Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die kremetartekspedisie
Die kremetartekspedisie
Die kremetartekspedisie
Ebook144 pages2 hours

Die kremetartekspedisie

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die verhaal is gesitueer in die tyd van die Portugese ontdekkingsreise na Indië. Die verteller is ’n ou slavin wat verslag lewer van haar bestaan vandat sy as jong meisie gevange geneem is, agtereenvolgens deur drie eienaars besit (o.m. in ’n hawestad aan die ooskus van Afrika) en daarna deur ’n vierde man op ’n ontdekkingsreis deur Afrika geneem is. Eers dros die res van die geselskap en daarna sterf die man en bly die slavin alleen agter. Sy woon uiteindelik in ’n kremetartboom waar sy deur klein mensies versorg en aanbid word en in haar ouderdom in verlatenheid versink. Hierdie belangrike Afrikaanse roman is reeds in verskeie ander tale gepubliseer, o.m. in Engels (in Engeland en Amerika), vertaal deur J.M. Coetzee.
LanguageAfrikaans
Release dateJul 30, 2013
ISBN9780798159999
Die kremetartekspedisie
Author

Wilma Stockenström

Wilhelmina Johanna (Wilma) Stockenström is op 7 Augustus 1933 op Napier in die Overberg gebore. Sy matrikuleer in 1949 op Napier en verwerf in 1952 ’n dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy werk daarna as omroeper, aktrise en dramaturg. Wilma Stockenström is een van die belangrikste skrywers in Afrikaans, en sy publiseer romans, digbundels en dramas. Sy debuteer in 1970 met die digbundel Vir die bysiende leser. Sy het die Hertzogprys vir poësie in 1977 ontvang vir haar digbundel Van vergetelheid en van glans en vir prosa in 1992 vir haar roman Abjater wat so lag. Die kremetartekspedisie, wat in 1981 verskyn het, is egter haar bekendste roman. Dis in Engels, Frans, Nederlands, Duits, Italiaans en Hebreeus vertaal. En in 1988 is die Italiaanse vertaling met die Grinzane Cavour-prys in Italië bekroon. Sy het ook ’n suksesvolle loopbaan as aktrise op die verhoog en in films gehad. Sy woon sedert 1993 in Kaapstad.

Read more from Wilma Stockenström

Related to Die kremetartekspedisie

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die kremetartekspedisie

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die kremetartekspedisie - Wilma Stockenström

    Wilma Stockenström

    Die kremetartekspedisie

    Human & Rousseau

    Dan met wrewel. Maar ek het my dit verbied. Dan met spot wat mak­liker geval, wat hom deursigtig hou en niks vir alles veil het, en ek kan soos ’n voël in ’n nes in ’n stam terugglip en na binne lag. En stil bly ook, dalk ook net stil bly om na buite te droom want die sewende sintuig is die slaap.

    Tyd het dikwels in die verlede moeilik geraak toe ek nog meer as dag en nag wou besit en ek op tel ingestel was en onseker oor of ek die kere dat ek bedags gedut het, as nag moes laat geld waar nag die gebeurlose en dag die besige is. Slaap as nag. Hoe het ek nie partykeer my nagte uitgedy, my in ’n kleins moontlike bondeltjie opgekrul in die donkerste holte, voorkop teen knieë gedruk om die geknaag in my te dood, verstrik in deurmekaar gedagtes, en op ’n kleur besluit waaraan ek my gehou het sodat ek later kon sê my slaap was blou, of lewend rooi soos bloed, of ’n vaal oorgang. Ek word verkrummeld wakker, kom lighoofdig, wankelrig orent en sit ’n stowwerige voet neer in die groot assegaailem van sonlig wat met ’n stadige moordende draai daglank in my woning boor.

    Dit was die tyd voor die krale. Die tyd ná die krale laat hom netjieser hanteer. Dit is nie meer toeval nie en lankal nie meer ontvlugting nie dat ek my so dikwels van slaap bedien. Ek maak my wys ek leef dan eers.

    Met die krale begin my vasberade poging tot dagtekening. Ek het hulle heelparty dae gelede opgetel en mettertyd eers die in­gewing gekry. Ek voeg die nuwe vonds by die hopie potskerwe wat nuuskierigheid my op korterige en langerige swerftogte weg van die boom laat versamel het, aarselende, verveelde, gefrustreerde swerftogte weg van die paadjie water toe wat ek toe al byna herkenbaar getrap het.

    Soos die wild maak ek my paadjies. Dié vasstelling kom agterna. Soos die rooibok, nee, nie soos die rooibok en die bontkwagga nie, nie soos buffels of kuddediere van watter aard ook al nie wat mekaar se sintuie aanvul en krisisse gesamentlik die hoof bied en oorleef wat hulle alleen te swak voor is, en wat tog maar as enkeling prooi word, en tog maar elkeen op sy tyd alleen vrek. Ek trap my eie spoor, so duidelik doelgerig dat ek weet dat ek al baie lank in hierdie streek verwyl, of liewers van verwyl was daar nooit sprake nie. Of liewers moet ek sê: ook ek oorleef hier, maar ek is op myself aangewese, en selfs die dae wanneer dit vir my voel asof daar oral onder die grond slangeiers lê, ook dan moet ek maar op die been kom en gaan en hulle probeer mistrap.

    My paadjie stroompie toe gemaak deur my wat so lig loop tog, dun, dowwe kronkelinkie, vlegtend om struik en stam en deur effe vlaktes gras waarin die winter rooi begin lê, my paadjie loop met ’n laaste skielike helling af na sondeurstraalde water wyd soos my uitgestrekte arms tussen die stamme van twee jong mingerbome, die wagte van my skepplek. Laer af was ek my. Hoër op waar hierdie sytak in die hoofrivier mond, is die olifante se deurkomplek.

    Dié keer toe ek byna-byna onder die trop beland het, gaan dink ek mos aan ’n raaisel wat ons jongmeisies mekaar gevra het: wat dra sy lewe in sy maag? Dit moes al die rammelende pense gewees het wat my in my karige skuilplek, ’n klipbank en riete tussen my en hulle, ’n oomblik angstig laat giggel het en toe heeltemal laat droogkeel word het. Die horde pote trap geveerd verby my die sloep in, die water spat, hulle bad rustig. Ek hou my klein. Nie­mand raak so beskermd groot soos ’n slavin nie. Ek kan ook by­voeg so onkundig groot soos ’n slavin nie, en ook ek, skitterende uitsondering, blyk dom te wees waar dit op wild en wild se ge­woontes aankom met my kennis beperk tot ivoorhandelwe­tens­waardighede. Al om die ander jaargety sluk ’n olifant ’n kei in en die keie rammel in hulle geweldige pense ’n leeftyd lank, rammel en rammel. Wat onvatbaar reusagtig is, reduseer ek tot ver­spot­heid om dit te kan verwerk en my mag daaroor te kan bevestig, terwyl ek potsierlik ingekrimp agter klip en riet kniel, ’n slak sonder skulp, ’n sagtedopkewer so groot soos my pinkie se top, benoud in ’n skyndood, en wag dat die tydsame gebaljaar end kry en ek weer regop kan staan om soos ’n mens om my heen te kyk. ’n Laaste gesketter van die anderkantste wal dan kom ek styf orent en vee die klam sand van my af, en ek ril in die windjie wat die riete ombuig.

    Nou leef ek in vriendskap met die trop wie se deurkom- en badplek ek per abuis betree het. Vriendskap nogtans neerhalend verkeerd gestel. Ek leef. Hulle leef. So. Soms van my hoogtetjie sien ek die krom rûe in die ver blink van die water maal, hoor ek die gesketter, sien ek die pare-pare slagtande kort oomblikkies opgehef word en sukkel ek steeds om die skouspel te rym met die gladde armband wat ek eenkeer mog dra. Daar is geledinge wat my ontglip.

    As ek nie eens op die kort wandeling van die ingang van die kremetart na die hopie potskerwe en ander vondste, suffel tree soon­toe, suffel tree terug, van alles kan weet nie, hoe dan van my reis wat vir my soms voel of dit ’n leeftyd was en nog steeds duur, steeds voortgaan, al reis ek nou in kringe om een plek?

    Suffel tree soontoe met voete wat al moeg word. Wat het ek gedink versamel ek toe ek dit alles aangedra het …? Wat het ek gedink vang ek met rommel aan …? Tyd word krale en dus rommel.

    Op die baie paadjies van my geheue verrys daar dreigende gedaantes wat elke terugblik versper. Ek ken hierdie gedaantes. Ek kan hulle nie noem nie. Hulle doem voor my op in die gestalte van iets mensliks of soms soos ’n hoek van ’n harige muur of ’n rollende hutopening wat my probeer in- en wegsleep, ’n rasend aan­stormende, teen ’n geweldige spoed aanstormende opening wat skielik ’n tree voor my swenk en luier en lok; soms ook ’n stil wanstaltigheid van afwagting gevolg deur ’n opvallende terneergedruktheid wanneer die baie skerp tange wat my vashou in sulke slap lote van ’n boskasie verander, wanneer die hele gedoente sonder meer verdwyn sodat peillose vaal oorbly. Daar is meer paadjies kruis en dwars in my geheue as wat ek ooit ’n lewe lank werklik gesien het. Wat sou ek nie alles kon opspoor as dit my vergun was en as my speurvernuf nie so dikwels gefnuik word en die spoor in my binneste doodloop nie?

    Allerlei paadjies na niks straal uit om my woonplek. Hulle is nie aangelê nie. Hulle het so gekom. Wel het ek toe ek hier opgedaag het, van die wildspaadjies gebruik gemaak omdat niks anders voorhande was nie benewens die paadjies na niks, maar gou moes ek vasstel dat my denke nie met dié van die ander wesens hier sluit nie. En ek het gesoek en gebaan en gevind.

    Gevind sê ek. Angsaanjaend.

    Belangrikste item, water, hoef ek darem nie te gesoek het nie. Dis volop. Dis sigbaar en hoorbaar. Ek skep die stroompie se kabbeling in my presentvolstruiseierdop. Ek hou die dop so in die helder boog water wat oor ’n skurwe klip spring, dat ek die lig en die geluid opvang. Meermale skep ek so en gooi die watergees se flikkering en gemurmel in my presentkleipot uit. Dan hys ek die vol pot stadig met albei hande tot op my kop, buk kniebuigend om my skepdop op te tel en loop die waterpaadjie terug kremetart toe.

    Gevind: allerlei soorte veldkosse en gevind ook dat ek dit in mededinging met die dier pluk, uitgraaf, optel, dat bome nie vir my bot en bloei en vrug dra nie, nie om my honger te stil nie, dat knolgewasse en veselwortels nie vir my onderaards swel nie, en nie om my te behaag drup die huilboerboon sy nektar nie, en nie om my te laaf staan die platdoring op strategiese punte in die middel van ’n skadukol nie, en nie om my plesier te doen hang die gevlekte orgidee uit nie, nie vir my slaan beginsomer die krink­hout tente van geur op nie.

    Nadat die vlakvarke gewei het, fynkam ’n onnosele die lap veld waar kenners gewroet het, kniel sy soos hulle, probeer sy met ’n stok die harde grond breek waar dit haar aan slagtande ontbreek, probeer sy met die oog uitken waar sy nie met ’n reuksin toebedeel is wat op eetbare uintjies en wortels afgestem is nie en dra sy mismoedig ’n moontlike handjievol weg. Nadat die bobbejane gewei het dieselfde prosedure, behalwe dat sy doodseker maak dat hulle heeltemal uit die pad is voordat sy dit op hulle terrein waag.

    Ek vrees die gryns van die bobbejaan meer as die slagtand van vlakvark en bosvark. Hy is te veel soos ek. Ek vrees my herkenbare self in sy tronie. Ek word herinner aan my ondergeskiktheid hier, my mindere kennis. Ek voel my getart deur die afspieëling van my drifte en begeertes in sy gedrogtelikheid en die bespotting van my verfyndheid en uitwysing daarvan as oorbodig deur dié vulgêre handeviervoetkarikatuur. Ek verag hom, sy krag, sy vernuf en sy vanselfsprekende baas wees in die kontrei. Ek verag die bob­bejane voor die voet. Die vrate met die dik kieste, hulle walg my. Hulle onooglike spektakelparing en die vernederende gebedel van die wyfies, die gekoes van die wyfies voor die hardhandige mannetjies en die luidrugtige geskel, en die oë dig by mekaar soos jy dit by parmante aantref en ek dink ook dis ’n teken van inha­ligheid. Ek weet te veel van hulle af na my smaak. In ’n kou sou ek vir hulle kon lag. En wat hulle van my af weet, wys hulle nie, nie in daardie sydelingse blikke nie. Seker niks meer as ’n laspos is ek vir hulle. ’n Buitestander, sommer ver buite die gebied van hulle werksaamheid.

    Net wanneer ek slaap, weet ek volledig wie ek is want ek heers oor my droomtyd en bewoon my drome tevrede. Vir myself is ek nodig dan.

    Dit was op ’n ylingse vlug voor die trop sekelsterte se brandwag uit dat ek op ’n uitgetrapte kol afkom – dit het vir my uitgetrap gelyk – en ek struikel en val lankuit en snak na asem. Ek draai om. My hart klop tot in my vingerpunte. Die asemstote uit my neusgate blaas teen trillende droë sprietjies.

    Ek lê ’n lang ruk so met die berusting van ’n kossoeker vir wie honger iets vertroud is wat maar later gestil kan word. Ek sien dan iets blink, klein korreltjies

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1