Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die dag toe ek my hare losgemaak het
Die dag toe ek my hare losgemaak het
Die dag toe ek my hare losgemaak het
Ebook148 pages2 hours

Die dag toe ek my hare losgemaak het

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hierdie debuutbundel kortverhale beeld op treffende en insiggewende wyse Mia Ragel Albertyn se grootwordervarings uit – in Kaapstad en op die familieplaas buite Ladismith, van twaalfjarige kind tot ’n jong moeder. Voorop staan telkens die komplekse verhoudings binne die familie, en onderliggend is die helende krag van “storie” en verbeelding in Mia en haar pa se lewe: dit is ook haar redding uit die erflas van depressie.
LanguageAfrikaans
Release dateSep 1, 2011
ISBN9780798153157
Die dag toe ek my hare losgemaak het

Related to Die dag toe ek my hare losgemaak het

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die dag toe ek my hare losgemaak het

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die dag toe ek my hare losgemaak het - Willemien Brümmer

    Die dag toe ek my hare losgemaak het

    Willemien Brümmer

    Vroeë variante van drie verhale is gepubliseer:

    Toe Toorvoet stil geword het, in Van spoke gepraat (Tafelberg, 2006); Het jou in Die melkweg het ’n ster laat val (Human & Rousseau, 2006) en Ragel is ek gedoop in die Nederlandse tydskrif Bunker Hill: tijdschrift met literatuur (Maart 2007), vertaal deur Riet de Jong-Goossens. Dieselfde verhaal het in Afrikaans in die Herfs 2008 Boeke-Insig verskyn.

    Vir my pa, die éintlike storieverteller

    Erkennings

    My studieleier, prof. Etienne van Heerden, het hom dikwels in die klas op die volgende aanhaling beroep: When a writer is born a family starts dying.

    Tydens die skryf van Die dag toe ek my hare losgemaak het moes ek egter opnuut uitvind daar is niks meer helend as die krag van stories nie. Ek wil dus heel eerste dankie sê vir my pa, die beste storieverteller wat ek ken, en my ma wat terselfdertyd ’n liewe heksie en ’n goeie fee is.

    Tweedens dankie aan Van Heerden, onder wie se bekwame leiding ’n eerste weergawe van hierdie manuskrip voltooi is as deel van ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Sonder my immer behulpsame redakteur, Alida Potgieter, en Suzette Kotzé-Myburgh, sou die verhale egter nooit in hul huidige vorm verskyn het nie.

    Dankie ook aan die talle ander wat gesorg het dat die verhale op koers bly: Jeanette Ferreira, wat vir my méér as ’n mentor was, Petra Müller met haar skerp en kritiese oog – ook aan André Brink, Yvonne Beyers, Andries Gouws, Olivia Rose-Innes, Mia die kat, Joan Brokensha en veral Alistair Morgan. Dankie aan Karlien de Villiers vir die mooi illustrasie op die band.

    Sonder die volgende tekste sou my stories aansienlik armer gewees het: The Glass Menagerie deur Tennessee Williams, Professor Van de Lier se verhaal: Die Twee Professore deur C.J. Langenhoven, Dante se La Divina Commedia en Die Bybel. Ook Reinaert de Vos, Rooikappie en die Wolf en Die Sneeukoningin was belangrike reisgenote.

    Laastens dankie aan Die Burger vir die nodige ondersteuning en Human & Rousseau wat ter elfder ure gehelp het met ’n studiebeurs.

    Willemien Brümmer

    April 2008

    Inhoud

    Toewyding
    Erkenning
    Skeikunde-eksperiment
    Het jou!
    Free-range whole bird
    Ons probeer harder
    Kunstenaars
    Ragel is ek gedoop
    Toe Toorvoet stil geword het
    Die dag toe ek my hare losgemaak het
    Die Sneeukoningin
    Skerwe
    The persistence of memory
    Om die waansin vry te spring

    The universe is made of stories, not of atoms.

    Muriel Rukeyser

    Skeikunde-eksperiment

    Mia se pa is ’n professor in die skeikunde. Sy dink dikwels aan hom as ’n wetenskaplike eksperiment: ’n brein wat in ’n glaspot aan die lewe gehou word met ’n verwarmer, ’n lugpomptoestel en ’n kragprop. Amper soos die harsings in die Langenhoven-spookstorie wat in hul glaspotte gedoem was tot ewige eensaamheid en stilte.

    Party aande droom sy van die glaspot. Sy loop nader – tot só naby dat dit opwasem en sy met haar vinger ’n streep deur die mistigheid moet trek om tot binne te kan sien. Maar wanneer sy vir haar pa ’n boodskap op die glas probeer skryf, lees hy dit altyd verkeerdom.

    Dis seker van al die deur-glas-kyk dat sy self breekbaar is. Hoekom sy meer griep en gastro kry as ander kinders, en makliker flou word; hoekom sy kneus as iemand skaars aan haar raak.

    Sy onthou toe haar sub B-juffrou haar gevra het om ná huistoegaantyd in die klas agter te bly. Eers toe al die ander kinders uit was, het sy van haar tafel met die blommetjiestafeldoek opgestaan. Sy’t seker gemaak Mia sién hoe sy na die bloukolle op haar maer bene kyk. Het jy seergekry?

    Mia het haar kop geskud en gewens haar skoolrok wou vanself tot op haar skoene groei sodat die juffrou kon ophou kyk. Sy’t Mia laat dink aan die dominee se vrou as sy met die minder geseënde gemeentelede praat.

    Die juffrou het tot reg voor haar geloop en dit het gevoel of sy dwarsdeur haar kyk, tot binne-in haar derms. Hoekom het jy so baie kneusplekke?

    Mia het haar kop laat sak. My ma sê … My ma sê ek het ’n dun vel.

    Die juffrou het gefrons, ’n laaste keer probeer: Watse werk doen jou mammie en pappie?

    Dié keer het die antwoord maklik gekom: My pa woon in ’n glaspot en my ma sê ander mense se woorde op.

    Mia se ma wás ’n aktrise, maar vandat sy getroud is, gee sy dramaklasse en doen oorklankingswerk. Partykeer dink sy aan haar ma as iemand wat sonder binnegoed is noudat sy nie meer optree nie. Dit voel asof sy en haar pa die enigste mense is wat sigbaar is in hul deurmekaar huis met die baie kamers in Tamboerskloof. Haar ma is die deurskynende spook wat Mia se dae verdeel in ure, haar ure in minute.

    Al buig Mia se vingers om op die snare, het sy van twee tot drie vioolles. Van vier tot vyf is dit drama, kuns of ballet. Van halfses tot halfsewe moet sy toonlere oefen, en ná ete, van agt tot nege, moet sy haar huiswerk doen.

    Die enigste huiswerk wat sy nooit doen nie, is wetenskap – die vak waaraan haar pa soms tot ná middernag werk; wat hom na konferensies reg rondom die aardbol laat vlieg.

    Sy’t opgehou nadat sy hom eendag met gebalde vuiste op en af in sy studeerkamer sien loop het, sy Nike-tekkies wat oor die plankvloer piep. Ek moet, ek móét, het hy geprewel. Daardie dag het sy haar verbeel sy sien klein formuletjies by sy neusgate uitborrel.

    Hy’t agter sy lessenaar gaan sit, voor hom net ’n vel wit papier. Sy’t haar neus teen die glas gedruk, gesien hoe sy hande krampagtig om die sykante van die lessenaar vou. Sy bril het toegewasem en sy lippe het gebewe. Terwyl sy balpuntpen woes oor die papier knars, het hy ’n paar blokkies en pyltjies met letters en syfers neergeskryf. Net so vinnig het hy die pen neergesmyt. Hy’t sy bril afgehaal en die papier met albei hande opgefrommel. Sy oë het geskree terwyl hy die papier na die verste hoek van die kamer slinger.

    Daarna, as Mia vir haar huiswerk moes konsentreer op die uitruiling van ione, het sy eerder geluister na die kinders wat balspeel in die straat voor hul huis: kinders wat mekaar slaan en hul knieë oopval op die teerpad. Sy’t jaloers na hul pleisters gekyk by die skool.

    Wanneer sy moes leer van uitsetting en inkrimping, het sy prentjies geteken van prinsesse wat woon in glaspaleise.

    Kort voor haar twaalfde verjaardag loop Mia en haar ma verby Spilhaus in Cavendish. Haar ma stap stadiger, kyk na die winkel asof sy teruggevoer word na ’n geheime wêreld van lig en blinkertjies. Haar koperkleurige hare val sag om haar gesig; haar groen oë droom.

    Hulle talm by die winkelvenster en kyk na kristalglase met die fynste stele, en blompotte wat lyk of hulle sal breek as jy aan hulle raak. Daar’s ook halssnoere, klingelende mobiele en selfs skoenlappers van kristal. Ligvlekkies kaats uit die geslypte kante in ’n mallemeule van kleur.

    Haar ma lei haar na die vertoonrak met miniatuurdiertjies en wys na een van die kristalperdjies reg in die hoek. Hy lyk anders as die ander: maerder en skamer. Tussen sy twee ore is ’n enkele gedraaide horing.

    "Lank gelede het ek Laura gespeel in The Glass Menagerie, wat heeldag haar glasdiertjies gesit en blinkvryf het. Laura se geliefkoosde diertjie was ’n eenhoring," sê haar ma. Haar stem klink asof sy ’n bewonderende gehoor aan haar voete het wat elke woord indrink.

    Oh, please don’t think I sit around doing nothing. Haar ma maak ’n singerige Amerikaanse aksent na terwyl sy haar ooglede soos ’n jong meisie fladder. My glass collection takes up a lot of time. Glass is something you have to take good care of.

    Toe, skielik, verander haar ma se gesig. Sy stap met kort, vinnige treë uit die winkel terwyl haar woorde terugsyfer na ’n tyd en plek voor sy vir Mia en haar pa geken het. ’n Enkele traan loop oor haar ma se wang. ’n Regte traan, nie ’n verhoogtraan nie.

    Op Mia se verjaardag ry haar pa se Benz eers ná agt die aand deur die swaar ysterhekke van hul huis in Milnerstraat. Toe hy met die baksteentuinpaadjie opkom, sien sy hy dra swaar: Dis ’n plastieksak met iets hoekigs en hards in. Sy gesig is ernstig, sy ligbruin hare in ’n streng sypaadjie gekam.

    In die kombuis soen hy Mia op die voorkop, vee liggies oor haar hare en sit die plastieksak op die tafel neer. Binne-in is ’n groterige kartonboks. Op die papier wat die winkelmense om die boks gedraai het, lees sy: FRAGILE HANDLE WITH CARE. In kleiner skrif daaronder: DANGER.

    Sy asem vinnig in en sien in haar gedagtes die winkel met sy geheime glaswêreld: selfs as jy jou oë toemaak, hou dit aan blink. Sy voel hoe haar bene lig word; ’n trilling loop deur haar arms. Haar hare voel asof hulle orent staan, soos die keer toe sy aan die groot metaalbal by die wetenskapmuseum gevat het – die een wat vir hulle gewys het hoe werk statiese elektrisiteit.

    Met opgehoue asem skeur sy die papier van die boks af. Dit val soos wit vlerke om haar voete. Toe die kartonboks onder haar vingers verskyn, wink sy haar ma nader. Sy vorm klaar die dankie met haar lippe.

    Haar ma glimlag nie; wys net met haar oë na die boks.

    Mia lig die deksel op en asem stadig uit: binne die polistireenomhulsel is glasproefbuise en botteltjies vol gekleurde poeier. Daar is ook ’n mikroskoop, ’n drupper en reghoekige stukkies glas in plastiek toegewikkel.

    Sy klim die trappe na haar kamer en slaan die deur toe.

    Haar pa kom klop eers die volgende aand aan haar deur. Ek het gekom dat ons eksperimente kan doen. Hy beklemtoon sy klinkers asof hulle spykers is wat by sy woorde ingekap word.

    Mia loop met swaar voete die trappe af, toe uit by die sydeur, waar ’n smal, toegegroeide tuinpaadjie lei na die buitekamer wat haar pa as sy werkskamer ingerig het. Daar binne ruik als na terpentyn en verf. Die kot waarin sy kleintyd geslaap het, staan met gate in sy matras in die hoek. Die tralies lyk na tronktralies. Die wipstoel waarin haar pa vroeër jare vir haar slaapstories gelees het, is sonder ’n rugleuning. Agter die stoel, deur vismotte gevreet, is ’n geblokte plakkaat van haar ma in The Glass Menagerie.

    Mia staan so ver as moontlik van die proefbuise. Haar pa neem lank met die voorbereidings. Elke nou en dan sê hy haar naam, nes die wetenskaponderwyser by die skool: Mia, luister jy?

    Sy neurie saggies: Twinkle, twinkle, little star, how I wonder what you are. Sy kyk hoe hy die proefbuise op ’n staander pak en sy spesiale gasvlam op die werkstafel aansteek. Sy sien hoe hy ’n teelepel geel swaelpoeier op ’n stukkie gevoude papier skep, probeer om nie die reuk in te asem nie.

    Uit ’n ander botteltjie skep hy ’n teelepel vol swart ystervylsels en meng dit liggies met die swaelpoeier. Met die gevoude papier giet hy die mengsel versigtig in ’n proefbuis. Hy hou die geronde onderkant van die proefbuis oor die vlam. ’n Gloed kruip van die onderpunt af op.

    Sy verduideliking is presies, soos altyd: "Die woord ‘chemie’ stam eintlik van ‘alchemie’. Op sy beurt kom dit van die Arabiese al-kimia, wat beteken ‘die kuns van transformasie’. Die skeikunde gaan steeds daaroor."

    Hy vat haar

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1