Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Geloof anderkant Sondag: Christenskap met en sonder die kerk
Geloof anderkant Sondag: Christenskap met en sonder die kerk
Geloof anderkant Sondag: Christenskap met en sonder die kerk
Ebook213 pages2 hours

Geloof anderkant Sondag: Christenskap met en sonder die kerk

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

'n Groeiende groep gelowiges bevind hulle vandag buite die kerk. Hulle noem hulself nog Christene, maar sukkel om met die georganiseerde godsdiens te identifiseer. Ander is steeds tuis in die kerk, maar verlang na nuwe maniere van praat oor geloof. Dié boek is vir hierdie soekendes.

Die bekende teoloog Julian Müller onderskei tussen wat hy 'n Sondag-geloof noem en "geloof anderkant Sondag". Waar 'n Sondag-geloof die veiligheid van duidelike reëls en vaste kerklike gebruike bied, laat geloof anderkant Sondag ruimte vir onsekerheid en vertwyfeling. Dit maak erns met die geloofsvrae waarmee mense worstel sonder om te oorvereenvoudig.

Müller gebruik sy eie vrae as vertrekpunt en neem treffende voorbeelde uit sy eie lewe om te wys dat daar wel anderkant Sondag geglo kan word.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 3, 2014
ISBN9780624066248
Geloof anderkant Sondag: Christenskap met en sonder die kerk
Author

Julian Muller

Julian Müller is 'n emeritus-professor aan die Universiteit van Pretoria. Talle boeke het al uit sy pen verskyn, waaronder 'Om te mag twyfel' en 'Opstanding'. Vir 'Die erediens as fees' ontvang hy in 1992 die Andrew Murray-prys vir Christelike literatuur.

Related to Geloof anderkant Sondag

Related ebooks

Related articles

Reviews for Geloof anderkant Sondag

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Geloof anderkant Sondag - Julian Muller

    1

    My persoonlike reis na anderkant Sondag

    15762.png

    Ek het op die plaas Witkop naby Nigel aan die Oos-Rand grootgeword waar ons gesin deel van ’n hegte boeregemeenskap was. Dit was ’n voorreg om my kinderjare in so ’n omgewing deur te bring, want dit het baie sekerheid en ’n duidelike ervaring van geborgenheid gebied, ook ten opsigte van my geloofservaring.

    Die Müllers het soos die meeste ander boeregesinne elke tweede Sondag kerk toe gegaan. Ek het saam met my ouers en twee susters op die ander Sondae na die kerkdiens op die draadloos geluister.

    Ons het nie elektrisiteit op die plaas gehad nie en die radio is met ’n battery aan die gang gehou. My pa het sy bakkie voor die eetkamervenster getrek en die draadloos aan die voertuig se battery gekoppel. Ons het dan met ons Bybel en Gesangeboek om die groot, bruin ou draadloos byeengekom.

    Dit was ’n ritueel op sy eie waarin ons gelees, gesing en gebid het.

    Ek het egter nie van die radiodienste gehou nie, want die preek in die dominee se hoogdrawende en krakerige stem was meestal ’n pyniging.

    Die tradisie van Sondag kerk toe gaan was die samevloeiing en bevestiging van ’n hele lewenswyse. Die kerk was letterlik en figuurlik die middelpunt van die dorp en die boeregemeenskap.

    Sondag was die bymekaarkomdag en al die sosiale aktiwiteite van daardie plattelandse gemeenskap is daar rondom gereël. Mense het nie in restaurante of winkelsentrums gekuier nie.

    Die kerk en die skool was vergaderplekke, maar veral die kerk.

    Sondae se diens het 10:30 begin, maar teen 09:30 het die kerkgangers al op die kerkterrein begin aankom. ’n Halfuur lank of so is daar oor en weer by mekaar se motors of bakkies gekuier. Dan het die gemeentelede stemmig begin inbeweeg kerk toe. Elkeen het sy gebruiklike plek in die kerk gehad en daarom het almal presies geweet wie in die kerk was.

    Die orreltannie het so ’n kwartier voor die tyd ingekom en haar plek op die orrelbankie op die galery regs bokant die kansel ingeneem. Ek het my altyd aan haar ingly-aksie op die bankie verkyk.

    Sy was kort en stewig gebou, maar het haar lyf altyd wonderbaarlik akrobaties van die kant af oor die bankie tot op die regte plek ingeswaai. Dan het sy haar musiekboeke reggeskuif en haar spieël, wat soos ’n motor se truspieël gewerk het, reg gestel. Ek vermoed sy was ’n gemiddelde, maar baie getroue orrelis. Sonder haar kon die diens in elk geval nie voortgaan nie.

    Die diens het altyd dieselfde verloop: Die klok het gelui en die dominee het ingekom, gevolg deur die ouderlinge. Die diakens, ook almal in swart pak en wit das, het by die deur regs van die kansel ingestap. Die dominee het elke Sondag net drie trappies by die preekstoel opgeklim, gaan staan en eers gebid voordat hy tot heel bo geklim het. Wanneer hy sy plek op die preekstoel ingeneem en die kerkraad nog in hul banke gestaan het, het die orrel begin speel en ons het almal gestaan en ’n gesang gesing waarin ons gevra het dat Dominee gesterk en geseën word in al sy werk.

    Nadat die dominee die aankondigings uit ’n swart boekie voorgelees het, het die preek begin. Altyd met dieselfde woorde: Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Die lofsang wat daarop gevolg het, het meestal gewissel tussen Prys die Heer met blye galme, Juig al wat leef en Op berge en in dale. Dan was dit die Tien Gebooie, gewoonlik uit Eksodus 20, maar soms uit Deuteronomium 5. Vir die skuldbelydenislied het ons weer opgestaan. Met elke lied het ek my verwonder aan die orreltannie se flinke bewegings om die voetklawers by te kom.

    Die preke was meestal maar lank en uitgerek – vir my as jong seun nie juis boeiend nie.

    Soms het Dominee se stem skerp gestyg en het hy selfs ’n bietjie op die gemeente geskreeu. Dan het die mense gevoel dit was ’n goeie preek. Ek het my pa dikwels hoor sê: Dominee het weer latjie ingelê vanmôre.

    Die ergste deel van die diens het ná die preek gekom: Die láng gebed waartydens die mans en seuns respek moes betoon deur op te staan. Boonop in ongemaklike klere wat óf te warm óf te styf was. Dit was byna onuithoubaar, maar staan moes jy staan.

    Wanneer ons uiteindelik kon gaan sit, is die kollekte opgeneem. Vooraf het my pa die kerkgeld aan my en my susters uitgedeel en in my sak was daar altyd twee muntstukke. Die groter een, gewoonlik ’n sikspens, vir die bordjie en die kleiner een, meestal ’n tiekie, vir die deurkollekte. Wanneer die einde van die diens in sig was, het ons die slotlied gesing en Dominee het sy hande in die lug gesteek en die seën met toe oë uitgespreek.

    Ná die diens is die gekuier buite by die voertuie voortgesit, want dit het gewoonlik nog lank geneem voordat die kerkraad uit die konsistorie gekom het. Van daar af het die meeste plaasmense na die dorpskafee gery en ’n Sondagkoerant gekoop. Ons het soms polonie en ’n brood gekoop, maar nooit ’n koerant nie, want dit was teen ons beginsels om op ’n Sondag koerant te lees.

    Tuis was die hoender al gaar. In die Ellis DeLuxe-koolstoof se oond kon dit nie aanbrand nie. Die jellie was ook al geset. My ma het dan die aartappels en rys opgesit en die vla vir die poeding gemaak.

    Wat rituele betref, was die Sondagmiddagete ’n hoogtepunt van die week.

    Vir my as jong seun was die kerkritueel nie juis lekker nie. Tog het dit ’n soort magiese vashou op ’n mens gehad. Die ritmiese herhaling van roetines week na week was gerusstellend en selfs meesleurend. My besluit om self ’n dominee te word het ongetwyfeld uit dié vaste gebruike en gestruktureerdheid voortgevloei. Die dominee het ’n ereplek in die samelewing gehad en dit was iets om na te streef.

    Op die eerste Sondag van elke maand was daar ook ’n biduur vir die plaaswyke, wat 14:00 begin het. Almal het ’n beurt gekry om die biduur aan huis aan te bied. Die gasvrou sou stoele in rye in die voorhuis pak en ’n klein tafeltjie regsit vir die dominee waarop ’n glas water in ’n piering en ’n bossie blomme uit die tuin gestaan het. Die biduur het byna soos ’n volle kerkdiens verloop met sang, gebed en ’n preek. Die verskil was dat daar aan die einde van die preek geleentheid vir gebede gegee is.

    Soms was daar lang, ongemaklike stiltes, maar gelukkig was daar altyd staatmaker-ooms wat die saak sou beredder, telkens met dieselfde gerusstellende gebede. Oom Petrus, oom Hannes, oom Christie en oom Thys was die voorbidders. Die gebede het dikwels om die weer gedraai en natuurlik die landerye en die oeste. Daar is gebid vir reën en dankie gesê vir al ons seëninge. Die vroue het nie gebid nie, behalwe ons buurvrou, tant Rita, wat baie mooi kon bid.

    My pa het ook soms gebid. Ek onthou hy het altyd probeer aansluit by die boodskap van die dominee, terwyl die ander ooms meestal net ’n vaste rympie opgesê het. Ná die biduur is daar heerlik om tafels vol koek gekuier. Sommige ooms het buite gaan rook en ons kinders het die plaas vol gespeel.

    Elke tweede Sondag, ook 14:00, is Sondagskool in een van die plaashuise gehou. Dit het net so ’n geselligheid afgegee. Almal was natuurlik minstens al ’n halfuur voor die tyd daar en ons kinders kon op die werf speel totdat ons geroep is na die sitkamer waar ons Lied 444, Wat ’n vriend het ons in Jesus, en ’n paar ander bekende Hallelujaliedere gesing het. Ons klasse is daarna in verskillende vertrekke van die huis gehou met oom Christie of oom Alwyn wat met dreunende stemme uit die grys katkisasieboek vir ons voorgelees het.

    Die kerk toe gaan, die bidure en die Sondagskool was alles deel van die Sondag-ritueel. Daar was talle duidelik uitgestippelde, onuitgesproke reëls oor hoe Sondae moes verloop en wat jy op dié dag mag doen. Al die gemeentelede het presies geweet wat van hulle verwag word en die kerk het ’n vaste oriëntasiepunt gebied.

    Die Sondag-ritueel was die hoogtepunt van ons landbougemeenskap se bedrywighede wat ook volgens ander weeklikse, maandelikse en jaarlikse patrone geleef het. Oktober was planttyd en Junie oestyd. Op al die plase het die koeie 16:00 stal toe gekom om gemelk te word. Jy kon jou horlosie stel op oom Piet se skoolbus wat in die oggend dorp toe ry en in die middag terugkom.

    In die winter is bees geslag, biltong gemaak en vir die bure ’n karmenaadjie gestuur. Saam met die bees is altyd ook ’n vark geslag en van die vet wat nie in kaaiings uitgebraai is nie, is seep gekook.

    Saans was almal teen 19:20 in die huis om met groot toewyding na Die Du Plooys van Soetmelksvlei oor die draadloos te luister.

    In dié gestruktureerde samelewing was daar weinig plek vir individualiteit en eie keuse. Die Natte het by Volkskas gebank en die Sappe by Standard of Barclays Bank. Daar was ’n paar gesinne wat Hervormers was en die res was almal NG. Al die kinders het na Hallgate, die laerskool op die Plotte, gegaan en daarna na dieselfde hoërskool op Nigel.

    Almal was nie ewe getroue kerkgangers nie. Daar was veral een uitsondering wat ’n indruk op my gemaak het: ’n Afgetrede onderwyser van elders wat een van die plasies naby ons gekoop en daar ’n aftree-boerderytjie aan die gang gehou het. Die storie het gou versprei dat hy ’n ateïs is. Of dit waar was, weet ek nie, maar hy het hom nie met kerkdinge opgehou nie. Hy was teruggetrokke en effens eenkant. Ons het hom nie goed geken nie.

    Sondag het skynbaar vir hom en sy vrou geen betekenis gehad nie, want aan die Sondag-rituele het hulle hul min gesteur. Sy plaashuis was vlak langs die pad en wanneer ons van die kerk af daar verbygery het, was hy dikwels besig om op sy Vaaljapie (Ferguson-trekkertjie) sy landerye te bewerk.

    Hieroor het my ouers net hul koppe geskud en soos ander kerkgangers vir hul kinders vertel hoe vreeslik verkeerd dit is. Ek het gesukkel om dit te verstaan: Hier is ’n slim man wat duidelik ’n goeie lewe lei en sy plasie met groot sorg bewerk. Hoe het hy en sy vrou op so ’n dwaalspoor beland? In my kindergemoed het ek hulle vreeslik jammer gekry oor hul afvalligheid en die verdoemenis wat op hulle gewag het.

    Heimlik het ek hulle egter tog ’n bietjie hul vryheid beny. Die oom kon immers op sy Vaaljapie sit en ploeg terwyl die res van ons in die kerk moes gaan sit!

    Om die onbekende te verken

    Só het my pad begin met wat ek vandag ’n Sondag-geloof noem. Die woord Sondag is in dié geval nie net die naam van ’n dag nie, maar ’n metafoor vir die georganiseerde godsdiens en ’n streng kerklikheid.

    Toe ek etlike jare gelede vir die eerste keer die rolprent The Other Side of Sunday (1996, Marie Theisen, regie deur Berit Nesheim) gesien het, is ek baie geraak daardeur. Dit gaan oor ’n eng Lutherse dominee en sy gesin wat in ’n klein dorpie in Noorweë woon. Die meisie Maria kom in opstand teen die rigiede, wettiese godsdienstigheid van haar gesin en veral haar pa. Die rolprent stel twee wêrelde teenoor mekaar: dié van godsdienstige oorheersing met ’n klem op reg en verkeerd en dié anderkant Sondag waar Maria vryheid, respek en menswaardigheid ontdek.

    In dié boek wil ek dieselfde metafore van Sondag en anderkant Sondag gebruik en gaan ek vanuit my eie ervaring oor dié twee wêrelde of geloofservaringe skryf.

    Om ’n Sondag-geloof te hê, is om jou geloof ten nouste aan kerklike strukture, dogmas en rituele te koppel. Kerklike dogma of leerstukke verwys na geloofswaarhede wat (by sinodes of konsilies) deur die kerk as gesaghebbend of as waar aanvaar word. Dit is mensgemaakte formulerings en formules wat mettertyd die gesag van goddelikheid ontvang. Dié leerstukke vind ook gestalte in kerklike gebruike en rituele. Saam met kerklike strukture bied dié vaste praktyke ’n groot mate van standvastigheid wat die georganiseerde godsdiens vir talle gelowiges baie aantreklik maak.

    Geloof anderkant Sondag, daarenteen, verwys na ’n nuwe verstaan van geloof wat nie so aan mensgemaakte kerklike strukture en dogma gebonde is nie. Dit staan losser van die kerk en is immer soekend na wat anderkant die kerk lê. In dié geestelike omgewing is daar ’n groeiende skeptisisme oor ’n onkritiese aanhang van die dogmas en gebruike van die kerk. Dit bied ook veel meer ruimte vir onsekerheid en die teenstrydighede van die lewe en die geloof.

    Om anderkant Sondag te glo, bring jou as’t ware in ’n soort niemandsland. Dit lei jou na ’n woestyngebied waar die stutwerk van mensgemaakte godsdiensbeoefening weggeval het of nie meer sin het nie, maar waar daar steeds ’n behoefte aan geloof is. Dit behels veral ook ’n ander begrip van God met ’n groter klem op geestelikheid. Geloof anderkant Sondag is vir my ook terra incognito – onbekende land. Soos my vertelling aan die begin van die hoofstuk aandui, is ek gebore en getoë in die Sondag-land. Ek is deurdrenk van die kerk. Tog moet ek erken dat ek nie meer op dieselfde plek staan waar ek my geloofsreis begin het nie.

    In dié anderkantland vind jy talle individue wat ontnugter is deur en teleurgesteld is in die kerk en alle vorme van georganiseerde godsdiens. Daar is ook diegene wat gewoon verveeld geraak het met die retoriek van die kerk en vir wie kerklike dogma nie meer enige betekenis inhou nie. Wat almal gemeen het, is die gevoel dat die ou strukture en ou maniere van praat nie meer sin het nie.

    Ek hoor die noodkreet van diegene wat nie meer deur die kerk aangespreek voel nie, maar wat steeds erns het met hul geloof. Hoewel elkeen van ons op ’n unieke reis met God, geloof en die kerk is, kan ek ten sterkste met sulke gelowiges identifiseer. Dit is dalk nie aldag vir hulle ewe duidelik presies waarheen hulle op pad is nie, maar wat hulle wel weet, is dat hulle nie weer kan terugkeer na die tradisionele manier van dink, praat en doen nie.

    ’n Mens kan nie veralgemeen nie, maar my indruk is dat daar baie jong mense is wat wel positief voel oor en glo in die potensiaal van die kerk, maar

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1