Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ondergang: Die Ingryping-reeks
Ondergang: Die Ingryping-reeks
Ondergang: Die Ingryping-reeks
Ebook316 pages7 hours

Ondergang: Die Ingryping-reeks

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Twee jaar gelede was Emily Covington ’n dwelmverslaafde. Intussen was sy ’n jaar lank in ’n rehabilitasiesentrum en sedertdien gebruik sy nou al vir ’n hele jaar lank glad nie dwelms nie. Tog sukkel haar gesin steeds om haar te vertrou en is haar ma voortdurend bekommerd dat sy ’n terugslag sal hê. Na alles wat gebeur het terwyl sy aan dwelms verslaaf was, moet sy haarself nou bewys. Wanneer Emily en Lance ‘n tuisgemaakte bom onder Emily se kar kry, en sy uitvind dat een van haar vriende se vrou dieselfde oggend vermoor is, begin sy twee en twee bymekaarsit. ’n Gesprek wat sy met twee mans gehad het, ’n Alfred Hitchcock-fliek en die beplanning van ’n dubbelmoord – skielik maak alles sin. Emily is die enigste een wat die moordenaar kan identifiseer en die volgende potensiële slagoffer se lewe kan red! Maar gaan enigeen haar glo? Terwyl sy naarstiglik probeer om die stukkies van die legkaart bymekaar te sit en die owerhede te oortuig van die waarheid, word sy die fokus van die ondersoek! Sy het gedoen presies wat die moordenaar wou hê ... en hy gaan nie ophou voordat nog lewens vernietig is nie.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateFeb 1, 2013
ISBN9780796316035
Ondergang: Die Ingryping-reeks

Related to Ondergang

Related ebooks

Related articles

Reviews for Ondergang

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ondergang - Terri Blackstock

    cover.jpg

    Titelblad

    Ondergang

    Die Ingryping-reeks

    TERRI BLACKSTOCK

    New York Times-topverkoperskrywer

    LUX VERBI

    Opdrag

    Hierdie boek word

    in liefde opgedra

    aan die Nasarener.

    Hoofstuk 1

    Hoofstuk 1

    Drieuur die oggend is die woonbuurt doodstil. Insekte vlieg om en om in die geel gloed van die straatligte en die halwe maan werp ’n grys lig oor die gesogte huise langs die straat. Dit is die soort huise waarvan sy ma altyd gedroom het, die soort wat altyd buite haar bereik was.

    Die lug is dik van gierigheid en ambisie. Die Wreker, soos hy homself noem na aanleiding van The Avengers-strokiesprenthelde, loop met sy vrag in ’n rugsak voor daardie huise verby en wonder of hy nie dalk moet teruggaan om ’n paar van die BMW’s op die opritte op te blaas nie. Sou dit nie opwindend wees om van iewers in die straat dop te hou hoe daardie sakemanne met hulle aktetasse uit die huise kom en in hulle motors klim nie? As die bomme almal gelyktydig kon ontplof met vuurbolle wat asof gechoreografeer oor elke huis swoesj …

    Maar dis ’n fantasie vir ’n ander dag. Vandag gaan net een motor so opgeblaas word.

    Die Wreker stap om die hoek na ’n straat met kleiner huise aan weerskante. Hoewel hulle nie so duur en oordadig soos dié langs die boulevard is nie, is hulle steeds buite sy ma se bereik. Al is dit haar lot om in ’n haglike rotnes te bly, beplak sy die muwwe mure van haar badkamer met prente uit Southern Living. Hierdie huise is nie so deftig nie, maar hulle is groot en nuut. Hy is seker daar groei nie muf teen daardie soldermure nie. Daar is nie krake in die woonkamers se vloere nie, daar is nie verf wat afdop nie, jy hoor nie rotte wat deur die mure probeer grawe nie. Die mense wat daar woon, is waarskynlik nie die eienaars van ondernemings nie. Hulle is die sotte wat daar werk, maar is nogtans neerbuigend en meerderwaardig.

    Met elke asemhaling vorm ’n wasemwolkie voor die Wreker se gesig toe hy na die Covingtons se huis stap. ’n Lig brand in net een vertrek aan die sykant van die huis. Hy het die twintigjarige Emily ’n rukkie gelede ongesiens na haar huis gevolg. Nou lê sy waarskynlik warm in die bed onder ’n verekombers wat ’n fortuin gekos het, selftevrede in haar nugterheid. Niksvermoedend.

    Soos gewoonlik het sy nie haar motor by haar ma s’n in die motorhuis getrek nie. Hare staan op die oprit.

    Die Wreker sit sy goed langs die motor neer.

    Net hier, onder die bakwerk bo die wiel … dis die beste plek. Hy haal die fles half vol petrol en ’n rol kleefband uit sy rugsak en skeur genoeg af om die bottel onder die motor vas te plak. Hy doen dit sonder om die elektriese draad te bedek wat uitkom by die gaatjie wat hy in die deksel gemaak het. Sy handskoene bemoeilik die werk, maar hy volhard. Toe die bottel in posisie is, kyk hy of dit nie lek nie. Dit lyk of die bietjie petrol veilig is. Die bottel is skuins genoeg sodat dit nie sal uitloop nie.

    Nou moet hy net die regte plek vir die ander punt van die verbinding kry. Hy trek die koord onder die voorkant van die motor uit en maak die enjinkap versigtig oop. Dit maak ’n effense klikgeluid. Hy verstar en kyk oral om hom. Dié tyd van die nag is alles stil. Hy lig met sy flits op die plek waar hy die draad moet koppel.

    Hy byt die klein flitsie tussen sy tande vas toe hy die plek in die bedrading kry wat die vonk vir sy bom sal voorsien.

    Die Wreker grinnik toe hy die enjinkap so sag moontlik toedruk tot dit klik. Hy maak eers seker dat die draad wat van onder die motor na die enjin gaan, nie duidelik sigbaar is nie. As iemand daaraan sou dink om spesiaal te kyk, sal dit sigbaar wees. Hy glo egter nie Emily sal dit sien as sy aangestap kom nie.

    As alles volgens plan verloop, sal die bom ontplof sodra Emily die motor aanskakel. Sy sal waarskynlik kan uitkom, maar hopelik sal sy seerkry of brandwonde opdoen. Sy en haar gesin sal egter geterroriseer wees. Hy sal hulle haweloos maak deur hulle bang te maak vir hulle huis, en dit sal maar die begin wees.

    Hy lag effens terwyl hy sy goed bymekaar maak. Toe sit hy sy handskoene in die rugsak en stap stadig met die straat langs na waar hy sy motor gelos het. Hy verlustig hom in die gevoel van mag wat sy optrede hom gegee het. Hy sal nooit weer magteloos wees nie.

    Net jammer niemand kon sien wat hy vannag gedoen het nie. ’n Waarderende toeskouer sou dit soveel beter gemaak het. Maar dis amper net so lekker om slagoffers soos skaakstukke te manipuleer.

    Dis koud, maar die gloed van oorwinning verwarm hom. Hy dink aan die dwelms in sy paneelkissie, sy beloning omdat hy sy plan uitgevoer het. Hy sal wag totdat hy in die privaatheid van sy kelderkamer is en wanneer hy high is, sal hy teruggaan en die res van sy plan deurvoer. ’n Waarlik geniale plan.

    Kopligte kom om ’n draai en verlig hom soos ’n verhoogkunstenaar. Hy trek sy kap oor sy kop en kyk af na die sypaadjie toe die motor stadig verbyry. Toe dit weer donker is, draf hy terug na sy motor.

    Daar is nog so baie om te doen. Hy moet nog vir Devon gaan regsien, die rewolwer teen haar kop druk, kyk hoe sy bloei. Hy beplan dit al weke lank en het net gewag vir die regte mengsel van moed en astrantheid. Vannag is hy reg daarvoor. Een doelbewuste optrede het hom bevry. Nou kan hy alles regstel. Hy sal voortgaan om wraak te neem op almal wat met hom gesukkel het. Soveel newe-effekte. Soveel gevolge.

    Hy is die groot Wreker.

    Hoofstuk 2

    Hoofstuk 2

    Emily Covington kry dit reg om saggies in die huis te kom en met die gang af na haar kamer te gaan sonder dat haar ma wakker word. Dis ’n prestasie, want haar ma slaap baie lig as Emily nie tuis is nie. Sy was nie van plan om vanaand so laat uit te bly sonder om te bel nie, maar die een ding het na die ander gelei en uiteindelik was dit twee-uur voor sy by die huis kon insluip soos ’n skoolmeisie wat te laat uitgebly het.

    Nou moet sy nog vir ’n toets leer voor sy kan gaan slaap. Hoekom het sy dit tot op die nippertjie uitgestel?

    Emily? Is jy terug?

    Toe sy omkyk, staan haar ma met deurmekaar hare in die kamerdeur. Ek is jammer, ek wou jou nie wakker maak nie.

    "Het jy nou eers ingekom?’

    ’n Rukkie gelede. Ek is jammer ek het nie gebel nie. Ek was by die kooruitvoering by die universiteit en daarna het ’n paar van ons gaan fliek. Toe het ons nog ’n ruk in Ree se koshuiskamer sit en gesels.

    Emily, dis drieuur en jy moet môre klas toe gaan.

    Ek weet, maar dis nie ’n probleem nie.

    Moet jy nie toets skryf nie?

    Ja, maar dis oukei. Gaan slaap maar weer.

    Haar ma bly staan ’n rukkie. Nou goed. Kom gee my ’n soen.

    Emily grinnik. Dis haar ma se manier om aan haar asem en hare te ruik of sy gerook of gedrink het. Emily gaan soen haar ma op die wang en gee haar ’n druk. Ruik gerus, sê sy. Jy sal niks anders as springmielies en koffie ruik nie.

    Haar ma staan weg en kyk in haar oë asof sy wil seker maak die pupille is normaal. Nou goed, maar jy gaan my vroeg graf toe stuur met hierdie laat nagte.

    Ma, as ek in ’n koshuis was, sou jy nie eens geweet het wanneer ek inkom nie.

    Maar nou is jy nie in ’n koshuis nie. Jy bly hier en ek bekommer my oor jou. Gaan slaap nou gou, oukei?

    Oukei. Emily gaan klim weer in haar bed tussen die uitgespreide boeke en wens sy het nie haar ma juis vannag laat wakker lê nie. Môre het haar ma ’n belangrike voorlegging by die werk en sy wil hê haar ma moet goed vaar. Haar ma was verheug oor hierdie betrekking in Atlanta ná al hulle swaarkry in Jefferson City. Emily hoop haar optrede vanaand het nie alles beduiwel nie.

    Sy neem haar voor om volgende keer meer bedagsaam te wees. Sy kan haar ma ten minste bel sodat sy haar nie bekommer nie. Maar na alles waaraan sy haar gesin onderwerp het, het kommer ’n leefwyse geword. As sy so laat uitbly, vererger dit net die ou herinneringe ‒ en vrese.

    Eendag sal Emily aan haar gesin bewys dat haar verslawing iets van die verlede is. Dalk sal haar ma dan snags rustiger kan slaap.

    Hoofstuk 3

    Hoofstuk 3

    Milly Prentiss is besig om haar koffiepot vol te maak toe sy ’n klop aan haar agterdeur hoor. Sy trek haar kamerjas stywer vas en kyk deur die ruit in die deur na die gehawende agterstoep. Die son is net aan die opkom en gee die yl grasperkie ’n ligter grys skynsel. Sy sien niemand nie.

    Toe hoor sy weer die geklop. Toe sy nog ’n keer uitkyk, sien sy die bokant van ’n blonde koppie.

    Milly pluk die deur oop en sien haar bure se vierjarige dogtertjie kaalvoet in ’n lang kamerjas daar staan. Daar is bloed op haar moue en die dogtertjie is wasbleek.

    Milly sak af op haar knieë. Allie, liefie, wat makeer?

    Mamma wil nie wakker word nie.

    Milly neem die dogtertjie se hande. Wat is hier aan jou hande?

    Die kind kyk verdwaas na haar hande asof sy dit nog nie raakgesien het nie.

    Mamma het in haar bed seergekry. Ek het haar geskud, maar sy wou nie wakker word nie.

    Waar’s Carrie?

    Sy is in haar bedjie. Sy huil. Mamma wil nie kom nie.

    Die voel vir Milly asof sy ’n hou op die krop van haar maag gekry het. Sy tel die kind op en hardloop onder die motorafdak deur tot in die huis waar sy die agtien maande oue baba se woedende skreeue hoor. Sy sit Allie voor die bank neer. Wag net hier, liefie. Ek gaan kyk gou wat met Mamma verkeerd is.

    Sy los Allie in die woonkamer en draf verby die kinders se kamer na die klein slaapkamertjie aan die einde van die kort gang. Sy sien Devon in die bed, onder die komberse en met toe oë asof sy nog slaap. Milly skakel die lig aan en gaan na die bed.

    Die kussing is deurweek van bloed. Milly snak na haar asem en deins terug. Haar buurvrou se gesig is grysbleek, haar lippe wit. Milly dwing haarself om nader te gaan, aan haar arm te raak. Devon se vel voel koud.

    Milly voel asof haar verstand stilstaan en ’n oomblik lank staan sy verlam. Carrie se gille dring deur haar verlamming.

    Sy moet iets doen.

    Sy gryp die telefoon langs die bed, skakel 911 en stamel ’n paar woorde. My buurvrou is dood in haar bed. Stuur asseblief iemand.

    Hoofstuk 4

    Hoofstuk 4

    Dis ’n koue, mistige oggend. Kent Harlan is besig met sy tweede kilometer en sy asem vorm digter wolkies voor sy gesig. Hy het twee jaar gelede begin draf toe hy skielik besorg geraak het oor sy voorkoms. Voor Barbara in sy lewe gekom het, het hy net voortgeploeter en al dikker om die middel geword. Vandat hy begin draf het, het hy al amper nege kilogram afgeskud. Maar hy is nog glad nie in haar klas nie. Hy wil hierdie naweek so goed moontlik lyk. Die dag wanneer hy op een knie voor haar neersak, sal een van die grootste dae in sy lewe wees.

    Hy hoop Barbara sal van die ring hou.

    Die feit dat sy nege maande gelede na Atlanta verhuis het om naby hom te wees, het alles verander. Hy voel lewenslustig en hoopvol, met wonderlike verwagtings vir die toekoms. Hy het nie gedink hy sou ooit weer so jonk kan voel nie. Hy het probeer om ter wille van Barbara en die kinders geduldig te wees sodat hulle eers hier gevestig kan raak voor hy van trou praat. Maar dit lyk asof alles goed gaan. Hy kan nie baie langer wag nie.

    Sy selfoon lui en hy verslap sy pas om te sien wie dit is. Die oproep kom van die polisiekantoor. Hy en sy spanmaat, Andy, is onder oproep, dus moet hy dit beantwoord. Hy begin stap en druk die knoppie. Kent Harlan.

    Kent, ons het ’n moord by East Bailyweg 342. Die slagoffer is ’n vrou wat in haar bed geskiet is, blykbaar tydens ’n inbraak.

    Oukei. Hy is steeds uitasem. Het jy vir Andy gebel?

    Ek gaan hom nou bel.

    Goed. Ek gaan dadelik soontoe. Stuur asseblief ’n teksboodskap met die adres ‒ ek kan dit nie nou neerskryf nie.

    Sekerlik.

    Hy beëindig die oproep en sit die foon in sy sak. Hy draf verder tot by sy huis. Hy skat hy moet bly wees hy het ’n nag se slaap agter die rug. Wanneer hy en sy spanmaat aan die beurt is vir die volgende saak, word hy gewoonlik in die nag wakker gemaak.

    Hy stort, trek aan en maak ’n koppie koffie om saam te neem. Daar is geen besondere haas nie. Die eerste polisiebeamptes op die toneel is veronderstel om die terrein af te sper en die liggaam sal nog daar wees wanneer hy opdaag. Hy hou egter daarvan om so gou moontlik ná die noodoproep op die toneel te wees. Hoe meer tyd verbygaan en hoe meer ondersoekbeamptes opdaag, hoe meer leidrade kan versteur word.

    Hy sit sy beursie, kleingeld en motorsleutels in sy sakke. Toe maak hy die boksie met die ring oop en glimlag oor die diamant. Dit is ’n spierwit, vlekkelose steen waarna hy weke lank gesoek het. Hy haal die ring uit en sit dit ook in sy sak. Net om daaraan te raak laat hom glimlag.

    Die rit na die misdaadtoneel duur twintig minute. Dis in ’n buurt waar misdaad volop is en arm mense van betaaldag tot betaaldag oorleef. Hy sien die polisiemotors voor die huis en ’n paar nuuskierige bure voor hulle huise.

    Hy hou so naby moontlik aan die huis stil. Andy is seker nog nie hier nie; hy sien nie sy motor nie. Kent klim uit en loop oor die nat gras na die sydeur onder die motorafdak, waar ’n polisiebeampte met ’n aantekeningboek staan.

    Wat is die storie hier? vra Kent.

    Vrou met die naam Devon Lawrence, dertig jaar oud, van naby in haar bed geskiet. Haar vierjarige kind het vanoggend op haar afgekom.

    Skielik voel die moord vir Kent tragies eerder as alledaags. ’n Vierjarige? Het die kind die moord sien gebeur?

    Dit lyk nie so nie. Sy sê sy het opgestaan toe haar babasussie begin huil het en wou toe haar ma gaan wakker maak. Sy kon haar nie wakker kry nie en het die buurvrou, Milly Prentiss, gaan roep. Dis me. Prentiss wat gebel het.

    Waar is die kinders nou?

    Nog by die buurvrou, hier langsaan.

    En die pa?

    By die werk. Me. Prentiss sê hy werk snags by ’n deurnagwinkel. Hy is nog nie in kennis gestel nie, maar ons behoort dit gou te doen, voordat een van die bure hom bel.

    Kent gaan in en kyk in die huis rond. Klein kombuisie en woonvertrek aaneen, verweerde, vuil blou mat, ’n rusbank en een stoel in die beknopte ruimte. Kon julle agterkom waar toegang verkry is?

    Me. Prentiss sê die agterdeur was nie gesluit nie, maar sy dink dis omdat die kind daar uitgegaan het. Sy het by hierdie deur onder die motorafdak ingegaan. Sy sê dit was ook nie gesluit nie.

    Kent sien krapmerke om die sleutelgat wat kan aandui dat iemand met die slot gepeuter het. Hy gaan in en kyk rond. Daar lê ’n handsak op die vloer met die inhoud uitgestrooi. Geen teken van ’n beursie nie. Hy kyk na die ander voorwerpe in die vertrek. Speelgoed, ’n doekesak, ’n vuil eetstoeltjie, ’n platskermtelevisiestel.

    Hoekom sou ’n inbreker die TV los? wonder hy hardop.

    Ja, ek het ook gedink dis eienaardig.

    Kent probeer iets hieruit wys word. Dalk kon die persoon nie die TV wegdra nie. Dalk wou hy net vinnig kontant in die hande kry. Maar hoekom hier? Wat sou hom laat dink enigiemand in hierdie buurt het bondels geld wat rondlê?

    Hy kyk verder rond. Daar is nie juis enigiets wat waardevol is nie. Die huis is verwaarloos, die verf dop af en daar is bruin watermerke aan die plafon. Die vloerplanke is kromgetrek.

    Hy kyk in die gang af en sien een van die ander polisiebeamptes in die deuropening van ’n slaapkamer. Hy gaan soontoe.

    Op die bed lê ’n jong vrou op haar rug asof sy rustig slaap, met bloed op die kussing onder haar kop. Daar is ’n koeëlwond in die middel van haar voorkop. Haar oë is toe. Sy was waarskynlik aan die slaap toe sy geskiet is en het niks daarvan geweet nie.

    Dit was ten minste vinnig verby en die moordenaar het niks aan die kinders gedoen nie.

    Hy haal sy kamera uit en neem ’n paar foto’s. Die tegniese ondersoekspan sal die ware misdaadtoneelfoto’s neem, maar Kent hou daarvan om sy eie foto’s te neem, net om seker te maak dat niks tydens die ondersoek verskuif word nie.

    Hy hoor Andy se stem waar hy met die polisiebeampte by die deur na die motorafdak praat. Kent kyk na die polisieman naby hom wat effens wegstaan en steeds ontsteld lyk. Wat weet ons van haar man?

    Die buurvrou sê hy het ’n dwelmprobleem. Hy het al rehabilitasie ondergaan. Daar is ’n geskiedenis van mishandeling, maar daar is nooit ’n klag by die polisie gelê nie. Hy is onlangs voorwaardelik vrygelaat ná ’n dwelmklag.

    Die man het dus die agtergrond en ingesteldheid om so iets te kon gedoen het.

    Andy kom staan in die deur en kyk in. Môre, ouens.

    Kent knik vir hom en praat dan weer met die polisieman. Het die buurvrou die skoot gehoor?

    Nee, sy sê sy het niks gehoor totdat die kind aan haar deur kom klop het nie.

    Hy stel hom voor hoe die vierjarige kind oor die werf gehardloop het om vir haar ma hulp te soek. Sy maag trek op ’n knop. ’n Pa sal tog seker nie die ma vermoor en los sodat sy kind op haar moet afkom nie? Maar wie kan sê waartoe hy in staat sal wees as hy onder die invloed van dwelms is?

    Andy, kom ons gaan praat met die buurvrou. Daarna kan ons hoor wat die man te sê het. Hy is veronderstel om by die werk te wees en is nog nie in kennis gestel nie.

    Dink jy hy weet reeds?

    Kan wees. Hy haal sy foon in die loop uit en skakel die polisiekantoor se nommer. Hy vra ’n sersant om die man ‒ William Lawrence, ook bekend as Bo ‒ se misdaadagtergrond na te slaan en per e-pos aan te stuur. Hy sal probeer om die lêer op sy slimfoon oop te maak.

    Hulle stap na die lendelam huis langsaan en klop aan die deur. ’n Klein vroutjie van omtrent sestig maak oop.

    Me. Prentiss?

    Ja, sê sy.

    Haar oë is rooi en opgeswel en haar neus is ook bloedrooi. Sy het klaarblyklik ’n moeilike tydjie deurgemaak. Ek is speurder Kent Harlan van Atlanta se moordafdeling. Dis my spanmaat, Andy Joiner. Kan ons inkom om met jou te praat?

    Ja, maar moet asseblief nie die kinders ontstel nie, sê sy met ’n gedempte stem. Ek het hulle iets te ete gegee en hulle gekalmeer.

    Kent stap in. Die dogtertjie sit by die tafel en krabbel op ’n stuk papier. Die baba sit op die vloer en speel met plastiekblokkies.

    Milly gaan tel die kleintjie op. "Die arme dingetjie het verskriklik gehuil,’ sê sy sag.

    Die dogtertjie het nog steeds die kamerjas met bebloede moue aan en haar voete is kaal. Ek moet met die kind praat, fluister hy vir Milly.

    Sy lyk ongelukkig, maar knik.

    Hy gaan na die tafel en trek ’n stoel uit. Hallo, sê hy.

    Die dogtertjie kyk met gevoelvolle oë na hom op toe hy gaan sit. Daar is ’n slymkors onder haar neus. Hallo, sê sy.

    Ek is Kent. Wat is jou naam?

    Allie.

    Allie, kan jy vir my vertel wat gebeur het toe jy vanoggend wakker geword het?

    Haar onderlip bewe en daar kom trane in haar oë. Mamma is dood.

    Het jy ’n geraas gehoor.

    Nee.

    Het jy haar met iemand hoor praat? Het jy enigiemand in die huis gesien?

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1