Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Stippellyn
Stippellyn
Stippellyn
Ebook291 pages4 hours

Stippellyn

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Sy het gedink dit was verby; ’n hoofstuk van haar lewe wat afgesluit is, maar toe sien sy uit die hoek van haar oog die gestalte by die begrafnisdiens inloop, ’n lang, benerige man met ’n effens ongekoördineerde manier van beweeg. Lana raak oombliklik naar en lighoofdig van die skrik. Dit is asof sy in ʼn yskoue stilte inplons, tuimel deur die afsondering en bo-aardse stilte van water, en vir altyd net daar wil bly.

Lana sal mettertyd agterkom dat herlewing en die dood dikwels dieselfde skokeffek het, en dat dit dan bitter moeilik is om vas te stel wat die begin en wat die einde is.

Erika Murray-Theron stuur haar karakters met soveel intelligensie en subtiliteit op hul lewensweë dat Stippellyn die gewaarwording bring van ’n ontdekking van die lewe self.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 15, 2014
ISBN9780624067788
Stippellyn
Author

Erika Murray Theron

Erika Isabel Murray is op 1 Oktober 1941 in Greytown gebore. Sy matrikuleer in 1958 aan die Hoërskool Glencoe en verwerf ’n BA-graad (Afrikaans/Nederlands en Sielkunde) en ’n honneursgraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy behaal ook later ’n honneursgraad in Afrikaans aan Unisa. Sy het as vakkundige beampte by die departement van Arbeid gewerk, was daarna verbonde aan Unisa se departement van Sielkunde, het later vryskutvertaalwerk in die vak Sielkunde vir Unisa gedoen, was as berader verbonde aan FAMSA en was gereeld op aflosbasis Afrikaansonderwyser. Sy was op verskillende maniere by die gemeenskap betrokke – onder andere by die plaaslike hoërskool, die gemeenskapsbiblioteek, as redakteur van ’n gemeenteblad en by die skakeling tussen leeskringe in Pretoria, waar sy woon. Sy doen vertaalwerk, word van tyd tot tyd gevra om manuskripte te lees en tree ook soms as spreker op. Sy skryf aanvanklik tydskrifverhale vir Sarie en later ook vir tydskrifte soos De Kat en Tydskrif vir Letterkunde. Haar eerste roman, Wie is jy Elizabeth?, verskyn in 1989 by Tafelberg. In 2002 ontvang haar roman Sê Maria die ATKV-prosaprys. In 2007 word die manuskrip van ’n Tapiserrie met klein diere as die wenner in Sanlam/Insig/Tafelberg se Groot Romanwedstryd aangewys.

Related to Stippellyn

Related ebooks

Related articles

Reviews for Stippellyn

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Stippellyn - Erika Murray Theron

    Erika Murray-Theron

    Stippellyn

    Tafelberg

    Hoe het dit begin? Terwyl sy probeer onthou, skuif dit steeds verder van haar af weg. Daarby het die nóú ’n terugwerkende effek op tóé. Elke nuwe dag verander hoe alles uiteindelik afgeloop het en plaas dit wat voorafgegaan het in ’n nuwe lig.

    Meneer N se dood was nie die begin nie. Nee. Dit was ook nie ’n slot nie.

    Behalwe vir hom, natuurlik. Vir hom was dit ’n slot.

    1

    Daardie oggend word Lana wakker voordat die wekker lui. Sy lê nog ’n rukkie met opgetrekte bene, handpalm onder die wang, ingeskulp in die warmte van haar bed. Soos altyd moet sy haarself ’n bietjie staal voor sy reg is om die dag aan te durf. Toe draai sy op haar rug en strek haar arms en bene; sy vind met haar vingertoppe en tone die koel uithoekies van die bed. Sy registreer die fyn tekstuur van die katoenlakens. Sy het ’n swakheid vir mooi linne omdat dit ’n weelde is wat sy lank nie geken het nie. Dit is ook haar antwoord op die duisend keer dat sy al in haar lewe hospitaalbeddens moes oortrek met utilitêre, plankagtige lakens en treklakens wat na wassery ruik.

    Dis nog donker, maar Pretoria se vroegoggendverkeer dreun al ononderbroke. Sy verbeel haar soms dat die gedruis dié van die see is. In die palmboom ver onder die hoë woonstelvenster tjilp ’n paar stadsmossies. Opstaantyd. Klaar gelê. Sy skrik, want die wekker het begin skel voor sy dit vroegtydig kon dooddruk. Nou moet sy gou maak: badkamer toe gaan, gesig was, haarself regkry, iets eet. Sy kan dit alles amper gedagteloos doen. Sy dink eerder aan wat by die werk voorlê: ’n nuwe langtermyn-opname, altyd moeilik omdat dit soveel emosie behels, nie net by die onseker en verwarde pasiënt nie, maar veral ook by die familie. Maar sy verwag nie dat die dag op enige manier sal verskil van al haar ander vol en verantwoordelike dae nie.

    Voor sy haar skouersak en motorsleutels neem, kyk sy vir oulaas of sy reg lyk. Sy is netjies in haar verpleeguniform: die donkerblou langbroek, die blou oopknooptrui oor die wit hemp met die kraag en die donkerrooi epoulette. Haar hare is agter haar kop vasgemaak. Sy dra min grimering. Sy weet dat sy strenger en ontoegankliker lyk as wat sy is en dat iets aan haar voorkoms ander soms intimideer, maar sy kan niks daaromtrent doen nie. Partykeer staar sy in die spieël om te probeer uitmaak waar dit lê. Dalk het dit te make met haar lengte, die bietjie somberheid van haar donker oë, haar swaar ooglede. Miskien lees mense haar sosiale ongemak as meerderwaardigheid.

    Sy stoot haar voordeur se veiligheidshek met ’n klein metaalagtige gekletter agter haar toe, draai die sleutel twee maal in die slot en staan dan eers stil, haar hand op die reling, en kyk in die trapskag af. Die trap wentel sewe verdiepings ver na onder, dit vou al hoe nouer om homself tot waar die reghoekige opening soos ’n skoendoos lyk. Eienaardig dat diepte jou kan aantrek en terselfdertyd jou maag laat draai. Soggens kies sy die trap, nie net uit vrees vir die donker en beknoptheid van die hysbak as ’n kragonderbreking haar daarin vaskeer nie, maar omdat sy dan ook nie by die kliniek sal kan uitkom nie.

    Haar bene is sterk en nog jeugdig genoeg, haar asem jaag nie, haar voete is gemaklik in haar werkskoene. Om en om na onder. Sy daal áf. Op ’n trap lê ’n leë tjipspakkie, sy buk om dit op te tel, en ’n beeld uit ’n film wat sy jare gelede gesien het, kom by haar op. Dit speel in Rio de Janeiro af. Sy onthou die karnavaltonele, en die swart Orpheus wat sy Eurydice die onderwêreld in volg, af en af en af met ’n stel trappe, met iewers ’n figuur met ’n besem wat derduisende swewende velle papier probeer saamvee: die name en besonderhede van verlore mense.

    Buite vou Lana haar arms om haar lyf: dis maar die begin van Mei, maar daar is al ’n goeie knyp in die lug. Sy wil die tjipspakkie in een van die ry asblikke langs die woonstelgebou gooi, besef dan dat die pakkie nie heeltemal leeg is nie. Sy aarsel voordat sy die asblikdeksel daarop laat terugsak. As jy met min grootgeword het, blý dit teen jou grein om kos weg te gooi. Maar wanneer die asblikke vanaand uitgestoot word straat toe vir môre se vuilgoedverwyderaars, sal van die vergaderaars wat snags of donkeroggend verbykom om dit vir karton en verkoopbare artikels te fynkam, wel daarop afkom. So troos sy haarself.

    Soos elke oggend is sy verlig dat haar ou wit Toyota nog op die woonstel se oop parkeerterrein is. Haar motorhuis is stampvol meubels en gestapelde bokse wat sy vier maande gelede van haar ma se huis laat aanry het.

    Toe sy wegtrek, steek sy al haar hand uit na die knoppie van die motorradio. Dis op die klassiekemusiek-stasie gestel. ’n Deel van Bach se Goldberg-variasies, Glenn Gould, herken sy dadelik. Maar die musiek word onderbreek deur die dag se eerste verkeersverslag en daarna die vroegoggendnuus. Sy het nie eintlik krag hiervoor nie, maar luister tog na die dag se vraggie internasionale ongedurigheid en moles. Israelse troepe wat sou onttrek, sit steeds in Libanon. ’n Wolk van korrupsie hang om die kop van die Israeliese eerste minister. Rewolusionêre magte in Sierra Leone het honderde VN-soldate gevange geneem, van hulle is dood. Rebelle het twee Suid-Afrikaners in die Filippyne ontvoer. Hul storie vang haar aandag vas omdat sy haar met hulle kan vereenselwig. Strydom – nogal haar ma se nooiensvan. Hoe moet dit wees om die een dag bederf en versorg in ’n poskaart- idilliese omgewing vakansie te hou, met skoon onderklere in jou tas en ’n boek langs jou hotelbed en jou lipstiffie en donkerbril in jou handsak, en die volgende dag sonder bedekking in die oopte op die grond te slaap, uitgelewer aan die duister agendas van vegters met gewere, létterlik nie van jou lewe seker nie?

    Hoe is oorlog regtig?

    Dis die begin van ’n splinternuwe eeu, maar niks klink juis anders as voorheen nie, dink sy. Miskien bewys dit maar net hoe die mensdom inherent is. Selfs in die kliniek waar sy werk, op die oog af ’n hawe van rustigheid, waar dood en oorlewing nie aan geweld van buite gekoppel is nie, merk sy die tekens daarvan. Die aggressiewe selfsug van party oumense se eise, die fokus op die ék.

    Die sekuriteitsman by die kliniek se hek groet haar met ’n glimlag. So vroeg in die oggend is haar gewone parkeerplek onder ’n karobboom nog oop. Bekend is die knars van die gruisklippies onder haar voete, die sementpaadjie en die skuinste vir rolstoele, die glasvoordeur van die aftreeoord, die roomkleurige vloerteëls in die portaal, die dienskamer met die matrone se kantoor langsaan, die skrape en duikies op die metaaldeur van die hysbak. En dan, wanneer sy op die amper oorverwarmde derde verdieping uitklim, die intensiewe reuk van hospitaal en oumense. Dit is haar wêreld. Sy is hoof van die dagpersoneel, wat bestaan uit nog ’n verpleegster, drie hulpverpleegsters en die twee skoonmakers.

    By die toonbank kyk die groot, tam, permanent gekrenkte nagsuster, Rita, opsigtelik na haar horlosie. Lana is nie laat nie. Sy trek onverstoord haar trui uit en bêre dit en haar handsak in haar sluitkassie in die dienskamer voordat hulle saam die nagregister afteken en Rita huis toe kan gaan.

    Toe sy alleen is, kyk sy die register nog ’n keer noukeurig deur voordat sy haar oggendronde by die pasiënte doen. Hier, tussen die arme kwesbares, word sy spontaan en warm. Word haar stem laer, kan sy troos en paai en aanmoedig en gerusstel en terg. Ouderdom intimideer haar nie en versper ook nie haar pasiënte se menslikheid nie.

    Sy het nogtans gunstelinge. Sy bêre meneer Nicolić se hoekkamer vir laaste. Hy herinner haar aan iemand, maar sy weet nie aan wie nie. Hy raak haar, hy haal iets besonders uit haar. Dalk omdat sy beroerte dit vir hom onmoontlik maak om vir enigiets te vra, is sy skerper ingestel op sy gemak of ongemak. Dit is sy gordyne wat sy self verstel sodat die somerson nie in sy oë skyn nie, sodat die wintersonnetjie na binne kan straal, sodat hy die esdoringboom in die tuin beter kan sien. Dit is aan hom dat sy liefderik raak: aan sy skouer, aan sy hand, aan sy kop. Dit is hy wat die diepste klank uit haar roep. Daarom staan sy verstar in sy kamerdeur toe sy sien wat gebeur het. Haar hand gaan van skrik na haar bors. Haar vingers raak aan haar naamplaatjie, aan die ogies van die skêr in haar bosak. Sy voel die vol sagtheid van haar borste onder haar voorarm. Klein, bekende sensasies, ’n gerusstelling.

    Sy is nie ongewoond aan dood nie. So vanselfsprekend en natuurlik soos geboorte in ’n kraamafdeling, is die teenwoordigheid van dood hier. In die sorgsentrum gaan dit nie gewoonweg om ouderdom nie. Ekstreme ouderdom is iets anders. ’n Aparte menslike stadium. Daar is geen versagting, geen eufemismes vir die aftakeling en vernedering daarvan nie. Dikwels wonder sy hoe jy mense se blootstelling daaraan moet beskryf. Sê jy byvoorbeeld iemand word die slagoffer van ouderdom? Kan jy sê dat iemand aan ouderdom ly?

    Meneer Nicolić sou binnekort vier en negentig geword het. In die maande wat hy in die kliniek was, het van die ander personeel begin om hom in sy sprakeloosheid soos ’n kind te behandel, om in verkleinwoordjies met hom te praat. Nooit sy nie. Nou lê hy op sy rug in ten volle herstelde waardigheid. Sy kyk na sy profiel en soek die regte woord daarvoor. Hoogheid. Wat ’n indrukwekkende ou man is hy nie, ten spyte van die gevlekte, perkamentgeel vel wat oor sy gesig en skedel en oor sy lang hande span. Sy sien die vorm van sy kop, sy prominente wangbene, die streng kromming van sy neus, die skoon vlakke van sy slape en wange.

    Sy oë is met finaliteit toe, sy mond effens oop. Sy bene is reguit gestrek, sy hande lê oorkruis op sy bors asof hy ander die moeite wou spaar om hom uit te lê.

    Sy leun oor die opgeklapte tralies van die hoë hospitaalbed om heeltemal seker te maak. Sy luister. Lig die skeletagtige arm van sy bors om ’n polsslag te probeer kry. Sy hand is nog warm, maar heeltemal passief, die mou van sy bruin-en-wit gestreepte pajamas gly terug. Teen sy keel vind haar vingers geen klopping nie. Sy trek saggies die laken oor die gebeitelde gesig waar die grouheid van die dood reeds begin oorneem het. Sy gaan uit en maak die kamerdeur agter haar toe, bly ’n rukkie met haar rug daarteen staan.

    Heel eerste moet Cornelia, die matrone van die aftree-oord, weet wat gebeur het sodat sy die nuus aan mevrou Nicolić kan oordra. Lana sal in die lêer kyk en die aangewese dokter en begrafnisondernemer bel. Daarna moet hy gewas en gereed gemaak word om weggeneem te word.

    Sy wonder oor sy familie. Sy verstaan hy het kinders, maar sy het hulle nog nooit gesien nie en hul telefoonnommers is nie in sy lêer nie. Mevrou N woon nog – Lana, wat nie vir die dood bang is nie, skram nie weg van wat die woordjie nog omtrent verganklikheid sê nie – mevrou N lewe nog en woon in die tweekamerwoonstel op die grondverdieping, langs die hysbak waar sy ingetrek het nadat haar man se tweede beroerte hulle agt maande gelede gedwing het om hul huis te verkoop en hom te laat opneem in die kliniek. Meestal is dit die onuitroeibare vrouens wat alleen stokoud word nadat hulle in hul sestig- of sewentigerjare hul mans begrawe het. Dis selde die man wat oorbly. Maar af en toe haak ’n egpaar by mekaar in en durf saam die gryse vertes aan. John Anderson, my jo, John, we clamb the hill thegither …

    Mevrou N het klokslag tienuur soggens by die kliniek aangemeld en die grootste deel van die dag by haar man deurgebring. Geklee in toeryg-loopskoene en kouse, ’n donkerblou baadjiepak met die opgestopte skouers van jare gelede en ’n markasietborsspeldjie op die lapel, ’n wit of roomkleurige bloese. Altyd dieselfde swaar silwerketting met die medaljon daaraan om haar nek, ringe aan haar geknotte vingers. Haar hare onberispelik gekam en vasgevat in ’n vals bolla ’n paar skakerings donkerder as haar witgrys hare, die vlekkies op haar gesig met onderlaag bedek, die oë omlyn, die mond ingekleur. Jaar na jaar moet die regmaakproses langer geduur het.

    Waarmee sou haar gedagtes deur die lang ure in sy kamer besig gewees het? Sy het nie sit en lees nie. Hulle kon nie praat nie. Lana het soms haar stem gehoor, maar hoe bevredigend kan ’n monoloog wees? Dis onseker hoeveel meneer N verstaan het van wat vir hom gesê is. Selfs wanneer die verpleegsters hom in sy stoel laat sit het, vasgemaak sodat hy nie vorentoe kon gly of omval nie, het hy ingesluimer. Tienuur het sy vrou hom sy tee uit ’n tuitbekertjie laat drink voordat sy haar eie in ’n koppie geskink het. Middagete het sy hom self gevoer. Haar bord kos het op ’n skinkbord van die aftree-oord se kombuis gekom en koud geword terwyl hy klaar geëet het. Smiddags het sy ’n uur of wat in haar woonstel gaan rus, maar voor sy aandete om vyfuur aangekom het, was sy terug om weer te help, en sy het gebly tot die verpleegster twee uur later aan die deur geklop het vir sy slaaptyd-rituele.

    En daarna? Lana het ’n roman van Muriel Spark gelees waarin ’n karakter eenvoudig ophou bestaan wanneer haar deur toegaan. Maar mevrou N moet ’n bestaan en ’n eie denkwêreld hê. Dit word gewaarborg deur die skerpheid van haar blik, haar vasberadenheid wanneer dit af en toe by kritiek op die kliniek se versorging van haar man kom, die beleefdheid en sekerheid waarmee sy die afstand tussen haar en ander bewaar. Formeel en privaat, so dink Lana aan haar. Intelligent. ’n Bietjie eksoties.

    Pas na die sterftesertifikaat geteken is, kom mevrou N aan die arm van die matrone daar aan. Lana het haar nog nooit so gesien nie. Sy dra ’n lang blou kamerjas en skaapvelpantoffels, haar gesig is naak, vol ouderdomsvlekke, die hare sonder die vals bolla is yl en verslaap. Sy sou haar nie vrywillig só aan die buitewêreld blootgestel het nie, die matrone moet verduidelik het daar is nie tyd as sy haar man nog wou sien voor die ondernemers hom kom weghaal nie. Want so is die kliniek se reëling. Die afhandelproses moet voortgaan, die beleid is om nie te wag op familie wat ’n bietjie ver woon nie. Selfs nie eens as hulle van Johannesburg of Bronkhorstspruit moet kom nie.

    Al moet mevrou N noodwendig besef het dat ’n bedlêende man van in die negentig nie vir altyd kon lewe nie, ly sy sigbaar aan skok. Maar waar hulle drie vroue nou langs meneer Nicolić se bed staan, het sy haar arm van dié van die matrone losgemaak: Ek wil hom sien.

    Lana vou die laken terug. Hoe stil is ’n dooie, het die seun van ’n gestorwe pasiënt eendag saggies gesê. Stiller as ’n vloer.

    Mevrou N het op die stoel langs die bed gaan sit. Sy kyk op en knik haar kop. Dankie, sê sy. Die ander twee is ontslaan.

    Vanaf die dienstoonbank hou Lana die toe deur dop. Na ’n ruk vra sy ’n hulpverpleegster om tee te maak. Sy neem dit by haar, gaan klop aan, sit die skinkbordjie op die dienstrollie in die hoek van die kamer neer, skink. Suiker? vra sy die vrou wat steeds roerloos en met droë oë langs haar man se liggaam sit. Melk? En toe, troostend: Kom, drink dit maar. Dis lekker warm.

    Die koppie bewe in mevrou N se hande, die tee stort oor die rand. Mondjievol vir mondjievol sluk sy dit. Wat nou? vra sy toe. Wat gebeur nou?

    Soos altyd ruk die vraag Lana aan die hart. Die wat nou? na ’n dood.

    Ek gaan Mevrou terugneem woonstel toe. Ons moet nog ’n paar goed doen voor die ondernemers u man se liggaam kom haal.

    Ek sal hom nie weer sien nie?

    Nie hier nie, nee. Miskien later, by die ondernemers, as u sou wil.

    Ek sal bly.

    Liewer nie …

    Hoekom mag ek nie? Ek moet jou vertel dat dit nie vir my ’n vreemde taak is. Ek self het lyke uitgelê.

    Lana stry nie verder nie. Sy gaan haal ’n verpleegster, en saam met haar doen sy nou wat sy meestal aan ander oorlaat. Terwyl mevrou Nicolić sit en kyk, was hulle haar man, vervang sy nagklere, lê sy lang bene reguit neer, sit sy gebit in sy mond, stut sy kaak, neem eindelik sy twee hande, lig sy arms met ’n geoefende gebaar en laat hulle sak sodat sy hande weer oor sy bors gevou is. Nie te lank gelede nie was Lana ontroer deur dié klein handeling in ’n Japanse kunsfilm oor die seremoniële gereedmaak van gestorwenes vir hul laaste reis. Dis met dieselfde sensitiwiteit en respek waarmee sy meneer Nicolić vandag vir oulaas aanraak.

    Eers nadat die begrafnisondernemers gekom het, neem sy mevrou N terug na haar woonstel toe. Hulle stap ingehaak verby oop deure en toe deure, stadig met die blinkgepoleerde gang langs tot by die hysbak. Lana voel die ontoeskietlike strakheid in die ander vrou se lyf, ook die trilling van haar spanning. By haar voordeur laat sy Lana se arm los, maar die sleutel kletter teen die sleutelgat; Lana moet dit by haar neem en oopsluit.

    Lana ken die uitleg van die eenderse woonstelletjies op die grondverdieping goed. Die slaapkamer en klein badkamer, die beknopte woonvertrek met ’n traliedeur na die tuin, die kombuistoonbankie teen ’n muur. Elkeen gee ’n eie kleur daaraan. Dit interesseer haar altyd wát dit is wat mense in die aflêproses van kleiner gaan nie kon verdra om agter te laat nie. Die woonkamer word oorheers deur ’n swaar Europese kas en ’n groot boekrak. Die onderste rak is styf gepak met langspeelplate, op die boonste gloei ’n klein versameling handgemaakte glaswerk granaatrooi en smaraggroen en kobaltblou. Onbekende kunswerke verdring mekaar teen die muur. Die plek trek Lana aan, maar tog ontsenu ’n andersheid haar, dit verteenwoordig ’n binnelewe wat sy nie herken nie. Sy sou graag voor die skilderye en etse wou staan en probeer ontsyfer wie regtig hier woon. Sy sou wou weet watter musiek in die rak is en sy sou die rûe van die boeke wou bekyk. Duits? Tsjeggies?

    Mevrou kan nie vandag alleen wees nie, beslis Lana. Ek kan nie self bly nie, maar ek sal Matrone vra om dit te reël. U moet my sê wie sy kan bel. ’n Vriendin?

    My man het in die Katolieke Kerk grootgeword. Ek moes daaraan gedink het om die priester te laat kom.

    Moet ons hom vra om u te kom sien?

    Nee. Eers niemand.

    Dis beter dat daar iemand is.

    Nee, dis nie beter. Ek moet aantrek. Ek moet my regmaak.

    Ek sal Matrone vra om oor ’n rukkie na u te kom. Daar’s goed wat gereël moet word. Sy sal help om mense te laat weet. Ek verstaan u het kinders?

    Ja, sê mevrou Nicolić, en dis asof sy ’n bietjie op haar voete wieg sodat Lana ’n hand uitsteek om haar te stut. Ek het kinders.

    Waar woon hulle?

    Nie hier. My kinders woon ver.

    Lana wag, maar daar kom niks meer nie. Dankie. U was goed vir my, sê mevrou Nicolić net. En toe: My naam is Therese.

    Dis onverwagte toenadering van iemand wat nog altyd op die oog af te trots was om kwetsbaarheid te toon. Lana beantwoord dit deur die naam dadelik te gebruik. Ek kom later weer, Therese. Sy voeg by: Noem my Lana.

    Sy wonder hoeveel mense daar nog lewe wat vir Therese Nicolić op haar voornaam ken.

    Dit ontstel haar wanneer oumense verklein word deur hoe hulle benoem word. Nie net deur die verpleegpersoneel nie. Ook deur hul eie kinders, soos die oudparlementslid wie se seun hom aangespreek het as Oupatjie en sameswerend van hom gepraat het as ongehoorsaam en selfs stout. Moontlik ’n manier om wraak te neem op ’n pa wat hom voorheen oorheers en emosioneel afgeknou het. Sy kon die seun se opgekropte woede aanvoel en verstaan. Maar die gelatenheid van die eens formidabele en nou magtelose ou man het haar ineen laat krimp.

    2

    Voor Lana teruggaan kliniek toe, moet sy aan die matrone verslag doen. Besig-besig-besig, sê Cornelia se kantoor, sê die flikkerende rekenaarskerm waarby die sekretaresse met vlieënde vingers sit en tik, die faksmasjien wat velle papier uitstoot, die telefoon wat lui, die afleweringsbode van die apteek wat wag, die ou man met ’n loopraam by die toonbank wat iets kom vra. Wag ’n bietjie, ek is nou by jou, sê Cornelia.

    Lana is haastig, maar probeer dit nie wys nie. Sy en Cornelia ken mekaar al jare,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1