Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

So was dit: Stories van gister en vandag
So was dit: Stories van gister en vandag
So was dit: Stories van gister en vandag
Ebook271 pages5 hours

So was dit: Stories van gister en vandag

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Johan van Wyk beskryf ’n platteland propvol enigmatiese karakters en ongewone gebeurtenisse. Saam met hom betree jy die wêreld van Stefaans-sonder-sokkies, die Beenpense van Draaikraal, ant Hettie Poortjies en Gert Kriedoring – en ’n era van eenvoud en outydse waardes.
Sy stories gaan oor windpompe, skuurdanse, die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate . . . en mense wat teen die armoede in probeer boer. Dit verklap egter ook iets van die lewensreise waarop ons gaan en dit wat ons in ’n leeftyd oor dinge soos liefde, verlies, geluk en sterflikheid leer.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 10, 2013
ISBN9780624055846
So was dit: Stories van gister en vandag
Author

Johan van Wyk

Johan van Wyk is 'n gesoute joernalis wat die afgelope paar jaar gereeld artikels vir Weg, Landbouweekblad, By en rubrieke vir Die Burger se "Van alle kante" bydra. In sy loopbaan van 38 jaar het hy onder meer die gewilde "Stop van Myne"-rubriek in Volksblad geskryf en 'n potjiekos-rubriek vir Beeld, gewerk by Die Suidwester in Windhoek en was hy redakteur van The Herald op George. Die FAK se Prestige-prys vir uitnemende Afrikaanse joernalistiek is in 1992 aan dié boorling van Calvinia toegeken.

Related to So was dit

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for So was dit

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    So was dit - Johan van Wyk

    Johan van Wyk

    So was dit

    STORIES VAN GISTER EN VANDAG

    Tafelberg

    Aan die kinders van Calvinia,

    waar hulle hul ook bevind.

    "As ek wil vis hê, gooi ek my seën uit in die vlei waar die springers en harders boer, en as ek vleis wil hê, vat ek my haelgeweer en loop hier oor die rant. Daar is my trapvloer en perdemeul, hier my melkstal. My meubels maak ek met ’n dissel en my knipmes, my velle vir my tuie brei ek self. In my voorhuis staan ’n wireless en hier onder is ’n phone. In my tuiekamer staan my houtbaad­jie [doodskis] en daar onder die bome lê my kerkhof. Ek skuld niemand niks . . ." *

    * Só het oom Theunis van Zyl, tuie- en sweepmaker van Verlorenvlei aan die Weskus, in die 1960’s sy eenvoudige, maar onafhanklike boere­leefwyse aan my beskryf toe ek hom op sy lappie grond, Muis­hoek, besoek het. Die foto van hom en sy rooi konsertina is op 2 Mei 1967 op die voorblad van Die Landbouweekblad gebruik. Die tydskrif het toe agt sent gekos. – Johan van Wyk

    Voorwoord

    Jare lank was Johan van Wyk een van die Vrystaat se swaks bewaarde geheime. Hoe anders, terwyl sy rubriek die mees gelese en besproke item in dié provinsie se geliefste koerant was?

    Hy sal dadelik daarop wys dat hy nie eerstens ’n Vrystater is nie, maar ’n Noordwester: ’n man uit die Hantam, wat saam met sy buurman Namakwaland ’n wêreld van storiemakers en -vertellers is. Droogte en swaarkry is klaarblyklik vrugbare grond vir die verbeel­ding. (En vir eiesinnigheid, erken hy.)

    Johan het 25 jaar lank elke weekdag die rubriek Stop van Myne vir Die Volksblad (vandag net Volksblad) geskryf wat ’n rekord van een of ander aard moet wees. Daarmee saam het hy agt jaar lank die rubriek Potjiekos vir Beeld behartig. Deesdae skryf hy ’n gereelde rubriek vir Landbouweekblad en minder gereeld bydraes vir Weg, Die Burger en By. Dis ongeveer 7 400 joernalistieke rubrieke en bydraes van bykans vyf miljoen woorde! Maar dit het vir Johan nog nooit oor kwantiteit gegaan nie, soos blyk uit die FAK se Prestige-prys vir uitmuntende Afrikaanse joernalistiek wat in 1992 aan hom toegeken is.

    Vir hierdie bundel is net die room van sy skryfwerk afgeskep. Boon­op is daar ’n bonus:’n paar sketse wat hier vir die eerste keer gepubliseer word. Die eindproduk is ’n versameling waarmee hy die wyer blootstelling kry wat hom – en alle Afrikaanse lesers – lankal toekom.

    Johan se voorliefde is die landelike milieu en sy bewoners van ’n vergange era wat hy aards, eerlik en onthullend skets. En wan­neer sy ongeëwenaarde geheue hom dalk in die steek laat, staan ’n meer as gewillige verbeelding hom by!

    Hy is onbeskaamd nostalgies oor sy wêreld en sy land waarvan flarde reeds weggevoer is op die winde van verandering. Sy verhale word egter nie bloot ter wille van hulle (voort)bestaan vertel nie – hoe­wel dit rede genoeg sou wees – maar ook ter wille van wat dit hier op ’n unieke manier van die menslike toestand verklap. Krisjan Houmoed, Willem Naald, Stefaans-sonder-sokkies, Giel Hardehand, Jan Teelepel, Hennerik Nag, Hannie Stofkraal en al die ander sou minagtend gesnuif het oor dié kamma-geleerde stelling.

    Nogtans.

    Sy stories word vanweë hul her-ken-baarheid geborge eilande wat hy uit ’n see van dreigende vergetelheid laat herrys. Ek rebelleer teen die genadeloosheid van die lewe, maar ek onthou die mooi dinge wat nie meer bestaan nie, is ’n uitspraak van ’n ander Calvinianer, die komponis Arnold van Wyk, wat ’n rigsnoer vir sy gemoed bied. Nie ’n swaar en donker gemoed nie; allesbehalwe.

    ’n Sêding van Namakwalanders oor vry is hier gepas: As jy eers gesta’-en-lê-en-proe het, word jy meer erg.

    Met hierdie versameling wys Johan van Wyk op sy onnabootsbare manier dat die lees van ’n goeie storie minstens net so lekker soos vry kan wees. Daarvan word ’n mens ook meer erg.

    Dis nie net ’n waarskuwing nie, maar veral ook ’n belofte.

    Tobie Wiese (samesteller),

    Kaapstad

    Skrywersnota

    Lank gelede, toe dit nog so moeilik was om te katkiseer dat ’n hele geslag plattelandse Afrikaners wat nie juis geleerd was nie dit as ’n Boerematriek beskou het, wou die predikant by ’n katkisant weet wat die apostel Paulus se belangrikste taak op aarde was. Dit was nadat hy Paulus se uitgebreide sendingreise breedvoerig behandel het.

    Die jongeling, wat halfpad deur die langdradige uiteensetting vol onuitspreekbare name van vreemde plekke aan die slaap geraak het, het ’n rukkie nagedink. Dominee, hy het gereis en geskryf en gereis en geskryf.

    Dit is die beste opsomming van Paulus wat ek nog gehoor het. Dis min of meer ook wat ek ’n leeftyd lank al doen. Niks in hierdie bundel sou tot stand gekom het as ek nie gedoen het wat ’n joernalis ver­on­derstel is om te doen nie, naamlik om te reis en te skryf sodat ander kan deel in dít wat hy ervaar het. Om boonop daarvoor betaal te word – hoewel nie juis so dat jy dit kan agterkom nie – maak van joernalis­wees ’n voorreg.

    Maar dit maak egter nog nie van jou ’n skrywer in die ware sin van die woord nie. Ek durf my dus nie as een uitgee nie, maar ek kan be­aam wat Wilbur Smith oor skryf gesê het: Writing is my excuse for living.

    Dis ’n baie goeie verskoning, maar hy kon gerus bygevoeg het dat skryf nog nooit maklik was nie. Soos goeie wyn en goeie seks is goeie skryfwerk ’n beleë kuns, geslyp deur jare se ervaring en ’n dwingende begeerte na die onbereikbare. Hopelik skemer iets daarvan deur in So was dit.

    Dankie aan my jare lange oudkollega, Hennie van Deventer. Son­der sy aanstigting en aanvoorwerk sou hierdie bundel nie verskyn het nie; sy aandrang het my onwilligheid verslaan. Ek is ook dankbaar teenoor Tobie Wiese, samesteller/redigeerder en my mede-biker op ver paaie, wie se joernalistieke vernuf net deur sy ge­trouheid oortref word. Toe ons mekaar by geleentheid weens ’n misverstand op die pad verloor, het hy – uit vrees dat ek in ’n ongeluk was – van Citrusdal tot op Klawer gery om my te gaan soek. Ek ken min sulke mense. En dankie aan knap Annie Olivier van Tafelberg vir haar afrondingswerk.

    Johan van Wyk (jvwstop1@telkomsa.net),

    Strand

    Naskrif: Omdat ’n goeie storie nie deur die feite bederf behoort te word nie, bevat van die verhale, hoewel rofweg gegrond op werklike mense en gebeure, hoogstens ’n element van waarheid. Hier en daar moes ek ook die naam van ’n plaas of ’n mens verander om die skuldiges te beskerm. Die helfte van die stories het ek inderdaad by ander mense gehoor en die ander helfte is bygelieg. Joernaliste kan ver­skriklik lieg, vra my, maar darem só dat jy hulle kan glo.

    1

    Hantam blues

    Die Floorse van Ongunsfontein

    ONGUNSFONTEIN was nie ’n wafferse plaas nie, maar as jy op die klip­stoep van sy hartbeeshuis gestaan het, was die uitsig mooi. Wit Boesmangras sou in die wind wuif. In die verte het die Jan Swartsberge newelrig bokant die vloedvlaktes van die Renosterrivier gelê.

    Met sonsopkoms in die somer het poele water tussen die fluitjies­riet geblink, in die winter brokstukke ys.

    Wanneer dit in die Roggeveldberge gekapok en gereën het, sou ’n wal bruin modderwater wild deur hom galop en stof opskop in die droë loop. So vinnig, het Krisjan Houmoed vir die waarheid vertel, dat daar skaapmis en nat opdrifsels op die carrier aan die agterkant van sy 1938 Willy’s Overland gelê het toe hy op ’n keer voor die water deur is en op die oorkantste wal stilhou.

    Op siffel na, het hy met sy duim en voorvinger gewys.

    Dis nie onmoontlik nie. Maar Krisjan was ’n spekskieter. Hy het een­keer gespog dat hy 17 lae bale lusern op sy vierton-Chev-lorrietjie op pad stasie toe gelaai het toe hy dit vir ’n perdeboer in die Boland moes versend.

    Toe die wysneusige laaimeestertjie op Kootjieskolk parmantig sê-vra: Oom Krisjan, maar jy lieg mos nou! Hoe het jy onder die telefoondrade deurgekom?, het hy sy sweetdeurdrenkte hoed op die een horing gedruk en gebrom: Orraait, ek sal twee lae afkom, maar nottendêm, nie meer nie!

    Toe sy dogter op trou staan, het hy rondvertel daar gaan sewe soorte jellie by die resepsie wees. Daar was net drie: geel, groen en rooi.

    In hierdie swaarkrywêreld het die Floorse in die Depressiejare van die 1930’s van die hand in die tand geleef.

    Ou oom Floors het laatmiddag met ’n beker koffie in sy tolletjiesstoel op Giflaagte se stoep, sy voete op ’n bont boerbokvel, na die Jan Swartsberge sit en tuur toe sy kop op sy bors sak en die blikbeker uit sy hande val.

    Sy graf was nog vars toe sy testament gelees is: Giflaagte moet op­­gesny word en elkeen van die vyf seuns moet 500 morg kry. (Voordat dit deur wetgewing – sedertdien herroep – stopgesit is, is eko­no­miese eenhede destyds op dié wyse versnipper en erfgename in ar­moede gedwing op lappies grond waarop ’n pofadder nie kon oorleef nie.)

    Die oudste seun, Casper, het sy deel Ongunsfontein gedoop want, het hy bitter gesê, sy pa het hom ’n onguns bewys deur vir hom ’n stukkie grond na te laat waarop hy ’n worstelbestaan sou voer.

    Hy het hom nietemin teëgesit. Hy het met sy veetjies soontoe versit, getrou en ’n platdakkleihuis gebou. Behalwe ’n slagding af en toe het hulle merendeels meelpap, dikmelk en turksvye geëet.

    Sy drie seuns – Klaas, Johny en Lewies – was al groot toe hy die dag ná die bankrotvendusie die kleihuis op Ongunsfontein se voordeur ag­ter hom toetrek en die Floorse met hulle karige huisraad­jies op ’n skaaplorrie dorp toe is.

    Toe die lorrie wegtrek, het Casper sy hoed diep oor sy oë getrek so­­dat Tryna en sy kinders nie kon sien hoe trane nat stofstrepe op sy wange maak nie.

    Op die dorp het hulle in ’n kamer in die Joodse winkelier Jaffe se jaart in die onderdorp ingetrek. Daar het Casper met ’n els en seilnaald vir die boere tuie, tooms, halters, donkietrense en velskoene op ’n tuie­­bankie gemaak. Velle blousool en wit, gebreide naairiempies het aan die dakbalke gehang.

    Hulle het steeds meelpap geëet, maar party Sondae ’n hoender en soms lemoene pleks van turksvye.

    Sy ma sou vir Lewies met ’n sjieling na Adam’s se groentewinkel stuur met die opdrag: Sê vir die Slams ek soek 12 groot, rooi, ronde, soet lemoene.

    As die lemoene klein en suur was, moes Lewies dit gaan omruil vir piesangs. (Die onderdorp se mense – arm maar skoon – het nie graag piesangs geëet nie. Hulle het gesê die Adamse slaap tussen die groen piesangs om hulle gouer ryp te maak.)

    Een jaar het die Floorse ’n week lank lemoene geëet. ’n Sitrusboer van Clanwilliam het met ’n eselwa vol Valencias op Calvinia kom smous. Ná Pakhuis op en Botterkloof af, was die lemoene pap toe hy op die dorpsplein uitspan. Taai lemoensop het tussen die bakplanke deurgesyfer en oor die wiele se speke gedrup.

    Ná drie dae het hy die lemoene verniet begin weggee. Aan elkeen wat verbyloop, het hy gevra: Jong, wil jy nie lemoene hê nie? Die Floorse het gevat.

    Toe die boere bakkies, trekkers en winkelskoene begin koop, het Casper sy tuiebankie vir sy handlanger, Willem Sas, gegee en vir Try­na gesê: Pak, ons trek Kaap toe! Bellville toe, om presies te wees, des­tyds gewild onder Afrikaners uit die platteland.

    Hulle is vort – weer agter op ’n skaaplorrie. In Wellington moes hulle die sideboard lêmaak om te voorkom dat die pote aan die telefoondrade haak. Dit was in 1948. Baie Afrikaners het toe die platteland verlaat.

    Die eerste minister, dr. DF Malan, het die volksverhuising die Af­ri­kaner se Tweede Groot Trek genoem. En bygevoeg: Glo in jou God. Glo in jou volk. Glo in jouself!

    Die Floorse het dit ter harte geneem.

    Casper het werk gekry by die munisipaliteit as ’n paver. Met sy groot hande het hy, totdat sy rug ingegee het, jare lank die beton slabs gelê vir die sypaadjies waarop mense vandag nog in Bell­ville loop.

    Klaas het die hare in ’n barbierwinkel in Houtstraat in Kaapstad op­gevee voor hy self ’n barbier geword het. Met ’n cut throat en kwas van perdesterthare in ’n klein soetkysie het hy naweke vir ekstra geld die ryk Jode van Seepunt in hulle woonstelle gaan skeer.

    Sy fooitjies was party maande meer as sy salaris.

    Johny het die pad gevat en ’n kroegman op Karasburg in Suidwes geword, toe ’n kelner op die Spoorweë. Hy het op die hooflyntreine tot in Bulawayo gewerk en gou tot chief steward gevorder.

    Wanneer die Selati-eetsalon in die middel van die Union Limited ge­haak was, het hy gesorg dat die silwer eetgerei op wit damastafeldoeke blink gevryf was en ’n rangskikking van proteas tussen bakke met vrugte op die buffet gepryk het.

    Hy het leer Engels praat, kon eksotiese cocktails meng en met drie opgeskepte porseleinborde vol stomende kos, gebalanseer op sy een arm, in die gangetjie tussen die tafels op en af trippel terwyl die trein wiegend oor die Karoovlaktes snel.

    Sy fooitjies was die meeste maande óók meer as sy salaris.

    Lewies het gaan leer en ná matriek aan die Handelskool in die Paarl ’n kaartjiesklerk op die Spoorweë geword. Sy eerste stasie was Wood­stock. In ’n wit hemp en swart onderbaadjie met ’n groen plas­tiek­skerm­pie op sy voorkop het hy kaartjies deur ’n ronde gat in ’n tralie­venster verkoop.

    Sy ma het elke dag vir hom toebroodjies met sandwich spread op saam met sy asmapompie in sy verweerde skoolboeksakkie van goed­koop kunsleer gepak. Ná sy eerste werkdag het hy sy ma gebel toe hy die voorstedelike trein Bellville toe moes haal en dramaties aangekondig: Ma, ek klim nou!

    Treinry tussen voorstede was vir ongekunstelde plattelanders toe so goed soos ’n reis na ver bestemmings.

    Nadat Lewies die Spoorweë gelos het, het hy van posklerk tot ’n groot­kokkedoor gevorder in die bank wat bankwese in Suid-Afrika onherroeplik verander het.

    Hy het smiddags in die Here Sewentien se restaurant geëet en ’n ak­tetas van volstruisleer gedra. Soggens het sy sekretaresse, in ’n mini-rok en met ’n beehive-haarstyl, ’n vars rooi angelier in sy baadjie se lapel gesteek. Sy luukse kantoor was groter as die kleihuis op Onguns­fontein en het vanaf die twaalfde verdieping van die bank se glas­paleis aan die Heerengracht op die Tafelbaaise hawe uitgekyk.

    Die Floorse het nie lank gependel voor hulle rygoed begin koop het nie. Klaas ’n Simca, Johny ’n Essex, hulle pa ’n Austin Ten en later ’n Consul. Derdehands. Maar nie Lewies nie. Hy het gespaar en ’n splin­ter­nuwe Fiat Cub kontant uitgetrek.

    Hy het haar Snuifie gedoop en aan die agterkant in sierskrif laat aanbring: Verskoon my stoffies! Meisies het daarvan gehou.

    Maar Johny se Essex was die bielie onder die afdak by die rousteen council-huis waar hulle in Bellville gewoon het. Toe die two-tone Essex se rooi en swart begin verbleik, het Johny ’n blik verf gekoop en haar in die agterplaas met ’n vlieëgifspuit in die kleur van sy sigaretboksie oorgeverf – in Gunston orange. Die Essex het soos ’n king-size Navel-lemoen gelyk toe hy klaar was.

    Met die oorskiet het hy die paraffienblikke met sy ma se malvas daar­in op die rooi sementstoep ook Gunston orange geverf.

    Maar Lewies sou die Floorse se eer herstel.

    Toe Ongunsfontein jare later – sy ouers en broers was reeds dood en hy afgetree – in die mark kom, het hy met ’n glimmende swart Mercedes Calvinia toe gery en sy pa se grond binne ’n dag ongesiens kontant teruggekoop.

    Ná die transaksie het hy uitgery Ongunsfontein toe. By die bekslanerhek het hy stilgehou, ’n blikkie verf en ’n kwassie uit die Mercedes se kattebak gehaal, die On op die naambordjie doodgeverf en die g ’n hoofletter gemaak sodat dit Gunsfontein kon lees.

    Daarna het hy, soos sy oupa toe hy op Giflaagte gesterf het, op die klipstoep van die vervalle ou kleihuis gaan sit en kyk hoe die Jan Swartsberge pers word in die ondergaande son. Toe dit donker word, het hy in die oorblyfsels van sy ma se kookskerm vuurgemaak, ’n bottel White Horse uit die Benz gehaal, ’n lamsrib op die kole gegooi en dit by swart koffie en roosterkoek met sy knipmes afgeëet. ’n Sekelmaan het agter vlieswolkies deur die eensame nagtelike hemel geskuif terwyl hy tot laat sit en kyk het hoe die gloeiende kole ver­dof en as word . . .

    Sy liggaam was reeds koud en styf, sy oë hemelwaarts verstar, toe ’n skaapwagter hom vroeg die volgende oggend daar gekry het.

    Die Ondervelders gaan stad toe

    Die kruik bewaar lank die geur

    van waarmee dit deurtrek was toe dit nog nuut was

    Horatius

    ONDERVELDERS, soos die Noordweste se boeremense ’n geslag ge­lede bekend was, het nie juis gereis nie. In ’n swaarkrytyd het hulle ook nie die geld gehad om dit te doen nie. Hulle was tevrede om hul lewe op verafgeleë plase en klein dorpies te slyt. Hulle was ook bang vir vreemde, gevaarlike stede, hoewel toe veel kleiner en veiliger as vandag.

    Die boere se afgesonderde lewe is bepaal deur die gang van die sei­soene en die eise van lamtyd, saaityd en oestyd. Dit is slegs afgewissel deur dope, troues, begrafnisse en om maandeliks dorp toe te gaan vir negosieware.

    Toe ’n nuwe predikant op huisbesoek, nadat hy tydens ’n swaar droogte Habakuk se gebed voorgelees en vir reën gebid het, by Annie Geelhoek wou weet

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1