Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Danda op Oudeur
Danda op Oudeur
Danda op Oudeur
Ebook220 pages3 hours

Danda op Oudeur

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Toe Danda ’n jaar gelede op die vissersdorp Oudeur aangekom het, het hy gedink al sy probleme is opgelos. Want hy was weer by sy pa, ver van sy peetouers wat nie vir hom omgee nie, daar was plek vir sy diere en hy kom kom en gaan soos hy wou. Maar een aand, nadat die onbekende man op die sypaadjie met hom gepraat het, besef Danda hy weet reeds geruime tyd alles is nie pluis nie. Hy gee nie meer sy hart aan die dinge waarvoor hy vroeër so baie omgegee het nie, en sy pa is stil en bedruk.
Toe hy ’n afspraak met die onbekende nakom, raak Danda teen sy sin betrokke by die bedrywighede van die dorp se mees gevreesde bende rampokkers, en ’n afperser wat geduldig wag op die ondergang van die beste man in die wêreld – Danda se eie pa.

Is die wêreld regtig so ’n ingewikkelde plek soos wat sy pa sê, of maak mense dit ingewikkelder as wat dit is?
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 20, 2013
ISBN9780624065227
Danda op Oudeur
Author

Chris Barnard

Christiaan Johan (Chris) Barnard is op 15 Julie 1939 op Mataffin in die distrik Nelspruit gebore. Hy matrikuleer in 1957 aan die Hoërskool Nelspruit. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria waar hy sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Kunsgeskiedenis as hoofvakke verwerf. Hy debuteer in 1961 op 22-jarige ouderdom met die novelle, Bekende Onrus, waarvoor hy die CNA-prys ontvang. In 1967 begin Chris as joernalis by Die Huisgenoot werk, en sy rubriek Chriskras word later in drie bundels gepubliseer. In 1971 verskyn sy tweede roman, Mahala, wat steeds as 'n klassieke Afrikaanse boeke beskou word. Hy lewer, as een van die belangrikste Sestigers, ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde onder meer weens sy veelsydigheid: romans, novelles, rubrieke, jeugverhale, kortverhale, verhoogdramas, hoorspele, essays, filmdraaiboeke, radio- en televisiedramas het uit sy pen verskyn. Hy het verskeie pryse ontvang en is twee keer met die gesogte Hertzog-prys bekroon.

Related to Danda op Oudeur

Related ebooks

Related articles

Reviews for Danda op Oudeur

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Danda op Oudeur - Chris Barnard

    1

    Danda klim stadig teen die lendelam houttrap uit. Hy is moeg. Die hele middag het hy en die diere op die strand rondgeloop en vir Vetvoet gewag, en Vetvoet het weer nie gekom nie.

    Dis nou die derde Dinsdag.

    Die eerste middag was hy teleurgesteld toe die ou grootprater nie opdaag nie; die tweede Dinsdag was hy kwaad; maar vanmiddag weet Danda daar is iewers ’n groot skroef los. Vet­voet sal nie weke lank sommer verniet wegbly nie.

    Bo by die deur gaan Danda eers ’n slag staan. Hy leun teen die reling en kyk oor die dokke. Die son is net-net onder en die hyskrane werk nie meer nie. Sy pa is seker al op pad terug.

    Hy kyk af op die klein agterwerfie, maar die sinkheining se skaduwee is al te donker en hy kan nie meer die diere se hok uitmaak nie. Hy haal die sleutel onder die vensterbank uit en sluit die deur oop. Dis bedompig binne. Hy maak die venster oop, skuif die gordyne opsy, steek die olielamp op en begin vuur maak in die stoof.

    Hierdie tyd van die dag is altyd vir hom die lekkerste. Dis die enigste kans wat hy en sy pa kry om ’n bietjie te gesels. Hulle maak soms kos, eet, was saam die skottelgoed. Dan gaan sit hy en leer, en sy pa – wat soggens vieruur weer moet opstaan – gaan slaap.

    Daar is ’n gefladder op die stoep. Dis Kiki wat op die dakbalke kom sitplek soek. Deesdae pla hy nie meer om in die huis in te kom nie, maar daardie eerste maand of twee was dit ’n gesukkel. Hulle moes die deur en al die vensters toemaak om hom buite te hou, en dan het die drie vertrekke te bedompig geword. Maar nou ken die kraai al die storie. Hy sal dit soms tot op die vensterbank waag, maar nie nader nie; en saans slaap hy onder die stoepdak op een van die balke.

    Met Vlooi was dit maklik, want Vlooi is ’n gehoorsame hond, maar vir Ratel en Sindo moes hy en sy pa ten einde raad ’n hok bou, en nou slaap die ratel en die nagaap saans agter ogiesdraad.

    Daardie opsigter. Tant Let. Sy is kastig so heilig op hierdie ou kasarm van ’n plek. En waarvoor? Die dak lek en die mure is plek-plek al deurgeroes en die vloer is vol splinters. Hy het vir sy pa gesê hulle moet ’n ander blyplek gaan soek, maar sy pa sê al die beter blyplekke is duur, en buitendien sal hulle die diere daar nie eens op die wérf toelaat nie!

    Danda sit die groot paraffienblik op die stoof en dra dit vol water. Oor ’n uur of so, net voor ete, sal die water warm genoeg wees vir sy pa om te bad.

    Vetvoet. Wat sou van Sarel Vetvoet geword het? Is hy dalk siek? Of is hy weer iewers in die moeilikheid? Wie weet, dalk moes hy vlug! Danda het hom al lankal gewaarsku hy moet die spul matrose in die hawe uitlos; hulle soek tog net heeltyd skoor. Veral daardie ellendige Pontak en sy trawante.

    Danda was sy hande en voete sommer in die skottel by die kraan op die stoep, en heeltyd terwyl hy besig is, gesels die kraai met hom bo van die dakbalk af. Danda gesels kastig saam, maar sy gedagtes is op ander plekke. Hy kry die ongerustheid oor Vetvoet maar net nie afgeskud nie.

    Sê nou net …

    Die werfhekkie piep oop, en dis sy pa. Hy kom oor die halfdonker agterplaas gestap en klim teen die trap uit.

    Naand, Pa.

    Sy pa vat hom aan die hare en trek sy kop nader, klap hom speels op die maag. Naand, Daniël. Het jy die diere toegemaak?

    Danda ruik sy pa se sweet en daardie groot hande wat altyd souterig is soos ’n skulp wat pas uit die water gekom het. Ja, Pa, sê hy. En die water is al op die stoof.

    Hulle gaan saam die kombuis binne en sy pa haal sy pet af en hang dit oor die deur se hoek, trek ’n stoel uit, gaan sit by die tafel.

    Is Pa moeg?

    Bietjie, sê sy pa. Hoe lyk jou huiswerk?

    Ek moet nog begin, Pa. Hy kan sommer sien – sommer aan sy pa se skouers kan Danda sien hy ís moeg vanaand. Die gespook – veertien uur per dag in die dokke – dis nie speletjies nie. En as sy pa saans terugkom, en sy skouers lyk so half lam, en hy maak nie grappies nie, dan was dit ’n harder dag as gewoonlik.

    Pa onthou mos nog vir Sarel Vetvoet? vra Danda later toe die kos al op die stoof is en die blik badwater begin sing.

    Daardie ou skelm?

    Danda kyk vinnig op. Hy’s nie ’n skelm nie, Pa.

    Wel, al sy vriende is. ’n Spul drinkers en smokkelaars, dis wat hulle is.

    Sy vriende, ja. Danda knik. Maar nie hy nie. Hy raas altyd met hulle. Rêrig.

    Sy pa glimlag net.

    Danda roer die bredie ’n bietjie en die geur van die vleis laat hom ineens honger voel. Hy besef nou eers hy het vanmôre laas geëet. Vanmiddag ná skool was daar nie tyd nie; hy was te haastig om op die strand te kom, gretig om te sien of Vetvoet daar is.

    Wanneer laas het Pa hom gesien?

    Sarel Vetvoet? Lank laas. Weke laas. Hoekom?

    Nee, ek vra sommer.

    Dis ’n koel aand. En dis stil. Al wat ’n mens kan hoor, is die sagte singgeluid van die water op die stoof, en af en toe ’n sleepboot se toeter of sy pa se stewels wat op die plankvloer skuif. Die stilte begin lekker voel as hulle saans aan weerskante van die tafel sit en sy pa gesels met hom. Dit laat hom be­langrik voel. Maar die afgelope tyd gebeur dit al hoe minder. Soms is sy pa moeg, en soms lyk hy sommer net ingedagte.

    Hulle eet en was die skottelgoed sonder dat daar juis gesels word. Daarna bad sy pa en Danda loop skep die bietjie oor­skietkos in Vlooi se bak. Hy gaan sit by die hond, sy rug gestut teen die sinkplaatheining wat nog effens lou is van die dag se son. Vlooi is bly oor die kos en ruik kort-kort aan hom en swaai sy stert en eet dan verder.

    Doer eenkant in die donker hoek waar die ogiesdraadhok moet wees, hoor hy Ratel-hulle roer. Hy weet hy moet nog eers vir hulle gaan nag sê voordat hy teruggaan boontoe, maar hy stel dit uit. Dis elke aand vir hom ’n hartseer-ding om te sien hoe die klein nagapie aan die draad vashou en met sy groot oë kyk en kyk omdat hy hierdie toesluitery nie kan verstaan nie. Elke aand voel hy asof hy hulle in die steek laat as hy omdraai en teruggaan huis toe.

    Maar dit gaan nog verander, eendag. Al hierdie dinge. Dit gaan nog verander, dit weet hy.

    Vlooi het klaar geëet en wil by Danda kom lê, soos hy altyd saans maak sodra sy bak leeg is. Maar die hond steek skielik vas en spits sy ore. Danda luister saam en hoor ná ’n rukkie die voetstappe nader kom, en saam met die voetstappe ’n sagte geneurie. Maar daar skort iets met die voetstappe; hoe nader hulle kom, hoe sekerder word Danda: dit moet ’n kreupel man wees.

    Vlooi knor, maar Danda maak hom stil en klim versigtig op die steenkooldrom. Hy loer oor die heining en kyk straat af. Eers is daar net ’n swart vlek wat sukkel-sukkel op die sypaadjie aangeskuifel kom; dan kan Danda twee bene, ’n kop, arms onderskei. Die man rus elke paar treë, dan sukkel hy weer nader, en heeltyd neurie hy aan ’n wysielose deuntjie.

    Danda staan vasgenael en kyk na die vreemde figuur, staan en kyk hoe hy al nader kom, steunend, singend, en skielik vlak by die werfhekkie tot stilstand kom. Vlooi begin blaf en Danda is nie meer seker of hy die hond moet stilmaak nie. Die man vroetel in sy sakke rond en haal vuurhoutjies uit. Toe maar, hondjie, sê hy, nog steeds sangerig, toe maar, my brak. Toe maar. Hy sukkel om ’n vuurhoutjie aan die brand te kry; die goed breek of is almal al klaar gebruik, want hy gooi die een ná die ander weg. Vlooi word al kwater en spring teen die hek op, maar deins terug toe die soveelste vuurhoutjie skielik vlam vat. Die man hou die vuurhoutjie by die nommer op die hekkie en bring sy gesig nader – en Danda voel hoe sy vel skielik yskoud word. Die hand wat die vuurhoutjie bewerig vashou, is gebreklik; dit lyk soos ’n valk se poot. En die gesig wat langs die vlammetjie verskyn, is vol stoppelbaard en moesies, en die neus is benerig en baie krom en vol donker aartjies.

    Wat wil jy hê? vra Danda.

    Die man laat val die vuurhoutjie. Ha! sê hy. Hier is men­se!­ Dit klink byna asof hy deur daardie krom snawelneus van hom praat.

    Danda klim van die drom af en beweeg nader na die hekkie toe, maar Vlooi sorg dat hy tussen hulle bly. Wat soek jy?

    Die man leun vooroor en trek sy klein ogies nog kleiner. In die bietjie lig wat van die agterdeur af oor die werf lê, kan Danda sien daar sit ’n breë litteken oor die man se ken.

    Ek soek vir jou, sê die man. Sê jou hond hy moet stilbly. Netnou is die hele wêreld wakker.

    Af, Vlooi! sê Danda saggies. Wag nou! Af!

    Die hond bedaar, maar hy bly agterdogtig en knorrig en ál tussenin. Die man kom dit agter, want hy maak nie die hekkie oop nie en sy klein ogies boer maar heeltyd op Vlooi.

    Het jy al ooit gehoor van iemand met die naam Kal­koen?

    Danda knik, want hy hét die naam al gehoor, maar hy kan nie onthou waar nie. Was dit in die hawe? By die skool? By sy pa? Hy weet nie meer nie.

    Die man lag ’n snaakse laggie en voer skielik ’n blitsige dans­passie uit. Dis ek, sê hy byna triomfantelik. Kalkoen Viljoen! Hy loer om hom rond, kyk straat af, straat op. Slaap jou pa al?

    Nee, sê Danda teen sy beterwete, want sy pa is teen dié tyd seker al lankal in droomland.

    Hy mag nie weet ek was hier nie, gehoor? Niemand mag weet nie. En as iemand jou vra of jy al ooit vir Kalkoen Viljoen gesien het, dan sê jy jy’t nog nooit eers sy naam gehoor nie, gehoor?

    Ja, sê Danda.

    Kalkoen Viljoen loer weer straat toe. Weet jy waar’s die Rooi Haan?

    Jy meen die kantien? Onder by die dokke?

    Einste.

    Ek was nog nie daar nie, sê Danda, maar ek weet so min of meer waar dit is.

    Eersteklas. Kalkoen leun oor die hekkie, amper asof hy in Danda se oor wil fluister. Môremiddag. Vieruur. By die Rooi Haan. Maar jy kom nie voor in nie. Kom met die agterste straat. Houtstraat. Daar is ’n groot skuur agter die kantien. Wag vir my agter in die skuur se jaart. Vieruur op die kop.

    Vlooi hou nie van die skielike gefluister nie en hy knor weer en sy rughare staan penorent.

    Wat moet ek daar gaan maak? vra Danda.

    Jy sal sien. Kalkoen lag weer sy eienaardige laggie. Jy sal bly wees jy’t gekom. Vieruur op die kop, onthou!

    Ja, maar …

    Iewers in die straat is daar weer voetstappe en Danda kan sien hoe verstrak Kalkoen. Albei luister, Vlooi ook. En die volgende oomblik is Kalkoen skoonveld. Danda hoor net sy skuifelpassie iewers agter die sinkheining – slof-slof, slof-slof, en die yl stem wat neurie, al verder en verder, totdat die ­deuntjie wegraak in die donker.

    Die ander voetstappe het intussen stil geword. Danda wag en luister, en Vlooi luister saam met hom. Maar die straat is dood­stil. Hy hoor net die sleepboot wat toet, en ’n kriek ie­wers.

    Danda staan nog ’n hele ruk doodstil voordat hy omdraai en terugstap tot by die ogiesdraadhok. Ratel en die nagapie wag vir hom. Hy gaan sit langs hulle en druk sy vinger ingedagte deur die draad, krap Sindo se rug, kielie vir Ratel in die oor.

    Kalkoen Viljoen?

    Wie is hy?

    En hoekom wil hy hom môre vieruur by die Rooi Haan hê?

    Môre is Woensdag, en miskien is Rosina môremiddag op die strand. Hy sou baie liewer saam met Rosina en die diere langs die water wou gaan stap – sy mag immers net een maal ’n week in die middag van die koshuis af weg.

    En die Rooi Haan is ’n berugte plek. Dis waar al die matrose en die loslopers – Dons de Waal en Pontak se mense – saans uithang. Miskien moet hy maar eers die saak met sy pa bespreek. Maar aan die ander kant: hy weet wat sy pa sal sê – hy sal hom verbied om te gaan. En buitendien het Kalkoen hom laat belowe hy sal vir niemand vertel nie.

    Hoekom nie? Hoekom is dit vir Kalkoen so belangrik dat niemand weet nie? Sê nou die vent is ’n opperste skurk? Hy en sy trawante kan hom vang en hom iewers toesluit en niemand sal weet waar om na hom te gaan soek nie.

    Danda glimlag. Nou oordryf hy darem seker. Hoekom sal hulle hom wil kwaad aandoen? Hy het húlle nog nooit te na gekom nie. Behalwe natuurlik – en hy kom orent en kyk onseker huis se kant toe – behalwe as hulle iets teen sy pa het en hom op dié manier in ’n hoek wil jaag.

    Danda neem afskeid van die diere en klim teen die trap op huis toe. Sy pa slaap al. Hy maak die kamerdeur toe, draai die lamp op die kombuistafel effens hoër en haal sy skoolboeke uit. Maar dis moeilik om te konsentreer. Kort-kort betrap hy sy gedagtes by Vetvoet, by Rosina, by Kalkoen Viljoen en die Rooi Haan …

    Hy worstel deur sy Wiskunde, probeer sy Engelse spelling in sy kop kry, blaai lusteloos deur sy Geskiedenisboek. Miskien moet hy maar liewer môreoggend vroeg opstaan en die res van sy tuiswerk doen, want vanaand mors hy net tyd.

    Hy bad, sluit die agterdeur, draai die lamp dood en gaan kruip onder die komberse in. Sy pa haal rustig asem; hy slaap soos ’n klip, sy groot hande twee donker hompe op sy bors.

    Vlooi is nog steeds onrustig in die agterwerf. Hy blaf kort-kort. Môre kla tant Let weer.

    Ken sy pa vir Kalkoen? Tog seker. Die Rooi Haan is bý die dokke. En daar ken almal vir almal.

    ’n Ander gedagte duik skielik op: dié ding dat sy pa deesdae stiller is as gewoonlik – is dit regtig net omdat hy moeg is saans? Of bekommer hy hom dalk oor iets?

    En dan weet Danda ineens hy moet sy afspraak nakom. Hy sal dit nie vooraf met sy pa bespreek nie. Niemand mag weet nie. Hy sal klokslag vieruur by die Rooi Haan wees. Maar voor die tyd sal hy vir sy pa ’n briefie skryf, hom vertel van Kalkoen en van sy afspraak by die kantien, en hy sal die briefie onder sy kopkussing bêre. As hy dan iets oorkom en hulle soek na hom, sal iemand wel die briefie kry. Kom hy niks oor nie – goed.

    Wie weet, dalk kom hy op dié manier agter wat aangaan.

    Die volgende dag sleep die ure te stadig na sy sin verby. En boonop kry hy streepsuiker omdat hy nie sy Geskiedenisles ken nie. Pouse probeer hy vir Rosina in die hande kry om te hoor of sy strand toe gaan, maar sy is nêrens te sien nie. Later is hy maar bly hy het haar nie raakgeloop nie, want sy kan dalk begin dink hy drentel agter haar aan.

    Vir sy maats het hy voorlopig nie veel te sê nie. Dolfie Louw en Sewes wil nog weet of hulle hom die middag in die dorp kan ontmoet, maar hy hou hom ongeërg. Hy voel wel onseker oor vanmiddag se ding, ja, maar tog ook op ’n manier belangrik. Iemand wat by die Rooi Haan ’n afspraak moet nakom, hou hom nie met kinderspeletjies op nie.

    Dié middag, van die skool af op pad huis toe, gewaar hy vir konstabel Tiens. Gewoonlik gesels hulle eers ’n bietjie, maar vanmiddag loop Danda ’n wye draai om hom. Dis asof hy bang is Tiens lees sy gedagtes. Die konstabel is wel vet en

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1