Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Plaasmoord
Plaasmoord
Plaasmoord
Ebook626 pages9 hours

Plaasmoord

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

"Plaasmoorde het nooit juis vastrapplek gekry in die ylbevolkte Noord-Kaap nie – maar dan word die drie en dertigjarige opkomende skilder Freddie Swarts en haar aangenome dogter aaklig vermoor. Speurder-inspekteur Albertus Beeslaar, pas uit Johannesburg
LanguageAfrikaans
Release dateDec 6, 2012
ISBN9780798154871
Plaasmoord
Author

Karin Brynard

Karin Brynard is one of South Africa’s most successful crime writers. A former political and investigative journalist, she uses her research skills and eye for detail to fascinating effect in Weeping Waters. She has written two more novels in the prize-winning Inspector Albertus Beeslaar series and is working on a fourth.

Related to Plaasmoord

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Plaasmoord

Rating: 3.782608695652174 out of 5 stars
4/5

23 ratings2 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    3.5 rounded up to 4 stars.

    A slow burn with a very dramatic ending.
  • Rating: 5 out of 5 stars
    5/5
    There have been a number of farm killings in the area, over recent times, blamed on stock thieves. Two farm workers had been brutally murdered just a fortnight before, their bodies discovered underneath the carcasses of sheep.But this killing appeared to be different: a woman and a 4 year old girl, the bedroom chaotic as if someone had been searching for something.Inspector Beeslaar has failed to find any clues about the stock thieves so far and local whites are asking for the reinstatement of commandos and acting as vigilantes themselves, convinced that the intent is to drive them from their land.Huilwater Farm is isolated and the murders have been discovered by a neighbour calling in to pass the time of day.The threads of the story focus on land rights, inheritance, and racial undertones, as well as the pressures on Inspector Beeslaar to "perform".

Book preview

Plaasmoord - Karin Brynard

9780798154871.jpg

Titelblad

PLAASMOORD

KARIN BRYNARD

HUMAN & ROUSSEAU

Opdrag

Vir Rien

Hoofstuk 1

1

Die oproep het net na twee gekom.

Hy was by sy lessenaar in die polisiestasie, besig met sy middagete: vetkoek met mince. Afgesluk met soet, sterk, swart koffie.

Die ete was amper klaar toe die foon lui. Dit was een van die dienskonstabels in die aanklagkantoor. Koorsig.

Daar was ’n plaasmoord, het hy gehyg, twee dood. Vrou en ’n kind. Wit. Van die plaas Huilwater, sowat veertig kilometer uit die dorp uit op die grondpad Upington toe. En toe: Die inbeller is nog op die lyn, wil die inspekteur met hom praat?

Inspekteur Albertus Markus Beeslaar het die vetkoek eenkant toe geskuif.

Die man se stem was rukkerig en hees, hol, soos iemand sonder ’n tong. Te laat, het hy gesê. ’n Mal mens ... Waansinnig ... Duiwel.

Die stem het ent-ent weggeraak.

Soos diere. Hulle ... diere ... afgeslag. Albei ... Bloed. Op alles. Oral. Hy stáán daarin.

En toe huil die man. Hy het iets bly prewel van laat wees.

Dit het moeite gekos om sy naam uit hom te kry. Boet Pretorius, het hy uiteindelik geantwoord. Van die buurplaas.

Die kleintjie was maar vier jaar oud. Vier, net vier, het hy oor en oor gesê.

Waar’s die vrou se man, wou inspekteur Beeslaar weet. Hy moes ’n paar keer vra voor hy kon deurdring tot die man. Daar ís nie ’n fokken man nie, was die heftige antwoord. ’n Voorman, ja, maar dié is skoonveld.

Van waar af bel hy? Daar was ’n lang stilte, asof die man moes dink. Toe: Goeie God, man!

Gaan uit die huis uit, onmiddellik, het Beeslaar beveel. Wag buite. Ek kom dadelik.

Dit was drie ure gelede.

Drie ure waarin Beeslaar finaal teruggeruk is uit die belofte van ’n nuwe, rustige, plattelandse pos.

Hy het nog ’n oomblik gesit, toe haastig die vetkoek in sy snippermandjie gegooi, die dienskonstabel by die toonbank voor aangesê om ekstra hande uit te stuur Huilwater toe. Daarna het hy sy twee kollegas bymekaar geskraap en ’n kar gekry. Die klein wit Citi Golf. Enigste wat beskikbaar was uit ’n karpoel van twee. Sonder lugreëling en met ’n honderd en tagtig duisend kilo’s op die klok.

Hulle het ingebondel en die veertig kilometer grondpad aangepak.

Sersant Pyl moes agterin, sersant Ghaap voor in die passasiersitplek. Beeslaar self het met moeite sy groot lyf van byna twee meter agter die klein karretjie se stuur ingeprop. En onder sy asem geswets, soos elke keer as hy in die beknopte karretjie moet in: die stuur te laag oor sy knieë, die sitplek te klein, te min plek vir sy bene, sy kop wat teen die plafon stamp. Maak hom benoud en moerig. En vanmiddag was geen uitsondering nie. Hy was klaar in ’n bui, nog voor hulle die slegte grondpad geslaan het na die moordtoneel.

Maar dis nie soseer dít wat aan hom gekrap het nie. Eintlik meer die feit dat hy nog so watertrap in hierdie nuwe pos: ’n rasegte stadsjapie, ontuis in ’n wêreld van boere en beeste en plaaspaaie en sand en slange en hitte-sonder-aircon. En hy was skaars hier, salig onder die indruk dat hy ’n rustiger joppie op die platteland tegemoetgaan, of die kak spat in alle windrigtings.

Hy bevind hom midde-in ’n ongekende vlaag veediefstal. En óf hy is nie meer ’n speurder se gat nie, óf hy’t te doen met ’n supergesofistikeerde mafia, waarvan hy g’n spoor kan vind nie.

Die boere is natuurlik moedeloos. En moerig, want hulle ly helse skade. Almal soek resultate. En hy wat Beeslaar is sukkel om ’n koei van ’n kat te onderskei, wat nog te sê ’n spul uitgeslape veediewe aan te keer.

En toe, twee weke gelede, word twee skaapwagters wreedaardig vermoor. Hulle moes die veediewe betrap het, want hulle liggame is tussen die karkasse van ’n trop skape gelos. Sommige van die skape was keelaf gesny, ander net by die hakskeensenings deurgesny. Sodat hulle die goddelike nag blêrend lê en uitbloei het. Tot die boer hulle die volgende oggend ontdek en van kant kon maak.

En toe eers die twee werkers, die Jacobs-broers, se verminkte lyke onder die karkasse ontdek het. Flenters getrap en gemaal deur die berserkte diere.

En hy wat Albertus Markus Beeslaar is, sit soos ’n uil op ’n kluit. En almal kyk na hom, die nuwe man met die jare ondervinding. Uit die grootstad Johannesburg. Grootgemaak en geskool deur die allerbestes uit die ou Moord en Rooftak van die Polisie. Maar hy loop hier rond soos ’n verdwaalde drol. Weet nie waar om te vat of te los nie.

As hy dus al eerder die veediewe vasgevat het, het die Huilwatervrou en haar kind vandag nog gel–...

Hy mis rakelings ’n gat in die pad. Kophou, maan hy homself, hou op tob en fokus liewer op die pad, die slaggate so groot soos kakhuise.

Met een oor het hy probeer luister na sersant Pyl agter hom, die een met die oorbodige energie, wie se bek g’n sekonde stilstaan nie. Wat omtrent moes skree om homself hoorbaar te maak bo die geraas van skietende klippers teen die Golfie se onderstel. Hy’t lang stories gehad oor die enkel-boervrou van Huilwater, ’n eksentrieke kunstenares uit Johannesburg. Oor die Griekwa-dogter wat sy besig was om aan te neem. Die vreemde Boesman-voorman wat haar plaas bestuur. Pyl se stem is feitlik uitgedoof toe die kar oor ’n stuk sinkplaat ratel, sodat Beeslaar nie heeltyd die draad kon volg nie.

Dit was ’n halfuur van skommel, skud en kopstamp. Pyl het vasberade bly voortrammel vanuit die agterbanke. Ghaap, sy lang, maer lyf soos ’n stokinsek gevou op die sitplek langs hom, is genadiglik minder van ’n prater. Toe het hulle uiteindelik die uitdraai na Huilwater gekry en in ’n stofwolk by die plaashuis se agterdeur gestop.

Boet Pretorius het op die stoeptrappie by die huis se agterdeur gesit. Daar was bloed oor sy klere. Twee groot kolle op sy knieë, elmboë en voorarms. Tot in sy hare. Hy moes geval het daarin. Daar was kotsmerke op sy hemp en droë bloed op die hand wat ’n sigaret vasgehou het.

Om hom het ’n paar mans woordeloos rondgestaan: boere uit die omgewing wat god-weet-van-waar-oral opgedaag het. Wie’t hulle almal laat weet? het Beeslaar vlietend gewonder. Pretorius?

Een het nog in die kombuisdeur gestaan, sy gesig wasbleek. Het seker pas sy makabere nuuskierigheid bevredig, het Beeslaar grimmig gedink en op die groepie afgestap.

Beeslaar, het hy homself voorgestel, en dis sersante Pyl en Ghaap. Wie van julle was al binne-in die huis?

Sy antwoord was neergeslane gesigte, growwe hande wat vroetel met ’n hoed of ’n pistool op die heup.

Jissis, het hy ruweg onder sy asem gesê en verby hulle gestap. Die man in die agterdeur het haastig geepad. Daar’s niemand meer nie, het hy vir Beeslaar gesê, wat vir ’n oomblik nie mooi begryp het wat die man probeer sê nie.

Nie een van julle kom weer naby die huis nie, het Beeslaar geblaf. Hierdie is ’n moordtoneel, nie ’n fokken freak show nie! Hy’t sy moerigheid probeer sluk en toe weer probeer, meer besadigd: Sorg asseblief dat niemand hier vertrek voor ek nie met elkeen gepraat het nie! Reg? het hy uitgeroep en verergd gewag tot hy koppe sien knik. Toe draai hy om, die huis in. Oor sy skouer kry Pyl die opdrag om die agterdeur te beman – niemand buiten die forensiese ouens uit Upington word toegelaat nie. Ghaap moes solank verklarings begin afneem.

Binne-in die huis het inspekteur Beeslaar een van die meer grusame tonele van sy twintig jaar lange loopbaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanskou.

Hy’t eers die kind gesien. In die eerste slaapkamer. Op haar sy, in ’n wye kring bloed. Hy kon sien die bloed was taamlik vars – hoogstens ’n paar uur oud.

Die vrou se liggaam was in ’n tweede slaapkamer. Sy het plat op die grond gesit, haar rug regop teen ’n stoelpoot aangeleun. Haar arms gemaklik langs haar, hande wat sag op die vloer rus, palms ontspanne na bo. Soos ’n lappop wat op ’n kinderbed sitgemaak is. Maar sonder kop. Of liewer, van waar hy in die deur van die vertrek gestaan het, kon hy nie een sien nie. En hy wou nie nader gaan nie – hy sou wag vir die forensiese span. Nie dat daar veel van ’n moordtoneel oor was nie. Die twee kamers en gang was vol bloedspore soos die boere al daar in en uit was. Wat natuurlik Beeslaar se ergernis verder laat styg het.

Die forensiese span uit Upington blyk toe uiteindelik net een ou te wees. Sorrie ek’s so laat, het hy met die intrap gesê en homself voorgestel as Hans Deetlefs. Sonder my GPS het ek die plek nooit gekry nie! Hy’t heel ingenome gelyk met homself en sy GPS, met sy varswatergesig en groot bottelbodem-brilglase, twee ogies klein en ver en waterig blou agter hulle.

Hy was ’n kort mannetjie, maar kennelik sonder die sindroom. En het knap voorgekom. Klaar in sy plastiekoorpak en -skoene, tassie met die toorgoed van sy vak in sy linkerhand, ’n kamera om die nek. Welkom in die Wilde Noordweste, inspekteur, het hy gesê en sy ogies selfvoldaan geknip. Ek hoor jy’s al die pad van Johannesburg hier by ons! Beeslaar het iets teruggemompel, nie lus vir kakpraatjies nie.

Hans Deetlefs het ongestoord sy tassie uitgepak en stil en behendig begin werk, kort-kort iets vir Beeslaar uitgewys. Soos dat die vrou se kop tóg daar was. Haar nek was net só diep gesny dat dit heeltemal agteroor geknak het – in die holte van die stoel se sitplek in. Daarna het hulle saam-saam die chaos in die vrou se slaapkamer deurgekyk. Die klerekas se laaie was uitgetrek en op die vloer omgekeer, die matras halfmas van die bed afgeruk, asof iemand in groot haas na iets gesoek het. ’n Boekrak agter die deur na die gang was omgekeer, baie van die boeke in bloedspatsels bedek. Dit moes dus vóór die moord gebeur het.

Sy moes sit en toekyk het, het Hans opgewek verklaar – asof hy pas ’n paaseier ontdek het. Wed jou ’n honderd rand sy’s Roofies ingeja voor sy vermoor is. Hy’t met sy klein ronde ogies knipperend na Beeslaar opgekyk. Weer die onaardse glimlag – maar dan besef Beeslaar dis nie ’n glimlag nie, dis bloot die man se manier om sy swaar brilglase bo te hou deur sy wange te bol.

Nie ’n dobbelman nie, het Beeslaar iesegrimmig terug laat weet.

Die bloed was oral: mure, vloer, bed. Die vrou se lang, ligblou somersrok was swart gekleur daarvan.

Ook buite op die voorstoep was daar groot plasse bloed, waar drie groot honde en ’n keffertjie afgeslag gelê het.

Deetlefs was ook glad nie veel gepla oor die gefokte toestand van die moordtoneel nie. Shit happens, het hy met ’n irriterende gryns gesê en sy oë weer ’n paar maal geknip. Sy woorde was nie koud nie, toe beland daar amper nóg ekskresie op die vloer: sersant Ghaap wat sonder skoenbedekking en met ’n brandende sigaret in die hand in die kamerdeur verskyn.

Inspekteur, die mense buite vra of jy kan opsk–... e ... hoe lank dit nog gaan vat. Hulle wil ry.

Beeslaar het tot tien begin tel, nie eens by drie uitgekom nie. Fok weg hier met daai sigaret! En dan gaan sê jy vir die klomp daar buite: enigeen wat vanaand in die dorpselle wil slaap, moet dit waag om te ry!

Toe Beeslaar uiteindelik tevrede was dat hy alles gesien het, het hy Deetlefs gelos om alleen aan te gaan. Kon hy uitgaan vir vars lug. En om Pretorius se storie te gaan aanhoor.

Maar nie voor daar amper nóg bloed gevloei het nie.

Die plaasvoorman het sy opwagting op die werf gemaak. En voor Beeslaar kon keer, het ’n groepie jonger boere die man met geweld uit sy bakkie gepluk en op die grond gesmyt, gereed om hom te donner. En te skiet agterna. Ghaap, Pyl en ’n paar platpette uit die aanklagkantoor moes die spul opbreek.

Adam de Kok, blyk sy naam toe te wees. Hy was heeldag op die dorp – saam met die plaas se huishoudster – vir die week se inkopies en aankope by die landboukoöperasie. Beeslaar het eenkant met hulle gaan praat, op die agterstoep van die voorman se huis, ’n ent van die plaashuis af. Maar hulle wis van niks – die ou tante heeltemal buite haarself van skok en angs.

Na hy met hulle klaar was, het Beeslaar sommer net daar op die voorman se agterstoep bly sit vir die res van die ondervragings. Beginnende by Boet Pretorius.

Ek wou gewoon ... inloer, het hy verklaar. Was vanoggend gou in dorp toe. En op pad terug ... Hy is net na eenuur uit die dorp weg. Ek boer langsaan, Karrikamma, het hy gesê. En nee, hy het geen ongewone of vreemde voertuig op pad of hier opgemerk nie.

Ek ... wou net groet, die huis sit dan so teenaan die pad, mens kan vinnig in en uit wees.

Sewe-uur. Deetlefs het pas die groen lig gegee dat die liggame weggeneem kan word. Die ambulansman, ’n ongewaste vent met ’n wynasem, sukkel om hulle ingelaai te kry. Die naaste patoloog wat voorkeur kan gee, is op Postmasburg.

Die plaaswerf het skielik stil geword. Die boere weg, die eenmanspan uit Upington weg. Ghaap en Pyl saam met die platpette terug stasie toe.

Dis nog net Beeslaar. Hy sit op die trap van die plaashuis se agterstoep. Dieselfde plek waar hy vroeër die middag vir Boet Pretorius aangetref het. Sit en kyk oor die werf uit, die twee reuse bloekoms wat skaduwee by die agterdeur gee. Die laning kareebome wat die voorman se huis van die hoofhuis skei. ’n Groot plaasdam van sink na die voorkant van die huis, ’n windpomp langsaan, wat klaend aan sy remme trek.

Dis besig om skemer te raak. Die ondergaande son brand rooi in die fyn stof wat nog oor die snuifgetrapte werf opstaan.

Beeslaar voel mislik. Nié van die bloedorgie wat hy vanmiddag hier aanskou het nie. Dis die water. Hy’s al twee maande in hierdie godverlate wêreld, maar hy kan steeds nie vat kry aan die brak water wat badseep laat skif en ’n kalkrand in ’n glas los nie. Sy liggaam roep na die goor swembadsmaak van Johannesburg se water.

Hy probeer om nie aan Johannesburg te dink nie. Dit was ’n ander lewe. Nou is hy hier. Op hierdie plaas, in hierdie hitte. En hy sweet soos ’n fokken otter. En bly dors.

Maar hy weet ook, die dors is nou, soos hy hier sit, die allerminste van sy probleme.

Hoofstuk 2

2

Saar Swarts soek ’n koelteboom voor Driedoringstraat nommer drie. Dis die huis van tannie Yvonne Lambrechts, haar moeder se eertydse vriendin en een van die min mense in die kontrei wat sy nog ken.

Die einste tannie Yvonne wat haar gistermiddag in die Kaap gebel het met die nuus van Freddie. En die kind.

My ou hartjie, jy moet nou sterk wees. Tannie het bitter slegte nuus.

Dit was soos ’n donderslag. Freddie ... op só ’n manier. En ’n kind. Die een wat sy glo wou aanneem. Van wie sy ’n foto’tjie aangestuur het. Saar het destyds skaars na die foto gekyk, was nog nie oor haar ding met Freddie nie ... Here.

Saar skakel die karenjin af en klim uit. Sy’s suf gedink. Die hele nag deur, kilometer op kilometer van meedoënlose pad – al uit die Kaap uit hiernatoe. Dink. En selfverwyt. Al langs die Weskus op tot by Vanrhynsdorp, toe oos en noord. En die heelpad met Freddie in haar kop. En die ding met Freddie, daai laaste bitter woorde ...

Oor die platorand, deur Hantam toe. Daarna die groot, plat Boesmanland. Twee, drie uur se ry tussen die slapende dorpies. Die pad reguit soos ’n liniaal, ’n grou tonnel in die donker. Hier en daar die vuurrooi kolle van ’n dier se oë, of iets wat grys en blindelings oor die pad skarrel. Muskeljaatkat. Muishond, ’n bok. G’n ander sterfling te sien nie. Net die swart nag en die twee kolle lig van haar Corsa’tjie in die meedoënlose swart teerpad. Tot sy vanoggend met sonsopkoms die eerste kokerbome begin gewaar het, soos swart figure in ’n wilde dans afgeëts teen die eerste lig. En toe die rooi duine tussen die haakbos- en grasveld, die kameeldorings met hul kenmerkende sambreelvorms. Sy het skielik weer gevoel of sy tóé eers grondvat – hier in hierdie bekende wêreld, asof die nag ’n aaklige droom was waarin sy in ’n donker doolhof op soek was na ... wat ook al.

Haar klop aan tannie Yvonne se voordeur word begroet met ’n histeriese gekef en voor die deur nog behoorlik oop is, storm drie klein wit wolhondjies oor haar voete en spring teen haar kaal bene op.

Tannie Yvonne vou Saar woordeloos in haar arms toe. Sy’s nog in haar slaapklere, ruik na poeier en slaap. Saar staar met droë oë oor haar skouer na die vaag-bekende gang en voorkamer.

Kom in, sê die tannie, dan maak ek vir ons tee.

Ek moet seker eers polisie toe gaan, keer Saar.

Maar die vrou vat haar ferm aan die arm en lei haar deur die huis na die agterstoep. Dis nog koel hier. Rek jy solank jou bene, dan bring ek die tee. Dis klaar gemaak. En jy moet iets inkry voor jy hierdie dag begin.

Saar kyk teësinnig om haar rond. Na die sementstoep met sy sink-oordakkie, die potplante wat die ruimte verswelg, die afgeleefde rottangstoele met hul slap kussings. Sy voel angstig, asof ’n geteedrinkery nou tydmors is. Maar dalk is dit beter dat sy eers bykom voor sy polisie toe gaan. Dalk moet sy eers bad, iets vars aantrek. Haar hare kam.

Sy kyk af na haar kaal bene en voete. Sy dra nog die kort minirompie van denim waarmee sy gister werk toe is, haar plakkies moet nog in die kar lê. Haar T-hemp het ’n koffiekol op die bors. Sy lek ’n vinger nat en vryf daaroor, sonder veel energie. Dan haal sy die rekkie uit haar hare, laat val haar kop vooroor en vat die hare weer in ’n bondel en bind dit in ’n poniestert vas.

’n Halfuur later stap sy by die voordeur uit polisiestasie toe. Dis naby genoeg vir stap. Die dorp is bitter klein – een lang hoofstraat, geteer, en ’n paar stowwerige dwarsstrate wat hom kruis. Die polisiestasie is in die hoofstraat, ’n halwe blok met die hoofstraat af uit Driedoringstraat.

Saar stap met stywe, haastige treë, bewus van die hitte wat klaar oor die teerpad hang. En dis nog vroegoggend. Net na agt, toe sy laas gekyk het. Op die trappies voor die stasie gaan sy ’n oomblik staan, stryk met klam palms oor die kreukels van haar romp. Dan haal sy diep asem, skuif die sonbril op haar kop om die los hare uit haar gesig te hou en gaan binne.

My naam is Saar Swarts, sê sy vir die vrouekonstabel agter die toonbank. Ek is hier oor die ... e ... dood van my suster. Swarts. Frederika. Sy is gister ...

Saar sluk ongemaklik, sien die lig van ontsetting en medelye wat skielik in die gesette polisievrou se oë opgaan. Op die naamplaatjie op haar bors staan Kgomotse.

Hai! sê die vrou met ’n besorgde tongklap, wag net, juffrou. Ek roep gou iemand. Sy steek ’n hand uit en vou dit sag oor Saar se arm op die toonbank – asof sy bang is Saar se moed begewe haar. Met die ander hand lig sy ’n foon en sê iets in Tswana.

’n Oomblik later verskyn ’n rietskraal jong man in ’n deur regs van die aanklagtoonbank. Gaan saam met hom, juffrou, sê konstabel Kgomotse met ’n sagte stem, hy gaan jou na die inspekteur toe vat.

Die dun mannetjie stap haastig voor Saar uit tot by ’n oop kantoordeur. Juffrou Swarts is hier, sê hy gedemp in die kantoor in en draai dan om na Saar en beduie vir haar sy kan maar ingaan.

Saar verskuif die skouerband van haar groot handsak, haal die donkerbril van haar kop af en stap in. Dis ’n groot vertrek met staalkabinette langs een muur af en vensters na die warm hoofstraat langs die ander. Sy stap af op ’n reus van ’n man wat sukkel om betyds uit sy stoel uit op te staan om haar te groet.

Beeslaar, mompel hy verleë en bly half gebukkend in sy stoel staan, sy een hand wat ’n rooi das terughou, tot Saar op die stoel oorkant sy lessenaar gaan sit het.

Dankie, sersant Pyl, sê hy vir die jong man wat Saar by die aanklagtoonbank kom haal het. Die sersant se nuuskierige blik huiwer nog ’n oomblik op haar voor hy by die deur uit verdwyn.

Ek waardeer dit dat u ingekom het, sê die inspekteur effe kortasem. Ek wás eintlik op pad na mevrou Lambrechts. Iemand het my laat weet u is hier. Klein dorpies ... beduie hy met ’n glimlag.

Saar knik.

Kan ek vir u koffie aanbied? Hy wys met ’n groot hand na die skinkbord, eenkant op sy lessenaar, waarop twee koppies en ’n termosfles op ’n gehekelde lappie gereed staan. Plus ’n geblomde piering met gemmerkoekies. Saar skud eers haar kop, maar bedink haar dan.

Asseblief, sê sy sag.

Die polisieman lig homself dié keer met groter sukses uit sy stoel en draai met stywe vingers die fles se rooi dop af. Hy skink die sterk, swart vloeistof met ’n hand wat liggies bewe. Hoeveel melk en suiker? wil hy weet. Sy het twee gevra, maar hy gooi drie lepels suiker in, roer dit stadig en sit dan die koppie voor haar neer. Die pierinkie met koekies sit hy langs haar koppie neer, neem versigtig twee vir homself.

Hy’s nog langer as wat sy aanvanklik gedink het, besef sy voor hy weer agter die lessenaar inskuif. ’n Eertydse rugbyslot dalk, wat homself laat gaan het namate hy die veertig-merk nader. Die swart hare begin terugtrek van sy voorkop en gooi sout en peper rondom die slape. Hy’t een van daardie gesigte wat permanent na donderweer lyk. Ligte gesigvel, ingekleur met swaar, dramatiese lyne: groot, reguit neus, swaar, swart wenkbroue met ’n permanente diep fronskeep tussenin. Sy mond is wyd, maar sagter, met diep kuile op die bolip en onder die ken. Hoekige, sterk kakebeen.

Hy maak keel skoon en roer sy eie koppie koffie, kyk ’n oomblik van onder die swart wenkbroue opsommend na haar.

My opregte simpatie, begin hy die gesprek. Voel u ... e ... in staat ...? U moes deur die nag gery het?

Saar knik. Ek kon nie op so kort kennisgewing ’n vlug uit die Kaap uit Upington toe kry nie. Sy leun effe vorentoe in haar stoel, kan die man nie duidelik hoor nie. Dit klink of hy binnensmonds praat, soos een wat nie graag praat nie. So nie is dit haar ore wat nog toegeslaan is van die byna 900 kilometer-rit, die geraas van die grondpad tydens die laaste paar honderd.

Daar is ’n paar formaliteite wat ek graag eers wil afhandel, sê hy en trek ’n bruin dossier nader. Saar knik en neem ’n groot mondvol koffie. Dis onverwags warm. Sy sluk vinnig en voel hoe dit in haar slukderm afbrand.

U’t al die pad alleen gery? Meer stelling as vraag. Hy wag ook nie vir ’n antwoord nie, maar verseker haar dat hy bondig sal wees.

U is die enigste familielid van die oorledene? Sy stem is nou effe harder, asof hy meer tuis voel noudat die beleefdheidsgedeelte van die gesprek afgehandel is. Hy begin skryf.

Sy was my suster.

Haar volle naam?

Frederika Cornelia Swarts.

Hy knik sonder om op te kyk en skryf die naam met ’n skewe gekrabbel uit.

Freddie vir kort, voeg Saar ongenooid by en die polisieman kyk vir ’n oomblik op.

Haar geboortedatum, plek van geboorte ...

Huilwater, die plaas waar ... waar dit gebeur het. Ons is albei op die plaas gebore ...

Jaar?

E ... 1976. Sy was drie en dertig. Pas geword, onthou Saar met ’n skok. Sy’t Freddie nie eens gebel nie. Goeie Here. As sy opkyk, sien sy Beeslaar loer onder sy wenkbroue deur na haar. Daar’s ’n sagter trek in sy oë.

U voel nog reg om aan te gaan ...

Saar knip haar oë vir ja, raak bewus van haar een knie wat senuweeagtig spring en kruis haar bene.

Die plaas. Huilwater ... Hy staar na die vorm voor hom. Was dit u suster se eiendom?

Familieplaas. Sy het op die grond aangebly nadat my pa dood is.

Wanneer was dit?

Omtrent so agtien maande gelede.

U moeder?

Oorlede. Ongeveer twintig jaar gelede ... 1989, daar rond. Sy vee oor haar oë, verleë oor sy skielik nie die juiste datum kan onthou nie. Maar Freddie ... Sy sluk. Freddie kom eintlik van Johannesburg af. Sy’t daar gewerk as ’n kunsonderwyseres. En eers onlangs, kort voor my pa siek geword het. En toe hy siek word ...

Haar keel trek toe. Dis waar die moeilikheid tussen haar en Freddie begin het.

Beeslaar maak ’n aantekening op die papier voor hom. Wanneer hy klaar is, vra hy: So daar’s nie ander familie nie?

Nee. Of daar is seker wel. My pa het ’n broer gehad, maar hy is lankal dood.

U volle name. Geboortedatum?

Johanna Susara. Dis 9 Mei 1978. Sy gee die adres van haar woonstel in die Kaapse Kom. En haar werkadres.

Beeslaar kyk vlugtig op na haar. U werk by ’n koerant? Joernalis?

Sy knik en sien sy frons. Ek doen omgewingsake.

Hy sit sy pen neer, tel die koppie koffie op en kyk oor die rand na haar.

Die kind, u suster se kind, Klara Boois. Ek verneem sy was in die proses om die dogtertjie aan te neem ...

Ek weet eintlik min van haar, sê Saar vinnig en verskuif haar bene. Ek bedoel ... Sy staar na die lessenaar voor haar. Hoe sê mens dit sonder om soos ’n doos te klink?

Die polisieman neem nog ’n sluk van sy koffie. Wanneer sy niks sê nie, tel hy sy twee gemmerkoekies fyntjies tussen duim en voorvinger op, doop hulle in die koffie en steek dit haastig met een groot hap in sy mond.

Wat ek bedoel, is dat ek en Freddie nie juis die laaste tyd veel ... veel kontak gehad het nie.

Sy wenkbroue lig terwyl hy die koekies ’n kou gee en dan afsluk. Sy sien die belangstelling in sy olyfgroen oë opflikker.

Ek bedoel, dat ons ... Sy sug en kyk af na haar hande, maar vind geen antwoord daar nie. Die naels se rooi lak is afgeknaag.

Wat ek bedoel, is dat ek en my suster twee jaar gelede ’n soort van uitval gehad het en ek ... e ... ons het nie weer kontak gehad ... daarna nie. Sy kan haarself hoor sluk. Dit klink belaglik, haar woede van destyds ... Maar dit was tog anders, toe. Geregverdig. ’n Groot issue. Nou lyk dit skielik so pateties. Kinderagtig, eintlik.

Wanneer sy opkyk, sien sy dat Beeslaar stip na haar kyk. Die blik in sy oë onpeilbaar.

Inspekteur, wie het dit gedoen? vra sy dan. Het julle al iemand gevang?

Hy takseer haar ’n oomblik langer, sy tong wat verlore koekiereste langs sy kieste soek. Dis nog baie vroeg. Hy trek aan sy hempskraag, asof dit hom knel. Die rooi das lyk of dit permanent skeef sit. Wat ons wél weet, is dat ons in hierdie stadium kyk na ’n roof wat ... op die oog af skeefgeloop het, as ek dit nou so mag stel.

Plaasmoord, sê Saar en raak eers bewus daarvan dat sy die woord gesê het wanneer sy die groot polisieman se frons sien.

E ... ja. Ons verwys eintlik nie meer só daarna nie. Sy stem is diep maar melodieus, asof dit uit die onderste perkussie van sy reuse borskas geproduseer word. Wat ek bedoel, is, hy skraap sy keel, dit bly ’n verskriklike misdaad. Ek wil nie vir een oomblik te kenne gee dat dit nié is nie. Maar dit verskil nie van ander geweldsmisdaad nie. Dit ...

Saar se ore sny uit. Sy sien vir Freddie nog in haar truspieëltjie, daardie laaste dag toe sy van Huilwater weg is. Sy het Saar pleitend bly volg, namate Saar haar koffers woedend gepak en in die kar gelaai het. Het nog ’n ruk by die motorvenster bly staan, haar hande op die vensterraam, asof sy fisiek wou keer dat Saar wegry, het bly verduidelik hoekom dit vir Pa beter is om op die plaas te kom sterf. Saar wat terugskree: Maar Pa hóéf nie dood te gaan nie! Freddie wat haar kop skud, trane wat van haar ken drup tot op haar rok. Blý, Sarrie, bly by ons. Vir Pa se laaste ... Saar wat die kar in rat sit en verwoed wegtrek. Freddie agterna. By die hek wat by die grootpad aansluit bly staan, ’n smal figuurtjie, kwalik sigbaar in Saar se truspieëltjie. Die lang, los rok van blou sy, goue krulle wat gewigloos in die stof opwaai.

Die polisieman het opgehou praat, besef sy skielik. Wat presies hét gebeur, inspekteur? vra sy om sy skerp, effe ondersoekende blik op haar te breek.

Sy wenkbroue ontspan. Hy vertel, effense huiwering in sy stem. Saar vermoed hy vertel net bolangs. Nogtans kan sy nie help om te dink aan ’n boosaard by Freddie, alleen op die plaas, nie. ’n Monster wat bruusk eis dat sy geld of vuurwapens produseer ... Freddie met haar tingerige liggaam, haar dun armpies en onhandige klein handjies. Saar was altyd die sterk een. Wild, bloots perdgery, nie geskroom om ’n seun met die vuiste by te dam nie. Freddie was soos ’n droë disteltjie. Dink u my suster het gely?

Hy trek sy rooi das ’n bietjie losser.

Ons vermoed sy was moontlik swaar bedwelmd voor sy vermoor is.

Bedwelmd!

Daar was geen teken van ’n struweling nie, juffrou Swarts. Geen aanduiding dat sy probeer het om haarself te verdedig of teë te sit nie. Sy was nie vasgebind of enigiets nie. Ons vermoed in hierdie stadium sy het die aanvaller of aanvallers geken en self binnegelaat. Dalk het sy onwetend – sy en die kind – ’n dwelm ingekry wat dit vir hulle onmoontlik gemaak het om terug te baklei.

Maar sy is ... Hoe ... Wat presies is dit dan wat haar dood veroorsaak het?

Die nekwond. Die nadoodse ondersoek is nog nie klaar nie. Ons werk natuurlik so vinnig as wat ons kan, maar ... e ... in hierdie stadium is ons oortuig dat dít die ding is wat die dood veroorsaak het. By haar en die dogtertjie, die nekslagare wat met ’n skerp voorwerp deurgesny is. Hy kyk vir ’n oomblik weer af na die dossier, frons diep. Weet u of daar iemand of persone was wat ’n rede kon hê om haar dood te wil hê?

Saar weet sy kyk skaapagtig na hom. Dan skud sy haar kop. Ek dag dan ... Tannie Yvonne sê dis die veediewe. Sy sê ...

Die wenkbroue sak. Tja, dit wil voorkom of u suster dalk ’n slagoffer van hulle kon wees. U weet dus seker dat ons die afgelope paar maande ’n vlaag van regtig grootskeepse skaap- en beesdiefstalle gehad het. En ek praat van groot skaal. Mense wat baie gesofistikeerd te werk gaan, soos ’n georganiseerde sindikaat, met ’n baie goeie inligtingsnetwerk. Wat presies weet waar en hoe om toe te slaan. En dis genadelose mense, lyk dit. Uitgeslape. Twee weke gelede het hulle twee mense van Vaalputs om die lewe gebring, so ...

U bedoel hulle is óók keelaf gesny, hoor Saar haarself sê. Dit voel so onwerklik, sy wil amper lag kry. Maar hier sit sy, sy wat Saar Swarts is. Met ’n knie wat al weer begin pomp het, soos ’n opwenspeelding met ’n eie wil. En sy praat oor Freddie. Sagte, dromerige Freddie, met haar stil, skerp humorsin, die verrassende sinisme en argwaan vir konvensies en tierlantyntjies. Freddie!

Maar hoekom Freddie, inspekteur? Wat het sý aan hulle gedoen? Die Here weet, sy ... Ek weet nie eens of daar nog enigiets oor was om mee te boer nie. Dis ... Daar’s nie meer veel oor op Huilwater nie. Altans, nie sover ek weet nie. My pa het al begin uitdun aan die vee voor hy dood is.

Die polisieman knik en trek sy skouers agteroor, asof hy sy groot spiere wil losmaak voor hy praat. Ons meen maar dat dit ’n roof was. Onthou, die huis sit teenaan die grootpad Upington toe. Die hek staan aldag oop. Dis ’n maklike teiken. En daardie soort mense is maar opportuniste. Maar ek wil my ook nie vaskyk teen die veediewe nie. Dis net dat hierdie omgewing voorheen nog selde ’n plaasaanval gehad het. Selfs veediefstal was skaars – veral op dié skaal. So dis logies dat ’n mens die twee sal verbind. Maar dit wil nie sê ons skakel ander moontlikhede uit nie. Dus moet ek ook uitvind of daar dalk ander is van wie u bewus is wat enigiets teen u suster kon gehad het.

Saar vee die hare uit haar oë, probeer om die prentjie van Freddie in daai lang, blou rok uit haar gedagtes te kry. Sy voel skielik moeg, te moeg om te praat. Dis maar soos ek gesê het, inspekteur. Ons het die afgelope ... byna twee jaar nie met mekaar gepraat nie. Maar ek kan my nie indink nie ... Freddie is, wás regtig nie die tipe mens wat vyande gemaak het nie.

Die werkers op die plaas. Ek veronderstel u het van hulle geken? Die voorman? Die ouer vrou wat in die huis gewerk het?

Outanna! Hemel, sy het skoon vergeet ... Is sy oukei? Ek bedoel, sy het nie ook iets oorgekom nie?

Die polisieman skud sy kop beslis.

Sy het my en Freddie ... Die woorde droog weg en haar keel raak skielik dik en pynlik. Sy byt op haar tande. Sy’t alles gedoen. Ons grootgemaak. My ma was nie gesond nie.

En die voorman? De Kok?

Saar skud haar kop. Ek weet nie van so iemand nie. Hy moes later ...

U vermoed u suster het hom aangestel, moontlik na u vader se dood?

My pa het gepraat van verkoop, destyds. Ek dink aan ’n buurman, of iemand.

Pretorius? Boet Pretorius?

Sy haal haar skouers op. Hy’t nooit sover gekom nie, die kanker was te gou. En nou ja. Ek weet nie wat gebeur het na hy dood is nie.

Die werkers?

Sover ek kan onthou, was daar twee gesinne, maar dis soos ek gesê het ... Verdink u dan enigeen van húlle? Of die voorman?

Die groot man oorkant haar trek weer ongemaklik aan sy hempsboordjie. Dan haal hy ’n sakdoek te voorskyn en vee die sweet van sy voorkop en slape af. Dit lyk of hy al hoe warmer kry. Maar Saar voel eienaardig koud.

"Ons het nog nie verdagtes nie, juffrou Swarts. Maar in hierdie stadium wil dit voorkom of die aanvallers geweet het Woensdae is klein Saterdag op die plaas – met die werkers wat die middag afvat, die bediendes ook, en die voorman en die huishoudster dorp toe vir besigheid. U suster en haar dogter was dus waarskynlik altyd Woensdae alleen tuis.

Dit kan wees dat die aanvallers die huis vir ’n geruime tyd dopgehou het. Met die huis so teenaan die pad ...

Is Freddie gemolesteer, inspekteur?

Nee, juffrou Swarts. Nee, sy is nie. Maar dit wil vir ons lyk of die dader ... of daders ...

Sê maar reguit, inspekteur. Dis vir my beter so.

Hy trek weer aan die hempskraag, kyk vir ’n oomblik by die venster uit na die hitte wat buite op die teerpad brand, dan terug na haar: Dit lyk of hulle ’n boodskap wou los. Die manier waarop hulle haar gelaat het. Haar liggaam is teen ’n kombuisstoel gelos. In haar slaapkamer. In ’n sittende posisie. En haar hare is afgesny. Tot kort teen haar kopvel.

Hy bly ’n oomblik stil en hou haar dop, amper of hy wil kyk of sy regtig so sterk is soos sy sê. Niks maak sin as dit by hierdie soort aanval kom nie. Maar ek verseker u, ons werk voluit daaraan. Daar is baie mense wat toegang gehad het tot die plaas. En u suster het in ’n stadium verskeie kinders onder haar sorg gehad.

Liewe Here, daarvan weet ek niks. Hoe bedoel u dan, kinders ... Saar voel vir die soveelste keer asof sy in ’n vreemde nagmerrie ingestap het. Freddie, met ’n aangenome kind. Sy was glo vier. Klara. En ’n plaasvoorman ... en die vreemde kinders ... dis ’n Freddie wat sy nie ken nie. Geken het nie.

Volgens my inligting, sê Beeslaar, was dit ’n klompie jeugdiges wat sy glo so nou en dan in tydelike pleegsorg geneem het. Meestal uit die arbeidersgemeenskappe van die omgewing. Hy wag vir reaksie, gaan dan verder. U het natuurlik nie ... Hy steek vas en maak ongemaklik keel skoon. Die sakdoek kom uit, mop sweet.

Jammer, sê hy floutjies. Die hitte ... Ek is nie van hierdie wêreld nie, probeer nog gewoond ...

Wie sou so ’n vreeslike woede teen Freddie kon hê, inspekteur?

Dis wat ons gaan uitvind, juffrou Swarts.

Kan ek vir Freddie sien?

Ja, natuurlik. Die nadoodse ondersoek moet nog finaal afgehandel word, hopelik voor môre. Maar u sal Postmasburg toe moet ry. Ons moes haar soontoe neem. Dit was die naaste beskikbare distriksgeneeshere ...

Ek sal ry, sê sy en kom orent. Ek moet haar sien.

Hoofstuk 3

3

Beeslaar het pas vir Saar Swarts afgesien toe dit hom gryp.

Hy het dit voel aankom, tydens hul gesprek al, maar dit toegeskryf aan die hitte: hierdie wilde hartklop, die benoudheid, die sweet.

Hy het haar haastig gegroet en so te sê teruggevlug na sy kantoor. Hy moes asem kry, sy kop bymekaar hou. Hy het sedert Johannesburg geen paniekaanvalle gekry nie. Soos ’n poephol gedink dis verby. En nou hierdie moordsaak.

Die kind – elke keer as daar ’n kind betrokke is.

Sy hande bewe opmerklik as hy na hulle kyk. En net onder sy ribbes roer ’n ding. Iets wat sy longe vasdruk, sy spiere onbeheersd laat spring – oor sy rug, onder sy regteroog. En hy sweet weer soos ’n fokken otter.

Hy probeer diep asemhaal. Dis net angs, het die shrink destyds gesê, en jy kan dit beheer.

Oë toe. Diep asem. Hou vir vier tellings en blaas dan uit. Konsentreer op die asem, dit sal die angs verjaag.

Deurmekaar beelde vlieg voor sy geestesoog verby. Hy sien die Huilwaterkind, die keelwond, die bloed, die halfoop oë. Die oë kyk na hom. Dis die oë van ’n ander kind, die een in Hillbrow ... nee, die ander twee: soos klein hondjies in hul beddens doodgeskiet.

Hoekom is jy altyd láát, Beeslaar?

Hy staan op. Hy moet uit hierdie warm kantoor uit. Hy soek koelte, ’n plek met lugreëling.

In die Rooi Duin, skuins oorkant die polisiekantoor, gaan sak hy ’n paar minute later in ’n hoek neer. Die plek is donker. En dis godsgenadiglik koel. Die kroegman, oom Koeks Koekemoer, kom sit ’n yskoue Coke voor hom neer.

Warm genoeg vir jou, inspekteur?

Soos die hel vanself, oom Koeks, soos die hel vanself, sê hy terwyl die kroegman omdraai en terugdrentel na sy toonbank.

Dis dan dat iets Beeslaar te binne skiet. Pretorius: Hy’t gistermiddag, toe hy die moorde inbel, gepraat van te laat wees. Nog iemand het.

Dan onthou hy. Die ou huishoudster. Sy het dit ook genoem.

Hoofstuk 4

4

Daar staan ’n vreemde kar voor tannie Yvonne se huis, ’n splinternuwe viertrek-BMW.

Saar se hart sak in haar skoene. Sy sien nie kans nie. Sy’t haar pas ontstrengel van die klewerige angs van ’n bejaarde boer en sy vrou wat haar in die hoofstraat geskraap het. Hulle het haar op die naam gegroet, maar sy kon hulle nie meer uit haar kleintjietyd onthou nie. Het haar ma en pa baie goed geken, het die vrou vertel, was bly toe Freddie op die plaas kom bly het. Daar’s so min jongmense in die omgewing en mens weet nooit meer deesdae wat van die grond word as die oumense afsterf nie. Maar dat so ’n verskriklike aaklige ding moes gebeur ... Waar gaan dit alles eindig ...

Die vrou was betraand en haar man het in stilte haar hand staan en vashou. Dis verskriklik hoe dinge deesdae in die land is, het sy aangeratel, mens is nêrens meer veilig nie, mense word in hul eie beddens ... Toe maak haar man haar stil. Vir ’n oomblik het die drie van hulle so gestaan, soekend na gepaste woorde, oë neergeslaan. Sê maar as daar enigiets is ... het die tante aangebied. Saar het hulle bedank – dalk te haastig. Sy wou wegkom, het skielik opgesien teen al die gesimpatiseerdery wat sy weet nog voorlê. Die onbeholpe troospogings. Sy onthou dit van haar ma se begrafnis destyds, die praatjies wat mense by die dood maak. Dalk nog meer so by skielike dood, wat nog te sê gewelddadig. En ’n plaasmoord raak almal in ’n gemeenskap soos hierdie. Almal. Sy kon dit op hierdie twee mense se gesigte sien. Die vrees, die wáár maak van ’n nagmerrie in hulle midde. Dis asof die kollektiewe vrees waarmee iedereen in sy of haar agterkop rondloop, skielik uit die skadu van die onderbewussyn opduik en voor jou kom staan.

Moord. Hoeveel mense in hierdie land kry nie daagliks so ’n tyding nie? Honderde? Sy’t iewers gelees daar’s ses en vyftig moorde per dag. En pláásmoord is die grootste nagmerrie van almal – ’n idilliese, landelike lewe wat onverwags, in afsondering en ver weg van hulp of bystand, wreed beëindig word. En Freddie, juis so ’n tenger lam ...

Saartjie? hoor sy tannie Yvonne van die agterstoep se kant af roep wanneer sy by die huis instap. Ons is hier agter.

Dis ’n aantreklike vrou met ’n fynbesnede gesig en groot, moeë, helderblou oë wat uit haar stoel opstaan as Saar op die stoep uitstap. Sy lyk soos iets uit ’n Queenspark-advertensie, pastelle en die geelblonde hare. Maar nie heeltemal nie, sy kort die gloeiende vroulikheid van die Queenspark-modelle, die volheid. Net té skraal, seningrig skraal.

Nelmari Viljoen, stel sy haarself voor. Haar handdruk is ferm, vertroostend. Ek is baie, baie jammer oor jou verlies. Dis ’n geweldige skok.  Sy hou Saar se hand vir ’n oomblik, laat val dit dan. "Freddie het so baie van jou

Enjoying the preview?
Page 1 of 1