Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme: Stories van gister en vandag
DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme: Stories van gister en vandag
DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme: Stories van gister en vandag
Ebook883 pages10 hours

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme: Stories van gister en vandag

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In 1948 het die NG dominee D.F. Malan die Nasionale Party tot politieke oorwinning gelei. Vir die meeste Afrikaners was dit die verwesenliking van 'n jare lange droom.

Om Malan as mens te verstaan, is om te verstaan hoe die Afrikaners hulself uit die as van die Anglo-Boereoorlog in 'n nasie omskep het. Toe hy op sy sterwensbed gevra is wat vir hom die belangrikste van sy loopbaan was, het hy gesê: "dat ek my volk kon dien; dat ek my volk bymekaar kon bring". Sy verhaal is die verhaal van die mense wat hom tot hul leier verkies het.

Die Malan-bewind het egter ook die apartheidsera ingelui. Hoe kyk ons dan vandag na Malan? Hierdie skets van 'n man en sy tyd - die eerste van 'n Nasionale Party eerste minister ná 1994 - probeer ook dié vraag te beantwoord.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 19, 2014
ISBN9780624055860
DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme: Stories van gister en vandag
Author

Lindie Koorts

Lindie Koorts is a historian and postdoctoral fellow at the University of the Free State's Centre for Africa Studies. She holds an M.A. in Historical Studies from the University of Johannesburg and a D.Phil in History from the University of Stellenbosch. This book is the result of four years' research. During this time, she spent a year at the Institute of Biography at the University of Groningen in the Netherlands to hone her writing skills.

Related to DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme

Related ebooks

Related articles

Reviews for DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts

    DF MALAN_AFR.jpg

    DF

    Malan

    en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme

    Lindie Koorts

    Tafelberg

    Aan my man, Willie,

    en my ma, Wilhelmien,

    vir hul intelligente meelewing.

    Lys van afkortings

    Inleiding

    ‘Afrikaner nationalism’, ‘apartheid’ and ‘white supremacy’ are not simply dissimilar terms for a single phenomenon. Rather, although they have a number of features in common, they refer to discrete features of the convoluted South African landscape. The view, unfortunately widely held, that they are different names for the same thing, while having a deceptive modicum of truth, is sufficiently crude to blunt the cutting edge that each term has when it is used separately.[1]

    Dié verhaal begin met ’n einde. Tydens sy laaste dae is D.F. Malan, wat teen dié tyd in Stellenbosch afgetree het, deur ’n ernstige beroerte geteister, wat hom erg verswak het. Diegene naaste aan hom het besef hy sal nie meer lank met hulle wees nie. Dit was in dié tyd dat een van sy bewonderaars, die historikus en rektor van die Universiteit Stellenbosch, H.B. Thom, wat ook later ’n biografie oor Malan geskryf het, sy siekbed besoek het.

    Thom het die gewigtigheid van die oomblik aangevoel en besluit om die oudpremier een laaste vraag te vra: Wat, na sy mening, was die vernaamste diens wat hy tydens sy lang politieke loopbaan gelewer het? ’n Rukkie lank was daar stilte en toe, met hoorbare moeite, het Malan geantwoord: Dat ek my volk kon dien; dat ek my volk bymekaar kon bring. Die Here het my dit gegun.[2] Dit het die kern van Malan se politieke geloof saamgevat. Hy was ’n Afrikaner-nasionalis in murg en been en om Afrikaners te verenig was sy belangrikste politieke doelwit. Daarom is die memoires wat hy tydens sy laaste jare geskryf het ook getiteld Afrikaner volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen.[3]

    Dié toneel verskil hemelsbreed van die hedendaagse beeld van die apartheidsleiers in ’n post-1994-Suid-Afrika wat steeds die letsels van eeue lange rasseongelykheid dra. Onverbiddelike foto’s van Malan en sy opvolgers het sinoniem geword met ’n onbuigbare stelsel van rasseverdrukking wat die meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking se waardigheid diep geskend het. Tog, 20 jaar sedert apartheid beëindig is, het daar ’n ruimte ontstaan waarin ’n nuwe geslag historici die verlede in eie reg kan verken en sonder die hindernisse van die verlede sowel Afrika- as Afrikaner-nasionalistiese stereotipes kan uitdaag.

    Biograwe is, net soos die persone oor wie hulle skryf, kinders van hul tyd. Hul konteks vorm die vrae wat hulle vra en dié biografie is die produk van ’n post-apartheid-omgewing. Tog is dit ook die biograaf se plig om die vrae van ’n ander era met erns te bejeën en om die mense oor wie hy of sy skryf deur die oë van hul eie tyd te verstaan. Dit is waarna hierdie biografie streef: om ’n hedendaagse leser te laat deel in hierdie begrip van die verlede, selfs al is dit met tye ongemaklik, sonder om te probeer regverdig of apologeties te wees. In stede daarvan kan die ongemak wat biografie meebring ’n mens help om die ingewikkeldheid van die geskiedenis te verstaan en die ongerieflike waarheid in die oë te kyk dat die verlede gevorm is deur komplekse individue wat met die huidige generasie sy menslikheid – en onmenslikheid – deel. Deur oor ’n man te skryf wat tydens die eerste helfte van die twintigste eeu aan die voorpunt van die Afrikaner-nasionalistiese beweging gestaan het, wil ek bydra tot die besinning oor hierdie kompleksiteite.

    Biografie lewer veral ’n unieke blik op die verlede. In dié biografie word die leser nie net voorgestel aan D.F. Malan nie, maar ook aan die Afrikaner-nasionalistiese beweging. Dit is egter nie die verhaal van ’n beweging wat deur die lens van ’n enkele man se lewe vertel word nie. Dit is die verhaal van ’n man deur wie ’n mens vertroud raak met ’n beweging – ’n beweging wat deur sy eie verdeeldhede en konflikte geteister is, waar persoonlike vetes dikwels hoër geag is as ideologie. Die boek bied dus ’n agter-die-skerms-blik op die Afrikaner-nasionalistiese politiek wat heersende beelde van sy samehorigheid en eensgesindheid weerlê.

    Om dit reg te kry, word die argivale rekord opnuut vertolk – en veral die dokumente van die mans wat tydens die eerste helfte van die twintigste eeu aan die hoof van die Nasionale Party gestaan het. Dit skets ’n beeld van die wêreld deur hul oë en vernaam deur Malan s’n omdat dié verhaal om sy weergawe van die gebeure draai. Tog sal die waarnemer net soveel getref word deur dit wat afwesig is as dit wat teenwoordig is. Wanneer mense hul korrespondensie bewaar of hul memoires skryf, weerspieël die samestelling van die dokumente daardie persone se vernaamste prioriteite. In die geval van D.F. Malan en die Afrikaner-nasionaliste onthul die argivale rekord ’n voorspelbare beheptheid met Afrikaner-nasionalisme en partypolitiek.

    Dit kan die hedendaagse leser verbaas dat dié sake voorkeur geniet het bo rasseaangeleenthede. Die Afrikaner-nasionaliste het nie swart politiek in hul briewe bespreek nie en hulle was nie in verbinding met swart politici nie. Dit is ook duidelik dat swart politieke organisasies hulle nie voor 1948 tot Malan en sy Nasionaliste gewend het nie. Dokumente wat met swart mense verband hou, was byna heeltemal afwesig van die omvangryke reeks argivale versamelings wat tydens die navorsing vir dié boek geraadpleeg is en die waarde van dié wat wel daar is, is beperk. Dit dui op die mate waarin gepolitiseerde Afrikane en Afrikaner-nasionaliste in aparte wêrelde geleef het en dit wys ook hoe min ag Afrikaner-nasionaliste op swart politiek geslaan het – en andersom.

    Soos die Nobelpryswenner en ANC-leier Albert Luthuli oor die 1948-verkiesing opgemerk het: For most of us Africans, bandied about on the field while the game was in progress and then kicked to one side when the game was won, the election seemed largely irrelevant. We had endured Botha, Hertzog and Smuts. It did not seem of much importance whether the whites gave us more Smuts or switched to Malan. Our lot has grown steadily harder …[4]

    Wanneer die Afrikaner-nasionaliste swart mense wel bespreek het, het hulle in abstrakte terme na hulle verwys en dit word in die teks weerspieël. Om die swart versetbeweging by hierdie narratief in te voeg sal woorde in D.F. Malan se mond lê. Inteendeel, hul afwesigheid moet nie vertolk word as ’n verwaarlosing van swart politiek of ’n versuim om die opkoms en belangrikheid van Afrika-nasionalisme tydens dié tydperk in ag te neem nie. Hul afwesigheid moet eerder beskou word as ’n weerspieëling van Afrikaner-nasionaliste se isolasie van die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking. Dit sal die leser help om te verstaan hoe ’n wêreldbeeld wat om Afrikanersake soos die armblankevraagstuk gedraai het tot die apartheidsbeleid kon bydra.

    Dié boek bly nogtans die verhaal van ’n man – een wie se gesig sowel beroemd as berug kan wees, maar wie se lewe tot nog toe vir vele ’n raaisel gebly het. Sy kwesbaarheid en innerlike teenstrydighede, tesame met sy innige geloof in Afrikaner-nasionalisme, wat ’n onlosmaaklike komponent van sy godsdienstige oortuigings was, vertel die verhaal van ’n feilbare mens. Deur hierdie individu te verstaan, begryp ’n mens nie net sy wêreld nie, maar kan ’n mens ook aflei hoe sy persoonlikheid en dade ’n volk en ’n land kon vorm. Vir diegene wat die verlede wil verstaan, is dit onvermydelik om D.F. Malan se menswees in die oë te kyk.

    1 ( 1874-1900 )

    DIE SKAAM JONG MAN

    Danie Malan was ’n bysiende seuntjie. Hy het van agter ’n dik paar lense na die wêreld getuur en eenkant bly staan wanneer die ander kinders rowwe speletjies begin speel het. Sy skouertjies was ook krom – so erg dat sy ouers hom ’n harnas laat dra het om sy postuur te verbeter.[1]

    Die Malans se plaas, Allesverloren, was net buite Riebeek-Wes aan die hange van Kasteelberg. Vanaf die plaas het die jong Malan ’n panoramiese uitsig oor die Swartland se valleie gehad, wat op hul beurt deur groot berge in die verte omsoom is: die Elandskloofberge, die Groot Winterhoekberge en die Koue Bokkeveldberge. Die droë somers se ondraaglike hitte en stof het die inwoners immer na skadukolle laat skarrel. Herfs het die wingerde laat drup van die rooi. Winter het reën gebring, en heldergroen koringlande wat tot aan die voet van die sneeubedekte berge gestrek het. Die lente het vir welkome warmte gesorg, en sonskyn wat die hele landskap, nog groen ná die winterreëns, opgehelder het. Die Swartland is ru; sy landskap verdwerg die mens en laat hom nietig voel, en daar heers ’n stilte wat ’n mens dwing om te luister. Jare later was dit die einste ruheid van die Swartland waarna Malan, toe ’n student in die bedeesde Nederland, die meeste verlang.[2]

    Die Swartland se wit inwoners was Kaapse Afrikaners wat, in teenstelling met hul taalgenote in die twee Boererepublieke en die nouliks getemde buitewyke van die Kaapkolonie, ’n gevestigde klas grondbesitters was. Hulle was nie noodwendig ’n klein elite binne die breër Afrikaanse samelewing nie, maar kon bestempel word as ’n groep gemiddelde maar vooruitstrewende boere.[3] Hierdie klas Afrikaners het ook ’n aantal professioneles in sy geledere gehad – meestal predikante, prokureurs en mediese dokters. Die Afrikaners van die suidwestelike Kaapkolonie was ook meer betrokke by die handel en plaaslike regering as die Afrikaners op die grense van die kolonie.

    Deur die loop van die 19de eeu het die Kaapse Afrikaners stelselmatig verengels en ’n gematigde houding teenoor hul Britse landgenote ingeneem. Om goeie Engels te kon praat was ’n teken van ’n goeie opvoeding, wat op sy beurt toegang tot meer gegoede kringe gebied het. Dit was altans die toedrag van sake tot in die 1860’s.

    Die 1870’s en die ontdekking van diamante, en daarna goud, het ’n keerpunt gebring.[4] Dié gebeure het ’n merk op die Kaapse Afrikaners gelaat. Dit het die samelewing onherroeplik omvorm, nié net vanweë die groeiende Kaapse ekonomie nie, maar ook op grond van vooruitgang op vervoer- en kommunikasiegebied. ’n Nuwe bewuswording het onder die Kaapse Afrikaners posgevat: oor hul bande met die Voortrekkers en dié se ewige stryd teen die Britse Ryk, en die mate waarin hul eie kultuur en tradisies verdring is. Die streek se nuutgevonde rykdom het boonop klasseverdeeldheid binne die Kaapse Afrikanergemeenskap geskep. Die nood van ’n klas armblanke bywoners, wie se versinking tot volslae armoede bykans onomkeerbaar was, het nou pynlik by die gegoede grondbesitters afgesteek.[5]

    Daniël Francois Malan is op 22 Mei 1874 as die seun van so ’n gegoede grondbesitter gebore. Hy was sy ouers se tweede oorlewende kind – hul eerste drie is vroeg oorlede. Malan se ouer suster, Cinie, was ’n briljante en uiters godsdienstige kind.[6] Die broer net jonger as hy, Fanie, het ’n aanleg vir boerdery getoon. Die jong Malan, sy neus alewig in ’n boek, het sy bes probeer om plaaswerk te vermy – hoewel hy nie altyd daarin kon slaag nie.[7] Sy legendariese verstrooidheid het al tydens sy kinderdae kop uitgesteek. Sy moeder het ’n slag op hom afgekom waar hy ewe afgetrokke ’n derde vuil hemp probeer aantrek het bo-oor die twee wat hy reeds aangehad het.[8] Hy het dikwels gestrompel of in slote beland omdat hy óf in die stap probeer lees het óf net te ingedagte was om te kyk waar hy loop.[9]

    Sy pa, by wie hy sy doopname gekry het, was ’n imponerende man, ’n kerkraadslid en ’n vooraanstaande lid van die plaaslike gemeenskap. Daniël Francois sr. was ook ’n suksesvolle boer wat sowel koring as druiwe verbou het. Hy het aan Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) se politieke party, die Afrikaner Bond, behoort. Hy het soveel ontsag by sy oudste seun en naamgenoot ingeboesem dat dit moontlik tot ’n minderwaardigheidsgevoel gelei het.[10]

    Danie Malan was ’n ernstige, teruggetrokke kind wat sy mond selde oopgemaak het, in so ’n mate dat sy pa hom Eenwoord genoem het weens sy stomp antwoorde op enige vrae wat aan hom gestel is.[11] Hy was moontlik te verbouereerd om langer antwoorde te gee.

    Die pa se misnoeë met sy oudste seun het jare later ’n hoogtepunt bereik toe hy vir hom ’n nuwe perd gekoop het, maar ’n dag of wat later tot sy ontsteltenis uitgevind het die kind is steeds nie na die stalle teenaan die huis om na sy geskenk te gaan kyk nie. Nee, man, vir ’n boer sal jy nie deug nie, het sy pa gebrom.[12] In stede daarvan om as die oudste seun van ’n Afrikanergesin die plaas te erf, het Malan die geleentheid gekry om verder te studeer.

    Daar is weinig oor Malan se ma, Anna Malan (née du Toit), bekend. Sy was soos haar man van Hugenote-afkoms. Malan het selde van haar gepraat en die enigste beskrywing wat van haar oorgebly het, is dié van ’n familielid wat haar heel terloops as ’n liewe nederige siel bestempel het.[13] Dieselfde familielid het die kinders se uitsonderlike intelligensie aan hul pa se gene toegeskryf. Anna is in die geskiedenis as besadigd en nougeset opgeteken, met ’n egalige temperament, en alombekend as ’n minsame, hartlike boerevrou.[14]

    Buiten vir Cinie en Fanie het Malan ’n jonger suster, Mimie, en nog twee jonger broers, Pieter en Koos, gehad. Pieter is jonk dood. Op ’n dag toe die Malan-kinders teen Kasteelberg gaan piekniek hou het, het ’n groot rots teen die berg afgerol en hom getref. Vir sy gesin was die dood van die tienjarige seuntjie, wat altyd gesê het hy wil eendag ’n sendeling word, ’n groot terugslag.

    Soos die meeste Afrikanergesinne van daardie tyd en in die daaropvolgende eeu is die kinders nie net deur hul ouers grootgemaak nie, maar ook deur bruin huishulpe, wat altyd net op hul voorname genoem is. ’n Ou bruin vrou, Galatie, het die jong Danie op haar rug rondgedra, en ’n ander, genaamd Nanna, was ’n onlosmaaklike deel van sy kinderjare.[15]

    Daar was ook ’n ouer paartjie, Tom en Lena, wat as slawe gebore is en in ’n netjiese huisie op Allesverloren gewoon het. Malan is dikwels vir tee ingenooi en het graag van die aanbod gebruik gemaak. Tydens hierdie vroeë jare op die plaas, met sy ouers se werkers as lede van ’n uitgebreide dog paternalistiese familie, het Malan geglo al verskil tussen wit en bruin is hul opvoedingspeil. Hy het eers jare later die standpunt gehuldig dat rasseverskille inherent is.[16]

    Godsdiens het ’n belangrike rol in die Malan-huishouding gespeel. Die gesin was, soos die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk in daardie jare, Evangelies-gereformeerd en baie trots op hul Hugenote-herkoms.[17] Hul kosbaarste boeke was die Bybel en John Bunyan se The Pilgrim’s Progress. Dit was tipies van die tye. Tydens die laat 19de eeu is die suidwestelike Kaapkolonie deur ’n paar evangeliese herlewings opgesweep.[18] Andrew Murray jr. was die vernaamste figuur tydens hierdie herlewings, wat gekenmerk is deur hoogs emosionele bidure. Daar was ’n obsessie om siele van ondergang te red en die individu se persoonlike verhouding met God is beklemtoon.[19]

    Die Groot Herlewing het in die 1870’s deur Riebeek-Wes getrek en Murray het die dorp besoek om herlewingsdienste te lei. Dit was ’n groot sukses, waarna die plaaslike predikant, A.J. (Adriaan) Louw, in 1885 en 1886 nog herlewingsbyeenkomste gereël het.[20] ’n Aantal skoolkinders het hul lewens tydens hierdie byeenkomste aan Christus gewy. Onder hulle was die jong Jan Smuts.[21] Ook klein Cinie Malan het reeds op sewejarige ouderdom besluit om die Here te dien.[22]

    Malan was ook diep godsdienstig, maar het nooit van ’n bepaalde oomblik van bekering gepraat nie. Hy het sy gevoelens meestal vir homself gehou. Tog het hy van kleins af ’n bepaalde roepingsbewustheid ervaar. Wat hierdie roeping behels het, het hy egter nie geweet nie.[23] Toe hy die moontlikheid opper om regte te studeer, het sy diep godsdienstige ouers geweier. Prokureurs, het hulle geglo, word betaal om leuens te vertel.[24]

    Malan was ’n skrander leerling, maar hy is oorskadu deur sy suster, Cinie, en haar geniale klasmaat, Jan Smuts, met wie sy om die eerste plek meegeding het.[25] Jannie Smuts was presies vier jaar ouer as Danie Malan, en het die jonger seun tegelykertyd geïmponeer en geïrriteer. Sy eerste indruk is gevorm deur die verhaal van hoe hul skoolmeester, by wie Smuts geloseer het, een oggend ontdek het sy leerling het die hele nag wakker gebly. Smuts het naamlik geweier om te gaan slaap voordat hy ’n wiskundesom opgelos het. Meer as ’n halfeeu later het Malan dié staaltjie steeds vertel as ’n voorbeeld van merkwaardige deursettingsvermoë.[26]

    Die jong Malan het Smuts egter nie blindelings bewonder nie. Hy was minder beïndruk toe die ouer seun, wat soms vir die jonger kinders Sondagskool gegee het, vir hulle van koning Arthur en sy ridders vertel het. Smuts het aan die jongelinge verduidelik ’n ridder word ’n sir genoem en koningin Victoria kan steeds ridders aanwys. Hy het na homself gewys en gesê: Wanneer ek eendag groot is, sal sy my sir Jan maak.[27] Wanneer hy dié storie vertel het, het Malan die wyse waarop Smuts glo op sy bors geslaan het spottend nageaap. In sy oë was Smuts se spoggery arrogant weens sowel sy kulturele sienswyse as sy sosiale ambisie.[28]

    Jare later het hul skoolmeester, Theunis Stoffberg, die verskil tussen die twee eerste ministers vir wie hy skoolgehou het só beskryf: Smuts was soos ’n Maxim-geweer en Malan soos ’n Long Tom.[29]

    Dieselfde onderwyser het Malan die bynaam Tant Regina gegee – ’n goedige gespot met sy tydsaamheid. Want Malan was draaierig: sonder haas in sy bewegings en stadig met woorde, maar terselfdertyd deeglik. Terwyl Smuts altyd eerste gereed was met ’n antwoord, het Malan eers swygend oor syne nagedink totdat sy argument waterdig was. Hul klaskamergeaardhede is later in hul parlementêre styl weerspieël: Smuts was vlug en kon blitsig ’n slag slaan en Malan het voortgestoom soos ’n lokomotief terwyl hy die een argument op die ander bou, ongesteurd deur die ander parlementslede se tussenwerpsels.[30]

    Skoolmeester Stoffberg het ’n blywende indruk op die jong Malan gemaak. Later jare het hy meer van die onderwyser gepraat as van sy pa.[31] Stoffberg was kwalik agtien toe hy in Riebeek-Wes aangekom het om skool te hou. Hy het aanvanklik by die Malans geloseer en is later met D.F. Malan sr. se halfsuster getroud. Die jong onderwyser was deeglik in sy werk en het die kinders onder sy sorg met menslikheid behandel. Pouses het hy saam met hulle op die speelgrond gebaljaar, maar tog het hy in die klaskamer dissipline gehandhaaf en hul beste werk van hulle vereis.[32] Om te druip was om die skool in die steek te laat. Malan het dit ter harte geneem en met onderskeiding geslaag. Stoffberg het by sy klas ’n leuse ingeboesem: Enigiets wat die moeite werd is om te doen, is die moeite werd om góéd te doen.[33] Dié woorde het Malan vir die res van sy lewe bygebly en hy het dit ook aan sy kinders geleer.

    Soos enige ander normale jong seun het Malan kattekwaad aangevang, en sy broer Fanie was sy vernaamste medepligtige. Die twee het op ’n keer tabak gesteel, maar die skelm rokery was só sleg dat dit Malan vir die res van sy lewe van enige begeerte daarna genees het. Hy het graag saam met die ander kinders poetse op niksvermoedende dorpsmense gebak[34] en ure deurgebring in die veld, waar hy skilpaaie en koekemakrankas bymekaargemaak het.[35]

    Politiek was ’n belangrike deel van die Malan-huishouding. Die Swartlandse boere was een van die eerste groepe in die Kaapkolonie wat hulle polities georganiseer het om hul ekonomiese belange te beskerm.[36] Onze Jan Hofmeyr het in 1878 die Boeren Beschermings Vereeniging (BBV) gestig om beswaar aan te teken teen aksynsbelasting op sterk drank, wat die Kaapse wynboere regstreeks geraak het. Die party is aanvanklik deur die boere se korttermynbelange voortgestu en nie deur ’n bepaalde politieke ideologie nie.[37]

    Die wyn- en koringboere het hulself as die ruggraat van die kolonie beskou, en tydens die laaste kwart van die 19de eeu polities begin organiseer in reaksie op wisselende ekonomiese toestande en hul geskille met handelaars. Hulle het hul voortdurend op die Kaapse regering beroep om hul belange te beskerm deur middel van maatreëls soos invoerbelasting en subsidies. Hulle was ook baie wantrouig teenoor die kolonie se swart stemgeregtigdes, wat hulle geglo het die Engelssprekende handelaars se posisie teenoor hulle s’n versterk het.[38] Binne dié verband is ’n Afrikaner beskryf as a person of Dutch extraction, who believed in the advancement of the brandy market, protection to the corn farmer, and the repression of the native.[39] Die stigting van die BBV, wat later in die Afrikaner Bond opgeneem is, het ’n verskuiwing binne die Kaapse politiek aangedui: vanaf ’n stramheid tussen die oostelike en westelike streke van die kolonie na ’n nuwe era van Boer-Brit-vyandigheid.[40]

    Desnieteenstaande was die Kaapse Afrikaners lojale Britse onderdane – of altans, hulle het koningin Victoria bewonder en ywerig aan haar jaarlikse verjaarsdagvieringe deelgeneem.[41] Die Kaapse samelewing is deur Victoriaanse maniere en denke beïnvloed, wat die Sosiaal-Darwinistiese gedagte ingesluit het. Die Victoriaanse samelewing het Charles Darwin se teorie vir hulle toege­eien om hul hiërargiese siening van die wêreld en sy rasse – met hulself boaan die leer – te regverdig. Die wetenskap van die dag is ingespan om ’n biologiese rassisme te skep wat die onderworpe rasse se vermeende minderwaardigheid bevestig het op grond van hul gebrek aan kultuur. Vir die Britte was hul eie beskawing ’n bewys van hul meerderwaardigheid.[42] Malan se opvoeding was deur en deur Victoriaans en hy het die Victoriaanse maniere en sienswyse in so ’n mate aangeneem dat sy seun hom later as ’n Victorian gentleman beskryf het.[43]

    Omdat Riebeek-Wes se skooltjie nie matriek aangebied het nie, moes Malan sy ouerhuis verlaat en sy sekondêre onderrig aan die Stellenbosch Gimnasium voltooi. Hy het in 1891 op Stellenbosch se stasie aangekom, waar hy onder andere deur Jan Smuts ingewag is.[44]

    In Stellenbosch het hy in die studentelosieshuis Tertia op die suidelike oewer van die Eersterivier geloseer. Stellenbosse studente het Tertia as die huis van Giants, Pigmies, Cavaliers, Round-heads and Bondsmen bestempel.[45] Malan het beslis aan laasgenoemde kategorie behoort. In Tertia kon hy deel in die kameraadskap wat eie aan die koshuiservaring is: bad in die Eersterivier, sy pogings om sy naghemp op te spoor deur een vir een te ruik aan die hoop hemde wat daardie oggend deur hul eienaars op die vloer neergesmyt is, en die alewige goue stroop, wat hom sommer van binne en buite taai laat voel het.[46]

    In 1893, twee jaar ná Malan se aankoms in Stellenbosch, is sy moeder oorlede.[47] Sy pa is alleen op Allesverloren agtergelaat met die drie jonger kinders, Fanie, Mimie en Koos. Cinie was toe in Wellington, waar sy haar studie aan die Hugenote-kollege met groot sukses voltooi het. Sy het sedert haar kinderjare daarvan gedroom om eendag ’n sendeling te word en het daarvoor ondervinding opgedoen deur vir die plaasarbeiders se kinders Sondagskool te hou. Nadat sy as onderwyseres gekwalifiseer het, het sy gewerk as die private sekretaresse van mej. A.P. Ferguson, die prinsipale, en ook wiskunde en Latyn gegee. Terselfdertyd het sy eerwaarde J.C. Pauw, een van die dryfkragte agter die stigting van die Sendingkerk,[48] met sy werk onder Wellington se bruin gemeenskap bygestaan.[49]

    ’n Jong man het in haar belanggestel: die 29-jarige sendeling A.A. (Andrew) Louw van die Morgenster-sendingstasie in die destydse Masjonaland, wat vandag in Zimbabwe val. Louw was op soek na ’n metgesel, hopelik ’n huweliksmaat, wat hom met sy sendingwerk kon bystaan. Met dié gedagte het hy aan sy broers wat in Stellenbosch teologie gestudeer het, geskryf om te vra of hulle iemand ken met wie hy kon korrespondeer. Hulle het Cinie Malan aanbeveel. Sy was mooi en slim, en iemand wat net so maklik ’n skaap uitmekaar kan sny as ’n meetkundeprobleem oplos.[50]

    Andrew Louw het laat in 1892 aan Cinie geskryf en toestemming gevra om met haar te korrespondeer. Sy het ingestem, maar het dit duidelik gestel hy mag haar toegewing nie as aanmoediging beskou nie.[51] Ná haar ma se dood die volgende jaar moes sy na Allesverloren terugkeer om na haar pa en die jonger kinders om te sien. Malan sr. het egter gou besef dit kon net ’n tydelike reëling wees. Sy oplossing was om weer te trou, sodat sy kinders weer ’n ma kon hê. Vriende het Esther Fourie van Beaufort-Wes aanbeveel. Sy was die dogter van ’n vooraanstaande veeboer – en 21 jaar jonger as hy.[52]

    In Januarie 1894, ná dertien maande se korrespondensie, het Andrew Louw Allesverloren besoek om Cinie te ontmoet. Die twee het dadelik besluit om te trou.[53] Malan sr. het Esther Fourie in dieselfde maand om haar hand gevra. Hulle is in Maart 1894 getroud.[54] ’n Maand later het Cinie en Andrew voor die kansel gestaan. Cinie is saam met haar man na Morgenster, waar sy tot haar dood in 1935 saam met hom gearbei het.[55]

    Esther Fourie het goed by die Malan-gesin ingepas. Sy het haar man se kinders soos haar eie behandel en het kort ná hul huwelik geboorte geskenk aan ’n dogter, Essie, gevolg deur Annie en Stinie. Daar is ook ’n seuntjie gebore, maar hy is vroeg dood. Wanneer groepfoto’s by familiebyeenkomste geneem is, het Esther daarop aangedring dat die portret van haar stiefkinders se ma daarop ingesluit word.[56] In een so ’n foto sit Malan sr. in die middel, omring deur sy kinders en kleinkinders, met ’n portret van sy oorlede vrou aan sy regterkant en sy tweede vrou aan sy linkerkant.

    Die jong Malan het gou met sy nuwe stiefma se jonger susters bevriend geraak en veral by Nettie aanklank gevind. Sy het vir hom ’n kameraad geword en hulle het graag aan mekaar geskryf.

    Nadat hy met onderskeiding aan die Stellenbosch Gimnasium gematrikuleer het,[57] het Malan vir ’n BA in Wiskunde en Wetenskap aan die Victoria-kollege ingeskryf. Sy uitslae was nie altyd ewe goed nie. ’n Medestudent onthou hoe Malan ná ’n besonder moeilike wiskundetoets sy antwoorde met dié van ’n klasmaat vergelyk het. Toe dit blyk dat hy minstens drie antwoorde reg gehad het, het hy sommer gebokspring van vreugde en verligting. Malan se uitbundigheid was só ongehoord dat sy medestudent die voorval vir die res van sy lewe onthou het. Volgens hom was Malan altyd so sedig, so ernstig, en so goed gebalanseerd soos ’n skaaltjie in die chemiese laboratorium.[58]

    Malan het nie aan enige sport deelgeneem nie, het trots verklaar dat hy nog nooit ’n roman gelees het nie en by sy vriende die indruk gewek dat hy glad nie in die teenoorgestelde geslag belangstel nie. My mind to me a kingdom is was sy leuse.[59] Malan het later erken hoe pynlik skaam hy tydens sy studentejare was. Sy minderwaardigheidsgevoel het hom soms só oorweldig dat dit vir hom gevoel het asof tallose oë sy rug deurboor terwyl hy in die straat af stap.[60]

    Al was sy vriende onder die indruk dat meisies nie vir hom belangrik was nie, het Malan die vrymoedigheid gehad om die nooientjie van sy drome aan Nettie te beskryf. Soos wat die gebruik onder opgevoede Afrikaners in daardie jare was, het hulle in Engels gekorrespondeer:

    . . . my recipe states that my tik [iemand op wie jy verlief is] wears her hair loose, has no strikkies about her, is no slave of fashion, is very kind and good tempered, and has never yet flirted and has a true constant love for none else than for me. You see that my tik is infinitely more difficult to be caught than yours, for women are almost all alike. If she has once disappeared among the millions of her sex, the task of extricating her is almost a hopeless one.[61]

    Malan het probeer vlerksleep by ’n jong dame genaamd Berrie, maar sy poging het skipbreuk gely weens ’n kwaai chaperone. I really don’t know why I may not see Berrie anymore, het hy by Nettie gekla. It must be either imagination on my part that I have done something, or it must be imagination on Miss Hannay’s part that I have done something. I don’t think that it is expressly forbidden, but the old lady does not like it. I hear that she is displeased with calling in general, so that mine is no exceptional case.[62]

    Drie jaar later het Malan met ’n meisie genaamd Maria probeer korrespondeer. In hierdie briewe kan ’n mens die skaam jong man byna sien bloos soos hy as’t ware oor sy woorde steier:

    Have you made up your mind yet about what I asked you the evening before you left? If you do decide to consent, I would not expect you to write every week or every fortnight or even longer, for I am considerate enough to think that you may be wearied and that you have your work and other correspondence besides. If however you have any objection whatever, or any difficulty or even if you have no inclination to do so, you may certainly be so bold as to say so; I will not in any way be offended and will rest satisfied – not that I am at all indifferent and do not care; far from it! but because I can do it for your sake. I am very glad that you have taken some time to consider. If one does not think twice before you leap, you might afterwards have cause to regret the step you have taken, thereby perhaps grieving both yourself and others.[63]

    Hy het kennelik ’n positiewe antwoord ontvang, want in sy volgende brief het hy jubelend voortgestrompel:

    I feel very highly honoured, to say nothing of being pleased. I fear that you will not always find me very interesting or entertaining. In letterwriting, I suppose, as in all other things, experience is needed to bring to perfection and that is just what I cannot boast of. To my homepeople, school and College chums I have of course often written, but whether being interesting to them means being interesting to ladies, I don’t know. However, you have been kind enough to take this new pupil into your school; he is a little older perhaps than most of your pupils are, and his faults are therefore perhaps a little more deeprooted, but I sincerely hope that notwithstanding all the vexation he may give, you may have the satisfaction to see that he is at least progressing. I have one request to make and that is that you would never in any way trouble yourself so as to be able to write to me regularly. You need not write when you are tired or have anything else to do. Write when you feel inclined and have the leisure. Not that I am so presumptuous as to think that you will take trouble or make any sacrifice for my sake, but because you might, having made this engagement, think it your duty. In short, consider writing to me not a duty you have to perform, but a favour you bestow.[64]

    Dit wil egter voorkom of sy poging hierna op die rotse geloop het, want geen verdere korrespondensie tussen Malan en Maria het bewaar gebly nie. Malan het uiteindelik besluit om hom skaars te hou wat die teenoorgestelde geslag betref. Hy was steeds bewus van ’n spesiale roeping en het besluit meisies sal sy aandag slegs van sy lewensdoel aftrek.[65]

    Daar was ’n ander forum – die Unie Debatsvereniging – waar Malan sy minderwaardigheidsgevoelens makliker kon oorwin. In daardie jare was bykans al Stellenbosch se studente lid van die Kollege Debatsvereniging of die Unie Debatsvereniging.[66] Malan is sommer reeds met sy aankoms in Stellenbosch vir die Unie Debatsvereniging gewerf. Pieter Stofberg het sy lidmaatskap formeel voorgestel en Jan Smuts het dit gesekondeer.[67] Die Unie Debatsvereniging was ’n forum waar ’n nuwe generasie geleerde jong Afrikaners hul stand se gevestigde belange kon verwoord, sowel as ’n nuwe nasionalisme wat minder gematig as dié van hul ouers was.[68] Dit was ’n slypskool vir aspirant-politici en -orators.

    Malan het vir sy eerste optrede ’n resitasie getiteld The Death of Napoleon voorberei. In die stuk herleef Napoleon op sy sterfbed op St. Helena in sy geestesoog sy roemrykste oomblikke.[69] Dié soort beeld het die jong Malan ontroer en hy het sy bes probeer om dit so vloeiend as moontlik voor te dra.[70] Sy plegtigheid was egter vir die agterbankers komieklik en hulle het hom lustig gespot. Smuts kon sien hoe die vernedering dreig om die verslae Malan te oorweldig. Hy het na die vereniging se voorsitter, P.J.G. Meiring (die latere redakteur van Die Kerkbode), oorgeleun en gefluister die jong man kom van sy tuisdorp af en het ’n fyn persoonlikheid en ’n vinnige brein.[71] Meiring het die nuweling na afloop van die geleentheid opgesoek en hom verseker hy het sy voordrag geniet, en hom aangeraai om geen ag op die spotters te slaan nie.[72]

    Die gerusstelling het die nodige uitwerking gehad, want Malan het nie moed opgegee nie. Dit was ’n belangrike keerpunt, ’n oomblik waartydens Smuts, later een van Malan se vernaamste politieke opponente, verhoed het dat sy gees geknak word.

    In 1895 het Malan aan sy eerste debat deelgeneem met dié onderwerp: That this meeting considers that the buying up of farms by a foreign syndicate will prove disastrous to the Cape Colony. Hy het die debat gewen[73] en is deur die Stellenbosch Students’ Annual geloof vir ’n brilliant success. The debating power of the Society has probably never appeared to such distinct advantage.[74]

    Dié debat verskaf die eerste blik op Malan se denkwyse, aangesien hy nie op daardie tydstip dagboek gehou het nie en weinig van sy briewe van voor 1895 behoue gebly het. Sy redevoering sou enige lid van die Afrikaner Bond trots gemaak het. Die toespraak was helder en sistematies en Malan het metafore vernuftig ingespan. Pleks daarvan om hom op sy gehoor se patriotiese emosies te verlaat, het hy, met verwysing na Kimberley se diamantvelde, nugter kritiek gelewer op die moontlike invloed van buitelandse kapitaal op die Kaapkolonie. Die enigste doelwit van ’n buitelandse maatskappy, het hy sy luisteraars verseker, was om winste vir sy Europese aandeelhouers te maak. Dit sou geld uit die land neem en, soos in die geval van De Beers, aan die een kant miljoenêrs soos Cecil John Rhodes en Barney Barnato skep en aan die ander kant verarmde arbeiders uitspoeg. Dit kon die Kaapkolonie dieselfde hoofbrekens besorg wat reeds die vrede in Europa versteur het: anargisme en sosialisme. Of erger, het hy gewaarsku, ’n buitelandse maatskappy kon besluit om die goedkoopste moontlike arbeid te kry deur arbeiders in te voer – wat die Kaapkolonie met ’n soortgelyke probleem as Natal se Coolie question* kon opsaal.[75]

    Dit is interessant dat Malan so krities teenoor Rhodes en De Beers was omdat die verhouding tussen Rhodes en die Afrikaner Bond op die oog af nog heel gesond was. Die rampspoedige Jameson-inval en die daaropvolgende politieke egskeiding tussen Rhodes en die Afrikaners het eers tydens die laaste week van Desember 1895 en die eerste weke van 1896 plaasgevind. Tog het Malan gesinspeel op gerugte dat De Beers geheime geld gebruik het om verkiesings te beïnvloed. Dit is vandag algemeen bekend dat S.J. du Toit, die kleurryke leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging en omstrede stigter van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), in Rhodes se sak was.[76] Dit is moontlik dat die gerugte destyds reeds die rondte gedoen het.

    In sy toespraak het Malan die begrip Afrikaner ietwat dubbelsinnig gebruik. Wanneer hy hom op sy gehoor beroep het, was dit as lede van dieselfde nasie, whether this country be our adopted country or our native land.[77] Tog het sy beskrywing van die Afrikaners weinig twyfel gelaat dat hy daarmee na die Hollandssprekende, of in sy woorde, gevestigde, wit, bevolking verwys het. Hy het Afrikaners as ’n konserwatiewe groep mense beskryf wat wantrouig teenoor vooruitgang staan en deur oorgangstye bedreig word:

    The Afrikander nation is one very slow and hesitating to accept new things and new ideas. The nation has always been looked upon as extremely non progressive even so that some call it the retrogressive party. A sudden change is now to come and who knows what may be the result. We may compare the slow progress that our nation is making to a cart that is moving slowly forward. A sudden pull is now given to it and it might be that we remain on the cart, but it might just as well be that we lose our balance, tumble over and remain behind altogether.[78]

    Hierin is ’n duidelike pleidooi om beskerming vir sy mense teen onsekere tye te lees. Die beskerming moes nie net ekonomies van aard wees nie, maar ook kultureel, want die Transvaalse Uitlanders was vir Malan ’n onheilspellende voorteken.[79]

    Dit is ook interessant om te let op Malan se antikapitalisme en antisosialisme in ’n voordrag wat hy op 21-jarige ouderdom geskryf het. Afrikaners was, as ’n reël, ambivalent oor kapitalisme en sosialisme, maar dié toespraak was ’n vroeë uitdrukking van iets wat in die 20ste eeu ’n algemene begrip geword het. Malan het kapitalisme as ’n euwel beskou wat die plaaslike bevolking plunder, en die samelewing se ewewig versteur deur ekonomiese ongelykheid te skep. Dit sou op sy beurt tot sosialisme en anargisme lei. Vir Malan het laasgenoemde twee hand aan hand geloop.

    Hy was ook bekommerd oor die uitwerking wat al hierdie vreemde euwels op Afrikaners se nasionale karakter kon hê.[80] Hierdie term kan gekoppel word aan die Duitse filosowe Johann Gottfried Herder en Johann Gottlieb Fichte, wat breedvoerig geskryf het oor die uniekheid van elke kultuur, wat tot elke prys soos ’n kosbare skat bewaar moes word. Filosofie was Malan se ander groot belangstelling en in dié studieveld was hy meer tuis as in enige ander.[81]

    Ná die voltooiing van sy BA moes Malan op sy volgende stap besluit. Hy het moontlik die onderwys oorweeg, want in 1896 is hy ’n paar maande lank as die hoof van ’n seunskool in Swellendam aangestel. Die skool was in ’n benarde toestand en op die punt om gesluit te word. Boonop was Malan se onderrigpoging blykbaar nie baie geslaagd nie, want hy is ná een termyn daar weg en in die daaropvolgende skoolinspeksie het die leerlinge beroerd gevaar.[82]

    Die dag en datum waarop Malan besluit het om teologie te studeer, is onbekend. Hy het later vertel hy het drie maande lank ’n innerlike stryd gevoer om tussen die regbank en die kerk te kies.[83] Eersgenoemde was sy voorkeur en begeerte; laasgenoemde sou sy ouers tevrede stel. Toe hy uiteindelik kies, was dit finaal – hy het nie weer teruggekyk nie.[84]

    Op ’n ongedateerde vel papier het hy, sonder om melding te maak van sy aanvanklike voorkeur, die redes vir sy besluit om predikant te word, neergeskryf.[85] Sy woorde het die toewyding aan sy gekose pad weergegee. Hy het die wyse waarop hy sy besluit geneem het aan sy ouers toegeskryf: As godvresende, vroom mense het hulle hom sedert sy kinderjare geleer elke mens het ’n godgegewe roeping. Dit het beteken sy loopbaan kon slegs slaag indien God se seën daarop rus. Volgens die nota het hy vantevore lank oor die saak gebid en God gevra om vir hom die weg aan te dui. Hy was glo reeds twee jaar vóór die neerpen van die nota bewus van sy roeping, maar sy vertwyfeling het hom aanvanklik verhoed om die moontlikheid te oorweeg – moontlik weens sy skaamheid en minderwaardigheidsgevoelens. Hy het egter besluit om nou sy eie wil prys te gee, en God se wil te volg. Hy sou ’n leë vat wees waarin God sy Heilige Gees kon giet.[86]

    Die vel papier was in werklikheid ’n brief van onderwerping, van neerkniel, en ’n voorneme om ’n weg te volg waarvoor hy, nes Moses, bitter bang was, maar waarin hy nietemin sou volhard om God se wil te bevredig.

    Malan het sy admissie-eksamens in 1896 geskryf en dit cum laude geslaag, waarna hy by Stellenbosch se kweekskool ingeskryf het.[87] Terselfdertyd het hy ook vir ’n MA in Filosofie ingeskryf. Só het hy van een wêreld na ’n ander beweeg.

    Toe Malan in 1891 in Stellenbosch aangekom het, het die dorp uit twee wêrelde bestaan. Aan die een kant was daar die professore van die Victoria-kollege, wat meestal Engelsgesind was en aan hul studente ’n klassieke opvoeding gebied het. Daarteenoor is Stellenbosch deur die kweekskool oorheers.

    Tydens Malan se studentejare het die kweekskool se dosente uit proff. N.J. Hofmeyr, J.I. Marais en P.J.G. de Vos bestaan, wat almal noue bande met ds. J.H. Neethling, die plaaslike predikant, gehad het. Die kweekskool is deur Hofmeyr en John Murray gestig – laasgenoemde was reeds oorlede toe Malan as student ingeskryf het. Hulle is as ortodokses beskou en die kweekskool het sy bestaan aan hul oorwinning oor liberale faksies in die kerk te danke gehad. Hofmeyr en Murray was lede van ’n klein, invloedryke teologiese kliek wat almal in Nederland aan die Universiteit van Utrecht gestudeer het, waar hulle deur die Romantiese Réveil-beweging beïnvloed is.

    Die Réveil was ’n reaksie teen rasionele kritiek op die kerk se leerstellings, wat in dié jare kenmerkend van Nederlandse teologie was. Die Réveil het ’n terugkeer na die suiwer gereformeerde geloof en Calvinistiese beginsels voorgestaan.[88] Hofmeyr, wat as ’n vaderfiguur oor die kweekskool getroon het, is ook deur die werk van Friedrich Schleiermacher, ’n Duitse Romantiese teoloog en filosoof, beïnvloed. Schleiermacher het meer op die ervaring van geloof as op die doktrine gefokus.[89] Dit het stukrag verleen aan die gedagte dat geloof ’n private en individuele saak is. Dié groepie mans het dus saam met Andrew Murray jr. ’n belangrike rol gespeel in die Evangeliese beweging en in die Groot Herlewing, wat so ’n verreikende uitwerking gehad het op die wêreld waarin Malan grootgeword het.

    Hul preke het egter nóg ’n dimensie gehad: ’n nasionalistiese strekking. Hul benadering tot die teologie en geloof was patrioties van aard, wat maklik toegeskryf kan word aan die invloed van die Romantisisme, waaraan hulle tydens hul studie in Europa blootgestel is. Die Romantisisme het saamgehang met die opkoms van nasionalisme in Europa en omdat die Calvinisme predik dat alles aan God onderwerp moet word, het J.I. Marais patriotisme sonder geloof as waardeloos beskou.[90] By die Stellenbosse kweekskool is teologie dus saam met ’n stewige porsie nasionalisme opgedien.

    Dit was tipies van die tyd. Die laat 19de eeu was die era van nasionalisme, die opkoms van verenigde state soos Duitsland en Italië en van wêreldwye ryksgebiede. Die Kaap, as ’n onderdeel van die Britse Ryk, was nie afgesluit van die waardes en retoriek van die dag nie. Soos ’n mens kan aflei uit die jong Malan se negatiewe kommentaar oor Europese anargiste en sosialiste, was die koerante – wat hy daagliks verslind het – vol nuus en menings uit Europa. Malan was dikwels laat vir ete omdat hy hom só in die koerante verdiep het dat hy tred verloor het van die tyd. Wanneer hy dan uiteindelik aan tafel verskyn het, het hy ewe kalm gaan sit en dit wat hy pas gelees het met sy medestudente begin bespreek.[91]

    Malan het dit geniet om met sy vriende te debatteer. Hy was besonder lief vir filosofiese gesprekke en het graag lang ente gaan stap, veral in die rigting van die Jonkershoekvallei, terwyl hy deurgaans met sy metgeselle oor die filosofie gesels het.[92] Hy het net sy opinie uitgespreek nadat hy dit deeglik oorweeg het en daarvan oortuig was dat hy reg is. Tot sy vriende se groot misnoeë het hulle dit ook gans onmoontlik gevind om hom tot ander insigte te bring as hy eers ’n standpunt ingeneem het.[93]

    Die filosofie wat Malan bestudeer het, is deur die Duitse Idealisme oorheers. Sy MA-tesis, wat nie bewaar gebly het nie, het oor Immanuel Kant gehandel. Van Kant was dit vir hom maar ’n klein sprong tot by Georg Wilhelm Friedrich Hegel en Fichte.[94] Dié filosowe was almal deel van die Idealistiese tradisie, wat in die laaste jare van die 19de eeu die studie van filosofie in Amerika en Brittanje oorheers het. Die kerngedagte agter die Idealisme is dat die realiteit eerstens deur die verstand gevorm word.[95] Dit impliseer dat die realiteit deur geestelike waardes, eerder as deur materiële omstandighede, bepaal word.

    Dié gedagte bied ’n belangrike sleutel tot die verstaan van Malan se denke. Dwarsdeur sy loopbaan het hy daarop aangedring dat beginsels eerste kom en dat hulle nie vir politieke gewin opgeoffer mag word nie.

    Daar was nog ’n belangrike element in hierdie filosowe se denke. Fichte het hom met die Duitse nasionalisme vereenselwig en voortgebou op die standpunt dat taal die uiting van die nasionale siel en die grondslag vir nasionale eenheid is. Hy het dus ’n beroep op die Duitse nasie gedoen om hulle met hul nasionale gees te vereenselwig en om hulle in die nadraai van die Napoleonitiese oorloë van buitelandse verdrukking te bevry.[96]

    Fichte se woorde het ’n snaar aangeroer by ’n jong man aan die suidpunt van Afrika. Dit was naamlik nie net die era van nasionalisme in Europa nie, maar ook die tydperk waarin Afrikaner-nasionalisme begin ontwaak het.[97]

    Die laaste jare van die 19de eeu was ’n moeilike tyd vir koningin Victoria se Afrikaners. Hul vernaamste politieke party, die Afrikaner Bond, was gematig en nie altyd op goeie voet met Paul Kruger se regering in Transvaal nie. Laasgenoemde is onverhoeds betrap deur die ontdekking van goud op dié Boererepubliek se drumpel. Dit het vrese laat ontstaan dat die republiek se onafhanklikheid in die gedrang kon kom en het veroorsaak dat Transvaal nouer ekonomiese bande met die Kaap vermy het.

    Dit het die Afrikaner Bond juis nader aan Transvaal se groot teenstander, die aartsimperialis en mynmagnaat Cecil John Rhodes, gedryf. Rhodes en Onze Jan Hofmeyr, die Afrikaner Bond se leier, het ’n paar jaar lank ’n goeie samewerkingsverhouding gehandhaaf. Die Bond het sy steun toegesê aan Rhodes as eerste minister van die Kaapkolonie, terwyl hy op sy beurt aandag aan hul landboubelange geskenk het. Hy het ook hul verontwaardiging gedeel oor Kruger se hoë spoorwegtariewe, wat die uitvoer van Kaapse landbouprodukte na die Rand se ryk goudvelde gekortwiek het.[98]

    Die Jameson-inval van Desember 1895 het die verhouding tussen Rhodes en die Bond egter vernietig. Rhodes, wat gefrustreerd was deur Kruger se maatreëls om hom en die Uitlanders politieke mag in Transvaal te ontsê, het saamgesweer om ’n Uitlander-opstand in Johannesburg te organiseer en só beheer oor die Boererepubliek te verkry. Rhodes se vriend en bewonderaar dr. Leander Starr Jameson het Transvaal vanuit Betsjoeanaland met behulp van Rhodes se British South Africa Company-troepe ingeval. Die inval het egter in ’n fiasko ontaard nadat hul planne uitgelek het en hulle in ’n lokval gelei en tot oorgawe gedwing is.[99]

    Rhodes was die enigste lid van die Kaapse kabinet wat van die inval geweet het. Hofmeyr het ’n dag later daarvan uitgevind en was woedend dat hy vir die gek gehou is, veral omdat sy ondersteuners nou gemeen het hy het ’n oordeelsfout gemaak deur met Rhodes saam te werk. Hy het hom dadelik van Rhodes gedistansieer. Laasgenoemde was verplig om op 7 Januarie 1896 as eerste minister te bedank.[100] Die inval het die Kaapse Afrikaners verskeur tussen hul lojaliteit teenoor koningin Victoria en hul meelewing met hul stamgenote in Transvaal.

    Dit het Kruger se posisie natuurlik versterk en hy kon hierna ’n beeld van homself voorhou as die regmatige leier van ’n verontregte en bedreigde staat. In die Kaap het die koerant Ons Land begin skryf oor die Afrikaners se behoefte aan ’n geestelike wedergeboorte en die noodsaak om te voorkom dat hulle besmet word deur die gees van materialisme wat uit Europa gevloei het. P.J.G. de Vos, een van Malan se kweekskoolprofessors, het ’n reeks artikels getiteld Nationale Vraagstukken in Ons Land gepubliseer. In dié artikels het hy die Jameson-inval bestempel as bewys van die Engelsman se fundamentele minagting vir Afrikaners, en ’n beroep op Afrikaners gedoen om hul selfrespek te herwin, hul taal te koester en na hul Bybel terug te keer.[101]

    In Stellenbosch, waar hy die koerante daagliks verslind het, is die artikels deur die jong Malan opgeslurp. Malan se meelewing met die Afrikaners in Transvaal het toegeneem. As jong seun het hy sy oom aan moederskant op ’n reis na Transvaal vergesel – waar hy Kruger op ’n afstand gesien het. Dit het ’n blywende indruk op hom gelaat.[102]

    Hy het ook die Kanadees-gebore George McCall Theal se geskiedenisboeke gelees.[103] Theal se werk was gewild onder Stellenbosch se studente, want dit het ’n gloeiende resensie in die Stellenbosch Students’ Quarterly ontvang.[104] Dit was beslis ook baie gewild in die twee Boererepublieke, waar dit in Nederlands vertaal en as skoolhandboeke gebruik is.

    Theal was aanvanklik baie krities teenoor die Boere, maar danksy sy argivale navorsing, waaruit hy volume ná volume oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis gepubliseer het, het hy mettertyd ’n konserwatiewe, pro-wit, en veral pro-Boer, anti-sendeling en anti-swart standpunt ingeneem.[105] Hy het veral oor die Groot Trek geskryf en die Boere só verheerlik dat hy van anti-imperialisme beskuldig is. Hy het die gekleurde rasse van Suid-Afrika uitgebeeld as wispelturige barbare, geneig tot diefstal en gewetenloos as dit by die vergieting van bloed kom.[106]

    Theal het die sendelinge en Britse filantrope wat hulle by swart mense geskaar het, bestempel as vyande van wit mense, wat volgens hom besig was met die edele taak om die ongetemde binneland vir die beskawing en die Christelike geloof oop te maak.[107] Theal se polariserende beeld van die verlede het Malan se interpretasie van Suid-Afrika se geskiedenis vir die res van sy lewe bepaal.

    In 1896, in die nadraai van die Jameson-inval, het Malan ’n bydrae vir die Unie Debatsvereniging se joernaal geskryf: In Our Situation het hy die bont spul wat maand vir maand na Suid-Afrika gestroom het, betreur. Hulle het maar net één doel voor oë gehad: om hul eie skatte te kom opgrawe, en saam met hulle het die gees van materialisme sy opwagting gemaak. We live in a time of transition, a period of danger, het hy geskryf.[108] Daarom het hy die vraag gestel:

    How are we to be protected from contagion? In answer to this question of so mighty consequence to us, I find but one answer. Let us stand together, let us preserve our nationality and with our nationality our national character. In the preservation of nationality there are two factors which have an overwhelming influence. The first is the study of the history of the nation. No tie binds a nation so firmly to its own traditions as the study of its history … The other and equally important factor in the preservation of the nationality is the preservation of the language … To preserve then our nationality and national character it is absolutely necessary that we keep in honour our history and our language, holding to our own to the very last, struggling to get our rights acknowledged and granted to the full, not from any sense of race hatred or prejudice to which some will ascribe our activity, but from a true sense of patriotism.[109]

    Malan se vurige woorde was ’n weerspieëling van Afrikaners se groeiende nasionale bewuswording, maar dit was ook ’n uiting van die toenemend verdedigende houding wat die Kaapse Afrikaners ingeneem het. Dit was nie net Afrikaner-nasionalisme wat in die Kolonie aan die opbloei was nie. Britse nasionalisme, wat in die Kaapkolonie deur die South African League verteenwoordig is, was ook aan die opkom. Die South African League se teenwoordigheid in die parlement het sterk gegroei en dit het tot groter verdeeldheid in die Kaapse politiek gelei. Toe die Afrikaner Bond kapsie maak teen die koste om ’n nuwe oorlogskip aan koningin Victoria te skenk, het die League die party van ontrouheid aan die Ryk beskuldig. Dit het ook nie die Bond se verhouding met die hoë kommissaris, sir Alfred Milner, bevorder nie. Toe die Bond hom van hul lojaliteit aan die Ryk en die koningin verseker, het Milner dit hardop betreur dat hy hul lojaliteit nie as vanselfsprekend kon aanvaar nie.

    Die 1898-verkiesing was die eerste verkiesing waartydens twee partye wat elk die onderskeie taalgroepe verteenwoordig het, mekaar die stryd aangesê het.[110] Oorlogswolke het oor Suid-Afrika begin saampak.

    In Stellenbosch het die jong Malan op die oog af kalm voorgekom, maar sy binneste wou bars van jeugdige idealisme. Hy was besorg oor die lot van die Afrikanervolk en ook vurig oor die noodsaaklikheid vir individue om ’n verskil in die wêreld te maak. Dit was ’n passie wat hy aan almal om hom verkondig het.[111] Onder sy medestudente het hy vir hom naam begin maak as ’n formidabele redenaar, in so ’n mate dat minstens een van sy tydgenote dit betreur het dat iemand met Malan se retoriese gawes vir die kansel, en nie die hofsaal nie, bestem was.[112]

    Dié tydgenoot sou nie kon raai dat ’n loopbaan in die regte Malan se onvervulde wens was nie – ’n wens wat sy toetrede tot die politiek, waar sy ware passie gelê het, soveel makliker kon gemaak het. In stede daarvan het hy ’n ompad geneem. Sy tydsame vordering tot en met sy uiteindelike verkiesing tot premier het ongunstig met die politieke loopbaan van sy voorganger, Smuts, vergelyk. Smuts het regte gestudeer en, trou aan sy aard, blitsig in die politiek gevorder.[113]

    Daarenteen het Malan hom aan sy voorbereiding vir ’n lewe in die kerk gewy. Hy en sy medestudente was baie bekommerd oor die teoretiese aard van hul teologiekursus, wat hulle nie voorberei het op die praktiese uitdagings om ’n gemeente te lei nie. Hul oplossing was om praktiese ervaring op te doen deur soveel sendingwerk as moontlik te doen. Malan het dus met een van die plaaslike boere gereël om vir sy bruin werkers te preek. Vir dié doel het die boer hom elke Sondag met sy perdekar in die dorp kom oplaai en só kon Malan broodnodige preekervaring opdoen.[114]

    Namate hy sy retoriese vaardighede geslyp het, het hy opgang in die Unie Debatsvereniging gemaak. In 1895 is Malan as die sekretaris aangewys[115] en teen 1897 was hy die voorsitter.[116] In daardie jaar het hy ook die redakteur van die vereniging se publikasie, Stellenbosch Students’ Annual, geword. Onder sy leiding was die publikasie só ’n sukses dat dit kwartaalliks uitgegee is.[117] Hy het nou ’n posisie beklee wat hom in staat gestel het om tot sy medestudente te spreek, en hy het sy bes gedoen om hulle tot hoër hoogtes aan te spoor deur die volgende beginsels aan hulle voor te hou:

    Be in the first place a member of the society with a distinct object in view. The aimless man never attains to eminence of any kind … aim high. Let your ideals be lofty, let your aspirations be high … they will allure you, will haunt you, will form the driving power of your life … resolve to reach your ideal at any cost. Difficulties, many and great, will come in the way … but the man who thinks dares to speak, and struggles, invariably makes progress, and will triumph at last.[118]

    Nog ’n paar jaar het verloop voordat Malan sy eie doelwitte kon formuleer, maar die noodsaaklikheid daarvan was altyd in sy gedagtes teenwoordig.

    Nadat betrekkinge tussen Milner en Kruger finaal in duie gestort het, is oorlog in Oktober 1899 verklaar en Malan moes afskeid neem van sy Vrystaatse en Transvaalse vriende wat Stellenbosch verlaat het om in die Anglo-Boereoorlog te gaan veg.[119] Jare later het sy politieke opponente probeer munt slaan uit die feit dat Malan nie aan die oorlog deelgeneem het nie. Was hy ’n lafaard? Het hy na Nederland gevlug? Daar was ook die Kaapse Rebelle – waarom het hy nie by hulle aangesluit nie?

    Die Kaapse Rebelle was afkomstig uit die noordelike distrikte van die Kaapkolonie wat aan die Vrystaat gegrens het. Daar was geen georganiseerde Afrikaneropstand in die Kaap nie en in die algemeen het die Kaapse Rebelle slegs by die Boeremagte aangesluit nadat Boerekommando’s hul distrikte binnegeval het. In die distrikte wat nie ingeneem is nie, was daar sterk ondersteuning vir die Boere, maar dié steun het nie aansluiting genoop nie.[120]

    Die Kaapkolonie is op 12 Oktober 1899 binnegeval, die dag nadat oorlog verklaar is. Teen middel 1900 het dié aanslag egter stoom verloor. Een van die inval se belangrikste doelwitte was om krygers onder die Kaapse Afrikaners te werf. Die Boerekommando’s het ’n dorp beset, dit tot Vrystaatse gebied verklaar en Republikeinse magistrate aangestel. Hulle het dan geëis dat die plaaslike bevolking by hulle aansluit – of hul eiendom sou gekonfiskeer en hulle sou uit die gebied verban word. In sommige distrikte is die inwoners met hoë boetes gedreig as hulle nie by die Boere aansluit nie. Diegene wat die geld gehad het, het in die algemeen die boete betaal, maar armes het geen ander keuse gehad as om hul lot by die kommando’s in te werp nie. Grondbesitters het as ’n reël nie by die Republikeinse magte aangesluit nie.[121]

    Die vraag wat dus eerder gestel moet word is of dit vir ’n jong, opgevoede Kaapse Afrikaner soos Malan vanselfsprekend sou wees om aan die oorlog deel te neem. Die jong man in Stellenbosch en sy grondbesittergesin in Riebeek-Wes was ver verwyder van die noordelike streke, waar hierdie gebeure afgespeel het. Die gemeenskappe waaraan hulle behoort het, het hul steun vir die Boeresaak eerder deur lojale verset aangedui. Pleks daarvan om die wapen op te neem, het hulle vergaderings gereël en mosies opgetrek in die hoop om die openbare mening in Brittanje te beïnvloed. In Riebeek-Wes was D.F. Malan sr. die voorsitter van ’n vergadering wat die volgende mosie gesteun

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1