Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Magersfontein, O Magersfontein!
Magersfontein, O Magersfontein!
Magersfontein, O Magersfontein!
Ebook282 pages2 hours

Magersfontein, O Magersfontein!

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

’n Film- en TV-span kom op Magersfontein aan onder leiding van lord Sudden en lord Seldom om ’n film te maak oor die slag van Magersfontein tydens die Anglo-Boereoorlog, op 11 Desember 1899. By dié geleentheid het die Skotse generaal Andrew Wauchope sy lewe verloor. Op tipiese wyse slaag hierdie veelbekroonde skrywer daarin om ’n wye verskeidenheid van uiteenlopende karakters bymekaar te bring en, hoe vergesog die gegewe ook al, alles tot ’n eenheid saam te bind. Nie net die twee lords se filmspan en begeleiers kry lewe voor ons oë nie, maar ook die historiese figure wat verbeeld moet word: Wauchope, De la Rey, Methuen, Cronjé. ’n Ryp en veelduidige satiriese roman wat die leser enduit sal boei.
LanguageAfrikaans
Release dateJul 30, 2013
ISBN9780798160025
Magersfontein, O Magersfontein!
Author

Etienne Leroux

Etienne Leroux (1922-1989) was een van die belangrikste Sestigers. Hy het baie vernuwing in die Afrikaanse letterkunde meegebring en dikwels groot omstredenheid veroorsaak. Sy werk is verskeie kere bekroon, o.a. twee keer met die Hertzogprys, vir Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein O Magersfontein. ’n Heruitgawe van Die Silberstein-trilogie is in 2006 gepubliseer, en in 2008 Die 18-44-trilogie (wat die romans 18-44, Isis Isis Isis en Na’va insluit).

Read more from Etienne Leroux

Related to Magersfontein, O Magersfontein!

Related ebooks

Related articles

Reviews for Magersfontein, O Magersfontein!

Rating: 3.75 out of 5 stars
4/5

2 ratings1 review

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    Read this in the English translation by Ninon Roets (Hutchinson, 1983), which is not listed in LibraryThing.It's an excellent satire, full of sharp, angry sarcasm, and some very funny half-page portraits of people: a narcissistic Greek author; a prudish traffic policeman; two Lords, Sudden and Seldom; a poor Boer man -- and about twenty others, very well drawn. Leroux doesn't waste a single line: he's savage and accurate -- a wonderfully good writer. This is satire as it should be written, by someone nearly apoplectic with hatred and impatience, and yet also infused by an irrepressible desire to laugh at everyone. It was banned in South Africa, as documented in the book "the Muzzled Muse: Literature and Censorship in South Africa."Beyond satire, and piercing description, it isn't much, but I will be reading other books by Leroux.

Book preview

Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux

Etienne Leroux

Magersfontein, O Magersfontein!

Human & Rousseau

Opgedra aan Kowie, Gino, en Fiona

Net soos in die verlede, sal elke man sy staal bewys, sê die Minister. Ek het vertroue in my volk.

I

Verkenningstog

Die Eerste Fase

1

’n Stoet bestaande uit sewe motors ry in die laatmiddag vanaf Kimberley in die rigting van Modderrivier. Héél voor is ’n swart Cadillac met ses deure, bestuur deur ’n witgeklede swart chauffeur. Op die agterste sitplek sit lord Sudden, lord Seldom en Hans Win­ter­bach. Op een van die voustoeltjies in die middel, met sy rug na die deur, Amicus Achtung. Langs die chauffeur, op die sitplek, is ’n koelsak met ’n fles whisky, drie sodabotteltjies, drie pakkies ys en drie glase daarin toegegespe. Selfs teen hierdie tyd van die middag is die hitte amper ondraaglik vir enigiemand wat nie gewoond is aan die Noord-Kaap se droë somerweer nie. Toe lord Sudden en lord Seldom byvoorbeeld op die Kimberley-lughawe hulle gesamentlike voet vir die eerste keer op Afrikaanse bodem geplaas het, het lord Seldom vir Amicus Achtung, wat hulle verwelkom het, gesê: The jet-stream from this bloody Boeing is quite unbearable. Dis eers toe hulle ’n entjie van die vliegtuig weg was dat lord Seldom besef het dat hy besig was om die aanslag van ons westewind te ervaar. Maar beide lord Sudden en lord Seldom is gentlemen en hulle het hulle voorlopig van enige kommentaar weerhou terwyl hulle getinte grys hoofde soos verlepte blomme teen die agterste ruite van die Cadillac verwelk.

Hier het struikrowers die poskoetse in die begin van die eeu voorgelê, sê Amicus Achtung terwyl die Cadillac met ’n sekere aangename ritme die wentelbaan tussen die koppies volg.

Die koppies was bedek met olienhoutbome, maar hulle is as brandstof gebruik om die lokomotiewe van daardie jare te voer, sê Hans Winterbach.

In die verte kan u kameeldoringbome sien, sê Amicus Achtung.

Die Lords kyk min of meer in die rigting van Kuruman en hulle sien ’n oneindige vlakte wat met sambreelvormige bome in ’n waas in die niet verdwyn.

Die struike en gras in die onmiddellike omgewing is meestal akasias en steekgras, sê Hans Winterbach.

Hans, tussen die twee Lords, is geklee in ’n wit safaripak, opge­luister met ’n Mao-hemp van duursame sy wat sweterig aan sy lyf kleef.

Was die plantegroei dieselfde toe die slag van Modderrivier en die slag van Magersfontein plaasgevind het? vra lord Sudden.

Ek dink ons sal dr. F. Amakaia-Laird hieroor moet raadpleeg, sê Amicus Achtung.

Waar is hy? vra lord Seldom.

Dis ’n sy, sê Hans Winterbach. In die Mercedes agter ons.

Mooi of lelik?

Skots.

Lords Seldom en Sudden kyk na mekaar en dan aan weerskante na die landskap, en daarna verslap hulle weer tot verwelkte blomme.

Hulle kom van Sudden-Fee-Tway, buitekant Londen.

In die tweede motor, ’n groen Mercedes, is dr. Fyella Amakaia-Laird die enigste passasier. Sy het nog nie duidelikheid omtrent haar status in hierdie projek nie, maar sy vind dit verkwikkend om soos ’n V.I.P. behandel te word. Sy het so pas ’n doktorale tesis oor genl. Wauchope aan die Universiteit van Londen voltooi. Dis haar eerste besoek aan die land, en sy smag daarna om die slagveld van Magersfontein te sien en te verken. Die chauffeur, ’n Griek uit Kreta, is haar minnaar. Dit was een van die voorwaardes, nadat die kwessie van gewone vergoeding afgehandel is, dat hy in diens geneem moet word voordat sy die kontrak onderteken.

Met sy een hand op die stuur en die ander hand op haar dy, bestuur Aristophanes Pompidous die Mercedes met ’n mate van versigtigheid en nie-aggressiwiteit wat vreemd aan sy volksaard is want hy is nog nie presies op hoogte hoe die ratte werk nie.

Ek dink, sê dr. Fyella Amakaia-Laird, ek dink, sweety, dat jy in ’n verkeerde versnelling ry. Die enjintemperatuurwyser is te hoog.

Xαθ! sê Aristophanes. Dis die hitte.

Hy pluk die motor desondanks in ’n ander rat, en die Mercedes skiet soos ’n pyl na vore tot op die gat van die Cadillac.

Lovey!

Aristophanes skop die kragrem betyds vas en hulle word ’n roerlose voorwerp op die teerpad, vlák voor die Kombi wat hulle volg. Hy verwissel die ratte vinnig en hulle beweeg betyds voordat daar ’n botsing plaasvind.

"Ek het jou gesê ek was in die regte rat, sê Aristophanes toe die orde van die optog ontwrig is. Jy ken nie die temperatuur en lugdruk van hierdie wêreld nie."

Ek wonder of hy al ’n motor bestuur het, dink Fyella. Miskien het hy nie eens ’n rybewys nie.

Het jy ’n rybewys, Pompidous? – en sy verwyt haarself onmiddellik.

Die Mercedes brul tot in die volgstroom van die Cadillac. Het jy al in Athene bestuur? vra Pompidous terwyl die temperatuurwyser­tjie hoër kruip. Dan ontspan hy, en keer terug tot sy vorige togsnelheid.

Sy hand is nie meer op haar dy nie en Fyella is self ’n bietjie in die neutrale middel van haar eie wêreld. Sy verlang na sy hand, maar hulle kom nou nader aan Magersfontein en dit is die tragi­komiese plek van haar tesis en haar drome. Sy kyk na die landskap wat sy met haar verstand ken en daar keer haar belangstelling terug na Aristophanes. Sy wag tot sy hand weer op haar dy rus. Daar is baie tyd vir haar soort drome oor. Aristophanes het ’n dubbele stel natuurlike agtertande wat hom effens na ’n haai laat lyk as jy in sy mond kyk. Hy het ’n oerkennis van die Griekse magie en die bose oog. Daarbenewens is hy ook ’n formidabele minnaar op suiwer seksuele gebied.

Die fokken so-en-so! sê Tommy Togvader, bestuurder van die Kombi toe hy volgens sy mening ’n ernstige ongeluk vermy het deur skielik regs te swaai en oor ’n kliprand langs die pad te ry en toe weer terug in die pad te draai oor ’n tweede kliprand.

Oh, take it easy, Tommy, sê Mej. Magersfontein van die Vry­staat.

Die bleddie Libanees, sê Tommy.

Hy is nie ’n Libanees nie, hy is ’n Griek, sê Mr. Shipmaster, bagasiemeester, logistikus & toerbestuurder.

Libanees, Griek … hy kan nie ’n motor bestuur nie en ek kan nie sien hoekom hulle hom die Mercedes gee nie.

Take it easy, Tommy, sê Mr. Shipmaster.

Mr. Shipmaster is naby aftree-leeftyd, maar nog steeds bly elke onderneming sy erns. Hierdie sal miskien die klimaks van sy loopbaan wees. Hy kyk deur sy armsorgbrilletjie na die vyf mooi meisies in die Kombi: Mejuffrouens Magersfontein van die Vrystaat, Natal, Kaap, Transvaal en Suidwes. Inderdaad.

Hoekom moet ons in die derde motor ry terwyl daardie vrou alleen in die Mercedes is? vra Mej. Transvaal.

Sy is ongeklassifiseerd, sê Mr. Shipmaster.

Mej. Transvaal frons versigtig want té veel fronse laat plooie. Sy oorweeg die antwoord en vind dit aanvaarbaar in die vinknes waar­binne haar breintjie soos ’n pasgebore voëltjie wondbaar vroetel.

Inderdaad, Mr. Shipmaster.

Dis ’n woord wat sy van hom geleer het en sy gebruik dit telkens.

Mr. Shipmaster se geheime ambisie is om ’n walkie-talkie te be­sit.

Christ! fluister die bestuurder van die ander Kombi want sy motor is vol staatsamptenare en hoogwaardigheidsbekleders van die ver­skeie provinsiale administrasies.

Hy het so pas gesien dat die hippie, Tommy Togvader met die Christus-hare, twee keer oor ’n padbaken ry en yslike duike in beide agtermodderskerms gelaat het. Hy het die bewegings van die motor voor hom geantisipeer na die eerste skielike swaai na links en toe gekompenseer deur sy eie motor skerp régs te swaai en skielik na die middel van die pad terug te pluk – ’n prosedure wat sy passasiers onder die indruk gelaat het dat hy hulle van ’n ernstige ongeluk ge­red het, alhoewel hulle middeljarige nekwerwels op gevoelige senu­wees gedruk het wat skietpyne tot in skedel en skelet veroorsaak het. ’n Derde amptenaar, Departement Inligting, ’n ywerige drinker, se pols het teen ’n chroomstoel gebots en geringe aartjies laat bars wat ondervelbloeding veroorsaak het.

Suster Florence J. Fiskaal dartel met haar vietse gesette lyf van amptenaar tot amptenaar en deel meegevoel mee terwyl sy onbeholpe met duim en middelvinger gevoelige plekke verder treiter. Haar demoniese duim breek die vel op die pols van die drinker en ligrooi bloed vloei. Dettol en ’n hegpleister word orals aangewend.

Dankie, Suster, kom dit van verskeie oorde.

Suster Florence J. Fiskaal glimlag soos ’n Suster vir pasiënte in ’n Saal glimlag voordat sy die ligte doof en almal aan hulle eie nagtelike lyding laat.

Suster Florence J. Fiskaal is ’n kraamverpleegster en eintlik nie ’n volwaardige Suster nie. Niemand het haar haar papiere gevra toe sy aansoek in verband met die projek gedoen het nie. Sy is nou deel van die projek; dis ’n sleutel-oomblik in haar lewe, en sy is sonder die las van verpleegeksamens verhef tot ’n soort Moeder-Owerste op die gebied van die verpleegkunde.

Toe die Kombi die rustigheid van die gelykpad vind, sê een van die L.U.K.’s: Hulde aan suster Florence Nightingale!

Dit vind groot byval. Dis die soort woordspel en grap wat op pro­vinsiale vlak waardeer word.

Hulde aan suster Florence Nightingale!

Suster Florence J. Fiskaal glimlag skaam.

My van is Fiskaal, sê sy deemoedig.

Nightingale! Nightingale! kom dit steeds van verskeie oorde.

In hierdie Kombi word brandewyn en Coca-Cola gedrink.

Ons hulde aan ons bekwame bestuurder, sê suster Fiskaal on­selfsugtig.

Die woord hulde is nie onbekend aan die amptenare nie.

’n Senior amptenaar kom figuurlik op die been.

Hulde aan ons bestuurder, sê hy afgemete. Ons innige dank aan suster Nightingale. Hy knik in haar rigting. Maar ek dink dat ons kennis moet neem van die naam van die ware misdadiger. Die hippie in die motor voor ons. Die man met die lang hare.

Tommy Togvader, fluister iemand.

Tommy Togvader, sê die senior amptenaar. Ek dink ons moet offisieel kennis neem van die voorval.

Tommy is nog jonk en onervare, sê suster J. Fiskaal. Sy maak ’n beweging met haar hande. Indien u my sal toelaat om my be­skeie opinie te lug. Sy kyk met weemoedige oë wat blykbaar heelwat lyding gesien het na almal. Tommy is nog jonk, sê sy. Haar oë word blinkerig. Tommy is nog ’n seun. Sy wankel effens. Dis mis­kien die nadraai van die skok. Gewillige hande help haar na haar sitplek. ’n Coca-Cola-met-ietsie word haar aangebied.

’n Merkwaardige vrou, sê die senior amptenaar.

’n Ruim hart.

Florence J. Nightingale! sê ’n ander amptenaar en hou sy glasie omhoog.

Florence J. Nightingale! sê almal.

Ten spyte van stywe nekke begin almal die rit geniet. Niemand kyk na die landskap wat Magersfontein bepaal nie.

Die orige twee Kombi’s was minder onderhewig aan die skokeffekte van die insident op die pad. Die twee bestuurders het net liggies op die remme getrap en langsaam heen-en-weer geswaai voordat hulle weer koers gekry het. Dit het die ingesetenes nie die minste ontstel nie want hulle was in ’n hewige twisgesprek gewikkel oor die reëls van protokol. As akteurs en aktrises van plaaslike en buitelandse instansies, en toneelspelers en toneelspeelsters van Kruik, Sukovs, Truk en Naruk, almal betrokke in die projek, voel hulle hulle ge­samentlik veronreg dat die skoonheidskoninginne méér aandag kry, gesien die feit dat hulle in die voorste Kombi ry en so meer. Onder­ling is daar in fluistergesprekke ook onenigheid oor kwessies soos relatiewe meriete en status na aanleiding van die vraagstuk of buitelandse beroepsmense voorrang bó die plaaslike moet geniet. Die instansies het egter besluit dat die onderskeie beroepsmense in die projek op ’n vyftig-vyftig-basis sal deelneem. Hoofspelers sal ná die verkenningstog gekies word. Op die hoogste vlak is besluit dat daar geen sterre sal wees nie en dat hierdie projek ’n produk sal wees van die regisseurs gerugsteun deur die welwillende, dissipli­nerende teen­woordigheid van die twee semi-staatsinstansies. Die beginsel is op een van die eerste konferensies aanvaar en dit is allerweë as ’n deurbraak op die gebied van internasionale samewerking beskou, mét be­houd van die inisiatief en integriteit van die enkele kunstenaar, hetsy akteur of regisseur, in die totale opset: ’n poging om, téén die agtergrond van ’n tragikomiese gebeurtenis van die ve­r­­lede, oor ons tyd deur middel van ’n moderne kommunikasie­medium te besin.

Terwyl die stoet Magersfontein nader, word in die twisgesprekke ook die reëls van Equity aangehaal.

Die héél laaste motor in die stoet is ’n rooi Volkswagen van die kewer-soort, en dit word self bestuur deur Oxford G. von Waltz­leben – ma Engels, pa Afrikaans. Hy is ’n produk van die Universi­teite van Stellenbosch en Cambridge en hy is besig met ’n tesis oor die ontwortelde Chinese in die Oos-Kaapse hawestede. Hy is in die duister hoekom hy onder meer as teksskrywer aangestel is. Toe hy die kontrak geteken het, het hy in paragraaf 24(c) gesien dat onder sy vele verpligtinge teksskryf genoem word. ’n Kort gedig van hom, min of meer in die styl van e.e. cummings, het eenkeer in Contrast verskyn. ’n Tydjie gelede, een aand in die Conrad Hilton Hotel, het hy aan ’n vrolike, middeljarige gas met getinte wit hare genoem dat hy Peter Brook en Fellini ontmoet het. Dit was in die privaatkroeg Saddle Bags, en hulle was besig om ’n cocktail genaamd Horsepower te drink.

Terwyl hy die kewer deur die droogte van die Noord-Kaap be­stuur en die oorbekende landskap en die hitte hom op die rand van vergetelheid bring, sien hy meteens hoe die twee Kombi’s voor hom heen en weer oor die pad swaai en weer ’n reguit koers bereik. Dit laat hom aan ’n strukturele skema vir ’n gedig dink, en dit klop met iets wat hy al lankal in gedagte het: die stryd tussen die romantiek en die klassisisme saamgevat in ’n neo-struktuur waarin die spel van die gebroke lyn en die reguit lyn ’n dieper geestelike inhoud kry – ’n gedig gebaseer op die kardiograaf wat die beweginge van die hart illustreer.

Die meisie langs hom se naam is Marigold Rosemary en dis moei­lik om te besluit of sy gedurig onder die invloed van drank of hasjisj is. Hy vind ’n gesprek met haar besonder swaar want haar bydrae is beperk, alhoewel insiggewend: Jesus Christ! Daar is by hom ook nie sekerheid omtrent haar plek in die projek nie – sy is óf sy sekretaresse, óf sy sal een van die kleiner rolletjies speel. Mis­kien beide.

Sy is ongeveer drie-en-twintig jaar oud, haar hare luier oor haar skouers en streel die tepeltjies van haar borste onder die deursigtige bloese, haar naeltjie is net bokant die kuitbroek blootgestel, en haar oë is soos ’n Jogi s’n blind in die verskiet gerig. Sy het gedurende die rit gedreig om selfmoord te pleeg en sy het dikwels soos ’n sterwende geroggel om haar toekomstige selfmoord realisties aan te dui.

Ons nader nou Magersfontein, sê hy.

Jesus Christus! sê sy.

Agter in die Volkswagen sit ’n wasbleek oogarts – ’n zombie, lig­sku en nagblind omdat hy gedurig in die donker moet werk. Hy is nooit aan die res van die geselskap voorgestel nie en hy het tot dus­ver gedurende die rit nog geen bydrae gelewer om sy teenwoor­dig­heid te verklaar nie. Trouens, Oxford G. von Waltzleben en Mari­gold Rosemary het skoon van hom vergeet.

Digby Magersfontein, sê hy meteens:

Ek is dr. Wittenblank, oogarts.

Die onverwagte stem veroorsaak amper ’n ongeluk. Oxford G. von Waltzleben is sigbaar ontsteld en hy het nie meer behoorlike be­heer oor die motor nie. Weens die direkte stuur het hy die Volks­wagen te vinnig na regs gepluk en buitekant die pad ’n miershoop misgeloop voordat hy weer die middel van die pad bereik het. Dit was juis hierdie laaste manewale wat Le Grange, die speed-cop, verskuil agter ’n advertensiebord ’n kilometer daarvandaan, vinnig in sy motor laat klim het terwyl hy die naderende stoet gefassineerd dophou.

Dr. Wittenblank, herhaal dr. Wittenblank.

Oxford G. von Waltzleben.

Jesus Christ! sê Marigold Rosemary.

Lord Sudden is bykans blind, sê dr. Wittenblank. Ek is sy persoonlike oogarts. Hy kyk bysiende by die venster uit. Hy sien steek­gras en mimosas wat saamsmelt tot ’n vaal landskap.

Só, dan is ons nou naby Magersfontein, sê hy, sak behaaglik agteroor, en vir ’n geruime tyd daarna het hy nie ’n enkele woord tot enige gesprek bygedra nie.

2

Le Grange, die speed-cop, skuil agter sy geliefkoosde wegkruipplek, ’n advertensiebord van sewe meter by sewe meter wat skaduwee en koelte teen die son bied en hom terselfdertyd in staat stel om die pad te bespied. Hy is in die nuwe uniform van die Kaaplandse verkeersdiens geklee en hy is onbewus daarvan dat dit ’n replika is van die lyfgewaad van die Nazi S.A. voor sy geboorte. Die wit valhelm met die koninginprotea as embleem was sy eie bydrae wat deur die uniformkommissie met ’n prystoekenning aanvaar is. Die nage­maak­te leerhandskoene wat tot by die elmboë reik, is egter sy be­sondere trots. Dit pas by die donker polaroid-sonbril wat hy dra. Toe hy voor die groot spieël in die sitkamer van sy huis geparadeer het sonder om te pronk, het Anna Adder, sy vrou en moeder van ’n drieling, gesê: Ek ken jou nie! En dit was die grootste kompliment wat sy hom kon gegee het. Hy het al dikwels gewens dat hy vir goed van hierdie leepoog-teler kan wegkom. Maar die juweel in sy skatkis is die twee wit handskoene wat tot by sy skouers strek – sorgvuldig opgevou in die paneelkassie van sy motor. Dit stel hom in staat om verkeerswagdiens tydens spitsure te doen. Dit gebeur selde op die platteland en slegs ten tyde van internasionale rugbywedstryde wan­neer blinkoog-boere soos besetenes na Kimberley se arena jaag en verkeersophopings en gevaarpunte op die mees onverwagte plekke puntdiens regverdig.

Dit was tot dusver ’n vaal dag vir Le Grange. Daar was weinig verkeer op die pad

Enjoying the preview?
Page 1 of 1