Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal
Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal
Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal
Ebook920 pages12 hours

Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Piekfyn Afrikaans Graad 7 is gemik op leerders wat Afrikaans as Huistaal neem. Dit bevat interessante en kontemporêre leerstof en piekfyn illustrasies om jou visuele geletterdheid te ontwikkel. Al die taalinhoud, aktiwiteite, speletjies en ander oefeninge word met dié van ander vakke geïntegreer sodat die kennis wat jy opdoen, jou ervaringswêreld verryk en jou sodoende deeglik voorberei vir graad 8.

Die aktiwiteite is gerig op jou verwerwing van al die taalvaardighede en lewensvaardighede. Kort tekste, prente, gedigte, strokies, woordspeletjies, slagspreuke en hope ander lekkerlees en doendinge is jou voorland. Omrede jy self, saam met maat of in groepe jou en ander se werk gaan assesseer, bly jy deurgaans op hoogte van jou vordering. Jy word deurlopend blootgestel aan luister, praat, lees, kyk, skryf en jy word uitgedaag om Afrikaanse taalstrukture speels, kreatief, vloeiend en ekspressief te gebruik. Afdelings soos Pitkos, In ʼn neutedop en die piekfyn Indeks gaan jou voorbereiding vir enige soort taak seepglad laat verloop.

Geniet ʼn Piekfyn-leerervaring!
LanguageAfrikaans
PublisherBest Books
Release dateOct 31, 2013
ISBN9781770029439
Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal
Author

Rina Lamprecht

Rina Lamprecht is 'n oudonderwyseres en samesteller en outeur van Afrikaanse handboeke en taaltekste. Sy is veral bekend as samesteller van die Piekfyn Afrikaans Huistaal-reeks vir Graad 4-9.

Read more from Rina Lamprecht

Related to Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal

Titles in the series (22)

View More

Related ebooks

Related articles

Reviews for Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht

    4692.png

    Piekfyn Afrikaans

    ’n Geïntegreerde taalteks

    Graad 7

    Huistaal

    Leerderboek

    Rina Lamprecht, Annette Ligthelm, Marietta Murray, Magdel van Tonder, Sylvia Plaatjies, Venetia Cavernelis

    BB-NBlogo.jpg5236.jpg

    Liewe leerder

    ’n Nuwe jaar en nuwe uitdagings – welkom in Graad 7. Ons weet jy gaan weer elke oomblik geniet om met Piekfyn Afrikaans te werk.

    Jy gaan tipiese tiener- en meer volwasse kwessies ontleed, interpreteer, verduidelik, beskryf en saamvat in vloeiende en gevoelvolle Afrikaans. Die doel van hierdie boek is om jou op ’n sistematiese wyse deur al die werk vir die jaar te begelei. Die modules dek al die werk vir die jaar, asook al die assesseringstake wat van jou vereis gaan word. Jy gaan baie luister, praat, lees en skryf en deurlopend taalstrukture inoefen en korrek toepas. Werk al die aktiwiteite deeglik deur sodat jy teen die einde van die jaar met skitterende punte Graad 8 kan betree.

    Om jou te help met hersiening en voorbereiding is In ’n neutedop, Pitkos, die Letterkundegids en die Taalgids spesiaal geskep om jou kennis van taalstrukture, lees- en skryfprosesse en letterkunde ’n hupstoot te gee. Verder is daar vraestelle wat jy kan gebruik om jouself vir die halfjaar- en die jaareindeksamen voor te berei. Die Indeks gaan jou ook help om blitsvinnig die betekenis, voorbeelde en toepassings van verskeie taal- en literêre begrippe op te spoor.

    Geniet Piekfyn Afrikaans Graad 7.

    Die samestellers

    5559.jpgmodule_header-1.jpg

    Ons begin die jaar met twee volksverhale – een vir luister en een vir lees.

    Jy leer die kenmerke van ’n literêre teks, beskou ’n sepieteks en kameraskote van nader en werk in groepe saam om probleme op te los.

    Saam met al die tekste en opdragte draf jy selfstandige naamwoorde, byvoeglike naamwoorde, klankleer, afkortings, akronieme en verkortings kaf. Afrikaans is ’n interessante en lewendige taal en die vrae gaan jou help om jou opdragte net so lewendig uit te voer.

    Jy gaan ook leeswerk doen wanneer jy die gedig Fabel van D.J. Opperman in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek as wegspringplek gebruik om navorsing te doen.

    5886.jpg13542.jpg

    In hierdie aktiwiteit gaan jy

    luisterbegrip doen.

    Luister na ’n fabel en beantwoord vrae

    Hier is die riglyne wat jy moet volg

    ’n Fabel gaan een keer voorgelees word sodat jy ’n geheelbeeld kan kry. Jy mag geen notas maak nie.

    Daarna gaan die onderwyser die vrae saam met die klas deurlees. Die vrae gaan jou help om agter te kom wat belangrik is, sodat jy weet waarna jy moet oplet as die fabel vir ’n tweede maal voorgelees word. Jy mag nog steeds geen aantekeninge maak nie.

    Wanneer die onderwyser die luisterteks weer voorlees, mag jy notas op ’n aparte stuk papier maak. Skryf neer wat is hoofgedagtes en wat is bygedagtes.

    Hierna moet jy die vrae skriftelik beantwoord.

    Vrae

    1. Wie is die hoofkarakters van die fabel? (2)

    2. Skryf die gebeure in die storie in vier kort sinne neer. (4)

    3. Albei die karakters in die storie word deur mense as slim beskou. Watter een is die slimste in die verhaal? Hoekom sê jy so? (2)

    4. Wat het die jakkals gedoen om die kraai se aandag te kry sodat die kraai na hom luister? (1)

    5. Hoekom het die kraai sy bek oopgemaak? (1)

    6. ’n Fabel leer dikwels vir ’n mens ’n les. Watter les kan ’n mens hieruit aflei? (1)

    7. Dink jy hierdie les is vandag op ons ook van toepassing? Hoekom/hoekom nie? (1)

    8. Waar dink jy speel hierdie storie af? Hoekom sê jy so? (1)

    9. Aan watter van die twee karakters se kant is jy? Verduidelik jou antwoord. (2)

    Totaal: 15 punte

    Hervertel die storie aan ’n maat

    Julle het nou twee keer na die verhaal geluister. Kan jy die inhoud in die regte volgorde oorvertel? Vertel die storie aan ’n maat. Jou maat moet mooi luister en jou reghelp waar nodig. Dan is dit weer jou maat se beurt om oor te vertel. Let veral op:

    Die karakters en die volgorde waarin hulle praat moet reg wees.

    Die volgorde van gebeure moet ook reg wees.

    13794.jpg

    In hierdie aktiwiteit gaan jy

    ’n verhaal prelees en die leesproses volg

    leesbegrip doen

    selfstandige naamwoorde en byvoeglike naamwoorde identifiseer en toepas.

    Wanneer ons lees, volg ons die volgende prosedure. Gaan die verskillende stappe van die leesproses met jou onderwyser deur.

    Pitkos

    Die leesproses

    Prelees

    Voordat ons begin lees, gesels ons oor die teks en kyk na illustrasies, prente, die titel, subtitel en ander opskrifte – ons maak afleidings.

    Ons vluglees en soeklees tekskenmerke en hoofgedagtes.

    Ons maak voorspellings.

    Tydens lees

    Lees aandagtig om die inhoud te verstaan.

    Maak afleidings en bepaal die betekenis van onbekende woorde.

    Herlees en visualiseer die inhoud.

    Lei betekenis af en vra vrae.

    Som hoof- en ondersteunende gedagtes op.

    Postlees

    Vluglees en soeklees om vrae te beantwoord en afleidings en gevolgtrekkings te maak.

    Ontwikkel kritiese taalbewustheid, soos om te onderskei tussen feite en menings, direkte en geïmpliseerde betekenis raak te sien, te vergelyk en afleidings en gevolgtrekkings te maak.

    Prelees die volgende verhaal saam met ’n maat

    Lees die titel van die verhaal – wat beteken dit? Gee voorbeelde van ’n boodskap.

    Lees die subtitel – wat kan julle alles daaruit aflei?

    Kyk na die illustrasie by die verhaal – noem twee moontlike karakters in die verhaal.

    Waaroor dink julle gaan hierdie storie?

    Lees die verhaal saam met jou onderwyser deur.

    Die boodskap

    oorvertel deur George Weideman

    ’n Nama-variasie op die tema van hoe die dood in die wêreld gekom het.

    Dis die storie van Volmaan, Luis en Haas, en die boodskap wat Maan lank, lank gelede aan die mense gestuur het.

    Dit was nie sommer só ’n boodskap nie! Nee, dit was ’n baie belangrike boodskap. Want kyk, Maan gaan mos nie regtig dood nie. Sy kom weer; dit sien ons elke keer met volmaan. En vir die mensekinders wou Maan laat weet: Net soos ék doodgaan, maar weer lewe, so sal julle ook doodgaan, en weer lewe.

    Die_boodskap.psd

    Maan moes ’n boodskapper kry om die belangrike boodskap na die mense te bring, en dié boodskapper moes klein wees, en vinniger as vinnig. Ná wik en weeg besluit sy op Luis. Want sy het geweet Luis, die luiaard, sit net in ’n bossie se skaduwee en wag tot ’n boklam of die bokwagtertjie daar verbykom. Dan spring hy op en ry saam na die takkraal toe, daar waar die vure is, en dan is die boodskap sommer gou-gou by die mense. So, Luis het die boodskap gekry om te dra.

    Maar ongelukkig is Luis nie net lui nie – hy sien ook nie te goed nie.

    Toe Luis van Maan af weggaan met die boodskap, was dit nog nag. Hy het onder die eerste die beste graspol ingekruip. Daar het hy sy kans afgewag: kom staan ’n bok teenaan die graspol, dan het hy ’n ryding en dan is die boodskap so goed as by die mense.

    Toe die eerste skaduwee oor die graspol val, glip Luis uit, klim teen die skeenbeen voor hom op en klou vas. Maar aiiii . . . Luis het hom vreeslik misgis. Terwyl hy nog die boodskap oor en oor opsê sodat hy dit nie straks vergeet nie, raak die grond weg onder hom, en die tkaubome en die melkbosse raak klein onder hom.

    En toe sien hy eers: die bok het nie hare nie, maar vere. En toe hoor hy: kelkiewyn-kelkiewyn! Daar gaan sit die kelkiewyn anderkant die verste melkbos, en sy skud haar vere, en Luis trek met ’n boog deur die lug tot onder ’n biesiepol.

    Daardie aand stoot Maan haar kop tussen die melkbosse op die horison deur om te kyk of die mense al dans van vreugde oor die goeie boodskap. Maar dis stil, die vure brand laag en aan die gehuil van die kinders kan sy hoor iemand is weer baie siek. Toe weet Maan Luis het nog nie die goeie boodskap afgegee nie.

    Die derde dag, toe Luis tot bo in ’n volstruisdruiwebos klim, kom knabbel Haas aan die vet blaartjies. En Luis vertel hom van sy moeilikheid.

    Haas, wat baie nuuskierig is, wil dadelik weet wat die boodskap is. En Luis sê dit vinnig op: Net soos ék, Maan, doodgaan, maar weer lewe, so sal julle ook doodgaan, en weer lewe.

    Aha, dink Haas, dis so ’n vername boodskap . . . as ék dit aan die mense bring, sal ek Maan se guns wen. En hy bied terstond aan om Luis tot by die werf te vat.

    Maar hulle is skaars tot by die verste melkbosse of Haas skud sy karos links en regs in die wind – en daar trek Luis. En voor jy kan sê een-jakkals-het-’n-skewe-agterpoot! sê Haas gee pad voor, en hy roei so al wat hy kan werf toe om die boodskap vir die mense te bring.

    Maar waar Luis bysiende is, is Haas kortsigtig. Hy dink net aan die roem wat hy gaan verwerf met die vername boodskap. Hy sê nie die boodskap oor en oor op soos Luis sodat hy dit kan onthou nie, hy hol net dat sy ore en sy witkwasstertjie wip-wip oor die klippers en die graspolle.

    Maar aiiii, toe hy uitasem op die werf aankom, kan Haas nie die boodskap presies onthou soos Luis dit opgesê het nie. Hy sê dit oor en oor, maar hoe meer hy dit opsê, hoe meer raak die woorde deurmekaar.

    Vaal van die stof slaan hy op die werf neer en dit is die boodskap wat hy vir die mense gee: Net soos ék, Maan, doodgaan, en dood bly, net so sal julle ook doodgaan, en heeltemal vergaan.

    En die hele werf se mense gaan aan die weeklaag en hulle gooi sand en as oor hulle gesigte, en op dié oomblik blaas die baie, baie, baie siek man sy laaste asem uit.

    Toe Maan dié aand deur die verste melkbosse kyk, sien sy nie eens ’n enkele stomp hout brand nie. Die hele werf is verlate. Die takkraal is leeg. Daar is nie ’n sterfling te sien nie.

    En toe sy nader gaan, sien sy Luis nêrens nie, maar Haas dwaal nog daar by die vuurmaakplek rond en sê die verkeerde boodskap oor en oor op.

    Toe word Maan baie kwaad. Sy gryp ’n stuk uitgebrande stomp en slaan vir Haas deur sy gesig.

    Haas skrik so groot dat hy sy karos in die as van die vuurmaakplek laat val. Hy raap dit op en slaan Maan daarmee deur die gesig.

    Van toe af het Haas ’n gesplete lip, en die vaal asmerke lê vandag nog oor Maan se gesig.

    (Verkort uit: Die Madiba-boek. Tafelberg. 2002)

    7194.jpg

    Leer meer van literêre tekste voordat julle die vrae beantwoord. Raadpleeg ook die Letterkundegids agter in die boek.

    15519.png

    Wat jy moet weet van ’n literêre teks

    Die volksvertelling

    Dit is ’n verhaal wat nie altyd regtig gebeur het nie en die verhaal is van ouer na kind, van geslag tot geslag, oorvertel.

    Die trant en styl van ’n teks word beïnvloed deur ’n paar dinge:

    Waarvoor die teks bedoel is (sy doel). Is dit om mense te vermaak of om hulle te leer? In die geval van volkverhale is dit albei.

    Vir wie die teks bedoel is (die teikengroep). Is dit geleerde mense/bejaardes/tieners/kleuters?

    Intrige/verhaalplan

    Dit is die reeks gebeurtenisse in ’n storie wat help om die spanning op te bou tot die hoogtepunt. Die spanning word dan ontlont in die ontknoping.

    Karakters

    Die persone wat in ’n storie optree, word die karakters genoem. Daar is gewoonlik een of twee wat die belangrikste is. Ons noem hulle die hoofkarakters.

    Ruimte

    Dit is die agtergrond (die ruimte) waarteen ’n verhaal afspeel. In hierdie geval is dit ’n verhaal wat in die bos afspeel, en die karakters is almal deel van die natuur. Hulle kan praat en redeneer. Baie dinge is dus moontlik.

    Tyd

    Dit is die tyd waarin ’n verhaal afspeel. Dit is belangrik, want dit verduidelik vir die leser hoe mense gedink het. Hierdie verhaal verduidelik aan die leser hoe mense vroeër natuurverskynsels probeer verklaar het.

    Die tema van ’n gedig of ’n verhaal is die stukkie waarheid oor die lewe wat ’n mens in die verhaal of gedig raaksien.

    Die vertelperspektief

    Dit verwys na die siening van die verteller oor gebeure in die verhaal. Die verteller beïnvloed die leser omdat positiewe of negatiewe gevoelens deur middel van die verteller aan die leser oorgedra word.

    In hierdie verhaal kry ons ’n alomteenwoordige verteller. Die verteller staan buite die verhaal en vertel bloot die gebeure. Die verteller is nie emosioneel betrokke by gebeure nie en vertel net bloot wat hy weet/sien.

    Die titel en subtitel

    Die titel is die naam van die verhaal of gedig.

    Die subtitel is die gedeelte wat net onder die titel (opskrif) van die verhaal of gedig staan. Dit lyk soos ’n tweede titel en gee die leser meer inligting oor die gedig. Dit word gewoonlik skuinsgedruk.

    Leesbegrip

    Lees die verhaal weer ’n keer op jou eie deur en beantwoord die vrae.

    1. Noem die name van die belangrikste karakters in die verhaal.

    2. Wat was die boodskap wat Haas aan die mense moes gee?

    3. Watter boodskap het hy uiteindelik aan hulle gegee? Hoe verskil dit van die boodskap wat hy eintlik moes gegee het?

    4. Wat dink julle bedoel die verteller as hy sê dat die Maan nie regtig doodgaan nie. Waarna verwys hy?

    5. Hoekom dink die maan dat Luis eintlik lui is?

    6. Hoe het Haas vir Luis bedrieg (gekul)?

    7. Hoekom het Haas vir Luis bedrieg? Wat sou hy daardeur wen?

    8. Waarna verwys die titel van hierdie storie?

    9. Hoe help die subtitel die leser om die storie beter te verstaan?

    10. Hierdie storie verklaar twee dinge: waarom ’n haas ’n gesplete lip het en waarom daar sulke snaakse merke op die maan is. Verduidelik hoe dit gebeur het.

    11. Aan wie se kant is jy in hierdie storie? Verduidelik waarom.

    12. As jy ’n kleuter van so 100 jaar gelede was wat na grootmense se stories saans om die vuur geluister het – sou jy hierdie storie geglo het? Hoekom/hoekom nie?

    Bestudeer In ’n neutedop voordat jy die taalvrae beantwoord. Kyk ook na die Taalgids agter in die boek.

    15519.png

    Selfstandige naamwoorde

    Selfstandige naamwoorde het meervoud en verkleining, byvoorbeeld: man – manne, mans, mannetjie; vrou – vroue, vrouens, vroutjies; fanatikus – fanatikusse, fanatici, fanatikussie.

    Selfstandige naamwoorde is onder andere die name van plekke, diere, dinge, mense, plante, houdings en gevoelens, byvoorbeeld: Loftus, hond, sokkerbal, tennis, Gavin, varing, liefde.

    Selfstandige naamwoorde van mense en diere het ook manlike en vroulike geslag, byvoorbeeld: speler – speelster; haan – hen.

    Die lidwoorde ’n en die kan altyd voor ’n selfstandige naamwoord gebruik word, byvoorbeeld: Die seun skop ’n sokkerbal.

    Verkleining in Afrikaans word gewoonlik deur die agtervoegsels -tjie, -jie, -pie, -ie, -etjie en -kie aangedui, byvoorbeeld: deuntjie, blommetjie, boompie, rokie, ringetjie, woninkie, ma’tjie, oupatjie. In baie gevalle word die woord klein saam met die verkleinwoord gebruik

    Meervoude in Afrikaans kom voor by selfstandige naamwoorde. Meervoude word aangedui deur agtervoegsels soos -e, -s, -ere, -ers, -ens, -’s, -te of -de aan te las by die selfstandige naamwoorde. (Onthou dat nie alle selfstandige naamwoorde ’n meervoudsvorm het nie, byvoorbeeld: water, haat, yster, goud.)

    Die volgende selfstandige naamwoorde word in Afrikaans onderskei:

    Soortname: My familie, die stad, ’n spotprent, die orkes

    Versamelname: bos blomme, bundel verhale, string pêrels

    Eiename: Frans, Fanie, Esterhuizen, Brittanje

    Abstrakte selfstandige naamwoord beskryf emosies soos liefde, haat, woede, hartseer of toestande soos ongemak, armoede

    Massaname is die name van items wat moeilik getel kan word, byvoorbeeld: uraan, goud

    Byvoeglike naamwoorde

    Hierdie woordsoort beskryf ’n selfstandige naamwoord. Ons beskryf byvoorbeeld ’n strokie as ’n oulike strokie. Ons kan ook sê dit is ’n vervelige strokie; ’n kleurryke strokie.

    Die byvoeglike naamwoord kan gebruik word in die intensiewe vorm, byvoorbeeld: baie swart – pikswart, baie koud – yskoud. Intensiewe vorme word altyd as een woord geskryf.

    Trappe van vergelyking word gebruik wanneer twee of meer dinge met mekaar vergelyk word, byvoorbeeld: Victor is moeg, Schalk is moeër, maar Morné is die moegste.

    As twee dinge met mekaar vergelyk word, word die vergelykende trap gebruik (mooier).

    Die oortreffende trap word weer gebruik as meer as twee dinge vergelyk word (die mooiste). Die lidwoord die word altyd saam met die oortreffende trap gebruik.

    Onthou: As die byvoeglike naamwoord op ’n -s eindig, verdubbel die s, byvoorbeeld: Ek is vies, maar hy is die viesste van ons drie.

    Meerlettergrepige woorde wat op ’n -e eindig, kry meer en mees vooraf, byvoorbeeld: Die Kiwi’s is opgewonde, die Italianers is meer opgewonde, maar die Spanjaarde is die mees opgewonde.

    Belangrik: Jy kan nie meer en mees saam met woorde gebruik wat reeds in trappe van vergelyking gebruik is nie. Die volgende is verkeerd: Dit was die mees snaaksste grap wat ek al gehoor het.

    Die byvoeglike naamwoord het dikwels ’n letterlike en figuurlike betekenis. Wanneer ons sê: Die arme speler het vergeet dat hy ’n wedstryd speel, beteken die woord arme nie dat hy sonder geld sit nie. Dit het hier figuurlike betekenis. Somtyds word ’n byvoeglike naamwoord só gebruik dat die letterlike én figuurlike betekenis van toepassing is.

    Die byvoeglike naamwoord word ook verbuig. Ons sê die busbestuurder is roekeloos, maar ons praat van ’n roekelose busbestuurder. Die Springbokspeler is jonk en die span het ’n jong spanbestuurder.

    Beantwoord die volgende taalvrae.

    1. Skryf die meervoud van die skuinsgedrukte woorde:

    a. Daar was twee verskillende boodskap.

    b. Luis het na verskillende takkraal gery.

    c. Daar was baie moeilikheid by die kraal.

    2. Skryf die verkleining van die skuinsgedrukte woorde neer:

    a. Stuur vir my ’n boodskap.

    b. Luis het maar dun bene.

    c. Hulle het fyn sand oor hom gegooi.

    3. Skryf drie eiename neer wat in die verhaal gebruik word.

    4. Skryf die regte vorm van die skuinsgedrukte woorde neer:

    a) Die/’n diere was b) intensiewe vorm van kwaad vir Haas omdat hy die c) verkeerd boodskap gebring het. Dit was d) baie donker buite en die e) ongelukkig mense het vir f) goed nuus gewag.

    Hulle het al baie lank gewag, maar kon nie g) lank wag nie. Dit was die h) lank wat hulle nog gewag het. Hy moes i) intensiewe vorm van vinnig die boodskap vir die mense bring, want ’n man was j) intensiewe vorm van siek.

    Uiteindelik het net ’n k) leeg takkraal oorgebly. Haas het ’n l) duur les geleer, want die m) pragtig maan was n) intensiewe vorm van seker dat hy ’n o) moedswillig haas was.

    star.png

    Daaglikse assessering

    Sien julle antwoorde na volgens die onderwyser se memorandum.

    14069.jpg

    In hierdie aktiwiteit gaan jy

    kamerategnieke bespreek

    die verloop van ’n verhaal neerskryf

    die teenoorgestelde geslag deur middel van morfeme vorm

    klankgrepe, lettergrepe, spraakklanke en klankverskynsels identifiseer

    afkortings, verkortings en akronieme reg gebruik.

    Groepbespreking

    Ons is nie altyd bewus dat die kamera as ’n verteller gebruik kan word nie. Dink aan ’n rolprent wat julle onlangs gesien het. Bespreek die vrae wat volg – een van die groeplede kan notas maak.

    Hoe kan ’n kamera die rol van verteller speel?

    Wat kan ’n kamera wys of nie wys nie?

    Watter klanke beïnvloed die manier waarop jy na ’n rolprent kyk? (Onthou, rolprente is ’n kombinasie van beeld en klank en in hierdie kombinasie lê die betekenis.)

    Wat is die verskil tussen ’n regisseur en ’n vervaardiger?

    Gebruik ’n etimologiewoordeboek. Slaan die herkoms van die woord fliek na.

    Elke groep moet terugvoering aan die klas gee.

    Meer oor rolprente

    Waarom ontleed ons rolprente? Dikwels probeer ’n regisseur om iets te sê en hy gebruik sy rolprent om ’n stelling te maak. Dis ons werk om dit raak te sien en te identifiseer.

    ’n Regisseur gee die kyker sekere visuele leidrade wat jou oë moet volg. Om die waarheid te sê, dit word dikwels ’n avontuur om hierdie leidrade raak te sien. Maar dan moet jy weet hoe om daardie avontuur te geniet en waarna om te kyk!

    Een kamerabeweging wat ’n regisseur gebruik is om op ’n voorwerp of persoon in te zoem. Hier skep die lens die effek asof dit op die persoon of voorwerp in-beweeg.

    Die volgende drie raampies wys hoe op ’n voorwerp ingezoem word. Kyk daarna en beantwoord dan die volgende paar vrae op jou eie.

    9524.png

    1. Bestudeer die kameraskote wat deur middel van die foto’s hierna gedemonstreer word. Watter kameraskote is vir elke foto gebruik?

    Kameraskote:

    Hoë kamerahoek: ’n Voorwerp of persoon word van bo af gewys. Hierdie skoot dui gewoonlik op afsondering of dien as ’n soort oog wat van buite af na ’n toneel kyk.

    Lae kamerahoek: Die persoon of voorwerp word van onder af gewys. Dié skoot verduidelik dat ’n figuur/voorwerp die toneel en skoot oorheers.

    Mediumskoot: ’n Karakter se bolyf of ’n voorwerp se besonderhede word ingesluit sodat die kyker na gesigsuitdrukkings, lyftaal of detail kan kyk.

    Nabyskoot: Besonderhede word van naby afgeneem.

    Tweeskoot: Twee karakters word saam afgeneem.

    Vestigingskoot: Hierdie skoot skets die toneel vir wat volgende gaan gebeur met betrekking tot die tyd en plek.

    Vol nabyskoot: ’n Karakter of voorwerp word volledig van naby afgeneem. Die fokus is nou op gesigsuitdrukkings en besonderhede.

    Wyeskoot/langskoot: Die hele prentjie wys. Hierdie skoot wil veral afstand uitbeeld.

    9585.jpg

    2. Die filmbedryf maak van spesifieke terme gebruik. Kies die omskrywing in Kolom B wat pas by die term in Kolom A.

    Kameraman_en_regisseur.psd

    Voordat tonele verfilm word, beplan die regisseur elke kameraskoot noukeurig.

    Prelees drie kameraskote saam met ’n maat.

    Wat kan julle uit die drie sketse aflei?

    Watter atmosfeer word geskep? Gee ’n rede vir julle antwoord.

    Kan julle voorspel wat hier gaan gebeur?

    Toneel 1

    10369.jpg

    3. Watter soort kameraskote is in raampie 1 en 2 gebruik? Probeer uit die illustrasie aflei watter skoot gebruik is.

    4. Elke skoot het ’n bepaalde funksie. Watter tipe atmosfeer of boodskap dink jy wil die regisseur met die kameraskote skep of oordra in . . .

    a. raampie 1?

    b. raampie 2?

    c. raampie 3?

    5. Kies die korrekte antwoord: In raampie 3 fokus die kamera oor die skouer van ’n persoon. Hierdie skoot is dus ’n (perspektiefskoot/skouerskoot/nabyskoot).

    6. Wat sal die funksie van die tipe skoot in vraag 5 wees?

    Bestudeer die volgende voorbeeld van ’n televisie-draaiboekteks.

    Woordverklarings

    SFX: special effects

    A/S: audio sounds

    EPISODE 33

    Datum van opname: Maandag, 15 April 2014

    Uitsaaidatum: Maandag, 6 Desember 2014

    Skrywers: Annemie en Linda Lombard

    33/2 BINNE/LAATMIDDAG

    Dr. Edward is besig om kos te maak. Die briewe wat vasgebind is, lê langs die houtkissie op die eettafel.

    SFX: Weerlig en donderweer

    A/S: DAAR IS ’n GEKLOP AAN DIE VOORDEUR.

    1. ANDREW (VAN BUITE AF DEUR DIE DEUR) Dis Andrew, Meneer.

    2. DR. EDWARD (VERBAAS) Die deur is oop, Andrew.

    A/S KLANK VAN KRAKENDE DEUR EN VOETSTAPPE WAT NADERKOM.

    Wanneer Andrew inkom en sy hoed op die tafel neersit, sien hy die houtkissie en briewe wat op die tafel lê. Dit is duidelik dat hy presies weet waaroor dit gaan.

    Dr. Edward draai na die tafel met die borde in sy hand en sien die bekommerde uitdrukking op Andrew se gesig. Hy sit die borde op die tafel neer.

    3. DR. EDWARD (BEKOMMERD) Andrew? Is alles reg? Dit lyk of jy ’n spook gesien het.

    4. ANDREW (NIKSSEGGEND) Nee, Meneer, dis niks.

    Andrew gaan sit om te eet en kyk dan op na dr. Edward.

    5. ANDREW (ONDERSOEKEND) Waar het Meneer dié gekry? (Wys na die kissie en briewe.)

    6. DR. EDWARD Ek het die kissie in die skuur gekry en die briewe onder die vloer in die gastekamer.

    Andrew bedink hom en met ’n onskuldige uitdrukking op sy gesig probeer hy sy skuldgevoel wegsteek.

    BEGINTITELS

    Vrae

    7. Sepies word gewoonlik baie lank voor die werklike uitsaaidatum opgeneem. Hoe lank voor die uitsaaidatum is hierdie teks verfilm?

    8. Wie is die draaiboekskrywers van hierdie draaiboek?

    9. Wat is die tyd en ruimte waar hierdie toneel afspeel?

    10. In hierdie toneel kom twee karakters voor.

    a. Wie is die twee karakters in hierdie toneel?

    b. Watter karakter se hand, dink jy, is in raampie 3 op bladsy 12?

    11. Dit is episode 33 van die betrokke sepie. Waarna verwys die 33/2 in die raampie?

    12. Verskillende terme word gebruik wat spesifiek tot die rolprentbedryf is.

    a. Wat word met SFX bedoel?

    b. Watter twee klankeffekte kom spesifiek in hierdie toneel voor?

    c. Watter bydrae lewer hierdie effekte tot die atmosfeer?

    d. Wat word met die simbool © en die term kopiereg bedoel? Gebruik ’n woordeboek indien jy nie seker is nie.

    e. Wat beteken die woord rekwisiete? Gebruik weer ’n woordeboek.

    13. Rolprente kan in verskillende genres soos komedie, drama, avontuur, riller en spanning verdeel word. In watter genre sal jy hierdie draaiboekteks indeel? Gee redes vir jou antwoord.

    Skryf ’n verhalende paragraaf.

    Jy is nou ’n week in graad 7. Hoe het jy die laaste jaar van jou laerskoolloopbaan sover beleef? Wat was die lekkerste of die slegste ding wat hierdie week met jou en/of jou klasmaats gebeur het?

    Skryf ’n verhalende paragraaf van 100-120 woorde waarin jy hierdie gebeure vertel. Maak gebruik van die paragraafkonvensies en die stappe van prosesskryf wat in Pitkos verduidelik word.

    Pitkos

    Wanneer jy ’n verhalende paragraaf skryf, moet jy op die volgende let:

    Die inleidende sin vorm die kernsin van jou paragraaf.

    Hierna volg die ondersteunende besonderhede.

    Maak gebruik van verbindingswoorde om samehang aan jou paragraaf te gee.

    Die slotsin moet jou inhoud gepas afsluit.

    Maak gebruik van die stappe van prosesskryf:

    Preskryf

    Beplan jou inhoud – wat is die doel van jou paragraaf en wie is jou gehoor/teikengroep?

    Maak gebruik van ’n kopkaart of vloeidiagram om jou inhoud te orden.

    Skryf ’n konsep

    Skryf ’n eerste poging en lees dit krities deur.

    Kies beskrywende woorde wat ’n prentjie teken en die regte atmosfeer skep.

    Moet nie woorde herhaal nie, maak gebruik van sinonieme.

    Hersien, redigeer, proeflees en aanbieding

    Hersien dit self of gee dit vir jou maat om deur te gaan. Lees jou maat se skryfstuk.

    Lees versigtig. Let veral op sinskonstruksie en paragraafbou. Verander waar nodig.

    Let ook op na woordkeuse, spelling, leestekengebruik en algemene taalgebruik.

    Gee dit terug vir jou maat en maak jou eie foute reg.

    Skryf dit netjies oor en bied die teks aan.

    star.png

    Formele assessering

    Stel ’n kontrolelys uit Pitkos saam om jou maat se paragraaf te kontroleer. Jou onderwyser sal ’n rubriek aan jou aan jou gee waarvolgens jou aanbieding geassesseer gaan word.

    14317.jpg

    In hierdie aktiwiteit gaan jy

    geslagsvorme, klankgrepe, lettergrepe, spraakklanke, klankverskynsels, afkortings, verkorting en akronieme toepas

    ’n blokkiesraaisel voltooi

    ’n toespraak skryf en aanbied.

    Leer meer van geslagsvorme.

    Die vroulike vorm van regisseur is regisseuse. Geslag kan ook gevorm word deur verskillende agtervoegsels aan die stam te voeg. Lees In ’n neutedop aandagtig deur. Jy moet dit ken vir ’n klastoets.

    15519.png

    Selfstandige naamwoorde

    Geslag word by selfstandige naamwoorde aangedui deur:

    agtervoegsels

    -es: digter – digteres

    -e: eggenoot – eggenote

    -te: vir woorde wat eindig met -is: joernalis – joernaliste

    -aresse vir woorde wat eindig met -aris: bibliotekaris – bibliotekaresse

    -euse vir woorde wat eindig met -eur: regisseur – regisseuse

    -in: vriend – vriendin

    -ise: akteur – aktrise

    -ster: skrywer – skryfster

    -vin vir woorde wat eindig met -f: wolf – wolvin; slaaf – slavin

    aparte woorde te gebruik: pa – ma

    die woord vrou te gebruik: buurman – buurvrou

    dame of vroulike voor ’n woord te plaas: dokter – vroulike dokter

    Voltooi die volgende blokkiesraaisel deur die korrekte teenoorgestelde geslag vir die leidrade in te vul.

    11931.jpg

    Dit is vir akteurs baie belangrik om hulle woorde duidelik en korrek uit te spreek. Lees die volgende inligting en beantwoord dan die daaropvolgende vrae. Raadpleeg ook jou Taalgids.

    15519.png

    Klankgrepe en lettergrepe

    Woorde se spelling (die manier hoe ons woorde skryf) verskil van hoe ons die woorde uitspreek (die manier hoe ons praat). Dit staan bekend as klank- en lettergrepe.

    Klankgrepe is wanneer ons woorde in grepe verdeel soos ons dit uitspreek. Dit is hoe ons ’n woord in grepe verdeel volgens asemstote, byvoorbeeld on-mi-de-lik.

    Lettergrepe is hoe ons woorde volgens spelling verdeel, met ander woorde hoe ons die woord geskryf sien, byvoorbeeld on-mid-del-lik.

    Spraakklanke

    Spraakklanke dui op die klanke wat uitgespreek word. In Afrikaans word die volgende spraakklanke onderskei:

    By vokale (klinkers) word die lugstroom sonder hindernisse in die asemhalingsorgane deurgelaat, byvoorbeeld: a, e, i, o, u asook oe, ie en eu. (Soen die seun.)

    Diftonge (tweeklanke) is ’n kombinasie van vokale waar die een vokaal sonder onderbreking oorgaan in die klank van ’n ander vokaal, byvoorbeeld: aai, eeu, ooi, ai. Spreek die volgende woord hardop uit en luister of jy die diftong kan hoor: katjie. (K D K V)

    Konsonante (medeklinkers) word gevorm wanneer die lugstroom op een of ander manier verander deur die klank gedeeltelik of heeltemal af te sluit, byvoorbeeld: b, c, d, f, ensovoorts.

    Klankverskynsels

    Oorronding is wanneer klanke met oordrewe geronde lippe uitgespreek word. Byvoorbeeld: sewe – seuwe; pa – pô; neef – neuf. In sommige gevalle kan die oordrewe uitspraak die betekenis van die woord verander, byvoorbeeld: keer – keur; beer – beur.

    Ontronding is wanneer geronde klanke met spleetvormige lippe uitgespreek word, byvoorbeeld: rusie – riesie. In sommige gevalle kan die woord se betekenis ook verander as gevolg van die plat uitspraak, byvoorbeeld: huis hys; luis – lys; vuur – vier.

    Assimilasie is wanneer ’n klank weggelaat word of wanneer dit die uitspraak van die vorige of daaropvolgende klank aanneem. Dit kan in een woord of twee opeenvolgende woorde voorkom. Byvoorbeeld:

    Ek sit op die stoel. Ek sit oppie stoel.

    Die kat kruip onder die tafel weg. Die kat kruip onner die tafel weg.

    1. Wat sal die regte klankgreepverdeling wees vir regisseuse?

    a. re/gi/seus/se

    b. re/gi/seu/se

    c. reg/i/seu/se

    d. reg/i/seus/se

    2. Wat sal die regte klankgreepverdeling wees vir uitdrukking?

    a. ui/t/dru/king

    b. uit/druk/king

    c. uit/dru/king

    d. uit/druk/ing

    Drie van die volgende woorde is verkeerd in lettergrepe verdeel. Watter woord is reg verdeel?

    3.

    a. Aug/us/tus

    b. hout/ki/ssie

    c. be/kom/merd/e

    d. oor/ron/ding

    4.

    a. woord/ver/kla/ring/s

    b. re/gis/seu/se

    c. souf/fleus/e

    d. klank/in/ge/ni/eur

    Lees die volgende sinne wat oor die draaiboekteks in Aktiwiteit 3 handel en beantwoord die vrae.

    1. Dr. Edward is besig om kos te maak.

    2. Die briewe wat vasgebind is, lê langs die houtkissie op die eettafel.

    3. Wanneer Andrew inkom en sy hoed op die tafel neersit, sien hy die houtkissie en briewe wat op die tafel lê.

    4. Dit is duidelik dat hy presies weet waaroor dit gaan.

    5. Dr. Edward draai na die tafel met die borde in sy hand en sien die bekommerde uitdrukking op Andrew se gesig.

    6. Die beligtingsoperateur keer die lig van die kamera weg.

    5. In sin 2 kom twee voorbeelde voor waar assimilasie by twee opeenvolgende woorde kan voorkom. Skryf die woorde neer, asook hoe ons dit sal uitspreek as ons dit assimileer.

    6. In sin 4 kom ’n woord voor wat ontrond kan word. Skryf hierdie woord en sy ontronde vorm neer.

    7. Skryf ’n voorbeeld van ’n woord met ’n diftong in sin 5 neer.

    8. In sin 6 kom twee woorde voor wat oorrond kan word.

    a. Skryf hierdie woorde en hulle oorronde vorme neer.

    b. Maak nou sinne om die verskil in betekenis tussen die oorspronklike woord en oorronde woord uit te wys.

    9. Verdeel die volgende woorde volgens hulle spraakklanke.

    Byvoorbeeld: briewe: K K V K V

    a. mandjie

    b. baadjie

    c. tafel

    d. briewe

    Leer meer van afkortings.

    15519.png

    Afkortings, akronieme en verkortings

    By afkortings word slegs die beginkonsonante of -vokale van die woorde gebruik, byvoorbeeld: bl. – bladsy; ens. – ensovoorts.

    Akronieme bestaan uit die eerste letter van twee of meer opeenvolgende lettergrepe of woorde, byvoorbeeld: WAT – Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

    Verkortings bestaan uit ’n woord se eerste lettergreep en die volgende konsonant(e), byvoorbeeld: Gesk. – Geskiedenis; Brit. – Brittanje.

    Onthou die volgende by afkortings

    Punte word by die meeste kleinletter-afkortings gebruik, byvoorbeeld: a.g.v. (as gevolg van).

    Geen punte word by metrieke eenhede se afkortings gebruik nie, byvoorbeeld: mm (millimeter).

    Rangtelwoorde kan afgekort word deur -de, -ste of -’e ná die syfer te skryf, byvoorbeeld: 5de; 30ste, 1000’e.

    ’n Sin begin nie met ’n afkorting nie, behalwe as die afkorting in ’n titel gebruik word, byvoorbeeld: Dr. Edward het onlangs teruggekeer.

    ’n Koppelteken word gebruik by woorde wat saam met afkortings of akronieme gebruik word, byvoorbeeld: BA-graad; MIV/vigs-lyer.

    10. Skryf die regte afkorting, verkorting of akroniem vir die skuinsgedrukte woorde neer.

    Die a) ingenieur is van b) Pretoria onderweg na c) Johannesburg. Hy is vasbeslote om die tog mee te maak d) ten spyte van sy ongeluk. Hy besoek graag lyers met e) tuberkulose.

    Hierdie module fokus baie op die f) selfstandige naamwoord, g) byvoeglike naamwoord en selfs h) afkortings.

    11. Skryf die volgende afkortings volledig uit.

    a. Dr.

    b. masj.

    c. taalk.

    d. fig.

    12. Blaai deur koerante en tydskrifte en kyk wie kan die meeste afkortings opspoor. Plak hierdie afkortings op ’n A4- of A3-grootte plakkaat. Skryf dan die volledige vorm van die afkorting neer. Hierdie plakkaat kan in jou klas teen die muur opgesit word.

    14576.jpg

    In hierdie aktiwiteit gaan jy

    ’n gedig in jou Leesboek paarlees

    vrae oor die gedig beantwoord

    navorsing doen

    ’n dialoog skryf en rolspeel.

    Paarlees ’n gedig saam met ’n maat.

    Julle het die module met ’n fabel begin. Lees nou die gedig Fabel van D.J. Opperman op bladsy 81 in die Piekfyn Afrikaans Leesboek en kyk hoe die digter die woord fabel in sy gedig gebruik. Paarlees die gedig saam met ’n maat en let veral op na die ritme van die gedig. Beantwoord die vrae in jou werkboek.

    Gaan doen navorsing oor erdwurms.

    Is dit waar dat wanneer ’n mens ’n erdwurm middeldeur kap, die twee stukke weer tot erdwurms groei?

    Waarom is ’n erdwurm so belangrik?

    Verryking: Skryf ’n dialoog en rolspeel dit.

    Die gedig vertel van die gesprek tussen die erdwurms. Werk saam met jou maat en skryf julle weergawe van die gesprek wat tussen die erdwurms plaasvind in dialoogvorm oor. Rolspeel dit daarna aan die klas.

    module_header2.jpg

    Het jy geweet dat tekste soos boekomslae, ballades en kortverhale elk ’n besondere boodskap en tema het?

    Jou soeklees- en vlugleesvaardighede gaan jou help om deur die vrae te draf.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1