Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die behoue huis
Die behoue huis
Die behoue huis
Ebook287 pages4 hours

Die behoue huis

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die behoue huis verteenwoordig De Vries se “ernstige” verhale en die kern van sy werk. Hy het self die keuse van verhale uit sy werk gedoen, en Wium van Zyl het ’n kort inleiding daarvoor geskryf:  “Geen kortverhaalskrywer in Afrikaans ewenaar De Vries se volgehoue uitdaging aan sy leser nie: die intens gekonsentreerde intriges, die kriptiese weergawe van hele lewensgeskiedenisse in volle verwikkeldheid en daaragter tergende oerbeelde uit die kollektiewe onbewuste (die towenaar, die idioot, die jokkie, die clown) met beheer oor dood en lewe, oor verval en opbou . . . De Vries bly ’n maatskaplik betrokke skrywer (. . .) ’n skrywer wat te midde van ons land se nimmereindigend kwellende geskiedenis in ’n deur kritici afgeskeepte genre sy skrywerskap aanhou verfyn het om ’n groot oeuvre tot stand te bring wat vreesloos wonder oor die raaisels van die menslike bestaan.
LanguageAfrikaans
Release dateFeb 11, 2011
ISBN9780798155717
Die behoue huis
Author

Abraham H. de Vries

Abraham de Vries het reeds 20 kortverhaalbundels sedert sy debuut in 1956 gepubliseer. Hy is ook bekend as kontreiverhaalskrywer (die “plaaswinkelstories” uit die Klein Karoo), kenner van die kortverhaal en as samesteller, o.m. van die belangrike Die Afrikaanse kortverhaalboek. Sy werk is reeds met verskeie pryse vereer; onder meer is die bundel Tot verhaal kom bekroon met die RAU Prys vir Skeppende Werk (nou die UJ-prys); De Vries het ook in 2010 ’n SALA-toekenning ontvang vir sy lewenslange bydrae tot die letterkunde, en in 2012 die Absa KKNK se Afrikaans Onbeperk-toekenning vir lewensbydrae. De Vries woon in Kaapstad.

Read more from Abraham H. De Vries

Related to Die behoue huis

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die behoue huis

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die behoue huis - Abraham H. de Vries

    Die behoue huis

    ’n keur uit die kortverhale van

    Abraham H. de Vries

    flourishes.tif

    Die oorspronklike bundels waaruit die verhale uit

    Soms op ’n reis kom, is as volg:

    Soms op ’n reis uit Twee maal om die son (1969);

    Een vlees uit Bliksoldate bloei nie (1975);

    Die uur van die idiote, Die boksers, Raam en

    Die jokkie uit Die uur van die idiote (1980)

    Inhoud

    Voorwoord

    Soms op ’n reis

    Soms op ’n reis

    Een vlees

    Die uur van die idiote

    Die boksers

    Raam

    Die jokkie

    Nag van die clown (1989)

    Siënese dagboek

    Nag van die clown

    Die bruid

    Towenaars

    Die besoeker

    Skaduwees tussen skaduwees (1997)

    Skaduwees tussen skaduwees

    Wintervoorraad

    Hierdie poskaarte

    Winkelplaas – ’n verhaal

    Tot verhaal kom (2003)

    Bouvalle

    Die behoue huis

    Populierbos

    Donker spore

    Dagboek van ’n afloop

    Verbeel jou dis somer (2009)

    Woede

    Winternag

    Storm

    Ons dorp

    Voorwoord

    Hy weet hoe verder hy vertel, hoe onduideliker raak die grens vir homself tussen storie en werklikheid, tussen hoop en geskiedenis, tussen die wêreld om hom en die wêreld in hom. Dit is maar een van etlike oënskynlik terloopse definisies oor die geheimsinnige verhoudings en verbintenisse wat die verhale in Die behoue huis kenmerk. Vir ’n kritikus op soek na patrone in ’n fyn geskakeerde versameling is dit ’n waarskuwing.

    Selfs met die feit dat De Vries hom oor ’n lang skrywersloopbaan nagenoeg uitsluitlik op die kortverhaal toegespits het, kan ’n mens jou trouens vergis. In werklikheid het hy twee oeuvres tot stand gebring. Enersyds is daar sy gewilde komiese verhale, meesal streekstories geplaas in die Klein-Karoo, wat die leser nogtans onverhoeds kan konfronteer met eksistensialistiese problematiek.

    Die behoue huis verteenwoordig sy ander oeuvre, sy ernstige verhale en kern van sy werk. ’n Bedrewe vakman is hier deurgaans op soek na nuwe verteltegnieke. Dat ’n jonger skrywer soos Etienne van Heerden juis dit gekies het vir ’n proefskrif verbaas nie (Postmodernisme en prosa, vertelstrategieë in vyf verhale van Abraham H. De Vries, 1997).

    Dubbeldoor (1963) bring ’n eerste belangrike tegniese wending en vorm die beginpunt vir André P. Brink se keur uit De Vries se ernstige verhale tot 1980: Soms op ’n reis (1987). Brink lig twee moderne strategieë uit wat die skrywer albei meesterlik beheers. By die eerste strategie verleen ’n boonste betekenislaag deurgang tot verdere lae. By die tweede lei die groepering, opeenvolging, jukstaposisie, e.d.m. van narratiewe feite algaande tot ’n ‘oopmaak’ van nuwe betekenisse. Hy vind in De Vries se werk op daardie stadium ’n toenemende ontwikkeling na laasgenoemde. Dit sluit in verskillende soorte verwysings na ander tekste, maar ook elemente binne die verhaal self waardeur die leser teruggedwing word na wat voorheen skynbaar terloops geopper is.

    Geen kortverhaalskrywer in Afrikaans ewenaar De Vries se volgehoue uitdaging aan sy leser nie. Die intens gekonsentreerde intriges, die kriptiese weergawe van hele lewensgeskiedenisse in volle verwikkeldheid en daaragter tergende oerbeelde uit die kollektiewe onbewuste (die towenaar, die idioot, die jokkie, die clown) met beheer oor dood en lewe, oor verval en opbou – ’n enorme amount and diversity of materials integrated – maak dat diegene wat ore het om te hoor in ’n enkele De Vries-bundel, selfs in ’n enkele verhaal, veel meer moet verwerk as in die oorgrote meerderheid literêre romans.

    Die nuwe bloemlesing handhaaf ’n aantal van die sterkste verhale uit die Brink-keur, maar vul dit aan uit resenter bundels wat ook weer vernuwings verteenwoordig. Terwyl die samevoeging van verskillende tekste soos in Die bruid steeds voorkom, word daar mettertyd byvoorbeeld teruggekeer na oënskynlik eenvoudiger vertellings. Sommige verhale lyk selfs na verslae of verhandelings (Ons dorp). Partymaal oorheers ’n nostalgie, maar dan – soos Willie Burger aantoon – nie na die verlede nie, maar na die hede, na elke droom van geborgenheid. Die destydse satiriese houding teenoor die magshebbers word nou aangevul met verbasing oor ’n vervloë mentaliteit en, soos in Wintervoorraad, ’n vernietigende oordeel. De Vries bly ’n maatskaplik betrokke skrywer wat onverbiddelik uitwys hoe tans ’n byna metafisiese redeloosheid (…) losgelaat is (Donker spore) in ’n geweldsgeteisterde land. Daarteenoor plaas hy ’n nagenoeg irrasionele verset soos in Woede: Daar kom tye waarin bou al is wat oorbly. Miskien is juis hierdie woorde die gemene noemer vir die werk van ’n skrywer wat te midde van ons land se nimmereindigend kwellende geskiedenis in ’n deur kritici afgeskeepte genre sy skrywerskap aanhou verfyn het om ’n groot oeuvre tot stand te bring wat vreesloos wonder oor raaisels van die menslike bestaan.

    – Wium van Zyl Soms op ’n reis (1987)

    Soms op ’n reis

    Soms op ’n reis

    Op ’n plato hoog bokant die Ryn, by Sankt Goarhausen, het ek my tent dié agtermiddag laat opgeslaan en toe half onder een van die flappe weer die brief van Onno gaan sit en lees. Hy skryf:

    Ek leef in ’n soort volstrekte eensaamheid. Asof die wêreld skipbreuk gely het en ek nie eens die kans gegun is om by te wees nie. Stutte gee die een na die ander pad. Ek woon nou saam met ’n skilderessie hier in Friesland op een van die mere. Saans maak sy met verfbesmeerde hande vir my kos en die hele atmosfeer in die woonboot laat my dink aan Jona se walvis. Ek moet iets daaroor skryf. Die verskriklikste is dat woorde al is wat oorbly, woorde, woorde, woorde. Ek stik daarvan.

    Selfs Onno …

    In Amsterdam, terwyl ek besig was om 839.3, 839.36, 439.36 en nog klassifikasienommers en trefwoorde op klein stukkies gompapier te skryf en agter op die nors rûe van die boeke vas te plak, het ek gevoel hoe die buitebande van die boeke met my wit jas saamsweer – hulle die dinge, gemeensaam bymekaarpassend, stom, teenoor my die vreemdeling. Die wêreld het weer betekenisloos geword. Ek het my soggens gewas, geskeer, aangetrek, deur die ritueel van ontbyt geploeter en daarna vir die trem gewag, maar in werklikheid kon dit my min skeel of ek Dewey-nommers op die boeke plak of stukkies koerantpapier, of die trem betyds is en of ek ’n uur moes wag. As ek ooit ’n uur moes wag, sou ek teruggegaan het na my kamer toe en die res van die dag nie by die biblioteek opgedaag het nie. Maar dit het nooit gebeur nie, ek was elke oggend betyds by die Instituut. En elke middag het ek na die winkel op die hoek van die grag gegaan, ’n pakkie sigarette gekoop en dan weer teruggery kamer toe.

    ’n Mens reis altyd met jouself saam, jy bly doodeensaam jý, en reis kan dit nie genees nie – dit was my reisfilosofie, maar tog moes ek iets doen. Ek het die motor laat smeer en begin toer.

    In die Swart Woud het ek aande lank geluister na die gesels van die boswerkers en ek het hulle beny dat hulle só opgewonde kon raak oor die eendjag elke Saterdagmiddag dat hulle twee, drie aande vantevore al oor niks anders wou praat nie. Die meisie agter die kroegtoonbank het bruin oë gehad soos dié van ’n wildsbok en sy het nooit lank na dieselfde klant gekyk nie, net die bierbeker volgemaak, die skuim bo-op met ’n beenmessie afgeskraap en dan weer onrustig agter die tapkas begin rondloop. Ek het met haar probeer praat, maar sy was bang – miskien ken sy alleenreisigers. Ons het almal ’n matelose behoefte aan troos.

    Die afgematheid wat ek in my spiere en in my gedagtes gevoel het, terwyl ek die tentpenne in die sagte grond inslaan, was nie net van die dag se ry nie. Nie net fisieke moegheid nie. Onder die kraan waar ek gaan water tap het om koffie te maak, het klein insekkies om en om geswem, belaglik simbolies, leweloos soos die poskaartson wat agter my teen die berghang die denne aan hulleself oorlaat tot God mag weet wanneer, miskien die volgende dag as daar geen wolke is nie.

    Laer af teen die hang, na die rivier se kant toe, het ek brandhout gaan soek, want dié wat op die kampeerterrein was, is deur vorige besoekers opgebrand. Op die vuurmaakplek het die as gelê, en ’n half uitgebrande Zeitung. Behalwe ek was daar dié aand niemand nie. Die eerste tak waaraan ek gebeur het, het maklik gebreek, maar die tweede was nog met groen hout aan die stam vas. Ek het daaraan gehang, skielik die drang gekry om my bene op te trek tot oor die dwarshout en kop onderstebo te hang. Maar toe ek dit doen, het die belaglikheid daarvan my verhoed om lank só na die rivier te hang en kyk, na die kasteel aan die oorkant en na die Rynboot wat, helder geverf en verlig, om die verste draai verskyn het. Uit die misrigting anderkant die dennebome op die oorkantste wal het ’n koue wind opgesteek.

    Toe het ek die hout opgetel, ’n magtelose opmerking gemaak oor die natuur en daaraan gedink dat ek die tent moes draai sodat die flappe nie in die nag raas nie.

    Maar voordat ek kon terugstap, het ek haar gesien lê, ’n alleen-figuurtjie op die wit sand langs die water. Daar was iets aan die manier waarop sy gelê het – maar nee, miskien is dit net die feit dát sy daar gelê het, miskien las ek die manier van lê by in my verveelde verbeelding. Die son het nie meer geskyn nie.

    Eers het ek my nie aan haar gesteur nie, maar terwyl die swart-gebrande ketel ’n wit pluim uitblaas en ek met genoeë toesien hoe die oorblywende stuk van die koerant swart verskrompel, het ek weer aan haar gedink. Miskien is sy ook alleen. Miskien kan ek haar ompraat om hier by die vuur te kom sit. ’n Mens kan praat. Dit bly nog oor … En égte verveling wat ’n réde het, as sy niks sou hê om te sê nie.

    Sy het nog daar gelê met haar hande langs haar sye, haar kop skeef gedraai en haar strooihoed langs haar nek. Dit het my onrustig gemaak, want teen hierdie tyd was dit al skemer. Ek kon nog nét die paadjie kry waarlangs ek geloop het om die hout te gaan haal.

    ’n Entjie van haar af op die sand het ek gaan staan. Wat besiel my? Wat het ek met haar te doen? Ek kan met haar gesels. Miskien ontstaan daar selfs ’n verhouding tussen ons en besluit sy om verder saam te toer. Maar wat maak dit saak? Onno het nog die lus om telkens weer en weer verhoudings aan te knoop, al weet hy by voorbaat hy sal daar niks meer uit kry as seer en hartuitvreet nie. Meerkatte op Verneukpan. Blindemolle in die Duineveld. Ons het ons ideale van God mag weet wat ook …

    Sy móét my gehoor aankom het, want die wind het van my kant af gewaai en oral op die sand het droë takke gelê waarop ek met opset getrap het. Maar sy het nie beweeg nie. Daarom het ek nader geloop.

    Ek was al bý haar toe ek agterkom dat sy my die hele tyd doodstil onder die rand van haar hoed uit lê en bekyk, asof sy droom en ek in haar droom uit die mis uit opdoem. Dit is die beste wat ek daarvan kan maak.

    Ek het ’n vuurtjie hier bo in die kamp aangepak. Miskien het jy lus om ook daar te kom sit, dit word koud, het ek gesê en na die rugsak langs haar gekyk.

    Sy het haar omgedraai, toe haar hare met ’n lui beweging oor haar skouers gegooi en lank na my gekyk voordat sy geantwoord het.

    Ek hou van die rivier, het sy gesê. Kyk … Maar ek het nie na die rivier gekyk nie, ek het na haar gekyk en vaagweg gewonder waarom ek nie teleurgesteld is met haar só stereotiepe gebaartjie nie. Haar vel was onnatuurlik wit, haar hare swart in die skemer en haar oë die ligter blou van die lug agter die kampeerplek. Op haar hare agter haar nek het haar strooihoed ’n soort dans van sy eie gedans in die wind. Toe sy weer haar gesig na my toe draai, het ek gedink aan ’n beeldjie wat ek in Griekeland in ’n ruïne teëgekom het.

    Nie na my nie, na die rivier!

    Toe lag ek. Die eerste maal in ’n lang ruk het iemand my gedagtes gelees en ek wou haar verwelkom soos ’n mens iemand verwelkom in ’n ou huis waarin jy lank alleen gewoon het.

    Ek sal kom, maar ek hét kos hier in my sak. Jy hoef nie te dink ek sal …

    My motor is vól kos, het ek joviaal geantwoord.

    Kom, en ek steek my hand uit om haar op te help, maar sy wip vanself op haar voete, vat haar handdoek en sak en begin aanstap na die voetpad toe.

    Hoe weet jy waar die tent staan? vra ek, want daar is ’n hele paar kampeerplekke langs mekaar op die wal van die rivier langs.

    Ek het jou vanmiddag al gesien, antwoord sy. Jy het kom hout haal en toe het jy kop onderstebo aan een van die boomtakke gehang. Ek het eers gedink dis ’n bobbejaan. Hoekom het jy nie kom swem nie? Ons kom swem later, nè? Sy steek vas en vat aan my arm, asof my belofte eers sou verseker dat sy saamkom. Nè? Ek hou van swem. Ek swem elke dag.

    Ek het belowe.

    In die kamp het sy haar hande oor die vuur warm gemaak, toe na die tent gekyk en gesê: Ek gaan eers ’n langbroek aantrek. Toe sy weer uitkom, het sy ’n silwerkleurige broek aangehad en ’n wit trui.

    Met ’n bekertjie koffie in haar hande en haar bene onder haar ingevou, het sy lank in die vuur gekyk en stadig gedrink voor sy weer gepraat het.

    Jy is eensaam, het sy gesê.

    Nou nie meer nie, ek het geselskap.

    Dis ’n soort siekte. Ek is ook eensaam. Maar as ek geswem het, vergeet ek daarvan. Ek hou daarvan as die water lou is, lekker lou. Iemand het eenmaal vir my gesê ek het nooit grootgeword nie, daarom hou ek daarvan as die water lou is. Dis soos voor mens gebore word. Ek wonder hoekom word mense só gebore? Visse word nie so gebore nie. Visse kom uit eiers uit. En hulle kan hulle lewe lank in die lou water rondswem as hulle wil.

    Visse is koudbloedig, het ek geantwoord. Miskien hou hulle weer daarvan om in lou water te swem.

    Nee!

    Ek het nie ’n romantiese geaardheid nie. Hierdie soort gesprekke laat my dink aan ’n tenniswedstryd. Dis ’n goeie vergelyking, want in ’n tenniswedstryd glip die bal partymaal by jou verby, en in so ’n gesprek is daar ook dinge waarvan jy later dink dat jy dit moet raak gehoor het. Maar dan het jy nie. Die manier waarop sy nee! gesê het, was so iets. Die aand daar het ek net gelag, maar as ek fyner geluister het, sou ek … Ek het nie, nie toe al nie.

    Waar kom jy vandaan? het ek gevra en die beker by haar gevat om weer vol te maak.

    Ons het nou net daaroor gepraat, het sy geantwoord en stilgebly asof die hele vraag daarmee beantwoord is.

    En jy?

    Waarom sou dit met my anders wees as met jou? het ek ligtelik gevra.

    "Dit moet anders wees, het sy geantwoord. Daar is nie twee mense wat dieselfde is nie. Vertel vir my hoekom jy vanmiddag ’n ruk na die ou kasteel gesit en kyk het. Waaraan het jy gedink? Ek is altyd geïnteresseerd daarin om te weet waaraan mense dink. Partymaal dink ek aan heeltemal niks, weet jy? Dan vra iemand vir my waaraan ek gedink het en dan sê ek niks, maar niemand glo ’n mens dan nie. Mense het baie vals geheime vir mekaar."

    Dan sal jy tog ook nie glo as ek vir jou sê ek het aan niks gedink nie. Die Weltschmerz het my beet. Nie heeltemal so romanties nie, maar kom ons hou dit maar daarby.

    Ek sal jou glo, ja, hoekom nie? Maar dan moet daar iets wees wat jou nié laat dink nie?

    Ek is moeg vir my eie gedagtes.

    Dis omdat jy nie geswem het nie. Partymaal word ek ook moeg, maar dan gaan swem ek. As ek uit die water uitkom, is daar altyd iets nuuts waaraan ek dink. Vanoggend weer. Ek het aan iets gedink waaraan ek nog nooit vantevore gedink het nie.

    Wat?

    ’n Mens is die enigste dier wat kan dink. Hoekom dink ’n mens dan partymaal glad nie?

    Omdat ’n mens nie altyd ’n mens is nie.

    Sy het verskrik opgekyk.

    Wat bedoel jy?

    Net wat ek gesê het.

    O.

    En later.

    Jy is goed vir my. Ek hou ook daarvan om iets vir ander mense te doen. Ek sal die kos gaan maak. Ek gaan nog water haal.

    Toe sy weg was, het ek my warm handpalms teen my ooglede gedruk en op my lip gebyt. Ek het eenmaal dae aanmekaar deur die bar noordelike gedeelte van Griekeland rondgeswerf en oplaas Athos, die heilige berg, besoek, waar vir honderde jare nooit ’n vrou toegelaat is nie. Die priesters het my vriendelik onthaal en onderdak verskaf, maar ná twee dae het ek hulle tot siens gesê en alleen teen die berg afgedaal, na die hawetjie toe, waarvandaan ek ’n boot Thessalonika toe wou haal.

    Die gevoel dat daar in hierdie gedeelte van die wêreld nooit werklik léwe was nie, dat die natuur ’n treurige grap gemaak het, het al hoe sterker geword. Naby die hawetjie, na die berg se kant toe, het ek op ’n ruïne afgekom, waar ’n ou man die opsigter was. Dis in hierdie ruïne dat ek die beeldjie opgetel het waarvan ek vantevore al vertel het, ’n klein terra-cottafiguurtjie. Toe ek met die beeldjie in my hand om my rondkyk, het die ruïne tóg begin lewe: hier was miskien ’n slaapkamer, dan was dit die gang daardie, en verder aan nóg ’n kamer. Hier het eers mense gewoon, met die weerloosheid van mense, en hulle het vol paradysnostalgie dié beeldjie nodig gehad in die eindelose vaal dae.

    Nou laat die Ryn-meisie my aan die beeldjie dink. Ek het nog net ’n paar woorde met haar gepraat, gemeenplase, eintlik niks, maar ons het al oneindig baie vir mekaar gesê. Ons het geskerts, ons het met mekaar die spel van die weerloses gespeel.

    Die klam mis het teen hierdie tyd al oor die kampeerplek begin toesif. Ek het opgestaan en die tent gaan omdraai, en toe ek aan die seil vat, het ’n paar druppels afgerol en geluidloos in die gras geval. Water, gras, ’n tentseil. Waarom was ek verbaas (kan ek dit só noem) dat daar sulke dinge bestáán? In my keel het ’n knop gekom en ek het skielik baie dinge gehad om met haar oor te praat. Sy het stil by die waterkraan gestaan en kyk na die water wat al oor die rand van die ketel stroom.

    Dis mooi, nè? is al wat sy gesê het.

    Is daar waar jy vandaan kom ook ’n rivier soos hierdie, en ’n kampeerplek? het ek weer skertsend begin.

    Sy het opgekyk, gelag, en toe gesê: Kom ons gaan eers swem. Toe.

    Ek het my hand uitgesteek en ons het saam gesoek na die bopunt van die voetpaadjie tussen die nat struike. Onder ’n boom het sy gaan staan en ek het haar nader getrek.

    Ek is bang, het sy skielik gesê, en ek kon voel dat sy bewe.

    Hoekom?

    Ek weet nie, maar nou toe ek na die ketel gestaan en kyk het, het ek bang geword. Daarom het ek gesê dis mooi. En ek het dit bedóél. Is dit nie snaaks nie?

    Kom ons gaan terug kamp toe.

    Nee!

    Ons het gaan sit. Deur die takke kon ons die rivier en die kasteel aan die oorkant sien. Maar dit het anders gelyk as die agtermiddag. Daar was nou iets ligs aan, iets broos, asof dit die soort rivier en die soort kasteel is wat ’n mens in ’n droom sien.

    Ek weet nie, maar alles wat ek wil sê, is al so oud, het ek beken. En tog wil ek dit sê omdat dit skielik vir my nie meer oud is nie. Ek wil byvoorbeeld vir jou vertel dat die rivier daar onder die Ryn is. Dis ’n mooi naam vir ’n rivier.

    Kom! Haar beslissing was skielik asof sy bang was dat ons albei iets sou agterkom waarvan ons weet, maar wat ons nie vir onsself wil erken nie.

    Op die sand het sy nie haar langbroek en haar trui uitgetrek nie. Ek het eers gedink sy wil net met haar voete in die water loop, maar sy het al hoe dieper ingestap. Ek wou haar waarsku, maar ek het nie kans gehad daarvoor nie, want die stroom is sterk en sy was al tot oor haar middellyf in die water.

    Kom!

    Die stroom is sterk!

    Kom!

    Iets in haar stem was só dwingend dat ek een gekke oomblik daaraan gedink het om haar te volg. Sy moet gesien het dat ek huiwer, want sy het my arm vasgegryp en my ingetrek. Die stroom het my gevat en sy het tot teenaan my gespartel. Ek het my balans verloor en ons het onder die oppervlak verdwyn.

    Kom! Dit was asof ek onder die water haar stem nóg kon hoor. Ek het ’n oomblik willoos gedryf en haar langs my gevoel, maar toe skielik pak ’n redelose angs my. Vreemd, ek het aan die ou man, die ruïne-wagter, gedink, en aan die beeldjie, maar toe voel ek haar weer aan my ruk. Ek het probeer swem, maar my klere was nat en swaar. In my ore het dit begin suis. Buigende beelde van die meisie by die vuur en dié van die vuur self het voor my oë gevou en daaragter was ’n ligte blou, soos die oë van …

    Om my bene het vinne geskuur. Ek het my klere losgesukkel en paniekerig met my bene geskop om my kop bo water te kry. Ek weet nie hoe lank ek nie kon asemhaal nie, maar toe ek skielik weer lug in my longe kon intrek, het ek daarna gehap soos ’n vis.

    Baie later het ek op die sand bygekom, maar ek het nog gevoel asof ek op die bodem van die rivier lê. Toe het die wind ’n los tak tot teen my gewaai en ek het na my asem gehyg, terwyl ek skaamteloos huil.

    By die kampeerplek het ek tot die volgende oggend langs die vuur gesit, en kort-kort die kole in die as aangeblaas.

    Elke reisiger bly homself, en reis kan dit nie genees nie, het ek eers gedink. En dis waar.

    Maar soms op ’n reis belewe ’n mens iets gevaarliks én iets waaragtig moois, en daarna is jý nooit weer dieselfde mens nie.

    Een vlees

    Die skommeling van die waentjie het al só deel geword van hulle dat hulle dit snags op die dorpsmeente of by die uitspanplekke in die veld ook kan voel. Soos die son op hul gesigte. En die wind.

    Maar van die verlatenheid kom sy minder agter as hy. Sy is altyd iewers in die buurt. As hy skêre en messe slyp, gooi sy die water op die steen. As hy gaan brandhout soek, kan sy hom hoor. Saans sit sy langs hom by die vuur. Sy is min alleen met haar gedagtes en met haar gevoelens, want daar is altyd nog syne ook. Wat in hom omgaan, weet sy, soos hul liggame saam weet van die sinkplaat en die gate in die pad.

    Al bly hy ook stil.

    As hy stilbly, weet sy dit beter.

    Soos vandag die hele dag al. Hy het vanoggend so opgestaan.

    Ons sal vanaand daar wees.

    Dis al wat hy gesê het. Daar – dit beteken altyd ’n ander dorp.

    Voordat hulle vanmiddag geëet het, het sy hom agter die waentjie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1