Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Weermagstories
Weermagstories
Weermagstories
Ebook256 pages2 hours

Weermagstories

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Ten spyte van die baie aandag wat dit op veral sosiale media kry, duur die letsels van die Grensoorlog voort. Baie wit Suid-Afrikaanse mans word steeds geaffekteer. As jy hulle vra om te vertel wat met hulle in dié oorlog gebeur het, bly hulle ontwykend.
In Roelf Schoeman se boek vertel hy die ware verhale van veterane. Hulle deel hul soms hoogs onstellende ervarings en die nagevolge daarvan openhartig. Sedert die stigting van die 61 gemaganiseerde bataljon groep in 1979 is’n poging aangewend om sulke mense te help en die skryf van hul stories is deel hiervan.
In Weermagstories ondersoek Schoeman die psigologiese impak van oorlogstrauma, en gee hy riglyne aan oudstryders sowel as hul gesinne oor hoe om finaal vrede te maak met die oorlog. Hy wys op die belangrikheid van veilige, ondersteunende geloofsgemeenskappe en bied verdere hulpbronne vir diegene wat beter toegerus wil wees.
’n Noodsaaklike en tydige boek.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJul 20, 2014
ISBN9780796315724
Weermagstories
Author

Roelf Schoeman

Roelf Schoeman is tydens die Grensoorlog in die Kaprivi en in Ovamboland ontplooi. Hierna gee hy onderwys en was verbonde aan Militêre Inligting. Hy verwerf in 2007 sy MA in teologie met sy navorsing oor die trauma en posttraumatiese stres wat soldate ervaar. Hy is tans betrokke by die Sentrum vir Kontekstuele Bedienings by die Teologiese Fakulteit van die UP.

Related to Weermagstories

Related ebooks

Related articles

Reviews for Weermagstories

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Weermagstories - Roelf Schoeman

    WEERMAG­STORIES

    Dienspligtiges verbreek die stilte

    Roelf Schoeman

    Lux Verbi

    Mense sê oor hierdie boek …

    Wat sê ’n mens as jy ’n boek soos Weermagstories van Roelf Schoeman lees … van soldaatwees en stemme roepende uit ons verlede, oud en jonk … van verstaan, daar wees vir mekaar, omgee en dankie sê?

    Ek het baie van die soldate oor wie hy skryf, geken. Ek weet van die ander en verstaan die omstandighede waarin hulle was. Die vraag is of ’n mens werklik die wisselgang van die lewe onder angsgevaar en seerkry verstaan?

    Ons seuns was krygers – hulle is dit nog steeds. Sal ons ooit weet wat hulle vir ons beteken het in die tye van nood, tydens die Grensoorlog? Hoe sê ons dankie?

    Vandag is die wapentoerusting iets anders as skietgoed. Dit is meer van wat ons liewe Vader van ons verwag: Van aanhou glo, van omgee en daar wees vir mekaar – al gaan ons deur ’n dal van doodskaduwee. Ons sal geen onheil vrees nie.

    Dit is wat ek verstaan Roelf Schoeman smag om vir ons te sê met die stemme van ons makkers wat seergekry het, asook die stemme van hulle geliefdes en vriende oor wie hy skryf. Wat is dus die essensie van soldaatskap, menswees en kameraadskap?

    Die antwoord lê in die Goddelike voorbeeld wat ons in Jesaja 30:18 vind, waar verwys word na die Vader se ongeëwenaarde, onbreekbare kameraadskap en nabyheid, en na sy behoefte om goed te doen aan die mens, liefde te betrag en genadig te wees.

    Generaal-majoor Roland de Vries (afgetree)

    Dubai, 12 April 2014

    Ek is ’n pa van twee seuns wat daar was. Een van hulle het in 1999 sy lewe geneem. Omdat hy nie ’n brief agtergelaat het nie, sal ek nooit weet watter rol ongedeelde trauma in sy dood gespeel het nie. Wat ek wel weet, is die woorde van sy vrou: Pa, hy slaap nooit. Die tweede seun is nog by my op aarde. Ook in sy lewe is daar steeds na 32 jaar elemente van ongedeelde trauma. Hulle was net te jonk vir ’n oorlog wat later as verkeerd getipeer is. Die oudste het net vir een kamp terug grens toe gegaan en toe gesê: Pa, hulle kan my maar opsluit, maar nie weer nie.

    Roelf Schoeman raak ’n hartseer aan wat nie net by hulle wat daar was, voortleef of voortspook nie, maar ook by baie mense naby hulle. Die boek is tydig en nodig. Dit plaas ons binne die spanningsveld tussen treur en rou. Wat dit erger maak is om te rou oor iets wat baie van ons voel ons eintlik lank terug reeds moes bely het – en ons seuns dit gespaar het. Nou, na baie water (ook trane) in die see geloop het, is ons dit ten minste aan hulle verskuldig om te help. Ons behoort veilige ruimtes vir hulle stories te skep. Roelf doen dit en gaan ons hierin voor.

    Vir my is die boek ook die antwoord op gebed. As een van die baie ouers van die duisende wat betrokke was, bid ek dat die boek by ons begrip sal bring en toerusting sal gee oor hoe om soortgelyke uitdagings beter te kan hanteer. Schoeman help ons op ’n wetenskaplike en verantwoordbare manier.

    Malan Nel

    Buitengewone professor

    Dept Praktiese Teologie

    Fakulteit Teologie

    Universiteit van Pretoria

    Met die lees van die boek het drie woorde by my opgekom:

    Broodnodig. 20 jaar na die koms van demokrasie is daar ’n baie spesifieke groep mense wat nog steeds worstel omdat hulle nooit die kans gehad het om hulle verhale vir die groter groep te vertel nie. Ek beleef trouens in my praktyk dat die stemme al hoe sterker word soos die vrae oor die koers van ons land al hoe dringender word.

    Eerlik. Die skrywer huiwer nie om sy eie soeke en worsteling met dié van ander te verweef nie en dit gee aan die boek ’n groot stuk deurleefde integriteit.

    Hoopvol. Daar is hoop, maar dit moet gehaal word. Daar is meer as genoeg praktiese wysheid oor die pad na herstel.

    Ek sien uit daarna om die boek vir mense te kan gee.

    Dr Johan Pienaar

    Bestuurs- en verhoudingskonsultant

    Pretoria

    Baie keer word ons optrede gekenmerk deur gedrag wat eintlik die vrug is van onverwerkte trauma in ons verlede. Een van die omgewings wat die teelaarde vir traumatiese ervarings is, is dié van oorlog. Roelf Schoeman, as oudweermagman, met sy ondervinding in die trauma-beradingswêreld en sy eie verwerking van trauma in die verlede, is ideaal geposisioneer om vir ons hierdie terapeutiese handleiding saam te stel.

    Die kern van alle terapie lê in die drievoudige krag van:

    Vergifnis – om vry te kom van jou verlede.

    Verantwoordelikheid – om te kies dat jou verlede nie jou hede sal bepaal nie.

    Vernuwing – Om jou nuwe identiteit in Christus te vind en nie in jou seer nie!

    Mag hierdie boek baie op hulle genesingspad help!

    Alan Platt

    Leier en stigter van Doxa Deo-gemeente

    Opgedra aan die dienspligveterane wat baie opgeoffer het en nie die erkenning en ondersteuning gekry het wat hulle verdien nie.

    VOORWOORD

    Waar is die dae toe ouers aan hulle kinders gesê het: Gaan speel! Moenie sit en tande tel nie!? Of nóg erger: Kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Dit was veral in die Afrikaner-kultuur die gebruik. Kinders en jongmense van daardie era is ook selde die geleentheid gegun om vrae te vra of verduidelikings te eis. Outoritêre figure het eenvoudig vereis dat daar gedoen moet word wat gesê word en basta met die res.

    Toe televisie Suid-Afrika in die laat jare sewentig tref, het die samelewing ’n aanpassing gemaak sodat beide oud en jonk nóg minder tyd vir lees of praat gehad het. Kinderprogramme, sepies en sport het elkeen hulle ondersteuners gehad, wat die samelewing verder ontneem het van die geleentheid vir lekker gesels en stories vertel.

    Die koms van selfone was ’n verdere terugslag vir tye van luilekker kuier om die kaggelvuur of om die kombuistafel. Op die koop toe het ook die sosiale media gekom en daar sit ons nou met ’n wêreld waar almal met almal praat, maar in baie kriptiese formaat.

    Gedurende hierdie tyd, in die jare tagtig, toe die dae van stories vertel stelselmatig stil-stil verdwyn het, vind die Grensoorlog plaas. Die ou gesegde van cowboys don’t cry is ’n wesenlike deel van hierdie tydperk. Daar is diegene wat nie daar was nie, wat stories verdig en gewillige luisteraars met vertellings vermaak of beïndruk. Ander weer, wás daar, maar praat nie. Hoe meer ’n mens hulle vra om te vertel wat met hom of haar in die Grensoorlog gebeur het, hoe meer ontwykend is die reaksie en die afmaak van die werklike gebeure.

    Dit is opmerklik hoe daar sedert 2008, sowat 20 tot 30 jaar ná die Grensoorlog, al hoe meer aandag aan die konflik van daardie tyd gegee word. Dit is asof koerantberigte, TV-programme, boeke oor die Grensoorlog en die sosiale media daarop gerig is om verroeste gedagtes los te maak. In 2013 was daar ’n artikel in die gedrukte media wat verwys het na ’n insident waar soldate erg gewond was. Daarin is melding gemaak van ’n dokter wat gehuil het terwyl hy die gewondes gehelp het. Die mediese dokter waaroor daar geskryf is, het ná meer as 30 jaar verontwaardig reageer toe hy die berig lees. Hy het sy destydse bevelvoerder geskakel, na die berig verwys en gevra: Wie sê ek het gehuil? Sy bevelvoerder, wat tydens die afvoer en behandeling deur die twee dokters teenwoordig was, kon getuig dat die dokters só gefokus was om die gewondes te red dat niemand gehuil het nie. Die opmerking het die dokter egter so ontstel dat hy die bevelvoerder gevra het om daaroor te skryf. Die bevelvoerder het die versoek omgekeer en die dokter gevra om die werklike gebeure op skrif te stel en aan hom te stuur. Dit het die dokter tot groot verligting van sy vrou gedoen, want hy wou voorheen glad nie oor die insidente op die grens praat nie. Dit was die eerste keer dat hy in soveel besonderhede daaroor gepraat het. Dit het hom gehelp om die detail van die gebeure te herroep en so het daar vir hom berusting gekom. Daar is talle voorbeelde wat toenemend van opgekropte emosies getuig.

    Hierdie onderdrukking van onaangename, hartseer en skokkende gebeure is by baie mense aanwesig. Die uitdaging is om los te kom van hierdie onderdrukking en mense by te staan om van die swaar las ontslae te raak.

    Ervarings wat mense in vuurgevegte deurgemaak het, waar makkers brutaal om hulle sneuwel, spook steeds by sommige soldate wat by die oorlog betrokke was. Familielede het ook nie altyd ’n goeie begrip van hierdie mense se werklike ervarings as daar nog nie ’n behoorlike oop gesprek oor wat werklik gebeur het, was nie.

    Die tradisionele gebruik om by die etenstafel te sit en met belangstelling na mekaar se stories te luister is nou belangriker as ooit. Daar is reeds bewyse van hoe die vertel van ’n mens se storie genesing en selfs versoening in gesinne gebring het. Die hoorder kry ook meer begrip van wat die verteller ervaar het en in watter konteks dit alles gebeur het.

    Elkeen van ons se storie is uniek, want mense beleef en interpreteer dieselfde insident verskillend – daarom behoort hierdie stories vertel te word. Wanneer daar weer en weer uitgevra word om meer te hoor van wat werklik gebeur het, verander die inhoud of die belewenis daarvan vir die verteller én die hoorder. Dit is met hierdie herhaaldelike belangstellende luister dat die konteks van dít wat gebeur het, beter verstaan word en selfs só verander dat die verteller by die werklike verhaal uitkom. Dan kom daar genesing.

    Menige soldaat of veteraan wat steeds met gebeure uit die verlede sukkel, moet die geleentheid gebruik om dit wat met hom of haar gebeur het, oor te vertel. Veral soldate wat in gevegte was, moet besef dat radikale deursigtigheid van die belewenis ontstaan deur daaroor te praat en dat juis dit tot volle genesing lei. Sedert die stigting van die 61 Gemeganiseerde Bataljongroep (voortaan 61 Meg) in 1979 en die 38 oorgrensoperasies waarby die eenheid betrokke was, is daar besef dat iets gedoen moet word. Daar is steeds veterane wat met skok, hartseer, pyn en trauma leef, maar wat dit ontken of wat die dinge wat pla, probeer vergeet sonder om iets daaraan te doen. Daar is besluit om veterane te nooi om hulle wedervarings op skrif te stel en dit op die 61 Meg-webblad te plaas.

    Die 61 Meg-veteranevereniging funksioneer in streke waar tien en meer veterane periodiek bymekaarkom en die geleentheid kry om hulle operasionele ondervindings en stories met mekaar te deel. Vir sommiges is hierdie byeenkomste van groot waarde en ’n bron van krag en inspirasie.

    Geen storie het net een kant nie. Dit is keer op keer bewys dat stories van die Grensoorlog, wanneer dit in ’n groep vertel word, uiteenlopende ervarings na vore bring wat sodoende die konteks verander. Stories wat in groepsverband vertel word, wys ook dat bepaalde herinnerings loskom en meer betekenis aan gebeure, en veral traumatiese ervarings, gee. Oor ’n periode van twee jaar is daar meer as 300 skriftelike bydraes gepubliseer. Roelf Schoeman, wat deel geword het van die ondersteuning aan veterane, het besluit om van hierdie stories in hierdie boek te plaas. Dit is nie moontlik om die positiewe reaksie hierop te kwantifiseer nie, alhoewel daar onomstootlike bewyse van spesifieke gevalle van genesing en aanvaarding is.

    Die boek deur Louis Bothma oor die besoek wat 61 Meg-veterane aan Angola gebring het, Anderkant Cuito, bevat verskeie voorbeelde van ontmoetings tussen partye wat voorheen teen mekaar geveg het en wat uiteindelik vryelik oor die oorlog met mekaar kon gesels. Dit het vir albei partye geweldig baie beteken in die proses van versoening en aanvaarding. Wanneer die dag aanbreek dat voormalige vyande in Suid-Afrika (statutêre en nie-statutêre magte) begin om hulle stories met mekaar te deel, sal dit ook die dag wees wat hierdie land van versoening en vereniging kan begin praat.

    signature.tif

    Generaal-majoor (afgetree) Johann Dippenaar

    ERKENNINGS

    Baie dankie aan almal wat my ondersteun het om hierdie boek ’n werklikheid te laat raak. Sonder julle bydrae sou hierdie stories nie vertel kon word nie.

    Dankie aan my ouers vir die ouerhuis waarin ek kon grootword. Pa Roelf, jy is vir my ’n voorbeeld wat ek nog al die jare kon nastreef. Dankie dat jy my lief gemaak het vir stories. Ma Nelie, dankie dat jy gesorg het dat ons ouerhuis altyd ’n veilige hawe is waarheen ons tydens die storms van die lewe kon onttrek waar ons weer krag kon kry om aan te gaan.

    Vir my vrou Elize, dankie vir al jou ondersteuning en bemoediging. Saam kon ons ’n tweede huwelik en hersaamgestelde gesin maak werk – ten spyte van al die uitdagings.

    My kinders, Hardus, Eksteen en Roelize, julle is kinders waarop enige pa trots sal wees en ek weet daar wag ’n wonderlike toekoms op julle.

    Aan proff Yolanda Dreyer en Julian Müller en dr Andre de la Porte by wie ek so baie oor narratiewe gesprekvoering en pastorale sorg kon leer. Julle het my ondersteun in die proses om ’n nuwe loopbaan te kon begin.

    Vir my kollegas by die Sentrum vir Kontekstuele Bediening – prof Malan Nel, dr Stephan de Beer en dr Hannes van der Walt – dankie vir die geleentheid en ondersteuning om ’n verskil in ons gebroke gemeenskap te kan maak.

    Vir al die militêre leiers onder wie ek as lid van die SAW en later die SANW kon dien, baie dankie vir die insette en leiding in soms moeilike en uitdagende omstandighede.

    Aan al die storievertellers wat bereid was om hulle stories met ons te deel. Ek vertrou dit sal vir die lesers net so ingrypend wees as wat dit vir my is.

    Aan die manne van die veteraneorganisasie van 61 Meg Infanterie Bataljon wat my by hulle skouerskuur-geleenthede betrek het. Veral genl Johann Dippenaar, genl Roland de Vries, Gert Minnaar en Ariel Hugo, dankie vir die inligting en julle ondersteuning met die skryf van die boek.

    Lux Verbi, in die besonder Veronica Scholtz, dankie vir julle geloof in die boek en ondersteuning om dit op die ou end die lig te laat sien. Sonder julle betrokkenheid sou die boek nie kon wees wat hy is nie.

    INLEIDING

    Die onderhoud met Anthony Feinstein oor sy boek, Kopwond: Vergete slagoffers van die Bosoorlog, op Radio Sonder Grense in 2011, het my baie opgewonde gemaak oor sy boek wat toe pas verskyn het. Hy was as dienspligtige ’n psigiater by die Mediese Afdeling van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en het dus baie met die sielkundige aspekte van die oorlog te doen gekry. Ek het die afgelope jare navorsing oor die sielkundige effek van oorlog gedoen en daarna uitgesien om sy boek te lees. Sy storie het my egter onkant betrap. Dit het soveel herinnerings en onverwerkte emosies in my losgemaak dat ek besef het dat ek, ter wille van myself en my gesin, myself moet onttrek en die boek so gou moontlik moes deurlees. Dit was die Vrydag en aan die einde van die naweek was ek klaar met die laaste hoofstuk. My gesin het my gemoedstoestand gesien en my alleen gelaat om deur my emosies te werk.

    Ek en Anthony het in dieselfde tydperk diensplig gedoen. Hy sluit sy boek af met ’n beskrywing van sy ervaring toe hy weer ’n ou weermagbasis waar hy die meeste van sy intense ervarings gehad het, gaan besoek het. Sy besoek het heeltemal anders verloop as wat hy verwag het, want hy het heelpad terug vanaf die Tsandi-basis gelag. Die vertel van sy storie het dus vir hom genesing en bevryding gebring. Ek was jaloers op Anthony, want ek het nog nie hierdie bevryding ervaar nie. Sy storie het my met herinnerings wat ek nog nie deurgewerk het nie, gekonfronteer, maar ook weer laat besef watter genesende krag die vertel van stories het. Dit het my aangemoedig om aan te hou om my storie op die regte manier oor te vertel en selfs hierdie boek te skryf en ander dienspligtiges aan te moedig om ook nie meer stil te bly nie. Anthony woon nie meer in

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1