Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Geseënde Nis
Geseënde Nis
Geseënde Nis
Ebook379 pages4 hours

Geseënde Nis

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hoe moet skeppergelowiges dink oor ontdekkings soos dié by die Wieg van die Mensdom? En oor ander wetenskaplike getuienis ter stawing van biologiese evolusie? Of oor waarnemings wat daarop dui dat die heelal ongeveer 13.8 biljoen jaar gelede begin het, 'n begin waaraan sommige die naam "die Oerknal" gegee het?
Heelwat voorbeelde van sulke ontdekkings word in hierdie boek beskryf, ontdekkings wat nuwe lig gewerp het op biologiese- en kosmologiese kwessies.
Wat die skeppingsverhale in Genesis betref: dit is nie so dat die Bybel slegs in sy letterlike betekenisse geglo kan word, of anders glad nie geglo kan word nie. Daar bestaan vertolkingsmoontlikhede waarin wetenskap en skeppingsgeloof totaal versoenbaar is en mekaar trouens aanvul.
Hierdie boek is onder meer geskryf om die waarheid van evolusie (alle evolusie, nie net die biologiese soort nie) te help uitdra. 'n Teïstiese beskouing van evolusie en die vertolking van enkele Bybelgedeeltes soos hier voorgestel, gee onder meer erkenning aan die grootsheid van wat ons skeppingsevolusie kan noem. Die boek wil 'n bydrae lewer tot die debat oor die mate waartoe die voorwetenskaplike skeppingsverhale in Genesis op 'n wetenskaplik sinvolle manier vertolk kan word. Byvoorbeeld: Wetenskaplikes het ontdek dat die heelal in vele opsigte "net reg" is vir lewe, iets waaraan Genesis 1 uitdrukking gee deur die skepping by herhaling as "baie goed" te beskryf. Hierdie net-reg-wees van die skepping is deel van wat in hierdie boek die Genesisbeginsel genoem word.
Daar word onder meer stilgestaan by sommige van God se gedagtes (Psalm 139:17 noem sy gedagtes "wonderlik" en "magtig"): die oerknal, ruimtetyd, elektromagnetisme, gravitasie, kwanta, plaattektoniek, genome, ekologiese nisse en evolusie.

Maak die geloof van skeppergelowiges van hulle onwetenskaplike denkers? Die rykheid van die natuur – die Genesisbeginsel – is onder meer herkenbaar in die verskeidenheid van lewensvorme op aarde. Die feit dat daar verskillende spesies is, is al deur 'n Nobelpryswenner teruggevoer na die toestande wat net ná die oerknal geheers het.
Maar waarom het juis dáárdie toestande geheers, so gunstig vir uiteindelike lewe en verskeidenheid? Waarom is daar spesies, en waarom so baie van hulle? Getuig dit van die een of ander goddelike doel? Volgens die eerste hoofstuk van Genesis is die antwoord hierop: "Ja!" Tog glo nie-skeppergelowiges in 'n doellose heelal, 'n "betekenislose dans van atome" in die woorde van C.S. Lewis. Die fisikus Paul Davies noem hierdie siening dié van die "absurde heelal".
Francis Collins (die eertydse hoof van die internasionale menslike genoomprojek) kies teen absurditeit wanneer hy sê dat die idee van 'n skepper-God nie bots met dit wat deur die wetenskap aan die lig gebring is nie.

In hierdie boek word die woord "nis" in 'n baie wye, inklusiewe sin gebruik. Dit dui op 'n stel omstandighede en/of 'n verskynsel wat "net reg" is, geseënd is, nes die manier waarop die ekologiese nis van 'n dier- of plantspesie net reg is vir daardie spesie. Die heelal is self 'n nis vir lewe omdat dit net reg is daarvoor.
Nisse is nie bedoel om leeg te wees nie. Elke leë nis sal waarskynlik vroeër of later gevul word – dit blyk onder meer duidelik uit die geskiedenis van lewe op aarde oor bykans vier biljoen jaar. Ook hierdie geskiedenis word kortliks in hierdie boek vertel.
Maar allerlei "nisse" onder allerlei name word in verskeie wetenskappe bestudeer. En ook na hulle word daar in die boek gekyk – met die oog van 'n wetenskaplike en ook met die geloofsoog.

LanguageAfrikaans
PublisherChris Venter
Release dateMay 4, 2015
ISBN9780620655859
Geseënde Nis

Related to Geseënde Nis

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Geseënde Nis

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Geseënde Nis - Chris Venter

    Hoofstuk 2 Eenderse anderse ismes

    2.1 Letterknegtery, 'n struikelblok

    2.2 Die begin

    2.3 Buite-Bybelse invloede op Bybelse skeppingsverhale

    2.4 Polemiek rondom politeïsme

    2.5 Wie se Bybel? Watter vertaling? Wie se vertolking?

    2.6 Die Here het gespreek...

    2.7 Openheid eerder as letterknegtery

    2.8 Méér idool as simbool?

    2.9 Geloof en wetenskap

    2.10 Onkunde: 'n verwekker van verwaandheid?

    2.11 Jy mag maar van Moses verskil

    Hoofstuk 3 Evolusie in Genesis

    3.1 Genesis as evolusie

    3.2 Genesis: genre en samehang

    3.3 Geslagte in Genesis

    3.4 Genetika in Genesis?

    3.5 Die verbondseën of Genesisbeginsel

    3.6 Ekologiese nisse

    3.7 Gaia in Genesis?

    3.8 Evolusie, 'n volheidspel

    3.9 Die Genesisbeginsel – 'n profetiese droom?

    Hoofstuk 4 Kosmiese web

    4.1 Soekend na lig

    4.2 Die grofsmid se seun

    4.3 Simmetrie

    4.4 'n Einde en 'n begin

    4.5 Gelaaide taal

    4.6 Eerste lig

    4.7 Magnetiese nisse

    4.8 Wat is lig?

    4.9 Ondraaglike spanning

    4.10 Werking oor 'n afstand

    4.11 Imponderabilia

    4.12 Snaarmusiek

    4.13 Een met lig

    Hoofstuk 5 Ruimtetyd, ver en diep

    5.1 Rustelose lig

    5.2 Relatiwiteit: Galileo en Newton

    5.3 Ligspoed

    5.4 Albert Einstein (1879-1955)

    5.5 Tyd en tye

    5.6 Relatiwiteit en ruimtetyd

    5.7 E = mc²

    5.8 Celeritas

    5.9 Gravitasie

    5.10 Geboë ruimtetyd

    5.11 Beginsel van ekwivalensie

    5.12 Gravitasie en tyd

    Hoofstuk 6 Kwantumvolheid

    6.1 Kwintiljoene kwanta

    6.2 Skadufigure van die kwantumwêreld

    6.3 Fotone: volwasse by geboorte

    6.4 Die heelal, web van wysheid en wete

    6.5 Virtuele volheid

    6.6 Geen leegheid toegelaat

    Hoofstuk 7 Geheime nisse in die veelal: volheid of blote veelheid?

    7.1 Ontwerpersheelal of toevallige veelal?

    7.2 Kitskloning, kwantumstyl

    7.3 Met snarespel

    7.4 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?

    Hoofstuk 8 'n Heelal vir Gouelokkies

    8.1 Oerknal ex nihilo

    8.2 Oor orde en onderdele

    8.3 Toe die heelal geskud het

    8.4 Gravitasie: skopgraaf, troffel én skaaf

    8.5 Al wissel dan ook dag en nag

    Hoofstuk 9 Biologiese evolusie, ver en wyd

    9.1 Die Darwins en die Darwiniste

    9.2 Erflikheid

    9.3 Malthus-vermenigvuldiging en natuurlike seleksie

    9.4 Om die nisse te vul

    9.5 Evolusionêre veredeling

    9.6 Pasgemaak om te vul

    9.7 Oor die evolusie van liefde

    Hoofstuk 10 Dese en gene in ag genome

    10.1 Die Mendelfaktor

    10.2 Gene in oorvloed

    10.3 Epigenetika

    10.4 Genomiese volheid

    10.5 Pikanterie van die lewe

    10.6 Erfbare foute

    10.7 Man en muis

    Hoofstuk 11 Lewe se vrugbare nis

    11.1 Planetêre timmerwerk

    11.2 Gouelokkies-mengsel

    11.3 Die aarde, 'n nis vir nisse

    11.4 Sellulêre volheid

    11.5 Geologiese tydskaal: Pre-Kambrium tot Mesosoïese Tydvak

    11.6 Die kordate ruggraat

    11.7 Evolusie met 'n knal

    Hoofstuk 12 Niskomponente

    12.1 Hoog en droog

    12.2 Baas op land

    12.3 Alles woestyn

    12.4 'n Nuwe nisbestanddeel

    12.5 Lobbe en longe vir lewe op land

    12.6 Landing

    12.7 Intussen tussenin

    12.8 Dino-tonnemaat

    12.9 Nisbou

    12.10 Die bloute in

    12.11 Swanesang van die dino's

    Hoofstuk 13 Geseënde wieg

    13.1 Geologiese tydskaal van die Senosoïese Tydvak

    13.2 Opkoms van die soogdiere – die Paleosene uitbarsting

    13.3 Vol in die blom

    13.4 Wieg in die gras

    13.5 Vrugbare primate

    13.6 Sosiale nisse

    13.7 Eers twee bene, dan baie brein

    13.8 'n Evolusionêre ABC?

    13.9 Koel wieë

    13.10 Die neobewussyn se niskultuur

    13.11 Uit die koue

    Hoofstuk 14 Getuie Nis - Ruimte vir geloof

    14.1 Krevolusie

    14.2 Wetenskap, kompleksiteit, en God

    14.3 Oor geloofstruikelblokke

    14.4 Onkunde: steeds 'n verwekker van verwaandheid?

    14.5 Voorsienigheid en waarskynlikheid

    14.6 Alledaagse wondertekens?

    14.7 Meganisme van 'n wonderwerk?

    14.8 'n Gevleuelde woord en 'n lied

    14.9 Kwantum-inplantings oor ruimte en tyd

    14.10 Was ek te uitgesproke?

    Verwysings en aantekeninge

    Bronnelys

    Register

    Meer omtrent Johannes Christiaan (Chris) Venter

    Voorwoord

    In die nadraai van die Darwinjaar (2009) het 'n polemiek vyf maande lank in die briewekolomme van 'n Afrikaanse dagblad gewoed. Voor- en teenstanders van Charles Darwin se evolusieteorie, met inbegrip van akademici uit verskillende dissiplines, het hul teenoor mekaar opgestel. Kreasionistiese argumente teen evolusie is by herhaling afgestof, blink gepoets, en neergeskiet. Nooit is daar van weerskante af 'n aks toegegee nie. 'n Ateïs het (onder 'n skuilnaam en nie heeltemal ter sake nie) ateïste as brawe mense getipeer wat nie huiwer om argumente teen geloof in God openlik aan te voer nie. Een van hierdie argumente is al deur daardie aartsateïs Richard Dawkins as die grote, die wenargument, beskryf. (Op 'n skaal van 1 tot 7 ken Dawkins aan sy eie ateïsme 'n 6 toe.) Dawkins se groot argument is dat daar geen transendente, ewige god kan bestaan nie, omdat 'n uiters komplekse wese soos wat hy uiteraard sal moet wees, nie tot stand kan kom sonder 'n voorafgaande, baie lang proses van evolusie nie.

    Toe hierdie openbare debat oor evolusie, wat soms deur wanvoorstellings ontsier is, in Augustus 2010 deur die koerant se redakteur stopgesit is, sou 'n mens dit nog nie as uitgewoed kon beskryf nie. Ná vier jaar het daar verlede jaar weer 'n paar briewe oor hierdie onderwerp in dieselfde koerant verskyn, sommige geskryf deur dieselfde briefskrywers van destyds. Koerant- en tydskrifartikels oor nuwe ontdekkings soos dié by die Wieg van die Mensdom laat mense gereeld na die pen gryp.

    Soos kreasioniste is ateïste dikwels die mening toegedaan dat die Bybel slegs in sy letterlike betekenisse geglo kan word, of anders glad nie geglo kan word nie. Maar sake is ingewikkelder en interessanter as wat sulke simplistiese sienings dit wil laat lyk.

    Die Bybel bevat dinge van ewigheidswaarde, maar ook dinge waarvan die waarde uiters tydelik was soos byvoorbeeld die talle reinheids- en ander voorskrifte in die Ou Testament. Vir die Bybel om 'n uiters belangrike en troosvolle boek (of liewer, reeks boeke) te bly, kan 'n mens nie alles wat daarin staan onkrities as letterlik waar aanvaar nie. Vir twee duisend jaar was daar nog altyd diegene wat dit nie slegs as die moeite werd beskou het nie, maar ook as noodsaaklik om na te vors, na te dink en te bid oor hoe hierdie boeke in en vir húlle tyd verstaan moet word.

    Christene glo dat hul eie geloofsgetuienisse elemente van die waarheid bevat, maar weet ook dat hulle dikwels mis tas omdat hulle die Vreemde God (soos Willem de Klerk Hom genoem het) se feilbare mense is, nie robotte en ook nie buikspreekpoppe nie. Daarom behoort hulle ook oor die Bybelskrywers se getuienisse te kan glo dat dié geskrifte nie woord vir woord deur God aan die skrywers gegee is nie. Die teoloog Klaus Nürnberger wys daarop dat 'n verantwoordelike Bybelleser bewus sal wees van die menswees van die Bybelskrywers. Hulle het wel oor hul lewensveranderende ontmoetings met God geskryf, maar ook oor hul subjektiewe belewing van daardie ontmoetings. 'n Ander teoloog, Ben du Toit, praat in sy boek Sprakeloos oor God van God se voetstappe in die lewe van mense waarvan ons in die Bybel kan leer. Vir my beteken dit dat hulle sy voetstappe gehoor het sonder om Hom te sien, hulle het Hom nie van aangesig tot aangesig ervaar nie maar wel indirek – die enigste manier waarop 'n mens Hom kán ervaar, as ek Eksodus 33:20 reg verstaan.

    Wat die Bybel en evolusie betref: as die wetenskaplike getuienis ter stawing van evolusie waar is, dan is evolusie 'n skeppingswaarheid, iets om oor verwonderd te staan, en as 'n mens volstrek weier om na hierdie getuienis te kyk of te luister, beroof jy jouself van 'n stuk verwondering. Om verwonderd te staan oor hierdie en ander natuurverskynsels is 'n voorreg wat gesmaak word deur die delwers na die natuur se verborge skatte, haar fassinerende wette. Hierdie delwers, die natuurwetenskaplikes – ook iemand soos Dawkins wat 'n briljante evolusionêre bioloog is – wil maar te graag nie-wetenskaplikes in hul verwondering laat deel. (Met die woord wetenskap sal deurgaans die natuurwetenskappe bedoel word; wanneer dit oor die geesteswetenskappe gaan, sal dit uit die teks blyk.)

    Mense hou om uiteenlopende redes nie van Darwin se evolusieteorie nie. Vir sommige sê die teorie dat ons van ape afstam; dis nie heeltemal korrek nie, maar seker naby genoeg aan wat wel gesê word om hulle beswaard te laat voel. Toe ek op 'n keer vir 'n vrou sê dat ons vroegste voorouers dalk eensellige organismes was, was haar onmiddellike, uit-die-maag reaksie: Twak! Tog aanvaar sy vermoedelik dat sy self die lewe as 'n enkele sel begin het.

    Vir baie is evolusie deur middel van natuurlike seleksie 'n meedoënlose proses wat net die sterkste laat oorleef en vir die verloorder niks oor het nie. Die populêre siening dat dit in evolusie gaan oor oorlewing van die sterkste is egter 'n bietjie misleidend; stabiele voortplanting van die bes aangepaste sou 'n beter frase wees om te gebruik. Vir baie Christene is die evolusie van spesies in elk geval eenvoudig onversoenbaar met hul vertolking van Genesis 1 en 2. Maar sê nou hul vertolking is verkeerd en biologiese evolusie is waar?

    Die Bybel praat natuurlik nie oor alles in die skepping nie. Katione, kwarke en koue fronte is maar drie min of meer lukraak gekose konsepte uit 'n menigte moontlikes waaroor die Bybel as voorwetenskaplike boek niks vir ons sê nie. Tog sou die meeste Christene seker nie met 'n chemikus, met 'n teoretiese fisikus, of met 'n weerkundige wou stry oor die bestaan van hierdie verskynsels nie. Maar wanneer dit gaan oor evolusie en die Bybel verander die situasie nogal. En tog, ten spyte daarvan dat die Bybel die woord evolusie net so min ken as wat dit die woorde elektron en kwark ken, is dit myns insiens wel deeglik bekend met dit wat onder evolusie verstaan word.

    Die stryd vir die aanvaarding van biologiese evolusie – 'n feit wat wel deur die meeste wetenskaplikes aanvaar word – skyn nimmer eindigend te wees. Só kla die evolusionêre genetikus, Jerry Coyne. Hy skryf dat teenstand teen die evolusiegedagte in sommige lande aan die toeneem is.

    Ek het hierdie boek onder meer geskryf as 'n klein bydrae tot 'n saak wat ek as verdienstelik beskou: om die waarheid van evolusie (alle evolusie, nie net die biologiese soort nie) te help uitdra. Die geloof van gelowige evolusioniste (wat ons ook skeppingsevolusioniste kan noem) maak nie van hulle onwetenskaplike denkers nie, al dink baie ateïste so. Skeppingsevolusioniste is ook nie, deur hul aanvaarding van evolusie, skuldig aan heiligskennis nie, die aantygings van kreasioniste ten spyt. Tog moet 'n skeppingsevolusionis nog dikwels aan twee fronte stry. Soos ons later sal sien, behels skeppingsevolusie, ook genoem kreatiewe evolusie of kortweg krevolusie, 'n teïstiese beskouing van evolusie.

    Hierdie teïstiese beskouing gee onder meer erkenning aan die grootsheid van evolusie; hieroor het Darwin meevoerend in sy boek, The Origin of Species, geskryf. Ek glo dat, met al sy ontwyfelbare grootsheid, biologiese evolusie uiteindelik slegs 'n klein onderdeel van 'n groter eenheidsprent van die skepping sal blyk te wees, 'n prent vol skoonheid teweeggebring deur 'n oorkoepelende, misterieuse werklikheid.

    Hierdie boek is deels 'n spekulatiewe vertolking van enkele Bybelgedeeltes. Dit mag wees dat ek meer in Genesis se skeppingsverhale lees as wat daar staan. Daarom hoop ek dat die boek 'n bydrae sal lewer tot die debat oor die mate waartoe die voorwetenskaplike skeppingsverhale in Genesis op 'n wetenskaplik sinvolle manier vertolk kan word.

    Die boek praat baie meer oor die skepping – en plek-plek minder spekulatief – as oor die Skepper. Daar word onder meer stilgestaan by sommige van God se gedagtes (Psalm 139:17 noem hierdie gedagtes wonderlik en magtig): die oerknal, ruimtetyd, elektromagnetisme, gravitasie, kwanta, plaattektoniek, genome, ekologiese nisse en evolusie. Ons kan die eerste agt verskynsels op hierdie lys almal beskou as nisse wat evolusie moontlik maak.

    Dat dit vir 'n mens moontlik is om kennis oor die skepping te bekom waaroor daar 'n groot mate van eenstemmigheid onder wetenskaplikes bestaan, is te danke aan die moderne natuurwetenskaplike dissiplines wat hulle besig hou, en kan besig hou, met amper alles in die hele skepping of universum, ook bekend as die heelal.

    Ek sou nooit 'n boek kon skryf sonder om uit baie bronne te put nie. Ek het talle aanhalings dikwels taamlik vry vertaal; my doel daarmee was om die samehang van 'n aanhaling in die oorspronklike boek of artikel te probeer weergee, hopelik sonder om die bedoelings van die betrokke outeurs geweld aan te doen. Ek vertrou dat die verwysings agter in die boek die belangstellende leser sal help om hom of haar te vergewis van daardie bedoelings. Tensy anders vermeld, kom alle aanhalings van Bybelgedeeltes asook geleerdes se kommentaar daarop of verklarings daarvan uit die Verklarende Bybel, 1983-Afrikaanse vertaling, hierna VB genoem.

    Dankie aan die mense wat belang gestel het in die skryf van hierdie boek en wat op verskillende maniere gehelp het, soms deur boeke en tydskrifte aan my te leen waarby ek baie baat gevind het – my vrou Magdaleen, ons drie wetenskaplike seuns, Louis, Christiaan en Wilhelm en my skoondogter Michelle op wie se rekenaar verskeie weergawes van die manuskrip getik is. My suster Marita Liebenberg en Cillie van Heerden met haar interessante boekery het ook gehelp en aangemoedig.

    'n Spesiale dankwoord aan Christiaan en Werner Schmidt vir hul kundigheid en moeite om die boek in elektroniese formaat die lig te laat sien. Werner was ook die een wat begin nadink het oor die geheimenisse van geheime nisse en getuie nisse.

    Van my gesinslede se objektiewe terugvoering oor daardie gedeeltes van 'n vroeë, onvolledige (Engelse) weergawe wat hulle onder oë gehad het, het my ook baie gehelp. Nogtans moet alle foute en leemtes in die boek vanselfsprekend voor my deur gelê word.

    Ek het die boek in 2007 begin skryf. Voor 2007, en sedertdien al skrywende, het ek heelwat boeke gelees. As ek nog baie meer gelees het, sê maar 'n duisend boeke, sou hierdie boek dalk beter en waarskynlik ook heel anders daar uitgesien het. Maar nou ja, as 'n mens honderd persent voorbereid wil wees vir 'n debat, sal jy dalk nooit deelneem nie.

    Chris Venter

    Vanderkloof, April 2015

    TERUG NA INHOUDSOPGAWE

    Inleiding

    Twee enigmatiese boeke het in onlangse jare verskyn: The Goldilocks Enigma van die fisikus Paul Davies (2007) en The Genesis Enigma van die bioloog Andrew Parker (2009). Die subtitel van Davies se boek stel die vraag: Why is the Universe Just Right for Life? Parker se boek handel oor wat hy noem die enigmatiese wetenskaplike noukeurigheid van Genesis se eerste hoofstuk. In hierdie boek probeer ek aantoon hoe die twee enigmas met mekaar verband hou. Die raaiselagtige wetenskaplike akkuraatheid van Genesis 1 kan ons bring tot 'n dieper besef van die eerste enigma, synde wetenskaplikes se ontdekking dat die heelal in vele opsigte net reg is vir lewe – soos wat Bababeer se pap, sy stoeltjie en sy bed in die bekende kinderverhaal net reg was vir Gouelokkies (wel, miskien tog nie die stoeltjie nie).

    In een van sy boeke vra Davies na die oorsprong van die rykheid en kompleksiteit van ons interessante en vrugbare heelal. Sy mede-fisikus Freeman Dyson was van mening dat hierdie eienskappe van die heelal moontlik toegeskryf kan word aan 'n beginsel van maksimum diversiteit, onderliggend aan die wette van die natuur. Hierdie einste grondbeginsel noem ek die Genesis-beginsel, want ek dink ons tref dit reeds in die boek Genesis aan, 'n boek wat dalk plek-plek op wetenskaplike noukeurigheid kan aanspraak maak soos Parker in The Genesis Enigma beweer.

    Die rykheid van die natuur is ook herkenbaar in die verskeidenheid van lewensvorme op aarde. Die feit dat daar verskillende spesies is, kan uiteindelik teruggevoer word na die toestande wat net ná die oerknal geheers het. So sê die teoretiese fisikus en Nobelpryswenner Murray Gell-Mann.

    Maar waarom het juis dáárdie toestande geheers, so gunstig vir uiteindelike lewe en verskeidenheid? Waarom is daar spesies, en waarom so baie van hulle? Getuig dit van die een of ander goddelike doel? Volgens die eerste hoofstuk van Genesis skep God slegs goeie dinge, dinge wat net reg is. Dit getuig van opset, 'n doel in die heelal.

    Ateïste glo in 'n doellose heelal, 'n betekenislose dans van atome in die woorde van C.S. Lewis. Paul Davies noem hierdie siening dié van die absurde heelal. Dit verteenwoordig 'n sienswyse waarin die rykdom aan menslike religieuse ervarings, soos die wetenskapskrywer Julia Hinde daarna verwys, genegeer of selfs bespot word; Richard Dawkins maak sulke ervarings af as illusies of hallusinasies. In die laaste hoofstuk kyk ek vanuit my eie perspektief as 'n gelowige wetenskaplike daarna.

    Op hulle beurt ignoreer kreasioniste alle wetenskaplike ontdekkings wat nie geplooi kan word om hul geloof te ondersteun nie. Onder kreasionisme word verstaan die geloof dat die skeppingsverhale in Genesis letterlik waar is. Hierdie soort fundamentalisme sowel as ateïstiese fundamentalisme word in hierdie boek afgewys (kyk veral hoofstukke een tot drie asook die laaste hoofstuk). Ateïsme is nie versoenbaar met die gedagte dat Genesis ons iets wil laat sien van God se doel met sy wêreld nie. In daardie wêreld speel evolusie 'n uiters belangrike rol, dit is deel daarvan; dié waarheid word grotendeels deur kreasioniste ontken.

    Wanneer 'n wetenskaplike soos Francis Collins (die eertydse hoof van die internasionale menslike genoomprojek) sê dat die idee van 'n skepper-God nie bots met dit wat deur die wetenskap aan die lig gebring is nie, kan 'n mens begin verstaan dat die God-hipotese lig kan werp op 'n paar baie lastige vrae in die wetenskap...

    In hierdie boek word die woord nis in 'n baie wye, inklusiewe sin gebruik. Dit dui op 'n stel omstandighede en/of 'n verskynsel wat net reg is, geseënd is, nes die manier waarop die ekologiese nis van 'n dier- of plantspesie net reg is vir daardie spesie. Die heelal is byvoorbeeld 'n nis vir lewe omdat dit net reg is vir lewe soos Davies in The Goldilocks Enigma verduidelik. (Gouelokkies het in Bababeer se leefwyse 'n nis vir haarself herken.) Die heelal is egter nie slegs vir lewe nie, maar ook vir baie ander dinge net reg – dit is 'n veeldoelige nis. Boonop het sterrekundiges en kosmoloë nuwe insigte in die aard van galaksies en die heelal verkry deur oor hulle te teoretiseer asof hulle lewende, evoluerende organismes is. Om dus die woord nis in 'n veralgemeende sin te gebruik, het vir my na 'n bruikbare idee gelyk. Bondigheidshalwe sal hierdie kort woordjie meesal op sy eie gebruik word, maar met die bedoeling dat dit dui op 'n nis wat net reg is, dit wil sê 'n geseënde nis.

    Sulke nisse is volop in die wêreld: ons heelal en ons planeet is ryk aan verskillende soorte nisse. In hoofstukke vier tot dertien word slegs bolangs gekyk na sommige hiervan. Die ekologiese soort is van onmiddellike belang vir lewe op aarde. Die ekologiese nis van 'n spesie hou verband met die ekologiese rol wat sy evolusie en sy gene vir hom gekies het – hierdie onderwerpe word in hoofstukke nege en tien bespreek.

    Elke nis behoort sy eie spesie te hê, 'n vertoonstuk van betekenis wat die nis vul.

    Lo! in yon brilliant window niche

    How statue-like I see thee stand...

    Nisse wat so betekenisvol gevul is, is geseënde nisse, ook dié waarvan ons die volle betekenis nog nie begryp nie. In hierdie boek word betoog dat die seën in Genesis – dit kan opgesom word in die woorde, Wees vrugbaar, en vermeerder, en vul... – gemik is op die vermenigvuldiging en die vul van nisse. (Die 1953-Bybelvertaling gebruik die woorde vermeerder en vul terwyl die 1983-vertaling die uitdrukkings word baie en bewoon gebruik.) Hierdie seën gee uitdrukking aan God se skeppingsdoel.

    'n Nis word gekenmerk deur die eienskap van net reg te wees vir sy spesie; op sy beurt is die spesie net reg vir sy nis; spesie en nis is vir mekaar bedoel (wat nie beteken dat 'n uitgestorwe lewensvorm se leë ekologiese nis nie deur 'n ander, nuut-evoluerende spesie gevul kan word nie). Ons sal na hierdie wedersydse net-reg-wees verwys as nisvolheid. Dit is nie 'n chaotiese volgeproptheid, 'n warboel van spesies in een nis nie, ook nie 'n wanaangepastheid van spesie en nis nie, maar dis dikwels 'n dinamiese, ontwikkelende of evoluerende volheid eerder as 'n klaargemaaktheid. Laasgenoemde gedagte sluit aan by die idee dat die skeppingsproses steeds voortduur. Ons kan nisvolheid ook geseënde volheid noem. Soos die woord nis sal die woord volheid meesal op sy eie gebruik word, maar met die veronderstelling dat dit 'n nisvolheid, 'n geseënde volheid, is waarvan ons praat.

    Die goeie dinge wat deur God geskape word – die geseënde nisse en hul vertoonstukke – is goed vanweë hul orde, skoonheid, en komplekse diversiteit. Diversiteit word gesuggereer deur die woorde elkeen na sy aard of almal na hul aard wat tien keer in Genesis 1 herhaal word. In sy boek, The Quark and the Jaguar, skryf Gell-Mann oor die eenvoudige kwark en die komplekse jaguar: ...kwarke is basiese boustene van alle materie...Selfs die jaguar...is 'n bondel kwarke en elektrone, maar wát 'n bondel! Sy ontsaglike kompleksiteit is die resultaat van biljoene jare van biologiese evolusie. Dis 'n sterk aanduiding dat die heel eerste voorsaat van die jaguar (en van ons) baie eenvoudig was, miskien 'n self-kopiërende molekule. Hierdie primitiewe voorouer het byna vier biljoen jaar gelede geleef. Die jaguar se kompleksiteit het met 'n hele klomp dinge te make, dinge soos sy lenigheid, slinksheid, wildheid, en skoonheid.

    Die ekologiese nisse van spesies van plante en diere en ander lewende organismes word gekenmerk deur die spesies se manier van leef. Die jaguar se ekologiese nis is dus nog meer kompleks as die spesie self omdat dié nis saamgestel is uit 'n groot aantal komplekse onderdele (bestaande uit lewende sowel as nie-lewende dinge) wat in 'n ingewikkelde netwerk van verhoudinge tot die jaguar en mekaar staan.

    Nisse is nie bedoel om leeg te wees nie. Ná die katastrofale uitsterwing van die dinosourusse is hul ekologiese nisse leeg gelaat. Maar evolusie hou nooit op om nisse te vul nie (en in die proses word nuwe nisse dikwels geskep). Elke leë nis sal waarskynlik vroeër of later gevul word – dit blyk duidelik uit die geskiedenis van lewe op aarde oor bykans vier biljoen jaar. Hierdie geskiedenis word baie kortliks in hoofstukke elf

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1