Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Recce: Kleinspan-operasies agter vyandelike linies
Recce: Kleinspan-operasies agter vyandelike linies
Recce: Kleinspan-operasies agter vyandelike linies
Ebook400 pages6 hours

Recce: Kleinspan-operasies agter vyandelike linies

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hulle is supersoldate wat hoogs geheime, lewensgevaarlike operasies diep in vyandelike gebiede aanpak... Die Recce's het nog altyd mense se verbeelding aangegryp, maar weens die sensitiewe aard van hul werk is daar min oor hierdie elite-eenhede van die Suid-Afrikaanse Weermag bekend. Nou vertel een van hulle van die naelbytaksie en dramatiese gebeure wat hy eerstehands in die Grensoorlog beleef het. Koos Stadler het in die vroeë 1980's die legendaries strawwe keuringsproses vir die Spesiale Magte geslaag. Kort daarna word hy deel van Kleinspanne, 'n gespesialiseerde groep wat slegs uit tweemanspanne bestaan het. Stadler en 'n makker word onder meer gestuur om treinspore in Angola te vernietig en op 'n ander keer om vyandelike vegvliegtuie op te blaas... Telkens staar hy die dood in die gesig. Die boek bied 'n onthullende blik op die lewe van 'n Recce en hul amper bomenslike fisieke en geestelike uithouvermoëns.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateAug 28, 2015
ISBN9780624069423
Recce: Kleinspan-operasies agter vyandelike linies
Author

Koos Stadler

Koos Stadler is 'n voormalige Recce met nege medaljes op sy kerfstok, waaronder die Honoris Crux (Brons) vir dapperheid en die gesogte Suiderkruis-medalje vir uitsonderlike diens. Stadler het as lid van die destydse 31 Bataljon se verkenningsvleuel vir drie jaar verskeie verkenningoperasies op vyandelike basisse uitgevoer. Daarna het hy Spesiale Magte-keuring gedoen met die uitsluitlike doel om by die spesialisverkenningspanne, oftewel Kleinspanne, aan te sluit. Vir vyf jaar het hy talle hoogs gespesialiseerde strategiese operasies diep agter vyandelike linies uitgevoer. Na sy operasionele loopbaan het hy verskeie bevel- en stafposte in Spesiale Magte beklee en uiteindelik militêre attaché in Saoedi-Arabië geword.

Related to Recce

Related ebooks

Related articles

Reviews for Recce

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Recce - Koos Stadler

    Koos Stadler

    Recce%20titel.jpg

    Kleinspan-operasies agter

    vyandelike linies

    Tafelberg

    Oor die uitleg

    Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Recce mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe.

    Opgedra aan my pa, Koos,

    wat ’n sin vir avontuur in my gekweek het, en

    aan my geliefde vrou, Karien,

    wat geen ander keuses gehad het as om elke

    krans saam met my uit te klouter nie.

    Skrywersnota

    EK HET HIERDIE BOEK geskryf om iets weer te gee van die wêreld waarin ek langer as tien jaar van my 24 jaar lange loopbaan in die Spesiale Magte geleef het – die relatief onbekende wêreld van die Kleinspan-operateur. Ek het daardie tien jaar in verkenning gespesialiseer, dit geleef, geëet en geslaap.

    Die ervaring wat ek tussen November 1978 en Desember 1981 in die verkenningsvleuel van 31 Bataljon (’n Boesmaneenheid in die destydse Caprivi, vandag die Zambezistreek) opgedoen het, het my karakter gevorm en my voorberei vir ’n loopbaan by 5 Verkenningsregiment. Daar het ek van 1984 tot 1989 as Kleinspanoperateur gedien. My latere loopbaan, sowel in die Spesiale Magte as elders, is gegrond op die streng kode en beginsels wat oor daardie tydperk gevestig is.

    Deur die jare het ek ’n passie vir die kuns van verkenning ontwikkel. By 31 Bataljon se verkenningsvleuel het ek met die geheimenisse van taktiese verkenning kennis gemaak. Daarna het ek die keuringproses vir die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte ondergaan. Toe kon ek uiteindelik my lewensdroom vervul om deel te word van Kleinspanne, oftewel die strategiese verken­nings­vermoë van die Verkenningsregimente, alombekend as die Recces. Dit is miskien nie algemeen bekend nie dat daar verskillende Recce-eenhede was, elk met ’n toegekende spesialis­veld. Min mense was ook bewus van die bestaan van die hoogs gespesialiseerde Kleinspanne en die buitengewone rol wat hulle in die Grensoorlog gespeel het. Destyds was daar wel talle wan­opvattinge oor die Spesiale Magte en het etlike gekke, opgemaakte stories oor die Recces die ronde gedoen.

    Hierdie boek is oor die bestek van twee dekades geskryf. Om so ’n akkurate prentjie as moontlik te skets, moes ek staatmaak op aantekeninge wat ek oor jare bygehou het, op my geheue, kollegas se herinneringe en beperkte dokumentasie. Deur my storie te vertel, hoop ek om lig te werp op sowel die konsep as die vermoëns van die spesialisverkenningspanne van die Spesiale Magte. Die boek probeer nie om ’n volledige geskiedenis van Kleinspanne te verskaf of om die fases te beskryf waardeur hierdie vermoë oor die jare ontwikkel is nie.

    Omdat dit ’n persoonlike verhaal is, kan ek slegs erkenning gee aan individue saam met wie ek ontplooi het. Dit is onmoontlik om die name van al die operateurs te noem wat met spesialisverkenning gemoeid was, maar ek gee graag erkenning aan die vaders van Kleinspanne in Suid-Afrika, individue soos Koos Moorcroft, Jack Greeff, Tony Vieira en Sam Fourie. Manne soos Homen de Gouveia en Justin Vermaak het uitstekende werk as Kleinspan-operateurs by 1 Verkenningsregiment gedoen. As ek enige Spesiale Magte-operateur uitgelaat het wat in sy loopbaan met verkenning gemoeid was, is dit bloot omdat ek nie die voorreg gehad het om saam met daardie persoon te ontplooi nie.

    Belangriker nog, omdat daar nog altyd ’n mate van professio­nele jaloesie tussen Kleinspanne en die offensiewe Spesmagte-­kommando’s was, wil ek dit onomwonde stel dat ek nog nooit aan hul vermoëns getwyfel het nie. Ek ontken ook nie hul uitsonderlike vernuf en uitmuntende prestasies in die bos nie. Inteendeel, ek was nog altyd beïndruk deur die vlak van professionaliteit wat talle Spesiale Magte-soldate openbaar het.

    Laastens is ek dankbaar dat ek iets van die lekkerkry en die swaarkry wat ek met my kollegas beleef het, kan deel. Ek is trots daarop om die unieke kode waarvolgens ons by 31 Bataljon se verkenningsvleuel en 54 Kommando geleef het, sowel as die band van wedersydse respek wat ons aan mekaar gebind het, in herinnering te roep.

    KOOS STADLER

    Lys van afkortings

    DEEL 1

    Durf en Daad

    ~

    We fear naught but God

    – 5 Verkenningsregiment se leuse as deel van die eenheid se erekode

    1

    Teiken

    GERUISLOOS en met berekende, stadige bewegings laat ek die rugsak van my rug glip en haal die eerste lading en twee buise met gom uit. Met geoefende vingers maak ek die gespes van die ander sakkies los en rangskik die res van die ladings só dat ek hulle maklik kan bykom. ’n Onverwagse kalmte kom oor my; ek is gereed vir die taak wat voorlê.

    Die vrees van voorheen is weg. Dit het plek gemaak vir ’n koue vasberadenheid. Diep binne my weet ek dat ek goed voor­bereid is en dat daar té veel op die spel is om nou te faal.

    Ek sit die sak weer op my rug en hang die AMD65¹ aan sy dubbel-draagband in die middel van my rug sodat dit nie my bewegings belemmer nie. Toe begin ek die MiG-21 bekruip, my pistool met knaldemper gespan en gereed in my regterhand, die lading in my linkerhand en my nagsigbril op my bors.

    Tien meter van die vliegtuig stop ek om deur die nagsigbril te kyk. Dit is stikdonker, soos ons gehoop het, maar dit verhinder ook dat ek onder die vliegtuig se romp kan sien. Selfs nie eens met die hulp van my flitsie se infrarooi ligstraal kan die nagsigbril die stikdonker kol onder die groot vliegtuig deur­dring nie.

    Om my is dit doodstil. Ek besef dat ek laer sal moet sak om beter te kan sien. Stadig en stil beweeg ek vorentoe om in die swart skaduwee van die vliegtuig te kom. Van daar behoort ek die romp beter teen die effens ligter agtergrond van die nag­hemel te kan sien. By die vlerk buk ek af om onder in te beweeg ...

    Toe, uit die stikdonker onder die vliegtuig, kraak ’n stem deur die nagstilte.

    Wie’s jy?

    Die stem is aarselend, asof deur vrees gedemp. Dan sterker, meer uitdagend:

    Wie is jy?

    En skaars drie meter van my klap die sluitstuk van ’n Kalash­nikov wat gespan word. Die geluid – vir my al oorbekend – is soos ’n geweerskoot in die nag. My ergste vrees het pas waar geword.

    Jare lank was dít my wêreld, die wêreld van die spesialisverken­ningspanne, oftewel Kleinspanne.

    Ek was ’n soldaat vir die grootste deel van my volwasse lewe. Wanneer ek vandag terugkyk, besef ek ek was bestem om ’n lid van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte, beter bekend as die Recces, te word – en om uiteindelik by die elite-Kleinspan-­groepering aan te sluit. Van my kinderdae af, toe ek kleinwild in die duine van die Kalahari bekruip het tot my eerste kennis­making met taktiese verkenning by 31 Bataljon se verkennings­vleuel, het ek geweet verkenning is die ding wat ek regtig wou doen.

    In die drie jaar by 31 Bataljon het ek die meeste van my tyd op taktiese verkenningstake agter vyandelike linies in die suide van Zambië en Angola bestee. Deur voortdurend op patrollie te wees en guerrillabasisse te bekruip, het ek my vermoëns in die bos geslyp totdat dit tweede natuur geword het. Daarna het ek die Spesiale Magte-keuring voltooi en my lewenslange droom verwesenlik om deel van hierdie elitegroep soldate te word. Steeds het ek egter bly hunker, want dit was nog nie my eindbestemming nie. ’n Volle jaar lank het ek met my weermagbase geworstel om my toe te laat om by die spesialisverkenningspanne – wat toe by 5 Verkenningsregiment op Phalaborwa ge­stasioneer was – aan te sluit. Uiteindelik het dit gebeur en het ek deur 5 Recce se hekke gestap en deel geword van Kleinspanne.

    Tog, ondanks die Honoris Crux op my bors en ’n hele reeks ander medaljes en aanprysings, was ek die teenpool van die stereotipe Spesiale Magte-held.

    Ek was al tot die dood toe bang. Ek het al meer kere van lewens­gevaarlike situasies af weggehardloop as wat ek kan ont­hou – en beslis meer as wat ek openlik sal wil erken. Iewers in my veelbesproke verkenningsloopbaan het weghardloop as ’t ware my voltydse tydverdryf geword. Ek het daarin uitgeblink.

    Maar, met die genade van bo, het ek weldra geleer om my vrees te oorwin en sou ek altyd terugkruip – dikwels in ’n heel letterlike sin – om my opdrag te voltooi.

    2

    ’n Jong avonturier

    EK IS OP UPINGTON GEBORE as die seun van ’n onderwyser, maar het toe ’n predikantskind geword nadat my pa op die rype ouderdom van 44 besluit het om sewe jaar lank teologie aan die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer. Ek en my twee­lingsuster, die jongste van ons ses kinders, was nog klein toe die gesin sak en pak Stellenbosch toe verhuis het.

    My wonderlike, gelukkige kinderjare het ek grotendeels aan my ouers te danke. My pa was ’n jagter en avonturier. Ek kan maklik ’n prentjie van hom in sy toga op die preekstoel in herin­nering roep, maar sal hom altyd onthou as ’n man van die natuur.

    Hy het ’n intieme liefde en ’n passie vir die veld gehad, veral vir die Kalahari, oftewel die Kgalagadi, en hy het veral in die fauna en flora van die streek belanggestel. Hy was versot op die buitelewe en het as jagter nog in die tradisionele manier van doen geglo. Jag van voertuie af, wat in daardie tyd in die Kalahari gewild geraak het, was vir hom taboe. Hy sou sy prooi eerder probeer uitoorlê of die wild vir ure geduldig in die skadu van ’n N’Xoibos inwag.

    My pa was ook lief vir sy God. Ek het menige keer op hom afgekom waar hy agter ’n bossie in die veld sit en bid het.

    My ma was ’n pragtige mens, ’n stil en uiters lojale predi­kants­vrou. Maar op haar unieke, beskeie manier het sy die fondament van ons gesinslewe gevorm. Sy was my pa se inspirasie, het die nodige roetine en dissipline vir ons kinders verskaf en het troos uitgedeel aan elkeen wat dit nodig gehad het. Ek het my afkeer van groot groepe mense en raserige partytjies aan haar te danke. Ek kan ook met trots sê ek het die spesifieke temperament wat nodig is om ’n Kleinspan-operateur te word, van haar geëerf.

    As jong seun het ek gereeld saam met my pa, toe predikant van die NG gemeente op Ariamsvlei in Suidwes-Afrika (later Namibië), na bidure op plase gery. Dié uitstappies het altyd een of ander avontuur meegebring. Ons het dikwels op een van die plase gaan kamp of jag en uitdagings het gereeld oor ons pad gekom wat dit vir my in ’n onvergeetlike ervaring sou omskep.

    Op een so ’n uittog in die International – die agtsilinderbakkie wat die gemeente aan my pa gegee het – het die voertuig gebreek. Dit was op ’n verlate plaaspad hoog in die klipkoppe op die ruwe terrein noord van die Oranjerivier. My ma en sussie was saam met ons en daar was net een uitweg: Ek sou moes stap om hulp te kry terwyl my pa-hulle by die International agterbly. Pa het die roete aan my verduidelik. Dit was ’n kortpad tussen die heuwels deur en al met die valleie langs. Met ’n vermaning dat ek my kosbare water moes spaar en my rigting met behulp van die son moes hou, het my pa my laat gaan.

    Ná vier uur se loop het ek by die plaasopstal uitgekom. ’n Voer­tuig is gestuur om my pa-hulle te gaan haal. Boere van om­liggende plase het vinnig ’n herwinningspan saamgestel en die International binne ’n paar uur by die opstal gehad. Ek was uitgeput maar nogal in my skik, want ek het geweet my alleentog deur die berge sou heelwat respek by die omgewing se plaas­seuns afdwing.

    Dit was 1972 en ek was 12 jaar oud.

    Daardie jare op Ariamsvlei was hemels vir ’n kind van my ouderdom. Ons het voortdurend allerlei avonture op die plase rondom die dorp gehad waar ons in die sementdamme geswem en kleinwild bekruip het. Ek het op ’n baie jong ouderdom leer skiet en het byna elke dag met my windbuks duiwe gejag of skyf­geskiet. Dit was ’n heerlike, sorgvrye lewe.

    My kinderjare was in baie opsigte streng, maar ek het as ge­volg daarvan ongelooflik waardevolle lesse geleer.

    Een aand laat het die dorp se polisiesersant by die pastorie kom klop: Twee jong manne uit die gemeenskap was in ’n trompop-­botsing op ’n grondpad buite die dorp. Dit het later geblyk dat die een ’n vragmotor wou verbysteek, maar nie die aankomende voertuig in die vragmotor se stofwolk gesien het nie. Toe my pa en ma in die International op die toneel aankom, was al twee jong mans sterwend, maar daar was nog tyd vir my pa om vir hulle te bid.

    Die gemeenskap was geskok deur die nuus dat twee van sy belowende jong seuns deur die dood weggeraap is. Die een is op sy ouers se plaas begrawe, terwyl die ander in die dorp se begraafplaas ter ruste gelê sou word. Tot vandag toe weet ek nie of my pa gevoel het dat ons as gesin op ’n tasbare manier ons medelye moes betoon deur die graf te grawe en of hy my doelbewus ’n les wou leer nie. Dit het in elk geval my werk geword om dit te doen.

    Ek het nie teëgestribbel nie, want onbewustelik het ek waarskynlik my pa se gevoelens gedeel. Buitendien het die uitdaging van ’n bietjie fisieke uitputting my nog nooit afgeskrik nie. Ge­wapen met ’n pik, ’n graaf en ’n bottel water is ek by die begraaf­plaas buite die dorp afgelaai. Nadat my pa my instruksies gegee het oor die ligging en afmetings van die graf, is hy daar weg.

    Binne ’n skamele uur of twee was my hande vol blase en die graf beswaarlik ’n meter diep. Die klipharde aarde en die snik­hete son van die droogtegeteisterde Suidwes het begin om sy tol te eis. My pa het daar aangekom met nog water en my ma se tuisgemaakte gemmerbier. Toe hy my hande sien, is hy dadelik daar weg om Ballistol te gaan haal, ’n geweerolie wat as salf vir omtrent enige seerplek aangewend is. Die Ballistol het als in ’n glibberige gemors omskep – nie net die blase en stukkende plekke op my hande nie, maar ook die pik, graaf en my gesig soos ek die sweet probeer afvee het.

    Daardie nag het elke spier in my liggaam gepyn. Die son het my so rooi soos ’n tamatie gebrand en my hande was in ’n toestand. Ek was doodmoeg, maar vasberade om die volgende dag die volle ses voet diep te grawe. Die volgende oggend was my hande só geswel en vol blase dat ek nie eens ’n paplepel kon vashou nie, wat nog te sê ’n graaf. My ma het vasgeskop en geweier dat ek verder gaan grawe. Sy het my pa met allerhande soorte straf gedreig as hy dit sou waag om my weer na die begraafplaas te vat. Toe sy besef dat ek geensins van plan was om op te gee nie, het sy my hande in verbande toegedraai en my handskoene laat aantrek.

    Ek het die tweede dag nog ’n hele paar uur gegrawe. In die namiddag was die graf vier voet diep, maar my hande kon net nie meer die graaf vasvat nie. Die graf moes egter klaar, want die begrafnis was oor twee dae. Ek het toe besluit om dit een stukkie op ’n slag tot die volle diepte te grawe totdat die hele graf diep genoeg was.

    Hierdie ondervinding het my geleer dat waar ’n duidelike en eerbare doel ter sprake was, ek alles in die stryd moes werp om dit te bereik, ondanks swaarkry. My pa het daardie middag ’n ervare arbeider daar aangebring wat die oorblywende twee voet in minder as twee uur gegrawe het. Dit het my egter nie gepla nie, want ek het geweet ek sou my opdrag uiteindelik wel voltooi het. My moeë liggaam en hande vol blase was ’n bittersoet herinnering aan die ure se grawery – en my stille eerbetoon aan die twee jong manne wat gesterf het.

    In 1973 is ek en my tweelingsussie na die koshuis op Upington om ons hoërskoolloopbaan te begin. As die enigste predikants­kind tussen die Kalahari se plaasseuns moes ek heelwat spot ver­duur en is spoedig herdoop tot Dominee, soms Dissipel of Priester. Maar ek het ook goeie maats gemaak en die aanslae heel maklik oorleef.

    Langnaweke en vakansies het ek en my sussie by my ouers in Suidwes deurgebring. As 15-jarige was my geliefkoosde tydverdryf steeds om in my ou jagvelde rondom Ariamsvlei rond te swerf, kleinwild te bekruip en gedurende die jagseisoen saam met my pa te gaan jag. Ek het ook begin om met ’n verslete ou rugsak lang staptogte op grondpaaie na plase aan te pak. Ek het dan dikwels by boere van die gemeente tuisgegaan.

    Die jaar 1974 het ook ingrypende verandering na ons ander­sins stil dorpie gebring. Skielik het groot konvooie militêre voer­tuie noordwaarts deur die dorp begin beweeg. Hulle het dikwels gestop om brandstof aan te vul of op die dorpsmeent langs die BSB, oftewel Boere Saamwerk Beperk (die koöporasie vir vee­boere van die distrik), te oornag. Tientalle weermaglorries en verskeie gepantserde voertuie het dan in rye langs die meent parkeer, terwyl honderde soldate op die dorp rondgehang, in die kamp bal gespeel of met die enkele nuuskierige inwoners gesels het.

    Ek het gou agtergekom dat daar ’n oorlog aan die gang was in Ovamboland, aan Suidwes se noordelike grens met Angola. Sedert 1966 het Swapo-insurgente Suidwes uit Angola binne­gesypel. Soos Swapo sy stryd om onafhanklikwording vir Suidwes uitgebrei het, is talle landmyne geplant en was daar sporadies plaasaanvalle in die noorde van die land. In 1974 het die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) die verantwoordelikheid vir die beveiliging van die 1 680 km lange grens tussen Suidwes en sy noordelike bure, Angola en Zambië, by die Suid-Afrikaanse Polisie oorgeneem.

    Hoewel ek nie toe daarvan bewus was nie, is die 22-jarige lt. Fred Zeelie daardie jaar dood, die eerste Suid-Afrikaanse soldaat wat in die Grensoorlog gesneuwel het. Zeelie was ook die eerste Spesiale Magte-soldaat wat in die oorlog gesterf het.

    Wat ek ook nie in 1974 geweet het nie, was dat Angola aan die vooraand van ’n grootskaalse, uitgerekte burgeroorlog gestaan het. In April daardie jaar het Portugal aangedui dat hy afstand wou doen van sy koloniale bestuur van die land. Dit het meegebring dat die drie bevrydingsbewegings – Holden Roberto se FNLA, Jonas Savimbi se Unita en die Marxistiese MPLA van Agostinho Neto – feitlik onmiddellik oor die beheer van die land begin stry het. Gevegte het in November 1974 in die hoofstad, Luanda, uitgebreek en spoedig na die res van die land versprei.

    Elkeen het daarna ’n gebied in Angola oorheers: die FNLA die noorde, Unita die sentrale dele van die suide en die MPLA die kuslyn, die verre suidooste en natuurlik Cabinda, wat hulle in November 1974 verower het. Op 15 Januarie 1975 het vredes­onder­handelinge tot die ondertekening van die Alvor-verdrag gelei. Ingevolge die verdrag is ’n oorgangsregering van nasionale eenheid ingestel en sou verkiesings in Oktober gehou word. Die land sou dan op 11 November 1975 onafhanklik word. Die oor­eenkoms het dalk ’n einde gebring aan die stryd om onafhanklikwording van Portugal, maar het ongelukkig tot die eskalering van die burgeroorlog gelei. Skaars ’n dag nadat die oorgangs­regering op 15 Januarie sy werksaamhede begin het, het gevegte tussen die drie bevrydingsbewegings in Luanda uitgebreek. Die koalisieregering wat deur die Alvor-ooreenkoms in die lewe ge­roep is, het spoedig tot ’n einde gekom.

    Ek het eers van hierdie gebeure bewus geword toe wit Portugeessprekende vlugtelinge in konvooie deur Upington begin ry het, hul motors tot oorlopens toe vol gelaai met hul oor­bly­wende aardse besittings. Die MPLA, gesteun deur die Sowjet-­unie en Fidel Castro se Kuba, het op 9 Julie 1975 in Luanda beheer oorgeneem. Baie wit Portugese wat voorheen die koloniale regering gesteun het, het bedreig gevoel en het die meeste van hul besittings net so agtergelaat en in aller yl uit die land gevlug. Min het ek geweet dat ek binne ’n paar jaar in die Grens­oorlog sou veg – en dit nogal skouer aan skouer met oud-­Angolese burgers.

    Einde 1975 is Operasie Savannah, ’n grootskaalse offensief deur die SAW, tot diep in Angola geloods. Die operasie het op 14 Oktober in die geheim afgeskop toe Taakmag Zoeloe, die eerste van ’n reeks SAW-kolonnes, die Angolese provinsie Cuando-­Cubango binnegedring het. Die operasie was daarop gemik om die MPLA in die suidelike grensgebied en daarna in die suidweste te elimineer. Daarna sou die SAW na die sentrale gebiede en uiteindelik na Luanda opruk.

    Met die Angolese bevrydingsbewegings wat in ’n stryd met mekaar gewikkel was, kon die SAW vinnig vorder. Taakmag Foxbat het middel Oktober 1975 by die opmars aangesluit. Die suidelike gebiede wat vroeër deur die MPLA verower is, is gou deur die Suid-Afrikaners ingeneem. Vroeg in Oktober het Suid-­Afrikaanse adviseurs en tenkafweerwapens gehelp om ’n MPLA-­aanmars op Nova Lisboa (die huidige Huambo) te stuit. Taakmag Zoeloe het Villa Roçadas (Xangongo), daarna Sá da Bandeira (Lu­bango) en uiteindelik Moçamedes (Namibe) voor einde Oktober 1975 verower.

    Die opmars is kort voor Luanda gehalt en Suid-Afrika het sy magte einde Januarie 1976 uit Angola begin onttrek.² Talle redes word vir die onttrekking aangevoer, maar in wese kom dit daar­op neer dat Suid-Afrika alleen gestaan het in die stryd teen kommunistiese uitbreiding in Suider-Afrika. Gematigde Afrika­state soos Zambië en die Ivoorkus wat Suid-Afrika oorspronklik versoek het om in Angola in te gryp, was nie in staat om enige steun te verskaf nie. Westerse lande soos Amerika en Frankryk wat aanvanklik hulp belowe het, het nie woord gehou nie. Die Amerikaanse steun aan sowel die FNLA as Unita was sporadies en onbetroubaar en dit het finaal opgedroog op die kritieke oomblik toe Suid-Afrika gereed was om Luanda aan te val. Daar­by was nóg Unita nóg die FNLA polities voldoende gevestig om ’n oorname van Luanda vol te hou.

    3

    Die saad word gesaai

    ONDANKS DIE NUWE BESOEKERS aan ons dorp, was die Grens­oorlog nie voorop in my gedagtes nie. Ek was in ’n ander soort geveg vasgevang – my eie stryd om oorlewing in die koshuis waar die lewe allerlei uitdagings na my kant toe gegooi het.

    Ek is op die té jong ouderdom van sestien, toe ek in standerd 9 (graad 11) was, tot die skool se leerlingraad verkies. As die enigste skoolprefek wat in die seunskoshuis tuisgegaan het, moes ek daag­liks my man staan teen die belhamels van die omgewing.

    Pragtige groot moerbeibome het al langs die heining in die kos­huis se voortuin gegroei. In die somer het die lieflike, ryp vrugte ’n welkome afwisseling tot koshuiskos gebied. Die moer­beie was egter ook ’n aantrekkingskrag vir bruin kinders van die buurt. Hulle was meestal kinders van huisbediendes wat in die wit woon­buurte gewerk het. Vir ’n paar juniors in die kos­huis het dit ’n naskoolse tydverdryf geword om die bruin seuns te omsingel, een of twee van hulle te isoleer en hulle dan goed op te foeter omdat hulle kwansuis die moerbeie steel.

    Die bruin kinders het gou die gevaar ingesien en besluit om nie moerbeie te pluk nie, maar slegs die ryp vrugte wat op die grond gelê het, te vat. Die koshuisseuns het hulle nie aan hierdie nietige puntjie gesteur nie: Die vrugte was hulle s’n, ongeag of dit op die grond gelê het of steeds aan die bome was. Die praktyk om die bruin seuns te teiken het dus voortgeduur. Gewoon­lik sou ’n groep se­niors terselfdertyd op die treetjies voor die koshuis se hoofingang sit en die jonges aanhits deur bevele te skree sodra die aanval geloods is.

    Ek het dit aanvanklik as onskuldige pret afgemaak totdat ek een­dag op pad terug van die kafee op ’n bruin kind afgekom het waar hy buite die koshuisheining lê en huil. ’n Paar van sy aan­vallers het om hom saamgedrom terwyl hulle hom al vloekende probeer verjaag. Die seun was bebloed en nie in staat om op te staan nie. Op die koshuistrap het die groepie seniors getrou gesit. Enkeles het steeds aanmerkings geskree of die juniors bly aanmoedig.

    Ek het na die seun gestap en hom opgehelp, maar toe ek die bloed met my sakdoek van sy gesig probeer afvee, het hy weggeruk en sy kop met sy arms bedek. Hy was te bang om selfs na my te kyk. Uiteindelik het hy moeisaam weg gehinkepink.

    Ek het teruggedraai koshuis toe en na die groep aanvallers gestap. Hul houding was uitdagend: Hoe kon ek hulle verraai deur hul slag­offer te help? Ek het egter nie teruggedeins nie en hulle uitgetrap oor hul patetiese gedrag om ’n klein seuntjie aan te val en so te ver­rinneweer. Ek het hulle teruggejaag koshuis toe en na die ingang gestap waar die seniors steeds op die trap gesit het. Toe ek verbystap, kon ek gedempte aanmerkings hoor oor hoe ek die verkeer­de kant kies. Nie een van hulle het egter die moed gehad om my openlik uit te daag nie, maar ek moes daarna dikwels hoor dat ek ’n kafferboetie is.

    Ná die voorval het ek uit gesprekke met ander seuns afgelei dat die meeste koshuisseuns nie die aanvalle gesteun het nie, maar nie kans gesien het om die skuldiges uit te daag nie. ’n Klein minderheid het die aanvalle steeds as onskuldige pret beskou.

    In daardie tyd het ek ook ’n onaangename onderonsie met een van die koshuis se inwonende onderwysers gehad. Hy was die per­soneellid aan diens en ek het twee seuns wat hulle oor die naweek aan drank vergryp het, aan hom gaan rapporteer. Die twee was al gewoontemisdadigers en almal in die koshuis was bewus van hul manewales.

    Later daardie aand het die onderwyser my ingeroep en my in die teenwoordigheid van die twee seuns gekonfronteer. Hy het my uitgedaag om voor hulle te verklaar dat hulle dronk was, waarop hy hulle onmiddellik uit die skool sou laat skors, het hy gesê. Ek het geweet dat die onderwyser goed bevriend was met albei se ouers en dat die twee geensins slegs op grond van my verklaring uit die skool geskors

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1