Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Frats
Frats
Frats
Ebook342 pages7 hours

Frats

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hierdie boeiende en ontroerende roman is gebaseer op die lewensverhaal van Saartje Baartman en verken ’n pynlike moment in ons koloniale geskiedenis. Dit vertel die verhaal van Khoena, ’n vrou van Khoi-afkoms, wat vroeg in die 19de eeu onder valse voorwendsels van die Kaap na Londen toe geneem word om daar as ’n “frats” ten toon gestel te word. Hierdie is ook die verhaal van ’n Engelse vrou, Dolly en haar vriend Simon, ’n Londense joernalis, wat hulle beywer vir die vrystelling van mense wat uitgebuit word in die sg “freak shows”. Dolly maak tydens hierdie proses vriende met Khoena en ontferm haar oor Khoena se welstand. Later, ten spyte van al Dolly se pogings, beland Khoena egter in Parys, waar sy uiteindelik die bisarre fokus is van anatomiste se wetenskaplike studies.

Die skrywer roep ’n uiters geloofwaardige, tasbare en kleurryke wêreld op en die besonderse detail trek die leser onweerstaanbaar in. Sy roman word ’n kragtige appèl oor onreg en die brose vermoëns van die mens om daaroor te triomfeer.
LanguageAfrikaans
Release dateMay 30, 2014
ISBN9780798168113
Frats
Author

Chris Karsten

Karsten is ’n bekroonde skrywer en voormalige joernalis wat in Kanada woon. ​Koms van die motman​ is die derde in die nuwe Ella Neser-reeks. Die voriges sluit in Die dood van ’n goeie vrou en Die verdwyning van Billy Katz. Albei romans is benoem vir die ATKV-prys vir die beste spanningsroman, en Billy Katz ook vir die ATKV-prys vir die beste roman.

Read more from Chris Karsten

Related to Frats

Related ebooks

Related articles

Reviews for Frats

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Frats - Chris Karsten

    Vir my mames,

    ’n ster van die goeie !nau

    voorspel

    In die vroeë oggend wag hulle, tussen die tierhout en spekbome, onder op die sandoewer van die rivier. Skimme in wasige misnewels wat om stamme en in takke hang. In die mis wat hulle uitsig boontoe versper, kan hulle nie hul prooi sien nie en die prooi kan húlle nie sien nie.

    Hulle wag.

    Agter hulle is die poort waardeur hulle gekom het.

    Die leer van die saals kreun en die pote van die perde trap-trap in die nat sand en op wildemalvas en lelies. In die soetdorings, hoër op, op die plato teen die hang van die kloof, roep twee loeries mekaar en koekoeke krys uit die misvliese.

    Die strale van die opkomende son begin die mis nou dun uiteenbrand sodat hoog bo ’n lappie blou lug verskyn. ’n Witkruisarend sweef stil tussen die spitse van die vallei se kranse. Teen ’n hang lig bergkwaggas hul koppe. Die brandwagbobbejaan se oë is agterdogtig op die wasigheid tussen die takke langs die rivier. Tussen die slierte van die mis, ver onder, bespeur hy die perde. Hul bekke pluk-pluk aan die stange en die hoewe kap in die sand.

    In die stil vallei wag die ruiters vir die son om hoër en skerper deur die poort te kom, om die laaste mis te verdryf. Die leier krap in sy stowwerige baard. Sy oë tuur onder die hoed se rand uit deur die laaste dynsige takke. Hy lig sy arm en wys teen die hang op. Op die plato merk hulle die lui rokie van ’n vuur wat opkrul in die lug. Die rokie is die teiken waarna hulle soek.

    Dan, deur die poort hoog agter hulle, is die son ineens skerp oranjegeel, die mis weg, die wag verby. Die strale val in skerpblink spatsels deur die takke op die water van die Gamkamma.

    Die leier se roer is blinkgevat. Hy haak sy duim agter die leerband in om die roer van sy skouer af oor sy hoed te lig. Die perde se koppe ruk aan die stange en hul ore draai agter die geluide aan van roers wat gereed gemaak word. Die leier skud kruit uit die krom beeshoring in die loop; uit die leersak aan sy heup vat hy behendig die ronde loodkoeël raak. Hy stamp die kruit en koeël in die lang loop vas.

    Die perde proes en hul pote trap modderwater uit die sand. Hul neuse ken die reuk van buskruit, hul ore die klap van snaphane en hulle voel die geskuifel in die saals van groot liggame wat regskuif.

    In die soetdorings op die plato swyg die loeries ineens en tussen die sikadeë, eeue oud, lig die bergkwaggas weer hul koppe. Maar die kwaggas is nie vandag die prooi nie. Die prooi is by die rokie, op die gelykte teen die hang, net bokant die bome se kruine, waar twee vroue vooroor buk en in potte roer.

    Die bokvleis in die potte is oorskiet van die vorige aand se ete. Die stemme van die twee vroue sweef sag op die stil lug. Hulle gesels oor hul kinders en oor hul mans wat weg is op die jag en hulle wonder wanneer die jagters gaan terugkom. As hulle met die buit kom, sal dit nie nodig wees om die melkbokke te slag nie, die aba-gomas, hul rykdom. Die ou bok se vleis sal nog twee dae hou, as hulle ingord, en nie baie eet nie. Daar is ghaap en bessies en tsamma en bokmelk, en daar is water.

    Onder by die rivier tussen die bome wys die leier weer na die rokie op die plato. Sy verspieders was reg. Hulle het die prooi gekry. Hy tel vyftien beeste en tien skape in die kraal van doringtakke. Die straf vir die diefstal van hul vee sal geregverdig wees. Hy tuur na die vroue by die vuur en na die windskerms van riet. Hy sien nog vroue en kinders wat uit hutte skuifel, met die slaap nog in hul gesigte en lywe. Hy is verras en spyt om net vroue en oumense te sien, en die kinders.

    Die ruiters se aandag is intens op die kraal en die gemoedelike gedrentel om die vuur. Niemand merk die kind nie. Die kind kom teen die hang af, tussen boslelies en pienk proteas en lang gras deur, ’n kalbas op haar kop. Eers toe sy in die nat sand hurk en die kalbas in die water plons, steier die leier se perd. Hy sien die kind. Sy staar hom en die ruiters met die roers grootoog aan. Toe haar mond oopgaan om te skree, kap die leier in die lieste van sy perd. Die perd spring vorentoe, die leier leun langs die saal af en raap die kind van die grond af op, tot voor hom op die saal.

    Die vroue by die vuur hoor die gil. Hulle kyk om, af na die bome by die rivier. Die loeries vlieg uit die bome op, die bergkwaggas spring tussen die klippe dieper die kloof in en die bobbejaan, met sy geel slagtande ontbloot, skree om die trop te waarsku. Hoog bo duik die swewende witkruisarend agter die hoë spitse in en verdwyn.

    Die leier, met die kind voor hom op die saal, lei sy ruiters tussen die bome deur, die stewels se hakke in die lieste van die perde. Die perde se kragtige lywe ruk vorentoe, soek die maklikste pad teen die hang op. Die hoewe kap oor klippe, heide, malvas en lelies, op na die kraal en die vuur toe. Die perde se oë is wit, die neusvleuels gesper. Die ruiters ry die perde op die stang en skuimbek teen die hang uit na hulle prooi toe.

    Die leier vuur die eerste skoot. Die kind skrik, haar ore slaan toe en sy ruik die kruit wat ontplof. Sy klou aan die saal en die perd se maanhare. Die kruitrook brand in haar neus en oë. Deur die waas van haar trane steier ’n vrou agteroor in die warm kole van die vuur. Die mense vlug uit die hutte, maar die doringtakke wat hulle moet beskerm, keer hulle in die kraal vas.

    Die ruiters gooi nog kruit in die lope, stamp die loodkoeëls vas, haal die hane oor en trek die snellers, weer en weer.

    Die voëls is weg. Diep in die bosse en kranse skuil die wilde diere. Die dood het na hul vallei toe gekom.

    khoena

    Sy voel die geeste in haar. Dis altyd ’n slegte teken.

    Die pot is aangebrand en misvorm van langdurige rinnewasie op die warm plate van die swart houtstoof. Sy strooi die growwe, geel meel in die stoom en roer die meel en water. Maar haar gedagtes is nie by die houtlepel en die pap nie. Ook nie by die sout wat sy tussen duim en wysvinger byknip nie. Die geeste, wat so lank weg was, is ineens in haar kop.

    Khoena klop die lepel teen die rand van die pot en sit die deksel op. Wanneer sy buk vir nog ’n stomp in die vuur sien sy deur die klein kombuisvenstertjie vir Goens aangestap kom. Hy het die hout, wat hy vir die stoof gesplits het, in sy arms.

    Voel hy ook die geeste? wonder sy. Vanaand moet hulle praat. Dis tyd vir onthou, dink sy, van hul ander wêreld; dis Gamkamma-tyd.

    Swygsaam stapel hy die hout in die hoek langs die stoof.

    Goens. Haar stem is ’n fluistering vol ontsag. Die hei noen is by my.

    Hy kom orent, onthuts. Daar’s g’n hei noen nie. Dis verby, Khoena.

    Ons moet praat, Goens. Dis al wat help, pleit sy.

    In die deur huiwer hy ’n oomblik, sy oë op haar. Dis die wind wat jou pla, nie die geeste nie.

    Die wind bring hulle. Die wind is die teken, sê sy toe hy uitloop. Ek hoor hul stemme op die wind.

    Ons sal praat, roep hy oor sy skouer. Maar maak eers reg. Tiebout is op pad. Die gei gab is honger.

    Sy kyk weer na die wind agter die venster, na die wasige deining van die sandstof oor die duineveld. Sy lê die lepel op die pot se deksel neer en vryf haar handpalms aan haar voorskoot af.

    Miskien bring die stilte én die wind die geeste. Miskien wyk hulle met Tiebout se koms. Tiebout kom uit die Kaap uit soos ’n lustige leeu, ’n gei gab met paringsreuk in die neus, sonder keer. En hy vat haar. Hy kry nie genoeg by die Kaapse vroue nie. Wanneer Tiebout haar vat, is daar nie stiltes nie. Sy is onmagtig teen sy besete drifte. Hy vat haar wanneer Bartol weg is. Met Bartol op die werf, is Tiebout stug, ongeërg. Maar Bartol weet. Van sy hanskinders weet Bartol álles, van hul herkoms en hul aankoms hier op Loutersvalleij, klein, vaalverwese van die stof van weke se trek op ver paaie.

    Sy hang die voorskoot aan die spyker teen die muur. Die huis is skoon, die vensters oop om Bartol en Tiebout se slaapkamers lug te gee. Wanneer Bartol van die jag af gaan terugkom, dié weet sy nie, maar haar oë is op die verwaaide duine. Terwyl sy wag vir Tiebout se verskyning, pluk sy gespanne aan die rok wat styf span oor die rojale boude waaraan hy so ’n erg het.

    Die pap het kans vir prut. Wanneer Tiebout met haar klaar is, sal hy wil eet.

    simon

    Mans staan met hul gesigte en kaal bolywe oor die stoom van die groot vate. Die stomende vate laat hom dink aan potte in die hel waarin sondaars gekook word. Hy steek by een vas. Die man staan op ’n lae platform, albei hande om ’n reusehoutspaan geklem. Sy vel is nat van die sweet en die stoom. Die spiere van sy sterk skouers en arms rimpel en rol en bult van die inspanning om die vat te roer. Die man kyk deur die stoom af na die oë op hom. Simon sien die wange, voorarms en bors verseng van volgehoue blootstelling aan die hittedamp uit die kleurvate. In die kreukels van sy verskroeide vel is ’n reënboog van kleure geëts, soos die vreemde simbole van ’n heidense stam.

    Mister Beeby? vra Simon.

    Die man wat die swaar, nat materiaalbondel in die kleurvat omroer, rol net sy oë met ’n sywaartse knik van die kop na ’n deur toe. Simon stap verby bedompige bale tekstiel. Bokant die bale, aan die vuil plafon, hang pommades van kamfer en soute om motte weg te keer. Beeby wys hy moet sit.

    Jy stel belang in die tekstielbedryf, sê Beeby. Hy het traag ingestem tot die onderhoud.

    Ja. Is dit slawe wat daar werk?

    Wil jy oor slawe skryf?

    Net gewonder.

    Beeby kom orent. Het nie baie tyd nie. Wat wil jy weet?

    Stowwerige pulpwalms van cochenille en insekte uit ver plekke is diep ingebed in Beeby se klere.

    Stom oë volg die twee mans op hul roete deur die fabriek en pakhuis. Oë van vroue met hul hande in die water van wasbalies om die weefsel skoon te spoel van stof; die swaar duffel en tweed, die katoen en gaas, kant en tulle, damas, kaliko, sy, satyn, molvel en sabel. Oë van vroue met jong gesigte, hul hande skurf en verskrompel van ure, dae, maande in water. Oë van mans met bolywe en gesigte in die stoom van die vate waarin die materiale gekleur word, hul velle ’n kranksinnige kleurepalet. Oë, die kleur van smarag, van die vrou met die bos rooi hare. Wanneer sy die hare met die agterkant van haar hand uit haar gesig vee, is daar ’n wit letsel op haar voorkop.

    Dolly, sê Horace Beeby terwyl hy na haar kant toe kyk, kan jou meer vertel van ons kleurpigmente. Die kleure is die belangrikste. Sy hand wuif oor die vet flesse waaruit sy die kleursel vir die stoomvate skep, dit weeg en meng om te voldoen aan die deftiges se aptyt vir flambojante tooisel.

    Simon bestudeer haar. Ek het jou al gesien.

    Jy verbeel jou, is die vinnige antwoord. Jy wil weet van die kleure? Haar oë is op Beeby se rug.

    Sy vertel en Simon krabbel en maak rowwe sketse van die dowwe oë, die gesigte sonder emosie. Jy lyk tog bekend.

    Die helder geel is van die stampers van Toskaanse krokusse uit die velde rondom Florence.

    Hulle is slawe hier, nè? sê hy.

    Die ryker, dieper geel word genoem giallorino, uit die lawa van Vesuvius, naby Napels, sê Dolly, die kleurselvrou.

    Slawe is onwettig, daar’s ’n wet.

    Hierdie pers is oricello, en dáár is oker en vermiljoen.

    Hoe lank werk jy al hier?

    Haar oë loer onderlangs en vlugtig van die pigmentflesse af in die rigting van Horace Beeby se kantoor. Die rooi saffloer kom uit Egipte en die rottekruid van die Rooi See. Jy sal my in die moeilikheid bring.

    Dis nie my bedoeling nie. Maar iets moet gedoen word.

    In dié fles is gemaalde galneute uit die Balkan. Hulle het geen ander inkomste of werk nie.

    Hulle word misbruik en mishandel.

    Ineens is Beeby by hulle, agter tussen die bale uit. Het jy al jou inligting? Hier’s nie tyd vir klets nie. Sy’t werk om te doen.

    En om die kleurpigmente in die weefsel te fikseer, is daar die rotsaluin van die Swart See af, sê die jong vrou.

    Waar slaap hulle? Hoeveel word hulle betaal? vra Simon oor sy skouer, agter Beeby aan.

    Simon Pickering se eerste opdrag, as jong skribent by die Penny Chronicle, was om verslag te doen oor die vieringe ná die triomf van Trafalgar, en om saam op die dokke te wag vir die terugkeer van Lord Horatio Nelson van die Spaanse kus af. Sy grootste kwelling tóé, met daardie storie en die vasmeer van die HMS Victory, was nie die omvang van die ironiese tragedie nie. Jonger, sorgeloos, het dit hom meer gepla dat die liggaam van die Engelse admiraal, vir die lang Atlantiese terugvaart, in ’n kuip vol brandewyn gemarineer was. Hoekom nie rum nie?

    Die verklaring, het hy later gelate aanvaar, is waarskynlik eenvoudig: brandewyn se bewese medisinale kwaliteite, vir die behandeling van siekes en die preservering van dooies. Rum is vir verposing, in groot volumes, saans met sy kop tussen die Little Swan se mildelike boesems. Die nagevolge, die volgende oggend, is ’n geringe prys om te betaal: die mengsel van talmende aromas in sy neus, van Fanny Spankie se verslane parfuum en renserige lendene, van soet rumsweet, en van die pyn in sy skedel, asof hy getref is deur ’n musketkoeël uit die kruismas van die Redoutable.

    Maar in die Little Swan trotseer hy hierdie nagevolge, want hy luister na die geklets en geskinder. Hy hoor van groot ellendes in die stink strate van die East End. Hy hoor van armes wie se kinders honger gaan slaap omdat hulle afkoopgeld moet gee aan die tronkhoof van Bridewell. Hy hoor van die tronkhoof se voorliefde vir vet slette; hoe hulle betaal word met dreigemente van eensame opsluiting in klam, koue selle. Hy hoor van fratse wat misbruik en aangehou word soos diere, en van slawe wat uitgebuit word. Maar hy soek nie ’n etiket as kampvegter vir enige saak nie. Dis te veel van ’n las vir ’n lewe sonder komplikasies.

    Dit wat sy oor vang in bronstige praatjies, bly egter broei.

    khoena

    Haar hande, vingers gestrengel, rus op die lae staldeur. Die reuke van die stal is ’n gerusstelling. Sy lig haar ken en snuif na die hawer in trôe, na die velle wat ingesout aan balke hang vir winddroog, na die stofmuf van opgestapelde pluime van volstruise, na die sweet van perde wat skoon en glad geroskam is. Skerp in haar neus, veral, is die leervet waarmee Goens die tooms en saals soepel insmeer. Dit is die reuke van háár wêreld, saam met die lui, sekere hale van Goens se hande, blink van die vetsmeersel.

    Kan ons krale maak? vra sy oor die stal se deur.

    Jy het al ’n spul, sê hy sonder om op te kyk.

    Is die riempies reg? Is dit gelooi?

    Die riempies is reg.

    Maar is hulle dun? vra sy hardnekkig. Ek soek nie dik riempies nie. Inrygriempies moet dun wees, die krale is fyn.

    Hulle is dun, sê Goens. Is jou werk klaar in die huis, dat jy kan ginnegaap waar ’n man werk?

    Uit die sak van haar voorskoot hou sy die krale in ’n oop palm na Goens toe uit. Is hulle nie mooi nie? Die voorvinger van haar ander hand roer tussen die krale. Hulle is van skulpies, groen en blou en dieprooi, en van die doppe van volstruiseier en skilpad. Saans, om die vuur voor hul wit kalkhuisie, skuur en slyp sy die skulpies en doppe in delikate vorms en teksture, en met els en vyl boor Goens die gaatjies vir die dun inrygriempies. Dit is fyn, tydsame werk vir hul vingers, maar dit help om hul koppe oop te maak vir die onthoutyd. En wanneer die nag ook oopmaak vir die sterre bokant hulle, por sy Goens vir stories oor die Gomarib geib, oor hul mense van die Gamkamma.

    Onder die sterre, onder die gamiroti met Goens se stem om die kole, leef hulle in hul ánder, verlore wêreld, van sang en dans en lag. Vóór daardie verskriklike dag toe Gaoenob die dood na hul vallei toe gebring het. En dit is voor Tiebout, en Goens wat moet wyk uit hul wit slawehuisie wanneer die drang Tiebout pak om sy luste in haar katel te kom uitstort. Maar omdat Tiebout so skaars in hul gesprekke is, kyk Goens verbaas op toe sy sê: Hy is nie ’n leeu nie, net ’n hiëna.

    Is dit oor hom dat jy die geeste voel, die hei noen?

    Sy skud haar kop, haar oë op die krale in haar hand. Hy is swak. Hy het die krag van ’n man en die mag van ’n seur om my lyf te vat en my vrou te kneus. Hy dink hy is ’n leeu, maar hy is swak. Ek lag vir hom, die hiëna, en jaag hom weg. Hirase, kxoin xoen gye, gobese!

    Astrantheid sal hom kwaad maak, waarsku Goens.

    Hy kan my nooit besit nie.

    En die hei noen, is hulle nou weg?

    Nee, sê sy, die wind bring hulle. Die wind bring die slegte geeste.

    Die slegte geeste het ver agtergebly. Hulle dwaal in die Gamkamma. Die hei noen kan nie hier kom nie; hier op Loutersvalleij is jy veilig. Laat ek die krale sien, of die riempies dun genoeg is.

    Kan ons teruggaan? vra sy ineens, haar oë op die fyn krale tussen Goens se vingers, glimmend van die leervet.

    Wat praat jy, Khoena? Dis verby. Daar is vir ons niks oor nie.

    Dis ons plek. Dis ons mense.

    Die vallei is van die dood. Hulle is weg.

    Ons tatab is nog daar. Ons pa sal nie weggaan nie. Hy wag vir ons.

    Jou kop dwaal, sê Goens. Kom, help my om die koeie in te bring. Dis melktyd.

    Hy stoot die staldeur oop en hulle stap na die lusernkamp om die paar koeie uit te keer vir die melkstal.

    Ek wil die grafte sien, sê sy, haar hande vlytig met die spanrieme. En ek wil sien waar ons gespeel het, en gesing en gedans het toe ons klein was. Hy kry sy sit op die melkstomp, vat die emmer by haar en druk dit tussen sy knieë onder die koei se vol uier vas. Sy hou die blikkie en sy vingers smeer die salf aan die vet spene. Tsoei Goatse, abo itse, en xoena oeire, eda sida oeire, neurie sy hul onthoulied aan hul grootvader, vra sy beskerming, terwyl die wit melk skuimend in die emmer begin spuit.

    Ons tatab is lankal weg. Dit is hul gewoonte om te trek, sê Goens. Daar is niemand oor nie.

    Sy hurk by hom, by die agterpote van die koei wat hy melk. Dit was óns werk om die biri te melk, en die aba-gomas. Dit kan ek onthou. Melk is die werk van die vroue en jag is vir die mans.

    Hy grinnik, met die spene tussen sy vingers en sy kop skuins aangedruk teen die koei se buik. Kan jý ’n koei melk, of miskien ’n bok?

    Ek was te klein, skerm sy. Ek het net vasgehou, nog nie gemelk nie. Ek was net ’n kind. Die aba tarás het gemelk.

    Jy het ’n vrou geword, voor ons weg is. Jy het oaxais geword, jy was ’n vroukind toe die dood in die vallei gekom het.

    Sy knik op haar hurke langs hom. Die uier is drooggemelk. Sy vat die emmer en keer die melk uit in die groot kan terwyl Goens die spanriem loswoel vir die volgende koei. Ons mames en die aba tarás het die kindstof van my afgewas … met die eerste maandbloed.

    Goens skuif swygend onder die uier in. Ons is nou in ’n ander wêreld. Hier melk die mans.

    Seur Bartol sorg goed vir ons, dis net Tiebout …

    Ons leef goed, beaam Goens. Ons kan nie meer swerf nie, ons is nie meer Gomarib geib nie. Ons het nie meer die gewoontes van jag en trek in die wildernis nie.

    Maar kan ons teruggaan, ’n slag? vra sy weer. Om te sien waar ons wás, voor hierdie nuwe wêreld?

    Eendag, sê Goens. Miskien eendag.

    Jy is al wat ek het, my gab geib, my broer, sê sy ineens sag. Haar vingers is vlugtig op sy skouer voor sy omdraai en wegstap om te gaan sorg vir die kos wat in die potte op die swart houtstoof prut. Die son sit laag. Die oranje skynsel van die soresta ga kxab is die teken dat die werkdag einde toe staan. Dan soek Tiebout waswater en koffie op die groot stoep. Die blikbord moet hoop van die kos, want hy is groot en honger, soos ’n gei gab, al is hy g’n leeu nie, net ’n swak hiëna.

    bartol

    Hy skiet die kameelperd in die Piekenierskloof. Dit duur die hele middag tot diep in die aand om die vel af te slag. Eers laatnag, om die vuur in die koue, langs die wa met die sterre en Suiderkruis in die hemel, is die vel klaar ingesout, die vleis opgesny en in die balies met pekel gesit. Bedags is die son warm en hy wil nie ’n kans waag met die vars vel en vars vleis nie. Die kameelperd is die laaste op die jagtog en die jagter is tevrede. Bartol sê vir sy slawe môre draai hulle om, môre vat hulle die pad terug Kaap toe.

    Vroegoggend, met die eerste lig van die son op die winterveld, pak hulle die velle op die wa, dié wat eerste afgeslag is heel onder. Die vel van die kameelperd lê heel bo, ingevryf met growwe sout in die bloederige weefsel waar dit van die vleis af losgesny is. Die ander velle is van twee springbokke, drie rooibokke, twee leeus en twee sebras. Die vleis, behalwe dié van die leeus, is opgesny en in die balies gepekel. Dit was ’n suksesvolle jagekspedisie.

    Bartol sal goeie pryse kry vir die vleis en die velle, veral vir die skaars vel van die kameelperd, wanneer die volgende skip uit Oos-Indië die Kaap aandoen om voorraad in te skeep vir die vaart na Engeland. Hy los sy slawe, Tammerlaan, Lijs en Wolla, met die wa en vrag en ry vooruit om die reëlings te gaan tref en die pryse vas te stel vir die vleis en velle wat saam met vars water, graan en groente vir die skip bestem is.

    Laatmiddag, skuins teen die sterk suidooster en met die stof en sweet van die lang rit in sy hare en gesig en klere, klim hy voor die opstal van sy perd af. Hy strek sy arms bokant sy kop en buig sy rug om die stramheid uit sy lyf te kry. Die jong stalkneg vat die perd se leisels. Bartol haal sy bondel en sy geweer van die perd af

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1