Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Pruimtwak en skaduboksers: rubrieke, heildronke en nagedagtes
Pruimtwak en skaduboksers: rubrieke, heildronke en nagedagtes
Pruimtwak en skaduboksers: rubrieke, heildronke en nagedagtes
Ebook277 pages3 hours

Pruimtwak en skaduboksers: rubrieke, heildronke en nagedagtes

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hoe hou ’n mens kop in die 21ste-eeuse virtuele warboel? In hierdie versameling rubrieke, essays en heildronke tuur die bekroonde digter en joernalis Danie Marais diep in die braaivleisvuur van ’n waansinnige wêreld. En hy wonder met speelse erns en entoesiasme wat geword het van rock ’n’ roll en sy generasie X. Hy mik hoog, hy buk laag, en hy dink weer: oor boeke, oor flieks, oor Springsteen, Darth Vader, die Stones, die Simpsons, en oor randfigure – van die Anglo-Boereoorlog se agterryers tot The Big Lebowski en Peter Blum. Genoeg om jou met ’n verwonderde glimlag te laat.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 20, 2015
ISBN9780624073284
Pruimtwak en skaduboksers: rubrieke, heildronke en nagedagtes
Author

Danie Marais

Danie Marais is op 30 Mei 1971 in Kimberley gebore. In 1993 behaal hy ’n B.Com-graad met regsvakke aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy studeer onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland. Sy eerste digbundel, In die buitenste ruimte (2006), word met die Eugène Marais-, Ingrid Jonker-, en UJ-debuutprys bekroon. Vir sy tweede bundel ontvang hy die SALA-poësieprys. Hy het in 2012 die Media24 Legends-toekenning vir Leefstyljoernalis van die Jaar gekry en was in 2013 die naaswenner in dié kategorie.

Read more from Danie Marais

Related to Pruimtwak en skaduboksers

Related ebooks

Related articles

Reviews for Pruimtwak en skaduboksers

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais

    Pruimtwak en skaduboksers

    rubrieke, heildronke en nagedagtes

    Danie Marais

    Tafelberg

    VIR PA-CALLIE EN MA-CECILE

    AAN WIE EK NOOIT GENOEG BOEKE SAL KAN OPDRA NIE

    "’n mens kan baie praat tog sukkel om sin te maak

    almal weet perspektief is nie ’n speelding nie"

    Fokofpolisiekar – Oop vir misinterpretasie

    "In and of itself, nothing really matters.

    What matters is that nothing is ever ‘in and of itself’."

    Chuck Klosterman – Sex, Drugs, and Cocoa Puffs: A Low Culture Manifesto

    PRUIMTWAK

    RUBRIEKE OOR POPKULTUUR EN BOEKDINGE

    Album_1_clean.tif

    WANNEER LONDON CALLING EN LOLLOS ONTMOET

    Hoe gaan my kinders dit ooit eendag regkry om my te skok? het ek nou en dan gewonder toe ek as vyftienjarige Vrydagmiddae in Pretoria bus gery het na die skemerdonker platebiblioteek in Sunnyside se Nedbank-plaza.

    Daardie platebiblioteek was in die laat 1980’s ’n alternatiewe werklikheid waar ek al die musiek waarteen die kerk en skool gewaarsku het, rustig kon beluister voor ek dit uitneem om by die huis te gaan af-tape. My besoeke was ’n gereelde afspraak met verbode vrugte; ’n bedwelmende glimp van die moontlikheid dat my hele saai, voorstedelike bestaan net ’n onbeduidende stukkie van ’n veel wyer werklikheid was; iets wat ek weldra soos my lastige onskuld en onkunde heeltemal sou kon afskud.

    Toe ek in daardie platebiblioteek die eerste keer die omslag van The Clash se London Calling-album (1979) versigtig, soos ’n handgranaat, vashou, het ek gevaarlik naby aan vryheid gevoel. Die grafiese verwysing na Elvis se debuutalbum-omslag het ek nog nie gesnap nie, maar dat daardie kitaar eenvoudig stukkend gebliksem móés word en dat iets belangriks daarmee saam sou breek, was vir my duidelik.

    Die titelsnit het my dronkgeslaan met punkrock, die adrenalien van anargistiese rebellie en die No Future-generasie se omhelsing van dreigende ondergang:

    London calling to the faraway towns

    Now war is declared and battle come down

    London calling to the underworld

    Come out of the cupboard, you boys and girls

    The ice age is coming, the sun is zooming in,

    Meltdown expected, the wheat is growin’ thin

    Engines stop running, but I have no fear

    ’Cause London is drowning, and I, I live by the river

    As melkbaard-rebel sou ek nooit kon droom my vierjarige dogter gaan my eendag met haar reaksie op dié einste strydkreet skok nie. Maar nee, Lea het nie punkrock as anti-outoritêre opvoedkundige maatreël met moedersmelk en vaderliefde ingekry nie. Ek het bloot agtergekom sy het groot plesier aan verskeie pop- en rockliedjies wat in animasieprente soos Shrek gebruik is. Vandat ek vir haar ’n CD vir die motor gemaak het met musiek van die Shrek-, Fantastic Mr Fox-, Cars-, Toy Story- en Rio-klankbane, was die gort gaar. Wanneer sy nou van enige liedjie in ’n fliek of TV-program hou, sê sy dadelik: Pappa, jy moet hóm kry.

    Wanneer sy so ’n liedjie weer in die motor hoor, noem sy dit na die fliek of toneel waaruit dit kom. London Calling is dus die seerowerliedjie, want sy’t dit die eerste keer op haar vierde verjaardag gehoor toe sy The Pirates! Band of Misfits gesien het. Dit was liefde met die eerste hoorslag. Ná die eerste paar akkoorde het sy gesê: Dís ’n lekker liedjie! Pappa, jy moet hóm kry. (My neef Francois het in Londen ’n soortgelyke ervaring gehad. London Calling het Lea se vyfjarige kleinniggie, Issey, in die fliekteater laat uitroep: Daddy, what marvellous music!)

    My dogter sou my dus nie skok deur iets subversiefs te luister en te geniet nie, maar deur dít wat vir my ’n musikale petrolbom was tot lekker liedjie te verklaar – een wat sy lustig in haar karstoeltjie, Lollos-pop op die skoot, probeer saamsing, hoewel sy niks van goed soos phony Beatlemania en imitation zone verstaan nie.

    Joe Strummer se romantiese misnoeë met die wêreld gaan haar waarskynlik eendag, nes die temaliedjies van Heidi, Liewe Heksie en Pinocchio, nostalgies herinner aan ’n tyd voor ernstige probleme en verantwoordelikhede – aan onskuld.

    En miskien is Lea reg. London Calling is dalk niks meer as ’n lekker liedjie nie, al is dit vir ouer mense sinoniem met ’n beweging vol revolusionêre aspirasies. Geen wêreldorde het saam met daardie kitaar aan stukke gespat nie – rockmusiek was net ’n subkategorie ryker.

    Die mitiese status wat Strummer en sy Clash in die rockwêreld geniet, word opgesom deur die kultusgroep The Hold Steady in nog ’n lekker liedjie, Constructive Summer: Raise a toast to saint Joe Strummer / I think he might have been our only decent teacher. Maar die Pulitzerwenner Stephen Dunn se prosagedig Saints maan ons om weer te dink oor heiliges en revolusionêre (my vertaling): Heiliges loop, soos revolusionêre, kop eerste teen die koel, droë wind in, altyd in diens van ’n verborge vlam. Hulle is skrikwekkend vanweë alles wat hulle nie nodig het nie. Die heilige vra: ‘Waarvoor sal jy sterf?’ Die revolusionêr voeg by: ‘Waarvoor is jy bereid om dood te maak?’ In ieder geval, die bring van offers is ’n lelike storie, so lelik soos die geskiedenis self. Kies tussen hierdie verskriklike goed, gebied die geskiedenis dikwels. Ons is net kommentators totdat dit, vir ons, tot daardie keuse kom.

    Só gesien, is protessangers en ook die woedendste punkrockers niks meer as kommentators en bloggers nie.

    Lea en haar kleinniggie se spontane reaksies op London Calling herinner aan iets wat musiekskrywers graag vergeet: Rock gee in die eerste plek uiting aan ’n gevoel, nie aan ’n ideologie nie.

    Nou die dag op pad kleuterskool toe versoek Lea dringend die koei-liedjie, dit wil sê I Won’t Back Down – die Johnny Cash-weergawe – wat ’n tekenprent-bees uitdagend met ’n kitaar in Barnyard sing terwyl hy gereed maak om die plaas se hoenderhok teen ’n nare bende jakkalse te verdedig. Terwyl Cash verklaar: You can stand me up at the gates of hell, but I won’t back down, ry ek 80 in ’n 60-sone en onderbreek Lea haar samesang om te sê: Pappa, jy ry te vinnig. Ek hou van te vinnig ry.

    Is dit nie ook maar wat London Calling beteken nie?

    EK IS JOU VADER

    Party liedjies bly jou by soos tatoes – die Cowboy Junkies se A Horse in the Country, byvoorbeeld. ’n Strofe uit daardie ballade van hul wonderlike vierde album, Black Eyed Man (1992), is met ’n passer in die kougombeplakte skoolbank van my hart uitgekrap:

    And all my friends have settled down

    become their mothers and their fathers

    without a sound

    Except for Cathy,

    she bought a one-way subway ticket

    and left us all behind

    Dié strofe neem my oombliklik terug na iemand wat ek was, of liewer wou wees. Ek en my beste vriende het daardie hele plaat uit ons kop geken toe ons studente was, en ons was almal destyds oortuig dat ons Cathy sou wees. Douglas Coupland se debuutroman, Generation X (1991), het ons diep beïndruk. Ons het ons skeptisisme en allesverterende ironie daarin erken, uitdagend oorbelle ingeskiet en/of hare lank en deurmekaar gedra, swart leerbroeke begeer en in Europa gaan sukkel omdat ons eenvoudig moes wegkom van al die leuens wat ons ouers so skynbaar heel gesluk het – nie net apartheid nie, maar die hele calvinistiese ding van jou sweet, bloed en beste gee vir die vrot maatskappy so asof jy jou sieldodende, ondankbare werk eintlik vir die koninkryk in die hemel doen. Wat, behalwe backpacker-toere, presies ons plan was met die goor, sieldodende en ondankbare joppies wat ons in oorsese fabrieke en restaurante gaan doen het, was onduidelik. Net een ding was seker: Ons wou geen goue horlosie vir getroue diens aan ’n bankrot idee hê nie. Nee, ons was die mense vir wie Beck so lekker gesing het: I’m a loser, baby, so why don’t you kill me?

    Die wortel van hierdie houding van Generasie X, gebore tussen 1965 en 1975, vind jy volgens die Amerikaanse popfilosoof Chuck Klosterman treffend weerspieël in The Empire Strikes Back (1980) – die (destyds) tweede fliek in George Lucas se Star Wars-reeks. Daardie rolprent, waarin die goeie ouens nie net romanties nie maar ook polities verloor, is integraal aan die X’ers se lewensuitkyk, meen Klosterman in sy spitsvondige essaybundel Sex, Drugs and Cocoa Puffs – A Low Culture Manifesto (2003).

    Luke Skywalker was volgens hom die oorspronklike X’er. Later, in ons twintigs, wou ons die koel-ironiese smokkelaar-huursoldaat Han Solo wees, maar ons het die neulerige, opreg gewroegde Skywalker reeds as kinders verinnerlik. Wanneer jy as agtjarige The Empire Strikes Back sien, is die slot verpletterend. In daardie lightsaber-tweegeveg aan die einde word Luke deur Darth Vader verneder – Darth Vader beats Luke the way Ike used to beat Tina [Turner]. Luke is ’n held wat veg teen elke ideologie wat hy haat, pak slae kry en aan die einde van sy nederlaag deur Vader vertel word: I am your father.

    In hierdie toneel stel Luke se aartsvyand-vader hom voor ’n keuse: Hy kan aanhou om ’n waarskynlik hopelose oorlog te voer, of hy kan sy beginsels verraai en by sy pa aansluit in ruil vir skouspelagtige sukses.

    Vele jong gegradueerdes, skryf Klosterman, staan voor ’n soortgelyke keuse, en dié wat as ‘verantwoordelik’ beskou word, slaan noodwendig die laasgenoemde weg in. Maar ’n agtjarige sal nooit uitverkoop nie. […] En wat fassinerend is van die X’ers is dat soveel van hulle wel probeer het om getrou aan hul beginsels te bly.

    Alles wat destyds oor die X’ers geskryf is – positief én negatief – was waar, meen Klosterman:

    "Mense in hul twintigs het in die 1990’s die tradisionele Amerikaanse leefstyl verwerp omdat (a) hulle slim genoeg was om te besef daardie waardes is onbevredigend en (b) hulle bleddie lui was. Mense in hul twintigs het in die 1990’s ’n album soos Nirvana se Nevermind omhels omdat (a) dit ’n aanklag teen die sinloosheid van die Reagan-era-paradigma was en (b) dit eenvoudig gerock het. Mense in hul twintigs was in die 1990’s oorwegend terneergedruk oor die toekoms, hoofsaaklik omdat (a) hulle geweet het daar min is om na uit te sien en (b) omdat hulle so graag obsessief in die oë van hul eie selfgesentreerde weltschmerz gestaar het."

    Maar dis nou twee dekades later en ek’s seker daardie fiktiewe Cathy word nes al my ou vriende en nes hul ouers voor hulle deur die sorge van die lewe verdruk. Rebellie of selfverwesenliking is eintlik nie nou meer ’n opsie is nie – daar is kinders om groot en geleerd te maak, terminale siektes om te vrees, verbande om af te betaal en ouer, brose geliefdes om te versorg en te begrawe.

    Dat die oorweldigende, waansinnig komplekse toekoms toe geen grap of roostuin was nie, is duidelik. Wat die blote feit dat ons dit voorspel het, ons in die sak gebring het, is egter nie duidelik nie. Ons het net die fotoalbums wat bewys lewer van die eksotiese backpacker-toere.

    Ek het toe wel nie in my ma of pa verander nie – my lewe is baie meer chaoties as hulle s’n ooit was. My pa was ook nooit Darth Vader nie. Die man met die swart suurstofmasker was immers maar net ’n intimiderende pion van die Empire. En daardie Empire van turbokapitalisme en transnasionale korporasies was in my pa se tyd al te magtig om deur enige rebellegroepie of enkele dwarstrekker tot ’n val gebring te word. Al wat die Empire nou nog kan (en waarskynlik gaan) kelder, is sy eie blinde, hulpbronverterende en mensveragtende logika van profyt.

    Tot tyd en wyl braai ek dus maar en brom vir die seweuurnuus, soos my pa my geleer het.

    DIE GROOTSTE KOMEDIE NOG?

    "Ghostbusters is die grootste fliek tot nog toe en nie Star Wars nie," verklaar die Britse joernalis, TV-persoonlikheid en kultusfiguur Caitlin Moran in haar onderhoudende rubriekbundel Moranthology (2012).

    Erg soos ek is oor min of meer enige fliek met Bill Murray in, is dit moeilik om haar stelling ernstig op te neem. Die topverkoperskrywer van How To Be a Woman (2011) het egter ’n paar punte beet.

    Sy wys daarop dat Ghostbusters in 1984 $229,2 miljoen (meer as 2 miljard rand) by die loket verdien het, wat dit die mees suksesvolle komedie ooit maak en, beklemtoon sy, komedie is die koning van alle genres. Ja, daar is diegene wat sal redeneer kuns moet klinkende waarhede oor die menslike toestand onthul, en dit kan ook, soms, as dit wil, maar hoeveel diep insigte in die menslike natuur het jy in een leeftyd nodig, vra sy.

    Sodra jy besef niemand het eintlik ’n idee wat hulle besig is om te doen nie en dat liefde geheel en al sinloos kan wees, raak enige verdere insigte in die menslike aard regtig terneerdrukkend.

    Ja, hoe ouer jy word, hoe wilder woed die werklikheid buite én binne jou huisie van strooi. Sekere flieks, musiek en boeke begin dan eerder na tweedehandse trauma as verheldering voel. Ek het juis onlangs die hoogaangeskrewe The Stoning of Soraya M van my PVR afgevee, want ek kon my eenvoudig nie ’n aand voorstel waarop ek kans sou sien om te kyk na die ware verhaal van ’n vrou wat gestenig word deur fanatiese godsdienstige fundamentaliste nie. Ek verstaan ook al hoe beter hoekom ons geteisterde mense Leon Schuster se platvloershede en poetse verkies bo die seweuurnuus of die jongste bekroonde dog triestige drama met onderskrifte. Toe my ma ná ’n breinbloeding in die waaksaal gelê het, was Molly en Wors al televisie wat ek en my pa kon verteer.

    Dit is eintlik ’n eienaardige fenomeen dat kritici so dikwels net kunswerke wat gewaagd, skrikwekkend of gevaarlik is as noodsaaklik ag. Is hierdie obsessie met gevaar nie bloot ’n luukse wat deur vrede, welstand en oor-opvoeding moontlik gemaak word nie?

    Volgens Moran, het ons – veel eerder as insigte in die ongeneeslike ou menslike toestand – amusante, triviale sêgoed nodig, wat soveel mense moontlik in ’n vertrek so ontspanne en gulhartig moontlik laat voel.

    En in hierdie opsig, reken sy, is Ghostbusters ’n wenner. Wanneer iemand, sê nou, reken jy vang iets onverantwoordeliks aan, veral in die kombuis, sê jy eenvoudig: Back off, man – I’m a scientist. Wanneer jy ’n ete voorberei en wonder oor die tafelplasing, onthou: Never cross the streams. Wanneer jy met platsakvrinne aansit vir ’n laatnag-wegneemete, lig jy jou blikkie bier en sê: "This magnificent feast represents the last of the petty cash."

    Moran skryf natuurlik spottenderwys, maar dit is dikwels flieks met die mees aanhaalbare dialoog wat die grootste kultusaanhang geniet. ’n Goeie aanhaling, veral wanneer dit effe absurd buite konteks ingespan word, skep nie net ’n gesellige atmosfeer nie – dit verleen ook ’n tikkie waardigheid aan die aanhaler en laat hom/haar ’n oomblik in beheer voel van ’n lewe wat die meeste van ons gereeld oorweldig en magteloos laat steier.

    Maar Ghostbusters is nie in hierdie opsig die grootste komedie ooit nie. Daardie eer moet die Coen-broers se meesterstuk The Big Lebowski (1998) toekom. Tussen The Dude (gespeel deur Jeff Bridges) en sy kegelbal-kameraad Walter (John Goodman) is daar genoeg aanhalings om hierdie hele vreemde lewe met waardigheid op sy plek te sit. In Amerika kan ’n mens selfs as ’n Dudist-priester kwalifiseer en mag jy daarna mense in die huwelik bevestig. (Google gerus Dudeism of The Church of the Latter-Day Dude as jy wil sien hoe ernstig sommige mense dié storie opneem.)

    Want die Dude en sy onambisieuse kegelbalmal vriende het ’n semi-Taoïstiese, half-hippierig-gelate antwoord op alles.

    Wanneer iemand jou aan die strot wil gryp en jou intiem persoonlik beledig, antwoord jy rustig: Yeah, well, you know, that’s just, like, your opinion, man.

    Wanneer dit tyd is om grense neer te lê – privaat of by die werk – sit jy jou sonbril op en sê: I do mind, the Dude minds. This will not stand, ya know, this aggression will not stand, man. Of jy haal vir Walter aan: This is not ’Nam. This is bowling. There are rules.

    Wanneer konflik onafwendbaar bly, onthou jy Walter se woorde aan die stomme Donny (Steve Buscemi): Pacifism is not something to hide behind.

    Wanneer die pôpô die goedkoop tafelwaaier op jou bedkassie tref, gebruik jy die woorde van die sogenaamde Stranger: Sometimes you eat the bar and sometimes, well, the bar eats you.

    Wanneer die lewe of jou baas jou dwing om iets onaangenaams en vernederends te doen, behou jy jou waardigheid deur te verklaar: The Dude abides. En as alles regtig te veel raak, sê jy: Dude, let’s go bowling.

    Woody Allen was waarskynlik reg toe hy geskerts het: Life doesn’t imitate art, it imitates bad television. Juis daarom het ons die teengif van oneerbiedige, vergewensgesinde komedies soos The Big Lebowski (en selfs Schuster) net so nodig soos goeie skole en meer werksgeleenthede. Maar ignoreer gerus – dit is maar net my mening, man.

    WAT HET GEWORD VAN ROCK ’N’ ROLL?

    My jeug is verby, maar dit was te verwagte. Toe ek jonk was, het ek egter soos miljoene ander graag saam met Neil Young gesing: Hey hey, my my / Rock and roll can never die. Maar nou is ook die musiek van my jeug klaarblyklik iets van die verlede.

    Dis die einde van die rock-era. Dis verby, nes die jazz-era verby is. Dit beteken nie daar sal nie meer goeie rockmusikante wees nie, maar rock as ’n dominante styl is deel van die musiekgeskiedenis, het Paul Gambaccini, die Britse veteraanplatejoggie en sogenaamde professor van pop, aan die begin van 2011 verklaar.

    Ek sou graag wou stry, maar die syfers ondersteun

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1