Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Met ander woorde
Met ander woorde
Met ander woorde
Ebook421 pages6 hours

Met ander woorde

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Toe Kristina een aand nie huis toe kom nadat sy gaan draf het nie, bel haar twee huismaats die polisie. Hulle kry haar in die vroeë oggendure onder ’n bos teen die berg. Sy is by haar bewussyn, maar kan glad nie onthou wat met haar gebeur het nie. Daar is ook geen logiese verklaring vir die drastiese persoonlikheidsverandering wat sy sedertdien ondergaan het nie, en ten einde raad word die hulp van ’n psigiater ingeroep.

Ben Krige het ’n praktyk en kliniek op Stellenbosch, en wanneer Kristina oorkant hom plaasneem, is sy vir hom soos ’n labirint – vreemd en onbekend. Al wat hulle het, is woorde. Maar geleidelik breek woorde alle grense af, en uiteindelik bring die pad hulle by ’n bestemming uit – al lyk ’n bestemming soms anders as wat ’n mens jou dit voorgestel het . . .
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 15, 2014
ISBN9780624067030
Met ander woorde
Author

Wilna Adriaanse

Wilna Adriaanse is in 1958 in die Kalahari gebore en het op Worcester grootgeword. Haar bekendste boeke is Met ander woorde (2006), Vier seisoene kind (2010) en Dubbelspel (2014). Sy het haar MA-graad in skeppende skryfwerk aan die UK voltooi, en daaruit spruit haar roman ’n Klein lewe (2012). Sy verdeel tans haar tyd tussen Botswana en die Boland.

Read more from Wilna Adriaanse

Related to Met ander woorde

Related ebooks

Related articles

Reviews for Met ander woorde

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating1 review

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    Convincing characters in my local setting with a gripping plot. Some great dialogue.

Book preview

Met ander woorde - Wilna Adriaanse

Met ander

woorde

WILNA ADRIAANSE

Tafelberg

niets is sterker

dan de stilte

niets heeft zoveel kracht

als het zwijgen van de nacht

niets is sterker

dan de stilte

niets is sterker dan het woord

dat niemand hoort

STEF BOS: De Stilte

Hoofstuk 1

Asof daar op ’n onsigbare teken gewag is, begin Stellenbosch se strate en sypaadjies wemel. Dis daardie tyd van die middag wanneer drawwers, stappers en fietsryers kompeteer vir ’n plek in die buitelug. Sommige is alleen; ander in groepe. Endorfien-junkies, noem Cato hulle. Almal verslaaf aan die onsigbare sensasie wat oefening meebring. Lywe word gedryf en gekondisioneer om deur die grense van moegheid te breek tot waar die euforie wag. Waar grense nie meer bestaan nie. Spiere beur en bult teen die wette van die fisika.

Die kaal platane in Victoriastraat gooi lang herfsskadu’s en die laatmiddagkoue slaan in ’n dun mislagie uit die grond op. Kristina sien dit alles. Sy ruik die blarevrot in die slote en hoor die motors en die stemme wat na mekaar roep, maar vandag bly die beelde en geluide aan die grense van die skaduwees. Haar hardloopskoene met die wit strepies klap onverpoos op die teeroppervlak. Haar voete ken die pad soos voëls elke jaar hulle pad na die somer vind. Haar hartklop gee die pas aan en haar asem is wit ontploffinkies voor haar mond. Langs Coetzenburg swaai sy uit die straat weg en die geluide word minder. Plaasreuke verdryf die uitlaatgasse. ’n Hond blaf êrens naby. Haar treë rek onwillekeurig teen die skuinste uit en die dorp se geluide raak onder haar weg, bly saam met die mislaag op die grond, terwyl haar bene haar al hoër en al verder van die knaende pyn af dra.

Ben maak die spreekkamerdeur toe en sak in die gemakstoel neer terwyl sy voete die koffietafel vind en hy sy kop teen die rugleuning laat sak. Wat ’n week! Hy word nie maklik moeg nie, maar dis asof Noag se ark oopgegaan het en die pasiënte in pare by sy deur opdaag. Hy is seker hierdie sal in die toekoms ook as die depressiejare bekend staan. Al verskil is dat dit nie hierdie keer met materiële armoede gepaardgaan nie, maar eerder met ’n geestesbankrotskap. En in Suid-Afrika ook met voortdurende vrees. Mure word al hoër en die elektriese heinings se kragstroom al sterker. Lywe gaan gebuk onder vrees of is voortdurend gereed om te vlug. As jy bly, vrees jy vir jou veiligheid, vir jou werk en ’n miljoen ander dinge. As jy vlug, vrees jy nie meer nie, maar jy verlang blykbaar terug – selfs later na die vrees. Hy vermoed die mens sal herbedraad moet word. Ons weerstand is te swak vir al die hedendaagse verwagtings en verpligtinge. Maandag is nie meer wasdag en Dinsdag strykdag nie. Daar is weinig verskil tussen ’n Woensdag en ’n Sondag. Een van die mens se grootste vrese het ’n toe winkel geword. Wat gemaak as die melk, brood en honde­kos opraak, as die was- of skottelgoedmasjien breek, of – ramp der rampe – al die winkelsentrums se deure sluit en die dwalende menigtes by die huis moet bly?

Ben kyk na die kaggel waar ’n paar hopelose vlamtonge aan die laaste uitgebrande stompie probeer lek en rek hom lui uit. Die koue bekruip hom skielik uit die donker hoeke en hy wil huis toe gaan, want hy is seker hy het sy brood vir die dag verdien.

Die gelui op sy lessenaar laat hom skeefweg opkyk, hoop­vol dat dit sal ophou as hy dit ignoreer. Die telefoon raak egter eers na die vyfde lui stil, en oomblikke later is daar ’n ligte kloppie aan die deur.

Ek is jammer om jou weer te pla, maar dokter Uys is op die telefoon.

Wat wil hy hê?

Ek het nie gevra nie. Riëtte glimlag. Ek dink ook nie hy sou my gesê het as ek gevra het nie.

Daar verstryk byna ’n minuut voordat Ben hom met ’n sug uit die stoel lig. No rest for the weary . . .

Riëtte trek die deur agter haar toe en Ben tel die gehoorbuis op terwyl hy op die draaistoel agter sy lessenaar gaan sit. Hy brom ’n onhoorbare groet.

Hoe lank moet ’n mens vir jou wag om ’n telefoon te antwoord? wil ’n ergerlike stem weet, en Ben kan Willem se gesig voor sy geestesoog sien.

Ek hoop jy bel oor plesier, want as dit oor werk is, gaan ek die donner in wees. Ek het nou baie lekker gesit.

Van sit en staan kom niks gedaan, brom Willem.

Ben lag. Ek het groot planne, en as jy nice met my is, kan jy dalk my vennoot word. Ons gaan sakke vol geld maak.

Gaan ons ’n bordeel oopmaak?

Dit was nie my plan nie, maar dit klink ook nie te sleg nie. Nee, ons gaan die hele mensdom herbedraad.

Toe daar net ’n stilte volg, gaan hy met ’n sug voort. Ons voltage is nie reg vir die een en twintigste eeu nie, maar met ’n paar verstellings behoort ons beter te kan funksioneer. Ons gaan definitief die Nobelprys wen vir die grootste humanitêre guns ooit aan die mensdom.

Benna, ek weet nie waarop jy is nie, maar dis te sterk vir jou. Jy sal drasties die dosis moet verminder.

Ben snork verontwaardig. Spot maar; ek gaan alleen daai prys kry en ek gaan jou nie eens in my speech noem nie. En terwyl ek op my eie eiland sit, met my eie harem, gaan jy nog na kinders se mangels en mans se prostate moet kyk.

Voordat jy beroemd raak, moet jy eers vir my iets doen.

Hoe dringend is dit? Jy weet ek is ’n besige man!

Baie dringend. Kan jy vanaand dorp toe kom? Ek sal vir jou ’n dop koop – en as jy jou gedra, dalk ’n lekker steak ook.

Dit moet ’n moerse groot guns wees.

Die gelag in sy oor laat Ben opnuut besef hoe goed hulle mekaar na sewentien jaar van vriendskap ken.

Die restaurantjie is nog stil en daar sit net hier en daar mense by tafels. Willem bestel vir hulle elkeen ’n whiskey. Eers toe die kelner die twee glase voor hulle neersit en Ben vraend na die lêer tussen hulle kyk, maak Willem keel skoon.

Ek het ’n pasiënt oor wie ek bekommerd is. Ek wil graag jou mening vra voor ek iemand anders raadpleeg. Hy kyk oor Ben se skouer na die deur wat oopgaan en nog vroegaand-dorstiges inlaat voordat hy voortgaan.

Sy is drie en twintig jaar oud en het ’n week gelede een middag teen die bergpad gaan draf, maar nie weer die aand by haar blyplek opgedaag nie. Haar vriendinne het teen middernag die polisie in kennis gestel en hulle het haar in die vroeë oggendure onder ’n bos teen die berg gevind. Sy was by haar bewussyn, maar kon nie onthou hoe sy daar gekom het nie. Sy het ’n paar krapmerke en blou kolle gehad, maar sover sy kan onthou, is sy nie aangerand nie. Volgens haar moes die takke haar so gekrap het. Ek is nie so seker nie, maar dit lyk of sy werklik niks anders onthou nie.

Probeer sy nie maar net vir iemand cover nie?

Ek weet nie. Dis of haar persoonlikheid oornag verander het. Haar ouers het elke moontlike en onmoontlike toets laat aanvra, maar dit het sover niks opgelewer nie. Hy neem ’n sluk van die whiskey en skud sy kop. Hulle wil by my antwoorde hê, maar ek is net so dronkgeslaan en sy hou vol sy kan niks onthou nie. Sy weet ook nie waarom sy die nag teen die berg gebly het nie.

Ben trek die lêer nader, maak die omslag oop en laat die blaaie deur sy vingers gly. Sy blik gly geoefend oor die inskrywings voor hy die lêer toemaak en vraend opkyk: Net lees, nè?

Ek het mos so gesê. Willem se blik dwaal oor die tafels, wat nou byna almal vol sit.

Solank ons albei dit verstaan. Ben maak die omslag toe, gooi die laaste whiskey in sy keel af en suig dan aan ’n ysblokkie.

Wil jy nie eet nie?

Nee dankie, Katie het kos gemaak, en in elk geval wil ek sommer net vanaand ’n slag voor die TV gaan lê en ve­geteer.

Ah, the joys of being a bachelor!

Ben gee ’n meewarige laggie. Ek sal met jou ruil.

Willem se dawerende lag laat ’n paar mense opkyk. Dream on. Jy moet nog eers die betekenis van die woord commitment gaan leer.

Ben staan op en Willem volg hom. Nadat hulle betaal het, moet hulle eers opsy staan sodat nuwe lywe kan verbyskuur.

Hoe gaan dit met Sanet? wil Willem weet toe hulle op die sypaadjie staan en hulle baadjies toeknoop. Ons het haar lanklaas gesien.

Sover ek weet, gaan dit goed.

Willem frons. Gebruik julle nog steeds mekaar se lywe? Jy moet pasop, een van die dae vang sy jou.

Weet jy dat jy al meer na jou ouma klink hoe ouer jy word? Moenie jou oor my bekommer nie. Ek en Sanet verstaan mekaar.

Willem lag spottend. Solank jy net onthou dat jy, op een en dertig, volgens die mediese wetenskap al gepeak het en letterlik en figuurlik op die afdraande pad is.

Ben lig sy hand in ’n groet en laat oor sy skouer hoor: Die feit dat jý op een en dertig oor die muur is, beteken nie ons almal is al daar nie. Sorg jy maar vir jou letter en figuur, en ek sal my oor myne bekommer. Hy maak sy motordeur oop en gooi die lêer op die passasiersitplek toe hy inklim.

Die motorligte skyn onnatuurlik blink in die mis wat vanaand laag oor die berge hang. Ben skakel die radio aan en moet glimlag toe Valiant Swart van whiskey en reën sing. Hy kan die pad teen die berg uit toe-oë bestuur en gee homself oor aan die ritmiese heen en weer van die draaie. Dit voel of hy en die motor ’n eiland in die wit missee is. Die dorp se ligte sak onder hom weg en toe hy op die kruin wegdraai, voel dit of hy alleen op die aarde is.

Tien minute later sug hy hardop toe hy die motor voor sy huis sien staan. Hy bly sit eers ’n minuut of wat in die motorhuis voordat hy sy motordeur oopmaak en uitklim. Twee goudbruin labradors kom stertswaaiend nader gehardloop en Ben vryf hulle koppe. Hy maak die sydeur oop en sit sy tas en die lêer in die studeerkamer neer.

Jy kan darem blyer lyk om my te sien! ’n Skraal blonde vrou kom in die gang afgestap en vou haar arms om sy nek. Haar mond streel speels oor syne. Waar was jy? Ek was net op pad om te ry, want jy het nie jou selfoon geantwoord nie.

Ek was gou dorp toe.

Sanet tree ’n entjie agteruit terwyl sy hom ondersoekend aankyk. Waarom het jy my nie gebel nie; jy kon my die rit hierheen gespaar het en ons kon iets gaan doen het.

Ek was nie lus om uit te gaan nie. Hy gooi sy motorsleutels op die tafel in die portaal en stap voor haar uit kombuis toe. Die kombuis is warm en ruik na kos.

Dis soos jy van jou huis hou as jy saans hier kom, nè: stil en skoon, met ’n bord kos in die oond en geen vrou wat jou aandag opeis of wil gesels nie.

Wys my die man wat nie daarvan sal hou nie, sê Ben terwyl hy ’n bottel wyn begin oopmaak.

Jy’s ’n bliksem.

Hy kyk net skrams op. Het jy al die pad hierheen gekom om dit vir my te sê? Jy kon jouself die moeite gespaar het, dis nie meer nuus nie.

Sanet kom staan voor hom. Wil jy hê ek moet huis toe gaan?

Hy gee ’n kras laggie. Dis Vrydagaand en ek is moeg, so as jy wil argumenteer, is dit dalk beter dat jy huis toe gaan. Terwyl hy dit sê, skink hy twee glase wyn in en hou een met geligte wenkbroue na haar uit. Sanet huiwer net ’n oomblik voor sy dit neem.

Terwyl hulle eet, vertel sy hom van ’n nuwe kuierplek in die Kaap waar sy die week saam met vriende was. Ben weet hy moes haar liewer laat gaan het, want hy is nie lus om saam te gesels nie. Selfs om te luister is vanaand moeite.

Na ete gaan maak hy homself op die groot rusbank in die televisiekamer tuis en Sanet kom lê langs hom.

Kan ek vanaand oorbly? Ek is te lui om huis toe te ry.

Werk jy nie môre nie?

Ek sal vroeg opstaan. Ek moet eers nege-uur by die spreekkamer wees. Sy begin stadig sy hemp oopknoop en vryf met haar hande oor die growwe, donker haartjies. Haar lippe speel liggies oor sy tepels en hy is verbaas toe sy lyf tog reageer. Asof sy lyf en sy kop nie aan dieselfde mens behoort nie. Hy trek haar skuldig nader en lig haar bo-op hom. Sy hande streel oor die bekende kurwes en hy voel hoe haar lyf sag word teen syne.

Tog moet hy homself inhou om nie verlig te lyk toe sy net na twaalf skielik besluit om huis toe te gaan nie.

Dankie vir die aand. I have seen you in better shape, maar dit was heel aangenaam, laat sy spottend deur die motorvenster hoor voor sy wegtrek.

Ben lig net sy hand in ’n groet en kyk hoe die rooi liggies agter die bome verdwyn. Na ’n warm stort skink hy vir hom ’n whiskey en gaan sit agteroor met sy voete op die lessenaar. Hy maak Willem se lêer met een hand oop en begin lees:

Naam: Kristina Louisa Lazarus

Ouderdom: 23

Beroep: Student

Adres: . . .

Hy herken die adres as een van die gerestoureerde huisies op die kampus. Daar volg ’n lywige verslag van die gebeure en al die ondersoeke en toetse wat daarna uitgevoer is. Maar dis soos Willem gesê het; al die uitslae is sover negatief. Ook die swangerskaptoets. Hy wonder of Willem haar toestemming daarvoor gehad het.

Die daaglikse observasies bly konstant. Haar bloeddruk is normaal, so ook haar temperatuur. Haar hartklop is by tye effens verhoog, maar dis onbeduidend. Willem meld ook dat sy geen geskiedenis van depressie of angssteurnisse het nie. Hy het haar ’n keer of wat vir griep en ’n sportbesering behandel, maar dis sover haar mediese geskiedenis by hom strek.

Ben maak die lêer toe en glimlag terwyl hy hom uitrek.

Jou bliksem, Willem Uys, jy het geweet ek sal gaan kyk, laat hy hardop hoor terwyl hy opstaan en kamer toe loop.

Hoofstuk 2

Die eerste wat Ben opval toe hy Saterdagoggend die hospitaalkamer binnestap, is die kleur van die hare op die wit kussingsloop. Dit lyk soos ragfyn draadjies rooi- en geelkoper wat sorgvuldig opgevryf is. Sy blik gaan oor haar gesig en hy is, soos die eerste keer toe hy haar gesien het, verbaas oor die soel gelaatskleur en die afwesigheid van sproete. Met so ’n haarkleur verwag ’n mens sproete, maar daar is net ’n ligte strooisel bruin vlekkies oor haar reguit neus sigbaar. Haar wimpers is verbasend donker en haar mond is wyd en vol. Sy is een van daardie meisies waarna mans omkyk, sonder dat hulle weet waarom. Asof ’n mens seker wil maak jou oë bedrieg jou nie. Hy sal weet, want die paar keer dat hy haar by Willem-hulle gesien het, het hy homself ook ’n tweede kyk veroorloof.

Hy kyk weer na die naam op die lêer in sy hand. Hy het dit nie herken nie, want as hy reg onthou, noem hulle haar nie Kristina nie, maar iets korters. Willem het van ’n pasiënt gepraat, maar sy ontwykende blik moes hom gewaarsku het dat dit nie sommer net ’n pasiënt is nie.

Juffrou Lazarus . . . Kristina . . .

Sy maak haar oë oop en hy onthou dat Lisa eendag gesê het die natuur was in ’n speelse bui toe sy gemaak is. Dis moeilik om te besluit of haar oë groen met bruin vlekkies is, of bruin met groen liggies. Die natuur wyk soms op interessante maniere van die gewone patroon af.

Ek is Ben Krige, ’n psigiater. Willem het my gevra om by jou in te loer.

Sy knik ligweg, maar hy sien die herkenning in haar oë.

Hoe voel jy vandag?

Moeg. Haar blik dwaal na die venster agter hom.

Ek het Willem se verslag gelees, maar kan jy my vertel wat gebeur het?

Sy bly staar deur die venster en Ben laat haar begaan.

Ek het gaan draf en ek het moeg geword.

So moeg dat jy nie weer kon terugkom nie?

Sy trek haar skouers op en hy wonder opnuut wie eerste besluit het dat dit nodig is om in ’n ander mens se siel rond te krap. Sy ongeduldige geaardheid hou nie van hierdie eerste verkenningsdans nie en hy hou nie van lywe wat hulle geheime wil beskerm nie. Dit beteken ure, dae, soms maande se raaiwerk.

Het jy al vantevore daardie pad gedraf?

Sy knik sonder om na hom te kyk.

Is jy redelik fiks op die oomblik?

Seker.

Wat swot jy? Hy weet dis ’n lang kursus, maar op die oomblik kan hy nie onthou wat dit is nie.

LLB.

Hoeveelste jaar?

Finale jaar.

Geniet jy jou kursus?

Sy kyk net vir ’n oomblik na hom voor sy haar skouers optrek. Ek het dit gekies.

Het die werk nie te veel geword nie? Is dit nie dalk waarom jy so moeg is nie?

Almal werk hard.

Hoe is jou verhouding met jou ouers?

Weer is daar ’n ligte roering in haar skouers. Ons het nie probleme nie.

Is jy in ’n verhouding betrokke?

Sy skud haar kop.

Het dit al vantevore gebeur dat jy so moeg geword het?

Sy skud weer haar kop en vee ’n haarsliert uit haar oë.

Die toetse het niks opgelewer nie, so dis baie moeilik om jou te behandel. Daar is op die oog af niks fisiek verkeerd nie en tog voel jy nie jouself nie. Hy laat die woorde soos ’n vraag tussen hulle hang, maar sy reageer nie.

As jy nou terugdink, dink jy die moegheid het geleidelik gekom of was jy die eerste keer daarvan bewus toe jy nou die dag gaan draf het?

Ek weet nie. Haar hand stryk-stryk oor die wit-en-ligblou gestreepte duvet-oortreksel.

Het daar dalk iets gebeur wat jou so moeg kon laat voel het?

Nee.

Jou vriende? Jy het nie dalk ’n uitval met iemand gehad nie? Probleme in ’n goeie vriendskap kan ’n mens nogal baie negatief beïnvloed.

Ek het met niemand ’n probleem nie.

Gebruik jy nie dalk medikasie wat jy vergeet het om vir Willem te noem nie?

Is dit ’n mooi manier om te vra of ek dwelms gebruik? Vir ’n oomblik flits haar blik ergerlik oor sy gesig en hierdie keer kyk sy nie weg nie.

Nee, ek sou nog daarby gekom het, maar terwyl jy dit nou opgehaal het, gebruik jy enige gewoontevormende middels?

Pynmedikasie kan ook gewoontevormend wees.

Gebruik jy chroniese pynmedikasie?

Nee.

Ben voel of hy vir ’n breukdeel van ’n sekonde sy ewewig verloor het. Hy het nie antagonisme verwag nie. Hy is nie eens seker of dit die regte woord is nie, en dalk is dit ook glad nie teen hom gemik nie. Dit het hom net onkant betrap omdat die meeste pasiënte baie dankbaar is vir enige hulp teen die tyd dat hulle by hom uitkom.

Gebruik jy alkohol?

Ja.

Elke dag of per geleentheid?

Ek het nog nooit die vraag verstaan nie.

Toe Ben haar nie antwoord nie, maar net na haar bly kyk, trek sy haar skouers op. Haar stem is effens minder skerp toe sy weer praat. Ek is seker jy ken die antwoorde op al hierdie vrae en ek is seker jy het ’n verslag of ’n lêer of iets gelees. Waarom moet ons weer deur dit alles gaan? Ek is nie ’n gewoontedrinker nie, alhoewel ek van ’n glas wyn of twee of soms drie op die regte tyd hou. Ek rook nie en ek gebruik nie ander vreemde middels nie. Ek het al ’n paar trekke aan ’n joint gevat en daarna opgegooi. As ek hoofpyn het, drink ek ’n Panado of iets, maar dis sover my verbintenis met narkotikums en pynstillers gaan. Wat wil jy nog weet?

Wat onthou jy van die nag teen die berg?

Niks. Ek kan onthou dat ek my drafskoene aangetrek het, en die volgende waarvan ek weer bewus geword het, was toe die polisie my onder die bos gekry het. Ek het dit ook vir Willem gesê.

Ben maak sy mond oop om iets te sê, maar die deur agter hom gaan oop en hy draai om.

Twee meisies loer huiwerig om die kosyn. Die voorste een glimlag effens skamerig toe sy hom gewaar.

Jammer, ons het nie geweet jy is hier nie.

Hallo, Helen, kom binne. Ek is eintlik klaar. Hy staan op toe die twee meisies nader kom om te groet. Albei soen Kristina op die wang.

Hi, hoe voel jy? Ons het vir jou eetgoed en tydskrifte gebring en Marcus stuur groete en hierdie blomme. Hy sal dalk later ’n draai kom maak.

Kristina kyk vlugtig na die blomme, maar lewer nie kommentaar nie en die blonde meisie draai na Ben.

Hallo, ek weet nie of jy my onthou nie, maar ons het al by Willem-hulle ontmoet. Ek is Cato.

Ek onthou. Hoe gaan dit?

Sy kyk glimlaggend na Kristina. Nie so goed soos met Kris wat heerlik hier kan lê en ontspan terwyl ons ander ons vrek moet werk nie. Die kommer in haar oë weerspreek egter die vrolikheid in haar stem. Ben lewer nie kommentaar nie. Hy wonder of Willem al met hulle gepraat het.

Ek sal vir Willem sê ek het kom inloer, begin hy Kristina groet. Ek hoop jy voel gou beter. Die ander twee glimlag toe hy hulle ook groet.

Ek het altyd gewonder wat ’n mens moet oorkom om hom langs jou bed te kry, laat Cato met ’n sug hoor toe die deur toegaan.

Sjuut, Cato, hy kan jou hoor. Helen kyk deur toe.

Ek is seker hy weet hy is hot. Mans soos hy maak my lus vir prokreasie. Sy maak ’n klapgeluid met haar lippe. Ek het mos nog altyd gesê ’n man se looks lê in sy oë, sy mond en sy hande, en hy het al drie. En ek was nog altyd ’n sucker vir ’n donker man, selfs al is die gesig al effens weathered. Sy gaan sit op die bed langs Kristina en neem haar een hand.

Ai, Kris, wat het met jou gebeur? Dit freak my heeltemal uit om jou so te sien.

Ek is dalk sommer net moeg en al die histerie is waar­skynlik ’n groot mors van tyd en geld.

Is daar nie iets wat ons vir jou kan doen nie?

Kristina skud stadig haar kop.

Almal wil weet of hulle kan kom kuier, maar ek het gesê ek weet nie of jy lus is vir mense nie, laat Helen hoor terwyl sy die lakens probeer regtrek.

Ek is nie nou lus vir nog vrae en fronse nie. Daarvan kry ek genoeg.

Twee verpleegsters kom die kamer binne en Cato en Helen staan op. Cato lig haar hand asof sy weet wat hulle wil sê.

Ons is op pad, ons moes net gou haar blomme kom aflewer.

In die gang kyk die twee vriendinne na mekaar en Cato ril liggies. Shit, dis scary stuff hierdie. Hoe gebeur dit dat ’n mens oornag so moeg word dat jou hele persoonlikheid verander?

Helen antwoord nie. Sy kou net haar onderlip.

Die son streep geel oor die houtvloer en oor die drie paar bene wat lank uitgestrek is. Op die koffietafel weerkaats dit rooi in die drie glase rooiwyn.

Ons is bevoorreg dat jy ’n slag vir ons kom kuier. Ek het nie gedink ’n mens sal jou op ’n Saterdag in die dorp kry nie.

Ek het kom kyk of jy nie hierdie nikswerd man van jou wil los en by my kom bly nie. Ons sal baie meer pret hê.

Lisa lag guitig en kyk na Willem wat oorkant haar sit-lê. Sal jy my mis as ek jou vir ’n sexy bachelor los? Ek kry dalk nooit weer so ’n uitnodiging nie.

Gmf . . . jy sal terug wees voor ek jou kan mis. Moenie dat hy jou met sy mooipraatjies verlei nie. Hy is useless; hy kan nie eens ’n vrou kry nie.

Wie sê hy soek ’n vrou? wil Lisa laggend weet.

Alle mans soek ’n vrou, almal is net nie mans genoeg om dit te erken nie.

Ben lag hardop. So praat ’n man wat geval het. Hy laat dink my aan ’n ou roker wat eendag ophou en dan vir almal wil preek oor die nadele van rook. Daar is niks so hoogheilig soos ’n ou roker of drinker nie.

Het Sanet jou gisteraand gekry? verander Lisa steeds laggend die onderwerp. Sy het hierheen gebel om te hoor of ek weet waar jy is.

Sy was by die huis toe ek daar kom.

Ek dog jy wou gisteraand TV kyk. Willem skink hulle glase vol.

Ek wou.

Ek hoop julle is versigtig. Ek wil my nie oor jou bekommer nie.

Ja, Pa, dankie, Pa, ek sal versigtig wees, Pa. Ben kyk spottend na Willem, wat brommend sy kop skud.

Ek het vanoggend ’n draai by jou pasiënt gaan maak. Waarom het jy my nie gesê dis Helen se vriendin nie?

Willem stoot effens verleë sy hand deur sy hare. Ek weet mos hoe jy oor studente voel.

Maar tog het dit jou nie gekeer om haar lêer vir my te gee nie, en jy het geweet as ek dit eers gelees het, sal ek gaan kyk.

Ek het gehoop jy stel my nie teleur nie.

Ben rek homself lui uit. Ek weet nie wat om vir jou te sê nie. Daar kan ’n duisend redes wees waarom sy so ’n episode gehad het. Dis presies waarom ek nie met studente wil werk nie, veral nie die meisies nie. Hulle is so vol hormone en drama.

Ek gaan maak of ek dit nie gehoor het nie, laat Lisa verontwaardig hoor. Dis ’n gruwelike veralgemening en ek sal graag wil weet waarom jy dink dis op haar van toepassing. Het sy jou al ooit die idee gegee dat sy die histeriese, hormonale soort is?

Ek ken haar nie so goed nie, maar as ek terugdink aan geleenthede waar ek haar saam met Helen-hulle beleef het, kan hulle ook maar erg dramaties raak.

Jy verwar nou histeries met dramaties. Die meeste vroue is geneig om meer dramaties as mans te wees, maar dit beteken nie ons het almal histeriese persoonlikhede nie. En daai klomp is eintlik maar net vol selfvertroue, hulle weet wat hulle wil hê en natuurlik is hulle nie bang om hulle mening te lug nie. So, as jy my vra, moet julle maar verder soek. Ek glo daar was ’n trigger, hetsy fisiek of emosioneel, wat haar so laat reageer het.

Sielkunde 101, spot Ben toe Lisa stilbly.

Sy glimlag soetweg. Jy skaats op dun ys. As jy my wil hê, sal jy baie nicer moet wees.

Ek het weer daaroor gedink en ek is nie seker dat ek ’n sielkundige wat my kop kan lees vir ’n vrou wil hê nie.

’n Witrot kan jóú kop lees, maar los nou eers jou praatjies en sê vir my wat gaan ek vir haar ouers sê, onderbreek Willem hulle.

As sy ’n kêrel gehad het, sou ek gesê het hulle het dalk probleme. Sy sal nie die eerste meisie wees wat ineenstort as ’n verhouding nie uitwerk nie. Die dorp is vol van hulle. Ben proe stadig aan sy wyn en laat dit vir ’n oomblik op sy tong lê.

Willem knik en kyk na Lisa. Sy was vir twee jaar in ’n redelik stormagtige verhouding betrokke, maar sy het vroeër vanjaar met die ou uitgemaak. Ons het hom al ’n keer of wat ontmoet en ek is verbaas dat sy so lank uitgehou het. Verwaande klein bliksem. Hy is saam met haar in die klas en briljant, maar een van daai wat net te slim is vir hulle eie gesondheid.

Daar het jy dalk jou antwoord. Stormagtige verhoudings het die geneigdheid om nie sommer net op ’n dag tot ’n einde te kom nie. Dis soos om ’n tenkskip tot stilstand te bring, dit gebeur nie sommer skielik nie. As jy sê sy het vroeër vanjaar die verhouding beëindig, is dit waar­skynlik die remmerke waarmee jy nou sit.

Dis darem ’n vreeslik simplistiese diagnose, maak Lisa kopskuddend beswaar.

Wat sê ek Maandag vir meneer en mevrou Lazarus? Dis die remmerke van ’n verhouding wat skeefgeloop het?

Sê vir hulle net wat jy weet. Wys hulle al die verslae en uitslae en sê dis soms moeilik om ’n diagnose te maak. Jy sal nie die eerste dokter wees wat nie weet wat met ’n pasiënt aangaan nie, laat Ben skouerophalend hoor. As ek haar ouers is, sal ek haar laat opneem vir observasie as sy nie binne die volgende week of twee beter word nie.

Of jy kan haar by jou opneem vir waarneming . . . Willem kyk hoopvol na sy vriend en Ben begin stadig glimlag.

Of jy kan haar vir Karel stuur. Hy hou daarvan om met studentemeisies te werk.

Julle stuur haar nie na Karel toe nie. Daai man het die morele waardes van ’n vlakhaas – en dan beledig ek waar­skynlik die haas. Lisa kyk ergerlik van die een na die ander.

Ben hou sy hand op. Weet jy of sy en die kêrel ’n seksuele verhouding gehad het? As dit die geval is, is ek nog meer oortuig van my diagnose. Sy voel dalk nou skuldig omdat sy saam met hom geslaap het en nie met hom gaan trou nie. Sommige meisies se koppe werk so.

Hoe kan jy sommer net ’n diagnose uit jou duim sit en suig? Vroue is wragtig meer gekompliseerd as dit, en die lewe begin en eindig nie noodwendig vir ons by ’n man nie, al wil julle dit graag glo. Sy mag ’n plaaskind wees, maar sy is nie naïef nie en sy het nie ’n slagoffermentaliteit nie. Sy is eintlik een van daai mense wat high on life is.

Hoe lyk ’n mens wat high on life is? Ben kyk spottend na Lisa.

Dis die verskil tussen iemand wat ’n dop of ’n joint nodig het om ’n party te geniet en mense wat stone sober die lewe van ’n party kan wees. Hulle láát dinge gebeur. Sy is gedurig met een of ander projek besig. Sy dien op die juridiese vereniging, sy was lid van haar koshuis se HK en sy is in haar derde jaar as studenteraadslid verkies. Dis nie iemand wie se wiele afval as ’n verhouding nie uitwerk nie. En verder kom sy van die Karoo af. Daai mense het sterk ruggrate.

Ben hou sy glas vir Willem om weer vol te skink. Is dit nou ’n geval van virtue lies in the eye of the beholder? Hy lag en hou dan sy hand op toe Lisa se mond weer oopgaan. "Ek is nie besig om haar

Enjoying the preview?
Page 1 of 1