Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Geloof sonder sekerhede: Hoe kan ek nog glo?
Geloof sonder sekerhede: Hoe kan ek nog glo?
Geloof sonder sekerhede: Hoe kan ek nog glo?
Ebook435 pages6 hours

Geloof sonder sekerhede: Hoe kan ek nog glo?

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dit is belangriker om om te weet hóé om te lewe as om die korrekte belydenis te vind. Die sin van die Christelike geloof is nie soseer dat dit ’n rustige verblyf in ’n hiernamaals waarborg nie, maar dat ons hiér in liefde teenoor mekaar kan leef en van hierdie wêreld ’n beter plek kan maak
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 14, 2014
ISBN9780796319005
Geloof sonder sekerhede: Hoe kan ek nog glo?
Author

Anton van Niekerk

Anton van Niekerk is ’n uitgelese (distinguished) professor in Filosofie en direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is die skrywer van talle werke op die terrein van die teologie, godsdiensfilosofie en bio-etiek. Hy verower die Stalsprys vir Filosofie in 1995 en word deur die Nasionale Navorsingstigting geëvalueer as ’n navorser met onbetwiste internasionale erkenning. Hy is ’n bekende deelnemer aan openbare debatte, en is ook ’n proponent van die NG Kerk.

Related to Geloof sonder sekerhede

Related ebooks

Related articles

Reviews for Geloof sonder sekerhede

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Geloof sonder sekerhede - Anton van Niekerk

    GELOOF SONDER SEKERHEDE

    Hoe kan ek nog glo?

    Anton van Niekerk

    Lux Verbi

    Vir Amy

    The devil is not the Prince of Matter;

    the devil is the arrogance of spirit,

    faith without a smile,

    truth that is never seized by doubt.

    (Umberto Eco: The Name of the Rose, 477)

    Voorwoord by die tweede uitgawe

    Hierdie is die tweede ingrypend hersiene en veranderde uitgawe van ’n boek wat die eerste keer in 2005 verskyn het. Wat nuut is, is baie meer as slegs die omslag en subtitel. Ek het die eerste hoofstuk en eerste afdeling (hfst 2 tot 5) grootliks onveranderd gelaat, behalwe om een moontlike misverstand wat die vorige uitgawe kon veroorsaak, uit die weg te probeer ruim. Ek het naamlik (nog) duideliker probeer maak in watter opsigte die geloofsbeskouing wat in hierdie boek ontwikkel word, op gespanne voet staan met ’n sekere konvensionele soort teologie.

    Die eerste uitgawe kon (en het ongelukkig soms) die indruk geskep dat ek probleme het met alle teologie en daarom ook verkies om hierdie boek nie as ’n instansie van teologie te beskou nie, maar bloot as gelowigfilosofiese nadenke oor die geloof self en oor wat die implikasies daarvan vir ’n aantal vraagstukke is. As ek so ’n indruk geskep het, vra ek om verskoning daarvoor. Natuurlik is wat hier volg teologie. Waarteen ek polemiseer, is teologie wat ten alle koste ’n soeke na ortodoksie is, dit wil sê ’n konsensus of akkoord oor wat ons oral en altyd behoort te glo.

    Ek kies in dié verband vir Erasmus bo Luther. Dit bly my oortuiging dat gelowiges meer besorg moet wees oor ortopraksie as oor ortodoksie, oor die vraag hoé om te lewe eerder as oor die vraag hoé (presies) om te glo – só te glo dat dit onmiskenbaar ooreenstem met wat die Bybel sê. So ’n argument is egter, soos ’n aantal van my kritici tereg opgemerk het, nie minder teologie as enige ander verwante argument nie. Ek het die misverstande hieroor sover ek hulle in die herlees van die manuskrip kon opspoor, deurgaans probeer regstel. Dit raak veral hoofstukke 1 en 4 (die inleiding en die hoofstuk oor Erasmus). Vir die res, is hoofstukke 1 tot 5 onveranderd, behalwe vir enkele redaksionele wysigings.

    Daar is meer ingrypende veranderings in die tweede afdeling. Hierdie afdeling handel oor die implikasies van die geloofsbeskouing wat ek in die eerste afdeling vir ’n aantal aktuele vraagstukke ontwikkel. Hoofstuk 7 van die eerste uitgawe is nou heeltemal weggelaat. Dit het gehandel oor vigs en armoede, en is soos te verwagte, nege jaar later grootliks verouderd. Hiermee meen ek nie dat vigs tans nie meer ’n vraagstuk van dieselfde dringendheid as in 2005 is nie, hoewel die probleem steeds nie onder beheer is nie. Twee heeltemal nuwe hoofstukke is in die tweede afdeling ingevoeg. Die eerste (hfst 9) handel oor biotegnologie en die toekoms van ons spesie. Dit spruit voort uit my navorsingsbelangstelling in biomediese etiek, en by name in die revolusionêre ontwikkelings in die biotegnologie oor menslike verbetering (enhancement), wat selfs die moontlikheid van die ontwikkeling van ’n nuwe supermenslike spesie in die vooruitsig stel. Wat moet ons hiervan maak, ook as ons vanuit die perspektief van die geloof daarna kyk? Die hoofstuk probeer dié vraag beantwoord.

    Die tweede nuwe hoofstuk is hoofstuk 10, wat ’n evaluering vanuit my geloofsbegrip van die teenswoordige Suid-Afrikaanse sosiaal-politieke werklikheid is. Ek analiseer die betekenis van ’n Bybelse begrip van geregtigheid in hierdie hoofstuk, en bied daarna ’n uitgebreide analise aan van die onreg van apartheid, maar ook van verskeie aspekte van die demokratiese Suid-Afrika, en kom tot ’n gevolgtrekking in die lig van die boek se geloofsbegrip.

    Ek het die argument in hoofstuk 6 (God en lyding) opgeskerp na aanleiding van nuwe navorsing nadat die eerste uitgawe verskyn het. Die breë strekking van die argument bly egter in wese dieselfde. Die ander oorblywende hoofstukke in die tweede afdeling (hfst 7 oor geloof en wetenskap en hfst 11 oor die doodsvraagstuk) bly onveranderd.

    Ek bedank Lux Verbi graag vir hul bereidheid om die boek in hierdie taamlik ingrypend gewysigde formaat (waaroor ek self volledig kon besluit) uit te gee. Susan Jordaan, die opdraggewende redakteur, verdien spesiale vermelding en dank in dié verband. Baie dankie nogeens aan my vrou, Amy, wat hierdie tweede uitgawe baie graag wou sien en wie se vrae en kritiese oog, benewens volgehoue liefde en kameraadskap oor 36 jaar, vir my steeds ’n vreugde en inspirasie bly.

    Anton van Niekerk

    Stellenbosch

    Junie 2014

    Voorwoord by die eerste uitgawe

    Hierdie boek gaan oor die vraag wat ons doen – of liewer behoort te doen – as ons glo. Ek skryf die boek omdat ek wil aansluit by die feit dat godsdienstige geloof – by name die geloof in God soos Hy geopenbaar is in die mens Jesus van Nasaret – vir talle mense steeds dié aspek van hul menswees is wat hul identiteit ten diepste bepaal. Die boek vra die vraag hoe die feit dat ons glo nog relevant is vir ons lewe as moderne mense, mense van die 21ste eeu.

    Die boek is nie geskryf vir mense wat gemaklik in afgeslote kompartemente lewe en wat daarom hul geloof beleef en uitleef as ’n dimensie van hul bestaan wat weinig verband hou met die aansprake en eise van hul alledaagse lewe as sakelui, professionele mense, wetenskaplikes of gewone arbeiders nie. Die boek is geskryf vir mense wat wil weet dat hulle geloof sáák maak vir hul lewe hier en nou. Die lesers tot wie ek my rig, is nie primêr mense wat glo omdat geloof slegs vir hulle van belang is ten opsigte van ’n moontlike lewe ná die dood nie. Van laasgenoemde weet ek heeltemal te min om ’n boek daaroor te probeer skryf. Geloof is allesbehalwe ’n soort brandversekering wat waarborge verskaf ten opsigte van die temperatuur van die plek waar ek my kan bevind wanneer ek my oë die laaste keer sluit. Geloof is sinvol indien dit ’n effek het op die lewe wat ons hier en nou lei – of dit is glad nie sinvol nie.

    Ek wil daarom lesers uitnooi om saam met my te besin oor die vraag hoe geloof in die God wat geopenbaar is in Christus steeds ’n verskil maak aan ons siening van onsself as mense, en aan die manier waarop ons as individue en gemeenskappe hier en nou, en in die toekoms, in die wêreld lewe.

    Die boek is ’n soektog na sin in ’n situasie van onsekerheid. Ek nooi lesers in dié boek uit om saam met my sin te probeer soek in die aangesig van die ervaring dat ons sekerhede oor talle dinge – die politiek, ons toekoms in Suid-Afrika en Afrika, die wetenskap en die rigting waarin dit ontwikkel, en baie meer – besig is om vinnig minder te word. Ook ons sekerheid oor God – hoe ons oor Hom moet dink, wie Hy is en wat Hy van ons verwag – is aan die kwyn.

    Die geloof wat ek in hierdie boek ondersoek, is ’n geloof wat van meet af aangevreet is deur die ervaring van twyfel en onsekerheid. Vandaar die boek se titel: Geloof sonder sekerhede. Ek kan myself daarom beswaarlik as iets meer tipeer as ’n onseker gelowige: iemand wat die geloof nog nie prysgegee het nie, maar wat selde raad weet met van die tergendste vrae waarmee moderne mense wat vandag steeds wil glo, moet huishou. Hierdie vrae sluit in: Hoe weet ons daar is ’n God? Wat is daar wat ons betroubaar omtrent God kan weet? Hoe versoen ons God en lyding? Hoe kan ’n mens die inhoud van jou geloof versoen met die bevindings van die wetenskap? Hoe is geloof in God nog ter sake in ’n wêreld waarin ons enersyds verstommende ontwikkelings op die gebied van nuwe biomediese tegnologieë [stamselnavorsing, kloning, biogenetiese verbetering (enhancement) – selfs miskien ’n nuwe menslike spesie] – sien, maar andersyds stuit op verskynsels soos armoede, korrupsie, misdaad, geweld en ongeregtigheid – laat staan nog die dood self – wat terselfdertyd grense stel aan wat ons kan vermag?

    Ek stel hierdie soort vrae aan die orde, nie omdat ek klinkklare antwoorde daarop het nie. Hulle boei my egter juis omdat hulle my so pertinent wys op die radikaliteit van die onsekerheid waarmee ons moet leer klaarkom in ons huidige wêreld en tyd. Ek hoop wel om in ons besinning oor hierdie kwessies die kreupelhout ’n bietjie weg te kap voordat ons heeltemal in die ruigtes verdwaal – sodat ons in ons voortgesette besinning oor hierdie vrae ten minste ’n entjie verder kan sien as wat ons op die oomblik doen.

    In die eerste hoofstuk van die boek verduidelik ek waarom dit myns insiens onvermydelik en noodsaaklik is om in ons tyd nuut en meer eietyds te dink oor aspekte van ons geloof. Ek verduidelik dat ek soms soortgelyke vrae vra as die sogenaamde Nuwe Hervormers, maar dat ek ’n ander weg as hulle opgaan.

    Ná hoofstuk 1 val die boek in twee hoofafdelings uiteen. Die eerste afdeling bevat my beskouing van wat geloof is en wat dit impliseer. Hier ontwikkel ek dan veral perspektiewe op die aard en inhoud van die geloof waaroor daar, in die lig van die eise van ons tyd, nuut gedink moet word. Ek handel oor hoe ’n mens die Bybel behoort te lees (hfst 2) en hoe ons oor God behoort te dink, veral as inhoud van die diepste misterie wat ten grondslag lê van ons ganse bestaan in die wêreld (hfst 3). Daarna opper ek die idee dat ons gerus minder teoreties oor die geloof moet begin dink, en baie meer prakties. Geloof is vir my ’n manier van lewe. Dit is die lewe in die liefde soos ons dit leer by Jesus van Nasaret. Ek wys daarop hoe hierdie perspektief reeds sterk na vore kom in die denke van Desiderius Erasmus (c 1466-1536), iemand wie se bydrae deesdae gerus herontdek kan word en wat na my mening die potensiaal het om sekere ontsporings in ons verstaan van die evangelie wat deur die Reformasie meegebring is, weer op koers te kry (hfst 4). Ek sluit die eerste afdeling van die boek af deur aandag te gee aan die morele revolusie wat ’n terugkeer na die eenvoudige lering van Jesus self kan bewerkstellig – Hy wat ons leer dat ons roeping is om, na sy voorbeeld, ware mense te word, en dat dít eers en slegs bewerkstellig word as ons volle verantwoordelikheid vir ons medemens aanvaar (hfst 5).

    Die praktiese implikasies van bogenoemde geloofsbeskouing word in die tweede afdeling van die boek ondersoek. Ek kyk veral na die implikasies vir ’n vyftal vraagstukke waarmee moderne mense in die Suid-Afrika van vandag, maar ook wêreldwyd, worstel as hulle steeds in God wil glo. Die eerste is die immergroen maar steeds tergende vraagstuk van die verhouding tussen God en die lyding en kwaad wat nie minder nie, maar skynbaar al hoe meer in ons wêreld word. Hoe moet ons dit kleinkry (hfst 6)? ’n Volgende hoofstuk in hierdie tweede afdeling van die boek handel oor die verhouding tussen geloof en wetenskap – ’n kwessie wat met groeiende dringendheid vanuit wetenskaplike geledere aan die orde gestel word, en wat sporadies in fel openbare debatte uitbars. Ek is van mening dat daar nog heeltemal te min helderheid oor hierdie belangrike saak bestaan, en lewer my eie beskeie bydrae tot die gesprek (hfst 7). Nou verwant daaraan is die verstommende ontwikkelings op die terrein van biomediese tegnologieë, en veral die komplekse morele probleme waartoe hierdie ontwikkelings dikwels aanleiding gee. Ook hier word ons gekonfronteer met ’n aspek van die moderne wêreld waarvoor ons geloof meesal verleë staan en waarop dit dikwels op ’n onbeholpe en verleentheidskeppende wyse reageer. Aangesien hierdie onderwerp ’n kernaspek van my akademiese navorsing uitmaak, maar ook omdat ek daarvan oortuig is dat van die moeilikste morele besluite wat ons in die toekoms sal moet neem direk met hierdie kwessies in verband staan, wy ek twee hoofstukke (hfst 8 en hfst 9) hieraan.

    Om in ons huidige wêreld te glo, en boonop jouself in Suid-Afrika te bevind, het onvermydelik betekenis en implikasies vir die sosiaal-politieke werklikheid waarin ons ons bevind. Suid-Afrika het ʼn traumatiese geskiedenis waarin godsdienstige geloof en die kerk as propageerder van daardie geloof ’n sentrale rol gespeel het, en in sekere opsigte steeds bly speel. Ook en veral op hierdie terrein is die vraag wat die betekenis en beduidenis van ʼn geloofsbeskouing soos ontwikkel in hierdie boek is. Dit is die tema van hoofstuk 10.

    Wat oorbly, is die kwessie van ons eindigheid en die werklikheid van die dood. Die dood is die groot verleentheid en taboe van ons tyd. Dit is die een grens aan ons vermoë en skeppingskrag wat skynbaar steeds onoorskrybaar bly (hoewel, soos aangetoon sal word in hoofstuk 9, die idee en moontlikheid van menslike onsterflikheid iets is wat tans in sekere kringe begin posvat en ondersoek word; dit is natuurlik ook ’n ernstige vraag wat ons vanuit die perspektief van die geloof oor so ’n moontlikheid behoort te dink.). Hoe moet eietydse gelowiges oor die dood dink? Is die dood die sin van die geloof? Hoe maak ons sin van die dood sonder om eensydig in ’n pie in the sky-geloof te verval wat sy relevansie vir die lewe hier en nou verloor het? Dit is die onderwerp van die slothoofstuk (hfst 11).

    ’n Paar kort woorde van bedanking is van pas. Eerstens wil ek my dank uitspreek teenoor Lux Verbi.BM wat kans sien om die taamlik onortodokse idees van ’n filosoof wat op ’n manier probeer glo, maar dit maar snaakserig doen, op hierdie wyse die wêreld in te stuur. Ek vertrou dat ek én hulle dit sal oorleef. Die name van Lux Verbi.BM se publikasiehoof, Lambert Jacobs, en Estelle Steenkamp verdien hier spesiale vermelding. Estelle was vir baie jare my redakteur, maar ek is dankbaar om te sê dat sy oor tyd ook ’n ware vriendin geword het. Haar entoesiasme was altyd aansteeklik, haar aanmoediging is hoog op prys gestel en haar sorgvuldige versorging van die manuskrip word opreg waardeer. Baie dankie ook vir haar Afrikaanse vertalings van ’n hele aantal Engelse aanhalings wat ek in die boek gebruik.

    Ek is eweneens baie dankbaar teenoor Hennie Rossouw, Leon Fouché en Hennie Lötter wat die hele manuskrip gelees en besonder waardevolle kommentaar daarop gelewer het. Willie Esterhuyse, Hendrik Bosman en JL (Jan) de Villiers het ook enkele hoofstukke gelees en ek waardeer hul kommentaar opreg. Dankie ook aan my vroeëre navorsingsassistent, Liezl Dick, vir haar proefleeswerk en hulp met die opspoor van bronne. Die foute en tekortkomings wat oorbly, is vanselfsprekend vir my eie rekening.

    Dankie, laastens, aan my vrou, Amy, wat baie ure lank my geselskap moes ontbeer ter wille van hierdie werk. Uit waardering vir die begrip en blymoedigheid waarmee sy dit al soveel jare doen, dra ek die boek aan haar op. Sy is my eerste leser en altyd ’n betroubare klankbord. Die boek se uiteindelike titel was ook haar voorstel. Daarvoor, sowel as vir 36 jaar se volgehoue en vreugdevolle kameraadskap, sê ek baie dankie.

    Anton van Niekerk

    Stellenbosch

    Julie 2005

    1

    Geloof in onseker tye

    Ons is moderne mense wat, indien ons bly glo, dit wil doen op ’n manier wat aangepas is by, en nie voortdurend lynreg vloek teen die veronderstellings, insigte, waardes en verwagtings wat ons lewe, as erfgename van die eeu waarin ons ons bevind, kenmerk nie.

    Om in God deur Christus te glo, is om op ’n bepaalde wyse inhoud te gee aan die geheimenis van ons bestaan. Ons glo nie omdat ons alles weet wat daar te weet is oor en omtrent die wêreld nie. Ek verwonder my dikwels aan gelowiges wat skynbaar op grond van hul geloof so baie weet en so min vrae het. As ons deur (byvoorbeeld) wetenskap en tegnologie alles kon weet wat ons wou weet, was geloof nie nodig nie; en dan het ons, Bybels gestel, nie geleef uit geloof nie, maar in aanskoue. As ons egter eerlik is, moet ons – ten spyte van die magdom kennis en insig wat die wetenskap al opgelewer het – erken dat wat ons nié weet of verstaan nie, steeds ons bestaande kennis en insig verreweg oortref.

    Die misterie dat ons hier is …

    My manier om hierdie insig te verwoord, is om te sê dat ons, by alles wat ons weet en reeds presteer het, steeds lewe in ’n misterie, ’n geheimenis wat ons nie kan deurgrond nie. Ons glo omdat geloof ons as mense se manier is om inhoud te probeer gee aan hierdie geheimenis. Geloof is daarom deel van ons menslike kondisie; dit is die algemeenste manier waarop mense reageer op die misterie van ons bestaan. Nie alle mense glo nie. Nie alle mense voel enige behoefte daaraan om die misterie te probeer peil nie. Hulle is tevrede om te aanvaar dat ons bestaan in die wêreld ’n naakte feit of gegewe is waaragter ons geen verdere verklaring of geheim hoef na te speur nie. Om nie te glo nie, is sulke mense se goeie reg, wat ek ten volle respekteer.

    Ek wend my egter in hierdie boek tot ’n ander groep mense: diegene, soos ek self, wat nie tevrede is daarmee dat die wêreld is soos dit is en lyk soos dit lyk nie; wat verwonderd bly oor die feit dat ons hier is en dat die wêreld en gebeure in die wêreld die voorkoms het wat dit het. Dit is die groep mense vir wie die wêreld, soos die Duitsers dit so mooi stel met ’n onvertaalbare frase, fraglich is (letterlik vraaglik, dit wil sê bevraagtekenbaar, onverklaar, geheimenisvol). Wat bedoel ons daarmee? Laat ek dit kortliks toelig:

    Hoe moet ons dit byvoorbeeld kleinkry dat ons hier is – bewoners van ’n klein planeet, wentelend rondom ’n ster van middelmatige grootte, een van biljoene sonne (laat staan hoeveel planete) in ons sterrestelsel (die Melkweg), deel van ’n sonnestelsel op die buitewyke van ’n sterrestelsel van middelmatige grootte, wat op sy beurt weer een is van letterlik biljoene sterrestelsels in ’n heelal waarvan die omvang en reikwydte vir ons totaal onvoorstelbaar is? Hoe moet ons dit verstaan dat die lewensvorm waarvan ons deel is, oor honderde millennia heen hiér ontwikkel het, onder omstandighede waarby ons skynbaar volmaak geakklimatiseer is – en dat ons steeds geen kennis dra van enigiets in die res van die heelal wat naastenby met ons bestaanswyse en omgewing vergelyk nie (al weet ons nou dat daar waarskynlik biljoene planete is wat om sterre wentel en waar lewe heel waarskynlik êrens sou ontwikkel het, al het ons nog geen bewyse daarvan nie)?

    Van die heelal gepraat: Waarmee het ons te make in die (skynbaar) onmeetlike en volledig onvoorstelbare ruimte waardeur ons planeet in die ewigheid van die tyd dryf? Selfs al aanvaar ons die teorie van die oerknal en daarmee saam die idee dat die heelal ’n begin gehad het, dat dit nie oneindig is nie en dat dit weer tot ’n nulpunt sal inplof – watter koherente sin kan ons daarvan maak? Wat het die oerknal veroorsaak? Was daar slegs een oerknal, of was/is daar moontlik talle wat op hul beurt baie ander heelalle veroorsaak (het)? Is laasgenoemde ’n geldige vraag? Hoe moet ons ons eie planeet en die omstandighede waaronder lewe hier ontwikkel het, verstaan?

    Wetenskaplikes deel ons mee dat, as ons die lewensduur van die aarde vergelyk met ’n dag van 24 uur, menslike lewe eers in die laaste sekondes van die 24ste uur ontstaan het. Ons spesie bewandel en bewoon die planeet skaars twee miljoen jaar lank – en dit terwyl aangetekende menslike herinnering nie verder strek as maksimaal 5 000 jaar gelede nie.

    Hoe moet ons dit kleinkry? Waarom hierdie wêreld? Wie is ons? Hoekom is ons hier? Waarop stuur dit alles af? Die vrae ken geen einde nie. Ons lewe en bestaan op aarde is ’n fundamentele, skynbaar onpeilbare misterie.

    Christene is mense wat, soos die aanhangers van ander godsdienste, daarop aandring dat daar iets meer te sê is oor hierdie grondliggende misterie. In ’n latere hoofstuk sal ek meer uitwei oor die begrip misterie. Vir die oomblik is dit egter genoeg om te sê dat die Christelike geloof ’n poging van mense is om inhoud te probeer gee aan die misterie wat ten grondslag van ons lewe in die wêreld lê – die misterie wat opgeroep word deur die soort vrae wat pas gevra is. Die Christelike geloof is, in die woorde van die kerkvader Augustinus, die gewaarwording dat ons hart onrustig bly totdat dit rus vind in U. Die onrus wat opgeroep word deur die feit dat ons bly staar na ’n skynbaar ondeurdringbare sluier van matelose en magtelose onbegrip van die sin van ons menslike situasie, kom vir Christene eers tot rus in die belydenis dat God die geheimenis van die wêreld¹ is.

    In die mens Jesus van Nasaret, so glo ons as Christene, het ons God self gesien. Ons weet steeds min van God af. Ons dig aan Hom eienskappe toe soos dat Hy almagtig of alwetend of alomteenwoordig is, maar ons weet nie regtig wat ons met dié woorde bedoel nie. Tog, so glo ons, weet ons genoeg van God deur sy openbaring in Christus dat ons kan leer om saam te leef met die onrus van die misterie. Ons ken in Christus nie noodwendig die wese van God nie, maar wel die hart van God. Daardie hart, so glo ons op grond van die Bybelse getuienisse oor die lewe en sterwe van Christus, klop so warm van liefde vir sondaarmense dat dit op ’n dag, 2 000 jaar gelede, letterlik ophou klop het sodat die lewe wat Hy ons bied, vir ons ewig kon word. Geloof in God, soos geïnspireer deur wat ons glo sy selfopenbaring in Christus is, is Christene se manier om sin te maak van die misterie van ons wêreld en van ons lewe in die wêreld.

    Kan ons nog alles in die kerklike belydenis glo?

    Wat tot nou toe gesê is, is dinge waarmee die meeste Christengelowiges waarskynlik sal saamstem. Hierdie boek word egter nie geskryf met die verwagting dat dit ’n nuwe formulering van ’n ou konsensus sal wees nie, want die Christelike geloof is vandag meer as ooit in die gedrang. Talle Christene, van wie ek een is, vind dit toenemend moeilik, indien nie onmoontlik nie, om te glo op die wyse waarop en in die idioom waarin ons grootgeword het. Terwyl dit vir ons belangrik is om vas te hou aan die Persoon van Christus as die fokuspunt van wat ons omtrent God weet en glo, beteken dit allermins dat ons vrede kan maak met alle aspekte van die tradisionele, en veral gereformeerde, kerklike belydenis waarop die geloof van talle Suid-Afrikaners tradisioneel geskoei is.

    Ons is mense van die 21ste eeu. Dit beteken nie dat ons noodwendig beter of slimmer is as die geslagte wat ons voorafgegaan het nie. Maar dit beteken wel dat ons wil glo op ’n manier wat nie lynreg indruis teen die insig van ons gesonde verstand en teen feitlik onbetwisbare getuienis van die wetenskap nie. Van ons kan nie verwag word om ons intellek eenvoudig op te skort wanneer geloofskwessies ter sprake kom nie. Ons kan nie in verskillende kompartemente lewe waarvan elk totaal onversoenbare reëls het vir wat sin maak om te sê of te weet nie. Soos mense in alle tydvakke van die geskiedenis, dring ook ons van die 21ste eeu daarop aan dat ons geloof in God met ons breë intellektuele en kulturele oriëntasie moet resoneer.

    Ons sien nie meer kans vir geloof as die inhoud en lewenstyl van ’n intellektuele ghetto wat sommige van ons nog probeer reserveer vir die irrasionele skuilhoeke van ons komplekse persoonlikhede nie. Ons sien nie meer kans vir geloof as die uitkoms en inhoudgewing van die oomblikke wanneer ons ons onttrek aan of afsonder van die ritmes en reëlmatighede van die lewe wat ons elke dag lei en die aannames wat daardie lewe voortdurend begelei en stuur nie.

    Kortom, ons is moderne mense wat, indien ons bly glo, dit wil doen op ’n manier wat aangepas is by, en nie voortdurend lynreg vloek teen die veronderstellings, insigte, waardes en verwagtings wat ons lewe, as erfgename van die eeu waarin ons ons bevind, kenmerk nie.

    Die tradisionele belydenisskrifte van die gevestigde kerke² bevat myns insiens ’n hele aantal artikels wat nog kwalik ernstig opgeneem kan word deur moderne mense. Dit is nie nodig om hier uitvoerig in te gaan op die voorbeelde wat tans dikwels in openbare gesprekke opduik nie. ’n Mens kan maar net dink aan die Christelike kerk se skeppings- en sondeleer wat vandag ’n yslike verleentheid geword het. Dié verleentheid spruit voort uit die onsinnige vashou aan ’n letterlike interpretasie van Genesis 1 – 3, asook ander Bybelgedeeltes wat klaarblyklik in mitologiese vorm gegiet is, soos die Noag-verhaal en die boek Jona.

    Dit is jammer dat die gevestigde kerke hulleself nog nie ondubbelsinnig genoeg uitgespreek het teen die pogings van byvoorbeeld militante kreasioniste, hier en in die buiteland, om die kerklike belydenis te kaap vir hul onverantwoordbare, letterlike interpretasie van die Bybel nie. (Hoe die Bybel verantwoordelik gelees behoort te word, is die tema van hfst 2.) Van moderne mense kan werklik nie verwag word om te glo dat die aarde 6 000 jaar oud is nie. Of dat Adam en Eva die stamouers van die ganse mensdom is en dat hulle, in ’n gestalte wat spesiegewys presies ooreenstem met die teenswoordige homo sapiens, ’n tyd lank in ’n volmaakte paradys gelewe het en toe ’n oortreding begaan het wat katastrofale gevolge gehad het – nie alleen vir die mensdom wat (in geheel) hul nageslag was nie, maar ook vir die ganse skepping.

    Die gevestigde kerke sou, soos in baie gevalle gebeur, kon probeer wegkom deur aan te voer dat die kreasionistiese lees van Genesis 1 – 3 problematies is en dat ons nie die Bybelse skeppingsleer as in stryd met gevestigde wetenskappe soos die geologie, paleontologie of die biologiese evolusieleer hoef te beskou nie – omdat die Bybel nie ’n handboek vir die geskiedenis of die wetenskap is nie. Waar sulke standpunte deur kerke aangevoer word, behoort dit waardeer en aangeprys te word.

    Maar daar is tog ook aspekte van die kerklike belydenis self wat nie so maklik omseil kan word nie, en wat ook onmoontlik geword het om ernstig op te neem. Een daarvan is die sondeleer, en by name die leer van die sogenaamde erfsonde. Die afwysing van die idee dat Adam en Eva historiese mense was, werp reeds as sodanig ’n skadu oor die idee dat iets wat deur hulle aangevang is ’n permanente, rampspoedige gevolg vir alle lede van die menslike geslag sou hê. Wat moet ons as moderne mense daarby sê van die moraliteit van ’n God wat biljoene toekomstige geslagte van mense – ook terwyl hulle nog redelose suigelinge is – beskou as toerekeningsvatbaar en strafbaar vir die sonde van die eerste mens? Kan dit wees dat ons almal onder die swaard leef van so ’n metafisiese noodlot? En wat, verder, van diegene wat buite die Christelike tradisie gebore word en (soms) nooit in die geleentheid gestel is/word om iets van die Christelike boodskap te verneem nie? Is hulle vir ewig verdoem? Kan ons ’n God ernstig opneem in wie se morele skema so iets geregverdig sou wees?

    Wat toenemend duidelik word, en treffend toegelig word in navorsing soos dié van Charles Freeman,³ is dat tradisioneel kerklike leerstellings soos dié van die erfsonde en die maagdelike geboorte van Christus nie anders verstaan kan word as teen die agtergrond van die sosiaal-kulturele en historiese omstandighede waaronder hulle ontstaan het en vir die eerste keer in kerklike belydenisskrifte opgeneem is nie.

    Boonop is dit redelik duidelik dat invloedryke opvattings oor of interpretasies van sowel die erfsondeleer as die leer oor die maagdelike geboorte van Christus klaarblyklik dateer uit ’n tyd toe daar besonder negatief geoordeel is oor die waarde van menslike seksualiteit. Invloedryke figure in die vroeë kerk, byvoorbeeld Tertullianus, Hieronymus en Ambrosius, het ’n beslissende invloed op hierdie ontwikkeling gehad. Tertullianus skryf byvoorbeeld:

    Die huwelik en hoerery verskil slegs omdat wette dit so laat lyk; hulle is egter nie intrinsiek verskillend van mekaar nie – slegs in hul graad van illegitimiteit.

    Die kerkvader Augustinus – vir wie se werk ek, soos vroeër gesê, groot waardering het en wat een van die invloedrykste denkers van alle tye was – was self onversetlik in sy ontkenning van die waarde van seksualiteit. Volgens Augustinus word die erfsonde letterlik met elke seksdaad van geslag tot geslag oorgedra. In sy boek haal Freeman die volgende passasie aan uit die werk van Julianus van Eclanum, wat tot ballingskap verdoem is weens sy steun vir Pelagius in die dispuut tussen Augustinus en Pelagius oor die erfsonde:

    Jy (Augustinus) sê dat babas die las dra van ’n ander se sonde, nie hul eie nie … Verduidelik dan vir my wie is hierdie persoon wat onskuldiges wil straf. Jy antwoord: Dit is God … dieselfde God wat ons liefhet, so lief dat Hy sy eniggebore Seun vir ons gegee het – Hý straf ons op hierdie wyse; Hy vervolg pasgebore kinders, Hy werp suigelinge in die ewige vlamme vanweë hul slegte wil, juis wanneer Hy weet dat hulle nog geen wil (goed of sleg) gevorm het of kon vorm nie … (Augustinus), met jou kan ’n mens skaars redeneer; jy is benede argumentasie. Jy het so ver weg beweeg van godsdienstige gevoel, van beskaafde standaarde, van ’n algemene gesonde oordeel dat jy werklik dink jou Here is in staat tot misdade wat ’n mens nie eens aantref onder barbaarse stamme nie.

    By al my bewondering vir ander aspekte van Augustinus se werk kan ek nie anders as om op hierdie punt met Julianus saam te stem nie. Hoe sou ’n mens die God van die Bybel, die God van liefde, kon rym met so ’n erfsondeleer?

    Daarby kom die leerstelling dat Maria ’n maagd was toe Jesus gebore is. Dis vir moderne mense gewoon onverstaanbaar waarom ’n letterlike opvatting van hierdie leerstelling nog vir die kerk belangrik sou wees – tensy ’n mens maagdelikheid (en dus seksuele onthouding, selfs binne die huwelik, soos inderdaad dikwels deur die kerkvaders gepropageer is) van groter morele waarde beskou as deelname aan seksuele aktiwiteit. Wie kan dit vandag nog ernstig opneem? Dat maagdelikheid as sodanig geen besondere waarde het nie, beteken natuurlik nie dat ’n mens daarom promiskuïteit of

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1