Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid
Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid
Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid
Ebook1,161 pages10 hours

Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die Omvattende gids vir gesinsgesondheid is 'n gebruikersvriendelike naslaangids vir Suid-Afrikaners: hoe om siektes te voorkom, die algemeenste siektes, kindergesondheid en kindersiektes, mans se gesondheidsprobleme, vroue se gesondheidsprobleme, simptome en behandelingsopsies, noodhulp en trauma. Maak seker jy het hierdie uitstekende naslaanbron altyd byderhand, sodat jy in belang van jou familie se gesondheid die beste besluite kan maak.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMay 20, 2015
ISBN9780798159081
Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid
Author

Linda Friedland

Linda Friedland is a medical doctor, sought-after author, media personality and internationally recognised speaker. She is married and is the mother of five children.

Related to Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid

Related ebooks

Related articles

Reviews for Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid - Linda Friedland

    Omvattende Gids vir

    Gesinsgesondheid

    Dr. Linda Friedman

    Human & Rousseau

    Die uitleg in hierdie digitale uitgawe van Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

    Ek dra hierdie gesondheidsgids op aan my familie met die wens dat hulle optimale gesondheid sal geniet. Aan my man, Peter, my kinders, Gavi, Lee, Leora, Yael, Aaron en Benjamin, en my ouers, Boomie en Julie Abramowitz, en Selma Friedland.

    "As jy gesond is, het jy hoop.

    En as jy hoop het, het jy alles."

    Afrika-gesegde

    DEEL 1

    deel_01.tif

    DIE GROOTSTE GESONDHEIDS-

    GEVARE

    •Kardiovaskulêre siekte

    ’n Oorsig van hartsiekte

    Hipertensie (hoë bloeddruk)

    Beroerte

    •Diabetes

    Kanker(sien Deel 2, 3, 4, 5 en 6)

    •MIV en vigs

    •Depressie en angssteurnisse

    Hoewel daar sekere siektetoestande is waaroor jy geen beheer het nie, is jy tog in beheer van meer as 70% van die faktore wat bepaal of jy sal siek word of nie. Jou lewenstylkeuses speel ’n sleutelrol in die moontlike ontwikkeling van die grootste gesondheidsgevare. Hartsiekte is die grootste oorsaak van sterftes onder mans en vroue in die ontwikkelde wêreld. Die goeie nuus is dat die meeste risikofaktore – abdominale vetsug, hoë bloedsuiker, hoë cholesterol, hoë bloedvette, hoë bloeddruk, rook en uitermatige stres – inderdaad voorkom kan word. ’n Vroegtydige diagnose is noodsaaklik. Tot 50% van die 250 miljoen diabeteslyers wêreldwyd is nie daarvan bewus dat hulle diabetes het nie. Kliniese depressie, wat 150 miljoen mense wêreldwyd raak, is besig om een van die wêreld se ernstigste epidemies te word. Kanker bly ’n bron van kommer. Dit is uiters belangrik om ingelig oor die jongste mediese ontwikkelinge te wees wat tot ’n vroeë diagnose en verbeterde behandeling kan bydra. Die MIV-pandemie wek wêreldwyd kommer, maar is veral van belang in Suider-Afrika, waar dit kritieke afmetings aanneem.

    KARDIOVASKULÊRE SIEKTE

    Kardiovaskulêre siekte (KVS) verwys na hart- en bloedvatsiektes en beroertes.

    Dieselfde risikofaktore wat tot blok­kasies in die kroonslagare (en dus tot ’n hartaanval) kan lei, is ook van toepassing op die slagare in die res van jou liggaam. Blokkasies van die bloedvate in die onderste ledemate kan perifere vaskulêre siekte veroorsaak, terwyl dié in die nek- en breinbloedvate tot serebrovaskulêre siekte kan lei en beroerte kan veroorsaak.

    Kardiovaskulêre siektes word as chroniese lewenstylsiektes geklassifiseer. Dit beteken dat dit hoofsaaklik deur swak lewenstylkeuses soos ongesonde eetgewoontes, rook en ’n gebrek aan oefening veroorsaak word. Hoewel daar beslis ’n oorerflike en genetiese komponent is, is die keuses wat jy self maak verreweg die belangrikste faktore.

    ’N OORSIG VAN HARTSIEKTE

    Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is kardiovaskulêre siekte die grootste oorsaak van sterftes in ontwikkelde lande en is die voorkoms daarvan in ontwikkelende lande ook kommerwekkend aan die toeneem.

    In Suid-Afrika sterf daar volgens die Suid-Afrikaanse Hart-en-beroertestigting sowat elke 16 minute iemand aan hartsiekte, en ly een uit vier vroue en een uit drie mans bo 60 aan koronêre hartsiekte.

    Wat ontwikkelde lande betref, is dit byvoorbeeld die grootste oorsaak van sterftes in Australië, waar dit bykans elke tien minute ’n lewe eis.

    In Amerika ly ongeveer 80 miljoen mense (een uit drie volwassenes) aan een of meer soorte kardiovaskulêre siekte (Framingham-hartstudie [FHS], Bethesda, Maryland, 2007).

    Vasvra oor hartsiekte

    Gebruik hierdie eenvoudige vasvra om jou kennis te toets:

    1.Aterosklerose is:

    a.Die verharding van die are.

    b.’n Ander naam vir ’n hartaanval.

    c.’n Soort cholesterol.

    d.’n Diagnostiese toets.

    2.Angina is:

    a.Nie dieselfde as ’n hartaanval nie.

    b.Dieselfde as ’n hartaanval.

    c.’n Besonder ernstige hartaanval.

    3.Vroue:

    a.Het ’n kleiner kans om ’n hartaanval te oorleef as mans.

    b.Het ’n groter kans om ’n hartaanval te oorleef as mans.

    c.Kry selde hartaanvalle.

    4.Mense wat rook:

    a.Se risiko om ’n hartaanval te kry, is twee tot ses maal groter as dié van nierokers.

    b.Se risiko om ’n hartaanval te kry, is nie groter as hulle filtersigarette rook nie.

    c.Het ’n ietwat groter risiko om ’n hartaanval te kry as nierokers.

    Resultate: As jy a geantwoord het op al vier vrae, dra jy reeds kennis van ’n paar belangrike feite oor hartsiekte – maar lees asseblief verder!

    VERKLARINGS EN DEFINISIES

    Kardiovaskulêre siekte

    Kardiovaskulêre siekte (KVS) verwys na alle siektes van die hart en bloedvate. Die algemeenste is siektes van die hartspier, hartaanvalle, beroertes, hartversaking en hartsiekte wat deur hoë bloeddruk veroorsaak word.

    Hartaanval

    ’n Hartaanval staan ook bekend as ’n miokardiale infarksie (MI). Wanneer die hart se are vernou weens die opbou van aterosklerotiese neerslae of ’n bloedklont, word die bloedvloei na die hartspier belemmer. ’n Deel van die hartspier sterf vanweë die gebrek aan suurstof, gevolglik word dit vir die hart onmoontlik om genoeg bloed na die res van die liggaam te pomp. ’n Hartaanval of MI word gekenmerk deur ’n skielike, hewige pyn in die borskas wat na die nek, kakebeen en arms kan versprei. Dit gaan ook soms gepaard met sweet, naarheid, kortasemrigheid en duiseligheid.

    Hartversaking

    Hartversaking word veroorsaak deur die onvermoë van die hart om bloed doeltreffend deur die liggaam te pomp. Dit gebeur wanneer die hartspier beskadig is deur een van verskeie siektes. Sirkulasie word gevolglik vertraag en oortollige vloeistof gaar in die liggaam op. In die geval van linkerhartversaking gaar die vloeistof in die longe op, en by regterhartversaking in die onderste ledemate.

    Beroerte

    ’n Beroerte, ook bekend as ’n serebrovaskulêre voorval, kom voor wanneer die bloedtoevoer na die brein onderbreek word. Dit kan gebeur wanneer ’n klont ’n blokkasie in ’n bloedvat veroorsaak of die bloedvat bars en bloeding veroorsaak. Die aangetaste breinselle begin dan sterf vanweë die gebrek aan suurstof en voedingstowwe. Die simptome hang af van die graad van die beroerte. Dit kan wissel van ’n baie ligte beroerte wat tot effense verswakking van die ledemate lei tot ’n ernstiger beroerte wat verlamming veroorsaak. In baie ernstige gevalle kan dit tot ’n koma of die dood lei.

    Kroonslagaarsiekte en iskemiese hartsiekte (IHS)

    Die slagare wat bloed na die hart voer, word die kroonslagare genoem. Kroonslagaarsiekte kom voor wanneer die are verhard en vernou as gevolg van die opbou van vettige stowwe (ateroom) in die selle aan die binnekant van die slagaarwand. Hierdie proses staan bekend as atero­sklerose. Die slagare vernou mettertyd en die bloedvloei word belemmer. Uiteindelik neem die bloedvloei na die hartspier af. Dit veroorsaak ’n gebrek aan suurstof in die hartspier, wat tot iskemiese hartsiekte lei en die hartspier beskadig.

    1%20copy.tif

    Angina

    Angina verwys na die pyn in die linkerkant van die borskas wat veroorsaak word deur inspanning soos om trappe te klim wanneer die kroonslagare gedeeltelik geblokkeer is en te min suurstof die hart bereik. Dit word as borskaspyn of -ongemak ervaar, asof daar ’n swaar gewig op jou hart rus of dit in ’n klem vasgedruk word. Die pyn kan na die kakebeen, nek, skouers, arms of selfs die rug versprei. Angina word gewoonlik vererger deur oefening en selfs emosionele ontsteltenis omdat te min bloed die hartspier bereik. Dit dui op aterosklerose (die opbou van plaak) in die kroonslagare. Die term word ook gebruik waar simptome op ’n hartaanval dui, maar toetse in die hospitaal die teendeel wys (die elektrokardiogram [EKG] dui geen spierskade aan nie of die bloedensiemtoetse is negatief).

    As dit die eerste keer is dat jy hierdie pyn (angina) ervaar, sal die dokter ’n EKG doen en moontlik ook ’n inspannings-EKG om die diagnose te bevestig. ’n Inspannings-EKG behels dat jy op ’n trapmeul moet loop terwyl die dokter kyk of daar veranderinge in die EKG-patroon is. Indien angina gediagnoseer word, is dit belangrik dat jou dokter jou noukeurig monitor en dat jy die regte medikasie gebruik.

    Aterosklerose

    Aterosklerose is die verharding en vernouing van die slagare en word veroorsaak deur vettige neerslae wat mettertyd aan die binnewande van die are opbou. Aterosklerose is ’n stadige, progressiewe siekte wat in die kinderjare kan begin en uiteindelik die bloedtoevoer na die brein, hart, niere, arms en bene kan belemmer. In die ergste gevalle kan die bloedvloei na hierdie organe afgesny word.

    Kardiomiopatie

    Kardiomiopatie verwys na siektes van die hartspier. Dit beteken dat die hartspier vergroot het of abnormaal dik of stram is, wat die hart se vermoë om bloed doeltreffend deur die liggaam te pomp, belemmer.

    WIE LOOP GEVAAR OM HARTSIEKTE OP TE DOEN?

    Dit is ’n fout om te dink dat hartsiekte hoofsaaklik onder mans voorkom. Hartsiekte is die grootste oorsaak van sterftes onder mans én vroue in die meeste lande van die wêreld. Daar sterf jaarliks tien keer soveel vroue aan hartaanvalle as aan borskanker. Danksy estrogeen, die vroulike geslagshormoon, geniet vroue egter tot op 50 (of menopouse) – wanneer die estrogeenvlakke vinnig begin daal – ’n mate van beskerming teen hartaanvalle. Sien "Risikofaktore vir hartsiekte".

    Kroonslagaarsiekte ontwikkel nie oornag wanneer jy ’n sekere ouderdom bereik nie. Ongesonde lewenstylgewoontes, soos rook, vetsug, gebrek aan oefening en swak voeding, en moontlik ook jou ingesteldheid en emosies, lei daartoe dat die vettige plaak dwarsdeur jou lewe in jou slagare aanpak.

    Hierdie veranderinge kan selfs by kinders van agt jaar oud gesien word. Swak lewenstylgewoontes begin dus reeds in die kinderjare die slagare beskadig, daarom is dit so belangrik om oor jou kinders se lewenstylfaktore te waak.

    WAT GEBEUR TYDENS ’N HARTAANVAL?

    ’n Miokardiale infarksie – algemeen bekend as ’n hartaanval of koronêr – behels dat ’n groot genoeg blokkasie in een of meer van die bloedvate voorkom om die bloedtoevoer (en suurstof) na die hartspier af te sny. ’n Gedeelte van die hartspier sterf in die proses. Indien genoeg van die hartspier sterf, lei dit tot skielike ineenstorting en die dood.

    Wanneer jy ’n hartaanval kry, sterf van die hartspierselle. Die selle bars oop en stort sekere proteïene en ensieme in die bloedstroom. Die hoeveelheid ensieme in die bloedstroom kan met behulp van bloedtoetse bepaal word. Hoër as normale vlakke dui op ’n hartaanval.

    Met ’n bietjie kennis van wat goed en sleg is vir jou hart, kan jy jou risiko om hartsiekte op te doen beduidend verlaag.

    Risikofaktore vir hartsiekte

    •Rook

    •Hoë bloeddruk

    •Hoë cholesterol en lipiede (vette)

    •Vetsug

    •Gebrek aan oefening

    •Familiegeskiedenis

    •Diabetes

    •Stres

    Elke faktor op sigself verteenwoordig ’n risiko, maar hoe meer risikofaktore jy het, hoe groter is die kans dat jy hartsiekte kan opdoen. As jy rook, hoë bloeddruk en hoë cholesterol het, is jou risiko om ’n hartaanval te kry vyf keer groter as dié van iemand sonder hierdie risikofaktore. Dit is noodsaaklik om siftingstoetse vir alle risikofaktore te ondergaan omdat van hulle die sogenaamde stille moordenaars is – daar is geen simptome nie en dus ook geen waarskuwingstekens nie.

    ROOK

    Mense wat rook se kans om ’n hartaanval te kry, is twee tot ses keer groter as dié van nierokers om een te kry, en hul risiko styg met die aantal sigarette wat daagliks gerook word.

    HOË BLOEDDRUK

    Selfs net effense hoë bloeddruk kan jou risiko vir koronêre hartsiekte verdubbel. Hoë bloeddruk verhoog ook jou risiko vir beroerte, kongestiewe hartversaking en niersiektes. Sorg dat jou hoë bloeddruk met die korrekte medikasie behandel word en maak die nodige lewenstylaanpassings.

    CHOLESTEROL

    Meer as die helfte van mense bo 55 se cholesterol is te hoog.

    VETSUG EN OORGEWIG

    Mense wat oorgewig is, het ’n groter kans om hartsiekte op te doen, selfs as daar geen ander risikofaktore teenwoordig is nie. Hoe meer oorgewig jy is, hoe groter is jou risiko.

    GEBREK AAN OEFENING

    Mense met ’n sittende lewenstyl het ’n groter risiko om kardiovaskulêre siektes op te doen. Dinamiese bewegings en matige oefening is noodsaaklik vir ’n gesonde hart en bloedvate.

    FAMILIEGESKIEDENIS EN GENE

    ’n Familiegeskiedenis van hartsiekte is beslis ’n risikofaktor, maar die risikofaktore wat jy self kan beheer – rook, diabetes, gewig, oefening, bloeddruk en cholesterol – is net so belangrik.

    DIABETES

    Diabetes is ’n ernstige toestand wat die risiko vir hartsiekte verhoog. Vroue bo 45 se risiko om diabetes op te doen, is twee keer hoër as dié van mans. Mense met diabetes se risiko om aan hartsiekte te sterf, is drie keer groter. Hoewel die toestand nie genees kan word nie, is daar belangrike stappe wat gedoen kan word om dit te beheer, waaronder oefening en gewigsverlies. Lees hier meer oor diabetes.

    STRES, PERSOONLIKHEID EN EMOSIES

    Daar is ’n magdom kliniese navorsing wat dui op ’n verband tussen hierdie drie faktore en hartsiekte. Stres is ongetwyfeld ’n bydraende faktor in die ontwikkeling van hartsiekte. Daar is ’n sterk verband tussen ’n vyandige, gejaagde persoonlikheid en hartsiekte. Baie hartsiektelyers is geneig om hul emosies op te krop en wrewel en woede te laat opbou. Die gesonde uiting van jou emosies en die gee en ontvang van liefde is baie belangrik in die voorkoming en genesing van hartsiekte. Hierdie faktore moet egter nie as afsonderlik beskou word nie, maar as deel van verskeie waarna gekyk moet word.

    VROUE

    Vroue se risiko om ’n hartaanval te kry, is baie gering tot met die menopouse, maar daarna is dit gelykstaande aan dié van mans. Jy moet dwarsdeur jou lewe goed sorg vir jou hart, maar maak veral werk daarvan nadat jy jou menopouse bereik het. Die vroulike geslagshormoon estrogeen beskerm vroue teen hartsiekte tot met hul menopouse. Estrogeen help om die opbou van aterosklerotiese plaak (dit is vettige stowwe, cholesterol en sel­afvalstowwe) in vroue se slagare te verhoed.

    Hoewel daar vroeër geglo is dat hormoonvervangingsterapie (HVT) ook beskerming bied, is dit weerlê deur die Women’s Health Initiative (WHI) en die Million Women Study. Hierdie navorsing het aanvanklik ouer postmenopousale vroue met ’n gemiddelde ouderdom van 60 jaar betrek. Uit die jongste navorsing onder jonger postmenopousale vroue en vroue wat ’n histerektomie ondergaan het, lyk dit asof die estrogeen in HVT die vorming van aterosklerotiese plaak en die verkalking van die slagare verminder. Dit het gevolglik ’n beskermende uitwerking op effens jonger vroue, maar die bewyse is nog nie afdoende nie.

    Vroue is meer geneig as mans om aan ’n eerste hartaanval te sterf en is ook meer geneig om ’n tweede hartaanval te kry. Die rede hiervoor is dat vroue nie so bedag is op die simptome van hartsiekte as mans nie en ook nie vinnig genoeg daarop reageer en hulp kry nie. Moet nooit borskaspyn, kortasemrigheid of hartkloppings ignoreer nie. Vroue wat angina of ’n hartaanval kry, ervaar dikwels borskaspyn wat effens verskil van dié van mans.

    Iskemiese hartpyn by mans

    Die tipiese pyn wat mans ervaar, is ’n swaar, drukkende pyn aan die linkerkant van die borskas wat na die kakebeen, skouer, arm en rug kan versprei.

    Iskemiese hartpyn by vroue

    Vroue ervaar gewoonlik die pyn van ’n hartaanval as ’n brandpyn wat hulle as slegte spysvertering afmaak en verontagsaam.

    WAT KAN JY DOEN OM HARTSIEKTE TE VOORKOM?

    Sorg dat jy enige risikofaktore vir hartsiekte aktief bestuur. As jy ’n familiegeskiedenis van hartsiekte het, moet jy veral goed let op jou dieet, gewig en oefening, en glad nie rook of uitermatig alkohol gebruik nie. Ondergaan siftingstoetse om die verwysingspunt van jou bloeddruk, glukose en cholesterol vas te stel. Sorg dat jy alle moontlike stappe doen om die vlakke te normaliseer indien daar enige abnormaliteite is.

    Wat kan jy doen?

    •Volg ’n gesonde dieet.

    •Hou op rook.

    •Verlaag jou cholesterolvlak.

    •Verlaag jou bloeddruk.

    •Verloor gewig om jou LMI (liggaams­massa-indeks) binne die normale perke te hou en verlaag jou liggaamsvet­persentasie.

    Is daar voorkomende medisyne?

    As jy ’n hoë risiko het, is daar basiese voorkomende middels wat jy kan gebruik, maar bespreek dit liefs eers met jou dokter.

    Aspirien

    Vra jou dokter oor die moontlikheid om daagliks ’n mini-aspirien soos Ecotrin te gebruik. Dit beskerm jou deur jou bloed te verdun en klonte te voorkom. Die dosis is sowat 80 mikrogram, of ’n kwart tot die helfte van ’n normale aspiriendosis. Jy kan dit egter nie gebruik as daar enige teken van duodenale of gastriese inflammasie of ulkusse is nie. Hou in gedagte dat aspirien newe-effekte kan hê en raadpleeg eers jou dokter voordat jy dit gebruik.

    Antioksidante

    Navorsers van die Cleveland-kliniek in die VSA het ’n groot meta-analisestudie – ’n oorsig van die beste en grootste studies – oor antioksidante gedoen. Hul bevindinge is onlangs in die toonaangewende mediese vaktydskrif The Lancet gepubliseer.

    Die bevindinge van studies oor hoofsaaklik vitamien E en betakaroteen is ontleed om die uitwerking van antioksidante op sterftesyfers te wyte aan kardiovaskulêre siekte of enige ander oorsaak na te spoor. Vergeleke met ander behandelingsmetodes waarvoor daar gekontroleer is, het vitamien E geen voordele ingehou om die aantal sterftes te verminder nie. Dit het ook geen beduidende verskil aan die risiko vir kardiovaskulêre sterftes of beroerte gemaak nie. Hoewel daar geen bewyse gevind is dat aanvullings kan help om hartprobleme te voorkom nie, beveel die Amerikaanse hartvereniging (AHA) steeds voedsel wat ryk is aan antioksidante aan. Dit is wel duidelik dat antioksidante in hul natuurlike toestand sekere voordele inhou. Likopeen in helderrooi tamaties, kapsaïsien in rissies, sulforafaan in broccoli, flavonoïed in bosbessies, asook prosianidien en resveratrol in druiwe en rooiwyn, speel ’n belangrike rol in die teenwerking van vrye radikale om immuniteit te versterk en die liggaam en hart te beskerm.

    Foliensuur

    Daar is vroeër gemeen dat hierdie aanvulling sekere risikofaktore wat met hartsiekte verbind word, kan verminder. Volgens die Amerikaanse hartvereniging se jongste navorsing het foliensuur egter weinig of geen uitwerking op die voorkoming van hartsiekte nie.

    AS JY REEDS HARTSIEKTE HET

    Indien jy reeds aan koronêre hartsiekte ly, moet jou huisdokter jou noukeurig monitor met behulp van gereelde kliniese ondersoeke, EKG’e, inspannings-EKG’e en eggokardiografie. Jy sal ook die gepaste medikasie vir jou behoeftes moet gebruik.

    Jou dokter sal moontlik een of meer van die volgende middels voorskryf:

    •Medikasie om jou cholesterol te verlaag

    •Hipertensiemedikasie

    •Aspirien

    •Kalsiumkanaalblokkers

    •Betablokkers

    •Nitrate

    WAT JY KAN VERWAG TYDENS JOU BESOEK AAN DIE DOKTER

    1.Jou mediese geskiedenis word volledig aangeteken.

    2.’n Volledige ondersoek word gedoen.

    3.’n EKG sal gedoen word.

    WAT IS ’N EKG?

    ’n EKG of elektrokardiogram is ’n verslag van jou hart se elektriese aktiwiteit wanneer dit ritmies saamtrek en ontspan. Daar is twee soorte EKG’e: ’n rustende EKG en ’n inspannings-EKG. Baie mense (selfs diegene met simptome) se rustende EKG is normaal. Dit is nie ongewoon nie, aangesien die simptome van angina onder inspanning of stres voorkom. Die hart moet dus tydens inspanning getoets word.

    WANNEER HET EK ’N SPESIALIS NODIG EN WAT KAN EK VERWAG?

    Indien daar afwykings of baie hoë risikofaktore teenwoordig is, kan jy na ’n hartspesialis, oftewel ’n kardioloog, verwys word. Die kardioloog sal jou ondersoek en ’n inspannings-EKG doen om die probleme te diagnoseer. Bloeddruk word ook tydens die toets gemeet en ander simptome aangeteken.

    Die kardioloog sal moontlik ook ’n eggokardiogram doen. Dit is ’n ultraklankskandering waarmee die vorm, sterkte en struktuur van die hart bepaal word. In ernstige gevalle sal ’n koronêre angiografie gedoen word om die kroonslagare te ondersoek. ’n Vloeistof word deur ’n dun pypie in die slagaar van ’n been of arm toegedien, waarna X-straalfoto’s van die hart en bloedvate geneem word terwyl die hart klop. Die X-straalfoto’s sal aandui presies waar die blokkasie geleë is. Dit is die akkuraatste manier om die teenwoordigheid en erns van koronêre siekte te bepaal.

    IS EK BESIG OM ’N HARTAANVAL TE KRY?

    Nie alle hartaanvalle begin met ’n skielike, beklemmende pyn aan die linkerkant van die borskas nie. By sommige mense is die pyn atipies en voel dit soos slegte spysvertering of ’n verspreide brandpyn in die borskas. Die pyn kan ook uitsluitlik in die arm, rug of kakebeen voorkom.

    Moenie dit ignoreer nie. Vra iemand om ’n ambulans te ontbied of jou dadelik na ’n hospitaal met ’n intensiewesorgeenheid te neem.

    Ontbied ook sonder versuim mediese hulp indien jy vermoed dat iemand anders besig is om ’n hartaanval te kry. Bloedtoetse moet onmiddellik gedoen word en volgehoue EKG-monitering is noodsaaklik.

    VERANDER JOU GEWOONTES

    Dit is nie maklik om jou gewoontes te verander nie, maar ondervinding en navorsing toon dat dit werk.

    Is dit ooit te laat om op te hou rook?

    Die goeie nuus is as jy ophou rook, kan jou risiko vir ’n hartaanval dramaties verlaag word, ongeag jou ouderdom. Selfs as jy reeds ’n hartaanval gehad het, sal jy daarby baat vind om op te hou rook, aangesien die risiko vir ’n tweede hartaanval met 50% of meer daal sodra jy ophou rook.

    Simptome van ’n hartaanval

    Die waarskuwingstekens van ’n hartaanval sluit in:

    •’n Swaar, drukkende pyn op jou borskas of die gevoel dat jy vasgeklem word. Party mense beskryf die sensasie as ’n steekpyn of brandgevoel soortgelyk aan sooibrand.

    •Pyn wat van ’n halfuur tot ’n hele paar uur duur.

    •Kortasemrigheid.

    •Die sensasie van pyn wat afwaarts in die arms (veral die linkerarm) versprei.

    •Pyn wat ook na die tande, kakebeen, nek, rug of skouers kan versprei.

    •’n Tintelende gevoel in die hand.

    •Mans beskryf die drukking op die borskas dikwels as gelokaliseerd; vroue be­skryf dit as verspreid.

    Ander simptome sluit in:

    •Naarheid

    •Braking

    •Slegte spysvertering

    •Hartkloppings

    •Koue sweet

    •Swakheid

    •Duiseligheid

    •Hoes

    •Floute

    Sommige mense, veral diegene met diabetes of mense bo 75, voel moontlik hoegenaamd geen pyn nie, maar voel bloot asof hulle slegte spysvertering het, gepaard met kortasemrigheid.

    Hoe om jou bloeddruk te verlaag

    Omdat bloeddruk so wisselvallig is, moet dit ’n hele paar keer getoets word voordat ’n diagnose van hoë bloeddruk gemaak kan word. As jou bloeddruk nie te hoog is nie, kan jy dit moontlik voldoende beheer deur gewigsverlies (indien jy oorgewig is), gereelde oefening en ’n verminderde soutinname. Afgesien van die voor die hand liggende stap om minder sout oor jou kos te strooi, sal dit ook help om minder souse en kitsprodukte te gebruik. Volg die voorskrif noukeurig indien jy medikasie nodig het.

    Hou jou cholesterol dop

    Dit is ’n goeie idee vir alle volwassenes om ’n bloedcholesteroltoets te laat doen om ’n verwysingspunt vas te stel. Na 45 raak dit noodsaaklik om jou cholesterol jaarliks te laat toets. Hoewel jou liggaam cholesterol nodig het om normaal te funk­sioneer, vervaardig jy gewoonlik genoeg om in hierdie behoefte te voorsien. Te veel versadigde vette en cholesterol in jou dieet verhoog die bloedcholesterolvlak. Die oortollige cholesterol bou mettertyd op aan die binnewande van die (koronêre) slagare wat bloed aan die hart voorsien, asook in baie ander are in die liggaam. Hierdie aanpaksels vernou die are en belemmer die bloedvloei. Die gevaar ontstaan dat een of meer van die are heeltemal afgesluit (verstop) kan raak, of – soos meer algemeen gebeur – dat die plaak skeur en ’n bloedklont vorm, wat tot hartsiekte of ’n hartaanval kan lei.

    Hou jou gewig dop

    Oorgewig dra nie net tot hartsiekte by nie, maar ook tot ander ernstige siektes soos diabetes en kanker. Gelukkig kan jy jou risiko vir hierdie siektes verlaag deur gewig te verloor. Dit is nooit maklik om gewig te verloor nie, maar pak dit op ’n verstandige manier aan. Mik daarna om slegs ’n halwe kilogram per week te verloor vir blywende resultate. Pas jou dieet aan om matige hoeveelhede van ’n verskeidenheid voedsame laevet-, laekilojoule-kossoorte, proteïene (vis en hoender sonder die vel), en ’n beperkte hoeveelheid goeie vette (mono-onversadigde vette soos olyfolie) in te sluit.

    Gereelde oefening

    ’n Gebrek aan oefening verhoog jou risiko vir hartsiekte. Slegs 30 minute se matige oefening per dag ten minste drie keer per week sal help om jou teen hartsiekte te beskerm. Jy kan flink stap, fietsry of selfs net energiek in die tuin werk. Besoek altyd eers jou huisdokter voordat jy ’n oefenprogram aanpak.

    Volg hierdie riglyne vir oefening:

    •Moenie jou ooreis nie! Begin stadig deur eers op te warm en te strek. Sluit jou oefensessie weer teen ’n stadiger pas af.

    •Luister na jou liggaam. Dit is normaal om aanvanklik effens stram te voel. As jy egter ’n ligament of spier beseer, is dit noodsaaklik om die aktiwiteit ’n paar dae aaneen te staak sodat die besering kan genees.

    •Wees bedag op waarskuwingstekens. Hoewel fisieke aktiwiteit jou hart sal versterk, is daar sekere soorte aktiwiteite wat nadelig kan wees vir bestaande hartprobleme. Duiseligheid, koue sweet, borskaspyn of ’n floute vereis onmiddellike mediese aandag.

    •Hou vol met jou oefenprogram.

    Alkohol

    Verskeie studies het getoon dat matige drinkers minder geneig is om hartsiekte te ontwikkel. Dit beteken egter nie jy moet nou begin alkohol gebruik as jy ’n geheelonthouer is nie. Alkohol kan uiters skadelik wees as jy swanger is of enige gesondheidsprobleme het. Meer as een drankie per dag (een glas wyn of ’n sopie sterk drank) kan jou bloeddruk verhoog, en om jou te vergryp, al is dit net by geleentheid (binge drinking), kan tot beroerte lei. Mense wat op ’n gereelde basis straf drink, het ’n hoër risiko vir hartsiekte.

    Mondelikse voorbehoedmiddels

    Indien jy mondelikse voorbehoedmiddels (MV) – algemeen bekend as die Pil – gebruik, moet jy jou bloeddruk gereeld laat toets, aangesien hierdie middels jou bloeddruk kan verhoog. As jy diabetes het en die Pil gebruik, is dit nog belangriker om gereeld jou bloeddruk te laat toets. Mondelikse voorbehoedmiddels is waarskynlik nie ’n veilige keuse vir vroue wat al bloedklonte, ’n beroerte of ’n hartaanval gehad het nie.

    Aspirien – die wondermiddel?

    Hierdie toonbankmedisyne is bekend daarvoor dat dit kan help om hartaanvalle te voorkom en selfs te behandel. Uitgebreide navorsing het getoon dat ’n baie klein dosis aspirien (80 mikrogram) per dag mense met ’n hoë risiko se kans op ’n hartaanval kan verlaag en ’n tweede hartaanval kan voorkom. Hou egter in gedagte dat dit ’n sterk middel met potensiële newe-effekte soos gastroïntestinale inflammasie is. Moet dit nooit begin gebruik sonder om eers jou dokter te raadpleeg nie.

    KARDIOMETABOLIESE SINDROOM

    Hartsiekte affekteer nie net jou hart nie. Dit tas die hele liggaam se vaskulêre stelsel aan, d.w.s. al die vate in jou nek wat na jou brein toe gaan, die vate na jou voete en al die vate tussenin. Skade in die koronêre vate beteken dat daar ook skade aan al die ander vate (veral die slagare) in die liggaam is.

    Afgesien daarvan word hartsiekte ook verbind met ander toestande, veral dia­betes. Sommige interniste beskou diabetes as ’n onderafdeling van hartsiekte.

    Kardiometaboliese sindroom is ’n groep faktore wat daarop dui dat iemand die risiko het om tipe 2-diabetes en hartsiekte te ontwikkel. Dit is ’n relatief nuwe term vir hierdie onderling verwante toestande.

    Die kenmerke van kardiometaboliese sindroom sluit in:

    •Hoë bloeddruk

    •Hoë cholesterol en trigliseriede

    •Hoë LDL-cholesterol

    •Lae HDL-cholesterol

    •Tipe 2-diabetes

    •Vet om die middel

    HIPERTENSIE (HOË BLOEDDRUK)

    Hoë bloeddruk, ook bekend as hipertensie, veroorsaak gewoonlik geen simptome nie selfs al styg dit gevaarlik hoog en beskadig dit jou bloedvate en jou hart.

    Tot die helfte van mense met hoë bloeddruk word nie daarvoor behandel nie of weet nie dat hulle daaraan ly nie.

    WAT PRESIES IS BLOEDDRUK?

    Bloeddruk verwys na die druk wat opbou wanneer bloed uit jou hart gepomp word. Dit is uiters belangrik om jou bloeddruk gereeld te laat toets, veral namate jy ouer word. Hoë bloeddruk kan skade aan jou hart veroorsaak en is ook ’n risikofaktor vir beroerte. Die rede waarom hoë bloeddruk so gevaarlik is, is dat ’n mens soms ten spyte van uiters hoë vlakke hoegenaamd geen simptome toon nie. Dit is waarom dit die stille moordenaar genoem word.

    Die vreemdste ding is dat daar in die oorgrote meerderheid van gevalle geen oorsaak vir hoë bloeddruk gevind kan word nie. Dit word essensiële hipertensie genoem. In net sowat 10% van gevalle kan die hipertensie wel aan ’n oorsaak soos niersiekte of -obstruksie toegeskryf word. Dit staan bekend as sekondêre hipertensie.

    2%20copy.tif

    Hipertensievasvra

    Gebruik hierdie eenvoudige vasvra om jou kennis te toets:

    1.Watter van die volgende is NIE ’n risikofaktor vir hoë bloeddruk nie?

    a.Oefening

    b.Familiegeskiedenis

    c.Vetsug

    d.Uitermatige stres

    2.Indien hipertensie nie behandel word nie, kan dit die volgende veroorsaak:

    a.Skade aan die bloedvate, hartaanval en beroerte

    b.Osteoporose

    c.Kanker

    3.Hoe dikwels behoort jy jou bloeddruk te laat toets?

    a.Elke keer wanneer jy ’n gesondheid­sorgpraktisyn spreek, of ten minste elke twee jaar

    b.Wanneer jy 40 word

    c.Wanneer jy 50 word

    4.Wat word as ’n normale bloeddruk be­skou?

    a.120/80

    b.140/90

    c.160/100

    Resultate: Welgedaan indien jy a op al die vrae geantwoord het.

    HIPOTENSIE

    Sommige mense ly van tyd tot tyd aan die toestand van lae bloeddruk wat as hipotensie bekend staan. Lae bloeddruk is geensins ’n probleem nie, afgesien daarvan dat dit jou duiselig en flou kan laat voel. Neem bloot meer vloeistof in en verhoog jou soutinname effens. In uitsonderlike gevalle waar die simptome ernstig is, kan die middel Effortil gebruik word om die bloeddruk te normaliseer. Dit is goed vir jou bloedvate en hart as jou bloeddruk effens laer as normaal is.

    WAT OM TE DOEN OMTRENT HOË BLOEDDRUK

    Laat toets jou bloeddruk om ’n verwysingspunt te kry, ongeag in watter fase van jou lewe jy jou bevind. Dit is ’n maklike, ingreepvrye ondersoek wat deur jou dokter of ’n verpleegsuster gedoen kan word.

    Indien jou bloeddruk hoog is, is dit belangrik om minstens twee of drie le­sings by verskillende geleenthede deur dieselfde persoon te laat neem voordat ’n diagnose van hoë bloeddruk gemaak word. As jou bloeddruk normaal is en jy onder 40 is, kan jy dit elke twee tot vyf jaar laat toets. Na 45 behoort dit jaarliks getoets te word.

    Hoë bloeddruk veroorsaak gewoonlik geen simptome nie, maar kan soms duiseligheid en moontlik hoofpyn tot gevolg hê.

    BEHANDELING

    Die beste manier om hipertensie te beheer, is met behulp van ’n kombinasie van lewenstylaanpassings soos gewigsverlies, oefening, ’n gesonde dieet (minder sout) en doeltreffende medikasie.

    Verloor gewig

    As jy oorgewig is, sal jou bloeddruk byna sonder uitsondering daal sodra jy daardie oortollige kilogramme afskud.

    Hou op rook

    Rook laat jou bloeddruk styg en verhoog jou risiko vir beroerte beduidend.

    Oefening

    Gereelde matige oefening kan help om hipertensie te verlaag en ook voorkom dat jy dit ooit ontwikkel, selfs al is jy geneties vatbaar daarvoor.

    Beperk alkohol

    Alkohol verhoog beslis jou bloeddruk.

    Folaat

    Dr. John Forman het in Oktober 2004 tydens die Amerikaanse hartvereniging (AHA) se konferensie in Chicago gesê navorsing het getoon dat foliensuur, wat bekend is vir sy vermoë om aangebore gebreke te verhoed, moontlik ook die risiko vir hoë bloeddruk onder alle ouderdomsgroepe verlaag. Volgens die jongste navorsing van die AHA wil dit egter voorkom asof folaat nie die risiko vir ’n hartaanval verlaag nie, maar tog help om bloeddruk te beheer.

    Hanteer jou stres

    Enige stres sal jou bloeddruk verhoog. Dit is reeds duidelik uit die feit dat selfs net die bloeddruktoets wat jou dokter doen, jou bloeddruk merkbaar kan laat styg. Volgehoue stres veroorsaak dat jou bloed teen ’n hoër druk pomp as wat nodig is. Selfs al gebruik jy medi­kasie vir ernstige hipertensie, kan jy jou bloeddruk verlaag deur gereeld gebruik te maak van stresverligtingstrategieë soos meditasie.

    Dieet

    Het jy al van die DASH-dieet gehoor? Dié dieet, uitvoerig nagevors en algemeen in gebruik, word deur die Amerikaanse hartvereniging (AHA) aanbeveel. Daar is bewys dat dit bloeddruk beduidend verlaag – in sommige studies tot dieselfde vlak as dié van kontrolegroepe wat medikasie gebruik het. Dit verbeter ook die algemene hartgesondheid.

    DASH staan vir "Dietary Approaches to Stop Hypertension".

    Die DASH-dieet beveel die volgende aan:

    •7-9 porsies vrugte en groente per dag

    •2-3 porsies vetvrye of laevetsuiwel

    •5-6 porsies lae-GI-hoëvesel-graan­soorte, stysel (soos botterskorsie) of wortelgroente (geelwortels en beet)

    •1-2 porsies diereproteïen soos hoender, vis of maer vleis (by geleentheid)

    •Minder as een teelepel sout per dag

    Laesoutdieet

    Navorsing het getoon dat ’n laesoutdieet slagare teen verharding kan beskerm, hoë bloeddruk kan verlaag en dit selfs kan help voorkom. Die DASH-dieet beveel aan dat jy jou soutinname beperk tot minder as 2 400 mg per dag, wat minder as een teelepel is. Nog ’n aanbeveling is minder as ’n halwe teelepel per dag. Die probleem is dat verwerkte sop, smaakmiddels, tamatiesous, sojasous, ingemaakte groente, piekels, aartappel­skyfies en pretzels geweldig baie bygevoegde sout bevat. Die lys is eindeloos. Die geheim is om baie minder verwerkte kos te eet.

    PREHIPERTENSIE

    Die lesings vir hoë bloeddruk is onlangs aangepas en ’n normale bloeddruk is nou 120/80 mmHG. Die boonste waarde word die sistoliese druk (die druk wanneer die hart die bloed uitpomp) genoem, en die onderste waarde die diastoliese druk (die druk wanneer jou hart tussen twee slae in ’n rustende toestand verkeer).

    Daar is tot onlangs aanvaar dat ’n mens se bloeddruk noodwendig styg namate jy ouer word as gevolg van die verdikking van die bloedvate. ’n Bloeddruk van 140/90 is dus voorheen as normaal beskou vir iemand van 60. Indien ’n 60-jarige se sistoliese lesing meer as 140 of die diastoliese lesing meer as 90 was (by drie afsonderlike geleenthede, gemeet deur dieselfde dokter), is die persoon met hipertensie gediagnoseer.

    Die jongste navorsing toon egter dat hierdie vlakke nie wenslik is nie.

    Dit beteken jy sal na alle waarskynlikheid hipertensief raak, en dat jou risiko vir hartsiekte, bloedvatskade en beroerte groter is as dié van iemand met ’n normale bloeddruk. Al is jou risiko nie naastenby so hoog soos in die geval van bevestigde hipertensie nie, moet jy dus bedag wees op prehipertensie.

    Indien jou sistoliese druk op enige ouderdom tussen 120 en 140 en jou dia­stoliese druk tussen 80 en 94 is, word jy as prehipertensief geklassifiseer.

    MEDIESE BEHANDELING VIR HIPERTENSIE

    ’n Mens mag hipertensie nie ignoreer nie en dit moet in ’n baie ernstige lig beskou word. Dit is nie ’n toestand wat met alternatiewe geneesmiddels behandel kan word nie. Indien jou bloeddruk hoog is, het jy ’n risiko om ’n hartaanval, beroerte en kardiovaskulêre skade te kry. Ja, jy moet probeer om gewig te verloor en gereeld oefening te kry. Daar is ’n kans dat hierdie strategieë tesame met die DASH-dieet jou bloeddruk kan laat normaliseer as jy slegs matige hipertensie het.

    Indien jy egter aan ernstige hipertensie ly, of as bogenoemde benaderings nie jou bloeddruk genoegsaam verlaag nie, het jy definitief medikasie nodig. Jou dokter sal eers vir jou ’n ligte dosis voorskryf. Selfs al is jou bloeddruk hemelhoog, is dit belangrik om dit geleidelik te verlaag. Dit kan gevaarlik wees as die bloeddruk te vinnig daal, en dit behoort slegs in noodgevalle in die hospitaal onder toesig van spesialiste gedoen te word.

    Dit is belangrik om te besef dat alle hipertensiemedisyne newe-effekte soos duiseligheid en hoofpyn kan hê. Maak dus seker dat die middel wat jy gebruik, die minimum of geen newe-effekte by jou veroorsaak nie.

    Die algemeenste hipertensiemedikasie sluit die volgende in:

    Uriendrywers

    Dit word dikwels waterpille genoem, omdat hulle jou oortollige water laat uitskei deur urinering. Jou bloeddruk daal namate jou bloedvolume afneem.

    Betablokkers

    Hierdie middels laat die hart stadiger klop en verlaag die bloeddruk deur jou betareseptore te blokkeer. Dit word al baie jare lank gebruik en sommige dokters verkies dit steeds bo die nuwer soorte medikasie. Moegheid is ’n moont­like newe-effek.

    ACE-inhibeerders en kalsiumkanaalblokkers

    Hierdie middels maak die bloedvate wyer, wat die bloed in staat stel om met minder intensiteit te vloei. Hulle onderdruk ’n stof wat bekend staan as angiotensienomskakelingsensiem (ACE) of blokkeer kalsiumkanale.

    BEROERTE

    Hierdie term verwys na die onderbreking van die bloedtoevoer na ’n deel van die brein.

    Dit kom ewe veel by mans as vroue voor en is op twee na die grootste oorsaak van sterftes wêreldwyd en in baie lande die hoofoorsaak van gestremdheid onder volwassenes – iets wat gewoonlik min aandag in die media kry.

    Hoewel die simptome van ’n beroerte (serebrovaskulêre toeval) skielik kan ontwikkel, is die onderliggende faktore wat daartoe lei gewoonlik lank teenwoordig voordat dit plaasvind. ’n Beroerte is ’n katastrofiese gebeurtenis wat ’n deel van die brein beskadig – dikwels onherstelbaar. Dit veroorsaak gewoonlik verlamming aan die een kant van die liggaam, dikwels in die gesig, arm en been, en kan die persoon se spraak aantas.

    Beroerte is ’n mediese noodgeval en kan tot permanente neurologiese skade, kompli­kasies en die dood lei indien dit nie onmiddellik gediagnoseer en behandel word nie.

    WAT VEROORSAAK ’N BEROERTE?

    Die twee hoofoorsake van beroerte is ’n klont in ’n groot bloedvat na die brein wat die toevoer na lewensbelangrike weefsel afsny (dieselfde meganisme as ’n hartaanval), of bloeding op die brein wanneer ’n bloedvat lek of bars. Laasgenoemde is gewoonlik te wyte aan langdurige hoë bloeddruk. Sommige risikofaktore vir beroerte stem ooreen met dié vir hartsiekte.

    3%20copy.tif

    Risikofaktore vir beroerte

    •Hoë bloeddruk – die belangrikste veranderbare risikofaktor

    •Hoë cholesterol

    •Diabetes

    •Familiegeskiedenis

    •Rook

    •Vetsug

    •Gebrek aan oefening

    •Stollingsdisfunksie

    •Bloedingsdisfunksie

    •Vorige beroerte of kortstondige iskemiese aanval (KIA)

    •Strawwe alkoholinname

    •Te veel sout en vet in die dieet

    WAARSKUWINGSTEKENS

    Dit is belangrik om die waarskuwingstekens te kan herken sodat mediese hulp so gou moontlik ontbied kan word. Die waarskuwingstekens of simptome kan afsonderlik of in kombinasie met mekaar voorkom. Dit kan van ’n paar sekondes tot 24 uur duur en dan verdwyn.

    Die simptome kan baie skielik – binne minute – ontwikkel. Dit wissel na gelang van presies waar die bloedklont of bloeding voorkom, asook die omvang van die skade. Die erns van die simptome verskil ook beduidend van pasiënt tot pasiënt.

    Moontlike simptome van beroerte

    •Lamheid in of verswakking van die gesig, arm of been

    •Spraakverlies of begripsprobleme

    •Skielike duiseligheid

    •Skielike dowwe of dubbelvisie in een oog of albei oë

    •Skielike verlies van balans

    •Skielike slukprobleme

    •Skielike of erge hoofpyn

    •Verwarring

    •Bewussynsverlies

    DIE FAST-TOETS

    Die FAST-toets is ʼn maklike manier om die simptome van ʼn beroerte of KIA te herken. FAST staan vir "Facial weakness, Arm weakness, Speech difficulty en Time to act – act FAST". Beantwoord drie eenvoudige vrae en ontbied onmiddellik ’n ambulans indien die persoon enige van die volgende simptome toon:

    •Kan die persoon glimlag? Trek sy of haar mond of oog skeef?

    •Kan die persoon albei arms oplig?

    •Kan die persoon duidelik praat en verstaan wat jy sê?

    •Ontbied onmiddellik hulp.

    DIE DIAGNOSE VAN BEROERTE

    Die diagnose van beroerte berus op:

    •Kliniese tekens, soos deur ’n neuroloog bepaal tydens ’n deeglike ondersoek.

    •Skanderings, met inbegrip van RT (rekenaartomografie), MRB (magnetieseresonansiebeelding) 

    •en soms arteriografie (met behulp van kleurstof en kontrasterende middels).

    BEHANDELING

    Dit is uiters belangrik om die persoon so gou moontlik na ’n hospitaal te bring indien die simptome op ’n beroerte dui. Die pasiënt sal moontlik aanvanklik in die intensiewesorgeenheid opgeneem word. Die behandeling behels ’n multidissiplinêre benadering wat die volgende persone insluit:

    •Verpleegkundiges

    •Internis en hoësorgspesialis

    •Neuroloog

    •Fisioterapeut

    •Arbeidsterapeut

    •Spraakterapeut indien spraak en slukfunksie aangetas is

    •Sielkundige

    •Maatskaplike werker

    Medikasie sal vir die pasiënt voorgeskryf word. Indien die beroerte deur ’n bloedklont veroorsaak is, eerder as bloeding, word aspirien en antistolmiddels in sommige gevalle gebruik. Die antistolmiddel sal waarskynlik warfarien, heparien of ’n middel genaamd Clexane wees. Bloeddrukmiddels kan ook voorgeskryf word, aangesien die bloeddruk dringend onder beheer gebring moet word.

    Dit is uiters belangrik om ’n multidissiplinêre span by die versorging en rehabilitasie van ’n beroertepasiënt te betrek.

    Hulpmiddels soos rolstoele, looprame en krukke kan ook nodig wees. Afgesien van die fisieke trauma wat gepaardgaan met beroerte, ly meer as ’n derde van pasiënte aan depressie.

    Wat is ’n KIA?

    ’n Kortstondige iskemiese aanval (KIA) lyk net soos ’n beroerte, met identiese tekens en simptome. Die simptome is egter tydelik en verdwyn heeltemal binne 24 uur.

    •Kortstondige – die simptome is van verbygaande aard en duur gewoonlik minder as 24 uur.

    •Iskemiese – ’n blokkasie van die bloedvloei na ’n deel van die brein.

    •Aanval – die simptome begin skielik en wissel na gelang van die deel van die brein wat nie bloed ontvang nie.

    Kortstondige iskemiese aanvalle word veroorsaak deur die kortstondige onderbreking van die bloedtoevoer na die brein as gevolg van ’n gedeeltelike of algehele blokkasie van ’n slagaar deur ’n bloedklont of spasma van die bloedvat. ’n KIA kan ’n beroerte voorafgaan. Iemand wat ’n KIA gehad het, het ’n verhoogde risiko vir ’n beroerte of hartaanval. Dit is belangrik om met jou dokter te praat oor maniere om jou risiko te verlaag.

    VOORKOMING

    Aangesien talle risikofaktore vir beroerte lewenstylverwant is, is dit binne jou vermoë om die risiko te verlaag. Sommige faktore soos geslag, ouderdom en familiegeskiedenis kan egter nie beheer word nie, daarom is dit belangrik om die beheerbare faktore soos rook en ’n ongesonde dieet te bestuur en aan te pas.

    Hou op rook

    Rook kan jou risiko vir beroerte verdubbel of selfs vervierdubbel. Dit verdik die bloed en maak die bloedplaatjies taai, sodat bloedklonte makliker ontstaan. Sigaretrook veroorsaak ook dat die slagare vernou, en die nouer opening belemmer die vloei van die verdikte bloed.

    Beheer jou diabetes

    Mense met diabetes se risiko om beroerte te kry is dubbel so groot as dié van ’n persoon van dieselfde ouderdom wat nie diabetes het nie. Dit is baie belangrik om jou diabetes en suikervlakke streng te beheer, aangesien hoë suikervlakke bydra tot die ontwikkeling van aterosklerose.

    Sorg dat jou cholesterol normaal is

    Bloedcholesterol dra by tot die vorming van ateroom, die vettige plaak wat aan die binnewande van die slagare saampak en tot aterosklerose lei. (Sien die gedeelte oor hartsiekte vir meer inligting.)

    Eet gesond

    Talle studies dui daarop dat ’n ongesonde dieet ’n belangrike risikofaktor is in die ontwikkeling van beroerte. Beperk jou soutinname en vermy of beperk suiker- en vetryke voedsel.

    Oefen gereeld

    ’n Sittende lewenstyl verhoog vetsug, hoë bloeddruk en cholesterol – almal belangrike risikofaktore vir beroerte.

    Moenie straf drink nie

    Sommige studies dui daarop dat matige hoeveelhede alkohol (soos een of twee standaardgrootte drankies per dag) die risiko vir beroerte kan verlaag. Strawwe drinkers se risiko om beroerte te kry, is egter drie keer so groot ongeag hul ouderdom. Dit is dus belangrik om jou alkoholinname te beperk.

    Volgens die bevindinge van ’n groot meta-analise (die gekombineerde resultate van verskeie studies) kan foliensuuraanvullings die voorkoms van beroerte met tot 20% verlaag.

    DIABETES

    Die kommerwekkendste aspek van dia­betes is dat daar wêreldwyd meer as 250 miljoen diabeteslyers is, maar dat 50% van hulle nie bewus is van die feit dat hulle aan die toestand ly nie.

    HOE WEET EK EK HET DIABETES?

    Gaan dokter toe indien jy al langer as ’n week enige van die volgende simptome ervaar. ’n Uriensiftingstoets en bloedglukosetoets sal dan gedoen word.

    •Oormatige dors

    •Merkbaar verhoogde eetlus

    •Baie gereelde urinering

    •Duiseligheid

    •Gewigsverlies sonder dat jy dieet

    •Wederkerende urienweginfeksies

    •Droë mond

    •Braking, diarree

    •Belemmerde sig

    WAT IS DIABETES?

    Diabetes is ’n metaboliese siekte wat jou liggaam se vermoë om insulien te vervaardig of daarop te reageer, aantas. Dit beteken óf dat jou pankreas nie insulien kan vervaardig nie, óf dat insulien wel afgeskei word, maar nie deur jou selle gebruik kan word nie.

    Daar bestaan talle wanopvattings oor diabetes. Hoewel daar al groot vordering gemaak is met die behandeling en beheer van die siekte, is dit steeds ’n ernstige toestand. Dit kan nietemin byna altyd suksesvol beheer word met behulp van lewenstylaanpassings en medikasie.

    Al die weefsels in jou liggaam het suiker (glukose) nodig om vir energie te gebruik. Insulien is die hormoon wat die beweging van glukose uit jou bloedstroom na jou selle beheer – dit is as ’t ware die hekwagter van die selwande.

    Wanneer jy ’n tekort aan insulien het, kry jou selle nie die suiker wat hulle nodig het nie, en intussen hoop die suiker op in jou bloed. Hierdie glukose raak toksies vir jou liggaam.

    4%20copy.tif

    HOE OM DIABETES TE VERHOED

    Die presiese oorsaak van diabetes bly ’n raaisel, hoewel genetiese en lewenstylfaktore soos vetsug en ’n gebrek aan oefening op die oog af ’n rol speel. Indien jy vermoed dat jy ’n risiko vir of ’n familiegeskiedenis van diabetes het, is daar talle stappe wat jy kan doen om te verhoed dat jy die siekte opdoen.

    Beheer jou gewig

    Vetsug verhoog die risiko vir insulienweerstandigheid. As jou selle nie meer op glukose kan reageer nie, kan dit nie uit die bloed na die selle vervoer word nie. Wanneer die insulien ondoeltreffend raak, styg die glukosevlakke. Die glukose in die bloed begin dan die bloedvate, senuwees en pankreas vergiftig.

    Oefening

    Oefening is een van die beste strategieë vir sowel die behandeling as die voorkoming van diabetes. Dit stel suiker in staat om uit die bloed na die spiere te beweeg. Dit maak jou liggaam minder weerstandig teen insulien sodat meer glukose uit die bloed in die selle opgeneem kan word. Dit help jou ook om ’n gesonde gewig te handhaaf en kan jou help gewig verloor en jou bloeddruk verlaag.

    Optimale voeding

    Jy het dit al soveel keer gehoor, maar dit is regtig waar: As jy aanhou om verwerkte voedsel, verfynde suiker en kossoorte met ’n hoë vetinhoud te eet, is jy op pad na die hoërisikokategorie. Optimale voeding behels meer as om bloot nagereg en soetgoed te vermy. Dit gaan daaroor om doelbewus hoëvesel-lae-GI-volgraanprodukte, vars vrugte en groente, en goeie vette (omega 3-, olyf- en vlassaadolie) in te neem. Volgens ’n hele paar studies het mense wat veselryke voedsel eet, beter beheer oor hul bloedsuikervlakke.

    Wat is die glukemiese indeks?

    Die glukemiese indeks (GI) is ’n maatstaf van die tempo waarteen suiker (glukose) in die bloedstroom opgeneem word wanneer koolhidrate geëet word. Hoe stadiger die opname, hoe beter is dit vir volhoubare energie en ’n gesonde metabolisme. Lae-GI-voedsel word stadig in die bloedstroom opgeneem, terwyl hoë-GI-voedsel die bloedsuiker die hoogte laat inskiet. Die afsnypunt is 55. ’n Telling onder 55 word as ’n lae GI beskou en bo 55 as ’n hoë GI.

    SOORTE DIABETES

    Tipe 1-diabetes (insulienafhanklike diabetes)

    Wanneer iemand tipe 1-diabetes het, is die selle van die pankreas aangetas en kan die beskadigde selle nie insulien vervaardig nie, dus is daar te min of geen insulien beskikbaar nie. Slegs sowat 10% van diabete ly aan hierdie tipe. Tipe 1-diabetes is ’n oorerflike of genetiese toestand wat gewoonlik reeds in die kinderjare of adolessensie ontwikkel.

    Tipe 2-diabetes (nie-insulienafhanklike diabetes)

    Tipe 2-diabetes is die algemeenste vorm van diabetes en ongeveer 90% van alle lyers het hierdie vorm. Hierdie soort diabetes veroorsaak dat die selle ’n weerstand teen insulien opbou sodat jou liggaam nie behoorlik daarop kan reageer of dit voldoende kan gebruik nie.

    ’n Ander naam vir tipe 2-diabetes is volwasse diabetes, aangesien dit gewoonlik by mense ouer as 35 ontwikkel. Vanweë die genetiese komponent is ’n familiegeskiedenis ’n risikofaktor, maar jy is meer vatbaar daarvoor indien jy oorgewig is en nog meer as jy vetsugtig is. Die skrikwekkendste aspek van hierdie soort diabetes is dat dit deesdae ook al hoe meer onder vetsugtige kinders voorkom.

    RISIKOFAKTORE VIR DIABETES

    Familiegeskiedenis

    As jy ’n familiegeskiedenis van diabetes het, moet jy bedag wees op die tekens en simptome.

    Vetsug

    Vetsug is ’n belangrike risikofaktor vir diabetes. Vergrote vetselle reageer nie op insulien nie. Sorg dat jy nie onnodig gewig aansit nie en dat jou dieet voed­saam en gesond is.

    Swangerskapsdiabetes

    Indien jy swangerskapsdiabetes ontwikkel – ’n vorm van diabetes wat tydens swangerskap ontwikkel en weer na die geboorte verdwyn – kan jy moontlik ’n verhoogde risiko hê om tipe 2-diabetes te ontwikkel.

    WAT OM TE DOEN AS JY DIABETES HET

    Die belangrikste doelwit in die bestuur van diabetes is om te sorg dat jy die bes moontlike glukosebeheer handhaaf ten einde skade aan jou organe te voorkom. Dit beteken jy moet jou glukosevlakke so normaal moontlik probeer hou deur ’n kombinasie van medikasie (mondelikse insulien en/of per inspuiting) en lewenstylstrategieë. Dit is een van die siektes waarby lewenstylstrategieë net so belangrik is soos medikasie. Hoewel jy ’n goeie dokter en mediese span nodig het om jou te monitor en te adviseer, is dit ook ’n siekte wat jy self moet bestuur.

    Met diabetes is lewenstylstrategieë net so belangrik soos insulien en medikasie.

    GOEIE BEHEER

    Sorg dat jou toestand heeltemal onder beheer is as jy ’n diabeet is. Die belangrikste aspek van diabetes is om jou gesondheid en bloedglukosevlakke doeltreffend te bestuur.

    Monitor jouself

    Monitor jou bloedglukosevlakke daagliks met behulp van ’n glukosemonitor. Jy sal dit tuis moet doen en ook ’n noukeurige rekord daarvan moet hou. Jou dokter of ’n diabetesverpleegkundige sal jou hiermee touwys maak.

    Neem ook beheer van jou ander risikofaktore. Mense met diabetes het ’n groter risiko vir hartaanvalle en beroerte; hou dus jou bloeddruk en cholesterol dop. Versorg ook jou tandvleis en tande, aangesien tandvleissiekte nadelig is vir die beheer van diabetes. Niemand verstaan die verband nie, maar chroniese bakteriële infeksie kan moontlik ’n sneller vir insulienweerstandigheid wees en dit ook vererger.

    Jou dokter se rol

    Besoek jou dokter elke ses maande of een keer per jaar as alle aspekte van jou toestand eers onder beheer is. Sy sal jou langtermynglukosebeheer met behulp van bloedtoetse bepaal en ook vir proteïen in jou urien toets om jou nierfunksie te monitor. Jou bloedkreatinien- en urienproteïenvlakke sal aandui of daar tekens van nierskade is. Dit is ook belangrik om jou oë jaarliks te laat toets, verkieslik deur ’n oogspesialis.

    Bloedsuikervlakke

    Sorg dat jou dokter jou gereeld monitor en dat jou bloedsuikervlakke stabiel is ten einde orgaanskade te voorkom.

    Bloeddruk

    Hou jou bloeddruk baie goed dop met die hulp van jou dokter.

    Oë, niere en hart

    Al hierdie organe kan deur hoë bloedsuikervlakke en langtermyndiabetes beskadig word. Jou dokter behoort die bloedvaatjies in jou oë tydens elke besoek met ’n oftalmoskoop na te gaan.

    Voete

    Mense met diabetes is geneig tot sirkulasieprobleme of ’n dooie gevoel in die voete. Monitor jou voete vir rooi, gebarste vel, infeksies, eelte of blase. Gaan dokter toe as daar enige teken van infeksie is. Selfs klein snytjies of infeksies kan tot ernstige mediese probleme lei as dit nie behandel word nie. Jou dokter behoort ook jou bene te monitor vir enige verlies van sensasie (perifere neuropatie), swak polsslag, blase, ulkusse of infeksies.

    ’n Laer as normale bloeddruk en cholesterolvlak

    Baie diabetesspesialiste glo deesdae daaraan om laer as normale bloeddruk- en cholesterolvlakke te handhaaf. Probeer om jou bloeddruk onder 130/85 en jou cholesterolvlak onder 5 te hou.

    Oefening

    Oefening is een van die belangrikste aspekte van jou selfsorgbenadering. Dit maak jou spiere sensitief vir insulien, wat jou liggaam se vermoë verbeter om suiker te metaboliseer. Oefening help ook om jou gewig te beheer en verlaag jou risiko vir hartsiekte, wat baie belangrik is vir mense met diabetes.

    Verloor gewig, eet reg

    Doen alles in jou vermoë om te verslank as jy oorgewig is. Vier uit vyf mense met tipe 2-diabetes is oorgewig, en jy sal die toestand beslis beter kan beheer en selfs minder medikasie nodig hê indien jy gewig verloor. Verminder jou energie-inname en volg die bes moontlike laevetdieet. Eet ’n matige hoeveelheid lae GI-koolhidrate. Voeg vesel by jou dieet in die vorm van peulgewasse, graanprodukte en vars vrugte en groente, aangesien dit kan help om jou bloedsuiker te beheer. Dit is ’n goeie idee om ’n dieetkundige te besoek, maar nog beter as ’n hele span kundiges – met inbegrip van ’n dokter, dieetkundige en oefenkundige – ’n holistiese program vir jou kan saamstel.

    Beheer depressie

    Diabete se kans om aan depressie te ly, is twee keer groter as dié van nie­diabete. Hoewel ons nie heeltemal verstaan waarom dit so is nie, is dit belangrik om jou dokter te gaan spreek indien jy vermoed dat jy depressief is. Jy sal moontlik ’n tyd lank voorligting, psigoterapie en antidepressante nodig hê. As jy depressief voel, sal jy baie minder gemotiveerd wees om getrou jou eet- en oefenprogram te volg, wat op lang termyn belangrik is vir jou gesondheid.

    Siftingstoetse

    Die belangrikste gereelde siftingstoetse vir diabete is:

    •Selfmonitering van bloedsuikervlak

    •Monitering van jou HbA1C (’n aanduiding van langtermynsuikerbeheer) deur jou dokter

    •Voetondersoeke met die oog op seerplekke en ulkusse

    •Oogtoetse

    •Bloedlipiede (cholesterol, HDL en LDL)

    •Bloeddruk

    ANDER MOONTLIKE STRATEGIEË

    Statiene

    Baie dokters skryf statiene voor vir dia­bete, selfs al is hul cholesterolvlak nie hoog nie. Statiene is cholesterolverlagende middels wat ook inflammasie van en skade aan die binnewande van slagare verminder en sodoende die gevaar van beroertes en hartaanvalle beveg. Statiene verhoog die goeie cholesterol bekend as HDL (hoëdigtheidslipoproteïen). Volgens dr. David Sullivan, medeprofessor aan die Royal Prince Alfred-hospitaal in Syd­ney, Australië, help dit ook om ontslae te raak van ander stowwe wat die aarwande kan beskadig. Die vyf jaar lange JUPITER-navorsingsprojek, waarvan die resultate in 2009 tydens die Amerikaanse hartvereniging se konferensie voorgelê is, het getoon dat hartaanvalle, beroertes en hartomleidingsoperasies met die helfte verminder het onder mense wat gereeld statiene gebruik.

    Chroomaanvullings

    Almal stem nie saam hieroor nie, maar sommige toetse toon dat mense met dia­betes dalk laer chroomvlakke in hul bloed het. Jou liggaam het moontlik chroom nodig om op insulien te reageer. Dit is soms moeilik om genoeg chroom uit jou dieet in te neem. Gebruik dus ’n multivitamien wat die aanbevole hoeveelheid chroom bevat: 50-200 mikro­gram per dag.

    Alfa-lipoësuur

    Hoewel navorsing oor aanvullings teenstrydige resultate toon, is daar wel bewyse dat alfa-lipoësuur, die ko-faktor in die produksie van energie uit glukose in die selle, kan help om te voorkom dat selle insulienweerstandig word. Die aanbevole voorkomende dosis is 100 mg per dag en vir diabete moontlik 400 mg per dag. Raadpleeg asseblief eers jou dokter voordat jy dit gebruik.

    Vitamien C en die B-vitamiene

    Hierdie vitamiene word ook aanbeveel, hoewel daar geen afdoende bewyse vir die gebruik daarvan bestaan nie.

    Alternatiewe terapieë

    Hoofstroomdokters verwerp die meeste alternatiewe terapieë. Wees versigtig wanneer jy kruie- en natuurlike geneesmiddels gebruik, aangesien dit met jou insulien of mondelikse hipogluke­miese agense kan inmeng. Daar is egter geen rede waarom jy nie refleksologie­terapie of ’n ontspanningstegniek kan probeer nie.

    INSULIENWEERSTANDIGHEID

    Dit beteken dat jou selle nie meer op insulien kan reageer nie, met die gevolg dat glukose nie uit die bloed na die selle vervoer word nie. Dit laat die bloedglukosevlakke styg en die glukose begin die bloedvate, senuwees en pankreas vergiftig. Al is jy net 8-10 kg oorgewig, kan dit jou insulienweerstandig maak.

    ’n Interessante en uiters belangrike faktor is dat mense wie se liggaamsvet hoofsaaklik om die middel gekonsentreer is, ’n groter kans het om insulienweerstandigheid te ontwikkel. Vet rondom die sitvlak en dye veroorsaak blykbaar minder probleme, maar enige ekstra vet kan daartoe bydra. Moet asseblief nie lol met kitsdiëte, dieetfoefies of enige ander metode om vinnig gewig te verloor nie. Dit veroorsaak voedingstekorte wat tot die verlies van been- en spiermassa lei. Dit vertraag ook jou metabolisme en maak dit nog moeiliker om gewig te verloor of jou gewig te beheer.

    Eet klein porsies voedsel van hoë gehalte, soos laevet-lae-GI-kosse, proteïen, groente en peulgewasse. Saam met gereelde oefening behoort dit jou in staat te stel om stadig maar seker gewig te verloor. Al verloor jy net vyf kilogram, kan dit genoeg wees om te voorkom dat jy diabetes ontwikkel.

    PREDIABETES

    Prediabetes is wanneer iemand se bloedglukosevlakke hoër as normaal is, maar nie hoog genoeg vir ’n diagnose van tipe 2-diabetes nie. Afgesien van die 18,2 miljoen Amerikaners wat diabetes het, ly 41 miljoen aan prediabetes. Ons het nie akkurate syfers vir Suid-Afrika nie. Onlangse navorsing dui daarop dat prediabetes reeds ’n mate van langtermynskade aan die liggaam veroorsaak.

    Navorsing het ook getoon dat jy die ontwikkeling van tipe 2-diabetes kan vertraag en selfs kan voorkom deur jou bloedglukosevlak aktief te beheer in die prediabetiese stadium.

    Die middel metformien (Glucophage) bied bykomende beskerming vir mense met prediabetiese bloedglukosevlakke. Gesondheidsorgpraktisyns gebruik ’n vastende plasma-glukosetoleransietoets (FPG) of ’n mondelikse glukosetoleransietoets (OGTT) om te bepaal of iemand prediabeties is. Tydens ’n OGTT

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1