Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Satyn Omnibus 3
Satyn Omnibus 3
Satyn Omnibus 3
Ebook676 pages12 hours

Satyn Omnibus 3

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In Ettie Bierman se ’n Man vir môre betrap Cecilia haar verloofde saam met ’n ander lugwaardin in sy hotelkamer. Sy bedank by Jakaranda-lugdiens en neem haar voor om nooit weer ’n man te vertrou nie. ’n Pos as skakelbeampte by die vyfsterhotel Mlala Lodge lyk na ’n droom wat kan waar word – so ook Melt Meiring, haar nuwe baas met die goue oë.

In Alexa Slabbert se Winterman, somerhart is Donna ’n swemdragmodel wat vir die jaarlikse fotosessie van ’n bekende sporttydskrif na die Comores toe gaan. Tifone en ander struikelblokke maak die eilandervaring iets totaal anders as wat sy geantisipeer het. En dan is daar boonop die tydskrif se redakteur, Simon, bekende flankeerder en rok-, oftewel, bikinijagter, met wie sy moet rekening hou.

En in Helena Hugo se Troukoors kan Minette nie wag om oor ses weke mevrou professor Paul Hagen te word nie. Aan die besware, bespiegelings en beskinderings van almal om haar steur sy haar nie meer nie. Dit het niks met enigiemand te doen dat Paul met een van sy studente trou en dat daar so ’n groot ouderdomsverskil tussen hulle is nie. Behalwe één persoon: Pierre Hagen, Paul se seun . . .
LanguageAfrikaans
PublisherSatyn
Release dateOct 30, 2013
ISBN9780624065555
Satyn Omnibus 3
Author

Ettie Bierman, Alexa Slabbert & Helena Hugo

Ettie Bierman is ’n alombekende en hoogs gewilde skrywer van romantiese verhale. Haar vroeëre boeke het gewoonlik ’n reistema, dikwels met ’n lugwaardin as hoofkarakter. Die afgelope paar jaar skryf sy vir die Satyn-reeks, waarvan Sonnet sonder woorde en Sterre is vir ewig maar enkele titels is. Sy en haar man, Roelf, woon in KwaZulu-Natal.

Related to Satyn Omnibus 3

Related ebooks

Related articles

Reviews for Satyn Omnibus 3

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Satyn Omnibus 3 - Ettie Bierman, Alexa Slabbert & Helena Hugo

    ’n Man vir môre

    1

    Hy’s ’n buffel! het een van die ander kandidate Cecilia vanoggend aan ontbyttafel by die gastehuis gewaarsku. ’n Arrogante vent wat met alles fout vind en jou soos ’n wurm laat voel.

    Cecilia wou omdraai en van die nuwe werk vergeet. Sy sou – as sy nie die geld desperaat nodig gehad het nie. As sy nie werkloos en so te sê dakloos op straat gesit het nie. Sy het ’n oordosis gehad van selfsugtige, verwaande mansmense. Meneer Melt Meiring kan in die dam spring vir al wat sy omgee, hy met sy kastige vyfsterhotel en al. Sy hoop die water is diep en vol barrakudas.

    Maar waarvan gaan sy leef? Sy skrop liewer vloere of lewer pizzas af as om terug te krabbel na Steve en te erken sy sukkel, sy kan nie alleen die mas opkom nie. Dís wat hy wil hê – dat sy haar bedanking by Lugdiens moet terugtrek en hom soebat om haar terug te neem. Sodat hulle kan trou . . .

    ’n Rukkie lank sal dit goed gaan, en hulle sal selfs gelukkig wees. Dolverlief en in die agtste hemel, soos aan die begin . . .

    Sy weet, want ’n man soos Steve verstaan hoe om die sjarmekrane oop te draai en met ’n meisie se hart te toor. Maar ’n sebra verander nie van strepe nie . . . Nie lank nie, dan sal hy weer oor die draad loer na groener weiding, en dan begin alles weer van vooraf. Die skok, die seerkry, die vernedering . . . Sy sien nie daarvoor kans nie.

    Sy het haar skoolgeld betaal en haar les geleer. Dis tyd om op haar eie voete te staan en te wys sy kan sonder ’n man in haar lewe klaarkom. Maar om onafhanklik en selfstandig te wees, het sy ’n inkomste nodig; ’n blyplek en ’n nuwe werk . . . Hierdie pos waarvoor sy aansoek gedoen het, is ideaal. Sy kan nie nou druipstert omdraai net omdat die uitvoerende bestuurder ’n nare, ongeskikte vent is nie. Sy het haar laaste klompie spaargeld op petrol en verblyf by die gastehuis geblaas; as sy nou tou opgooi, was dit alles verniet en is haar selfvertroue aan flenters.

    Haar ouma sê altyd: Oë toeknyp en hou links verby – dis die veiligste. En dis wat sy sal doen, besluit Cecilia toe sy by die luukse Mlala Lodge se parkeerterrein inry en haar motor parkeer – in die agterste ry, om nie met haar skedonk die blink Jaguars, Porsche’e en Mercedese aanstoot te gee nie.

    Op die ergste kan die buffel sê sy is lelik, dom en onbekwaam. Dis nie die einde van die wêreld nie. Sy kan haar kop hoog hou, uitstap en die deur agter haar uit sy skarniere uit toeklap om haar beter te laat voel.

    As sy nie die pos van skakelbeampte kry nie, kan sy hoor of hulle nie ’n kelnerin of skottelgoedwasser nodig het nie. Of wat van ’n croupier in die casino? Sy het al roulette en blackjack gespeel, en in Estoril ’n sak vol eskudo’s op die dobbelmasjiene gewen. Croupiers word goed betaal en kry ruim fooitjies.

    Op dié positiewe noot stap Cecilia met die marmertrappe op en deur die glasdeure tot in die Mlala Lodge se foyer. Dit lyk soos ’n balsaal – die ene kristalkandelare en geëmbosseerde wynrooi muurpapier. Sy is dankbaar dat sy haar swart Armani-nommertjie vir die onderhoud aangetrek het, eerder as die denimpakkie wat sy oorweeg het. Die uitrusting lig haar ego uit die sak en as van die afgelope drie weke. Al word sy summier die deur gewys, kan sy haar in styl wip.

    Sy bly ’n oomblik staan om diep asem te haal, haar kortgeknipte blonde krulle plat te vee en haar gedagtes te fokus. Dan stap sy na die inligtingstoonbank by ontvangs. Ek het ’n afspraak met meneer Meiring, vir ’n werksonderhoud. My naam is Louw. Cecilia Louw.

    Louw? Die meisie raadpleeg ’n lys name. Nege-uur?

    Dis reg, ja.

    Goeiemôre, juffrou Louw. Welkom by Mlala! Onderhoude word in die raadsaal gevoer, op die vyfde verdieping. Die hysbakke is reguit aan, teen die oorkantste muur.

    Výfde verdieping? Cecilia wens dit was laer, op grondvlak.

    ’n Breedgeskouerde ou met sjampanje-oë, ’n erg soenbare mond en ’n kuiltjie in sy ken vertoef by die toonbank, bekyk haar op en af en stap dan verby. Die soort man wat in die ou dae – vóór Steve de Villiers – welkom sou gewees het om sy hemp in haar kas op te hang. Sy sou dit selfs gewas en gestryk het, en die volgende oggend vir hom koffie en Weet-Bix in die bed geneem het . . .

    Maar daardie dae is verby, vergete en begrawe. Sy val nie twee keer uit dieselfde boom nie. Na dese dink sy met haar kop, nie met haar hormone nie.

    Toe Cecilia by die hysbakke kom, staan dieselfde ou daar en wag. Sy het voorheen net die skouers en gesig opgelet; nou sien sy die langerige goudbruin hare en formele donker pak klere. En toe hy die knoppie druk, sy mooi hande – sterk en breed, met groot kneukels en sensitiewe vingers. Hande wat ’n rugbybal sal kan vasvat, maar ook ’n meisie se hart, terwyl dit onstuimig klop. Hande wat kan streel en liefkoos en weet hoe om te koester . . .

    Asof hy haar takserende oë op hom voel, draai hy onverwags sy kop. Hul oë ontmoet, en dis Cecilia wat eerste wegkyk terwyl ’n verleë blos haar wange kleur. Sy kruip in ’n hoek in as die man moet weet wat deur haar gedagtes gaan.

    Toe die hysbakdeure oopskuif, staan hy hoflik opsy sodat sy eerste kan instap. Hy is so naby, sy kan sy naskeermiddel ruik. Muskusgeur . . .

    Sy duim mik na die ry knoppies teen die paneel. Vyf? vra hy met ’n geamuseerde glimlag.

    E . . . ja . . . Haar stem klink hees. Vyfde vloer, ja, herhaal sy in ’n fermer stem.

    Die deure gly toe en die hysbak begin beweeg. Cecilia is vies vir haarself. Genade, sy is agt en twintig, nie sestien nie. Wat staar sy die man aan, en stamel en stotter? Sy wat haar voorgeneem het sy is klaar met mans. Sy is selfstandig en onafhanklik, en van nou af kom haar loopbaan eerste.

    Die man kyk met verskerpte aandag na haar en dit lyk asof hy iets wil vra, maar net toe ruk die hysbak en sleep tot stilstand. Dit kantel effens en dis asof die vloer skielik onder hul voete wegsak. Die buislig teen die dak flikker aan en af, voordat dit uitdoof.

    Cecilia stut haar teen die reling om nie haar balans te verloor nie. Sy hou nie van hysbakke nie en probeer hulle vermy, want sy raak gou benoud in ’n beknopte ruimte. As dit twee of drie verdiepings was, sou sy met die trappe opgeklim het, maar vyf stelle trappe is bietjie baie, veral in die Laeveld, in die hart van die somer. Sy wou nie uitasem en natgesweet vir die onderhoud opdaag nie.

    Iets ritsel naby haar en sy voel ’n beweging teen haar gesig. Haar eerste gedagte is vlermuise of ’n spinnekop . . . Sy skrik en ruk weg.

    Toe maar, juffrou, dis net ek, sê die man gerusstellend. Ekskuus as ek jou laat skrik het. Ek wou net voel of jy darem nog op jou voete is. Het jy seergekry?

    Sy skud haar kop, besef dan dat hy nie kan sien nie. Nee. Nee, ek makeer niks.

    Dis net ’n kragonderbreking, iets wat gereeld op Nelspruit gebeur. Moenie jou ontstel nie, dit sal gou weer regkom.

    Hy klink gaaf. Simpatiek. Ek het nege-uur ’n belangrike afspraak, sê Cecilia bekommerd. En ek wil nie laat wees nie.

    Al die hysbakke staan. Die mense sal bewus wees daarvan.

    Die persoon wat ek moet gaan sien, sal dit nie in ag neem nie.

    Nie? Hy klink verbaas. Hoekom nie?

    Hy is glo baie onredelik.

    Hoe so?

    Hulle sê hy is ’n regte buffel.

    Hy lyk verbaas. Wie sê so?

    Almal weet dit. Hy is glo ook arrogant.

    Ek is jammer . . .

    Dis nie jou skuld nie.

    Die gesels het gesorg dat Cecilia se aandag afgelei word. Maar toe hy stilbly, word sy opnuut bewus van die beknopte ruimte om haar. Die donker maak dit erger. Versmorend . . .

    Bly kalm, maan sy haarself. Fokus en bly gemotiveerd. Tel stadig tot by vyftig. Of sing, enige liedjie wat sy ken, net om haar gedagtes besig te hou. Dit gebeur gereeld, en die krag sal gou weer aankom, het die man gesê. Dit klink of hy weet waarvan hy praat; hy bly seker gereeld in die hotel oor. Gou beteken nóú-nóú. Binne vyf tellings. Of tien. Of twaalf. Nie meer as vyftien nie . . .

    Op twintig skop ’n flou noodlig teen die plafon in. Die blouerige, spookagtige skynsel help teen die donker, maar nie vir Cecilia se kloustrofobie nie. Sy kyk om haar rond: na die plafon bokant haar kop, wat lyk asof dit al laer afsak, en na die vier mure wat voel asof hulle binnetoe leun, oor haar gaan vou en haar versmoor. Haar oë soek na ’n gleuf, ’n rooster, ’n skrefie of iets waarop sy kan konsentreer en haarself wysmaak dis ’n opening wat na buite lei.

    Met moderne tegnologie is daar ’n noodrem as veiligheidsmeganisme ingebou, sê die man langs haar, asof hy haar vrees kan aanvoel.

    Sy is dankbaar sy is nie alleen in hierdie beklemmende hokkie vasgekeer nie. Alleen sou erger gewees het. Hoe hoog hang hulle in hierdie skag? En wat gebeur as die noodrem nie werk nie?

    Die kabel ruk weer. Cecilia druk ’n vuis teen haar mond, haar oë paniekbevange. Sy het altyd in haar agterkop geweet dat so iets eendag met haar gaan gebeur . . . Onbewustelik het sy ’n voorgevoel gehad, dis waarom sy hysbakke sover moontlik vermy.

    Is daar nie ’n noodknoppie wat ons kan druk nie? Of kan ’n mens dalk hulp ontbied met ’n selfoon? vra sy.

    Ek het reeds die alarm geaktiveer. Ons moet maar net geduldig wees.

    Hoekom moes dit juis vandag gebeur het? wonder sy moedeloos. Terwyl sy ’n nuwe begin gemaak het en ’n gunstige eerste indruk wou maak op ’n toekomstige werkgewer? Terwyl haar weerstand laag is en sy na Steve verlang? Steve sou geweet het hoe om haar te kalmeer en van haar kloustrofobie te laat vergeet. Hy sou haar vasgehou en getroos het, of ’n grap gemaak het om haar te paai. Hy kon haar altyd laat lag, selfs al was sy depressief, dood op haar voete of lus om te huil. Steve sou geterg het dat sy mos nog altyd saam met ’n sexy hunk alleen op ’n verlate eiland gestrand wou wees. ’n Hysbak is nou nie heeltemal ’n tropiese eiland met wuiwende palms en uitgestrekte strande nie, maar tweedebeste is darem beter as niks . . .

    Maar Steve is nie hier nie en hy het haar nie meer lief nie. Sy is op haar eie.

    Toe die noodlig ook flikker en uitdoof en die donkerte soos ’n versmorende kombers oor haar spoel, verloor sy kop. Sy kan nie logies dink nie en tas om haar rond asof sy die duisternis kan besweer – ruimte kan skep en ’n opening na buite vind.

    Engtevrees? vra die stem langs haar.

    Sy kou aan haar onderlip. Ja.

    Konsentreer op iets anders. Probeer om nie daaraan te dink nie, dan sal dit verdwyn, gee hy raad.

    Al wat verdwyn, is die reling waarteen sy haar netnou gestut het. Dis opeens nie meer agter teen haar rug nie . . .

    In haar paniek soek Cecilia desperaat na ’n stukkie realiteit – na iets om haarself te oriënteer. Eers voel haar vingers net die satynafwerking teen die hysbak se wand, dan ’n growwer soort materiaal, met riffels en ’n wollerige grein. Sonder dat sy registreer wat dit is, het die aardsheid daarvan ’n kalmerende uitwerking op haar.

    Dis nie so erg nie, jy sal dit oorkom, gesels hy. Dink aan lekker dinge: nartjies gooi by ’n rugbywedstryd, gesmelte sjokolade van jou vingers aflek, jou kêrel vashou tydens ’n rillerfliek . . .

    Sy hoor die klanke sonder om die woorde in te neem. Koue rillings trek deur haar en sy klou aan die growwigheid vas, aan die substansie daaragter, die gerusstellende warmte daarvan. Die sensasie van veiligheid verskerp toe ’n hand kalmerend oor haar skouer vryf. Sy voel ’n wollerigheid wat teen haar kaal boarm skuur – ’n baadjiemou?

    Haar verstand is dof. Die bietjie konsentrasievermoë wat oor is, fokus daarop om haar histerie onder bedwang te hou. Soos ’n drenkeling in ’n stormsee reik sy na die arm bokant die hand. Bang dat as sy dit los, verswelg die duisternis haar en sleep haar die dieptes in . . .

    Die arm trek haar beskermend nader, teen ’n breë bors vas. Toe maar, jy is veilig. Niks gaan gebeur nie. Daar is niks om voor bang te wees nie . . .

    Onder haar wang voel sy die sterk, reëlmatige hartklop, dan ’n warm asem naby haar gesig. Daar is ’n fladderende aanraking teen haar voorkop – liggies, soos dié van ’n skoenlapper se vlerke.

    Cecilia is ’n enigste kind, wat altyd ’n broer of suster begeer het. Die gewaarwording wat sy ervaar, is dié van ’n ouboet wat sy sussie troos nadat sy van haar fiets afgeval het of haar toon teen ’n klip gestamp het. Sy voel geborge, asof sy ná ’n lang swerftog tuis gekom het. Dis ’n natuurlike reaksie om haar arms om sy nek te sit en hom ’n druk te gee – soos ’n suster, om te wys sy is lief vir hom.

    Skielik ontstaan ’n oneweredigheid in die hartritme onder haar wang. ’n Effense pouse, asof die hart ’n klop oorslaan en dan versnel. ’n Tweede arm kom by om haar stywer vas te hou. Die greep om haar rug vervat en verander in ’n omhelsing wat glad nie broederlik voel nie. Sy herken die growwe riffels van die baadjiemou en besef dis sy lyfhitte wat deurslaan deur die materiaal. Terselfdertyd dring dit tot haar deur dat sy soos ’n rankplant vasklou aan ’n man wie se naam sy nie eens ken nie.

    Sy weet sy behoort hom weg te stoot. Sy laat nie wildvreemde mans haar sommer gryp en vashou nie. Veral nie in die donker nie . . . Sy is ’n ordentlike, betaamlike meisie, skaam en op haar plek. Almal goeie, logiese redes. Behalwe dat sy nie op hierdie tydstip ordentlik en betaamlik voel nie.

    Haar kop duisel en die werklikheid vervaag. Sy vergeet waar sy is, vergeet haar vrese en benoudheid. In haar ore klink die dreuning van branders en die suising van die wind deur die palmbome. Die wêreld om hulle is ver weg en dis net hulle twee, hy en sy, alleen in ’n kokon op ’n verlate tropiese eiland . . .

    Die vloer onder haar voete beweeg, maar Cecilia bly droomverlore in sy arms staan. Sy verbeel haar die vloer wat kantel, is ’n bootjie wat heen en weer in die golwe wieg . . .

    Toe iemand naby haar oor kug en ’n keer keel skoonmaak, kom sy ru terug aarde toe. Haar oë vlieg oop en sy kyk in twee vreemde, half deurskynende oë vas. Eers frons sy, onseker oor waar sy is en wat gebeur het. Dan, toe sy die hysbak sien, tref die realiteit haar. Die krag het ingeskop; die suising was die buislig teen die dak. Dit was nie branders en ’n bootjie in die deining nie – dit was die hysbak wat begin beweeg het.

    Met ’n skok besef sy hulle is op die vyfde verdieping. Die hysbakdeure het oopgeskuif, en buite in die gang staan mense wat haar nuuskierig aanstaar.

    Cecilia verstar. Waar was haar kop? Skoon mal en op ’n ander planeet . . . Sy kan dink hoe dit moet lyk: verstrengel in ’n omhelsing soos twee verliefde seekatte – sy en hierdie man wat sy van geen adamskant ken nie!

    Sy laat haar arms sak en ruk haar los, pienk van verleentheid.

    Ek is jammer . . .

    Ek is nie. Hy knipoog en tik met sy wysvinger op die punt van haar neus. Dit was baie aangenaam – ons moet eendag weer so maak.

    Hy draai weg, vleg tussen die mense deur en verdwyn.

    Cecilia verwens hom. Tipies mansmens om die pad te vat en haar alleen in die gemors te los. Sy wens sy kan die knoppie druk sodat die deure kan toeskuif. Met soveel waardigheid as wat sy bymekaar kan skraap, trek sy haar skouers waterpas, lig haar ken en stap kop omhoog uit in die gang.

    Sy glimlag fyntjies vir die kring starende agies. Jammer, mense, dis al vir vandag! Die vertoning is verby.

    Agter haar giggel iemand, maar Cecilia kyk nie om nie. Sy loop net doelgerig in die gang af op soek na ’n kleedkamer waarin sy kan ontsnap.

    2

    By die ry wasbakke buk sy om koue water op haar gesig te spat en tot verhaal te kom. Dit was ’n nagmerrie-ervaring wat nog lank by haar sal spook, en tog het sy in ’n mate haar fobie oorkom. Die benoudheid was skrikwekkend en sy sal die angs nooit vergeet nie, maar sy sal in die toekoms met meer selfvertroue in ’n hysbak klim. Sy is trots op haarself, behalwe vir die einde van die episode . . .

    Mense wat nie aan kloustrofobie ly nie, verstaan nie hoe erg dit is nie. Dis ’n siekte, en geen pille help daarvoor nie. Die man moes nie gelag en met haar fobie gespot het nie. Hy het van haar weerloosheid misbruik gemaak en die situasie uitgebuit. Hy dink seker sy is ’n los meisie wat aanlê by al wat broek dra. Sy hoop nie sy loop hom weer raak nie, want sy sal te skaam wees om hom in die oë te kyk.

    Haar onderhoud! besef sy en kyk op haar horlosie. Soveel het intussen gebeur dat dit soos ’n leeftyd voel. Maar sy is genadiglik net ’n kwartier laat. Die hotelpersoneel sal van die kragonderbreking weet, en meneer Meiring kan nie so ’n monster wees om haar te blameer omdat sy nie stiptelik nege-uur opgedaag het nie, verseker sy haarself.

    Sy herstel haastig haar grimering, kam haar vingers deur haar hare en stryk dan in die gang af, op soek na die raadsaal. Hoe het daardie motiveringspreker gesê? Fokus. Glo jy kan.

    Wéét jy kan, voeg sy by toe sy by die ontvangsarea oorkant die hysbak kom.

    Louw? vra ’n gesofistikeerde witkop agter die toonbank. Sy loop nie oor van vriendelikheid nie en kyk op haar horlosie. Dis klaarblyklik ’n skimp.

    Nie my fout nie, glimlag Cecilia liefies. Julle hysbak wat gaan staan het.

    Die meisie bied nie ’n verskoning aan nie. Sy beduie Cecilia na ’n ry leerstoele in die hoek en draai terug na haar rekenaar.

    Cecilia onthou die bolla laag in die nek gekam, die halfmaan-wenkbroue en pêreloorbelle. Dit was een van die gesigte wat haar aangestaar het toe die hysbakdeure oopgegaan het.

    Wedersyds, dink sy by haarself. Ek het ook met die eerste oogopslag ’n renons in jóú gekry. Ons twee sal nie vriende word nie.

    Sy hoef nie lank te wag nie. Sy het pas deur een van die tydskrifte op die koffietafel begin blaai toe die telefoon lui. Die witkop luister ’n oomblik. Knik dan na die wagtende kandidaat terwyl sy na ’n verbindingsdeur links agter die toonbank beduie. Stap deur, meneer Meiring wag vir jou.

    Die dekor van die foyer word herhaal in die Mlala Lodge se raadsaal. Behalwe dat daar ’n blinkgepoleerde swarthouttafel in die middel van die weelderige wynrooi mat staan, met omtrent ’n dosyn stoele daarom gerangskik. Op een van hulle sit ’n ouerige dame wat Cecilia takserend betrag.

    Goeiemôre, groet Cecilia – vriendelik maar nie familiêr nie, hoflik maar nie oordrewe sodat dit onderdanig klink nie. Sy wens sy het destyds tydens die kursus beter geluister na die motiveringspreker. Maar Steve was ook daar en hy het kort-kort vir haar ’n SMS gestuur, en dan ewe vroom gelyk as sy gebloos het. Hoekom dink sy nou weer aan hom? Dis verby tussen hulle.

    Oorkant die takserende dame sit ’n gedistingeerde man, so iets in die veertig. Liggrys pak, houtskoolkleurige hemp en silwerige das. Skimmelgrys teen die slape, met skerp oë onder ruie swart wenkbroue. Formidabel, maar nie onverbiddelik nie.

    Die Buffel, besluit Cecilia en glimlag – iets tussen medium en effentjies. Hy moenie dink sy gooi haar flikkers nie, óf dat sy stug is nie.

    Môre, juffie, groet hy terug, met onverwagte waaierplooitjies langs sy ooghoeke.

    Die meisie by die gastehuis was sommer net katterig, besluit sy. Meneer Meiring is nie arrogant nie. Trouens, sy sal van hom kan hou en lekker saam met hom werk.

    Cecilia het op haar toekomstige baas gekonsentreer en eers nie opgelet daar is nog ’n man aan die onderpunt van die tafel nie. Wel, wat vir die grootbaas gewerk het, sal seker vir hom ook deug. Sy behou haar neutrale glimlag, draai haar kop en groet – en kyk vas in die vonkelende oë van die hysbakman.

    Dis soos ’n vuishou wat haar in die maag tref. Haar mond gaan oop en sy staar hom verstom aan. Wat maak hý hier? Hy is tog sekerlik nie een van die personeel nie? Dalk ’n koerier wat ’n pakkie kom aflewer het, dink sy hoopvol. Of ’n elek­trisiën – iets met die kragonderbreking te doene. Of dalk het hy verdwaal en op die verkeerde vloer afgeklim?

    Melt Meiring, groet hy in ’n neutrale stemtoon, staan op en steek beleef sy hand uit. Aangename kennis, juffrou Louw.

    Áángenaam? Sy is seker dis vir hom ’n aaklige kennismaking! Hoe kon sy so idioties gewees het? Om ewe vir hom te vertel die persoon met wie sy ’n afspraak het, is ’n buffel . . . Sy kon net sowel haar eie doodsvonnis onderteken het.

    En sy kan hom die moeite van ’n onderhoud spaar deur sommer nou al te loop, voor hy haar by die agterdeur uitgooi. Hy sal nie so ’n voorbarige meisie op sy personeel wil hê nie – vryerig en dan nog boonop simpel genoeg om vir hysbakke bang te wees.

    Sy ignoreer dieselfde gevoel van geborgenheid van vroeër toe sy haar hand vlugtig in syne lê. Dis haar verbeelding, maak sy dit af. Hy is ’n losbol – die soort wat seker gereeld sy kans vat met vroumense in ’n hysbak. Vir al wat sy weet, het hy ’n knoppie gedruk om die hysbak te stop en toe voorgegee dis ’n kragonderbreking. Geen wonder hy het agterna vir haar gelag nie.

    Sy trek haar hand terug, voor hy dalk dink sy gee hom aanleiding of probeer hom verlei om die werk te kry. Sy kyk hom koelweg aan, maar sy gesig is niksseggend en verraai nie wat deur sy gedagtes gaan nie.

    Laat ek jou voorstel aan mevrou Wessels, ons personeelbeampte . . . En meneer Jordaan, die adjunkbestuurder, sê hy formeel.

    Cecilia knik. Bly te kenne.

    Melt Meiring wys na ’n stoel aan die verste punt van die tafel. Die ónderpunt, besef sy. Waar hy sit, is die bópunt. As sy ’n tweede breinsel gehad het, het sy dit vroeër besef.

    Hy gaan sit en bestudeer ’n oop lêer wat voor hom op die tafel lê. Haar aansoekvorm, raai Cecilia. Met haar geluk het sy waarskynlik ’n rits spelfoute gemaak. Pleks dat sy die besonderhede ingetik het, dit sou netjieser gelyk het.

    Ek merk dat jy vyf jaar ’n lugwaardin was, juffrou Louw. Dis langer as die meerderheid ander meisies. Hoekom het jy by Jakaranda-lugdiens bedank?

    Omdat my aanstaande my verneuk het! wil sy uitroep. ’n Maand voor ons troue ’n affair met ’n ander lugwaardin aangeknoop het . . . Wat moes ek doen? Hengse keuse wat ek gehad het: Sluk sy leuens, of kry vir my ook ’n skelmpie. Dis mos die in-ding. Lugdiens is mos soos Hollywood. Almal kul mekaar en speel musical chairs . . .

    Sy hoop haar gesig is net so onleesbaar soos syne. Om lugwaardin te wees, is nie ’n loopbaan nie, meer ’n limbo-periode met ’n kort rakleeftyd. As jy voel jy het genoeg van die wêreld gesien, as jy moeg is om skinkborde te dra en uit tasse te leef, beweeg jy aan.

    Is dit wat in jou geval gebeur het?

    Hoekom wil hy weet? Kan hy sien die roof is nog rou? Soek hy geraamtes in haar kas? Of ’n rede om te sê: Dankie vir die belangstelling, maar jy is ongelukkig nie die geskikte kandidaat vir die pos nie?

    Cecilia kyk hom vas aan. Ja, meneer Meiring. Ek het vrywillig en uit eie keuse besluit dis tyd om aan te beweeg.

    Omdat jy moeg was vir tasse en hotelkamers?

    Cecilia sien die slaggat en systap dit. Nee. Omdat ek ’n loopbaan met standvastiger vooruitsigte verkies.

    Hy kyk weer af na die lêer. Jy het ’n B.A. in kommunikasiekunde. Sou ’n loopbaan in die joernalistiek nie meer gepas gewees het as skakelbeampte by ’n hotel nie?

    Joernalistiek was aanvanklik ’n oorweging, ja, sê sy eerlik.

    Hoekom was dit tweede keuse?

    Ek verkies mense bo rekenaars, en praktiese probleme bo woordverwerkingsprogramme. Dis vir my ’n uitdaging om ’n krisis te kan oplos en die lewe vir ’n medemens te vergemaklik.

    Die woorde het dalk te hoogdrawend uitgekom. Sy hou Melt Meiring dop om sy reaksie te peil. Hy luister met aandag en dit lyk asof hy belangstel in wat sy sê. Dit gee haar vrymoedigheid om uit te brei.

    Ek het hier in die Laeveld grootgeword, en ná vyf jaar het ek ’n oordosis gehad van oorbevolkte wêreldstede en oorvol lughawens, van die plastiekwaardes wat dollars en euro’s kan koop. Ek wil huis toe kom. Weer ’n boom sien sonder die besoedeling van chemiese suurreën. Bosveldstof ruik eerder as uitlaatgasse. ’n Visarend hoor pleks van toeters en sirenes. Net . . . ag, sommer net huis toe kom . . .

    Tot haar skande breek haar stem. Sy bly verleë stil, bang hy dink dis toneelspel om hom te beïndruk. Sy laat sak haar kop, grawe in haar handsak na ’n sakdoek en blaas haar neus. Daar was iets in die manier waarop hy sy kop gedraai het, iets aan sy profiel wat haar onverwags aan Steve herinner het. Wat gemaak het dat sy haar skanse ’n oomblik laat sak het.

    Hoekom is mansmense op hierdie aarde nodig? dink sy wrewelrig. Hulle krap net ’n mens se kop deurmekaar. Sy vryf oor haar oë en kyk op na hom, ’n mengsel van verdediging en aggressie in haar blik. Laat hy nét weer lag . . . Laat daar net ’n sweem van spot êrens roer, en sy keer daardie waterkraffie op sy kop om. Sy kan dit doen, want sy sal nie die werk kry nie, dus het sy niks om te verloor nie.

    Ek verstaan. Hy tel ’n pen op, maak ’n paar notas en trek ’n streep deur ’n reël onderaan die bladsy.

    Taktvol, om haar kans te gee om te kalmeer? wonder Cecilia. Sy glo nie. Eerder daar geskryf: Sentimenteel. Neuroties. Bly weg! En haar naam as kandidaat doodgetrek.

    Melt sit die pen neer, netjies parallel met die oop lêer. Enige ander taalvaardighede behalwe Afrikaans en Engels?

    Ek kan ’n gesprek in Duits en Spaans aan die gang hou – oor die weer, besienswaardighede, restaurante, openbare vervoer, ensovoorts. Die soort inligting wat toeriste verlang, maar niks ambisieus soos byvoorbeeld politiek of godsdiens nie.

    Vanwaar hierdie taalvaardigheid?

    My pa is in die diplomatieke diens. Ons het ’n tyd lank in Duitsland gewoon en twee jaar in Argentinië.

    Jy dui jou huwelikstatus aan as ‘ongetroud’, merk hy op. Hy huiwer en gaan dan voort: Het jy dalk huweliksplanne in die nabye toekoms, juffrou Louw?

    Dié skielike verandering van onderwerp vang Cecilia onverhoeds. Sy skud haar kop.

    Melt vryf ingedagte oor sy ken en kyk opsommend na haar.

    Jou . . . e . . . hysbakprobleem, opper hy die netelige saak.

    Ja, erken Cecilia en kyk af na haar hande wat op haar skoot saamgevleg is, gelukkig buite sig van die drie onderhoudvoerders. Dit ís ’n probleem wat in my agterkop was, maar so ’n situasie het nog nooit voorheen gerealiseer het. Maar ek sal dit oorkom met wilskrag, positiewe denke en selfmotivering. Ek sal myself dwing om ’n paar keer op en af te ry in dieselfde hysbak waarin ek vanoggend vasgekeer was.

    Melt knik, plegtig en baie ernstig. Sorg dat iemand saam met jou is, juffrou Louw. Verkieslik ’n manspersoon wat jou kan kalmeer en wat jy kan vertrou.

    Cecilia kyk onthuts na hom. Is dit terg of spot?

    Sy een mondhoek wip boontoe. Dan die ander een, en dan skielik borrel die lag spontaan oor.

    Duiweltjies dans in daardie goue oë van hom, en dis ’n warm soort lag. Niemand kan daaroor kwaad word nie. Miskien was sy te liggeraak. Dis ’n ou laai van haar om op loop te gaan oor niks.

    Melt draai na die ouerige vrou regs van hom. Jou beurt, Wessie.

    Juffrou Louw, kan jy onder druk funksioneer? vra mevrou Wessels. Teen ’n tempo werk?

    Ek is nooit sonder ’n horlosie nie, reageer Cecilia, hopend dit beantwoord die vraag. In my woonstel was daar ’n wekker langs my bed, ’n muurhorlosie in die kombuis en een op die televisiestel. Ek hou my dagboek op datum en het altyd ’n almanak – een wat nie agter die deur hang nie. Dit beteken ek het ’n goeie besef van tyd.

    Hou jy kop in ’n krisis, juffrou?

    Sy dink na. Een keer, op ’n vlug tussen Perth en Mauritius, het ons in die eerste klas ’n kabinetsminister aan boord gehad. Toeristeklas was vol en kinders het op en af in die gange gehardloop. Een outjie het deur die klasse-afskorting geglip en op die oop sitplek langs die minister geklim. Op daardie presiese oomblik het die Airbus ’n lugleegte getref. Die kind se maag het gerebelleer en hy het sy brekfis oor die minister se deftige pak klere uitgespoeg. Ek wou buite op die vlerk gaan wegkruip, maar ek het opgevee, afgevee en skoongevee. Lugverfrisser gespuit, gepaai en vir die minister tee gemaak.

    Mevrou Wessels wag vraend. En jy reken dit was genoeg?

    Twee kuiltjies keep weerskante in Cecilia se wange. Iewers moes ek iets reg gedoen het, want die volgende dag het ek van die minister ’n uitnodiging ontvang na die parlementsopening. Ongelukkig kon ek nie gaan nie, want ek het nie ’n hoed gehad nie.

    Almal lag. Mevrou Wessels vra nog die een en ander om haar algemene kennis te toets, en die adjunkbestuurder praat oor veeleisende hotelgaste, ongereelde werksure en wat presies die skakelwerk by Mlala Lodge behels. Dan is die onderhoud verby.

    Melt staan op en hou die deur vir haar oop. Dankie, juffrou. Ons sal u laat weet.

    Met die uitstap sien Cecilia die volgende kandidaat op een van die leerstoele in die ontvangsarea sit, besig om deur ’n modetydskrif te blaai. Dis ’n swartkop wat lyk asof sy self uit een van die glansbladsye gestap het.

    Cecilia is lus om haar teen Melt Meiring te waarsku. Nie as ’n buffel nie, maar ’n casanova. ’n Man om van weg te bly as jy besluit het jy is klaar met mans.

    By die hysbak aarsel sy, die klank van haar selfversekerde woorde in haar ore. Positiewe denke en wilskrag. ’n Paar keer op en af ry . . . Netnou het dit maklik geklink, maar dit was valse bravade. Nou is sy bang en alleen. En as jy alleen is, hoef jy niks aan niemand te bewys nie.

    Sy klim met die trappe af en haat haar lafhartige self.

    In die portaal van die derde verdieping steek sy vas. Sy sit haar voet dwars – letterlik én figuurlik en duskant die volgende stel trappe, terwyl sy besluit: Tot hiertoe en nie verder nie. Sy gaan haar nie laat onderkry deur ’n vierkantige blikboks wat soos ’n aap aan ’n kabel hang nie. Sy sal die ding wys wie’s baas. Nie môre nie. Nie anderweek nie. Nóú!

    Dis soos die Matrix-fliek wat sy gesien het. Die bevele eggo een-een deur haar brein: Los die trapreling. Draai om. Loop oor die terracotta-teëls. Stop voor die skuifdeure. Druk die knoppie. Wag . . . Ses stappe. Hoe moeilik kan dit wees?

    ’n Pieng weerklink toe haar vyand arriveer, sy deure oopgooi en haar innooi. Soos Daniël in die leeukuil . . . Daar’s nie ander mense in die blikboks nie, wat dit erger maak. Niemand wat haar kan vashou en troos nie . . .

    Haar aksies is metodies en afgemete, soos ’n robot: Loop. Vorentoe. Drie treë. Stop. Draai. Druk G vir grondvlak.

    Sy slaag net met die eerste vyf. Ek kan nie!

    Die protes breek uit haar keel. Haar kop draai regs, staar gehipnotiseer na die paneel vol knoppies. Haar vinger bewe. Sy mik blindweg na die onderste knoppie, druk hom en knyp haar oë toe. Dan bly sy stokstyf staan, soos ’n winkelpop op ’n uitkenningsparade. En wag op die ergste . . .

    Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, waag sy dit om haar oë stadig oop te maak. Hierdie keer kom haar uitroep makliker. Dis nie protes nie, maar verbasing; eers ongeloof en daarna vreugde. Ek kán . . . Ek hét!

    In haar mond is ’n soutsmaak; sy het haar onderlip raakgebyt. Maar sy proe dit skaars. Sy’s onder. Op die grondvlak! Haar knieë is lam en haar bene voel soos slap sement, maar sy maak dit uit buitentoe – deur die foyer en af met die marmertrappe, totdat sy die warm teer van die parkeerterrein onder haar hoëhaksandale voel. Moeder Aarde! Eers toe kan sy haar asem in ’n lang hyg uitblaas.

    ’n Parkeerjoggie kyk snaaks na haar.

    Ek het die jop verloor, sê Cecilia vir hom, maar die hysbak gewen. Dis dalk kinderagtig vir mense wat nie verstaan nie, maar dis ’n groot oorwinning vir haar.

    Haar motor is ’n sauna. Sy draai die venster oop en ry na die uitgang. Die euforie wat sy pas gesmaak het, is vinnig besig om te verdamp.

    Ons sal jou laat weet, het meneer Melt Meiring gesê. Dit beteken: Moenie ons bel nie, ons sal jou bel. Indien nodig . . .

    Sy sal waarskynlik nie weer van Mlala Lodge hoor nie. Miskien net, as sy gelukkig is, ’n kort nota van een of ander klerk by administrasie kry dat die vakature gevul is en dat haar aansoek ongelukkig nie suksesvol was nie. Sonder dat hulle haar nooi om eendag weer te probeer.

    By die snelweg draai sy regs op die N4, Pretoria toe. Haar kamer by die gastehuis is reeds ontruim en haar bagasie in die kattebak gelaai, om te verhoed dat hulle haar dalk vir nog ’n nag laat betaal, met ’n kredietkaart wat lank reeds sy limiet oorskry het. Sy wil nie weer by haar pa leen nie, maar sy sal dalk moet. Tot sy kan begin pizzas aflewer of polisse verkoop.

    3

    Alles lyk skielik erger, meer morbied en neerdrukkend, toe Cecilia laatmiddag by die beknopte woonstel aankom en na haar bed op die sitkamerbank kyk. Vera en Melanie is dierbaar, maar sy kampeer al amper drie weke lank in hulle sitkamer en kan nie verder hulle jammerte misbruik nie. Sy het daarop geroem dat haar lewe ’n nuwe wending geneem het, en sy moet ophou om ’n parasiet te wees.

    Cielie, haai! groet Vera. Sy bly afwagtend staan. En . . .?

    Cecilia sak op die bondel beddegoed neer. En niks.

    Nie die jop gekry nie?

    Nee.

    Hoekom nie?

    Te dom, te oud, te lelik, te neuroties.

    Wag, ek gaan maak tee. Op pad kombuis toe stop Vera en wys na ’n ruiker op die hoektafeltjie. Van Steve af. Dit het gister gekom, net nadat jy gery het. Hy het gebel ook – drie keer – om te vra waar jy is en hoekom jy nie jou sel antwoord nie. Ek het gesê ek weet nie en die foon neergesit.

    Ek het my sel afgeskakel. Ek was nie lus om met hom te praat nie, wou sommer net ’n tyd lank van alles en almal wegkom.

    Dis goed. Jy het dit nodig gehad.

    Cecilia besef Vera hou haar onderlangs dop. Sy probeer kalm en bedaard lyk, maar sy weet daar is kringe onder haar oë. Die stres van die afgelope tyd wys.

    Ek het ’n snaakse grap nou die dag gelees, sê Vera vrolik. Wat doen ’n meisie as haar kêrel ná ’n rusie uitstap? . . . Sy sluit die deur agter hom.

    ’n Situasie wat nog te rou is om snaaks te wees . . . Cecilia glimlag werktuiglik om Vera te plesier. Sy kyk na die blomme: wit lelies, haar gunsteling. Sy voel of daar genoeg water in die pot is, maar kyk terloops na die kaartjie voor sy dit in ’n asbak gooi.

    Vera het nie veel vertroue in haar bekwaamheid gehad nie, besef Cecilia. Want sy het reeds ’n roomkoek as troos gekoop, saam met die tee en simpatie.

    Ná die tweede skyf kilojoule-gif het Vera die storie uit haar vriendin gewurm.

    Ja, dit klink nie goed nie, sug sy saam. Soos die sterre-ghoeroes sê: Dis jou planete wat bots – jou Libra-aura wat nie in harmonie is met jou biopolêre ritme nie. Of so iets . . . Dié dat die hysbak nou juis vir jou en Melt Meiring moes uitkies om mee te gaan staan. Maar jy het darem agterna die ronde teen die blikboks gewen.

    Hy weet dit nie. Wat hom betref, is ek steeds neuroties. Waarvoor ek aan die tjank moes gaan oor lugbesoedeling en aardverwarming, weet nugter. My kop het uitgerafel, en dit net omdat sy profiel ’n bietjie soos Steve s’n gelyk het.

    Steve is donker. Ek dag jy sê dié ou is blond?

    Medium blond. Wat maak dit saak hoe hy lyk? Hy dink ek is mal.

    Om oor siek bome te huil, is nie mal nie. Dit wys jy het ’n hart, nie ’n klip in jou binneste nie. Dis sy eie skuld dat hy moes hoor hy is ’n buffel. Hy ís, met swak maniere daarby. Hoekom het hy hom nie vroeër aan jou voorgestel nie?

    Hy het nie geweet wie ek is nie. Jy kan nie verwag ’n man moet hom voorstel aan elke vreemde meisie wat saam met hom in die hysbak klim nie. Hulle sal dink hy is vrypostig.

    Met reg, want dit was vrypostig om jou uit die bloute te omhels, veral as hy jou nog nie eens formeel ontmoet het nie.

    Dit was nie uit die bloute nie, ek het eerste my arms om sy nek gesit.

    Hoekom verdedig jy die ou? Dit was gemeen om jou vir die gek te hou. ’n Verdraaide sin vir humor . . . Ek wed jou hy het ook allerhande duistere fobies. ’n Vrees vir katte, of hy slaan in pers knoppe uit as hy oesters eet. Wie weet, hy dra dalk pienk frilletjies-onderbroeke . . . Flippen ghwar!

    Cecilia lek haar koekvurkie af. Hy’s nie ’n ghwar nie. En muskusgeur is baie manlik.

    Vera drink haar tee ingedagte. Hoe oud is hierdie muskusman? wil sy agterdogtig weet.

    Cecilia wil eers jok, maar sy is bang om die gode te tart, veral as Venus en Mars in botsende bane is.

    Oud, koud en getroud? vra Vera weer.

    Nie eintlik nie, skerm Cecilia, wetend sy het haar kop in ’n byenes gesteek. Sy ken haar vriendin. Vera gaan aanhou torring en om haar ore zoem, tot sy die korf oopgekrap het en by die heuning uitgekom het.

    Middel dertigs, raai sy kortaf.

    Sy staan op, rits haar naweeksak oop en soek haar toiletgoed en kamerjas. Ek gaan bad, dan is ek vanaand uit julle pad as julle die badkamer wil gebruik.

    Melanie se vlug land eers Dinsdag en jy is nie in die pad nie. Jy’s welkom en jy weet dit. Hoe lyk hy?

    Cecilia loop badkamer toe, druk die prop in die bad en draai die kouekraan oop. Taamlik aantreklik.

    Taamlik of baie? vis Vera uit. Is dit hoekom jy ’n koue bad nodig het – om jou hormone af te koel?

    Cecilia is verontwaardig. Natuurlik nie! Ek probeer warm water spaar. Geysers gebruik baie krag.

    Vera skuur by haar verby, draai die warmwaterkraan wyd oop en gooi ’n klomp badskuim in die water. Waar’s jou styl, Ciel? Moenie so bourgeoisie-middelklas wees nie! Ons is nie kerkmuise nie.

    Júlle miskien nie, maar ek is. Ek voel soos ’n bloedsuier om hier te bly en nie eens ’n bydrae tot die kosrekening te kan maak nie.

    Waarvoor anders is vriende daar as dit nie is om mekaar te help nie? Annerdag koop jy vir ons kreef en kaviaar en dan is ons kiets.

    Waarmee? vra Cecilia en daar is bitterheid in haar stem.

    Met die geld wat Steve jou skuld, antwoord Vera reguit. Klim in die bad, voor die skuim blus. Ek gaan vir ons elkeen ’n glas wyn haal.

    Vyfuur in die middag?

    Vera is min gepla. Die Boeing is lankal oor, saam met die mossies. Ongelukkig nie landuit met die vervlakste kaptein Steve de Villiers agter die stuurstang nie. Hy skuld jou duisende, Cielie! Jy het vragte gordyne gekoop, lakens en duvets en als. Al jou meubels staan in sy huis, selfs jou klavier! Gaan jy alles net daar los vir hom en sy skelmpie? Net oor jy te trots is om terug te veg en te gaan vat wat joune is?

    Ek wil niks van hom hê nie. Hy kan in sy Boeing klim en maan toe vlieg, vir al wat ek omgee. Ek wil hom nooit weer sien nie.

    Wie vermaak jy? Net jouself. Hy sal nie eens weet as jy van honger doodgaan nie, en ook nie omgee nie. Steve de Villiers is ’n selfsugtige drip. Al waaraan hy dink, is om ’n meisie in die bed te kry. Ek is bly jou oë het betyds oopgegaan, voor dit te laat was. Voor hy jou kansel toe gesleep het en verder uitgebuit het. Jy was reg om die verlowing te verbreek, maar jy is te sag met hom. Kry vir jou ’n prokureur en eis skadevergoeding. Dagvaar hom vir troubreuk, geestelike marteling, pyn en lyding, die hele toetie. Hy’s die skuldige party, nie jy nie. Was daar ’n boodskap saam met die ruiker?

    Ja.

    Om te sê hy is onskuldig, dis ’n misverstand, hy het jou lief, jy moet hom vertrou, ensovoorts . . . ensovoorts?

    Min of meer.

    Smyt dit weg. Netnou swig jy weer vir sy sob-stories en kry van vooraf seer. Die liefde is blind, maar trou maak ’n vrou se oë oop. Moenie dink jy kan ’n man verander nie – tensy hy nog doeke en ’n babygrow dra.

    Cecilia lag – die eerste keer in dae. Sy klim in die skuim, wat tot by haar knieë borrel – ’n ongekende luuksheid ná die afgelope paar weke. Sedert wanneer het jy so ’n vuurvreter en ’n mannehater geword?

    Vera kom staan bakarm voor haar. Sedert elke tweede man daarop uit is om my beste pel te misbruik. Ek glo aan reg en geregtigheid. Hoekom moet ’n vroueverneuker skotvry loskom terwyl jy aan die kortste ent trek?

    Dankie, vriendin, dat jy in my hoek van die kryt is. Jy is ’n tonikum en ’n onverdiende bonus in my lewe. Maar los dit. Asseblief? Ek het nie nou die krag daarvoor nie. Dit was ’n lang dag, ’n lang pad, en ek is gedaan.

    Vera bring wyn: vir haar rooi en vir Cecilia Grand Cru met ys in, soos sy daarvan hou. Sy kom sit op die toiletdeksel. Wat beteken ‘taamlik aantreklik’?

    Cecilia smoor die sensuele herinnering aan sy arms en breë skouers en hartklop teen haar wang. Daar was ’n vonk tussen hulle . . . En sy weet hy was ook bewus daarvan. ’n Soort chemiese reaksie. Maar hy het waarskynlik ’n vrou en kinders, en sy het buitendien besluit mans is nie die pyn en lyding werd nie.

    Sy lê agteroor en strek haar uit. Vergeet dit. Ek soek nie ’n nuwe kêrel nie. Ek gaan ’n non in ’n klooster in Tibet word; heeldag na berg Everest kyk en mans uit my woordeboek sny.

    ’n Nuwe kêrel is die beste medisyne vir ’n seer hart. Dalk kan hy sommer vir Steve ook opfoeter, dan is dit twee vlieë met een klap. Het jy vir hierdie Meiring-ou geval, dié dat jy so in sy arms geswymel het?

    Is jy laf? Skuim spat oor die rand toe Cecilia regop sit. Ek het net liggies aan hom vasgehou, net effentjies, vir ’n oomblik.

    Die engeltjies gaan oor jou huil! waarsku Vera met ’n onderdrukte lag.

    Ek jok nie. Ek het hom dadelik weer gelos en in die verste hoek gaan staan.

    Vera lyk skepties. Cecilia kan haar nie in die oë kyk nie. Sy hoop maar haar vriendin dink dis van die stoom wat haar wange so gloei.

    As jy die man kastig so blitsig gelos het, hoe weet jy van sy muskus-naskeermiddel?

    Genade, Vera! Ons was hoe lank saam in ’n boksie van drie meter by drie meter vasgekeer. Ek kon tot ruik hy gebruik Colgate-tandepasta, en sy vrou gebruik Skip-waspoeier vir sy hemde.

    Wie sê hy’t ’n vrou?

    Ek weet nie, ek raai. Die meeste ouens van sy ouderdom is getroud.

    Het hy ’n trouring aangehad?

    Ek het nie opgelet nie, want dit het nie saak gemaak nie.

    Vera beskou haar vriendin onderlangs. Steve was Cecilia se droom-ou, haar trouman vir wie sy gewag het. Die ding in Rome met hom en die ander lugwaardin het haar hard geslaan. Sy was verpletter en het die volgende dag halsoorkop by Lugdiens bedank, omdat sy nooit weer saam met hom wou vlieg nie. Sy wou landuit vlug, Alaska of Ysland toe waar dit dertien maande van die jaar sneeu, haar van mense afsluit en ’n kluisenaar word.

    Maar Vera se intuïsie sê vir haar dis nie kaptein Steve de Villiers wat nou daardie paar olyfgroen oë van Cielie so laat broei nie; haar met so ’n veraf kyk na die muur laat staar asof sy soek wat anderkant lê. Dit gaan oor meer as net die werk by die hotel wat sy verloor het. Iewers is ’n dieper storie, en as sy geduldig is, sal Cielie later met die res van die sak patats vorendag kom.

    Vera proe-proe aan haar wyn en kyk deur die venster na waar ’n ry duiwe op die balkonmuurtjie sit en wag. Dis voertyd – tyd vir die mielies en broodkrummels waarmee Cecilia hulle bederf.

    Cecilia wikkel haar tone onder die skuim in en soek met ’n nat hand na haar glas. Eers nadat sy ’n lang sluk geneem het, het sy die moed om te bieg.

    Ja, goed . . . Oukei, jy wen. Ek het hom nie weggestoot nie. Nie dadelik soos in onmiddellik nie.

    Hoe bedoel jy? Ek dag die twee woorde is dieselfde.

    Nee, daar’s ’n verskil. ‘Onmiddellik’ is korter. Of . . . gouer. ‘Dadelik’ is miskien so . . . e . . . twee tellings langer.

    Vera geniet dit. As Cielie begin hakkel, is daar ’n slang in die gras. Of, meer pertinent: ’n man in die prentjie. Dus was sy reg . . .

    Het jy vir die ou geval? wil sy nuuskierig weet.

    Natuurlik nie! Moenie simpel wees nie.

    Hoekom anders het jy hom dan so vurig vasgegryp?

    Cecilia raak vies. Ek het nie! En dit was ook g’n vurig nie. Sy klim uit die bad en draai die handdoek styf om haar, asof sy koud kry. Dit was bloot platonies. Ek sê mos: Ek was deurmekaar en het gedink hy is my broer.

    Hoe omhels mens ’n sexy ou platonies? Vertel dit vir die voëls daar buite. Jou broer? Vera lag. "Jy hét nie eens ’n broer nie, Ciel! Heng, is jy só naïef? Jy was dan so te sê getroud. Steve kan wees wat hy wil, maar hy het beslis nie ysblokkies in sy are nie. Inteendeel. Almal weet daai ou is kookwater . . .

    Jy weet mos van dié soort dinge: wanneer dit byvoorbeeld jou boetie is, en wanneer dit ’n volbloed-vleispaleis is met allerhande bybedoelings."

    Vera! keer Cecilia verleë. Ek het kloustrofobie gehad, en dan dink mens nie nugter nie. Hopelik het hy niks agtergekom nie. Maar eintlik maak dit nie saak nie. Ek glo hy het klaar my naam vergeet en iemand anders aangestel. Waarskynlik daardie swartkopmodel wat in die wagkamer gesit het.

    Wie sê? Ek weet jou selfvertroue is op ’n laagtepunt, maar moenie jouself onderskat nie. Jy lyk self soos ’n model, jy het goeie kwalifikasies en praat vier tale. In my boek die ideale skakelbeampte.

    Ná die onderhoud het hy my stug gegroet en gesê ek moenie moeite doen om te bel nie.

    "Is dit

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1