvan hoofsaaklik in die feit dat dit tot ’n reeks politieke en operasionele patrone gelei het wat later van groot belang sou wees.

    Die inval het sy oorsprong gehad in die staatsgreep in Lissabon op 25 April 1974, toe ’n groep ontevrede offisiere die fascistiese diktatuur van Marcelo Caetano, die premier, omvergewerp het. Dit het enorme strategiese implikasies vir Suider-Afrika gehad. Suid-Afrika kon nie langer staatmaak op Angola om as buffergebied te dien wanneer Swapo Suidwes probeer infiltreer nie. Die Portugese owerhede het die Suid-Afrikaners in werklikheid laat weet hulle sou nie meer toegelaat word om patrollies te onderneem om Swapo-vegters te keer om na Suidwes deur te dring nie. Op 26 Oktober het die laaste Suid-Afrikaanse skakeloffisiere wat by die Portugese magte gedien het Angola verlaat.[28]

    In sy memoires het Swapo se leier, die latere Namibiese president Sam Nujoma, oor dié tyd geskryf: Our geographical isolation was over. It was as if a locked door had suddenly swung open. I realized instantly that the struggle was in a new phase ... For us [it] meant that ... we could at last make direct attacks across our northern frontier and send in our forces and weapons on a large scale.[29]

    Om hierdie nuwe werklikheid te weerspieël, is Swapo se hoofkwartier weldra weer na Luanda verskuif.[30] Terselfdertyd het pres. Julius Nyerere van Tanzanië ’n ontmoeting tussen Nujoma en die MPLA-leier, Agostinho Neto, gereël wat tot ’n ooreenkoms tussen die twee bewegings gelei het.[31] Vir die eerste keer, soos genl. Jannie Geldenhuys in sy memoires opmerk, het Swapo dit bekom wat bykans ’n voorvereiste vir geslaagde insurgensie is, naamlik ’n veilige grens waaroor hy kan terugval.[32] ’n Optimistiese Nujoma het aan die Russe in Moskou gesê hy beplan om die gebied waarin gewapende operasies plaasvind eers na die Atlantiese kus en daarna in die binneland van Suidwes uit te brei.[33]

    Swapo het vinnig gereageer om die nuwe geleenthede uit te buit. Binne ’n paar maande nadat die Portugese beheer oor suidelike Angola verloor het, het die gebied gewemel van gewapende Swapo-bendes. Teen November 1974 was daar reeds Swapo-basisse met tot 70 man in die streek.[34] Vanaf Oktober 1975 het Swapo vir die eerste keer sedert 1966 ’n teenwoordigheid in Ovamboland gekry nadat oor die 500 opgeleide guerrillas die gebied binnegedring het.[35] Die SAW het in Augustus en September gereageer met Operasie Sausage – ’n reeks oorgrensoperasies noord van Ovamboland en die Caprivistrook waartydens vier Swapo-basisse aangeval is. Hoewel 26 Swapo- en MPLA-vegters doodgeskiet is, was die meeste Swapo-basisse leeg en daar is nie veel met die operasie bereik nie.[36] In Mei en Junie 1974 het Suid-Afrikaanse recces ook aan ’n geheime operasie teen Swapo in Suid-Angola deelgeneem, maar dit het Swapo se opbou nie juis verhinder nie. (Die SAW het sy eerste gevegsverlies gely toe lt. Freddie Zeelie in dié operasie dood is.) [37] Binne ’n betreklike kort tyd het die SAW hom in die knyp bevind.

    Swapo het dus daarin geslaag om uit die strategies taamlik onbelangrike Caprivistrook te breek. Danksy die feit dat dié organisasie Suid-Angola nou as platform kon gebruik, kon groot guerrillagroepe sowel Kavango as die oorlog se geografiese swaartepunt, Ovamboland, infiltreer. Die operasionele gebied is sodoende aansienlik vergroot en dit kon die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte moontlik ooreis. Swapo het selfs nóg groter planne gehad en het sy strategie verander. Volgens David Ho Chi Minh Namholo, stafhoof van Plan, was die doel toe om die boerderygebiede te bedreig en na die stede te gaan, eerder as om slegs in die noorde of die Caprivi te bly.[38] Voorvalle van sabotasie en bomontploffings het daarna in onder meer Windhoek, Gobabis en Swakopmund plaasgevind.[39]

    Die gebeure was waarskynlik op sigself al genoeg rede vir die valke in die SAW om vol begeerte na die Angolese grens te kyk. Hoewel PW Botha simpatiek was teenoor planne om die grens oor te steek om Swapo by te kom, was premier John Vorster ’n uiters versigtige mens en gevolglik het hy teruggehou.[40] Dit was eers nadat die regerings van Amerika, Zambië, Zaïre en Liberië by hom gepleit het om in Angola in te gryp om te keer dat die Marxistiese MPLA die mag oorneem dat hy ingestem het.

    Daar is aansienlike verwarring oor veral Amerika se druk op Suid-Afrika om in Angola in te gryp. Die Amerikaanse historikus Piero Gleijeses, wat die Kubaanse betrokkenheid by die Grensoorlog ondersoek het, dui aan dat die Amerikaanse dokumente versigtig gesensor is om bewyse van samespanning met Suid-Afrika toe te smeer.[41] Chester Crocker, die belangrikste beleidmaker oor Afrika in die latere Reagan-administrasie wat blykbaar vrye toegang tot die Amerikaanse argief gehad het, skryf egter dat sy regering nie net deeglik bewus was van Suid-Afrika se planne nie, maar dat our winks and nods formed part of the calculus of Angola’s neighbors.[42]

    Die Alvor-ooreenkoms

    In hierdie stadium was die politieke situasie in Angola chaoties. Daar was drie anti-koloniale bewegings wat teen die Portugese heersers geveg het, naamlik die Marxistiese MPLA onder leiding van Agostinho Neto, die Maoïstiese (later pro-Westerse) Unita onder Jonas Savimbi en die ideologielose en korrupte FNLA onder Holden Roberto. Vroeg in 1975 het hulle die sogenaamde Alvor-ooreenkoms in Portugal onderteken waarvolgens ’n regering van nasionale eenheid die gebied moes bestuur totdat vrye en regverdige verkiesings in Oktober kon plaasvind. Die datum vir onafhanklikwording is op 11 November vasgestel.

    Sommige waarnemers het geglo dat Unita in die verkiesings wat ingevolge die Alvor-ooreenkoms gehou sou word baie stemme en moontlik selfs die meerderheid sou wen.[43] Dit is interessant dat pres. Fidel Castro aan sy Bulgaarse eweknie, Todor Zjifkof, vertel het dat die MPLA-leierskorps kort ná die ondertekening van die Alvor-ooreenkoms gesê het hulle het ’n fout begaan deur tot ’n koalisieregering met Unita en die FNLA in te stem.[44] Dit is duidelik dat die MPLA vroeg reeds besluit het om die ooreenkoms te saboteer.

    In ’n gesprek met die Sowjet-ambassadeur in Angola in Julie 1975 het Neto die teenwoordigheid van die drie bevrydingsbewegings beskryf as ’n gunstige geleentheid vir reaksionêre magte in die land, wat op sy beurt gelei het tot ’n verdere intensivering van politieke, maatskaplike en ekonomiese konflikte. Hy was ten gunste van ’n taktiese alliansie met Unita, wat hy beskryf het as ’n beweging wat geen beduidende militêre magte gehad het nie (en wat dus maklik beheerbaar sou wees). Van sy kant het die Sowjet-ambassadeur Neto verseker dat die Sowjetunie gretig is dat die demokratiese (lees: sosialistiese) magte in Angola moet oorwin.[45]

    Te oordeel na die FNLA se aggressiewe optrede in die maande voor onafhanklikwording kan aangeneem word dat dié beweging ook nie van plan was om die Alvor-ooreenkoms na te kom nie. Die FNLA was ’n eienaardige beweging, korrup en ondoeltreffend met slegs een doel – totale mag. Nadat die FNLA in 1976 feitlik heeltemal uitgeskakel is, het Suid-Afrika dié beweging nie verder gesteun nie.

    Die laaste Portugese goewerneur, adm. Rosa Coutinho, was voorts ’n oortuigde sosialis wat Portugese militêre toerusting aktief na die MPLA gekanaliseer het.[46] Coutinho se optrede het volgens Chester Crocker reeds begin toe die Alvor-ooreenkoms in Januarie 1975 gesluit is. In Junie daardie jaar het Coutinho Havana in die geheim besoek om die samewerking tussen Kuba en die MPLA te koördineer.[47] In 1987 het die Rooi Admiraal, soos hy bekend geword het, in ’n televisie-onderhoud openlik erken hy wou nooit hê dat verkiesings moes plaasvind nie, dat hy hom vir ’n MPLA-oorname beywer het en dat hy die argitek van die Kubaanse ingryping was.[48]

    Volgens onlangse navorsing het die (toe reeds siek) Sowjet-leier Leonid Brezjnjef baie min in die Angolese situasie belanggestel en geen strategiese leiding oor die saak aan sy eie regering gegee nie. Castro het dié gaping baie slim gebruik om sy eie oogmerke te bevorder – ’n magsoorname deur die MPLA en die oorwinning van die sosialisme in Angola. Tog het die Russe met die Kubane saamgewerk omdat dit vir hulle die geleentheid gebied het om hul spiere globaal te bult en te wys dat hulle ewe veel van ’n supermag as Amerika was. Ná die Kubaanse missielkrisis van 1962 waartydens die Kremlin verneder is omdat hy nie ’n groot seegaande vloot gehad het nie, het die Russe hul vloot en strategiese lugvervoervermoë aansienlik versterk sodat hulle hul mag ook na ander punte in die wêreld kon projekteer. Hulle was gretig om te sien hoe ver hulle kon gaan.[49]

    Binne ’n paar weke het die MPLA-magte die FNLA uit Luanda verdryf waarna Unita, wat slegs ’n simboliese teenwoordigheid in die hoofstad gehad het, na die suide van die land uitgewyk het.

    Suid-Afrika is aarselend en in toenemende mate by dié maalkolk ingetrek. In die woorde van ’n anonieme Suid-Afrikaanse militêre amptenaar:

    We had a request from these movements [Unita and the FNLA] for aid, and we decided to expend a relatively small sum initially ... Our intuitive feeling was that we should have the most friendly power possible on that border ... We [subsequently] found that our new allies were totally disorganised. They could not utilise cash, so we provided arms. They could not use the arms, so we sent in officers to train them to use the arms.

    The training process was too slow, so we handled the weapons ourselves. We got pulled in gradually, needing to commit ourselves more if the past commitment was not to be wasted.[50]

    Die Suid-Afrikaanse kabinet was diep verdeeld oor die saak. John Vorster het toe reeds baie politieke kapitaal in sy détente-beleid ten opsigte van Afrikastate belê – hy het selfs beskeie sukses daarmee behaal – en wou dit nie skade berokken nie. Hy is gesteun deur die invloedryke hoof van die Buro vir Staatsveiligheid, genl. Hendrik van den Bergh, wat gemeen het die beveiliging van die Angolese grens sal genoeg wees om Swapo uit Suidwes te hou. Constand Viljoen het aan PW Botha geskryf dat Van den Bergh Angola suiwer as ’n politieke saak beskou: Hy [Van den Bergh] sê daar is geen Swapo-terroriste in Angola nie. Dit verskil van ons siening.[51] Botha en sy generaals het dus aan Vorster gesê Suid-Afrika sal die inisiatief moet neem as hy die oorlog wil wen. Uiteindelik het Vorster ingestem, hoewel hy steeds bedenkinge daaroor gehad het.[52]

    Castro het amper dadelik begin propaganda maak en het onder meer aangevoer dat die Suid-Afrikaners die Angolese volk van sy legitieme regte wou beroof en ’n marionetteregering wou instel en dat hul oogmerk was om Angola uitmekaar te pluk en hom van sy onafhanklikheid te beroof.[53] Hy het selfs daarop aanspraak gemaak dat hy moes inmeng om te voorkom dat apartheid in Angola ingestel word.[54] Castro het te kere gegaan oor die Suid-Afrikaanse blitzkriegagtige, Nazi-agtige, in apartheidstyl tenkkolonnes. Ons moes óf stil sit en toelaat dat Suid-Afrika Angola oorneem óf ons sou ’n poging moes aanwend om te help,[55] het hy later gesê.

    In werklikheid was die oogmerke van die Suid-Afrikaanse regering soos dit oor verskeie weke ontwikkel het, aansienlik meer beskeie. In ’n eerste operasie-instruksie het die hoof van die SAW aan die leër opdrag gegee om Unita by te staan om die gebiede wat hy voorheen beheer het, weer te verower.[56] Op 24 September is die SAW se finale operasionele benadering – ’n plan in vier fases – aan PW Botha as minister van verdediging voorgelê. Die voorstel was om dit klandestien en met so min as moontlik soldate uit te voer. Die vier fases het die volgende behels:

    hulp aan die anti-Marxistiese bewegings in Angola ten opsigte van gevegsopleiding, logistiek en inligting;

    om enige verdere opmars deur die vyand te verhinder;

    die herowering van alle gebiede wat die MPLA en Kubane in hul suidwaartse opmars beset het; en

    die verowering van die suidelike Angolese hawens.[57]

    Terselfdertyd het lt.genl. Magnus Malan, hoof van die leër, ook opdrag gegee vir operasies teen Swapo, wat toe in die suidelike dele van Angola gevestig was om suidwaarts oor die grens te kon infiltreer. ’n Beperking is op die operasie geplaas: 3 000 man en 600 voertuie van alle soorte.[58]

    Volgens Constand Viljoen was die strategiese doelwit met Operasie Savannah ’n beperkte oorlog sodat druk op die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) uitgeoefen kon word om ’n regering van nasionale eenheid in Angola in te stel ingevolge die bepalings van die Alvor-ooreenkoms. Dit is gedoen op Savimbi en Roberto se versoek, om hulle in staat te stel om magte van invloed in Angola te bly tot die vergadering van die Organisasie vir Afrika-eenheid wat vir ná die verkiesings geskeduleer is.[59] Die OAE sou vroeg in 1976 vergader om die saak te bespreek. Die moontlike verowering van Luanda en die vestiging van ’n Unita/FNLA-regering in die plek van die MPLA is wel ook bespreek, maar verwerp. Die konsensus was dat die prys wat dit sou meebring hoër as die voordele sou wees.[60]

    Die Suid-Afrikaanse regering het heel naïef geglo dat sy operasies in die geheim sou kon plaasvind. Toe die eerste gerugte oor SAW-troepe in Angola in die internasionale media verskyn, het Botha sy landgenote gevolglik aan die raai gehou oor Suid-Afrika se militêre betrokkenheid by Angola. Die regering se gebrek aan ’n duidelike strategiese konsep, minstens in die eerste weke, het ook na die troepe op voetsoolvlak deurgedring. Volgens Jan Breytenbach, wat in bevel van een van die veggroepe was, het dit heelparty negatiewe gevolge vir hom en sy manne ingehou:

    At the sharp end, during Savannah, we never really knew whether we were to take over the potential Swapo guerrilla base area by destroying the guerrillas already in residence there, capture as much of Angola as possible before 11 November, attack and take over Luanda, the capital, to install Savimbi … or ‘whatever’. As combat soldiers, we hardly knew what the hell was going on and where we were going to. But we went nonetheless.[61]

    Talle Suid-Afrikaanse veggroepe het in Oktober 1975 met ’n verbysterend vinnige opmars noordwaarts begin en alle teenstand in hul pad platgeloop. Die Suid-Afrikaanse bevelvoerder, kol. Koos van Heerden, het ’n klein half-opgeleide leër meer as 3 100 km ver langs ’n vyandige kus op [gelei] in ’n skamele 33 dae van beweging, in die woorde van die militêre skrywer Willem Steenkamp, en hy het elk van die 30 aksies waarin hy betrokke was, gewen, teen ’n prys van vyf gesneuweldes (onder wie een Suid-Afrikaner) en 41 gewondes (onder wie 20 Suid-Afrikaners).[62]

    Dit was ’n klassieke blitssnelle opmars soortgelyk aan dié van die Duitse Wehrmacht in Frankryk in 1940 en die Sowjetunie die daaropvolgende jaar. In só ’n geval word die ongelooflike pas van die beweging ’n wapen op sigself. Die CIA-operateur John Stockwell, wat op daardie tydstip in Angola was, het geskryf van die doeltreffendste militêre aanvalsmag wat nog ooit in swart Afrika gesien is, wat in ’n blitzkrieg deur die MPLA/Kubaanse geledere bars.[63] Jan Breytenbach se kommentaar was:

    The reason Task Force Zulu advanced so rapidly, overrunning one delaying or defensive locality after another, was because Fapla/Cuban forces were caught off balance when the opening shots were fired. Thereafter they were totally dislocated by never being given a chance to catch their breath, regroup and redeploy into well prepared defensive positions.[64]

    In teenstelling met die SAW se verstommende militêre sukses het sake aan die politieke front nie tot Pretoria se voordeel ontwikkel nie en uiteindelik was dít wat grootliks saak gemaak het. Hoewel verskeie honderde Kubaanse raadgewers en instrukteurs reeds maande lank in Angola was,[65] het Castro besluit om ’n groot Kubaanse mag na Angola te stuur sonder om Moskou daaroor te raadpleeg. Die voorhoede het in die eerste week van November, ’n paar dae voor onafhanklikwording, per vliegtuig aangekom.[66] Binne ’n paar weke het hulle tot ’n formidabele mag van 36 000 man en 300 tenks gegroei.[67]

    Die Suid-Afrikaanse troepe het gou met die voorste elemente van dié mag gebots. Op 23 November het hulle in ’n Kubaanse hinderlaag by Ebo beland en daar swaar deurgeloop. ’n Paar dae later het hulle egter wraak geneem op ’n Kubaanse mag by Brug 14 suid van Ebo.[68]

    Die soldate aan albei kante het ’n gesonde respek vir mekaar begin ontwikkel. Castro het ook ernstige foute by sy eie magte waargeneem en toegegee dat die Suid-Afrikaners minstens een keer deur die Kubaanse linies gebreek het.[69] Volgens die amptelike Suid-Afrikaanse historikus van Operasie Savannah het die SAW-soldate terselfdertyd gesien dat die Kubane selde oorgee en dikwels tot die dood toe geveg het.[70]

    In die noorde het die FLNA met Suid-Afrikaanse artilleriesteun uit die rigting van Zaïre na Luanda beweeg. Holden Roberto, die FNLA-leier, het helaas nie veel van ’n ruggraat gehad nie. Dit is deeglik bewys op die oggend van 10 November, toe die beslissende geveg ’n paar kilometer noordoos van Luanda plaasgevind het. Die idee was om die gesamentlike MPLA- en Kubaanse mag aan te val en die hoofstad te verower. Roberto het egter laat geslaap en die aanval het eers begin nadat die MPLA-verdedigers ’n kans gekry het om sterk stellings in te neem. Die aanval was ’n klaaglike mislukking en die Suid-Afrikaanse leierskorps by die FNLA moes deur ’n fregat van die vloot onttrek word wat langs die kus van Angola gepatrolleer het. Die battery 140 mm-kanonne is deur Zaïre verwyder.[71] Dit was die einde van Suid-Afrika se steun aan die FNLA.

    Só het onafhanklikheidsdag – 11 November – aangebreek, maar die gevegte het die beplande verkiesing onmoontlik gemaak. Die Suid-Afrikaanse magte was veronderstel om in dié stadium te onttrek nadat hulle Unita in beheer van hul tradisionele steungebied in die suide van Angola geplaas het. Hul taak was duidelik nog nie voltooi nie. Op versoek van Amerika, Frankryk, Unita en die FNLA het die Suid-Afrikaanse regering sy soldate se rol gevolglik uitgebrei. Hulle is beveel om die opmars voort te sit totdat ’n maklik verdedigbare posisie bereik is, ’n klassieke voorbeeld van wat die Amerikaners mission creep noem.[72]

    Die hele inisiatief was egter op die punt om te ontspoor. Op 19 Desember het die Amerikaanse Senaat ’n wetsontwerp goedgekeur wat die Withuis sou dwing om sy steun aan die FNLA en Unita te staak. Die senatore was nie daarvoor te vinde om aan die kant van die apartheidsregering betrap te word nie. Ten spyte van dié negatiewe sein het die Amerikaanse regering die Suid-Afrikaanse regering steeds gevra om sy onttrekking te vertraag totdat die OAE vir sy jaarlikse spitsberaad in Addis Abeba kon byeenkom. Daar is gehoop dat dié organisasie die Kubaanse inmenging sou veroordeel.[73]

    Die OAE was inderdaad in twee geskeur, met 22 lande wat ’n mosie ten gunste van ’n regering van nasionale eenheid ooreenkomstig die Alvor-ooreenkoms gesteun het en 22 wat die MPLA onmiddellik as die amptelike Angolese regering wou erken. Afrika-state se weersin in die wit apartheidsregering was klaarblyklik ewe groot as hul vrees vir die kommunisme. Die voorsitter, pres. Idi Amin van Uganda, het toe sy beslissende stem uitgebring waarin hy die MPLA gesteun het.[74] Die MPLA het dus die internasionaal erkende – en dus wettige – regering van Angola geword danksy een van die wreedste diktators wat Afrika ooit geken het.

    Daarmee is die mat finaal onder Suid-Afrika se voete uitgepluk. Sy internasionale steun het verdamp en daarom het die kabinet ’n paar dae later besluit om heeltemal uit Angola te onttrek. Lede van 35 Burgermag-eenhede is opgeroep en het oorkant die Angolese grens stelling ingeneem om ’n moontlike Kubaanse inval in Suidwes te keer.[75] Die Suid-Afrikaners het ook ’n mag van 4 000 tot 5 000 man by die Calueque-waterwerke in die suide van Angola gehou totdat die MPLA beloof het om nie die vloei van water na die noorde van Suidwes, wat van dié groot dam afhanklik was, te keer nie. Op 27 Maart het die laaste Suid-Afrikaanse troepe die grens na Suidwes oorgesteek. Altesame 29 van hul kamerade het in gevegte gedurende Operasie Savannah gesneuwel.[76]

    Die Kubane het heel kommerwekkend tot binne trefafstand van die grens met Suidwes gekom. Daar het Castro egter halt geroep; die Suid-Afrikaners se vrees dat hy die land sou binneval, was ongegrond. Soos hy 12 jaar later in ’n toespraak verduidelik het: Ons het die manne gehad, ons het ’n behoorlike getal tenks en kanonne gehad, maar ons het nie vliegtuie of lugafweermissiele gehad of baie van die toerusting wat ons nou [Desember 1988] het nie![77]

    Die Kubaanse kwessie

    Die historikus Piero Gleijeses, die enigste buitelandse akademikus wat al toegang tot die Kubaanse argief verkry het, meen Suid-Afrika se besluit om Angola binne te val hou glad nie verband met die Kubane se teenwoordigheid in daardie land soos Pretoria later beweer het nie. Volgens hom het dit eintlik andersom gewerk: Fidel Castro se besluit om in te meng was ’n reaksie op die Suid-Afrikaanse inval.[78] Tegnies gesproke is hy dalk reg, maar wanneer al die feite in ag geneem word, blyk ’n ander prentjie.

    Castro het op 5 November 1975 besluit om sy hoofmag van etlike tienduisende man na Angola te stuur. Dit was sowat twee weke nadat die Suid-Afrikaanse invalsmag die Angolese grens op 23 Oktober oorgesteek het. Gleijeses is egter tjoepstil daaroor dat die Sowjetunie en Kuba reeds laat in 1974 besluit het om hul vriende in die MPLA te help. Die tonne militêre toerusting wat sedert Oktober of November 1974 na die MPLA gekanaliseer is (die proses is in Maart 1975 versnel), asook die honderde Sowjet- en Kubaanse instrukteurs en militêre raadgewers wat op die beweging toegesak het, vertel ’n verhaal van sy eie.[79] PW Botha se aandag is juis op die Sowjetunie se hulp aan die MPLA gevestig in ’n SAW-verslag gedateer 26 April 1975. Die aanbeveling was dat Suid-Afrika die FNLA en Unita in ’n anti-kommunistiese alliansie moet probeer byeenbring.[80] Militêre betrokkenheid was in daardie stadium nie ’n oorweging nie.

    Navorsing het later bevestig dat die Sowjetunie laat in 1974 al begin het om militêre hulp aan die MPLA te verleen, lank voordat Suid-Afrikaanse betrokkenheid selfs eers ’n gedagte in Botha se kop was.[81] Kuba se adjunkpremier, Carlos Rafael Rodrigues, het in Januarie 1976 teenoor joernaliste erken dat 238 militêre instrukteurs in Mei 1975 na Angola gestuur is om MPLA-vegters op te lei – dit was maande voordat die Suid-Afrikaners aan ingryping gedink het. Hulle is deur ’n verdere 200 instrukteurs in Augustus gevolg, saam met 1 000 gevegstroepe, pantsermotors en vragwaens aan boord van drie skepe. Dié mag het vroeg in Oktober uit Kuba vertrek, weke voordat die Suid-Afrikaners die grens oorgesteek het.[82] Die feit dat Castro die meeste van sy troepe eers kort ná die Suid-Afrikaanse inval gestuur het, verander niks aan dié gegewens nie.

    Selfs Colin Legum, ’n akademikus en joernalis wat nie bekend is om sy simpatie met die Suid-Afrikaanse regering nie, het die bewering dat die Kubaanse intervensie ’n reaksie op die Suid-Afrikaanse inval was as "clearly a post facto rationalisation" beskryf.[83]

    In ’n lang geheime ontleding van die Sowjet- en Kubaanse inmenging in Angola was die CIA se gevolgtrekking dat die grootskaalse militêre hulp vroeg in 1975 – daar word gepraat van ’n eskalasie van Sowjet-steun, met inbegrip van tenks en groot mortiere – nie ’n reaksie was op die bietjie hulp wat die FNLA van China en Amerika ontvang het nie. Omdat die eskalasie in ’n tyd van relatiewe kalmte gekom het, kon dit ook nie beskou word as ’n reaksie op die MPLA se onmiddellike behoeftes op die slagveld nie. Volgens die CIA het die Sowjet-optrede eerder getoon dat die Russe besluit het om hul faksie in Angola die middele te gee om militêre oorheersing te verkry. Dit het in ’n tyd plaasgevind – en dit is belangrik – toe die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR), Kuba én die MPLA Suid-Afrikaanse ingryping as onwaarskynlik beskou het.[84]

    Die Kubaanse lugmag-generaal Rafael del Pino, wat in 1987 na Amerika oorgeloop het, het Castro se denkwyse aan die joernalis Fred Bridgland verklaar. Castro assumed that the Alvor Accord was going to be honoured by no one, and he wanted to get ahead of the field; he knew that the Chinese and North Koreans were giving aid to the FNLA. The arrangement was that the Soviet Union would send the weapons to Angola and Cuba would send the personnel.[85]

    Volgens nog ’n Kubaanse oorloper, Juan Benemelis – hy was destyds Afrika-hoof by die Kubaanse departement van buitelandse sake – het die eerste kontingent van die Kubaanse instrukteurs Angola in Maart 1975 bereik, maande voor die Suid-Afrikaanse inval.[86] Ietwat later het Castro self in ’n geheime gesprek met Todor Zjifkof, sy

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1