Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Silberstein-trilogie
Die Silberstein-trilogie
Die Silberstein-trilogie
Ebook709 pages16 hours

Die Silberstein-trilogie

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

’n Welkome heruitgawe van Leroux se trilogie wat die romans Sewe dae by die Silbersteins (1962), Een vir Azazel (1964) en Die derde oog (1966) insluit. Dit is romans wat in Suid-Afrika en die buiteland hoog aangeslaan is. Nie net het die afsonderlike romans destyds in Brittanje en Amerika (en elders) aandag getrek nie, maar Penguin het ook in 1972 in hul Modern Classics-reeks die trilogie uitgegee onder die titel To a Dubious Salvation (‘n heruitgawe het in 1985 gevolg).

Die eerste roman is ’n verslag van Henry van Eeden se weeklange besoek aan die Silbersteins se groot landgoed om Salome, sy toekomstige bruid, te ontmoet. Elke dag lewer bisarre ervarings op en dit word vir Henry ’n inisiasieproses: hy moet sy onskuld verloor en kennismaak met die verweefdheid van die goeie en die bose. Op die oog af is Een vir Azazel ’n speurroman waar ’n moord opgelos moet word, maar dit gaan ook oor die mens se behoefte aan ’n sondebok: Die agterdog wat opbou en fokus op die Reus Adam Kadmon, ’n verstandelik vertraagde jongman, lei tot ’n tragedie – een van die aangrypendste tonele in die Afrikaanse letterkunde. In die laaste roman moet kaptein Demosthenes H de Goede die magnaat Boris Gudenov opspoor.
LanguageAfrikaans
Release dateJun 25, 2014
ISBN9780798167413
Die Silberstein-trilogie
Author

Etienne le Roux

Etienne Leroux (1922-1989) was een van die belangrikste Sestigers. Hy het baie vernuwing in die Afrikaanse letterkunde meegebring en dikwels groot omstredenheid veroorsaak. Sy werk is verskeie kere bekroon, o.a. Twee keer met die Hertzogprys vir Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein O Magersfontein.

Related to Die Silberstein-trilogie

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die Silberstein-trilogie

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Silberstein-trilogie - Etienne le Roux

    cover.jpg

    Etienne Leroux

    Die Silberstein-trilogie

    HUMAN & ROUSSEAU

    Sewe dae by die Silbersteins

    Daar bestaan nie ’n plaas soos Welgevonden nie.

    Alle karakters is denkbeeldig.

    Die gebeurtenisse is onwaarskynlik.

    Ons is nie alleen nie, sê Jock Silberstein.

    Ons besef aldag meer ons gesamentlike aandeel in die lot van die mensheid. Die eensaamheid is die verlange, die pyn by aanskouing van die valse beeld van die enkeling wat stuksgewys met ons nuwe insig verdwyn.

    OPGEDRA AAN

    MARIANNA EN ALEXANDER PODLASHUC

    HOOFSTUK I

    Dans van die rykes

    I

    Die Van Eedens het gevoel dat dit haas tyd is dat hulle enigste seun in die huwelik moet tree met iemand wat in ander opsigte hulle stand waardig is. Die jongman is, goddank, wêreldwys genoeg grootgemaak om te besef dat liefde slegs as ’n laaste instansie op die spel kom. Die naam Salome is genoem en na openhartige oorweging as aanneemlik verklaar. ’n Oom van die betrokke spruit is gekies om die nodige aanvoorwerk te doen en, waar nodig, behulpsaam te wees in hierdie delikate kwessie van ’n sosiale kontrak teen die agtergrond van onvoorspelbare menslike verhoudings. Die naam van die oom is J.J. van Eeden, ’n vrygesel en boulevardier; die naam van die jongman, Henry.

    Hulle is op hierdie oomblik op pad na die Silbersteins, waar hulle ’n week sal deurbring. J.J. het ’n tweedpak aan met bypassendhede soos pyp, tabak, sysakdoek en serp. In sy onmiddellike nabyheid is daar die geur van dennenaalde. Henry bestuur die Riley met ’n argloosheid waarin dit moeilik is om geluk van behendigheid te onderskei. Die Bolandse landskap van wingerde, berge, bome en gesellige riviertjies dra alles by tot die décor. Hulle nader spoedig die landgoed wat aan die bo-ent van ’n vallei geleë is.

    Die ingangspoort bestaan uit twee enorme, wit geverfde pilare, aan weerskante verbind met ewe wit geverfde ringmure wat soos twee arms die aardse besittings van die Silbersteins tot teenaan die horison omhels. Die plaas se naam is op ’n raamwerk van vlekvrye staal aangebring, die letters is van yster, die letteraard Goties, die legende: Welgevonden. Die pad na die huis is geteer en slinger berekend tussen ou Kaaps-Hollandse Jonkheerhuise aan die een kant en ou Kaaps-Hollandse stalle aan die ander kant. Die deure lyk op stinkhout, die dakke is vars gedek en opgeslaan, die gewels trapsgewys met rondings bo, die versiersels druiwemotiewe, Eros-babas en horings van vrugbaarheid. Die gewel van die herehuis self is ’n gedig van krulle, golwings en wit kalk. Daar is interessante hoekies en gangetjies wat nêrens heen lei nie, en leertjies van ou hout wat na solderkamers wys, en kolossale betonblokke met dwarsbalke vir druiwepriële, en swaar houtdeure met swaar bronsknoppe en ornamentele kloppers. Daar is groot palmbome, sipresbome, eikebome, lukwartbome, perskebome, beukebome, rubberbome en okkerneutbome. Daar is bougainvillae, watervalle van pers en rooi oor muurtjies wat onverwags verskyn en meteens vasloop teen lantern-ligte van gegote yster. Daar is voetpaadjies wat onloopbaar ’n wentelweg deur oorhange volg, ’n tennisbaan behang met klimop, ’n roller in die hoek, ’n net vertoiing, strepe verweer, ’n pagode volkome toegegroei, en daar is artistieke klein fonteintjies van onreëlmatige vorm met kabouters en maniese muurtjies. Die Riley hou swierig stil en J.J. en Henry klim uit, effens verlore soos mens maar alte verlore voel as jy meteens op iemand anders se werf aankom – ’n oomblik van besinning, van insinking, van wat doen ek hier? waarnatoe gaan ek?

    ’n Ornamentele sleutelgatplaat blink in die laatmiddagson teen die voordeur met ’n blaarmotief. Dit lyk soos ’n baarmoeder, sê J.J. Hy lig die swaar drakeklopper en tik-tik met die regte fermheid wat aan die een kant nie té luidrugtig klink nie en aan die ander kant nie té beskeie nie – soos dit hoort by ’n man van stand wat van kleins af ingestel is op die beskaafde musikaliteit van selfaankondiging.

    Eers gaan die bodeur oop en ’n kleurlingmeisie, met gestyfde kappie en witgestyselde nekkragie wat haar smal, half Oosterse gesiggie nog smaller laat lyk as wat dit werklik is, kyk uitgelate na die twee mans wat behoorlik onbelangstellend hulleself verblind in die strale van die ondergaande son. Dan gaan die onderdeur oop en hulle wandel onder die barok-bolig deur tot in die gang waar ’n besonderse binnenshuise panorama hulle tersluikse aandag tref, voordat hulle netnou regs sal draai na die voorhuis op die hakke van die sywaarts-dansende meidjie. Tiggelsteen, wit en blou, strek die hele lengte van die gang tot by ’n uitswaaivenster wat met elegante ruitjies violetkleurig die lig inlaat. Vier Persiese matte, fyn geweef van sy, intensief beblom, dek die hele vloer vierkantig, langwerpig, vierkantig, langwerpig. ’n Kaapse armoire van geelhout, houtvere op die boonste ronding, staan regs teen die muur; ’n concavo-convex muurkas links; ’n beeldjie van Epstein op ’n tafeltjie verder af en dan ’n paar riempiematstoele met Kwaker-eenvoud aan weerskante.

    In die voorhuis hou almal op met praat as die twee inkom – daardie oomblik van belangrike stilte wanneer die raakste opsommings gemaak word en balans getoets word na die denkbeeldige middellyn tussen onbeskofte onverskilligheid en onderdanige eerbiedigheid. Op ’n hoekstoel, haar arms op haar skoot gevou, sit die lelikste vrou wat Henry al gesien het. ’n Vierkantige ken, versier met ’n swart moesie waaruit ’n enkele haartjie krul, korrel in sy rigting onder die visier van twee ebbehoutogies wat hom waarneem en vir die res van die aand orals sal volg. Langs haar staan ’n slank vrou, geklee in ’n swart aandrok versier met silwer sequins, haar hals swaanwit, haar borste half ontbloot, haar oë verlig deur intense plesier as sy met uitgestrekte arms J.J. nader en haarself om sy hand drapeer.

    J.J., sê sy. Ten lange laaste. Is julle moeg? Is julle dors? Sy gee vir hom ’n glas gevul met ligte wit wyn vanaf ’n tafeltjie langsaan. Iemand sal julle spoedig na julle kamers neem. Maar eers ’n drankie. Verkies jy wit of rooi? Ek het al té veel gehad, maar wat anders is daar hierdie tyd van die aand te doen as die son ondergaan en die verveeldheid oor mens kom … Is dít Henry?

    Henry word aan Mrs Silberstein voorgestel. Die Alice in Wonderland-hertogin grom iets vanaf haar stoel en hy word voorgestel aan ou mev. Silberstein. Sy gryp hom met al twee haar hande, trek hom nader en los hom meteens. Jy is klein en skraal. Ek het gedink jy was langer. Misgewaste klein goy. Mammie, Mammie! sê die slank Mrs Silberstein, nog steeds vasgekleef aan J.J., Jock … Henry, en Jock kom na vore, ses voet vier, swierig in ’n aandpak, ’n gloed op sy gesig, sy hande breed en tog sag as hy Henry s’n sensitief soos ’n pianis omklem. Juffrou Silberstein, Juffrou Silberstein, en twee muisagtige vroutjies wip op en af van hulle stoeltjies eenkant in die hoek, omring deur bottels, vervrolik deur ligte wyn wat hulle soos water uit die kelkies drink.

    So, sê Jock. Nou het jy die hele Silberstein-ménage ontmoet.

    Behalwe Salome, sê een van die vroutjies en hulle krul dubbel op hul stoeltjies van uitbundige plesier.

    Dis waar, sê Jock en hy omarm Henry wat soos ’n kind voel wat deur sy vader omhels word. Kom sit by my. Hy loer by die venster uit. Is dit jou motor? Lekker, lekker. Hy stamp Henry in die ribbes en bly meteens stil.

    J.J. en die slank Mrs Silberstein, in ’n ligkol onder ’n Martinus Smith-kandelaber, geniet die wyn en mekaar se geselskap terwyl die ander, die hertogin met glurende ogies, en die twee vaal vroutjies met prettige houdinkies, elke beweging en reaksie van Henry volg.

    Dis ’n pragtige huis, sê Henry.

    Vyftien jaar gelede van die oorspronklike eienaars gekoop, sê Jock. Honderdduisend rand spandeer net om die plek in orde te kry. Hou jy van die wyn?

    Hy tel een van die bottels op; dis driehoekig met die naam, Welgevonden Riesling, op ’n driehoekige etiket aangebring.

    Welgevonden se wyne kom nou weer tot hulle reg. Hierdie selfde Riesling het ons in ’n gewone bottel teen veertig sent verkoop en daar was geen mark nie. Nou … hy sit die bottel neer, driehoekig en teen honderd-en-vyftig sent verkoop dit soos soetkoek. Dis ’n sielkundige benadering. Advertensie, advertensie en gimmicks, en dan kan jy ’n plek soos Welgevonden tot sy reg laat kom. Hy kyk goedkeurend na Henry. Ek is bly jy stel belang in ou Kaaps-Hollandse wonings. Daar is so baie van die jongeres wat die plekke te ongerieflik vind. Ons probeer ’n leefwyse hier vestig – soos in die ou Kaap. ’n Liberale leefwyse, beskaafd en prikkelend. Ons het elke aand gas­te, jy sal vanaand sien. Elke aand van die week. Hierdie plek leef. Iets, iets leef. Hy beduie met sy hande. Iets leef en so lank as wat daar lewe is, leef Welgevonden. Niks mag ooit gaan staan nie; daar moet altyd iets aan die gang wees. Luister! Hoor jy dit? Henry hoor in die verte ’n masjien dreun. Dis ’n groot dieselenjin wat ligte verskaf. Ons kry elektrisiteit van die stad af, maar dit word aangevul deur ons eie installasie. Welgevonden moet altyd iets hê wat werk. Dis die hart van Welgevonden wat klop. As die enjin ophou, begin ’n ander een. Dit pomp die swembad leeg, reinig die water en vul dit weer. As die pomp gaan staan, werk daar waaiers bokant die plafon om die lug te laat sirkuleer. As dit ophou, begin die bottelary by die kelders en so gaan dit aan. Hy gloei van plesier. Jy moet môre saam met my op die plaas rondgaan. Die trekkers raas, die brouery dreun, die vragmotors brul, die melkkanne klater, die waters murmel, die voëltjies kwetter, Welgevonden se werksmense sing … Wag, luister! ’n Pou skree sy doodskreeu in die rigting van die tuin. Jock ledig sy glas en klap dit hard op die tafel neer. Dan verval hy meteens in ’n swaarmoedige stilte, sy skouers krom, sy ken op sy hand, sy elmboog op sy knie. Goy, sê die hertogin. Oh, shut up, mother, sê Jock. Die twee vaal Misses Silberstein raak al hoe dronker en giggel musikaal. J.J. en die slank Mrs Silberstein kyk berekenend na mekaar. Henry peusel, peusel aan die wyn en loer in die kamer rond.

    Hy is sewe-en-twintig jaar oud en alreeds vasgevang in ’n patroon waaroor hy geen beheer het nie en waaroor hy geen beheer begeer nie. Behalwe aan liefde glo hy in alles: die waarde van godsdiens, skoonheid, die invloed van die natuur op die mens, die staat, die liberale gewete, die toekoms van die mensheid, die onverganklikheid van simbole, die goeie orde, wellewendheid, liefdadigheid, sekuriteit en die mens as die kroon van die goddelike skepping. Dis tyd dat hy moet trou, kinders kry en homself perpetueer. Liefdeloosheid is vervang deur universele erbarming; liefde is selfsugtig. Henry van Eeden is ’n vlekkelose klein robot, doelbewus deur ’n sekshandeling geskep en behoorlik gekondisioneer. Hy sal gepaar word met Salome en al wat hy van Salome weet, is wat J.J. van haar gesê het: sy het donker oë.

    Iemand tik aan sy arm. Dis Jock. Sarie sal vir jou die kamer wys. Hy volg die diensmeisie die gang af tot in ’n kamer waar ’n koperbed met behangsels presies in die middel staan en ’n enkele kas van Kaaps-Vlaamse ontwerp op sy klere wag. Sy maak ’n blinding oop deur ’n kettinkie te trek wat ’n knip à la Provence in werking stel. Sy skuif die raam op en die beboste tuin versper die uitsig. Sy staan in die deur, wiegend, wagtend, en, as hy niks sê nie, trek sy die deur saggies agter haar toe en trippel weg na die ou Hollands-Kaapse kombuis.

    ’n Aangename jongman, sê Jock.

    Goed opgevoed, sê die slank Mrs Silberstein.

    Elegant en slank, sê die twee vaal Misses Silberstein.

    Kort, sê die hertogin. Impotent.

    Sewe dae, sê J.J. Dit behoort genoeg te wees.

    Hulle klink glasies.

    Die gas­te sal nou-nou hier wees, sê die slank Mrs Silberstein. Ons het net genoeg kans om te verklee.

    Sy kyk verlangend na J.J.

    Die voorkamer dreineer leeg en word dan weer vol as ’n horde diensmeisies in gestyfde blou rokkies en gestyselde kragies, hulle gesiggies fyn, hulle mondjies tandloos, die vertrek begin regskuif, poleer, vee, en dan vul met allerhande gereggies: olywe, vrugte, tinkelende kelkies, hoender, kalkoen, visrolletjies, aspersies, haring en kaviaar.

    In sy kamer het Henry ’n aandpak aangetrek en ’n sigaret aangesteek. Buitekant dreun die ligte-enjin met dieselklopgeluide. Hy sit regop en styf in ’n stinkhoutstoel terwyl hy sonder enige uiterlike teken van emosie kyk hoe ’n by teen die glasruit probeer uitkom.

    II

    ’n Ligte tikkie op die deur, ’n aankondiging dat die gas­te reeds vergader het en Henry vind sy weg na die getransformeerde voorkamer wat, blind-helder verlig, ’n bewegende mensheid bevat. Hy verskyn in die deur en almal word stil. Hulle kyk na die jongman met die engelgesig in sy swart aandpak, ’n sigaret in sy linkerhand, sy regterhand kalm langs sy sy. Almal is in gewone drag geklee: die slank Mrs Silberstein in Engelse tweed met plathakskoene, die hertogin met ’n doek om haar kop en ’n tjalie om haar skouers. Jock in ’n hacking-baadjie, J.J. sonder baadjie met ’n syserp in sy hemp, die res van die gas­te ontspanne in alledaagse slenterdrag. Dan hervat almal hulle gesprekke.

    Die hertogin klou aan Henry se arm.

    Sefer nashim, Hilkot issure biah ve-kaleë behemah.

    Sy kyk betekenisvol na hom en verdwyn in die gedrang.

    Hy hoor telkens die naam Salome, maar as hy opkyk, is daar gewoonlik ’n paar meisies bymekaar, almal met donker oë.

    Hy beland onder ’n groepie mans wat hom saamneem na die kroegie in die hoek waar hulle elkeen ’n stywe dop brandewyn (Welgevonden Special) ingooi. Iemand het Indian Tonic met soda verwar, maar almal skryf die smaak toe aan ’n bepaalde eienskap eie aan die landgoedbrandewyn – prikkelend, bittersoet, ietsie-ietsie in die nasmaak. Hulle ruik aan die bol­vormige glasies.

    Henry word voorgestel aan dr. Johns van Bishops Court, regter O’Hara van Bishops Court, sir Henry Mandrake van Bishops Court. Hulle gesels oor waterskaats, tunavis, krieket en Margaret Armstrong-Jones. Vrouens sluit by hulle aan en word omarm. Iemand bedien olywe en aspersies; iemand anders frikkadelletjies; nog iemand hoender en kalkoen. Henry dans met ’n Italiaanse contessa (ses jaar in die land) wat skaam-skaam aan hom beken dat sy ses kinders het. Hoe heerlik, sê Henry. Ek voel soos ’n konyn, sê sy. Bloody shmok, fluister die hertogin in sy oor en kielie hom met haar moesie teen sy wang. Hulle dryf hom tot ’n gesprek oor kuns: Tretchikoff en ander. Iemand verduidelik vir hom die simboliek van die orgidee op die trap, die vars druppel water, die vergane tooisels en die sigaretstompies. Plesier is selfs korter as die lewe van ’n geplukte blom, die bestaan van ’n druppel water. ’n Dronk, blonde meisie trek Henry terug na die dans, terg hom met bewegende bekken, smeer haar rooisel teen sy boordjie, berei haarself voor (deur hom) vir iemand anders, vra hom uit na Salome en verdwyn in die arms van ’n pukka-snor met sy gesprek die ene vis, sport en seks.

    Nebelah, sis die hertogin en dryf weg in die gewoel.

    Een van die vaal Misses Silberstein wink vir hom om langs haar te kom sit.

    Salome, sê sy, hou van blomme en die veld. Vroeg in die oggend, as die dou nog op die gras lê, dan wandel sy in ’n ligte rokkie soos ’n nimf oor die vlei. Sy is lief vir diere en sing soos ’n nagtegaal. Sy is fyn en skugter soos ’n wildsdiertjie. Praat te hard met haar, en sy is weg op die oggendwind.

    Die ander vaal Miss Silberstein kom liefies nader en voeg haar fluisterings in sy ander oor.

    Salome is sag en wondbaar. Behandel haar teer, inisieer haar met liefde … Sy bly meteens stil en bring haar hand na haar mond. Inisieer haar met begrip in die land van …

    Hulle begin meteens giggel en giggelend onttrek hulle hulleself tot ’n vaal kokon.

    Henry het ’n manier om sy ore te trek; hy trek eers die een oor, dan die ander een. Maar hy doen dit net as hy baie ingedagte is, soos nou. Hy is op die punt om ’n doodsbesef te kry – nie heeltemal nie, maar slegs by wyse van vae aanduiding. Dit wek nie ’n gevoel van vrees by hom op nie; hy begin bloot wonder hoe dit sal voel om nie meer daar te wees nie. Hy probeer hard, maar hy self is altyd teenwoordig: hy sien sy eie lyk, die graf, die verdwaasde familie en hy kry ’n besef van tyd wat verbygaan. Hy probeer hom voorstel hoe dit sal wees om in die hemel te kom. ’n Genadevolle staat van perfekte harmonie. Dan dink hy daaraan hoe bedroë mens moet voel as jy in extremis jou oë toemaak, wag en niks gebeur nie. Beide begrippe is moeilik, té veel vir hom op hierdie oomblik, en hy keer terug tot die lewende wat heelwat luidrugtiger ge­word het.

    Hoekom beweeg jy nie tussen die mense nie? vra Jock wat langs hom kom sit het, sy skouers bergbreed in sy Harris tweed­baadjie. Hoekom drink jy nie? Hy gee vir hom ’n glasie brandewyn. Ken jy die mense? Hy wys na ’n man wat sothede amusant aan ’n waarderende gehoor verkondig. Regter O’Hara is ’n groot vriend van my. Hy is ’n uitstekende juris, maar, helaas, ’n filistyn. So is hulle almal, my vriende hier, goed in hulle vak en ryk daarby. Dink jy dis ’n skande om ryk te wees? Betwyfel jy hulle integriteit? Het ryk mense geen integriteit nie? Die lewe is nie so eenvoudig nie. Ek sien jy moet ontslae raak van sekere gevestigde idees. Hy is effens aggressief. Kom, sê vir my – tel goeie familie meer as rykdom? Wat bedoel jy met goeie familie? Mense wat oor geslagte heen iets vir die gemeenskap tot stand gebring het? Mense wat sekere kodes van wellewendheid en smaak jaloers binne hulle kring bewaar? Sy aggressiwiteit het nou bedaar. Dink jy ons is vulgêr? Ek is ryk en ek is net so trots op my prestasie van rykdom as jy op jou geslagsregister. Dis jou eerste les. Jy moet gewoond raak aan rykdom en die rykes.

    Ek het aan die dood gedink, sê Henry. Ek het niks teen u en u gas­te nie. Hy het meteens die hitte begin voel en hy wens dat hy van sy aandpak ontslae kan raak.

    Hulle stap saam tussen die malende tweedstukke.

    Jy lyk effens onvanpas met jou aandpak, sê Jock, maar dit sonder jou uit, maak jou interessanter. Ek veronderstel jy is ’n individualis.

    Nee, sê Henry. Dit was bloot ’n misverstand.

    Met wie wil jy gesels en waaroor? vra Jock. Oor bloedlyne, kastra­sie, reinheid en onreinheid, skade, egskeidings, feeste, eersgeborenes, erfporsies, ondertroue van groepe behorende tot verskillende stamme, melaatsheid, die huwelik, moord, kos, die armes, prostitusie, die kweek van baarde, slawe-arbeid, diefstal, trustees, godsdiens …? Jy hoef maar net die onderwerp te noem en ek kan iemand hier uithaal wat jou die nodige informasie sal gee tot die beste van sy vermoë, wat nie gering is nie as mens die feit in aanmerking neem dat soveel persone hier teenwoordig is wat sukses in hulle onderskeie beroepe behaal het. En, let wel, gepaard daarmee, ook materiële vergoeding vir hulle bekwaamheid gekry het. Of verkies jy ’n arm ekspert? In daardie geval, miskien later in die week. Iemand pluk Jock aan die arm. Dit was ’n aangename gesprek. Ons moet weer gesels, en hy laat Henry gestrand in die middel van die vloer waar ’n dronk maar welriekende vrou van gevorderde ouderdom die jongman hartstogtelik omhels.

    Jock kom terug en fluister iets in haar oor. Sy keer haar weer tot Henry, haak by hom in en wandel met hom tot by die venster van waar hulle in die beligte tuin kyk.

    Mens woon in die land van die lewende, mens moet nie heeldag aan die dood dink nie, sê sy. Die lewe is so interessant. Neem my man as voorbeeld – daardie een oorkant in die hoek, die een met die wit baard, sir Henry Mandrake. Sir Henry en ek was die hele wêreld deur: Hongkong, Hawaii, Griekeland, Majorka, Venesië en Capri. Ons het al die mooiste kunswerke gesien en sir Henry is ’n ywerige versamelaar alhoewel hy die jongere abstraksies nie kan waardeer nie. Sir Henry se lewe was vol en hy ly aan sy hart. Dr. Johns is ons huisarts en hy het my vertroulik meegedeel dat sir Henry versigtig moet wees. Die dood is om die draai, maar dink jy sir Henry gaan eenkant in ’n hoekie sit, soos iemand wat ons ken, vol doods­gedagtes? Kyk na hom. Sir Henry het ’n slank meisie omarm. Haar oë is donker; haar vel is roomwit; sy lyk soos ’n madonna. (Is dit Salome?) Sir Henry se gesig is bloedrooi; die are op sy slape is pers en geswolle; hy hyg na asem; sy oë is verwilderd; sy bewegings rukkerig. Lewe en nogmaals lewe is sir Henry se benadering. Dood, waar is jou angel? Sy kyk met groot solemniteit na die jongman. Haar beenstruktuur is indrukwekkend; die skoonheidsvernis op haar gesig is deur ’n deskundige gevorm tot ’n pragtige masker wat stadig begin ontbind as die trane begin loop: eers die blou onder die oë, dan die rooisel op haar wange, dan die poeier wat orals verkrummel. O, die neerslagtigheid van die jeug! Sy gryp hom aan die arm. Leef! Leef! Dans en wees vrolik; die hele wêreld wag. Lewe, lewe, lewe! En sy verberg haar gesig op sy bors terwyl haar Juno-haarkapsel stadig begin lostrek en kammetjies, haarnaalde en gespetjies een ná die ander met die geluid van waterdruppels op die vloer val.

    Henry sit sy arm om haar en kyk op in die stralende gesigte van die slank Mrs Silberstein, J.J. en Jock wat van oorkant die kamer, langs ’n kaggel met geelhoutvuurskerms, hom vrolik en goedkeurend toewuif.

    ’n Rukkie later, toe hy weer alleen in die middel van die kamer is, nog ’n glasie brandewyn in sy hand gestop deur ’n verbygaande gas, trek iemand sy aandag. Dis regter O’Hara met dr. Johns.

    Jock vertel my dat jy baie belang stel in melaatsheid, sê dr. Johns. Is dit nie ’n bietjie morbied nie?

    En owerspel, moord, onreinheid, prostitusie en diefstal, voeg regter O’Hara by. Ek moet erken dis ’n ongewone belangstelling vir iemand van jou leeftyd.

    Om met melaatsheid te begin, sê dokter Johns, ek sal jou nie ver­veel met die mediese aspek daarvan nie. Die kanse is baie gering dat jy dit in hierdie gedeelte van Afrika ooit sal kry, of ooit sal teëkom. Dis die psigologies-morele aspek daarvan wat jou klaarblyklik interesseer. Hy maak sy keel skoon en rook en drink eers ’n bietjie voordat hy hervat. Volgens Moses Maimonides is dit duidelik gestel deur die ou wysgere dat melaatsheid straf vir skinderpraatjies is. Die siekte begin in die mure van die huis. Hou die oortreder op met sy lasterpraatjies, is die doel bereik. Hou hy vol, versprei die siekte tot sy bed en huismeubels; skrik dit hom nog nie af nie, dan val die siekte sy kleding en sy liggaam aan. Aangesien melaatsheid aansteeklik is, vermy almal die persoon en is die doel bereik, die lasteraar onskadelik gemaak. Ek dink daar is ’n geweldige wysheid agter hierdie ratio verskuil.

    Baie interessant, sê regter O’Hara en hulle kyk na die mure van die voorkamer, na die onreines in hulle groepies, na hulle bewegende monde wat die siekte van die mure trek tot die meubels. Hulle betas hulle klere en meteens is dit asof die hele vertrek met melaatses gevul is. Die hele wêreld, sê regter O’Hara, die hele wêreld is met die onreinheid aangetas.

    Die purifikasie is teweeggebring deur sederhout, hisop, skarlaken gare en twee voëls. Die rede hiervoor, soos aangegee in die Midrashic-gesegdes, is obskuur en nie heeltemal aanneemlik nie.

    Dr. Johns en regter O’Hara het van Henry vergeet en beweeg al geselsend oor die onderwerp in die rigting van die kroegie.

    III

    Dis vir Henry asof iets plotseling met die huis gebeur het: die mense praat nog, dans en klets, maar dis asof daar ’n ander kwaliteit in die gedruis gekom het. Dit voel vir hom soos ’n grammofoon wat besig is om af te loop. Hy kan die gevoel nie afskud nie en hy staan met sy kop skuins terwyl hy aandagtig luister. Dan besef hy meteens wat gebeur het. Die diesel-ligte-enjin het gaan staan. Maar spoedig verander die kwaliteit van die geluide weer en, alhoewel daar ’n toonverandering is, is daar weer lewe. Vanuit die tuin het ’n ander enjin begin werk, met ’n vinniger ritme, met meer omwentelinge per minuut – die pompinstallasie wat van die ligtetoestel oorgeneem het en nou stadig besig is om die swembad leeg te pomp, die water te filtreer en die swembad weer vol te pomp.

    Die brandewyn begin nou ’n uitwerking op hom hê en Henry vind dat hy geredeliker saam met die rykes hulle dans uitvoer. Hy dans met die slank Mrs Silberstein en pas hom aan by ’n ritme wat sy self op subtiele wyse aandui. Sy vertel hom van Jock wat haar nie altyd begryp nie en haar tot raserny dryf met sy oomblikke van waansinnige jaloesie. Hy verlaat die melaatse Mrs Silberstein en dans met die madonna met die donker oë wat so vars en mooi soos ’n lelie lyk. Is jy Salome? vra hy terwyl sy haarself gewillig in sy arms oorgee. Sy begin meteens lag, eers saggies terwyl sy telkens op haar lippies byt, dan harder en musikaler as die emosie haar oorweldig. O, Henry! sê sy magteloos in die greep van haar lagbui. Die volgende oomblik dans hy met ’n ander donkerogige maagd wat stiptelik korrek, met ingehouer ritme, hom hooghartig beperk tot die genot van klassieker maat. Hy durf háár nie vra nie en verlaat haar in die stilte van sobere voltooiing. Hy dans opeenvolgend met donkerogige vroulike vorms met velle so wit soos melk en so bruin soos ou hout wat hom deur al die nuanses van die dans voer, hom betower met allerhande sinneprikkelende bewegings, hom terg met oneindige samestellings van persoonlikhede, hom welvoeglik-skaamteloos uitlok tot hul erotiese hemele. Hy kry vir J.J., alleen hierdie keer, terwyl Jock die slank Mrs Silberstein soos ’n beer teen hom aandruk en haar protesterend wegdans.

    Watter een is Salome, J.J.? vra Henry aan hom.

    J.J. hoor die vraag nie mooi nie, want hy is besig om die slank Mrs Silberstein met sy oë te volg.

    Henry moet die vraag herhaal.

    J.J. kan sy ore nie glo nie. Dan lag hy meteens en tik Henry in die ribbes. Jy is ’n raar een, sê hy. Hy beskou Henry asof hy hom vir die eerste keer raaksien. Hoekom het jy ’n aandpak aangetrek? Dis ’n bietjie opsigtelik. Dis skaars die tyd en plek vir allerhande eksentrisiteite.

    Die slank Mrs Silberstein het op ’n heel besondere wyse daarin geslaag om van Jock ontslae te raak. Sy het meteens haar hoof op sy linkerskouer laat rus, haar lyf ledemaat vir ledemaat teen syne gedruk en hom, op die maat van die musiek wat ongemerk in tempo toegeneem het, gewil om haar al in die rondte te draai, téén die beweging van die klok, totdat hulle naderhand met verblindende snelheid één ge­word het in die kringloop. In die warreling kan mens haar hare sien waai soos ’n swart sprei uit die vortex van hulle bewegings terwyl die twee gesigte, manlik en vroulik, eers kenbaar is en dan onsydig word. Rond en rond, wilder en wilder beweeg hulle totdat die bewegings afneem en verflou en in die middel van die draaikolk die powere manlike bruut meteens materialiseer en tot stilstand kom, terwyl sy self langsaam die maalstroom om hom voltooi, al wyer en wyer, tot voor J.J. wat met regte tydsberekening, en op pas van die veranderde maat, haar in sy arms neem en walsend op die vloer verdwyn.

    Jock loop houterig tot by Henry en plaas sy hand op die jongman se skouer. Sy het ’n obsessie om dinge te tel, sê hy. Sy kan nie huil nie. Sy kan op vyftig maniere die aiguillette knoop. Hy soek angstig in Henry se gesig na begrip en draai dan sy rug mismoedig op hom.

    Maar Henry het die vrees in sy oë gesien en oorweeg dit nou ernstig, soos sy gewoonte is, om aan alle verskynsels sy onverdeelde aandag te gee. Hoe raar dit ook al klink, vrees is, naas liefde, een van die emosies wat hy die minste ken. Angs wel: daardie gevoel wat jou soms beetpak sonder rede, wat diep uit ’n onbewuste wêreld voortkom, wat geen sin maak nie – dit, maar nie vrees nie, want vrees het ’n gevaarvoorwerp nodig en, as jy beskermd grootgemaak is, vry is van ambisie, omring is deur die sekuriteit van aardse besittings, gerugsteun deur jou verstand, beskerm deur jou God, dan kan jy al die gevaarvoorwerpe vermy. Daar moet bygevoeg word dat Henry geen kennis dra van oorlog en ander vorms van geweldpleging nie, nog nooit bedreig is deur enige ramp nie, geen besef het van die subtiele bedreiging van die moderne staat nie, geen geloof het in die duiwel nie. Geloof en liefde is byna sinoniem; om iets te loof beteken ook om iets lief te hê. Henry glo in sy God en dit beteken vir hom slegs: God is daar om hom te beskerm. In daardie mate is hy dan so onskuldig soos ’n kind en deel hy met ’n kind die onkunde van liefde en die inkorting van geloof tot die beperkte glo. Henry gaan in die huwelik gepaar word met Salome en, soos die slank Mrs Silberstein tereg opgemerk het: Sy onskuld moet vernietig word. Hoe anders durf hy trou? En hoe anders kan jy bedorwe word as om soveel mense as moontlik te ontmoet?

    Iemand versper sy weg. Dis die hertogin. Hy probeer eers ’n gesprek met haar aanknoop en gesels oor die aangename partytjie, die sjarmante gas­te, die interessante leefwyse van die Silbersteins, maar sy staan rotsvas, vierkantig voor hom, haar ogies met onbeweegbare haat op hom gerig. Te midde van al die onvoorspelbare mense is sy die enigste konstante voor­werp met haar voete wyd uit mekaar in velskoene, haar boerse gesig tuis onder die melkvroudoek, haar veragting wesenlik en konsekwent. Hy bly meteens stil en voel eienaardig gerusgestel deur die eenvoud van haar enkele obsessie. Hier is ten minste iets wat ongekompliseerd en begryplik is. Hy let op dat sy effens sukkel om ’n gepaste woord te vind, en dan kom dit: Schlemiel!

    Die meeste het nou opgehou met dans en beweeg van groepie tot groepie om die verrassende ingewings van die oomblik aan mekaar mee te deel. Lady Joan verskyn langs Henry en haak by hom in. Sy is effens onvas op haar voete en gebruik hom as stut terwyl sy die gesprek met simpatieke bewegings vergesel. Haar masker is intussen gerepareer sodat net haar oë en haar lippe roer.

    Ek het met sir Henry gepraat oor jou en dit sal vir ons ’n plesier wees as jy by ons op Shangri-la kom kuier. Sy glimlag vir die hertogin. Die masker kreukel en herstel. Sir Henry stel in jongmense belang. Jongmense is sy lewe. Hy verjong homself in die geselskap van die jeug.

    A! sê sir Henry wat sonder ’n masker langs hulle verskyn, sy gesig belynd en verfrommel. Hy buig in die rigting van die hertogin. Mrs Silberstein. Die skoenlapperstrikkie om sy nek strook kleurryk met die kleure op sy gesig. "A, Mrs Silberstein, watter aangename partytjie.’’ Hy knik vir Henry en daar roer iets in sy rokerige, moeë oë as hy die vars jongman aanskou. Hy wys met sy vinger en beweeg dit heen en weer.

    Ook dr. Johns en regter O’Hara sluit by hulle aan, wit soos melaatses.

    Die jong Mrs Silberstein en Mr van Eeden … begin dr. Johns skinder, gewaar die hertogin, en verval in swye.

    Liewe gas­te! kom die stem van Jock meteens luid bo al die ander stemme uit en hy tik twee keer met sy kneukels op ’n sestienpotige agterhuis-stinkhouttafel.

    Die dronk-beskaafde gedruis verval tot ’n beskaafd-gedissiplineerde stilte.

    IV

    Liewe vriende, sê Jock, dis miskien alreeds vir julle duidelik dat ons va­naand nie bloot gesellig byeenkom nie, maar dat ons hier saamgekom het om die verbond tussen twee aangename jongmense te vier.

    Hy glimlag in die rigting van Henry wat nou omring is deur ’n groepie blosende, laggende jongmeisies.

    Ek bedoel, natuurlik, Salome en Henry.

    Almal knik minsaam in Henry se rigting en begin saggies hande klap. Ook die slank Mrs Silberstein en J.J. sluit by Henry aan.

    By so ’n geleentheid is dit gebruiklik om die goeie hoedanighede van die paartjie aan te prys, maar ek gaan dit nie doen nie. Ek gaan die paartjie vanaand wys op die hoedanighede van hulle goeie vriende wat hier byeen is. Maar ek gaan daardie hoedanighede nie opnoem nie, ek gaan hulle slegs vra om hulle oë, harte en gemoedere oop te hou. Ek sal net sê: ‘Salome en Henry, kyk om julle en word bewus van julle vriende.’

    Almal glimlag spierwit in die rigting van Henry, omring deur die mei­sies.

    Jock tik weer op die tafel en twee diensmeisies maak die deur oop. Daar is ’n effense geskuifel en dan verskyn die vaal Misses Silberstein met ’n enorme koek op ’n skinkbord tussen hulle. Hulle dra dit tot by die sestienpotige tafel, plaas dit versigtig daarop neer en verdwyn verleë in die agtergrond. Bo-op die koek is twee figuurtjies, manlik en vroulik – twee gesiglose poppies wat Salome en Henry voorstel. Aangedruk deur die toenemende groep om hom, beweeg Henry tot by die tafel waar hy ’n silwermes ontvang wat Jock vir hom aanbied, en dan omdraai om vir die eerste keer sy lewensmaat te identifiseer. Hy kyk na die donkerogige meisies, na die slank Mrs Silberstein, J.J., lady Joan, sir Henry en al die ander en hy wag vir sy beminde om na vore te tree. Maar opeens sak die hele giggelende groepie op hom toe en word die koek in ’n ommesientjie versnipper en onder die vriendekring versprei.

    Almal klop hom op die skouer om hul toegeneentheid aan te dui en hy word op die wang, op die mond, om die slape gesoen deur lippies waarin alle moontlike emosies vaardig is. Dan word die partytjie hervat en bly Henry alleen oor met ’n stukkie koek waarop ’n afkopmeisie alreeds tot versiersuiker wegsmelt.

    Nou word die partytjie doller, want dit nader die einde. Henry word na alle hubba-hubba-plekke genooi deur bekendes en onbekendes, voorsien van ’n lys sakeplekke waar hy die beste visgereedskap, motorbote en paddamantoerusting kan kry, wenke gegee ten opsigte van goudaandele en perde, en oorlaai met adresse indien hy geneig sou voel tot verdere afsprake (met veel belofte in talle donker oë).

    Sir Henry maan hom aan om sy doodswens te vergeet; dr. Johns, sy morbiede belangstelling in siektes; regter O’Hara, sy obsessie omtrent aller­hande vorms van sosiale afwykings; en Jock, sy vooroordeel teen die rykes. Eenkeer, toe alles nog luidrugtig toegegaan het, het hy die badkamer ’n tydjie besoek en met sy terugkeer ’n leë voorhuis gevind. Van die tuin af het die laaste stemme van die vertrekkende gas­te gekom. Hy was op die punt om te loop toe hy die hertogin alleen op ’n stoel sien sit, haar hande op haar skoot gevou, haar swart ogies op hom gerig.

    Schnorer! sê sy vir hom, maar sy is moeg, vaak, oud en afgedaan. Haar ogies het dof ge­word en sy is op die punt om haar bewussyn te verloor.

    In sy kamer, presies in die middel van die dubbelbed, weggesink in spons-rubber, lê die jongman in die lig van ’n falliese kandelaar wat, gesteun op drie pote, eers seshoekig, dan tolvormig, en oplaas spiraal gedraai, ’n ruspunt vind in ’n bronsblaker, van waar ’n herhaling van die voorgaande ontwerp hervat word om te eindig met ’n nagemaakte kers, pseudo-bewaks, plastiek-bevlam, elektries belig. Die huis is stil, en van die tuin af klop die vinniger enjin die laaste waters in die swembad in. Opeens hou die geluid op en die stilte van die huis strek tot in die tuin.

    Iemand beweeg in die gang. Hy hoor die sagte voetstappe, die fluistering van ’n rok. Hy staan op en maak die deur oop. Regoor sy kamer is ’n ander deur besig om toe te gaan. Hy sien die been van ’n meisie, die swaai van tweedmateriaal, ’n gedeelte van ’n arm. Alle beweging verstar meteens. Onsigbaar word hulle bewus van mekaar en bly die oomblik gevange. Dan hervat die tydsverloop en word die deur saggies toegetrek. Hy is op die punt om terug te gaan, toe iets verder af in die gang sy aandag trek. Die slank Mrs Silberstein het van êrens verskyn en is besig om in ’n deurskynende nylon-nagrok die gang op te hardloop. Sy kon net sowel nakend gewees het. Aan die bo-ent van die gang wag Jock vir haar, blou gestreep in sy slaapklere. Sy gesig is bloedrooi en sy mond is wawyd oop.

    LILITH! donder sy stem die stilte in.

    Die jongman rook ’n laaste sigaret en begeef hom na sy bed. Meteens begin ’n ander enjin werk – met langsamer, hipnotiese geluide. En bokant die plafon, eers stadiger, dan vinniger, draai twee reuseskroewe wat deur talle luikgate die warm lug na buite dryf.

    HOOFSTUK II

    Kaperjolle van die kunstenaars

    I

    Henry word om agtuur wakker en kyk vas in twee brons oë. Op die tafeltjie langs sy bed het iemand ’n konfoor van versierde geelkoper neergesit. Die handvatsels skarnier in die baardpunte van twee sataniese gesigte en die koppie, waarin hy aanstons sy koffie sal tap, is so groot soos ’n bakkie. Na­dat hy dit eers ’n hele rukkie beskou het, draai hy die kraantjie oop en vul die koppie. Dis heerlike Mokka-koffie en hy drink twee koppies vinnig na mekaar.

    Die geluide van alle huishoudelike enjins het opgehou en die hele Wel­gevonden is besig om produktief te raas. In die verte dreun vragmotors, swaar masjinerie en allerhande onbepaalbare toestelle wat iets te doen het met die wynbedryf. Orals in die huis en buitekant klink mensestemme. Hy besluit dat dit tyd is om op te staan en gaan na die badkamer waar twee enorme, swart leeukoppe oor ’n geteëlde wel hang. Hy druk die knoppies op die snoete van die leeus en hulle braak twee strome water, warm en koud, uit hulle gapende bekke. Die bad is binne ’n ommesientjie gevul. Terwyl hy in die water ronddryf, beskou hy die wit, swart en bottelgroen kleurskakerings van die vertrek. Toe hy in sy kamer terugkom, vind hy dat iemand intussen sy kos ingebring het. Nadat hy klaar geëet en klaar aangetrek het, gaan hy na buite en ontmoet Jock op die stoep – geklee soos ’n boer in ’n kakiebroek, -hemp en velskoene.

    Kom, sê Jock. Ek wil jou ietsie van die boerdery wys, en hy neem hom aan die arm.

    Hulle stap langs die huis verby, onder oorhange deur, óór houtbruggies, langs stroompies water, tussen buitegeboue en dan onverwags weer by ’n vleuel van die huis verby ál met ’n pad op waar, in die verte, teen die heuwel uit, die geraas gelokaliseer is in ’n stel geboue wat die kelders en bedryfsinstallasies huisves. Namate hulle dit nader, kom talle vragmotors verby met kissies wyn en brandewyn piramiedvormig daarop gestapel. Al die vragmotors is groen, van presies dieselfde fabrikaat, en die bestuurders is in eenderse geel uniforms geklee. Die naam Welgevonden is op alle beskikbare skryfruimte aangebring. Voor hom gewaar Henry ’n voorwerp wat só helder in die son blink dat hy dit eers nie kan uitken nie: dit lyk soos ’n breë, wit vlam wat die hoogtes inskiet. Ná ’n rukkie sien hy dat dit ’n reuse-staaltenk is. Bo-op die tenk is ’n gegalvaniseerde dak wat met silwer ysterstawe aan die konstruksie vasgesweis is. Langsaan, toe hulle dig teenaan kom en die metaal amper beweeg soos dit blink, gewaar Henry ’n trappie wat tot dóér bo lei waar ’n soort uitkykplatform in die lug sweef.

    Hierdie tenk is sestig voet hoog en vyftig voet in deursnee, sê Jock terwyl hy begin klim. Dis die grootste in sy soort in die hele wêreld. Hy moet hard oor sy skouer skree terwyl die wind teen hulle begin ruk namate hulle hoër en hoër styg. Ons gebruik dit vir die opberging van stookwyn, bulder hy. Hiervandaan word dit outomaties na die deur­lopende verstokingstelsel gepomp. En nog steeds styg hulle terwyl die wind Jock se hemp laat fladder en hy kort-kort sy hoed stywer op sy kop moet druk. Nadat hulle die uitkykplatform bereik het, leun hulle teen die tralies om eers op asem te kom. Die uitsig is nie alleen asemberowend nie, maar beslis angswekkend.

    Kom, sê Jock, terwyl hy sy hoed afhaal en Henry na ’n bankie lei. Langsaan is ’n teleskoop gemonteer en hy begin aan die skroefies draai. Ek gebruik hierdie toestel in die nag om na die sterre te kyk. Bedags is dit handig om alles te sien wat aangaan. Ek kan selfs tot in die kamers van die huis sien. Hy glimlag en die wind waai sy hare deurmekaar. Ek wil eers hê dat jy na die gewels van die huis en buitegeboue moet oplet. Daar is agt soorte: vroeg-skuins, concavo-convex, laat-skuins, barok, laat-skuins met visstert-kappie, Vlaams, laat-skuins met barok-kappie en trapvormig. Hy het die teleskoop klaar ingestel en sit nou in die bankie terug. Het jy lus om na die gewels te kyk, of sal ons liewers vasstel wat in die kamers aangaan? Liewers die kamers, nè? Ek eerste? Miskien is dit beter, want dan kan ek sien of alles behoorlik ingestel is. Die instrument is baie sensitief. Hy bring sy een oog teen die kyker en hou die ander oog oop soos dit iemand betaam wat ondervinding het. Hy draai die kyker heen en weer en fikseer dan op ’n punt. Hy staar lank en aandagtig na iets en dan leun hy weer terug, ken in die hand, terwyl die wind van voor af aan sy hare vroetel.

    Henry loer ook deur die teleskoop, maar dit duur ’n geruime tyd voordat hy iets kan uitken en dan gewaar hy meteens J.J. se gesig vlak voor hom. Die R.A.F.-moestas se punte staan soos bewegende vleuels aan weerskante uit terwyl hy die oggendlug met diep asemhalings intrek en uitblaas. Sy wange is bolvormig, sy oë uitgepeul, sy hare oor sy voorkop, sy bors onder sy geblomde japon nou blootgestel as twee vrouearms van agter af om sy lyf beweeg. Die slank Mrs Silberstein se gesig verskyn bokant sy skouer, kantel skuins en nestel teen sy nek.

    Het jy enige kennis van heksery? vra Jock.

    Nee, sê Henry en kyk op terwyl die teleskoop nog steeds op die toneeltjie gerig is, wat meteens uit die gesigsveld van die blote oog verdwyn.

    Daar is so baie wat jy in ’n kort tydjie moet leer, sug Jock. Of, stel dit liewer só: daar is so baie dinge wat jy sal moet leer en verleer. Al daardie dinge wat jou nou beskerm. Jou onkunde, jou onskuld, byvoorbeeld. Maar só kan jy nie deur die lewe gaan nie. Só eenvoudig is die lewe nie. Hy steek sy pyp met moeite op en is op die punt om die vuurhoutjie in die rigting van die oop tenk te gooi voordat hy hom bedink en dit terug in die dosie sit. "Daardie staat van valse genade hou in die een of ander stadium vir ons almal op. Dis die tragedie van ons menswees, dat jy verplig is om eendag meteens bewus te word van die donkerte in die hart van die mens, en, teen jou sin, let wel, kennis te neem van goed en

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1