Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Brandwaterkom
Brandwaterkom
Brandwaterkom
Ebook467 pages7 hours

Brandwaterkom

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Bekroon met die derde prys in NB-Uitgewers se Groot Romanwedstryd. Esther van Emmenes het nie die bakkie hoor stilhou nie. Sy loop heeltemal ingedagte tussen die ou grafstene in die Fouriesburgse begraafplaas rond. Soekend. Sy is dikwels in die begraafplaas. Dit is waarom sy op dié Vrystaatse dorpie kom woon het, om naby die bronne vir haar navorsing te wees. Veral naby die Brandwaterkom te wees, want dit is waar kommandant Fanie Vilonel in die Anglo-Boereoorlog die oorgawe van meer as vierduisend Boerekrygers bemiddel het. Dis na sý spore dat sy soek, Vilonel s’n. Dan hoor Esther die bakkiedeur klap; sy kyk verskrik om. Deur die hek van die begraafplaas kom ’n man aangeloop. ’n Onbekende man. Hy sê hy wil haar iets wys wat vir haar navorsing baie sal beteken . . . Alexander Strachan se Brandwaterkom is ’n dubbelloop-roman: ’n bloedstollende oorlogsverhaal én ’n diepsnydende ondersoek na die verraderlike manier waarop verhale met ons op loop gaan. Met verbluffende vernuf trek Strachan albei snellers gelyk.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 16, 2015
ISBN9780624073376
Brandwaterkom
Author

Alexander Strachan

Alexander Strachan is op 9 Junie 1955 in die distrik Ladysmith in KwaZulu-Natal gebore. Hy matrikuleer in 1972 aan die Hoër Landbouskool Tweespruit. Ná studie in tale aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (en later in literatuur-wetenskap aan Unisa) word hy professor in Zoeloe aan die Universiteit van Zoeloeland. Ná sy bedanking skryf hy voltyds en sit sy wildboerdery voort. Alexander is ’n vlot Zoeloespreker en hou hom deeltyds besig met industriële teater wat hy volledig via die medium van die inheemse tale aanbied. Alexander se debuutbundel kortverhale, ’n Wêreld sonder grense (1984), is met die Eugène Marais-prys bekroon. ’n Wêreld sonder grense maak saam met die werk van ander skrywers (soos JC Steyn, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo) deel uit van grensliteratuur. Daarna verskyn die romans Die jakkalsjagter (1990) en Die werfbobbejaan (1994). Hiermee wen hy De Kat en Antenne se Groot Romanwedstryd, en vir laasgenoemde word hy bekroon met die WA Hofmeyr-prys. Met sy derde roman, Dwaalpoort (2010), wen hy wéér die W.A. Hofmeyr-prys. In 2015 verskyn sy mees onlangse werk, Brandwaterkom.

Read more from Alexander Strachan

Related to Brandwaterkom

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Brandwaterkom

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Brandwaterkom - Alexander Strachan

    Opgedra aan Roy Herman Vermaak

    HOOFSTUK 1

    S.G. Vilonel steek die hempspante versigtig in sy broek en maak die knope vas. Die skoongewaste klere voel lekker teen sy vel. Elke kledingstuk is ná die was met water uit ’n ander emmer uitgespoel en lank in die son gehang. Hy wikkel sy skouers onder die materiaal en asem die vars reuk in. Net vaagweg die aanduiding van seep, glad nie hinderlik nie. Hy gaan sit op die kampstoeltjie om sy stewels aan te trek – dié het hy gisteraand al poleer. Hy trek die veters vas. Vilonel staan op en loop tot voor die spieël. Hy vat-vat eers aan die sakhorlosie se ketting wat aan sy onderbaadjie vas is. Heel laaste sit hy sy helmet op.

    Die oggend van 29 Julie 1900 ry die burgers van Marthinus Prinsloo drupsgewys na die Britse laer toe. Soos hulle die hoogte naby Fouriesburg nader, word hulle beveel om vier-vier te ry. Die doel is om geweer, perd, saal, toom en al die patrone in hul besit aan die vyand te oorhandig.

    Sowat 200 tree van die Engelse kamp wag ’n kordon gewapende soldate hulle in. Toe hulle die kordon binnegaan, moet hulle twee-twee ry en links en regs hul geweers aan die Britse offisiers oorhandig. Hierna sluit hulle weer by mekaar aan en ry die kamp vier-vier in.

    Halt! roep die Engelse offisier toe die agterhoede die kamp binnekom. Die geweerlose burgers word beveel om ’n ry te vorm, af te styg en met hul bondeltjies voor hul perde te gaan staan. As hulle wil sit, is dit ook maar reg; niemand gaan op hierdie oomblik eksepsie aanteken nie.

    Twee offisiers met hul manskappe kom na die burgers toe aangestap. Hulle loop van perd tot perd, maak die bek oop en bekyk goed hoe oud die perd is en hoe sterk hy gebou is. As hy na hul oordeel goed is, word daar gesê Good for service en as hy minder goed is, Good for transport.

    Dan word die perd uit die ry getrek en met saal, toom en al weggelei. Met groot geduld word die perde op hierdie wyse deurgegaan totdat al die diere buite sig agter die tente verdwyn het. Nadat die perd van sy ruiter af weggeneem is en niemand die diere meer kon sien nie, merk ’n jong burger, Japie Krynauw, op: Ons lyk nou soos ’n klomp aasvoëls wat op ’n murasie sit en rondkyk waar die aas is. Die enigste besittings wat die burgers ná al die maande in die veld oorhou, is die klein bondeltjies met hul persoonlike goed.

    Al is dit nog Julie, het die Augustuswinde reeds begin waai. Dik stofwolke meng met die rook van die grasbrande teen die hange van die Rooiberge. Dit keer die son weg van die duisende waens, rytuie, beeste en skape wat in die Brandwaterkom langs die pad saamgehok is. In beheer hiervan staan Marthinus Prinsloo wat nou met 4 300 man aan generaal Hunter oorgee.

    Almal het so verslae en verlore daar uitgesien, vertel Japie Krynauw later. Dit was vir hom kompleet soos ’n leeu wat hom boeglam in die slagyster gespook het en nou die stryd opgegee het soos ’n lam gelei ter slagting – die knieë en hande het slap geword.

    HOOFSTUK 2

    Die Vrystaatse dorpie, Senekal, was die plek waar ek die duidelikste spoor van S.G. Vilonel sou kry. Dit het ek al met my verhuising na die Brandwaterkom toe besef. Al het die navorsingspook my toe nog nie so erg as later beetgehad nie.

    Ek was van ánder dinge bewus. Ek gaan Bloemfontein mis, het ek my buurvrou in die woonstelblok gegroet. Dit tref mens seker nie dadelik nie, maar jy raak tog afhanklik van die geselskap in die stad.

    Hou kontak, Esther.

    Ek het op die punt gestaan om ’n gebied te betree wat vir my nog heeltemal vreemd was. Om my in te grawe, het ek vooraf heelwat nagelees oor die Brandwaterkom. In die proses het name waarvan ek nooit bewus was nie, ’n lêplek in my kop gekry.

    Die bergkom het sy eie voorvaders en afstammelinge gehad. Lank terug was dit die tuiste van mense met kleurryke name: Leeuboud van Niekerk, Ryk Lewies Fourie en Catharina Venter van die holkrans.

    Met my vertrek uit Bloemfontein het my lippe en tong Brandwaterkom al so baie gevorm dat dit met my aankoms gemaklik in my mond gelê het. Byna asof dit nog altyd deel van my woordeskat was – die bergkom waar S.G. Vilonel sy grootste skuif gemaak het, was nou mý tuiste.

    Toe ek hier opdaag, was ek nog net in die voorlopige stadium van my navorsing. Dit was nie naastenby so intens as wat dit mettertyd sou raak nie. As ek terugdink, was dié man se teenwoordigheid in die gebied sekerlik die grootste aansporing om die doseerpos in die berge te aanvaar.

    Destyds het ek die Brandwaterkom deur Naauwpoortnek binnegekom. Ek het die ruit laat sak om die omgewing te kan ruik. Eers net die een, toe die ander een ook sodat die wind regdeur die kajuit waai. Aan die een kant was ’n rotswand; aan die ander kant die steil berghang. Dit was juis die alledaagsheid van my betreding wat my sou bybly. Daardie smal toegangsnek waarop Boer én Brit ’n eeu gelede ten alle koste beslag wou lê.

    Dit was my heel eerste besoek aan die kom. Was dit ’n beskermde hawe of ’n vangkuil? Ten spyte van al die afwagting het ek geen besondere opwelling van gevoel ervaar toe ek dit binnery nie. Dit het net gebeur. Voor ek mooi kon besef, was ek binne-in die bergkom.

    Die dorpie voor my in die laagte het my aan Switserland laat dink – soos die brosjure voorspel het. Dalk was dít my ervaring, die boheemse gevoel dat ek skielik nie heeltemal deel van Suid-Afrika was nie.

    Clarens was die dorpie waar my departementshoof voorgestel het ek vir my ’n blyplek moes vind. Hiervandaan kon ek dan daagliks met die slingerpaadjie deur die berge na die Qwaqwa-kampus pendel. Maar ek het eers my eie waarnemings gemaak voor ek ’n besluit geneem het.

    Die omgewing self sou vir die duur van my studie enigmaties bly. Almal in die kom was omsingel deur berge en op ’n manier vasgevang. Tog het dit nooit gelyk of iemand ’n gevoel van ingehoktheid ervaar nie.

    Was dit juis dít wat die bergkom bedrieglik gemaak het?

    Ek het dikwels deur my verkyker oor die vallei gekyk. Het mens vryheid ervaar omdat die dimensies so onpeilbaar was? Oral uit die berghange het daar tentakels na jou toe aangekruip gekom. Lang arms waarop die mos geil groei. Of harige spinnekoppote wat stadig vorentoe stoot? As my skouers lam geword het, het ek op ’n sandsteenrots gaan sit met my elmboë op my knieë gestut. Elke keer ’n nuwe kloof of oorhangkrans wat die vorige een wou herhaal.

    ’n Lewende, vroulike organisme, het ek besluit. ’n Oerkrag wat haarself om elke onverwagte draai bly voortplant het totdat selfs die kleinste holkrans uiteindelik haar eie vingerafdruk gekry het.

    J.J.F. Steyn en Julia Venter se vertellings het my ingelei in die vroeëre generasies wat die vallei bewoon het. Partykeer het ek wel nog na die kaart van die Brandwaterkom gekyk wat ek voor my koms so in besonderhede bestudeer het. Daardie laaste week in Bloemfontein het ek die bergreeks met potlood ingekleur sodat dit uitstaan. Ek het dit oor en oor met my vinger nagetrek. ’n Kom ingehok deur die Rooiberge, Witteberge en Caledonrivier.

    Selfs as ek my oë toemaak, kon ek my naderhand die vorm daarvan verbeel. Nie iets waarvan jy die lyne sonder meer kon vaslê nie. Soos ’n skulp, of ’n holte wat jy in jou hand sou probeer toevou. Dalk die gevoelige oor van ’n wildsbok? Iets wat na willekeur van vorm kon verander. Lewend, maar stadig en tydloos soos ’n amoeba. By my lessenaar het my vinger oor die instulping tot in die hart van die kom beweeg. Dan het dit meer soos ’n baarmoeder gelyk.

    Daar was beslis ’n stilte in die kom. Maar wat presies het mens in die stilte gehoor? Dis waarop my oor ingestel was. Wat wou die kom vir my sê? Net ’n veraf geruis, ’n ligte wind of dalk die fluistering van verraad?

    HOOFSTUK 3

    Om helder te kan sien, moet jy fyn in die verlede in kan kyk en jou oog skerp op die toekoms instel. Dis hoe ek wat Catharina Venter is, nog altoos sê.

    Neem nou maar hierdie jongvrou van Bloemfontein. Sy stap oral hier in die klowe rond en staan en krap in die as van ons grotvure. Dis wat sy hier kry wat vir haar die pad vorentoe wys, elke keer. En waarheen is dit? Druipstert na daardie prokureur Vilonel toe. Baie keer as ek haar so op ’n afstand sit en betrag, dan dink ek: Hierdie stadsnooi wil haar toekoms sowaar in die verlede gaan kry.

    Hier vanuit die kranse kan ek ver sien. Tot doer in die begraafplaas in. Daar sien ek haar ook. Kwansuis om my skoonvader se graf te soek. Nie dat sy hom gaan kry nie, nee dit sil nie gebeur nie. W.D. Venter is die naam. Maar daardie kerkhof gaan wel vir haar iets beteken. Dis nie om dowe neute nie.

    As ek my voorgevoel reg lees, is dit juis daar waar die nooi van Bloemfontein haar in die vreemdeling gaat vasloop. Wat sy nering is, wis ek nie. Nog minder wat hy op haar pad gaan bring.

    Sy sal nog so tussen die grafte deur drentel, dan staat die man opeens reg langs haar. Nee, sy sal nie van hom weet nie, eers as hy kug, sal sy omkyk en hom gewaar. Beslis nie die heer Vilonel nie.

    Dit gaan iemand uit die hedendaagse wêreld wees wat sy eie planne met haar smee. ’n Belese vrou is sy gewis. Tog het ek my bedenkinge of sy deur sy slenter gaat sien. Ek is selwers dan nog aan’t raaie.

    HOOFSTUK 4

    Enkele maande voor 11 Oktober 1899, die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, is Vilonel ’n bedrywige man. Die wit langmouhemp, onderbaadjie, das en kruisbande help nie juis om die hitte draagliker te maak nie. Sy baadjie hang aan ’n houthanger agter die deur.

    Tyd? Hy lig die kettinghorlosie aan sy onderbaadjie. Eenuur, volgens die silwer-Waltham, ’n geskenk van die krieketklub vir sy ontwikkeling van dié uitheemse sport op Senekal. Sy voorkop is effens klam en hy druk met sy sakdoek daarteen; buite in die stofstraat is dit selfs nog warmer.

    Sy klante meld een vir een volgens afspraak aan.

    Al is dit hoogdag, is dit halfskemer in die kantoor. Die hortjies laat min lig in. Oorlogspraatjies. In die strate, die hotel en voor die kerk. ’n Mens kan jou nie doof hou daarvoor nie, dit volg jou oral. Daarom sukkel hy om sy aandag by sy werk te hou. Die klagtes waarmee die mense by hom aankom, lyk vir hom in hierdie dae ook al hoe onbenulliger.

    Die Brandsiekwet, oom Lelik Piet. Jou bure móét hul skaap dip; dis hoe die wet sê. Kant en klaar. Vroegdag was dit al bedompig, asof daar iets aan’t woel is. Behalwe die boer se voorkop wat deur die hoed se rand beskerm word, is hy bruin gebrand en wrewelrig oor die velsiekte wat onder sy skaaptrop kom kop uitsteek. Ek sal die bure verwittig, sê Vilonel en staan op. Dis die einde van die diskussie. Toe oom Lelik Piet uitloop, bly hy in die kantoorlug agter – sweet en plaas en beneuktheid.

    Op Vilonel se lessenaar lê pakke papier: ’n onenigheid oor weiding, grensdrade en kooptransaksies wat skeefgeloop het. Agterstallige huurgeld. Hekke wat kwaadwillig oopgelos word. Of is dit net agtelosigheid? Die getwis tussen die boere sal nooit ophou nie. Daarom het hy die praktyk. Transportaktes is minder werk en meer lonend. Maar laat hy nou nie met die witbrood onder die arm staan en kla nie. Die jaar het hom tot dusver skaflik behandel.

    Hy kyk in sy dagboek – die springbok se vel waarmee dit oorgetrek is, het hy nog naby Victoria-Wes op Daantjie Black se plaas geskiet. Daar in die bossieveld waar die ramme so pronkerig uitgroei. Tik-tik op die lessenaar met sy middelvinger, tik-tik. Hy is nie net by sy kantoor betrokke nie. Senekal se veldkornetskap val in die Winburg-distrik.

    Maar die volgende klant is reeds voor die deur.

    Daar het ’n nuwe mark geopen, adviseer Vilonel. Die hitte wil steeds nie breek nie. Die man sit in stille afwagting voor hom. Hoekom meen jy het mister Clarke nou net ’n rasegte herefordbul teen ’n duisend pond ingevoer? Moenie op trekdiere allenig peiltrek nie; slagvee is die toekoms.

    Sy laaste klant vir die dag is ’n nuwe intrekker op Senekal. Hy het sy plaas in die Suid-Vrystaat verloor en verlang nou om sy vee hier op die dorpsweiveld aan te hou. ’n Koppige man, klink dit; al sien hy daar armlik uit. Eintlik is dit net die bars kyk in sy oë wat hom nog staande hou. Vilonel takseer die man ’n wyle in stilte. Hier gaan staan en kyk die vent hom wrintiewaar aan asof hy hom ’n oorkonkel wil gee.

    Dis reg so, as jy ’n eienaar of bewoner van een of meer dorpserwe is, mag jy vyf-en-twintig stuks grootvee en veertig stuks kleinvee aanhou, verduidelik hy die prosedure vir die tweede keer.

    Maar oom Koot Willemse hou dan dubbel soveel aan. Is dit regverdig? Hoekom word algar nie oor dieselfde kam geskeer nie?

    Luister nou mooi vir my. Dit is twee verskillende sake. As slagter het Willemse ’n liksens; daarom is hy geregtig op baie meer. Net so is daar spesiale permissie vir transportryers en persone wat met vee trek.

    Vilonel stoot sy stoel terug en kyk weer op sy horlosie. Eintlik het die man nou net sy tyd kom mors. Die afspraak het langsamer gegaan as wat hy voorsien het. Hy voel half vieserig oor die hele affêre. Nodeloos. Dan is dit asof hy opeens ’n stemmetjie hoor fluister. So wrintig, hoor hy reg? Hoe kan hy nou gaan toelaat dat persoonlike gevoelens in die pad van ’n saketransaksie staan? So by tweede denke lyk die saak sommer heel anders. Laat die man gerus met ál sy oorblywende vee hier opdaag – elke enkele bees en skaap.

    Dis dalk net sy kans om skoonskip te maak! Kontant – dit is wat hy die man aanstons gaan aanbied om hom te verlos van sy grasprobleem. Moet hom nou nie voortydig in sy hardkoppigheid loop stuit nie. As hy dan nou steeds nog met te veel vee hier aangesit wil kom, goed dan só. Los hom, laat hy hom selwers hier kom vasloop. Hier het nou ’n kans gekom om groot te skep. Wragtag, mens moet maar altyd wawyd wakker loop deur die lewe. ’n Geleentheid lê dikwels waar jy hom die minste verwag; Vilonel vryf met sy duim en wysvinger oor sy ken onderwyl hy deur die venster kyk.

    Hy moet juis tyd inruim om ’n draai op De Rust te maak. Sy plaas is goeie ranteveld met vlaktes en valleie. Angorabokke? Hy is nie so seker daarvan nie. Bees en skaap is tog bekender. Hy sal daardie wit angorabok nog eers ’n slag moet oordink, al vertel almal deesdae hoe goed hulle in die ranteveld aard.

    Terwyl hy opstaan, is daar onverwags stemme in die voorportaal. Juffrou Du Toit Luttig, vergesel van haar vader. Eers wil Vilonel hulle vriendelik wegwys, maar daar is tog ’n potloodinskrywing in die dagboek.

    Haar familie gaan Kaap toe versit en die testamente en verblyfreg moet in orde gekry word. Die trekkery het heelwat regsimplikasies vir die gesin. Die saak is skynbaar reeds deeglik by die huis uitgepluis, want juffrou Du Toit Luttig gee kwalik aandag aan die gesprek. Sy laat haar vader al die praatwerk doen en kyk na die portrette en sertifikate teen die muur.

    ’n Goed versorgde nooi, aangetrek of sy Nagmaal toe gaan. Wanneer sy omdraai van die muur, maak haar oë kontak met Vilonel s’n. Sy kyk weg, maar nie dadelik nie. Haar vader maak of hy niks raakgesien het nie. Die dik bruin vlegsel is netjies op haar kop vasgesteek. Donker oë, rosige mond en ’n slank, oop nek. Toe sy op een van die stoele teen die muur gaan sit, is dit met haar leerskoene netjies langs mekaar.

    Vilonel loop saam met hulle voordeur toe en sluit dit agter hom. Juffrou Du Toit Luttig lyk nog glad nie haastig nie. So, dan kom ons volgende week die dokumente onderteken. Hier buite in die sonlig is sy meer spraaksaam. Sy glimlag. Dit was ’n plesier om met u sake te doen, mijnheer Vilonel.

    Hulle groet en terwyl sy so netjies en regop wegstap, verbeel Vilonel hom sy weet hy kyk haar agterna. Sy kyk nie een keer om nie, maar daar is gewis iets in daardie stap.

    Die dag is verby. Eintlik wil hy uitry De Rust toe om na sy perde te gaan kyk – aan dié is hy teder verknog. ’n Volbloed vra nog altyd heelwat meer aandag as ’n gewone veeperd. Met die jaar wat aanstap, lê November om die draai en dan sal die merries begin vul. Wie weet? Daar wag altemits ’n verrassing. Straks het daar al een of twee vullens aangekom. Dié gedagte neem sy aandag van die kantoor af, dit maak sy tred ligter.

    Aan die Rand is goud ontdek en al wat die Senekallers nog daarvan gesien het, is die stringe waens wat deur die dorp trek. Tot sestig op ’n dag! Dit is die meeste wat hulle al op een slag getel het. ’n Aardigheid. Tog word die lewe hier steeds deur die natuur voorgeskryf. Soms is dit warm en soms koud. Dis of daar ’n gelatenheid heers – die Voorsienigheid sal sorg.

    In 1883 en 1884 neem die boere klaend maar gedienstig genoeë met die Groot Droogte. Saad moet self ontkiem; besproeiing is menslike ingryping. Maar darem nie sonde nie. Sommige weier ook om die sprinkaanswerms uit te delg – dit is ’n plaag deur God gestuur. Hoe dan anders? Een boer neem nietemin die voortou en roei sestien swerms op sy plaas uit.

    Buite die dorp word ’n windmeul opgerig wat met gemak ’n krieketveld kan besproei. Die voorste kerkmense lig hul wenkbroue.

    God help dié wat hulself help. Dit is hoe Vilonel onvermoeid die woord op die streeksrade voer.

    Met Nagmaal kom bly die ryk boere in hul dorpshuise terwyl die ander op die kerkplein kamp. Tussen die tente is die jolytmakery. Dit voel eerder soos iets tussen ’n kerkbasaar en boeresport. Hygend hert, van die jongmense vergeet heeltemal dat hulle hier is vir geloofsake! Kattemaai? As jy ooit die kat in die donker wou knyp, is daar nie ’n beter kans as reg onder die predikant se neus nie.

    Die winkels maak vroeg oop en laat toe: saals, tooms, medisyne, veral die netjiese kissies Lennon-botteltjies, negosieware, materiaal en hoede. Heelwat sout, koljander, asyn, peper en meel. Die vroue moet beskuit bak en biltong maak vir die saalsakke.

    Sennett se winkel met sy lekker kuierstoep is die groot trekpleister. Oor ditjies en datjies word daar gesels. Dan is daar Hirshon wat al as die merchant prince van Senekal beskryf is – meubels en plaasimplemente. Om van C. Marcus se onderneming nie te praat nie; geen siel stap daar verby sonder om in te loer nie. Welkom, welkom! nooi hy die mense sommer van die straat af in.

    In die feestelikheid steek die boere die hand dieper as gewoonlik in die sak. Geen huisdraklere is te siene nie; die vroue het almal hul beste tabberds aan wat dae voor die okkasie al geruim of ingekort is. ’n Oor-en-weer-gekuier in die dorpstrate met almal wat strykdeur in mekaar bly vasloop. My mintag, wat is my verbasing groot! Met dié geterg gaan die mans wat mekaar lanklaas gesien het, gou-gou loer of die perde voer het. Maar hulle gaan nie by die latrine in nie. Nee wat, dis net ’n verskoning om kroeg toe te glip vir ’n sopie jenewer. Dan keer hulle met ’n pienk ouderlingpilletjie onder die tong terug.

    Senekal had al drie dranklisensies. Maar die sedebewakers se neuse is skerp. ’n Mens kan dinge darem nou nie te ver gaan staan en druk nie. Drankgebruik is een van die sondes wat aan meer as een inwoner krap. Die jongmense en die laataanddanse by die South Africa Hotel!

    Vilonel het hom nog altyd verstom aan die oorgawe waarmee mense in hierdie dorpie op dinge gereageer het. In 1882 het sestig mense spontaan ’n eed gesweer om nie ’n druppel sterke drank oor hul lippe te neem nie. So help my God! Nou is dit weer dieselfde gramskap oor die jongmense. Waar is mijnheer Schreiner en mevrouw Stuart nou om die spul attent te maak op die brassery?

    En dit tydens Nagmaalweek. Die duiwel is listig en versoek alle mense. Weet dit nou gewis, van kroeg tot kerk, sleep Satan sy vlerk.

    Van dié praatjies weet Sarel Breedt min. Hy vorder nie veel verder as die armdruk-tafel nie. Hier is hy in sy domein. Sweet pêrel op sy dik bolip terwyl hy die een jongman ná die ander se voorarm plat druk.

    Volgende! grinnik hy.

    Niemand sien regtig meer kans nie. Die pret lê vir Sarel Breedt nie in die oorwinning nie; dit lê in die marteling wat hy toedien. As hy jou eenmaal in sy greep het, weet hy hoe om jou gal te werk.

    Hoe lyk dit oom Lelik Piet? terg die omstanders.

    Ek maak my nie bespotlik nie! vervies hy hom.

    Breedt se vrou, Gertruida, staan by die vroue. Die Sarel darem, maar ek sal lieg as ek sê dat hy al ’n hand teen my gelig het.

    Op sedelike gebied gaan dit nog redelik goed. So meen die bewakers. Daar is konserte met vioolspel, sang en voordrag – ofskoon dit nie alles so stigtelik gegaan het soos die oueres dit wou sien nie. In die komende jare gaan die bewakers selfs nog bedrywiger word; hulle weet dit nog net nie. Doomnies Paul Roux sou hom weldra uitspreek oor ’n hele paar sondes. In die toekoms gaan die Sewende Gebod stellig ’n dringende diskoers noodsaak.

    Net laas jaar nog het hy die gemeente, sonder om doekies om te draai, oor lui gewoontes voor stok gekry. Ledige huisvroue wat nie die minste ag op hul huishoudings gee nie. ’n Preek wat ’n byna ongelooflike uitwerking op die trae hande en slappe knieë gehad het. Ook die mans het onder sy tong deurgeloop. Binne ’n korte tyd was daar geen stukkende dak meer op ’n huis te kry nie en geen vurk wat nie blink geskuur was nie.

    Die voorgenome spoorlyn bly egter vir party Senekallers ’n euwel omdat dit ongewenste vreemdelinge na die dorpie sal lok. En hoe gemaak met onse trekosse en perde? murmureer die boere. Pryse gaan oornag tot minder as ’n duit val! Net soos dit is, trek algar reeds noustrop.

    Ewenwel kan die spoorlyn addisionele belasting op hulle afdwing. ’n Oor-en-weer-stryery op vergaderings waarin ’n oom van tagtig dreig om te skiet op wie ook al die Spoorwegwetgewing sou goedkeur. Mark my words, sê hy op Engels sodat sy dreigement meer gewig dra.

    Toe die spoorlyn ná baie beraadslaging uiteindelik op ’n ander roete gebou word, is die boere oudergewoonte kwaad vir die Volksraad. Die Witwatersrandse mark? Waarheen dan nou? Vilonel het mos gesê boerderyprodukte kan per spoor sneller anderkant uitkom as met trekosse. Kyk nou net waar sit hulle ná al die dwarstrekkery.

    En koop by jou eige mense!

    Die gemeenskap bly agterdogtig jeens smouse. Het die Volksraad dan nie self ’n verbod ingestel op die migrasie van Indiërs nie? Hulle gaan verkoop derderangse graan in die Transvaal en vertel dat dit van die Vrystaat kom. Wat ’n vermetelheid! Die wolboere het ook ’n dringende kwessie op hande. Op die uitvoermark word hul wol gemerk as afkomstig uit die Kaap of Natal, onderwyl die swakke wol as Vrystaatse wol verkwansel word. Nee, die swendelary wat so kop uitsteek, gee hul kontrei ’n slegte naam.

    Op enkele uitsonderings na bring die boere tog langsamerhand die kloutjie by die oor rakende die Brandsiekwet. Hulle dip hul skaap meer gereeld. Dit is weer Vilonel wat die woord voer. Voorsorg is tog beter as nasorg! Punt vir punt sit hy die regsaspekte vir hulle op die vergaderings uiteen. Wie ken die saak beter? Is hy dan nie ’n boer wat met tye al selwers die ploegstert vasgehou het nie? Sy grappie hou hy vir die afsluiting van die diskussie. Regskoste en prokureurs word teenswoordig al hoe duurder. Só, gaan prosedeer gerus maar jou buurman oor ’n baadjie en hou jou broek vir die hofonkoste!

    En naamgewing en verenigings – die Senekallers is nou eenmaal vol draadwerk hieroor. Nie droogte of reën sal dié neiging uit hulle uitkry nie. Sodra daar ’n kwessie opduik, stig hulle ’n organisasie. Byna of die skep en samestelling van ’n raad goedgemaak het vir die min geselskap op die platteland. Dit klink ook meer vernaam as die vereniging boonop ’n Ingelse naam het. Die Wool Improvement Society word terstond in die lewe geroep om veral die moontlikheid te ondersoek dat kruisteling van skape ’n beter gehalte wol kan produseer.

    Dit alles beteken meer papierwerk en inkomste vir Vilonel – ’n vereniging wat nie behoorlik op skrif genoteer is nie, is nie ’n erkende vereniging nie. Ná elke stigtingsvergadering maak die pas verkose voorsitter eers ’n draai by die regsman se kantoor om sy organisasie amptelik verklaar te kry. Só kry hy terselfdertyd iets om oor terug te rapporteer by die volgende sitting.

    HOOFSTUK 5

    In 1896 is jongeheer S.G. Vilonel dertig en baie gewild by Senekal se jongvroue. Almal skyn bewus te wees van die loslopende prokureur op die dorp wat oral in die Vrystaatse howe optree en so ver die oog kan sien, nog nie ’n voet verkeerd gesit het nie.

    Dit sou dan ook die jaar wees waarin daar twee ingrypende dinge gebeur het wat vir die res van sy lewe vir hom sou uitstaan: sy kennismaking met miss L. Sutty en sy huwelik in die lente van dieselfde jaar.

    Hoewel hy miss Sutty in die verbyry Sondae voor die Engelse kerkie opmerk en ook op die perderesiesbaan kort geselsies met haar aanknoop, het niks hom voorberei op die dans in die South Africa Hotel nie. Miskien het dit deels te make gehad met die kortstondigheid van alles. Die aand toe hy skielik los gestaan het van sy prokureurspraktyk, De Rust, Senekal se dorpsraad, die kerk, sy klante, die skyfskietbaan en ook van homself.

    Reeds toe hy die saal instap, was daar iets in die lug. Die vioolmusiek op die agtergrond, die deftige kleding, die gedekte tafels met kerse en die bolvormige glasies met skuimwyn het alles bygedra tot die betowering van wat andersins ’n gewone aand sou wees. ’n Charity Ball, ’n gala-aand, hierdie uithanggeleentheid op spesiale uitnodiging. The pleasure of your company is requested for dinner and dancing. RSVP. Ball Gown & Black Tie.

    Sy was lig soos ’n veertjie aan sy arm. Sutty, ’n ou Skotse van, het hy begin aanvoor. Iewers moet ’n man darem begin. Miss Louise Sutty? het hy haar naam geraai. Laura? Leslie?

    Oh, mister Vilonel, you shouldn’t, you know? Daar was ’n guitige klank in haar stem wat hom weer laat raai het.

    Leah? Lilybet? Nee, laat hy weer probeer. Lyonesse – leeutjie?

    But, mister Vilonel … Hulle ken mekaar dan nog kwalik; en ver van goed genoeg om mekaar sommer nou al op die voornaam aan te spreek.

    Seker een van daardie mooi ou Keltiese name, het hy haar nietemin later die aand steeds openlik gevlei. Vilonel is beïndruk. Bespeel sy regtig die piano sonder die bladmusiek voor haar en kan sy vrylik uit die poetry aanhaal?

    Miss Sutty het op Eunice in Bloemfontein skoolgegaan, verneem Vilonel oor die vloer tussen die systappe deur. Daarna die finishing school in die Kaap. Dis waar sy die passe van die ingewikkelde danse onder die knie gekry het. Goddank is die tyd van wye hoepelrokke verby, sy is hier téén hom wanneer hulle wals. Sy doen dit so grasieus, so natuurlik, haar rug by tye ver agteroor gebuig, terwyl Vilonel een-twee-drie in sy agterkop wanneer hy bang is hy verloor die maat.

    Maar sy was nie allenig by die dans nie. In die hoek op ’n stoel het haar moeder toegekyk dat sy nie openlik met die jongeheer Vilonel flirt nie. Gelukkig was daar baie dansers tussen haar en die swaaiende paartjie. Miss Sutty stuur haar boodskap vir Vilonel met haar wimpers, haar heupe en haar kniebuiging wanneer die trompet die wals inlei. En dan die masurka – lang, vinnige treë en draai, lang, vinnige treë en draai.

    Vilonel se kop duisel, hoe anders is hierdie enetjie met die spierwit vel en auburn hare as die Boeredogters op die omringende plase. Sy kyk hom vas in die oë, haar voete volg elke beweging vanself terwyl hy haar so sekuur oor die dansbaan stuur. Wanneer sy draai, waag hy ’n blik na haar dun korsetmiddeltjie. Heeltyd ruik hy haar eau-de-cologne.

    Sal hy dit waag, haar fyn regterhand in syne ’n betekenisvolle drukkie gee, net om die water te toets? Hy skraap moed bymekaar, sy moet dit darem duidelik kan voel. Hy druk met die binnekant van sy duim. Daar werk dit tot sy verbasing onmiddellik, want hy sien die skewe glimlaggie om haar mondhoeke en sy trek nie weg nie.

    As hy nou saam met haar in die roostuin kon gaan wandel, sy hand liggies om haar middel om haar te ondersteun – vir eers. Maar daar sit haar dear beloved mother agter haar waaiertjie, piets-piets, haar twee koue oë dan diékant van die waaiertjie, dan daardie kant om deur die dansers die dogter in die oog te hou wat sy so streng na haar Victoriaanse hand geleer het. Surely, it is not appropriate for a young lady of proper upbringing to wander off with a young gentleman, piets-piets, even one who is regarded high society like our respected mister Vilonel, piets-piets, nes ’n beneukte leeuwyfie se stert.

    Did you fall in love with the young man that night at the Society Ball, miss Sutty? You seemed radiantly happy. Carefree, as if tomorrow did not exist. Antikloksgewys saam met die dansende pare verby die lokkende, koel bries voor die oop deur wat op die skemer stoep uitlei. Verbode terrein. Verby Bennett se Piano Sextet en die elegante digters van haar tyd.

    Come to me in my dreams, and then / By day I shall be well again! So in die dans fluister sy vir hom die digter se naam. Matthew Arnold.

    Miss Sutty kyk heeltyd op na Vilonel.

    Lass, terg hy haar om die draai en wanneer haar oë nogmaals saam met haar mond lag, Lassie, in haar oor. Nog ’n draai en nog ’n wilder een. Miss Sutty! lag hy uitbundig, want sy voete het die maatslag nou vanself gevind. Partykeer is sy los van hom in die draai en dan weer teen hom. ’n Oomblik rus haar kop teen sy skouer en haar hare is in sy gesig.

    Hy ruik iets eksoties, iets naas die reukwater, ’n geur wat hom nooit sou vrylaat nie. Linker- en regtervoet skuif vanself, sonder dink. Trompetgeskal terwyl die hele dansvloer in ’n beneweling verval. Paartjies sien nie meer ander paartjies raak nie. Niemand voel dit as iemand per ongeluk teen hulle stamp nie. Net in die hoek van die saal raak die leeuwyfie aamborstig soos haar stert in ’n onbeheerste tempo links en regs begin piets.

    In die weke ná die dans besoek Vilonel dikwels die South Africa Hotel. Keer die misdadiger dan nie altyd maar terug na die toneel van die misdaad nie? spot die prokureur met homself.

    Dit kan nie so ernstig wees nie. Tog kan hy die plek nie uit sy gedagte skuif nie. Die eerste paar dae is intens, veral die daaropvolgende Saterdagaand toe die herinneringe nog lewendiger word. Vilonel kan haar hare en die eau-de-cologne ruik. Hy bly haar styf ingebinde borsies voel waarvan hy heelaand gemaak onbewus was. Helaas, die saal wat daardie aand so vol belofte en afwagting was, is nou onherkenbaar leeg.

    Ná werk sit hy langsaan in die hotelkroeg. Die grootste deel van die geselskap hoor hy nouliks. Dis hoe jy jou pond verdubbel! Elkeen het ’n sakeplan op die hart. Lê wysheid dan nie in die fles nie! Selfs al kan nie een behoorlik koerant lees nie. Ondernemingsgees is nie in skrif opgesluit nie. ’n Boer maak mos ’n plan.

    Soos die wet vereis, is daar nie vroue in die kroeg nie. Senekal is immers nie een van die myngehugte waar besope flerries hoog skop om mans te behaag nie. In die loop van die aand ontstaan daar op vreemde wyse ’n broederskap tussen die manne. Kom kry maar gerus jou sit, neef. Hier sal die son vanaand nie oor jou allenig ondergaan nie! Inderdaad is daar ander saam met jou in die skaduwee van die kroeglig. Die drinkplek word ’n ontvlugting vir dié wat voel dat hulle op die een of ander manier daarbuite uitgesluit is.

    Daar is nie veel om van te kies nie. Vodka,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1