Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Sondebok
Sondebok
Sondebok
Ebook484 pages6 hours

Sondebok

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Ranna Abramson skuil van die gereg ná die dood van drie mans na aan haar. As ’n guns aan die geheimsinnige Adriana de Klerk gebruik sy en Alex Derksen hul dekmantel as joernaliste om ’n aanval op ’n vrou onder Adriana se beskerming te ondersoek. Dit lei hulle na ’n skokkende ontdekking – ’n nuwe leidraad oor die verdwyning van ’n talentvolle matriekmeisie ses jaar gelede.
Die derde boek in Irma Venter se gewilde S-reeks.
LanguageAfrikaans
Release dateSep 1, 2014
ISBN9780798167390
Sondebok
Author

Irma Venter

Irma Venter is ’n bekroonde joernalis in Johannesburg. Haar romans sluit in Skoenlapper (wenner van die ATKV-prys vir spanningsromans), Skrapnel, Sondebok, Skarlaken, Sirkus, Sondag en Sewe-en-veertig. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse skrywer wat internasionaal uitgegee word deur Amazon Crossing.

Read more from Irma Venter

Related to Sondebok

Related ebooks

Related articles

Reviews for Sondebok

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Sondebok - Irma Venter

    SONDEBOK

    Irma Venter

    Human & Rousseau

    Vir Shameemah,

    wat AJ haar naam gegee het,

    en Deidré

    En my pa en ma

    The new generation is up-load. We exist by posting photos of ourselves on the Web. Anonymity is a temporary condition – where you are before your video goes viral. Celebrity is visibility. Visibility is celebrity. The desire to be seen – not simply noticed or known – is so tangled up with contemporary ideas about identity that it is impossible to talk about identity as a private matter anymore. That philosophical absurdity – does a thing exist if no-one is looking at it – has a new answer: No.

    Jeanette Winterson in ’n artikel oor Andy Warhol

    ADRIANA

    1

    Moenie enige draaie ry nie, al sê hy wat.

    Ek leun agter by die Almera in en haal Felix se beursie uit sy baadjiesak. Tel die note. Tweeduisend rand. Dis meer as genoeg om by die Saxon Hotel te kom. Ek gee vir die taxibestuurder drie honderdrandnote. Dan nog een.

    Ek beduie na die blondine langs Felix. Moet ook nie na haar luister nie. Dis seker nie nodig nie, want sy leun reeds met halftoe oë teen die Duitser se skouer.

    As dié dronk BlueData-eienaar vanaand by een van Johannesburg se klubs beland, gaan sy beursie môre leeg wees. Selfde waarskynlik met sy gesonde bankrekening. Aan die vrou kan ek niks doen nie. Dis die eerste keer dat ek haar sien, en wie weet waar Felix haar opgetel het.

    Ek wag tot die hek oopgaan voor ek terugloop restaurant toe. Gaap moeg. Dis halftwee in die oggend. Hoeveel laatnag-Kerspartytjies bly oor?

    ’n Gelag kom uit die kombuis. Kan net Naomi wees. Sy het nog nooit gelag vandat sy ’n week gelede hier begin werk het as skottelgoedwasser nie. Wat kan haar so bly maak?

    Ek loop vinnig tussen die tafels met die spierwit gestyfde tafeldoeke en silwer messegoed deur, reeds reggemaak vir môre. Verby die kroegtoonbank met sy Skotse enkelmoutwhiskies en in by die kombuisdeur. Ek kyk, glimlag. Dis regtig sy.

    Toe ek terugloop om die voordeur te sluit, steek ek in my spore vas.

    Hy is reeds drie tree die restaurant in, motorsleutels in die hand. Die metaal skitter onder die ligte soos hy dit om sy wysvinger laat tol. Sy borskas lyk soos ’n groot ronde blompot, sy nek daarin geplant. Massiewe arms. Sweterig, al is dit Desember en reënerig buite. Hierdie jaar se somer is koeler as gewoonlik, en natter.

    Hy skud sy kop en fyn, blink druppels val op die kraag van sy grys gholfhemp, word deur die goedkoop poliëster opgesuig. Sy swart hare is kort geskeer, behalwe vir ’n kuif wat oor sy voorkop hang. Bruin oë. Sy vel lyk sleg, asof hy nog op hoërskool kan wees, maar die lyne om sy oë verklap sy ouderdom. Dalk is hy in sy laat twintigs. Kan net opkikkers wees wat sy lyf so oppomp en sy vel so merk. Dit mors met ’n man se hormone.

    Daar flikker iets in sy oë. Iets wat vir hom sê om te vergeet. Vergeet wat hy gedoen het. Vergeet wat hy gáán doen.

    Hy staar my aan asof hy my wil-wil herken.

    Ek weet wie hy is. Ek het sy soort al baie teëgekom.

    Ek oorweeg al die plekke waarheen ek kan hardloop. Terug kombuis toe, na die messe toe, waar Zenani en Naomi besig is om op te ruim, of by die sydeur uit, weg van hulle af die dig begroeide tuin in.

    Maar wat as hy my nie volg nie?

    Die man se regterhand mik om onder sy swart donsbaadjie in te duik, maar stop dan. Dit lyk of hy hom bedink.

    Naand.

    Die enkele klank is rond, o pleks van a. Pretoria. Dalk selfs meer noord. Dalk aangeleer en nie eens Afrikaans nie.

    Ek kry dit reg om te glimlag.

    Ons is toe. Jammer, praat ek bo-oor Melody Gardot wat op die agtergrond sing. Ek leun met een hand op die hoërugstoel naaste aan my. Buk stadig af en trek my regtervoet se swart-en-wit stiletto uit. Ek wil hom nie skrikmaak nie.

    Lang aand om heeltyd op jou voete te wees, verduidelik ek terwyl ek hom onderlangs bekyk. Sy wilskrag meet, sy spoed.

    Hy bly steeds doodstil staan, asof hy twyfel wat om te doen. Kyk af na sy diksoolstewels, op na die foto’s teen die mure, skud sy kop effens. Frons.

    Ek wag tot sy oë weer myne vind. Wys hom my hals toe ek die ander skoen uittrek en tydsaam regop kom, die ronding van my borste wat bo die wit bloes se boonste knoop wys. Ek trek my asem hoorbaar in. Lank en stadig. Dwing sy kop na ’n meer intieme plek.

    Hy gee ’n tree terug, ’n effense glimlag om sy mond. Laat sy skouers ’n fraksie sak, momenteel ontspanne.

    Nou.

    Ek swaai om. Hardloop by die kombuis se swaaideur in.

    Naomi staan by die wasbakke. Zenani is weg. Seker besig om voorraad in die yskas te tel.

    Hardloop! Agterdeur! skree ek vir Naomi.

    Sy staan verstar, haar seperige hande onder die warm water wat uit die kraan stroom, stoom maak in die koel naglug.

    Ek lig my romp en duik oor die toonbank van vlekvrye staal. Land gehurk op my kaal voete aan die ander kant.

    Die man storm die kombuis binne, ’n pistool in sy regterhand. Hy gaan staan. Agter hom swaai die deur met die ronde venster asof ’n kelner nou net daardeur gedraf het.

    Heen en weer. Heen en weer. Stop uiteindelik.

    Ek hou hom van onder die toonbank dop. Soek dan na Naomi. Die te maer blonde vrou met die skerp gesig staar onbegrypend na hom, haar ligbruin oë dof. Steeds loop die water oor haar hande.

    Vyf, ses sekondes tik verby.

    Die trilling begin in haar skouers en trek af na haar hande. Hulle val tot langs haar sye. Haar nek en rug, knope in ’n dun tou, buig vorentoe. Haar skouers ruk onbeheers onder die wit T-hemp met Crow’s se logo op die mou.

    Ek soek boontoe. Ek is by Zenani se werkspasie, haar messe lê regs van my. Waar is sy? As sy nou hier inloop, gaan hierdie man ophou dink en skiet.

    Ek voel versigtig oor die ry Japannese staal. Die tweede een van regs is perfek, die lem lank genoeg en die hef klein genoeg.

    Angsgeluide begin borrel uit Naomi se mond. Moenie. Asseblief. Nee …

    Waar is sy? Die man kyk vlugtig oor sy skouer. Het sy die polisie gaan bel?

    Naomi skud haar kop, vinniger en vinniger soos haar paniek styg.

    Hy gee een, twee treë vorentoe en sy linkerhand sluit om haar nek. Lig haar op sodat haar tone in die wit tekkies oor die vloer skuur op soek na vasskopplek.

    Maak in elk geval nie saak nie, sê hy in haar gesig.

    Wag. Haar hande baklei teen die dik vingers om haar keel. Asseblief. Moenie.

    Stop! roep ek.

    Die man los haar. Tol om net toe ek orent kom en die mes gooi.

    Die lem steek in sy regterskouer vas. Sy linkerhand klap na die mes asof dit ’n lastige vlieg is. Sy regterhand vuur ’n lomp skoot in my rigting af.

    Agter my gaan die instapyskas se deur oop. Die pistool is steeds in die man se regterhand, op soek na ’n teiken.

    Die tweede mes is groter. Dit trek laer en tref sy maag. Die pistool val uit sy hand, maar hy bly staan, effe verdwaas.

    Toe ek omkyk, sien ek hoe Zenani die besem wat sy in haar hand het oor haar knie breek. Sy storm vorentoe.

    Wag! probeer ek keer, maar dis te laat.

    Sy slaan hom met die halwe stok deur die gesig dat sy kop links knak. Hy val soos ’n afgekapte boomstomp agtertoe. Ek roep weer, maar Zenani hoor nie. Haar oë is donker, blind van woede. Ek hardloop vorentoe en vang haar arm, hang daar soos ’n vink. Hierdie vrou kan ’n hele skaap opkerf sonder om te rus.

    Ek los eers toe sy terugkom na die werklikheid. Langs haar huil Naomi hard en nat. Zenani sit haar arms om Naomi se skraal lyf.

    Ek staan doodstil totdat die in- en uitbeur van my asem bedaar. Dan buk ek af en soek na tekens van lewe in die lyf wat voor my lê. Kry dit. Die bloed fluister flou onder my vingerpunte, maar die hartklop is steeds daar.

    Goed so. Dit gee my kans om uit te vind wat hy hier kom soek het.

    2

    Word wakker.

    Ek klap hom deur die gesig, harder as wat nodig is. Ek is selfs kwater vir myself as vir hom. Ek is heeltyd versigtig, méér as versigtig, en dan gebeur in een onbesonne oomblik dit wat ek so hard werk om te verhoed.

    Hoe het hy ons opgespoor?

    Die man bly roerloos sit. Weer klap ek hom. Sy kuif val oor sy oë, maar ek kry geen reaksie uit hom nie. Die koue lug van die instapyskas maak nie eers prikspore op sy vel nie.

    Zenani het my gehelp om hom hierheen te dra en aan ’n stoel vas te maak. Naomi het in my kantoor sit en wag. Sy kon nie ophou bewe nie. Ek het vir haar gelieg en gesê ek het ’n ambulans gebel. Daarna het ek haar en Zenani huis toe gestuur.

    Ek gaan haal water in die kombuis. Maak weer seker al die deure is gesluit en die alarm gestel. Ek trek my skoene aan. Gaan sit oorkant die beer van ’n man met sy bultende, knopperige spiere, sy arms instrumente vir blok, slaan en breek.

    Hy is nie die jagter nie. Hy is die jagter se hond. Sy gedweë dienskneg. Ek moet weet wie hom gestuur het. Wat hy hier soek. En ek vermoed die tyd is min.

    Ek gooi die water in sy gesig, sit terug en kruis my bene. Dwing my hande om rustig op my skoot te rus.

    Hy knip sy oë stadig, onseker, en lig dan sy kop moeisaam. Sy asemhaling is vlak, sy wang oopgekloof deur die besemstok.

    Môre, groet ek hom.

    Uiteindelik verskyn iets soos herkenning op sy gesig, ’n besef van waar hy is. Dit maak plek vir ongeloof toe hy na die twee messe in sy lyf staar. Ek wou hom nie doodmaak nie, eerder keer dat hy een van ons seermaak.

    Wat soek jy hier?

    Hy kyk net na my. Sy oë verklap pyn en duiseligheid, en vrees vir die donkerte wat al nader kom. Wat hom ook al vroeër dapper genoeg gemaak het om hier in te loop, het verdwyn, opgelos in die bloed wat stadig op die sementvloer drup.

    Genoeg.

    Ek staan op en klap hom weer. Dis belangrik dat hy praat. Vinnig.

    Wat. Soek. Jy. Hier.

    Hy skud sy kop. Help.

    Ek ignoreer dit. Wat soek jy hier?

    Eina. Fok.

    Wat soek jy hier?

    Sy oë knip al stadiger, ’n afgemete SOS vir sy lyf se paniek.

    Jy’s mal, sê hy sag. Hy het niks … gesê van messe nie. Wie de hel … doen dit?

    Sy oë fokus op my gesig. Ek weet waarna hy kyk: die litteken wat van onder my regteroog tot by my oor loop. Dis ’n vae lyn deesdae, maar steeds daar. Dit was ook as gevolg van ’n flater. Dalk ’n groter een as vanaand s’n toe ek nie dadelik die voordeur agter my gesluit het nie. Ek besluit nog.

    Hy lag skielik, sukkelend. Dis ’n lelike klank wat in sy neus opstoot en bloederige spoeg oor sy lippe laat spat.

    Jy’s ’n lelike, ou vrou.

    Die valse bravade laat hom stik. Hy hoes links, raak naar. Die stink, suur reuk van verteerde kos hang in die lug.

    Ek haal deur my mond asem en kyk weg. Hou by die ou reëls, maan ek myself, dié wat werk. Moenie verraai wat jy voel nie. Moenie wys dat jy bang is nie.

    Uiteindelik praat ek, my stem kalm en gelykmatig. Die man wat my hierdie merk gegee het, was drie-en-vyftig. ’n Fransman. Klein moedswillige bliksem. Ek lag en wys met my duim en voorvinger. Kléin. Hy het daarvan gehou om pyn uit te deel.

    Ek gaan staan voor die man, sit my hand op sy regterskouer, op die mes se hef. Kyk hom in die oë en draai die lem stadig.

    Hy skree. Dan verdof sy oë, soos poele water wat stadig ys word.

    Ek hou my doof, onderdruk die ligte trilling in my hande. Vat weer die mes vas.

    Die Fransman het my in die bed vasgebind en my hierdie gegee ná ’n baie, baie lang nag.

    Weer draai ek die mes. Hy gil van die pyn.

    Waarna soek jy? Wie het jou gestuur?

    Ek leun vorentoe, my gesig in sy nek. Hy ruik na goedkoop naskeermiddel, sweet en chemikalieë. Dit wat in sy bloed was, is besig om by sy porieë uit te sypel.

    Toe ek uiteindelik kon loskom, het ek die Fransman ook een gegee. Langer en dieper, fluister ek teen sy vel.

    Ek druk die mes in sy skouer in. Los. Staan terug. Wat soek jy hier?

    Sy asemhaling word vlakker. Asseblief. Bel. Ambulans.

    Wie het jou gestuur? Hoekom is jy hier?

    Ek vat weer die mes vas, stoot my vrees en skuld eenkant toe. Ek móét weet.

    Ek vra jou vir die laaste keer: Wat soek jy hier? Wie het jou gestuur?

    Vrees vul sy gesig. Frommel dit tot ’n angstige vuis en vee alles anders uit.

    Hy begin huil. Ek soek … soek na Naomi!

    Hy snak na asem en word dan stil. Sy oë gaan toe.

    My hand los vanself die mes, val tot langs my sy. Naomi? Hoe het hy geweet waar sy werk?

    Ek sluk die rou, bitter vloekwoord wat in my keel opstoot. Swak mense vloek. Mense wat nie weet wat om te doen nie.

    Ek skuif my stoel tot langs die man en sit my hand oor syne. Die regterhand, die een wat op sy bobeen lê. Ek vee die sweet van sy voorkop af. Die kuif uit sy oë, al is hulle toe. Dan die onverwagte natheid uit myne, al weet ek hy was nie vanaand by Crow’s om blomme af te lewer nie.

    Ons bly so sit. Dis te laat vir ’n ambulans.

    Een minuut tik verby, dalk minder, tot sy asem sagter word en verdwyn.

    Ek staan op, moeg en steeds omgekrap. Agter die kroegtoonbank maak ek die kluis oop en haal ’n rooi boekie uit. Ek skink Magnum Grey Goose Premium Vodka in ’n kristalglas en drink twee keer terwyl ek deur die name op my foon soek. Dan werk ek deur die lys in die rooi boekie.

    Geen naam stel my tevrede nie. Daar is ’n handvol mense wat die vuilwerk kan doen, maar niemand wat verder kan dink nie. Ek het nie net ’n probleem om van ontslae te raak nie, ek wil ook weet waar dit vandaan kom. En Naomi gaan lieg. Dit weet ek uit ondervinding.

    Ek blaai weer deur die boekie. Hier is buitendien niemand wat ek regtig meer vertrou nie. Ek lag amper. Twee jaar gelede sou dit anders gewees het. Vreemd hoe dinge verander, hoe ’n mens se vertroueskaal skuif. Herkalibreer, al sweer jy niks kan jou meer verras nie, niemand kan meer naby jou kom nie.

    Ek maak die boekie toe en tel my foon op.

    RANNA

    1

    Die sweet loop in ’n dun, blink straal teen sy maer gesig af. Hy vee dit weg met ’n krom wysvinger, dwars oor sy wang, so asof dit trane is. Sy bruin oë soek regs en links verby my en Alex, kom dan terug na ons.

    Is jy seker hulle sal ons nie hier kry nie? vra hy.

    Ek dink so.

    Alex klink nie oortuig nie. Ek kan sien hy is in twee geskeur. Hy wil nie beloftes maak nie, maar dis tyd dat Hakeem sy storie vertel. Dis hoekom ons hier is. Dis waarvoor die koerant in Pretoria wag.

    Ek dink ons kan ’n uur of twee hier sit sonder dat iemand ons pla. Min uniforms weet van hierdie plek. Die sjebeen, ’n stowwerige sinkvertrek met ’n yskas en ’n paar skewe, handgemaakte tafels, lê weggesteek agter ’n verlate stoor aan die rand van Musina, daar waar die strate uitrafel tot stofpaaie. Waar hulle uiteindelik dowwe enkelspoorpaadjies word wat tot by die Limpopo-grens lei. En dis nog vroeg, elfuur in die oggend – lank voor die meeste mense ’n koue bier by plekke soos dié kom soek. Plekke wat vir die donker wag voor hulle oopmaak. Plekke wat verdwyn en môre, oormôre iewers anders opskiet.

    Al wat my bekommer is die goema-goemas. Hakeem het hulle op pad hierheen teëgekom – die bende wat hul groepie vlugtelinge wat oor die grens gesluip het, beroof en die vrouens verkrag het. Hulle maak van die Desember-chaos by die grenspos gebruik, en wie weet waar hulle nou skuil.

    Ek dink ons is okay, sê Alex weer toe Hakeem nie antwoord nie. Maar dis dalk ’n goeie plan om gou te maak. Wat dink jy?

    Miskien. Seker.

    Die Ethiopiër se Engels klink asof hy dit uit televisiereekse en flieks geleer het. Geradbraak en met ’n effens Amerikaanse verbuiging.

    Hoe lank het dit gevat om van Addis Abeba tot hier te kom? Alex drink aan sy bier en hou die fyn gesig voor hom dop.

    Hakeem skuif die blou plastiekbeker van een hand na die ander. Ek moet eers weet dis veilig. Ek kan nie teruggaan nie.

    Niks wat ons doen, gaan maak dat jy moet teruggaan nie, sê Alex. Dis al wat ek jou kan belowe. Ek sal vir niemand jou volle naam gee nie, al doen hulle wat. Ek sal net jou eerste naam gebruik.

    Hakeem vee oor sy bolip, sy adamsappel. Baie mense het beloftes gemaak. Niemand het hulle gehou nie.

    Hy beduie na die grond onder sy sandale, die bloeiende blase aan sy regtervoet. Iemand moes ons kom optel en het nie. Ons sou in Johannesburg gaan werk. Alles was gereël en betaal en nou is alles weg. Almal weg. Hy sit sy hande teenmekaar asof hy bid.

    Ek’s jammer daaroor.

    Ek kan nie jou jammerte eet nie.

    Alex kyk na my. Ek knik stadig. Dit was moeilik om iemand soos Hakeem op te spoor. Ons kan hom nie nou verloor nie.

    Alex sit sy notaboek neer en haal sy beursie uit. Tel die geld daarin onder die tafel sodat Hakeem nie kan sien hoeveel note daar is nie. Kyk dan op. Ek het vyfhonderd rand. Dit kan help. Dalk kan jy vir jou nuwe skoene koop?

    Hakeem kyk weer vinnig links en regs. Hy beduie Alex moet sagter praat, al staan niemand naby genoeg om te hoor nie.

    Jammer. Alex laat sak sy stem tot soveel van ’n fluistering as waartoe ’n man in staat is. Dis al wat ek het.

    Hakeem dink ’n oomblik, hou dan sy hand uit. Goed.

    Alex haal die note uit, maar oorhandig dit nie. Hy beduie met sy kop na my. Nog een ding: ons soek ’n foto van jou.

    Hakeem se hand word ’n vuis. Geen foto’s nie. Nee, glad nie. Nee, sê hy kortaf.

    Niemand sal jou gesig sien nie. Ek belowe.

    Hakeem bly stil.

    Ek wil nie jou storie koop nie. Alex druk die geld terug in sy beursie. Ek wil jou help. Help my om jou te help. Vertel vir mense hoekom jy al die pad van Addis Abeba af hiernatoe geloop het. Hoekom jy hier is.

    Almal weet dit.

    Nie almal verstaan nie.

    Alex drink sy laaste sluk bier. Myne is lankal op. Dis heluit warm, moet naby aan veertig grade wees, selfs meer hier binne onder die sinkplate.

    Hakeem vou sy hande saam op sy skoot. Sy oë soek van die plastiekbeker na Alex se beursie na my. Loop dieselfde pad terug.

    Werk. Hier is baie werk. Baie geld. My familie kry swaar. My susters. Dis hoekom.

    Uiteindelik.

    Ek leun vorentoe en haal die kamera uit die rugsak by my voete. Ek het nog niks vir Hakeem gewys wat hom sou skrikmaak nie.

    Hy kyk weer na die beursie in Alex se hand. Drink die laaste sap in sy beker. Soek na die kroegman wat die deur oppas om seker te maak niemand pla ons nie – dit het ook reeds geld gekos.

    Dan waarsku hy met ’n besliste wysvinger: Een foto.

    Alex gee hom die geld, en begin skryf terwyl hy praat. Ek staan op en gaan kniel op die grond, die kamera gereed.

    Deur die lens is die lig geel en warm, die enigste perfekte ding in hierdie plek. Ek wens skielik ons was iewers anders. Iewers beter. Skoner. Veiliger.

    Maar dis net ons, hier: die kroegman, Alex, ek en die sestienjarige seun.

    2

    Alex staar na die rekenaarskerm. Dis ’n goeie foto. Sou ek dit kon neem?

    Ek gaan staan agter sy stoel, die rekenaarskerm die enigste lig in die klein eetkamer wat ons as studeerkamer gebruik. Laat rus my hande op sy skouers. Die gordyne bol en sak soos die koel nagwind deur die oop venster waai en die hitte van vroeër die dag verdryf. Die lou water van die stort waaruit ek pas geklim het klou steeds aan my lyf en hare. Maak die lang, stadige uitasem van die dag nog beter.

    Die foto wys Hakeem se maer bene in sy stukkende donkerblou sweetpakbroek. Sy dun, stowwerige enkels. Sy moeg geloopte voetsole. Die tuisgemaakte sandale.

    Ek soen Alex in die nek, maar sy oë bly op die rekenaarskerm.

    Ek dink so. Jy raak al hoe beter. Het jy nog nie agtergekom nie?

    Ek kan nie dink enigiemand glo ek neem hierdie foto’s nie, sê hy.

    En dan skryf jy nog sulke goeie stories ook.

    Gelukkig het my joernalistiekgraad fotografie ingesluit. Anders het ek nie geweet hoe om dit te verduidelik nie. Hy draai sy kop skeef, lag effens. Pla dit jou? Dat niemand van jou mag weet nie? Dat niemand weet jy neem hierdie foto’s nie?

    Ek skuif verby sy skouers, genoeg dat hy kan sien ek is nog kaal van die stort. Ek word met ’n glimlag beloon. Arms wat oopmaak.

    Ek gaan sit skuins op sy skoot. Soen hom weer in die nek, die hoek van sy mond. Stuur die foto en kom bed toe, sê ek naby sy oor. Dit was ’n baie lang dag. Besef dan dis reeds lank na twaalf. Dag én aand.

    Hy vee my nat hare uit die pad en soen my skouer. Ek moet nog net die onderskrif skryf.

    Los dit vir die nuusredakteur. Of sy assistent. Hulle het Hakeem se naam.

    Sy linkerhand beweeg op met my rug, sy regterhand trek my heupe nader aan syne. Jenny mag dalk sukkel. Sy’s nog nuut.

    Ek leun terug sodat ek hom in die oë kan kyk. Wanneer het sy nuusredakteur geword? Verlede week het sy nog stories gesub.

    Sy’s die nuwe assistent-nuusredakteur. En moenie nou weer ontsteld raak nie.

    Ek draai my uit sy arms en staan op.

    Ranna, dit was lank gelede. Jy was weg. Jy het weggeloop.

    Maak nie saak nie.

    Jy’s onredelik.

    Ek weet. Ek gee nie om nie.

    Dit maak dit nie reg …

    My foon begin lui, gaan dood, lui weer.

    Ek loop kamer toe om daar te antwoord. Agter my hoor ek die lessenaarstoel oor die teëls skuif, lang treë wat my volg.

    Los die foon, Ranna. Praat met my.

    Ek druk die BlackBerry teen my oor. Net ’n paar mense het hierdie nommer.

    Ranna? groet haar stem voor ek kan. Dis Adriana.

    Ek sal alleen gaan. Jy kan hier bly. Ek hark my jeans nader en trek die swart T-hemp oor my kop. Werk saam met Jenny aan jou onderskrif.

    Hy bly roerloos staan. Begin lag. Jy’s nie kwaad nie. Jy’s jaloers.

    Natuurlik is ek.

    Ek sit my silwerarmbande een vir een aan. Soek my stewels. Vee die krulle agtertoe, maar dit val weer oor my skouer. Ek moet nog gewoond raak aan die korter haarstyl wat my vorige beeld moet uitwis. Nes die donkerblonde kleur.

    Alex kom staan voor my, sit sy hand op my arm. Vee met sy duim oor my pols, sag en stadig. Ranna, dit was een nag. ’n Fout.

    Fout? Nou voel ek amper jammer vir Jenny.

    Goed. Hy heroorweeg sy antwoord. Sy was nie ’n fout nie. Ek wou, want jy het weggehardloop.

    Ek draai weg en gaan sit op die bed. Begin my stewels aantrek. Ek het nie weggehardloop nie. Ek moes, want … Los dit.

    Hy kom sit langs my. Ons kan gesels wanneer ons terug is.

    Óns? Dis Adriana wat gebel het. Hoe sê jy altyd? Dáái vrou. Jy hoef nie betrokke te raak nie. Nie weer nie.

    Dis moeilikheid soek om nou Johannesburg toe te neuk.

    Al amptelike rekords van my wat nog bestaan, is ’n internasionale dossier, vol spekulasie, waarna min mense ooit kyk. En dalk ’n paar ou, swak foto’s hier en daar in koerantargiewe. Tom se moorddossier is weg, die ondersoekbeampte het selfmoord gepleeg, en dis amper twee jaar later.

    Dit maak dit nie veilig nie.

    Daar is niks veiligs aan die lewe nie. Dit eindig altyd in trane. Altans, dis wat ek hoor.

    Is dit wragtig jou dag vir bullshit-antwoorde? Hy draai my gesig sodat ek na hom moet kyk. Voor jy op jou wit perd spring, dink net vir ’n oomblik daaraan dat jy nee kan sê.

    Nie regtig nie. Ek is diep in die skuld by Adriana. As dit nie vir haar was nie, was ek nie vanaand hier nie. Waar dink jy is daai dossier heen? Al die bewysstukke? Hoekom kan jy hier sit en met my raas?

    En as sy aanhou vra? As een keer nie genoeg is nie?

    Ek sal nee sê as sy weer vra. Maar ek dink nie sy sal nie.

    Ek dink nie jy ken haar goed genoeg om dit te kan sê nie.

    Hoe weet jy?

    Hy kyk stip na my. Is jy verveeld?

    Ek hou op sukkel met die regterstewel se veters. Wat bedoel jy?

    Is die stories wat ons doen nie opwindend genoeg nie?

    Vanmiddag het ons met ’n onwettige immigrant op soek na ’n Suid-Afrikaanse paspoort gepraat, ná ons ’n amptenaar van binnelandse sake en ’n sjebeeneienaar omgekoop het om te sê waar ons hom in die hande kan kry. Ons bly tussen duisende mense wat oor die grens stroom terug Zimbabwe toe, terwyl ander die kans gebruik om in te kom. Dink jy ek is verveeld?

    Ek wil opstaan, maar hy vang my hand en hou my terug.

    Hy wag tot ek vir hom kyk voor hy vra: Regtig?

    Regtig. Ek hou my hand op. Sweer.

    3

    Toe ons by die huis uitstap, herken Alex die maer figuur by die hek onmiddellik. Moet die nuwe, nagemaakte Nikes wees. Vyfhonderd rand koop nie regtes nie.

    Hier kom moeilikheid, sê hy oor sy skouer. Hy sluit die bakkie oop, gooi sy sportsak agter die sitplek in en hou sy hand uit vir my tas. Ek gee dit vir hom, maar hou die rugsak met my kamera by my.

    Hakeem sê nie ’n woord nie. Staan net op die sypaadjie in sy dun wit T-hemp met sy arms om sy lyf geslaan teen die byt van die vroegoggendlug.

    Hoe het jy ons in die hande gekry? vra ek vir hom deur die swart traliehek.

    Hy trek net sy skouers op.

    Alex maak die Ranger se deur vir my oop, wag dat ek inklim. Ek wil nie.

    Ons neem nie stories huis toe nie, Ranna.

    Hakeem moet sien dinge is nie besig om in sy guns te swaai nie.

    Ek wil Johannesburg toe, sê hy vinnig. Hy druk sy lyf teen die hek, sy hande om die staalstawe gevou. Sy oë skiet van Alex na my. Asseblief.

    Het jy ons gevolg? vra ek.

    Julle ry stadig. En meeste mense ry wit bakkies, met vier deure. Julle s’n is nuut en dis blou. En die nommerplaat sê GP, nie L nie.

    Alex het die bakkie gekies, ek die kleur. Ek kyk na hom. My skuld.

    Maar hoekom dink ek ons al twee gaan daarvoor betaal? Daar is ’n sweem van ’n glimlag om sy mond.

    Ek draai terug na Hakeem. Kom. Ons sal jou vat. Ek maak die hek oop met die afstandbeheer aan die huissleutels.

    Hy duik deur die opening toe dit net-net groot genoeg is. Dankie. Dankie.

    Ek maak die bakkie se seil aan die een kant los. Hy spring op en skuif tot teen die agterruit. Laat sak sy kop op sy arms asof hy wil slaap. Asof hy nie vir Alex wil kans gee om nee te sê nie.

    Ek grawe in my rugsak en haal die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1