Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kruispad
Kruispad
Kruispad
Ebook564 pages15 hours

Kruispad

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Kruispad is die kern van Deon Opperman se groot TV-trilogie oor die Afrikaner se pad in Suid-Afrika. Dit beeld presies uit waar die groot verandering gekom en hoe die Afrikaner daarop gereageer het.
In Donkerland het Opperman gekyk na die aanloop van 1834 tot 1994 en in Hartland na die huidige stand van sake. In Kruispad fokus hy op 1994 en wat die verlies van mag vir Afrikaners ingehou het. Dis ’n verhaal van vreugde, smart, trots en vernedering wat tot ’n klimaks ontvou soos ons dit nog selde op TV gesien het, en die romanweergawe vat dié emosionele gegewe meesterlik in woorde vas.
Die stuk wentel om Sophia en Mariana, die twee dogters van ’n welgestelde boer, Soois van Rooyen, en sy vrou, Mart. Sophia is met die skatryk FG van den Berg getroud en Mariana met die arm, bekrompe Andries Landman. Terwyl FG en Andries albei hul ekonomiese status ná die verkiesing van 27 April 1994 verloor, sit hul onderskeie seuns, Klein FG en Henk, met die nalatenskap van apartheid. FG rinkink en ploeter voort asof sy pa se besigheid nie besig is om ten gronde te gaan nie en Henk, wat op skool gepresteer het, vind weer dat die deur vir hom toegaan omdat hy wit is. Hy verloor ’n beurs en moet op sy eie bene leer staan. Tussen die ontwikkeling van dié groot menslike drama deur probeer die susters, Sophia en Mariana, agter die skerms red wat te redde is – grootliks in eie belang. Maar hulle is van uiteenlopende stoffasie en uiteindelik sal net een van die twee kop omhoog voortgaan. Kruispad bevat al die verhaalelemente wat gesorg het dat Hartland en Donkerland soveel byval by lesers gevind het – en nog meer: Dit belig nie net die snykant van apartheid fel nie, maar boor ook diep in die problematiek waarmee die Afrikaner in die jare negentig moes worstel en toon hoeveel inbors en karakter dit verg om die juk van die verlede af te skud. Maar anders as in Donkerland en Hartland gaan dit in Kruispad uiteindelik oor hoe ouers hul kinders verraai deur ’n toekomskoers in te slaan wat wreed in die gesig van die nageslag kan ontplof.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 21, 2014
ISBN9780624071433
Kruispad
Author

Deon Opperman

Deon Opperman het oor die vyftig verhoogdramas op sy kerfstok en is twee keer met die Hertzogprys vir Drama bekroon. Onlangse televisiedramas sluit in Kruispad, Getroud met rugby en Donkerland. Hartland is die eerste van sy dramas wat tot roman verwerk is. Hy sê dit was ’n besonderse ervaring vir hom om te sien hoe Kerneels Breytenbach toneel vir toneel en episode vir episode sy draaiboek tot prosa omskep: “Drama en prosa is uiteenlopende vaardighede, en dit is vir my ’n voorreg dat die Afrikaner-trilogie wat my so na aan die hart lê, ’n nuwe lewe as romans deur Kerneels gekry het.”

Read more from Deon Opperman

Related to Kruispad

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kruispad

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kruispad - Deon Opperman

    Hoofstuk 1

    1994

    Soois van Rooyen, ’n boer van die Hoëveld van Mpumalanga, luister na die heildronk waarmee sy skoonseun, Frik van den Berg, die Kersvieringe van 1994 inlei. Die uitgebreide gesin staan in ’n kring op die patio van die Van den Bergs se groot voorstedelike woning in Brooklyn, Pretoria. Soois se oë flits van tuin na swembad na die glas Franse sjampanje wat Frik omhoog hou terwyl hy praat – ’n spel van donkerte en lig. Soois hoor hoe die man aan wie hy sy dogter Sophia toevertrou het die klem op hierdie heerlike somersoggend laat val, op die positiewe dinge in die lewe. Frik is ’n verstandige mens. Hy kom niemand te na nie, deel lof uit, wek vir ander toekomsvisioene en stem almal uiteindelik tot nederigheid.

    Dit is maklik, weet Soois, om te dink dat die geskiedenis slegs gemaak word deur die dade van mans of vrouens wat die wêreld op die een of ander manier radikaal omskep het. Asof die res van ons eenvoudig nie daar was nie. Maar ons was almal hier vanjaar, in hierdie uitsonderlike tyd eenduisend negehonderd vier en negentig jaar ná die geboorte van onse Verlosser – ons wás daar toe alles gebeur het.

    Alles.

    In 1994 was dit die gesamentlike dade van miljoene gewone mense, sommige uit hoop en ander uit vrees, wat ’n wêreld omskep en geskiedenis gemaak het sonder dat hulle dit eers besef het.

    Ons het saam geskiedenis gemaak.

    Soois kyk verder na die kring mense op die stoep. Na sy ander skoonseun, Andries Landman, ’n man vol angs, maar ook soveel trots. ’n Man wat daagliks by die Departement van Waterwese instap, kort soos hy is, en die werk van ’n reus verrig. Of só sê hy. ’n Staatsamptenaar wat die ergste vrees vir ons land se toekoms. Die nag van die lang messe moes al gebeur het, is Andries se gevoel, en hy is gereed daarvoor met ’n motorhuis vol blikkieskos en derhonderde bottels water.

    Langs Andries staan sy vrou, Mariana, Soois se jongste dogter, en dan húlle kinders, die twee Landmantjies Izel en Henk. Skouer aan skouer met Henk staan FG, Frik en Sophia se seun. En tussen FG en Soois staan Mart, die stille krag aan Soois se sy, deur al die jare. Soois betrag hulle, in hierdie jaarlikse tafereel, elkeen op sy plek.

    Sy troepe, sê Soois aan sy vriende, maar Mart is die een waarsonder hy nie kan klaarkom nie. In die jare wat hy ’n mielieboerderytjie op ’n klein plasie uitgebou het tot ’n allemintige gemengde boerdery op verskeie aangrensende plase, was dit sy wat gehelp het om twee woelige dogters groot te maak, een deur universiteit te sit en die ander amper deur universiteit te kry. Amper, want toe verander die liefde haar pad. Mariana. Maar dis ou geskiedenis, vergete dinge, wat Soois betref. Hy is gelukkig met die manier waarop sy twee skoonseuns sy dogters versorg, en baie trots op sy kleinkinders. Dit is Soois se hartsbegeerte dat een van die kleinkinders eendag by hom sal oorneem as die boer van Rustigheid. Sewentig lê vir hom net om die draai. Sy rug sê al vir hom hy moet afskaal.

    Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige nuwe jaar vir ons almal, hoor Soois vir Frik sê. Saluut!

    Soois lig sy glasie. Saluut! sê hy, met die herinneringe aan ’n moeilike jaar wat deur sy gedagtes spoel.

    Almal deel die seënwense, die ene glimlag-en-tande, maar hulle kan hul kwellings nie heeltemal wegsteek nie. Ons land is deur diep waters, dink Soois, sedert F.W. de Klerk daardie warm Februariedag vier jaar gelede in die parlement opgestaan en die land in ’n heeltemal nuwe rigting gestuur het. Baie het met hul lewe geboet, ander het geweier om die skrif aan die muur te lees. Dinge wat voorheen so maklik gekom het, sou daarna nie meer so maklik wees nie. Die prys van vooruitgang is verandering. Dis juis verandering wat so swaar is vir sommige om te aanvaar. Vanjaar het ons nie ’n keuse gehad nie, weet Soois, want ons was self daar, deel van die gewone mense wat besig was om die wêreld te verander en geskiedenis te maak.

    Maar hier staan hy en sy mense, glase omhoog gelig in ’n heildronk op die eerste Kersdag van die vrye Suid-Afrika.

    Asof die bomontploffing niks verander het nie.

    Was dit die Landmans wat eerste geregistreer het dat dit ’n bom was?

    Dit was ’n Saterdag vroeg in die jaar, ’n stralende laatsomerdag. Die Landmans sit aan by die kombuistafel vir middagete, ’n tafel met ’n formica-blad en aluminiumraam waar Mariana pas brood gesny en tamatie-en-uie-stowe gereed gekry het om saam met die roereier op die brood te eet. Andries was heeloggend in sy werkkamer in die garage besig om blikkieskos en ingemaakte dinge weg te pak, langs die reeds gepakte voorraad. Gereed vir die ellende wat wis en seker op die verkiesingsdag, 27 April, sal volg. Julle kan maar kom, ek’s reg, het Mariana hom al hoor prewel daar in sy bunker. Sy deel nie Andries se vrese nie. Maar hy is haar man, pa van haar kinders. Sy het hom lief en respekteer hom.

    Hulle het dit nie breed nie, die Landmans. Die staatsdiens is nie rojaal op betaaldag nie. Mariana kook self, wanneer daar gekook word. Meestal is dit brood met ’n variasie van kaas, tamatie en polonie. Sy druk haar hare in sy gebruiklike Franserige rol, trek haar truitjie aan en doen alles in die huis self. En niemand kla nie.

    Die gesin kom sit aan: Izel met haar kop vol muisneste oor Riaan, een van Henk se spanmaats in die wedstryd wat Henk die middag gaan speel, Henk met sy rugbytrui reeds aangetrek en Andries, dierbare Andries, wat soos ’n wyse patriarg sy bord kos eerste ontvang. Mariana plaas ’n bord voor elkeen neer. Sodra sy haar sit kry, steek Andries sy hande uit, sodat die gesin kan hande vat vir die tafelgebed.

    Onse hemelse Vader, bid Andries, ons dank u vir hierdie kos. Seën dit aan ons liggame. Gaan met die mense wat nie so bevoorreg is nie. Vader, in hierdie uur wil ons ook spesiaal bid vir ons land …

    In dié oomblik, terwyl almal die hoof buig, hoor hulle dit almal. Voel dit. ’n Dreuning, maar ook meer. ’n Swaar slag, amper soos hulle gereeld hoor wanneer daar met dinamiet in die myne ondergronds geskiet word, maar sterker, soos die klank van ’n bom wat ver weg val.

    Andries hou op bid.

    Al vier pare Landman-oë is dadelik wyd oop.

    Hulle hou steeds hande. Andries kyk op na Mariana, dan af na sy koppie koffie wat op die tafel langs sy en Henk se hande staan. Hy sien die rimpeling van klein golfies daarin.

    ’n Bom, juig dit in Andries se binneste. Hier begin dit!

    Andries sê al lank dat daar bloed in die strate gaan wees die dag dat die Nasionale Party mag oorgee. Hy het dit gesê in die dae toe hy, skaars uit die skoolbanke, mense in Alberton aangery het stembus toe vir die algemene verkiesing. Hy het dit gesê toe hy in Pretoria begin werk het. Hy het dit gesê toe hy vir ’n kort rukkie sy steun toegesê het aan doktor Andries Treurnicht.

    En hy was nie skaam daaroor nie. As kind op Alberton het hy geweet hoe die politieke winde in ons land waai. Andries het geweet wat hy weet en hom nie aan ander gesteur nie. Vandag steeds nie.

    Dis maar hoe hy is. Sy pa, ’n onderwyser, het probeer om die boompie te buig. Sy ma, ’n welsynswerkster, het hom met Gods Woord probeer rig. Maar dit was net asof Andries die Bybel anders verstaan.

    Dis hoe Mariana hom leer ken het – ’n flambojante, dwars man wat by Waterwese gaan werk het omdat hy gesê het mense wat die water beheer, beheer die land.

    Die Landmans se huis is baie eenvoudig, wel, ordinêr ook, in vergelyking met dié van Frik van den Berg. Die rooibruin baksteenhuis van die Landmans lê noord van Soutpansbergweg. Dit is ’n nalatenskap van ’n ou opheffingsprojek van die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens, en is eintlik nie vergelykbaar met die weelde en moderne stylvolheid van die Van den Bergs se woning in Brooklyn nie. Albei is omgeef deur grasperke, maar Henk kan ondanks die vlyt waarmee hy elke week die gras sny, nie kers vashou by die kundigheid van die landskapsargitek en tuinier wat Frik ten duurste kry om sy tuin soos ’n kompetisiewenner te laat lyk nie.

    Die vredigheid van huis en erf is egter misleidend, want in sy studeerkamer gesels Frik van den Berg met sy finansiële raadgewer, Albert Geyser. Die onderwerp is iets wat Frik se nekhare laat rys – die noodsaak om ’n swart vennoot in sy onderneming in te neem.

    Soois het al self vir Frik gesê sy vrees is verstaanbaar. Vir iemand wat met niks begin het nie en deur harde werk en slim beplanning een van die stad se voorste sakelui geword het, is die gedagte van rustende vennote inneem heeltemal onaanvaarbaar. Hoe meer ’n mens het, hoe banger is jy dat jy dit gaan verloor.

    Frik wou van kleins af sakeman word. Dit was sy rigting by Tukkies, en ná hy klaar geswot het, het hy in die sakelewe verder studeer. Hoe om mense te motiveer sodat hulle harder vir jou werk. Hoe om kontrakte te beding deur ’n aktiewe sosiale lewe te lei. Dít alles was effens vreemd vir die kind van Hoedspruit, seun van ’n slagter wat sy enigste seun laat studeer het omdat hy bang was Frik raak verstrik in die plattelandse rustigheid. Nie dat hy baie te vrese gehad het nie. Frik wou wegkom, stad toe, sakewêreld toe.

    Sophia was die ideale lewensmaat vir iemand wat die amptenary van staatsdepartemente en die Pretoriase munisipaliteit moet trakteer. Frik was nooit iemand wat ander sou omkoop nie en hy het ook nie nodig gehad om die politici ter wille te wees nie.

    As Sophia hulle eers aan tafel kon oorweldig met swier en spyse van die heel boonste rakke, het hulle Frik van den Berg nie vergeet wanneer tenders geëvalueer moes word nie.

    Frik het Maximus met harde werk opgebou en het ’n jaloerse besorgdheid oor alles wat sy maatskappy aangaan. Hy sien nie vir drastiese verandering kans nie, en tog gee hy, wanneer hy met sy skoonpa daaroor praat, toe dat die pad wat hy in die verlede geloop het om sy rykdomme te vergader, nie meer so duidelik vorentoe sigbaar is nie.

    Ek gaan my nie laat vertel dat ’n ANC-regering ewe skielik nie meer my maatskappy se vaardigheid en ervaring gaan nodig hê nie, sê Frik nou aan Albert. Hulle sit by ’n groot raadstafel wat Frik laat indra het. Albert het ’n gerf dokumente in die hand. Kom nou, Albert, draad is draad en ’n heining is ’n heining, of jy nou die NNP of die ANC is.

    Al wat ek sê, is dat die maatskappy baie regeringskontrakte het en niemand weet vir seker wat die nuwe beleid gaan wees as die ANC eers aan bewind is nie. Albert se stem is rustig, rustiger as wat die kommerplooie op sy voorkop ’n mens sou laat vermoed. In die lig daarvan dink ek jou projeksies vir toekomstige omset is té optimisities.

    Ons het getekende kontrakte vir die volgende twee, drie jaar. ’n Kontrak is immers ’n geskrewe belofte, dink Frik. Mense skeur dit nie sommer op nie.

    ’n Kontrak is nie die papier werd waarop hy geskryf staan nie, sê Albert. Hy het meer ondervinding van hierdie soort dinge. ’n Topouditeur met vriende in alle strata van die Pretoriase gemeenskap. ’n Man met sy oor op die grond – en wat baie goed weet wie het spaargeld en wie nie. Wanneer hy nie op ondervinding kan terugval nie, steun hy op die kollektiewe inligting wat versprei word onder sy mede-ouditeurs. Veral nie as die een party wat hom geteken het, nie meer bestaan nie.

    Ek is miskien ’n optimis, Albert, maar jy’s ’n bleddie pessimis.

    Mm … iets wat ek by jou skoonpa geleer het en waarvoor jý my betaal.

    Die band tussen Albert en Frik kom al jare aan, maar is nog ’n vulletjie in vergelyking met dié tussen Soois van Rooyen en Albert. Albert het Soois gehelp om ’n vermoënde boer te word – en vir Frik om ’n skatryk sakeman te word. En Albert self? Soois spot hom altyd dat die onnoselhede van ander al Albert se plooie en sakke onder sy oë veroorsaak het, en Albert weet voor sy heilige siel dat Frik hom die volgende paar jaar nóg plooie en grys hare gaan besorg. Hy wéét Frik gaan sy kop stamp as hy nie gou leer nie.

    As my skoonpa so ’n pessimis soos jy was, het hy lankal nie meer daai plaas gehad nie.

    Inteendeel, dis juis omdat hy ’n pessimis is dat hy die plaas nog het.

    Albert weet hoekom Frik en Soois van Rooyen so goed oor die weg kom. Albei glo in hulself, en dit verg harde woorde om hulle tot ander insigte te bring.

    Sy gedagtegang word onderbreek deur ’n jongeling wat die kamer binnekom. FG lyk nie baie soos sy pa nie – dieselfde kortgeskeerde hare om vroeg al die blesheid tegemoet te kom, maar FG is lank en skraal terwyl Frik sigbaar korter is as sy seun. FG is agttien, argeloos en selfversekerd, ’n kind wat grootgeword het met weelde en oorvloed. Hy is op pad rugby toe, het nes Henk reeds sy trui aan.

    Jammer om te pla, Pa. Kan Pa vir my van …?

    Groet jy nie?

    Skuus. Dag, oom Albert.

    Dag, seun.

    Pa, kan Pa vir my van volgende maand se sakgeld voorskiet?

    Jy weet wat my antwoord gaan wees.

    Ek en ’n paar pelle wil ná die wedstryd ’n bietjie celebrate en my geld is op.

    Eerstens, julle’t nog nie gewen nie; tweedens, jy gaan moet leer om jou sakgeld behoorlik te begroot; en derdens, om nie geld te blaas wat jy nog nie het nie. Ek is nie ’n bank nie en jy het nie ’n oortrokke fasiliteit nie.

    FG draai vies om, gretig om van sy pa se betigting weg te kom. Wie soek nou preke dié tyd van die dag?

    En, FG, sê Frik agterna, dis feesvier, nie celebrate nie. Wat gaan deesdae met hierdie Afrikaanse outjies aan? Hy wys ergerlik na die stapel papiere voor Albert. Ons het groter dinge om ons oor te bekommer as hierdie kontrakte.

    Die ding met Frik is dat hy alles behoorlik snap, maar dat hy nie glo dat hy dit wat hy het, kan verloor nie. Albert stem met alles saam wat Frik sy seun nou toegevoeg het – wens net hy wil ook na ander se vermanings luister.

    FG weet waar sy heil lê.

    Sophia lê uitgestrek op die stoep se bank, ’n lappie oor haar oë sodat hulle kan rus – sy het nie nou die energie om nog komkommerskyfies voor te berei om oor haar ooglede te drapeer nie. Haar een arm lê uitgestrek sodat die skoonheidsterapeut, ’n jong wit vrou met ’n diploma agter haar naam – net die beste is goed genoeg vir Sophia – haar vingernaels kan versorg. Dis ’n beslommernis, maar Sophia geniet die kans om te ontspan en iets aan haar voorkoms gedoen te kry sonder dat sy self hoef te swoeg om elke nael en stukkie vleis eksie-perfeksie te kry. Dit is nie ’n proses wat sonder pyn is nie: Sophia lê nie altyd heeltemal stil nie en dan glip die naelvyl.

    Eina! roep Sophia uit sonder om die lappie oor haar oë en voorkop te versteur. Versigtig!

    Ekskuus. Die skoonheidsterapeut klink bedremmeld, maar gelukkig het sy opgehou om Sophia voor en agter te tannie.

    Jy doen nou my hande al lank genoeg om te weet dat daardie nael altyd sensitief is.

    Jammer … mevrou.

    En jy moet gou maak, ek moet netnou ry. Die middag se inkopies by die nuwe mall kan nie sonder goed versorgde hande aangepak word nie. Dit weet almal tog.

    Amper klaar.

    Die skoonheidsterapeut wip waar sy op die teetafeltjie se rand sit wanneer Sophia onverwags uitroep: Netta! Nettaaaaaa. Hoekom is dit dat ’n bediende nooit daar is wanneer jy hulle nodig het en altyd daar is wanneer jy hulle nié nodig het nie? Netta!

    Netta kom uit die kombuis aangedraf. In haar silwerskoon uniform. Miesies het geroep.

    Meer as een keer. Die tee is koud. Maak gou vir my nog ’n koppie voor ek ry.

    Netta raap die skinkbord op net wanneer FG daar aankom. Ma, ek het geld nodig … FG raap haar handsak van een van die stoepstoele af op, begin daarin krap. Vir ná die wedstryd.

    Sophia lig die lappie lui van haar oë af op. Vra vir jou pa.

    Hy’t gesê ek moet Ma vra.

    Kyk in my beursie.

    FG se vingers beur die beursie se voue oop sodat hy die note beter kan sien.

    Nie meer as honderd rand nie.

    Ja, Ma. Hy het dit verwag. En Ma sal moet gou maak of ek gaan laat wees.

    FG neem ’n honderd rand, sien hoe sy ma die lappie weer oor haar oë trek en neem dan nog ’n honderd rand.

    Die geluid van die ontploffing ruk almal – die skoonheidsterapeut, Netta, Sophia en FG – net so veel as Frik en Albert in die studeerkamer tot stilstand.

    Wat was dit? vra Frik.

    Weet nie, antwoord Albert. Miskien die myne.

    Klink nie so nie.

    Op die patio swaai FG om, roep na sy ma: Het Ma dit gehoor?

    Ja, waarskynlik Eugène Terre’Blanche wat weer van sy perd afgeval het.

    In hul kombuis aan die ander kant van die stad eggo Izel Landman FG se vraag: Wat was dit, Pa?

    Andries kyk na sy vrou. Vra vir jou ma.

    Ma?

    Ek weet nie.

    Henk weet. Dit het geklink soos …

    ’n Bom, sê sy pa. ’n Groot bom.

    Wie sou ’n bom wou plant? vra Izel.

    Ek kan dink aan ’n paar, antwoord Andries.

    Andries, moenie die kinders bang praat nie.

    Julle lag vir my omdat ek die garage vol blikkieskos en kerse en water pak, maar ek sê vir julle daar kom ’n groot donkerte oor hierdie land.

    Andries! Asseblief. Ons weet nie vir seker dat dit ’n bom was nie.

    Glo my, dit was. En dis maar net die begin. Hy staan op en stap uit.

    Iets bly vir Izel kwel. Dink Ma tannie Sophia en oom Frik het dit gehoor?

    Daar is net een manier om uit te vind, en Mariana bel haar suster. Dis ’n oproep wat Mariana dadelik ’n erge gevoel van vervreemding laat beleef. Sophia gee haar nie kans om te vra oor die bom nie. Wanneer sy Mariana se stem hoor, begin sy dadelik vertel van ’n wonderlike nuwe winkel wat sy in Menlyn ontdek het en dat sy dadelik vir haar ’n ingevoerde Franse uitrusting bestel het. Maar geleidelik raak die dinge waaroor sy kan spog minder en kry Mariana kans om uit te vra oor die bom. Sophia weier onmiddellik om dit te glo – sy moet dit eers oor die TV-nuus hoor. As ’n mens jou ore vir allerhande stories uitleen, sit jy later met geen sosiale lewe nie en is jy ’n vreemdeling in die malls.

    Toe Mariana die foon neersit, staan Izel vir haar en wag. Gaan daar ’n oorlog wees, Ma?

    Nee, my kind. Mariana wens sy kan dit met meer oortuiging sê. Daar is te veel mense met goeie harte in hierdie land om ’n oorlog te kan hê.

    Die dag van die bom het iets opgelewer wat Soois van Rooyen diep ontroer het toe hy ’n paar dae later daarvan te hore kom. Hy was nie self by om dit te beleef nie, maar agterna, ná die rugbywedstryd, het almal daaroor gepraat en só het die storie sy ore bereik.

    Dit was eintlik ’n tipiese kleedkamertoneel, hy kon hom dit só goed voorstel, die seuns in die kleedkamer, voor die wedstryd. Besig om die ergste senuwees met ’n geklets onder beheer te kry. FG, Henk en Riaan aan die praat terwyl hulle veters vasbind en die kuite en bobene met Deep Heat insmeer.

    Ek sê julle, die oomblik toe ek dit hoor, toe weet ek! FG is op ’n stasie vir die wedstryd. My ma wou dit nie glo nie, maar toe hoor ons dit op die nuus op pad hiernatoe. ’n Moerse bom, in die middestad, klomp mense beseer. Toe tune ek haar: ‘Sien jy, sien jy, ek was reg!’ Dis jammer daar’s nie meer army nie, ek ken ’n bom as ek een hoor.

    Miskien kry jy nog jou kans. Henk is altyd die besadigde ene. My pa sê ons gaan ’n burgeroorlog hê.

    Riaan kan net beaam; sy pa praat ook van oorlog. Hy versamel al die laaste twee jaar Krugerrande. Julle moet dit sien, net so ’n stapel van die goed. Hy noem dit sy versekering.

    My pa versamel blikkies tuna, kom dit amper lakonies van Henk. Hy praat nie baie oor Andries met sy maats nie. Dis ook nie nodig nie. Almal weet dat Andries ekstra werk oor naweke doen om dit te kan bekostig om Henk in dieselfde skool as FG te hê. ’n Mens skinder nie oor so ’n mens nie.

    My pa sê dit gaan alles cool uitwerk, antwoord FG. Die enigste oorlog wat daar gaan wees, is die een op daardie veld vandag, en jy, Henk Landman, beter ’n drie druk.

    Ja, Wilmien sit al weer heel voor op die paviljoen. Riaan maak ’n geluid soos ’n hoender en pik Henk met sy vingers agter op sy kop om Henk se hen-pecked status aan te dui. Spoedig ontaard die gesprek in ’n gestoeiery.

    Só besig is die seuns met hul speletjies dat hulle eers bewus word van hul onderwyser se teenwoordigheid wanneer hy praat. Hou dit vir die wedstryd. Kom, manne, maak ’n kring.

    Met ’n laaste ruk en pluk, stamp en stoot, beweeg Riaan en FG uitmekaar en sluit aan by die kring spelers wat besig is om te vorm. Henk, FG en Riaan staan langs mekaar, arms om die skouer in die kring.

    Raait manne, julle weet wat om te doen. Die afrigter is aggressief, besig om sy troepe op te sweep vir die stryd. Dis ons eerste wedstryd van die seisoen en dis nie net ’n wedstryd nie, dis ’n oorlog! Geen genade nie en take no prisoners. Kom ons bid.

    Almal buig die hoofde.

    Onse hemelse Vader, die afrigter se stem is nou baie eerbiedig, ons vra u seën op ons wedstryd vandag. Ons wag al lank om hierdie manne ’n les te leer vir wat hulle verlede jaar aan ons gedoen het. Bewaar ons span, maar as ’n paar beserings die prys van oorwinning is, dan aanvaar ons dit so. Ons vra dit in u Naam …

    Voor Meneer amen sê, Meneer, val Henk hom onverwags in die rede, mag ek ook iets sê?

    As jy wil. Die afrigter is heeltemal onkant betrap.

    Ons vra ook, Here, begin Henk, dat U ons land bewaar en met wysheid sal lei in die verkiesing wat kom en in die vreedsame oorgang tot ’n nuwe Suid-Afrika. Ons vra dit in u Naam … amen.

    Die afrigter en seuns lig hulle kop. Vir ’n oomblik is daar stilte, niemand weet mooi wat om volgende te doen of te sê nie.

    Dan red FG die situasie. Verkiesing of nie, skree hy, manne, ons het ’n wedstryd om te wen!

    Die span juig soos een man en draf met mening na die slagveld.

    Soois van Rooyen glimlag toe een van die ander onderwysers – een van die vlagmanne gedurende die wedstryd – hom die storie vertel.

    Dis nou maar van Henk, dink Soois. Hy is ’n denker. Sien altyd die groter prentjie.

    Dié keer was dit Sophia wat haar ma gebel het. So tussen die rugby deur bel sy, want sy sukkel om lank te konsentreer op enigiets wat sy nie met die uithaal van haar kredietkaart die nekslag kan toedien nie. En nou was dit nie rugby wat vir haar die nuus was nie, maar die bom.

    Mart neem die oproep in die huis op hul landlyn – selfoonontvangs hier op die plaas is nie altyd na wense nie. Soois bly op die stoep agter, ’n kalmte oor hom wat, sal hy self erken, saam met die jare se sukses as boer gekom het. Hy hou nie van ’n vertonerigheid nie, en dit blyk ook uit die eenvoudige klere wat hy altyd dra, koöperasiekakie, en die karige meubels wat op die stoep steun vir moeë ledemate moet bied. Soois sit net en staar na die velde voor hom, na landerye wat hy met sy eie hande help vestig en in stand gehou het.

    Mart kom uitgestap, gaan sit langs haar man. Die jare saam met ’n staatmaker soos Soois het ook ’n rustigheid oor haar gebring. Hulle praat nie baie nie, maar wanneer hulle gesels, is dit oor dinge wat saak maak.

    Dit was Sophia. Hulle’s almal by die seuns se wedstryd. Almal behalwe Andries. Hy’t by die huis gebly.

    Soois knik sy kop stadig, staar na die landerye. Hy en Mart weet albei hoekom Andries liewer tuis bly. Naby sy skade.

    Is dit hoekom sy gebel het?

    Nee.

    Mart wei nie uit nie.

    Wou sy iets hê?

    Nee. Sy’t gebel om te sê daar was ’n bom.

    Vir die eerste keer kyk Soois na Mart.

    Pretoria se middestad, sê sy.

    Soois verteer die nuus ’n oomblik lank, wend hom dan weer na die weidse toneel voor hom voor hy praat: Wie’t hom geplant?

    Hulle weet nog nie. Die nuus het Mart meer omgekrap as wat haar gelaat verklap. Soois … begin sy uiteindelik.

    Mmm?

    Dink jy dat ek en jy … in ons lewe … die beste van hierdie land gehad het?

    My vrou, as ek t’rugkyk oor die eeue heen, dan lyk dit vir my dat g’n land in die wêreld ’n beste tyd of ’n slegste tyd het nie. Hy’t net sy tyd, met die beste en die slegste saam gebrei soos meel en water in ’n brood.

    Mart versink weer minute lank in stilte. Dit spyt my dat Andries nie vir Henk gaan ondersteun het nie, sê sy uiteindelik. Frik is daar vir FG.

    Andries is bang.

    Ons is almal bang.

    Ja, maar die Afrikaners wat nou in die staatsdiens werk, is die bangste. Dis die eerste werk wat ’n nuwe regering vir sy ondersteuners gee. Dis wat ons ná die verkiesing in ’48 gedoen het. Hy raak weer in sy gedagtes weg, ou herinneringe wat hulle aanmeld. Hoe laat moet ons daar wees?

    Sy’t gesê so teen sesuur. Frik moet ná die wedstryd nog ’n draai by sy kantoor maak. Hy en Albert het glo heeloggend vergader. Sy weet nie waaroor nie.

    Het sy al ooit?

    My man, Sophia is Sophia en Mariana is Mariana, en ons laat dit daar. Mart glo in onvoorwaardelike liefde. Ek het klaar ons goedjies ingepak vir die aand. Ek gaan vir ons ’n toebroodjie maak vir die pad, dan kan ons ry.

    Sy stap die huis binne.

    Soois bly agter. Hy dink aan sy dogters en hoe een appelboom sulke uiteenlopende vrugte kan dra.

    ’n Ander verkiesing doem in Sophia se gedagtes op, of sy dit nou wil of nie. Die rugby is agter die rug, en so ook ’n heerlike lang lê in ’n warm bad met genoeg badsout en dinge om ’n mens jou hele lewe lank welgeluksalig te hou, en nou trek sy en Frik aan vir vanaand se ete. Haar grimering is afgehandel en sy neem Frik onder hande. Dit hinder haar al die hele dag dat hy hom so laat voorsê deur Albert. Hemel, die man is net sy ouditeur!

    Jy is ’n entrepreneur en Albert is nie. So eenvoudig soos dit. Waar Albert ’n probleem sien, sien jy ’n geleentheid. Dit was nog altyd so. Ek weet nie hoekom jy nóú toelaat dat Albert se probleem jou pla nie. Jy sê mos altyd, hoe groter die probleem, hoe groter die geleentheid.

    Met soveel stelligheid gesê, hoe kan Frik nog twyfel? Hy kom aangestap uit sy verklee-hoekie, knoop sy hemp so in die stap vas. Ja, maar dis die eerste keer in jare dat hy my projeksies so sterk bevraagteken, en ek vertrou sy oordeel meer as dié van enige iemand anders in my maatskappy.

    Sophia staan op. Sy is gereed vir die gaste. En ek vertrou jou. Jy’t in die verlede uitgewerk wat om te doen, en jy sal dit in die toekoms ook doen. Sy gee hom ’n soen en wil uitstap, maar Frik keer haar.

    Sophia, jy besef dat ná hierdie verkiesing als gaan verander.

    Dis wat hulle vier jaar gelede gesê het toe Mandela vrygelaat is, en hier is ons almal nog steeds. Die politici gaan hulle werk verloor, maar jy kan nie, want jy is die baas van jou eie besigheid, een wat hierdie land altyd gaan nodig hê.

    Sy laat hom agter om na te dink oor haar insig. Frik wonder of sy verder gedink het as net die politici wat hul werk sal verloor.

    In die kombuis begin Netta met Sophia gesels, tussen die seker maak dat alles gereed en gedoen is deur. Die een oomblik is hulle nog by die lamsboud wat nie moet droogkook nie, die volgende by die verkiesing.

    Mies, begin Netta vol respek, ek wil net seker maak. Die dag van die verkiesing. Ek dink daar gaan baie lang queues wees … ek sal moet af wees die hele dag.

    Ek het so verwag, ja. Die hele land gaan tot stilstand kom. Jy’s seker opgewonde, nè?

    Nie vir my nie. Vir my kinders.

    Hoe kan jy dit sê? Ná al hierdie jare het julle uiteindelik one man, one vote gekry.

    Al die mense daar by die township, hulle dink hulle gaan ’n groot huis kry en ’n kar, maar ek weet voor ek stem, is ek ’n domestic worker en ná ek gestem het, is ek nog steeds ’n domestic worker. Die nuwe Suid-Afrika gaan nie vir mense soos ek wees nie, dis vir ons kinders.

    Dis waar, Netta, maar ten minste sal jy ’n domestic worker wees met ’n stem. En met daardie stem kom verantwoordelikheid en baie rekeninge – water, ligte, belasting. Dis iets wat baie van jou mense dalk nie besef nie.

    Sophia hoop dat die boodskap oor verantwoordelikhede behoorlik sal insink.

    Sophia se huis is ’n baken van lig in die duisternis. Die lampe wat Frik op haar versoek op strategiese plekke in die tuin en erf aangebring het, lei hul besoekers al langs die grasperk en verby die verligte swembad tot by die trap na die stoep en voordeur. Wanneer hulle eendag na hul volgende huis trek – Sophia het sinnigheid in óf Waterkloofrif óf Irene – sal sy die huis laat adverteer as ’n tipiese miljoenêrswoning.

    Uiteraard ken vanaand se gaste die huis en erf asof dit hul eie is: haar ouers en sus Mariana en dié se gesin. Wanneer die clan kuier, is dit liefs by Sophia. ’n Onthaler wat met die beste in Pretoria kan saamgesels. Die aand neem sy verloop soos gebruiklik wanneer Sophia informeel onthaal: ’n ligte aptytwekker in die sitkamer, waarna Frik almal na die eetkamer neem, waar hulle aansit by die groot tafel wat Sophia spesiaal vir hierdie vertrek laat maak het. Sy is gesteld op haar tafel, en die naam wat sy opgebou het as gasvrou wat meer doen as wat nodig is.

    Die familie sit aan by ’n simfonie van silwer- en porseleinware, kerse wat ’n gevoel van intimiteit en weelde help bestendig, en kamermusiek wat uit die versteekte luidsprekers van die hoëtrou-klankstel opklink sonder om ooit die heerlike atmosfeer om die tafel te versteur. FG het haar gehelp om die nuutste klankapparaat te kies – ’n multi-CD-speler waarop sy voorkeur gee aan ligte klassieke musiek, Richard Clayderman se klaviermymeringe en Andreas Vollenweider se hemelse harpmusiek.

    Sophia noem haarself altyd die Herbert von Karajan van onthaal. Sy het ’n week gelede vir elkeen ’n netjiese naamkaartjie laat maak by Calligraphy Solutions in Groenkloof. Vanoggend het sy die tafelplan gefinaliseer deur dit aan Frik te wys, en toe vir Netta gegee om só te dek. Sophia en Frik aan die koppenente. Links van Sophia sit Mariana, Andries, Mart en Soois. Aan haar regterkant sit Izel, Henk en FG. In die verlede het sy kinders tussen volwassenes geplaas, en dit was omtrent ’n gemors.

    Soos dit uitstekend pas, dirigeer Sophia die maaltyd met haar klokkie, waarmee sy Netta, in uniform, uit die kombuis roep om gange te bring en te verwyder. Dit is amper ’n formele ete, soos Sophia dit verkies, maar die ou familieband sorg dat die jovialiteit vinniger deurbreek – en met minder drankverbruik as wat soms met Frik se sake-etes nodig is om die ys te breek.

    Frik lig sy mes en tik teen sy wynglas. Dit raak stil om die tafel, al die aandag op die hoof van die huis, die man met die grysblou oë en borselkop. Mart sê altyd vir Soois dat haar skoonseun permanent hartseer lyk met daardie oë en wenkbroue van hom; Soois brom net dat hy Frik nie daarvoor verkwalik nie.

    Jammer, dit tref my nou. Ek het skoon vergeet. Hy lig sy glasie omhoog. ’n Heildronk op ons twee seuns wat so ’n uitstekende wedstryd gespeel het vandag.

    Almal klink glasies, maar die gedagtes skiet in verskillende rigtings weg. Henk dink aan sy pa se reaksie toe hy ná die wedstryd gaan verslag doen aan hom waar hy in die motorhuis besig was om die proviand te tel wat hy gereed hou vir die dae nadat anargisme die land getref het. Deur die venster kon Henk sy pa sien beweeg, sommetjies in ’n klein notaboekie maak. Sy pa is in sy eie wêreld versonke – kyk elke nou en dan op, wys met sy vinger en tel, en skryf dan neer.

    Henk stap die garage binne nog met sy rugbyklere aan, sportsak in die hand, hare deurmekaar, rugbystewels om die nek.

    Andries moes hom uit die hoek van sy oog gewaar het. En toe? wou hy weet.

    Ons het gewen.

    Hoeveel drië het jy gedruk?

    Een.

    En FG?

    Ook een.

    Andries het geen reaksie getoon nie. Kyk gou in daardie boks, het hy beveel, en sê vir my hoeveel bottels water daar is.

    Henk het na ’n boks gestap waarin ’n klomp ou tweeliter-Coke-bottels met water in gestaan het. Hy het getel. Agt.

    Andries het ’n aantekening gemaak.

    Henk het nader gestap en op ’n krat gaan sit. Hoe seker is Pa dit gaan so erg wees?

    In hierdie wêreld, my seun, is niks seker nie.

    Hoekom dan ’n hele garage vol blikkieskos en water?

    Omdat ek eerder verkeerd sal wees en ’n garage vol blikkieskos en water sal oorhê as wat ek verkeerd is en my gesin van die honger omkom.

    FG sê oom Frik is seker dat alles gaan uitwerk.

    En op grond waarvan is hy so seker?

    Ek weet nie. Dis wat FG sê.

    Min dinge irriteer Andries so intens as sy swaer wat altyd beter weet as hy – en dat sy eie kinders graag na hul oom luister.

    Ek lees nou die dag ’n interessante ding in ’n tydskrif: Vir honderde jare het mense vas geglo, was hulle doodseker, dat daar net wit swane in die wêreld is, totdat hulle eendag ’n skip gebou en in Australië aangekom het – en ewe skielik, toe’s daar ook swart swane. Die wêreld neem nie altyd jare om te verander nie, soms gebeur dit in ’n dag.

    Het dit saak gemaak?

    Het wat saak gemaak?

    Dat daar skielik swart swane in die wêreld is.

    Dit hét … aan die wit swane.

    Hoekom?

    Want toe was hulle nie meer spesiaal nie. Al wat mense toe op hulle damme wou hê, was een van daardie gesogte swart swane. Andries het hom ’n rukkie aangekyk. Jy moet maar hard leer vir jou matriekeksamen, want die enigste manier hoe jy in die toekoms enigsins spesiaal kan bly, is as jy ’n goeie kwalifikasie het. En selfs dan sal jy nie kan seker wees of hulle jou in hierdie dam gaan wil hê of nie.

    Dit was Henk se beurt om na sy pa te staar.

    Hulle het Mariana na Henk hoor roep en albei het geweet dat Wilmien aangekom het.

    Sal Pa my verskoon?

    Andries waai met die arm asof hy ’n toegewing maak.

    Amper vergeet ek, onthou Henk skielik. Ma het gesê ek moet Pa herinner dat ons sesuur by oom Frik-hulle moet wees.

    Hy het omgedraai en begin stap.

    En toe eers gaan Andries se hart oop. Ek’s trots op jou.

    Henk het teruggedraai, ’n trotse glimlag wat wou deurbreek.

    Oor die drie wat jy gedruk het.

    Wilmien het op die bed lê en boek lees toe hy die kamer binnestap. Wilmien, die bondel energie en vreugde wat sy hart gesteel het.

    Weet jou ma jy’s hier? terg hy, ewe cool teen die kosyn aangeleun.

    Wat traak ’it jou? Daardie glimlaggie van haar wat iets anders sê as die woorde op haar lippe.

    Jy weet mos wat sê hulle van meisies wat by ’n ou in sy kamer kuier.

    Niks meer as wat hulle van die ou sê nie, en ja, my ma weet ek’s hier. Jou ma ook.

    Henk het hom ernstig gehou, wetende dat hulle besig is met ’n spel. Terwyl hy nie gou genoeg uit sy vuil klere kan kom en stort nie – en dán vir haar wys hoe ’n rugbyspeler die beste kan druk.

    Ek’s jammer, ek kan nie lank kuier nie. Ons gaan by my oom-hulle eet en ek moet nog stort.

    Dis great, ek’s skaars hier en jy jaag my al weg.

    Hy het speels aan haar gevat. Dis nie wat ek bedoel nie en jy weet dit.

    Bewys dit.

    Wat hy toe ook gedoen het, al het ’n ander gedagte hom toe begin pla.

    Toe hulle klaar gesoen het, het sy eerste gepraat: Veels geluk met jou drie. Dit was baie mooier as FG s’n.

    Dankie, maar soos meneer Roux altyd sê: Geen man druk ’n drie alleen nie, die span druk saam.

    Dit is half ’n verpligting om dit te sê, hy wil nie windgat klink nie, maar eintlik glo hy dit ook.

    Dis nie wat FG sou sê nie.

    Dan’s dit waar ek en my neef verskil.

    Die gedagte het teruggekeer om hom te pla.

    Wat dink jy? het sy gevra. Hulle is skoliere, nuwelinge op die terrein van minnaarstaal.

    Ag, sommer niks.

    "Mens dink nie so hard aan niks nie."

    Ek dink oor swane. Hy was eerlik met haar.

    Wilmien frons. Soos in voëls op die water?

    As jy nou rêrig die verskil tussen my en FG wil weet – sy Pa kan bekostig om vir hom te betaal om volgende jaar varsity toe te gaan en myne nie.

    Oukei …? Swane … varsity …?

    As ek ’n goeie kwalifikasie wil hê, sal ek ’n beurs moet kry. En om ’n beurs te kry, gaan ek ’n klomp onderskeidings moet kry. En om dit te doen, gaan ek harder moet swot as ooit tevore. En dit beteken dat ons mekaar nie meer sal kan sien nie.

    Wilmien se mond hang geskok oop.

    Het jou! het hy skielik gekraai. Ek maak net ’n grappie, man.

    Sy het hom teen die skouer geklap.

    Maar wat dit wel beteken, is dat ek vir die res van die jaar die rugby sal moet los.

    Sy het verstaan. Maar sy het geweet wat die gevolge sou wees. Meneer Roux gaan nie daarvan hou nie.

    Meneer Roux was nie in matriek toe hulle die swart swane ontdek het nie.

    Sophia se hand is nog omhoog, die heildronk weerklink nog in almal se ore. Meneer Roux was seker in sy noppies, sê sy.

    Hy was, antwoord FG. In die kleedkamer ná die game het hy gesê ons gaan nou dubbel so hard oefen sodat ons hierdie seisoen onoorwonne kan wees.

    En waar dink meneer Roux gaan julle die tyd kry om dit te doen en nog al julle ander werk ook? Mariana kan dit nie help nie. Sy het ’n bekommerde geaardheid – ’n natuurlike gevolg vir ’n vrou wat balans moet vind tussen gesonde verstand en haar man se vrese. En Henk se toekomspad vul haar met angs.

    My kind, sê Soois op sy bedeesde manier, vir ’n skool soos daardie is daar rugby, en dan’s daar die res.

    Ja, daar is die slimmes, en die slimmes wat deur hul base gevang word, dink Sophia. Sy kan dit nie help nie. Sy het só gehoop die aand gaan sonder voorvalle afloop, maar daar het sy en Frik ’n helse rusie nog voor die gaste aankom. Eintlik FG se skuld, wat vol stories was toe hy laat opdaag, en Frik – wel, Frik is nie vandag se kind nie en ken self al die truuks in die boek. Dit het Frik net ’n paar vrae gekos om agter te kom dat Sophia agter sy rug vir FG geld gegee het vir die middag.

    Sy het met ’n wit leuentjie probeer ontglip. Hy’t my nie kom vra nie, ek het ná die wedstryd vir hom ’n paar rand in die hand gestop – prysgeld vir die drie wat hy gedruk het.

    Dis ’n rugbyspeler se werk om drieë te druk, het Frik geantwoord. Mens kry nie pryse omdat jy jou werk gedoen het nie.

    Nadat Frik weggestap het, het Sophia eers vir FG gaan paai en toe vir Frik gaan soek. Sy kon die saak nie net só laat verbygaan nie.

    Ek weet wat jy gaan sê, het hy gesê toe sy aangestap kom.

    As jy weet wat ek gaan sê, hoekom doen jy dit aan die kind?

    Want jy bederf hom. Hy gaan moet leer wat dit vat om ’n rand te verdien.

    Jy’s te streng met hom, Frik. Dis nie regverdig om te sê dat ek hom bederf het nie; ons het hom saam bederf.

    "Dis waar. Maar hy is nie meer ’n kind nie. Volgende jaar stap hy

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1