Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

'n Man van min belang
'n Man van min belang
'n Man van min belang
Ebook444 pages8 hours

'n Man van min belang

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Naaswenner in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd (2012)

Op ’n fynbosplaas in die Langkloof word die oorskot van vier jongmense gevind. Onder dié wat antwoorde soek, is die amper-afgetrede joernalis Luther en die Struggle-veteraan Mosman. Mosman is direkteur van ’n obskure intelligensieafdeling, bemoeid met die identifikasie van die oorskot van dié wat verdwyn het tydens die geweldadige doodsnikke van apartheid, en die opsporing van hul moordenaars. ’n Naam in ’n sprokiesboek lei hul na Luca Thom, mariene bioloog en seun van die polisieberader Eddie Thom, en na die jaar toe Luca sy pa verloor het.

Karsten het die ATKV-Prosaprys vir sy debuutroman, Frats, gewen in 2008 en die ATKV-prys vir Spanningslektuur vir Seisoen van sonde in 2010. Seisoen van sonde was ook op die kortlys vir die M-Net Filmtoekenning. In 2011 wen Chris beide die ATKV-Prosaprys en die ATKV-Prys vir Spanningslektuur vir Abel se ontwaking. Hy is ’n ervare oudkoerantman (Beeld, Volksblad en Rapport) en skrywer van twee kinderboeke (Floris sapiens en Die jokkie wat met perde kon praat), sowel as Human & Rousseau se Ware misdaad-reeks. ’n Man van min belang is die naaswenner in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd (2012). Hy woon deesdae in Kanada, omdat sy vrou ná veertig jaar in Suid-Afrika ook ’n tyd in haar geboorteland wou gaan bly.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 5, 2013
ISBN9780798158695
'n Man van min belang
Author

Chris Karsten

Karsten is ’n bekroonde skrywer en voormalige joernalis wat in Kanada woon. ​Koms van die motman​ is die derde in die nuwe Ella Neser-reeks. Die voriges sluit in Die dood van ’n goeie vrou en Die verdwyning van Billy Katz. Albei romans is benoem vir die ATKV-prys vir die beste spanningsroman, en Billy Katz ook vir die ATKV-prys vir die beste roman.

Read more from Chris Karsten

Related to 'n Man van min belang

Related ebooks

Related articles

Reviews for 'n Man van min belang

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    'n Man van min belang - Chris Karsten

    ’n Man van min belang

    Chris Karsten

    Human & Rousseau

    Aan Stoffel, wat ook weg was

    … time is nothing to me but a series of bookmarks that I use to jump back and forth through the text of my life, returning again and again to the events that mark me …

    – Dr. Sheehan, Ashecliffe Hospital for the Criminally Insane, Shutter Island, Boston.

    Hoofstuk 1

    1

    Aan die ontbyttafel vertel hy vir Snowy van vier geraamtes wat opgegrawe is.

    Sy onderbreek hom nie, kyk ook nie op nie, asof die kos op haar bord al haar aandag verg. Eers toe Luca stilbly en aan sy koffie sluk, lig sy van oorkant die tafel haar gesig na hom op, en hy sien die blik en hy dink: Sy sukkel om te verstaan wat ek sê.

    Sy laat sak weer haar oë en pik-pik met haar vurk aan die roereier. Sit dan die vurk neer, stoot die bord weg en kyk op, haar oë die glans van karamel.

    En jy dink jou pa het daarmee iets te doen gehad?

    Ja. Hy druk met die papierservet aan sy bolip, dan aan sy voorkop. So vroeg al warm, in dié helse plek. Hy moes nie die koffie gedrink het nie.

    Met ’n sagte sug skuif sy haar stoel agteruit en staan op. Sy gaan staan voor die glasdeur en vat aan die sisgordyne asof sy nou die verbleikte patroon van blou fuchsiakelkies bestudeer. Maar dan trek sy die gordyn oop en kruis haar arms voor haar en staar buitentoe.

    Sy staan lank so, net die getjir van die plafonwaaier in die bedompige stilte van die huis. Vee met ’n geïrriteerde gebaar die haarslierte van haar wang weg en sê beslis: Hy is nie só nie. Hy het met daardie geraamtes niks te doen nie.

    Luca kyk na haar lang hare, die kleur van as, roerend in die bries van die waaier, haar lyf vol in die los katoenrok. Hy gaan staan langs haar en volg haar blik deur die venster na die dorre landskap buite. Wolkloos en bakkend al so vroeg in die oggend herinner dit hom aan die Karoo, net meer klip, minder bossies, platter, ’n troostelose vergetelheid.

    Het hy met jou daaroor gepraat, Snowy? Wat het hy vertel? Wat is sý storie?

    Hy het geweet jy gaan kom. Byna net ’n fluistering. En jy hét. Jy is hier.

    Hy het geweet? Hoe kon hy weet, hoe kan ’n dooie man so iets weet?

    Sy draai haar gesig na hom, om haar lippe ’n sweem van ’n treurige glimlag. Hy het net geweet. ’n Ouer kan sulke goed aanvoel. Dis soos dit is.

    Hy staar na haar, dan weer buitentoe – die wanhopige uitsig hier aan die agterkant van haar huisie in die laaste straat van die dorp. Voor hom die versengende werf en verder aan twee stofdwarrels, voor die haaivlakte verswelg word deur die blink spieël van die opgeefsel oor die soom van die Simpsonwoestyn. En steeds verder, tot doer gunter waar die oerberge, blou en voetloos, op die einder glimmer.

    Sy reik na sy hand. Kom.

    Die tyd het aangebreek, dink hy. Hy het hom kom soek, nou het hy hom gekry, maar hy aarsel, sy blik terug op die werf, op die stowwerige hond met die rooi tong hygend in die skadu van ’n doringboom. Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy voorkop, kom agter hy het steeds die servet, druk dit weer oor sy neus en wange.

    Ek was net ’n kind toe ek hom laas gesien het. Sal ek hom herken?

    Dis oukei, sê sy. Kom.

    Hy vat haar hand en sy lei hom in die gang af, verby ’n oop deur met die sagte aroma van lyfpoeier en laventel, nog ’n oop deur, dié van ’n badkamer. Die derde deur is op ’n skreef toegetrek. Sy stoot dit oop en tree binne.

    Luca steek op die drumpel vas, begroet deur die reuke van siekte en medisyne en ou nagsweet.

    Jy kan maar naderkom, nooi Snowy.

    Hy bly staan, starend na die man op die bed.

    Is … is dit hy? Is dit my pa? fluister hy.

    Die figuur op die bed is skaars ’n man, eerder net die gedaante van ’n man, die wange ingevalle en ongeskeer, die hare yl en grys. Sy onderlyf is bedek deur ’n ou deken, ’n kwilt, dink Luca, sy ouma het so een gehad, met ’n geskulpte soom.

    Nee, dis nie hy nie. Hy wil omdraai.

    Die sagte hand teen sy kruis keer hom, por hom nader bed toe.

    Jy herken hom nie? Snowy leun oor na die gesig op die kussing, soen die bleek voorkop, kom orent en beduie na ’n regop stoel. Sit. Hy sal netnou wakker word. Dan kan julle gesels. Julle het baie om oor te gesels.

    Hy gaan traag sit, hande op sy skoot, vingers verstrengel, sy oë op die crêpevel van die hande en maer arms, die knopperige bors wat onder die gevlekte frokkie dein.

    Jy vat hom nie van my af weg nie. Dis sy plek hierdie, sê sy. Dis al plek wat hy het.

    So, dink Luca, dís hoe ’n ou lafaard lyk. Weggekwyn en weggesmyt.

    Hardop sê hy: Hy kan hier bly. Jy kan hom hou, al is dit my pa.

    Sy kom sit op die ander stoel, die een teenaan die bed, die geriefliker een met die gesonke kussing van baie sit.

    Dis ’n lang tyd vir ’n kind, sê sy. Hoe lank was dit?

    Hy aarsel. Hy weet presies, maar dis asof sy brein sukkel om woorde te vind vir daardie groot gaping van tyd waarin soveel ander dinge gebeur het.

    Hy is in ’95 weg. Dis die laaste keer dat ek hom gesien het. In ’95.

    Hy vee oor sy oë, nou bewus van ’n dowwe pyn, miskien van die ondraaglike hitte, en vou weer sy hande. Hoe kan mens lééf in hierdie plek?

    Die laaste keer dat hy sy pa gesien het, was deur kinderoë. Sy pa was toe groot en sterk, sy voorarms gespierd en bruingebrand, ’n pa op wie jy kon vertrou, by wie jy áltyd veilig kon voel.

    Jy kan maar huil, sê Snowy. Trane is oukei.

    Ek huil nie. Ek hét hom al ’n slag begrawe, ek is uitgehuil oor my pa.

    Sy vat die roerlose hand op die laken tussen albei haar palms, hou dit vas. Hy’s ’n goeie man, jou pa.

    Luca kyk na haar, na die teer blik in die klam oë, en terug na die man wat hy nie ken nie, net sy nagedagtenis.

    ’n Goeie man? Herder, Snowy …

    Sy pa se naels was altyd skoon en geknip, sy wange altyd glad geskeer, sy skoene blink, sy hemde sonder kreukel. Hy ken nie ’n pa in ’n ou frokkie met die reuke van sweet en suur nagasem en medisyne nie.

    Vat aan hom. Wanneer het jy laas aan jou pa gevat?

    Hy haal sy skouers op. In ’95 in die Wimpy. Dis wanneer hy laas aan sy pa gevat het. En sy pa aan hom. Sy pa het vir hulle hamburgers bestel en oor die tafel na sy hand gereik en dit vasgehou en vir miskien tien sekondes het sy hand knus en warm soos ’n klein diertjie in die groot hand van sy pa gelê. Hy was verras deur dié onverwags intieme vertoon van geneentheid, want sy ma het altyd gesê: Jou pa is nie van die demonstratiewe soort nie. Hy’s nie vatterig nie. Maar daardie aand in die Wimpy het sy pa sy hand vasgehou. Die laaste keer. Die volgende dag het hulle die tyding van sy dood gekry.

    Luca sê, sy oë op die slapende man: Dis nie hy nie, ek wil nie aan hom vat nie.

    Dis ’n gesig wat hy nie ken nie. Dis ’n vreemde man met vreemde geheime. Maar sy pa het ook geheime gehad, dit het hy later agtergekom; so baie dinge wat hy nie weet van die pa wat hy destyds as kind geken het nie.

    Hy staan op, gaan staan by die venster, staar deur die kantgordyn na dieselfde troostelose uitsig as uit die woonkamer. Hy draai terug, kyk in die kamer rond asof hy uitkomplek soek. Die muurpapier is verweer en plek-plek bruin gevlek.

    Jy moet dit glo, sê sy.

    Wat? Wat moet ek glo?

    Dan sien hy die portret teen die muur langs die ou hangkas, oorkant die voetenent van die katel van gietyster, asof die plek vir die portret met sorg uitgekies is sodat dit die eerste ding is wat die slapende man sien wanneer hy sy oë oopmaak. Die foto is in ’n ovaalraam van hout met skilferende vernis soos iets wat vervel.

    En die skok is soos ’n hou op sy krop. Snowy, ’n veel jonger Snowy, laggend met die wit van haar tande skerp afgesteek teen die bruin vel, haar oë op plesierige skrefies. En hy herken die pa van sy kindertyd, net ’n effense glimlag, want daardie pa het selde sy emosies gewys. Maar wanneer hy geglimlag het, was dit asof God sélf gelag het. Net soos God het sy pa hom ook nie met ligsinnighede opgehou nie.

    Luca?

    Ja? Hy gaan sit weer.

    Jy hoor my nie. Ek vra: Het jy jou pa ánders geken as ’n goeie pa?

    Hy skud sy kop. Nee, dis hoe ek hom geken het: ’n goeie pa. Maar ek het hom skaars geken. Ek was net dertien toe hy weg is.

    Moenie hom te hard oordeel nie.

    Nie te hard nie? My pa is in ’n karongeluk dood, Snowy, ek het by sy kis gestaan en huil, ek het by sy graf gehuil, ek het nagte omgehuil oor hom. Nou sê jy dis hý hierdie, dis my pa, hierdie man op jou bed, en ek moet hom nie te hard oordeel nie?

    Gee hom kans. Jy sal verstaan.

    Wat het hy jóú alles vertel, al die treurmares wat jou hart so week gemaak het? Hy bekyk die grys stoppels, die mond wat effe oophang. Nee, los dit, ek wil dit nie hoor nie, sê hy dan.

    Ek het iets in sy oë gesien. Iets wanhopigs, soos iemand wat verdwaal het, of verlore is, of weggegooi, en nie sy pad terug kan vind nie. Dis wat my week gemaak het, die uitdrukking in daardie oë.

    Hy’t nie verdwaal nie, Snowy, en hy’s nie weggegooi nie. Hy’t sélf weggeloop. Dis wat ’n lafaard doen, hy vlug as sy sondes hom inhaal.

    Ek het vir hom gesê: ‘Jake, jy kan nie die dinge van die verlede ongedaan maak nie. Dit het gebeur, en wat dit ook al was, dis nou deel van jou. Jy moet daarmee saamleef.’

    Jake? My pa is Eddie. Hy’s g’n Jake nie. Het hy daaroor gepraat? Oor vier geraamtes?

    Sy kyk nie na hom en dit lyk nie of sy hom hoor nie. Dit het lank gevat, maar hy het weer ’n plek gekry, sê sy.

    Hy kyk na die medisynes op die bedkassie, lees die etikette. Agter sy oë klop die pyn. Langs die waterglas en pilbottels en snesieboks merk hy die boek onder die bril, die hoeke gekrul van baie lees. Hy herken die titel van jare gelede, een van sy pa se gunstelinge. Hoeveel kere sou hy dit al gelees het? Hy moet die storie al uit die vuis ken, soos hy die fabels en sprokies van destyds vertel het, met sy eie kinkels en draaie.

    Ek het ’n fout gemaak, Snowy, ek moes nie gekom het nie. Ek sal julle nou alleen los, ek sal nie langer pla nie.

    Sy strek haar hand uit en vat sag aan sy voorarm. Nee, moenie loop nie. Nie nou nie. Hy’t so lank vir jou gewag. Nou kan jy ook rus kry. Julle kan mekaar help. Haar palm warm, koesterend op sy vel.

    Die gesig op die kussing lok hom terug. Die geslote ooglede, dun, byna deurskynend soos sneespapier, beweeg asof hy hulle hoor praat en wakker wil word en deel wil wees van hulle gesprek.

    Sy leun oor, haar mond naby sy oor. Jake, hy’s hier. Luca. Jy het gesê hy sal kom, en nou’s hy hier.

    Die gefladder van die ooglede, die kop draai skuins, die oë halfoop, en asem, ’n sug eintlik, ontsnap oor sy lippe. Sy trek ’n snesie uit vir die waterigheid in die hoeke van sy oë en mond, dep dit.

    Dan ontmoet hulle oë, soos dié van vreemdelinge. Maar nie een kyk weg soos vreemde oë doen ná die eerste vlugtige aanblik nie.

    Snowy staan op en sê: Hy’s wakker. Help my, lig sy bolyf op dat ek die kussings agter sy rug kan inkry. En toe hy hoër teen die kussings rus, lig sy die glas na sy mond en hy sluk sonder dat sy oë, waterig en bleek en diep in hulle kasse, van Luca s’n wyk.

    Snowy laat sak die glas en dep die klam lippe. Ek los julle nou, sê sy. Julle kan nou gesels.

    2

    Hulle staan op die strand, hulle kort middagskaduwees oor die ploegslakkies wat in die wit Weskussand dowwel.

    Gaan jy dit skryf? vra Luca.

    Nee, sê Luther, ek het afgetree.

    Jy gaan nie jou laaste storie afsluit nie?

    Nee, ek skryf nie meer nie. Ek lees nou net wat ander skryf.

    Dan is dit goed, dan sal ek jou van Snowy vertel.

    Ja, vertel my, ek wil van jou pa hoor, waaroor julle alles gesels het. Hoe oorbrug ’n pa en seun ’n gaping van byna twee dekades? Dís waaroor ek nuuskierig is.

    Luther bekyk by sy tone die ploegslakkies se kriskras-sleepsels soos ’n ou Brahmaskrif, antiek nes sy maer ou kuite uit die wye pype van sy lang kortbroek, die blou are onder die bleek vel, haarloos geskuur deur sestig jaar se sokkies. Hy begin gewoond raak aan die leefstyl van ’n pensioentrekker. Dis nie te moeilik nie, veral nie hier nie. Hy voel klaar tuis in hierdie wit kussoom van eertydse vissershuisies met hulle gesteelde uitsig van bokant die rotse en plat duine oor die see. Ondervelders wat dit kom inpalm en opknap het, en toegerus het met satellietskottels en wynkelders en diefalarms, sodat hulle ongesteurd hulle TV-sepies kan geniet en sorgvry en effe lighoofdig kan adem aan die osoon van seelug soos die reuk van vars gewaste lakens.

    Die jong man met die fris bruin kuite en kaal voete langs hom sê: Snowy is van die Pitjantjatjara, oorspronklik van Alice Springs. Maar sy’s nie daar gebore nie, sy sê haar voorsate was swerwers, hulle is op enige plek gebore. Alice is net makliker, én korter as Mamungkukumpurangkuntjunya: plek waar die duiwel pis.

    Luther kyk na hom op. En julle gesels en verstaan mekaar?

    Die jong man grinnik, en die grinnik en sy oë verskuil agter die sonbril, verklap niks van sy gemoed nie. Maar Luther kan hom die onstuimigheid voorstel onder daardie blakende voorkoms, hy het eerstehandse kennis van daardie woelinge.

    Ja, ons het lekker gesels, sê Luca. Sy in haar Doer Onder-dialek, al lê die Pitjantjatjara nog swaar op haar tong, en ek in my Boere-Engels. Ek het vir haar gesê ek is ook lid van ’n stam, ’n wit stam, die Afrikanerstam, oorspronklik van Pretoria: plek waar oom Paul pis.

    Hy mik na waar ’n jellievis met ’n sliert seewier uitgespoel het, reeds toegepak deur ploegslakkies, en Luther kyk hoe die jong man hurk, die hare lank in sy nek en gebleik deur baie son. Aan daardie jellievis, dink Luther, sal die régte reuk van osoon kleef: die gedempte swael van feromone van see-alge, met ondertone van aspersie en kopkool. Maar dit pla hom nie, hy hou van aspersies en kool en is al dikwels ontnugter.

    Toe wil sy weet van oom Paul. Dis ’n lang storie, het ek gesê, en nie belangrik nie. En van my naam ook, wat so Italiaans klink. Goeie skeut Italiaans in my bloed, sê ek vir haar, want my stam is nie suiwer nie, al wil ons so dink. Ons ondertrou en verbaster al vir driehonderd en sestig jaar, ons is ’n tjou-tjou-bredie van geure en kleure wat so min of meer wit uitkook. Soos my Italiaanse oupa wat ná die oorlog by die Boere ingetrou en mý uitgebaster het.

    Wat van jou pá? dink Luther. Vertel van jou pa. Wat het jou pa te sê gehad?

    Toe vat sy my kamer toe, om my pa te gaan sien. Hy begin weer in die laagwater aanstap, buk om ’n hand vol spoelklippers op te tel. Sy ken hom as Jake.

    By die groot rotse waar die visserskuite op die strand uitgetrek lê soos kleurryke walrusse bakkend in die son, hulle rompe in blou en rooi en groen, vertel Luca van sy herontmoeting met sy doodgewaande pa. Luther luister en onderbreek hom nie, want hy weet gedagtes het ’n eie loop, is nie ordelik soos kraletjies aan ’n snoer ingeryg nie.

    En dis al, sê Luca toe hulle omdraai en begin terugstap.

    Wat van jou vriend Ringo? Hoe voel hý noudat alles in die oopte is?

    Hy gaan sit langs Luca op die rand van ’n blou romp en ruik die vis in die skuit en kyk hoe silwer skilfers van skubbe in die son dans en skitter.

    Ja, Sint Ringo … sê Luca ná ’n ruk, en niks meer nie, asof dit genoeg is om Ringo se gevoelens te verklaar.

    Luther beduie in die rigting van sy wit kothuis agter ’n duin begroei met seeplakkies en soutbossies en vlesige suurvypolle, met ’n afdak van houtlatte en die twee hangmandjies geil van rooi malvas. Effe opsy van die gewoel van toeriste en vakansiegangers op restaurantverandas.

    Kom ons gaan sit weer op die stoep. Dis waar ek nou my dae met boeke slyt. Dis wat afgetredenes doen, jy weet: sit op die stoep en lees. Ken jy die Joodse skrywer Richler? Ek dink juis aan jou en Ringo toe ek lees hoe Richler sy gevoel beskryf op sy eerste besoek aan Duitsland, drie dekades ná die Holocaust. Hy sê: ‘The best that can be hoped for, I think, is possibly, just possibly, my children will forgive theirs.’ Is dit hoe julle ook voel, jy en Ringo?

    Ek is eintlik op pad Laaiplek toe, my seepokke wag. Luca staan op en leun skuins en probeer ’n spoelklip oor die laagwater afkets, dan nog een. Ek dink ek en Ringo het mekaar lankal vergewe vir die sondes van ons vaders. Het jy weer van Mosman gehoor? Het hy sý weergawe al vir jou vertel?

    Kom, sê Luther en stryk met die sandpaadjie aan teen die duin op. Jy kan môre Laaiplek toe ry, jou seepokke gaan nêrens heen nie. Kom ons gaan sit en jy vertel my wat jou na die Australiese Outback gelei het. Vertel my as vriend, nie as joernalis nie. Eksjoernalis, dis wat ek nou is. Ek sit en lees en luister na musiek, en saans drink ek wyn, kyk uit oor Paternoster se see en wonder oor die apostoliese onversoenbaarheid van ons eie Torquemadas.

    Ons wát?

    Oor hoekom die wreedste fanatici altyd die skoonste gewetens het.

    Soos my pa? Jy’s seker jy gaan niks skryf nie?

    Mos so gesê. Ek is kláár. ’n Stoeppoeper, dis wat ek nou is, nie meer ’n skribbelaar nie.

    Die begin van sy einde as skribbelaar was die amptelike koevert op sy lessenaar, daardie oggend ’n paar maande terug toe hy hom, soos elke oggend vir byna veertig jaar, niksvermoedend aangemeld het vir werk, sy groen tupperwarebak onder die arm. Snaaks hoe op ’n dag van onverwagte trauma nietige, onverwante detail in jou kop bly vassteek. In die bak was twee kaastoebroodjies en ’n sny oorskietpizza met salami, olywe en sampioene. Hy onthou dit goed, maar kan nie onthou of hy dit ooit daardie dag geëet het nie. Hy sou die stukkie pizza in die kantoorkombuis se mikrogolfoond moes gaan opwarm het, hy sou die aroma gekry het. Hy onthou nie die aroma nie. Hy twyfel of hy dit geëet het. ’n Mens is gewoonlik nie baie honger wanneer jy uit die bloute ’n skop onder die gat kry nie.

    Hy onthou die inhoud van sy tupperwarebak en die inhoud van die koevert, en hy onthou hoe al die oë hom later die oggend om die nuustafel ontwyk het, en as hy ’n skelm blik van onder af op hom betrap het, was dit ’n glimp van medelye soos met dood in die familie. Maar hy het nie familie nie, en hy was die enigste een wat dood was … wel, wat die ontydige tyding van sy eie dood gekry het. En almal het geweet, dit was g’n geheim nie, behalwe vir hom. Dís hoe korporatiewe teregstellings voltrek word: in geslepe stilte, die slagoffer die laaste een om te hoor.

    Hy het ’n vermoede gehad. Daar is altyd vermoedens as gerugte van autos-da-fé dik loop. Die gange was verlate en die conversos klein en biddend agter rekenaarskerms verskuil teen die paapse bul wat uitgevaardig is oor herstrukturering en besnoeiing, oor digitale grepe en die laaste drup van drukkersink. Maar die bul en die brief in die koevert op sy lessenaar swyg oor vet katte en wynlandgoedere en bosveldplase en vroue – gediens of ingeruil – met ’n smaak vir somervillas in Provence en Toskane. Die brief vermeld wel artikel 189 van die wet op basiese diensvoorwaardes, en werknemer M.L. Roets kry opdrag om met menslike hulpbronne te skakel vir die bedrag van sy vrywillige skeidingspakket, en in die fynskrif van dié epistolêre wraak teen ouderdom is die aanbod van die nuwe rooi hoede ononderhandelbaar: vat dit of los dit. En have a nice day.

    Maar die inhoud van die amptelike koevert het nie net sy lewe op ’n ander koers gesit nie, dit het ook, in sy stuiptrekkings as skribbelaar, sy pad laat kruis met dié van twee vreemdelinge: Luca Thom en die spook Mosman.

    Om die nuustafel het hy gesê: Ek sal dit vat, hierdie storie.

    Dis ver, dis in die Langkloof, het die nuusredakteur gesê, skaars ’n gameet toe Luther al sy eerste koerantstorie geskryf het. Soos die inhoud van jou kosbak op ’n sekere traumatiese dag, vergeet ’n joernalis ook nooit sy eerste storie nie: ’n jong onderwyser val uit ’n venster van die tiende verdieping van ’n polisiegebou in Johannesburg. Ahmed Timol se dood was toe die sewentiende sterfte in aanhouding. Almal selfmoorde, troos premier John Vorster, slaap gerus, die volk is veilig, g’n nodigheid vir ’n geregtelike kommissie van ondersoek nie.

    Luther het hom vir die nuusredakteur opgeruk. Ek wéét waar die fokken Langkloof is.

    Hoe verder van Johannesburg des te beter, vir sy laaste storie.

    Sy hou van grappies, die nuusredakteur, hou veral daarvan as vir haar grappies gelag word, as die gatkant van haar broek gepruim word, en sy noem hom ’n ou nuushond op hitte wanneer hy die reuk van ’n moord kry.

    Ou nuushond.

    Op hitte.

    Sy toets graag die grense van fatsoenlikheid, die nuusredakteur, sy dink dit presenteer haar as iemand met ballas.

    Nuushond, jissus. Wie praat van ’n nuushond? Nie eens in die ou skool het hulle van nuushonde gepraat nie. Lunsrieme, ja, en teertoue, vuilspuite, sensasiesoekers. Só is hulle uitgekryt; nooit nuushond nie.

    En wie het van moord gepraat? Die wenk was oor ou bene wat in ’n braakland op ’n bergplaas oopgeploeg is. Kon die beendere van diere wees – donkie, bok, skaap, bobbejaan.

    Hy het uit die nuuskonferensie gestap en die boer gaan bel.

    Die boer het gesê: Kom, dis g’n dierebene nie, dis ménsbene.

    Luther het gesê: Wie se diagnose?

    Die boer uit die Langkloof het hom opgeruk. Die antropoloog se diagnose, wie anders? Hulle was ’n week hier, het my hele land opgegrou. Kom vat ’n kiekie. Hou jy van proteas, meneer Roets? Jy kan proteas terugvat vir jou vrou. Wat is haar gunstelingkleur?

    Hy het gesê hy het nie ’n vrou nie, loop alleen, prys die Heer.

    Die boer het ’n oomblik geswyg, dalk om te peins oor moontlikhede dat die joernalis geskei kan wees, dalk ’n wewenaar, en toe gevra: Wat van ’n dogter? Niks soos die Trots-van-Franschhoek vir jou dogter se bruidstafel nie. Dís wat ek daar wou aanplant, daar waar die bene gekry is, bruidsblomme.

    Ek het ook nie ’n dogter nie.

    "Maak nie saak nie, kom kuier, kom slaap oor, ek sal jou als van die opgrawing vertel. Hulle is met ’n vrag bene hier weg. Groot geheimsinnigheid. Maar ek ken die luitenant van Uniondale, sy vrou hou van rooi skaamblomme, Protea nana …"

    Luther se aandag het vasgesteek by mensbene en geheimsinnigheid, dis soos suurstof vir ’n ou lunsriem.

    Die boer het gesê: Lyk na die bene van viér liggame wat uitgegrou is, meneer Roets. Kan ek jou Lieter noem? En ou bene, nie vars nie. Koeëlgat in een van die skedels, het dit met my eie oë gesien. Die moordspeurders van die Kaap het die saak aan die MPTT oorgegee.

    Die MPTT? En dis Loether, nie Lieter nie.

    Presies wat ek ook wou weet, Lieter: wie’s die MPTT? Glo Missing Persons Task Team.

    Oukei, ek’s op pad, het Luther gesê. En miskien ’n koningsprotea of twee, as jy het, vir ’n vriendin op Paternoster.

    3

    Die blommeboer kyk vroegdag op na die berg, hoog uit die eskarp die stroom stil en blink in die oggendson, ’n silwer straal van kwik teen die hang af. Dis vir daardie kosbare water wat hy die stuk berggrond bygekoop het, byna twintig jaar gelede al, en dit lê steeds onbewerk teen die helling. Onder is die dam wat hy geskrop het, damwal van grond met ’n uitloop wanneer die reën in die Langkloof val. En wanneer die reën wegbly, het hy genoeg besproeiingswater vir sy blomlanderye en slaap hy gerus. Selfs tydens groot droogtes sny hy sy proteas sodat sy agent by die blommemark in City Deep teen daglig al die koeltrok vol vars blomme met hulle diep aromas van soet nektar kan inwag. Wanneer die son soggens oor die rûens van sy berge opkom, is sy proteas, ligpienk en rosig, donsig wit en blou, mauve en donkerrooi, en nog nat van die dou, reeds op pad na die rakke van bloemiste. Of hulle word gelaai in die vragruime van vliegtuie vir die blomsmouse in Londen en Parys en Amsterdam en Berlyn.

    Die boer ry met die skeurploeg agter aan sy trekker, verby sy proteas, verby die dam, op teen die helling, na die klein plato waar hy noukeurig die driesgrond met die teodoliet uitgemeet en die penne ingeslaan het. Hy kon skaars twee akker uitmeet. Die res is te steil, te klipperig, ongeskik vir ’n blomland. Maar twee akker is genoeg vir sy eksperiment met die Serruria florida uit die Franschhoekberge en die Orothamnus zeyheri wat floreer in die dun, hoë lug.

    Hy klim van die trekker af en gaan sit sy skofboks met koffie en beskuit in die skaduwee van die klipmuur van die bouvallige lapa. Dis opgerig deur die vorige eienaar, met net enkele verweerde stutpale nog staande, en van die dak se dekriet geen teken meer nie. Oor die man se behoefte aan ’n lapa hier teen die berghang kan hy net wonder. Hy het wel soms besoekers hier opgemerk voor hy die lap berggrond gekoop het, die lapa toe reeds aan’t verval. Seker die plek waarheen vriende gebring is om ’n vleisie te kom braai, hier in die groot stilte van die berge, om te ontsnap van ’n gejaagde lewe, om ’n bietjie vars berglug te kom adem, die fynbos te ruik en hulle kleure te waardeer: die wit raasheide, die blou disas, die skarlaken van die suurkanolle, die geelbosse en pienk klipkoesters.

    Dêm! Dis sy wêreld hierdie. Waar jy nog, te midde van die gekwetter van jangroentjies en suikerbekkies en geelgatte, dieper geluide kan hoor, miskien God se gebrom oor die gemors wat elders van sy skepping gemaak word.

    Die boer bestyg weer die trekker, kry sy merk in die gras, druk die hefboom van die hidrouliese koppeling. Hy kyk hoe die ploeg se tandskare in die gras van die harde bogrond insak en laat skiet die koppelaar. Hy sit skuins gedraai, sy een hand op die stuurwiel, die ander op die groot modderskerm, sy blik op die ploeg. Hy wil nie ’n skaar teen ’n stuk tafelbergkwartsiet breek nie, dis hoekom hy vanoggend sélf die ploegwerk doen.

    Toe die son soos ’n goue skyf oor die pieke in die ooste hang en die laaste oggendskaduwees uit die hange en plooie van die berg verdryf, het die boer al byna een akker gebraak. Met die omdraaislag, besluit hy, gaan hy by die wenakker stilhou om sy rug te strek en in die koelte van die klipmuur swart koffie, soet en sterk, uit sy termos te skink.

    Maar instinktief, net ná die omdraai, skop sy voet die koppelaar in en ruk die trekker tot stilstand. Hy druk die rand van sy vuilgevatte hoed teen sy bleek voorkop op, leun verder agtertoe, sy oë op die skare. In die ploegspoor lê nie grys kwartsiet met glimmers in die oggendson nie, eerder iets dofwit, soos die ou gebeente van ’n dier.

    Hy spring agter van die trekstang af, hurk by die ploeg, druk sy vingers tussen die sagte kluite in, die reuk van vars grond in sy neus. Hy krap die grond, klam en koel in sy hande, van die been weg en ontbloot ook kleiner bene wat agtertoe uitgedolwe in die ploegvoor lê.

    Wat de moer? sê hy hardop en sit terug op sy hurke.

    Hy is ’n deeglike boer, neem nie impulsiewe besluite nie, het lank getob en oorweeg en nagelees of die twee akker se berggrond geskik sal wees vir die wit bruidsblomme en die seldsame vleirosies, albei klein Proteaceae-spesies. Nooit in sy oorwoë beplanning was daar die moontlikheid van beendere nie. Nie súlke bene nie. En hy ken beendere, dié van diere, duikertjies en grysbokkies, kleiner prooi van rooikatte en muskeljaatkatte, ook dié van blouape en bobbejane wat uit die berge kom om die kloof se groentetuine en vrugteboorde te plunder.

    Steeds gehurk lig hy die hoed van sy kop en vee die sweet met die hoed van sy voorkop weg en steun orent. Langs die klipmuur by sy eetgoed is sy selfoon, maar hy het nie die nommer van Uniondale se polisie nie. Ook nie ’n vrou onder in die plaashuis wat hy kan bel nie – sy lê al tien jaar in Uniondale se begraafplaas; longembolie. En die kinders is toeka al uit die huis uit; boerdery staan hulle nie aan nie.

    Hy haak die ploeg af en ry met die trekker terug, af teen die helling, verby die dam na sy huis om die luitenant op Uniondale te bel oor die vonds in sy braakland.

    Die luitenant en sy konstabel vat twee ure voor hulle opdaag en sy werk moet staan en wag. Hy ry met sy bakkie voor die vangwa uit, terug na die plato en gaan hurk saam met hulle by die beendere. Die polisiemanne stem saam: dis nie die bene van ’n dier nie. En dit lê reeds lank begrawe in dié stuk veld wat so oorgroei is deur wilde gras en onkruid en bergheide.

    Dis g’n tradisionele graf nie, sê die luitenant en haal sy selfoon uit. Hy waggel dik van buik en heup na die klipmuur om sy streekkommissaris te

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1