Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Asbesmiddag
Asbesmiddag
Asbesmiddag
Ebook474 pages9 hours

Asbesmiddag

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

’n Romanskrywer en Professor in Skeppende Skryfwerk aan ’n Kaapse universiteit verkeer tussen boeke en is op sy weerloosste en hongerste. In die verslete haarsalon van ene Giuseppe Giuliani, in ’n minder goeie deel van Stellenbosch, ontmoet die skrywer ’n bejaarde en beroemde biljoenêr, ’n asbesmagnaat.

Versteek in ’n steeg voorsien die haarsalon bekendes, wat op soek is na privaatheid en rus, van uurlange kopmasserings, begelei deur Italiaanse tenore en pierings vol olywe. Die skrywer se vader – eens ’n vuurspuwer en latere ringmeester in ’n Karoosirkus – deel ’n ongelukkige geskiedenis met die asbesmagnaat en die skrywer is voyeuristies daarop uit om wraak te neem by wyse van sy vertelling – of so dink hy.

Gou ontdek hy egter dat ander spelers in die verhaal ratser manipuleerders van storielyne is as hy.

Die biljoenêr word ’n karakter in die skrywer se boek en die hooftema word die kunstenaar se uitbeelding van die werklikheid, wat lei tot die skepping van ’n vervormde en nuwe werklikheid, kortom, ’n onwaarskynlike onmoontlike: Storie. Dit word deur die sirkus se hoogtepunt-toertjie gesimboliseer – twee kameelperde wat op onwaarskynlike wyse hul nekke verknoop.

Die skrywer en die biljoenêr se lewens verknoop, werklikheid en fantasie verknoop, die twee vaders (die skrywer se bloedvader en sy nuwe magnaatvader) verknoop – en lei tot ’n skokkende einde wat reeds vroeg in die boek deur ’n Indiese fortuinverteller voorspel is.

Wie het ten slotte vir wie geskryf? Wie van die twee mans – die romansier of die magnaat – is die werklike hand agter die verhaal? ’n Storie oor bloedeed, sensualiteit, ’n veranderende Suid-Afrika, ’n verlange na ’n verlore verlede, en ’n geheimsinnige Wes-Afrikaan, die alomteenwoordige Mister Deejay Gucci X.

Ook ’n handleiding oor kunstenaarskap, en ’n wrede verkenning van die etiese problematiek van die skrywer.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateDec 30, 2013
ISBN9780624068747
Asbesmiddag
Author

Etienne van Heerden

Etienne van Heerden is in 1954 in Johannesburg gebore. Hy ontvang die Eugène Marais-prys vir sy kortverhaalbundel My Kubaan. In 1986 verskyn Toorberg, wat wyd bekroon word. Hy is ook bekend vir romans soos Die swye van Mario Salviati (2000), 30 nagte in Amsterdam (2008) en Klimtol (2013). Hy is professor in o. m. kreatiewe skryfwerk aan die UK.

Read more from Etienne Van Heerden

Related to Asbesmiddag

Related ebooks

Related articles

Reviews for Asbesmiddag

Rating: 3.75 out of 5 stars
4/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Asbesmiddag - Etienne van Heerden

    Etienne van

    HEERDEN

    Asbesmiddag

    ’n roman

    Tafelberg

    In herinnering aan my moeder, Doreen

    Summer drought came hard that year

    Our herd grazed the land so bare

    Me and my dad had to blowtorch the thorns off the prickly pear

    And Mother, your hand slipped from my hair

    – Bruce Springsteen, Silver Palomino (Devils and Dust)

    1

    Skaarsheidswaarde

    Toe die skrywer vir sy sjampoe en kopmassering gaan sit, kyk hy terloops na regs. Hy sien dat die bejaarde man langsaan kop agteroor lê. Die vel wat oor die adamsappel span, is oud. Oënskynlik ontspanne sit die groot, benerige hande op die stoel se leunings. Maar in die vingers en die kromrugpalms sien hy die opgekroptheid van twee tiere.

    Die neus is prominent. ’n Snawel. Groot ore, wat dieprooi word soos die stoom opwalm. Die mond is ontspanne en te gul vir die hande.

    ’n Reus van die industrie. Nou herken die skrywer hom – selfs vanuit hierdie ongewone hoek. Die beroemde magnaat lê daar onder die hande van ’n vrou wat daagliks vir drie skamele muntstukke ’n minibusrit oor die berg koop vanaf haar afgeleë gehuggie na hierdie dorp tussen die wynlande.

    Terwyl hy daar langs die biljoenêr sit, maal sy gedagtes met die intuimelende beelde van die afgelope maande. Hy het pas ’n boek uitgegee. Hy moes deur die brandende hoepels van publisiteit spring en onderhoude voer met koerante en glanstydskrifte wat net op skinder uit is.

    Nou werk hy weer aan sy skaarsheidswaarde. Op soek na ’n veilige hawe het hy vandag die donker tonnel van die arkade vinnig binnegestap, haastig met die saloneienaar bladgeskud, sy aktetas aan hom toevertrou, en nou lê hy terug in hierdie stoel.

    Laat begaan hy, in hierdie wondbare posisie wat hom aan die oorgawe in ’n tandarts se stoel laat dink.

    Hy lê agteroor en aanvaar die warm water wat deur sy hare stroom, die tere, ondersoekende vingers van die masseuse oor sy hoof.

    Wat sou sy kon peil van sy onstuimige, opgejaagde gees?

    En tog voel hy in haar vingers ’n wysheid, die slimte van die lyf, die instinktiewe vertroosting van die onderklas.

    Dis ’n slinkse liefde: dis die blik van ’n hond wat na jou opkyk, of die reuk van ’n ou trui. Iets van ’n moeder se afwesige, bekommerde vertroosting.

    Of ’n minnares wat belangstelling begin verloor.

    Die salon gee sigself uit as Italiaans. In wese is dit expat-Italiaans. Die eienaar, die enigste gekwalifiseerde kapper, is kort en clichématig. Giuseppe se hare is swart en kort gesny. ’n Romeinse gesig, met opvallende lippe en ’n arendsneus. Kop effens te groot vir die liggaam. Borshare, gryserig, steek by die kraag van hemde uit wat meestal te blink en te goedkoop is. Soms is hulle van beter kwaliteit – maar altyd te styf aan die middeljarige lyf. Die goue kettinkie om die nek.

    En die geselsies oor opera. Oor Sisilië. Oor blomme en olywe.

    Hier kan die skrywer in vrede teruglê terwyl Andrea Bocelli neurie vanuit die stereostelletjie in die hoek. Agter die palm in sy pot staan die wynrak met bottels olyfolie wat wag om afgeswendel te word aan niksvermoedende kliënte met te veel geld. Meestal mense wat nie noodwendig hul hare wil laat sny nie, maar wat op soek is na die vertroosting van ’n kopmassering.

    Giuseppe is gek na Ferrari’s en vertel dikwels hoe hy tot diep in die nag Formule 1 op TV sit en kyk. Hy’t sy aksent nooit afgeskud nie, selfs nie ná ’n leeftyd in Afrika nie. Ter hand het hy, asof getoor uit die niet, ’n Indiese fortuinverteller wat ruik na sweet en drome wat ontstig. Die maer man kom gereeld soos ’n dief in die nag verby die toonbank en die potplant gesluip, en neem by die stomende wasbakke die hand van ’n slagoffer in syne.

    Ná ’n kort en intense pouse verklaar hy die Waarheid, teen ’n klein fooi.

    Die skrywer was ook al die prooi van hierdie waarsegger. Tydens ’n besoek ’n halfjaar gelede het hy ook geswig voor die skisofreniese oë en die sweterige hande wat syne vashou en oopbuig. Hy is ’n mooi mens, dié Indiër met sy dubbele bodem. Hy stam af van suikerrietsnyers wat lank gelede die land ingebring is, het Giuseppe vertel. Mense wat in die swoel, subtropiese Natal van skepe afgelaai is en oor geslagte heen suikerriet moes sny. Jaar ná jaar moes hulle stry teen die groen oerwoud en wanneer die suikerriet op die regte tyd van die jaar aan die brand gesteek is, op hul hurke sit en kyk hoe die ligte laaie die heuwels bedek so ver as wat die oog kan sien. Die volgende dag het hulle vaal rondgeloop soos as uit die hemel neerdaal.

    Daar is ook ondertone van die Mahatma in die man, ’n sieligheid. ’n Kombinasie wat boei: die vlamme wat soos die vuur van ’n revolusie lyk, plus – onversoenbaar – die pasifisme. Hy’t vertel dat sy vader Gandhi geken het toe die ghoeroe in Suid-Afrika was en deur ’n kondukteur uit ’n slegs-vir-blankes-treinwa gegooi is. Sy vader was daar langs die pad toe Gandhi moes uit, het hy vertel, sy vader het alles gesien.

    Uit na die luisteraar gly die hand vir ’n fooitjie.

    So het die fortuinverteller ook by die skrywer kom sit. Jy het die konsentrasie van ’n tier, het die man gesê en in sy oë gestaar.

    Ek is ’n skrywer. En asof dit ’n verskoning is: ’n Romansier. Hy wou byvoeg: my nering verskil nie veel van joue nie. Maar hy’t gewag op wat kom.

    Romanse? Gelukkige eindes? Miskien was die Indiër slimmer as wat hy dag, want twee speldeprikkies satire het git getrek in die pupille.

    Inteendeel. Die onafgehandeldheid van dinge.

    Die fortuinverteller het nie geantwoord nie, maar na die skrywer se palm afgekyk en daaroor gestryk. Ná ’n rukkie: Iemand gaan vroeg in die nuwe jaar probeer om jou grond toe te bring.

    Hy was onkant gevang. Wie?

    Iemand baie na aan jou.

    Paniek het hom beetgepak. Water het uit krane geproes en pype het geroggel totdat ’n lugblaas in die wit wasbak uitgehoes is. Hy’t gedink aan sy lewe. ’n Middeljarige skrywer wat sy skouers ooptrek na die kamera, na ’n steeds jonger wordende publiek. Na die terloopse, nomadiese blik van die internetgenerasie.

    Toe die waarsegger dít aan hom sê, het die waaksame Giuseppe dadelik nader gestaan met ’n pierinkie. ’n Paar olywe, Professore?

    Só is Giuseppe se styl.

    Die skrywer is nie verbaas om die magnaat hier te kry nie – Giuseppe se salon lewer sy kwota verrassings op. Die salon is verslons en uit pas met die tyd, versteek in ’n stil arkade wat nie werklik die naam mall verdien nie, al gebruik die klein besighede wat hier geleë is dié term. Die ingang tonnel in onder ’n grys woonstelblok wat op die rand van die universiteitskwartier lê. Digby sit die klubs, waaruit lugverkoelers soggens die vorige nag se reuke van urine, uitgestorte bier en sigaretrook pomp.

    En tog kan die skrywer altyd staatmaak op ’n wending, iets wat hy nie verwag het nie in sy aanloop na die salon. Om dié bedryfie te bereik, moet hy verby die selfoonkiosk wat die nuutste Nokias verkoop. Hy staan dikwels daar en staar na die wondere van nuwe tegnologie. Dan stap hy verby die fietswinkel, ’n wegneem-eetplek en ’n fotostaatwinkel wat besigheidskaartjies druk terwyl die klant wag. Hy laat self gereeld nuwe kaartjies daar druk, altyd bedag op duursame papier, ’n effens ongewone formaat en ’n eenvoudige om­skrywing. Author, moet daar staan. Romansier. En net ’n straatadres, geen titel of kwalifikasies nie. Niks fieterjasies nie.

    Die indraai na die arkade is onverwags. Reg voor hom is die hoofkwartier van ’n charismatiese kerk wat sy geld verdien uit die onsekere siele van eerstejaars van die platteland. Oorkant sit die tuisnywerheid, met ’n daaglikse aanbod van koeke en ander gebak. Reg teenoor Giuseppe se salon is die tuxedowinkel. Op Vrydagmiddae wanneer die skrywer uitgeput vanaf die stad terugkeer, drom studente soos senuagtige bye saam om die pluiskeile, die strikdasse, die blink onderbaadjies en swaelsterte.

    Die tuxwinkel se eienaar is ’n jong vrou wat opera haar lewe wil maak. Sy het digte swart hare en sy droom van ’n pupilskap in Wene. Sommige stil middae as dit net die skrywer, Giuseppe en die masseuse in die salon is, kom sing sy arias terwyl sy kop ingeseep word. Saggies sing sy, dankbaar vir die gehoor, en Giuseppe se oë blink van die trane. In die spieël kry die masseuse ’n vredige uitdrukking. Almal voel hulle in die nabyheid van jong talent, van ambisie en Wene wat wink.

    Dis die begin van grootsheid, verseker Giuseppe die bestuurder van Tux Dudes elke keer opnuut, en dit in hierdie klein salon so diep versteek onder hierdie swaar, grys ou gebou.

    Ten spyte van sy nederige omstandighede lok die salon interessante kliënte, en die skrywer is haas nie die vaalste lojalis nie. Toevallige besoekers wat drupsgewys opdaag, is daar natuurlik wel, maar vir hulle wag daar geen pierinkie olywe nie. Die Indiese fortuinverteller, bottel olyfolie of pastaresep word nie vir hulle opgetower nie. Die tuxwinkel se ster word nie nader geroep op ’n weemoedige namiddag nie.

    Maar wanneer die beroemde argitek met sy lang lyf opdaag en die stoel só geskuif moet word dat hy sy lyf met moeite daarin kan wikkel om sy kop op die wasbak neer te lê, is dit oestyd vir Giuseppe. Ook wanneer die afgetrede wynuitvoerder met sy geselsies oor sy mooi piano nobile met die mooi uitsig op die mooi kanaal in mooie Venesië op besoek is. Dan maak Giuseppe in die spieël oogkontak met die skrywer en sy wenkbroue lig.

    Of die blinde dame arriveer. Sy is die vrou van ’n ryk landgoedboer en terwyl Giuseppe soos ’n impresario op die agtergrond huiwer, vergas sy almal met vertellinge oor die nuutste lasertegnologie, haar jaarlikse pelgrimsreis na ’n kliniek in Zürich en haar soektog na sig. Daar is ’n politikus, ’n dame wat prominent is in die plaaslike regering, wie se byekorfkapsel nes dié van Maggie Thatcher daagliks aandag verg. Sy is begaan oor korrupsie, die afdank van knap wit dorpsamptenary en die stadige meegee (soos ’n vloer waaraan houtkewers knaag) van plaaslike bestuur. Dit sal nog op ’n revolusie uitloop, meen sy, want ook die armes sukkel. Eendag gaan als nog in vlamme op. Pensioene daag nie betyds op nie, die klinieke word al vrotter, elektrisiteit word al om die hawerklap onderbreek. Die nuwe amptenary speel die perde, glip Vrydae vroeg weg casino toe en sê nie nee vir ’n bottel omkoopwhisky nie.

    Daar is ’n heer, ’n oudburgemeester, wat begaan is oor die uitsterf van tale. Linguicide is sy geliefkoosde woord terwyl Giuseppe se skêr klik. In sy vrye tyd maak die oudburgemeester wyn. Dis sy manier om aan die tyd vas te hou, verduidelik hy. Biebouw Wyne, noem hy sy reeks. En vertel graag dat ons taal ’n viool is, en dat ons moet sorg dat dit oral gebruik word en nie verswelg word deur die klavier van Engels nie.

    Dit terwyl Giuseppe olywe aandra en, terwyl stoom om die sittendes walm, uitroep: En wat is Italiaans dan? ’n Mondfluitjie of ’n harp?

    Die laaste regular wat die skrywer dikwels aantref, is ’n staatspatoloog. Sy eis absolute stilte. Geen oordadige massering nie. Sy’s sensitief vir aanraking. Sy hou nie van musiek nie. Kennelik moeg gestaar na lyke met afgesnyde kele, skedels waardeur koeëls getrek het en dooie vroue met verkragte onderlywe, sit sy bleek in die spieël. Niemand waag dit om ’n woord te sê nie. Die fortuinverteller stap binne, gee die situasie een kyk en verdwyn vinnig. Met haar nat hare en wit handdoek om die skouers lyk die staatspatoloog asof sy vir die guillotine voorberei is. Haar kop gaan rol, dink die skrywer dikwels –waarom, weet hy nie.

    In die twaalfde jaar van die nuwe republiek vorm hierdie groepie die elite van Giuseppe Professional Hair Stylists, Winkel 54, Erfenissentrum, waartoe die naam van die dorp nog gevoeg moet word.

    Vir die skrywer word hulle almal gedaantes van sy gemoed. Selwe van sy self. Elkeen verteenwoordig ’n toertjie in sy repertoire. Ja, lyke kan hy oopsny. Na Italië mag hy smag. En blind is hy gebore.

    Nie een van hulle sal vermoed dat ’n videokamera nog in die plafon geïnstalleer sal word nie. Dit het ’n klein lens wat byna onsigbaar is vir die blote oog. Getrou sal dit elke woord, elke klik van die skêr of storting van ’n kraan dokumenteer. Dit sal die pierinkie olywe dophou, die fortuinverteller aanhoor wanneer hy ’n niksvermoedende handpalm platstryk, dit sal kyk hoe Giuseppe indut wanneer dit stil is en niks sal dit ontgaan nie.

    Maar dit lê nog voor, dit kom later.

    Aan die begin is verwys na hierdie woonplek as ’n dorp. Helaas, eintlik is dit nie meer ’n dorp nie.

    Nuwe en onoordeelkundige geld stroom in en die buitewyke is deesdae ’n woud hyskrane, ’n niemandsland van beton, ’n bloeiende woestyn met piramides badkamerteëls. Frenetiese loodgieters jaag in bakkies rond, verby donderende lorries met agterop opgerolde lappe gras wat soos reuserolmops lyk. Die sekuriteitskomplekse en hul strate het buitewêreldse name: Windsor Close, Montenegro, Manchester Village, Beverly Hills. Klaarblyklik voel ontwikkelaars dat potensiële kopers oral sal wil bly behalwe in Afrika. Pleks dat die Minister van Kultuur ou Afrikaanse plekname verander, dink die skrywer, moet hy eerder vergader met hierdie ontwikkelaars wat so ’n uitheemse taalkombers oor die landskap gooi. Oxford Place. Manhattan. Kamma-Toskaanse huise verrys uit die goeie aarde waar nie so lank gelede nie, en in vredevolle middae, herfserige lappe wingerd in skakerings van oranje, bruin, rubikonrooi en ougoud teen die heuwels uitgesprei het.

    Die roetine waaraan die skrywer en ander kliënte – of dalk eerder gaste? – van Giuseppe Professional Hair Stylists hulself onderwerp, is eenvoudig. Dis bedink deur Giuseppe se geliefde, Maria. Sy is ’n vrou van omvang, maar haar liggaamsvet is nie van die slap soort nie. Sy is sterk gebou en strydlustig.

    Sy is nog korter as Giuseppe, en stap met bak arms. Haar hande is uitgeswelde poffertjies en haar vingers stywe worsies. Haar kop is klein, met spits, alarmistiese haarpunte wat ’n beeld van konstante verontwaardiging wek. Haar oë, na aan mekaar, is baie donker, baie intens.

    Die skrywer is lief vir Maria, en hierdie beskrywing moenie as pejoratief ervaar word nie. Normaalweg sou hy sy skryfstudente aan die universiteit in die stad waar hy hoogleraar is, waarsku oor leserreaksies teen so ’n polities verkeerde beskrywing, so ’n eksternalisering van ’n vrou. Maar dis nou eenmaal soos Maria lyk.

    Preutse teorieë uit die akademie loop hulle dikwels teen die lewe vas. Hy vermy hierdie preutsheid doelbewus, welwetend dat die lang messe sal uitkom. Hy’t jare gelede al ’n opmerking van Michel Foucault oor Nietzsche bokant sy skryftafeltjie opgeplak. Hy kyk daagliks daarna: There is in Nietzsche’s work a roughness, a rustic simplicity, an outsideness, a kind of mountain peasantness, that allows him, with a shrug of the shoulder and without appearing ridiculous, to say with unavoidable force: What non-sense that all is!

    In wese is hy nie konserwatief nie; dis net dat hy as skeppende gees ’n verweer nodig het teen die politiek korrekte geykthede om hom. Dié frase sit daar om hom die nodige hardkoppigheid te gee. Anders slaan die tye sy arms lam.

    Maria herinner hom aan skaduwees uit sy kinderdae: ’n stoet gesette vroue, sommige stil en ander spraaksaam, van wie hy nie al die name onthou nie. Nie net het hul gul liggame hulle onderskei van sy moeder, die boer se vrou nie, maar hierdie bediendes het ’n ander reuk gehad as sy moeder. Vir hom as seuntjie ’n eksotiese geur, die reuk van die lewe wat gelei word in die werkershuisies anderkant die bult, buite sig van die plaashuis.

    Hulle het geruik na Mum. Soms was die goedkoop reukweerder gedaan en dan was daar die reuk van sweet, ’n malse geur gemeng met dié van vuurrook en die beesmis waarmee hulle die vloere van hul strooise gesmeer het. Om hulle het die reuk van ongesoute vleis gehang. Hulle het soggens werk toe gekom met ledemate wat blink ingevryf is van die beesvet, en hom laggend in hul arms gevang as hy by die kombuisdeur uitstorm na waar hulle nog in aantog was met die voetpaadjie.

    Apartheid het baie liefdes verbloem.

    Hy was ’n onrustige kind en om hom stil te hou, het hulle hom oral oor sy lyf gevryf. Dit het ’n heerlike kalmte oor hom laat kom, ’n dromerigheid, ’n verliefdheid. Hulle was oppassers – in die taal van die tyd is hulle kindermeide genoem – en hulle had hul eie geheime. Van sy vroegste herinneringe is aan so ’n vrou, waar hy wiegend vasgebind op haar rug lê terwyl sy hande-viervoet rooi politoer aan een van die opstal se stoepe vryf. Dit was ’n nêrensgevoel, ’n gevoel van geborgenheid, van narkotika. Hy kan die herinnering nou nog na bo wil: die dik bruin hande wat die rooi politoer uitstoot, die borsel wat stewig vryf totdat die son in die stoep kom sit, so helder soos daar bo in die hemel. Hul verhale en hul taal het soos ’n kombers oor hom gevou en as hy kon, sou hy hulle nou elkeen gaan opsoek. Maar hulle het verdwyn in die naamloosheid wat die ruimte vorm vir soveel swart en bruin karakters in die verhale van hierdie land.

    Hy vermoed dat Maria, nes Giuseppe, haar slagoffers versigtig kies. In ander omstandighede, en met ’n ander lyf, sou sy geliefde Maria ’n courtisane van groot faam kon wees.

    Hy en die ander kliënte is mense wat hier kom wegkruip teen die dinge wat hulle jaag, en Maria, ondanks haar gebrek aan skranderheid, weet dit instinktief.

    Hulle is hier om ou herinneringe op te soek, en dit het haar nie ontgaan nie, vandaar die rituele wat sy bedink het.

    Hy kom hier as akademiese vlugteling – Engels het ’n beter woord: refugee – uit die moderne universiteit. Hy is een van daardie treurige siele wat instinktief sy rug draai op die omsendbrief, die agenda. Op wat hy beskou as die burokrate se aanslag op die ruimte van die dink.

    In die burgeroorlog waarin die kampuslewe ontaard het, is dit nie ’n gewilde loopgraaf om te beman nie.

    Maria begryp dat elkeen van hulle op vlug is: die argitek voor die vergrype wat nouveau riche-ontwikkelaars teen die landskap pleeg, die plaaslike politikus voor die inkalwing van ou instellings en die opmars van nuwe mag, die oud-burgemeester voor die ekologiese ramp van taalsterfte, en die blinde vrou ylings voor die niet. Die staatspatoloog vir die starende oë van die lyke wat sy oopslag ten einde aandadigheid forensies te kan bewys.

    Terwyl die nuwe republiek twaalf jaar ná bevryding ylings en halsoorkop sy gang gaan, koek hulle hier saam, expats in die wagkamer van handdoeke en sjampoe, stoom en olies.

    Hulle kom hierheen vir eenvoud. Vir die goedkoop stereo’tjie, so anders as die gesofistikeerde klankstelsels wat kristalhelder musiek deur hul huiskamers stoot. Hulle kom vir die pierinkie met vyf olywe daarin, deur Giuseppe opgedien soos ’n offerande van groot waarde, soms met ’n bewende hand. Hulle kom vir die koffie, wat spesiaal is en opvallend duur. Hulle kom veral vir die geskerts en kletsery met siele uit ’n wêreld wat kleiner en eenvoudiger is as die wêrelde wat elkeen van hulle bewoon.

    So kry hy hier by Maria, die masseuse Sylvia en die sjampoe-assistent ’n blik op ’n lewe waar die prys van ’n tweedehandse motor-onderdeel en die naaste plek om dit in die hande te kry, van uiterste belang is. Hierdie vroue weet presies waar die winskopies van die dag – poeiermelk, vleispasteie of sopbene – te kry is. Die slapte van die munisipale kliniek en die probleme met gehuurde verblyf word eindeloos uitgerol terwyl hul vingers oor sy kopvel dool.

    Toe die skrywer daardie dag vir die eerste keer langs die magnaat sit, is die ou heer nie in ’n goeie bui nie. Die koerante het pas berig oor ’n komplekse poging tot oorname, ’n vyandelike toenadering tot een van die ou heer se kleiner maatskappye. Geensins ’n verkwiklike verhaal nie. ’n Groep jong sakemanne (diegene wat verantwoordelik is vir die nuwe gholflandgoed wat nou die eens pragtige wingerdheuwels met kikoejoe en gekke klein vlaggies bedek) wil ’n vastrapplek in die magnaat se empire kry. Daar word geskinder dat die Jong Turke hul direksies volprop met kwotas, die pejoratiewe term vir onbekwame swart direkteure met goeie regeringskontakte.

    Dalk is dit dít wat die magnaat ontstel het; dalk is dit die onlangse oorlye van sy eggenoot, wat voor haar afsterwe in hul villa in een van die dorp se stil ou buurte gelê het en aan wie miljoene rande geen lewenskrag kon teruggee nie. Almal het geweet van haar. Alhoewel die egpaar in die gewone gang van sake publisiteit vermy het, was hulle in ’n groot mate deel van die dorp se openbare bewussyn danksy hul bewilliging van fondse vir kuns en kultuur.

    Tewens, in die lewe van elkeen in die salon wat deur daardie versteekte kamera in die plafon gedokumenteer sou word, had die Doktor, die ou nyweraar, ’n rol. Aan die oud-burgemeester met taalangs het hy geld bewillig om veeltaligheid te bevorder. Die argitek word besig gehou met die restourasie van die oudste geboue in hierdie dorp én ander dorpe om die Kaaps-Hollandse argitektuur vir die nageslagte te bewaar, alles befonds deur die magnaat. Die blinde vrou is na Zürich danksy ’n wenk en met behulp van fondse wat die magnaat diskreet deur ’n tussenganger beskikbaar gestel het. Giuseppe se seun is op kollege; sy klasgeld word betaal deur die ou Doktor, wat al jare hier kom.

    Nie een regular weet van die ander se skatpligtigheid teenoor die magnaat nie. Dis net hy, die skrywer, wat dit vermoed. En natuurlik Giu­seppe. Hy weet van als. Hy voer immers intieme fluistergesprekke met wie ook al elke dag onder die wit doek onder sy hande sit.

    Wat die presiese rede vir die ou heer se grommerigheid is, weet die skrywer egter nie op hierdie dag nie. Toe hy die arkade – wat hom soms aan ’n steeg herinner – binnegekom het, het hy die magnaat se motor ’n paar tree weg voor die fietswinkel geparkeer sien staan, die chauffeur wagtend agter die wiel – ’n seker teken aan die buurt se winkeleienaars dat die Doktor se kop gemasseer word deur Sylvia. Later sal sy wel, fooitjie in die hand, spoggerig by die sentrum uitstap en daar in die straat tot in die fynste besonderhede rapporteer oor die stand van die magnaat se gesondheid en sy bui.

    Die romansier kom al jare na Giuseppe se salon. Die magnaat kom gewoonlik soggens, wanneer die skrywer óf tuis aan die skryftafel sit óf op kampus is. Dis net sedert die ou heer se kragte weens verslegtende gesondheid so erg begin taan het dat hy hom wend tot middagbesoeke.

    Die skrywer vermoed dat die middag die magnaat goed pas. Die oggendenergieë wat deur hul mooi dorp vol jongmense bruis, het dan weggeëb. ’n Doodsheid lê oor die sentrum waar die salon is. Dis die stil ure. Water en seep wat gedemp klots; Maria en Sylvia wat fluister in die teenwoordigheid van soveel geld en mag.

    Dus was hy voorbestem om die Doktor hier aan te tref. Dis ook lankal – jare, sou hy meen – Giuseppe se wens dat hulle twee hier in gesprek moet tree, die skrywer en die moeë ou sakereus.

    Op sy manier is Giuseppe nuuskierig. Enersyds is daar die man wat deur keurigheid en fatsoen sy biljoene moes maak, en die deug moes opvoer in onderhoude en toesprake. Andersyds die man wat as kunstenaar juis die dissidente weg moet inslaan en sy eie konvensionaliteit deurentyd die stryd moet aansê.

    Die een wat sukses via fatsoenlikheid moet najaag; die ander wat sy sukses juis vind in die onfatsoenlike.

    Giuseppe, die klein impresario. Hy begryp dinge goed, want dekades al werk hy met pratende koppe.

    In ieder geval, op hierdie middag van hul ontmoeting, terwyl die skrywer na die wasbakke gelei word, sê Giuseppe in sy sonore Italiaanse stem: Doktor, die Professore is vandag hier.

    Die skrywer knik bloot (hy is immers hier vir die privaatheid) en gaan sit. Voor hom, in die spieël, sien hy homself sit. Verslons in swart denim. Grys hare platgeslaap aan die een kant. Baardjie, bril. Die tipiese akademikus van ’n eens liberale universiteit, wat nou ossilleer tussen sy tradisie van weerstand en die eise van gedienstigheid aan die nuwe orde.

    Langs hom lê die magnaat agteroor in ’n duur, effe verwaarloosde swart pak. Agter die Doktor staan Sylvia glimlaggend. Sy hou die biljoenrandkop soos ’n trofee in haar hande vas. Net die magnaat se das, van die beste sy, is nuut en pragtig, soos ’n enkele pouveer wat oorgebly het. En sy knobbelrige ou hande het mooi versorgde vingers – die skrywer het gelees van die Doktor se gereelde manikure.

    Daar was geen reaksie van die ou man op Giuseppe se woorde nie, en die skrywer lei af dat die Doktor uitgeput is deur bekommernisse. Die lewensmoegheid wat dit moes bring om ’n sakeryk in die apartheidsjare te vestig en dit deur die oorgang na die nuwe regime te bestuur! As skoolseun het die skrywer al gehoor van die probleme – sy vader se swaer was dekades gelede sekretaris van Doeane en Aksyns en het in ’n groot kantoor in die Uniegebou in Pretoria gesit. As jong sakereus moes die magnaat in daardie moeilike jare van sanksies met hóm onderhandel om sy produkte landuit te kry.

    Al die kompromieë, al die nalatings; al die mooi toesprake oor hoop en harde werk; al die ambisie.

    Die skrywer se instink is om die ou heer daar te laat waar hy ontvlugting soek onder Sylvia se hande. Boonop is die bui in die salon vanmiddag onnatuurlik gedemp. Beniamino Gigli is binnensmonds van agter die potplant hoorbaar, asof sy tjank afgetrap is, en dis asof die opgerolde handdoeke en die glansplakkate van pragtige mans en jong vroue met allerlei haarstyle alle geluid absorbeer.

    Stilweg werk Sylvia aan die massiewe kop, en dis eers toe die skrywer hom regskuif en met ’n effense draai van sy kop die sjampoe-assistent se oorgooi van die handdoek oor sy skouers erken dat sy blik op die profiel langs hom val.

    Almal het hul gode. Ons gode moet liefs nie gedefinieer word nie, lees hy anderdag in Henry James, aangesien hul blote bestaan hul verdediging is. Wie of wat die god van ’n magnaat is, weet hy nie; as skrywer is hy ’n man wat storie as god gekies het. Storie het gesag. Almag. Storie vergewe. Deel straf en seëning uit. Hy is beslis voorbereid daarop dat die antwoord kan wees dat die magnaat se god uiteindelik tog wel geld is! Maar ’n mens weet nooit. Soms lê verrassing in die mees voor die hand liggende dinge – bloot omdat hulle só voor die hand liggend is dat hulle natuurlik en daarom onsigbaar is.

    Die arme magnaat, die ou Doktor, dink hy. Dat hy langs mý moet beland, en juis nou terwyl ek op soek is na ’n nuwe verhaal.

    Die skrywer dink dikwels aan homself as ’n dier op jag. ’n Skuins, maer hond aan ’t drawwe deur tye van groot honger – ’n hongerte vir andersheid en storie, ’n groot, onblusbare aptyt vir dit wat onverwags en gevaarlik is.

    Hy weet wat hierdie oerdrang genoem word. Talent. En talent is, in die laaste instansie, die kompulsie om met die oë en die ore te vreet.

    Hy leun terug en dink: Hoe totaal onverras is ek om ’n man met internasionale sakebelange hier aan te tref, een van die rykstes in ons land, tewens, in die wêreld. ’n Man wat die eienaar is van handelsmerke wat daagliks op die lippe, aan die oorlobbe en om die liggame sit van mense van Tokio tot New York tot Parys.

    Natuurlik sal die ou man hierheen kom, dink hy. ’n Man wat saam met konings kuier, smag na die vertroostende aanraking van die gewone.

    Hy lê terug en maak sy oë toe.

    Maria het ’n eenvoudige resep vir moeë oë.

    Dié behandeling word gebêre vir spesiale kliënte – of so word dit aan hulle verduidelik. Maar die skrywer kan wel dink dat Jan Alleman, wat hier opdaag vir ’n haarsny en ’n blow-dry, nie juis lou-warm teesakkies op die ooglede sal waardeer nie. Dis ’n gebaartjie van gekheid, ’n totaal onpraktiese kuurtjie vir Giuseppe en Maria se rykes en beroemdes.

    En inderdaad, die gaste waardeer die behandeling: hyself, die romansier, asook die lang argitek van kunsmuseums, boetiekhotels en gerestoureerde geboue. Ook die blinde vrou van die wynlandgoedeienaar en die afgetrede sakeman met die piano nobile met sy ongeëwenaarde uitsig oor ’n uitsonderlike kanaal in nooit volprese Venesië.

    En ja, ook die magnaat.

    Jy lê terug en die doek word om jou keel gebind. Jy word gevra of jy gemaklik is. Indien nodig, word ’n voetbankie nadergetrek. Jou geliefkoosde musiek word uitgesoek. Hulle ken almal die beperkte repertoire van Giuseppe se diskoteek en neem vir lief daarmee. Elke twee of drie maande word ’n nuwe CD egter juigend opgetower. Dis spotgoedkoop by die een of ander uitverkoping aangeskaf, en word met groot gebaar menige keer op dieselfde dag ingewy en gedurende die eerste maand gespeel, totdat al die gereelde kliënte deeglik op hoogte daarvan is.

    Terwyl die CD draai, word die temperatuur van die water versigtig op die kroon van jou hoof getoets. Die eerste stroom tref jou soos die onverwagte gaan lê van ’n swart suidooster en die skrywer dink dan onwillekeurig aan die doop met die Gees wat deur die juigkerk in die arkade skuins oorkant die salon bemark word. ’n Vredige gevoel aai oor jou kopvel. ’n Narkotiese aroma van sjampoe vul jou neus.

    Ná hierdie aanvanklike stroom plesier word jy gevra om jou oë te sluit. Warm teesakkies, wat intussen in die ketel langs die stapel handdoeke gebrou het, word teer op jou ooglede geplaas. Jy sit daar, in al jou gekke eksentrisiteit, en om jou styg en daal die kletsery saggies.

    En dis op so ’n dag – die dag van die skrywer se eerste blik op die biljoenêr – dat die magnaat se bui vertroebel word deur die voormalige Bata-verkoopsdametjie se verhaal van haar oupa se kankerlong. Maar dit hoor die skrywer eers later. Dit het waarskynlik gebeur terwyl hy nog besig was om te parkeer, of sy hand met kleingeld uitgehou het na die swaar vrou met die afgemete voetstappe. Dalk terwyl hy afgestap het na die steeg en verby die Nokiawinkel gekom het, of toe hy gedraal het by die bergfietse in die fietswinkel se venster.

    Alhoewel die pers die magnaat deur die jare met afstandelike respek gehanteer het, het ’n blog onlangs verskyn soos ’n rot wat vanuit ’n rioolpyp die helder daglig binneskarrel. Daarna het nog ’n blog die snoet uitgesteek. En gou was daar ’n swetterjoel opinies verstrooi oor die internet. Só gaan dit maar in hierdie tye dat nuus met ’n groot N aan die sterf is – jy is in die hande van enigeen wat ’n rekenaar besit. En dit help nie jy sê hulle moet koek kry as die brood gedaan is nie.

    Die rotbloggers se tema was die magnaat se geskiedenis van asbes­mynbedrywighede. Sy aftakelaars (en dalk was daardie BEE-opgepompte Jong Turke daaragter, wie sal ooit weet?) het aangevoer dat sy ryk, al het dit deur die jare vertak tot ’n groot empire wat baie industrieë en handelsmerke huisves, gebou is op die beskadigde longe van vele dooie en sterwende mans. Sy lojaliste (en in hierdie dorp is daar baie van hulle) het geargumenteer dat die kankerwekkende effek van asbes in sy dae as asbeskoning haas onbekend was.

    Hoe ook al, toe die voormalige skoenwinkelassistent met plebejiese onskuld begin klets het oor haar sterwende oupa wat eens in ’n asbesmyn in die noorde gewerk het, het die magnaat skynbaar geïrriteerd gesê: Vandag wil ek stilte hê.

    Natuurlik was sy heeltemal onskuldig; sy is maar ’n eenvoudige jong vrou uit die township. Al wat sy weet, is dat hy ’n man van onmeetlike rykdom is, ’n waardige ou gentleman wat weekliks deur ’n chauffeur gebring word vir sy afspraak met seep en water.

    Dit alles het die skrywer eers agterna gehoor, nadat die ou magnaat daardie middag die salon verlaat het. Toe sou hy die hande op die stoel onthou: verknot en woedend.

    Dit was ’n slegte oomblik vir ’n ou man wat al teenoor Giuseppe opgemerk het dat hy jaloers is op diegene wat eendag sy rykdom gaan erf. ’n Vreemde gevoel, het hy gesê: afguns teenoor diegene vir wie jy die hardste gewerk het.

    En toe kom hy, die skrywer, boonop die salon binne. ’n Skrywer wat bekend is daarvoor dat fiksie en werklikheid ’n sluierdans in sy werk uitvoer. Die Doktor, dink hy agterna, het presies geweet wat die nering is van die man wat langs hom kom sit het. En hoe die woord niks minder as knaagdier is nie.

    Gedagtig aan daardie hande moet hy dink aan sy eie treurige tiere. Die vernaamste is sy obsessie met sy kuns, wat sy gees aan die ver­skeur is – en dit aan ’n universiteit wat in die nuwe republiek moet oorleef. Hy is, nes sy kollegas, gewikkel in onophoudelike gevegte waarin hulle hul navorsingsgebiede moet motiveer, hul doseermodules moet verdedig, hul kantoorure opsom, hul dosent-student-ratio bereken. Helaas moet hy ook die verkoopsyfers en inkomste uit sy boeke aan die dekaanskantoor verklaar.

    Sy ander tiere hou hy voorlopig geheim. Laat hulle vir eers in hul bamboeswoude bly. En gloei, soos dit tiere betaam.

    En so het dit gekom dat die skrywer besef het dat hy en die magnaat al twee skuiling soek teen die wêreld in Giuseppe se salon. Die ou Doktor het ook ’n neiging na die minderes, nes hy – hy herken dit aan die manier waarop die magnaat Maria en Sylvia met vrae peper, aan sy nuuskierigheid.

    Hulle is albei, vermoed hy, besonder weerlose mans. Hy is in die woud van sy keuse ’n papiertier – hy gebruik dié term in sy swakste oomblikke helaas nie ironies nie. Die magnaat is ’n roofdier in ’n wêreld waarvan hy as skrywer geen snars weet nie.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1