Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Stoffel: die beste stories
Stoffel: die beste stories
Stoffel: die beste stories
Ebook426 pages9 hours

Stoffel: die beste stories

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Christiaan Bakkes word onthou as die man wie se arm deur ’n krokodil afgebyt is in die Krugerwildtuin. Dit was ’n waterskeiding in sy lewe. Hy was linkshandig en het sy linkerarm verloor. Tydens rehabilitasie moes hy met sy regterhand leer skryf, en uit daardie pogings is Afrikaans se enigste werklike wildernisskrywer gebore. Met sy eerste boek, Die lang pad van Stoffel Mathysen, het Bakkes die Stoffel-persona geskep vir die oorvertel van ware gebeurtenisse in sy lewe. Nou, met Stoffel: die beste stories, word Bakkes se gunstelingverhale in een band byeengebring, treffend aangevul deur ’n fotoseksie in kleur. In sy kenmerkend ongekunstelde en humoristiese styl vertel hy van sy eerste wilderniservarings as kind, van sy dienspligjare en van sy werk as safarigids in Namibië. Hy vertel stories van die veld, van berge en bosse – as reisiger deur Afrika, met ’n stem soos geen ander in Afrikaans.
LanguageAfrikaans
Release dateOct 1, 2015
ISBN9780798171120
Stoffel: die beste stories
Author

Christiaan Bakkes

Christiaan Mathys Bakkes is in 1965 op Vredenburg gebore. Hy was staptoerveldwagter in die Krugerwildtuin toe hy in 1994 sy linkerarm verloor het na twee krokodille hom aangeval het. Na sy herstel reis hy deur Afrika, werk vir drie jaar vir die WWF in Namibië, en daarna by ’n safari-maatskappy. Hy woon in Damaraland in die noordweste van Namibië.

Read more from Christiaan Bakkes

Related to Stoffel

Related ebooks

Related articles

Reviews for Stoffel

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Stoffel - Christiaan Bakkes

    Stoffel:

    die beste stories

    Christiaan Bakkes

    Foto’s en verhale saamgestel deur

    Suzette Kotzé-Myburgh

    Human & Rousseau

    Die olifante van De Wagensdrif

    Het jy gehoor, Boude? My broer se oë is groot. Daar’s dit weer. Oorkant die rivier. In die bosse. Hoor jy?

    Wat? vra ek.

    Sjjt. Daar’s dit weer. Hoor jy dit?

    Nee. Wat’s dit? Sê vir my, man.

    My broer se kop is luisterend na die oorkant van die rivier gedraai. Ek hou nie van die klank in sy stem nie. Ek voel hoe die angs my beetpak. Ek hoor net hoe die water oor die spoelklippe kabbel. Die uitdrukking op sy gesig word een van gewaarwording. Verskriklike gewaarwording.

    Wat is dit, man? Ek is nou erg benoud.

    O my jirre, Boude. Dis olifante! Kom! Ons moet maak dat ons wegkom!

    Hy spring op en skop sand oor ons braaivleisvuurtjie. Hy gooi die plastiekbekers, halfbottel aanmaakkoeldrank en gefrommelde waspapier in sy rugsak. Met een sprong is hy oor die sandwal en in die rietbos in.

    Boude! Kom!

    My knieë is lam van vrees. Ek probeer uit die sand uit opstaan, maar struikel. Nou kry paniek die oorhand.

    Marius! Wag vir my, man! Waaaag!

    Sy lang bene verskyn weer bo my op die sandwal. Dan is hy langs my. Hy pluk my op aan my boarm en sleep my teen die wal uit. Met my voete wat net so elke derde keer grondvat, vlug ons blindelings deur die rietbos.

    Ek was vyf jaar oud, hy twaalf.

    Soos gewoonlik was ons douvoordag in die veld. My ma het vir ons gebotterde broodrolletjies en elk ’n stukkie wors in waspapier toegedraai. Sy het vir ons koeldrank in ’n cokebottel aangemaak en alles in Marius se seilrugsakkie gepak.

    Ek het al van die begin van die naweek uitgesien na ’n dag saam met my broer in die veld. Ons is met die voetpad deur die klofie af tot teen die rivier. Daar loop ons stroomaf rivierlangs. Dis ’n vars oggend en die sonstrale glinster op die water. Marius vertel my van die Voortrekkers wat hier met die Matebeles geveg het. Voor my geestesoog kan ek sien hoe bebaarde manne met sannas vuur op krygers wat onverwags en vreesaanjaend, assegaaie omhoog, uit die ruigtes bars. My broer se geskiedenislesse was altyd interessant.

    Die plaas se naam is De Wagensdrif, want die voorste Voortrekkers het hulle ossewaens hier deur die rivier kom trek. Net daar, dáár waar die wal nie so steil is nie. Kyk hoe vlak is die water daar. En hier kan jy nog die ou wapad se spore sien.

    Haai, ja, dis die beste plek om die waens deur te sleep.

    My broer is darem maar slim.

    Die Voortrekkers het ook baie olifante hier gejag, noem hy terloops.

    Anderkant ’n ruie rietbos lê ’n spierwit sandbank. Ons het dit op een van ons vorige ekspedisies ontdek. Net ons weet daarvan. Dit het ons gereelde uitspanplek geword.

    Ons was net klaar om ons worsies met ’n spit oor die vlamme te braai en besig om aan die flou, louwarm aanmaakkoeldrank te teug (my ma het altyd die goed te flou gemaak) toe Marius die olifante hoor.

    Nou vlug ons anderkant by die rietbos uit, die rante in. My broer los my arm en wip soos ’n grysduiker voor my uit oor die klippe. Sy kuif en sy hemp wapper.

    O got jirre jissis! Vandag vertrap hulle ons nog!

    Marius! Wag vir my! Ek gaan vir Ma sê! kerm ek agterna.

    Hy verminder spoed en ons bereik saam die kruin van die rant. Ons draf in die klofie af en anderkant uit. Onder die boekenhout met die uilnes stop Marius. Uitasem. Ek kry my asem terug en vee trane weg.

    My broer kyk my ernstig aan. Ek dink ons is nou veilig.

    Hy knipoog en sy gesig breek oop in ’n glimlag. Ek besef dat ek weer eens geflous is.

    Ek snuif een keer. Ek gaan vir Ma sê.

    Toe my pa die platteland verlaat en besef hy sal sy kinders noodgedwonge in die stad moet grootmaak, het hy met sy spaargeld vir ons ’n plaas naby Pretoria gekoop. Dit was nie veel van ’n plaas nie. Vyftig morg van sandsteenrantjies met ’n halfkilometer van die Elandsrivier. Geen boer kon dit vir weiding of landerye gebruik nie, dus het my pa dit spotgoedkoop gekry.

    Dis sestig kilometer uit die stad en naweke het ons soontoe ontvlug. Onder platkroon-wildeseringbome het ons die karavaan getrek en tente opgeslaan. My sussie het meestal onder die bome naby my ma gespeel. My oudste broer het die .22 gevat om te gaan duiwe jag. Ek en Marius het op ontdekkingsreise gegaan.

    Spoedig was daardie plaas my hele wêreld.

    Natuurlik was daar nie olifante nie. Die laaste olifante moet seker meer as ’n honderd jaar voor ons koms uitgewis gewees het om plek te maak vir plase.

    Deur my broer het dit vir my ’n wêreld vol Matebeles, Voortrekkers met sannas, leeus en olifante geword. ’n Wêreld waar enigiets moontlik was en elke ontdekkingstog vol belofte en avontuur.

    Ons paaie het intussen geskei. Hy noem my nie meer Boude nie. Hy werk nou in ’n groot kantoorblok in Johannesburg, waar hy om tafels sit saam met politici, rykes en bekendes. Elke nou en dan sien ek ’n foto van hom in die koerant of in De Kat. Ek het op die plaas agtergebly, en van daar het my paadjie weggelei uit die sandsteenrante om groter avonture in groter wildernisse te gaan soek.

    My lewe is vervleg met die wel en wee van olifante. In my weermagtyd het ek en ’n afdeling gewapende Boesmans een laatmiddag in die savannas van die Wes-Caprivi slaags geraak met ’n bende ivoorstropers. Die uiteinde was in ons guns en die olifante van die Caprivi kon ’n rukkie ontspan. In die Krugerwildtuin moes ek stapgroepe by olifante verby lei. Van veilige uitkykpunte kon ons hulle dophou en hulle doen en late probeer vertolk.

    Later werk ek in Kaokoland, die dorre noordweste van Namibië. Die olifante daar word elke jaar meer. Hulle begin kompeteer met die mense van Kaokoland. Water is skaars. As ’n trop olifante voor die Herero’s se beeste by die boorgat aankom, bly daar nie veel water oor nie. Die reën is min en die mielielandjies klein. Dit neem nie veel olifante om ’n Herero-gemeenskap se oes te vernietig nie.

    Die Herero’s aanvaar die olifante as deel van hulle daaglikse realiteit. Maar soos die olifantgetalle vermeerder, is daar meer konfrontasie, wat lei tot ontevredenheid. Saam soek ons na ’n goue middeweg. Miskien ’n vorm van finansiële voordeel uit die olifante deur toerisme, of dalk deur jag.

    Baie nagte sit ek met my .303 in my bakkie langs ’n mielieland in Kaokoland. Nie om olifante te skiet nie, net om hulle tydelik weg te hou totdat daar ’n beter plan bedink is. Dan het ek baie tyd om te dink. En soms gaan my gedagtes terug na die olifante van De Wagensdrif. Daar waar dit alles begin het.

    Die luiperd

    Die luiperd is nog jonk en onervare, maar selfversekerd genoeg om gereeld te probeer. Ongesiens sluip hy tot by die bossies teenaan die kraalheining. Daar lê hy in die laatnag en wag vir ’n paar rustelose kalwers om af te dwaal van die veiligheid van hul ma en die trop. Een of twee beweeg selfs in sy rigting, onbewus van die gevaar anderkant die heining.

    Die luiperd misreken elke nag sy kans. Soms storm hy te vroeg en ander kere talm hy nadat hy sy teenwoordigheid verklap het. Pandemonium bars los. Die beestrop loop die kraalheining plat en storm bulkend die donker bosse in.

    Só hou dit ’n maand lank aan. Elke derde of vierde nag breek die beeste uit en verwoes die kraalheining. Die boer besluit om die hulp van die veldwagter in te roep.

    Dis die jaar 1987, my eerste jaar as veldwagter. Ek was die vorige jaar nog ’n student. Ek is onervare, maar gretig om my spore te verdien en op soek na ’n uitdaging. Hierdie een wil ek behoorlik aanpak. Ek gaan steek kers op by my senior kollegas in Pietersburg en hulle vertel hoe hulle op hulle dag luiperds uitoorlê het.

    By die Nasionale Dieretuin se teelstasie op Potgietersrus kan ek ’n vanghok leen. Ek reël met die boer om op sy plaas te gaan kamp en moontlike skuilplekke vir ’n luiperd te soek. Daar sal ek die hok stel, maar niemand anders moet naby die hok kom nie.

    Die boer vertel hy het drie jaar gelede ’n groot luiperdmannetjie op sy grond geskiet. Hierdie een is moontlik ’n jongetjie wat die oue se gebied oorgeneem het.

    Wat gaan jy met die luiperd doen as jy hom gevang het? vra hy.

    Ek gaan hom by ons in die reservaat loslaat.

    Nou ja, sorg maar dat jy eerste by die hok aankom as daar ’n luiperd in is. As ek eerste daar aankom, skiet ek hom net daar dood.

    Ek slaan my kamp op tussen tambotiebome. Dae lank verken ek die plaas, inspekteer die hoë bome, ruigtes en rantjies. Op wild- en beespaadjies kry ek luiperdspore. Die witkop-beeswagter wys vir my plekke in klofies en rotsskeure waar die luiperd geslaap of onlangs ’n bobbejaan gevang het.

    Ek geniet die tydjie weg van die reservaat en leer baie by die ou man wat al sy lewe lank ’n ander man se beeste oppas.

    Eindelik besluit ek om die hok op ’n wildspaadjie in ’n sekelbosruigte te stel. Die luiperd maak gereeld van dié paadjie gebruik. Ek ry terug reservaat toe om helpers en hulle kamptoerusting te gaan oplaai. En die vanghok.

    Ons gaan noukeurig te werk om die vanghok te stel. Eerstens word die draadvloer met sand toegegooi. Die luiperd moenie voel hy betree ’n vreemde omgewing nie. Dan word die valdeur gestel. ’n Metaalstaaf aan die dak van die hok hou die valdeur oop. Aan die staaf is ’n staalkabel geheg wat deur spoele na die agterkant van die hok loop. Ek wikkel ’n jong vlakvark wat ek die vorige middag geskiet het stewig aan die kabel vas.

    Die meganisme is eenvoudig: die luiperd gaan die langwerpige hok binne en loop na die agterkant waar die vlakvark vasgebind is. Hy slaan sy tande in die prooi en trek. Die kabel span styf oor die spoele en trek die staaf agtertoe. Die valdeur wat op die punt van die staaf rus, val toe en jy sit met ’n omgekrapte luiperd in die hok. Die valdeur moet fyn gestel word op die staaf se punt, want ’n luiperd is rats en moenie ’n halwe kans kry om by die vallende deur uit te glip nie.

    Ons kamoefleer die hok deeglik met varsgekapte takke. Die hok moenie vir die luiperd vreemd lyk nie; dit moet lyk na net nog ’n ruigte waarin ’n vlakvark gevrek het. Ten laaste word die hok, die takke en die omgewing met water gespuit om die mensreuk te verwyder. Uiteindelik is net die valdeur wat bo die hok uittoring, sigbaar.

    Ek en die Pedi-veldwagters keer terug na ons kamp ’n paar kilometer weg in die tambotiebos. Die Pedi’s maak hulle tuis onder die bome en begin pap kook in ’n pot oor ’n vuurtjie. Spoedig is dit ’n gesellige kamp. Nou kan ons net wag.

    Ek vat my verkyker en stap veld toe. Die reën het vanjaar vroeg begin en goed geval. Die groen gras staan enkelhoogte. Oral is veldblomme: geel muisneuse en pers vingerhoede. Skoenlappers fladder in die oggendson. Ek geniet elke oomblik in die veld.

    My eerste taak aan die begin van die jaar was om ’n bloekomplantasie teen die grootpad aan die grens van die reservaat uit te roei. Ek en die Pedi’s het met langsteelbyle en treksae ingeklim. Dit was moordende werk en aanvanklik het my sagte studentelyf geprotesteer. Soms het die bloed vryelik met die sweet gemeng.

    Stadigaan het my liggaam vrede gemaak met die ongerief en het my vasvat om die bylsteel sekerder geword. Die byl se lem het op die regte plek splinters uit die stam laat spat. Die Pedi’s het gesien die wit man leer vinnig en staan nie terug vir werk nie. In die bloekombos word vriendskappe gesmee wat die fondament lê vir goeie werksverhoudinge. Teen die tyd dat die plantasie begin krimp, is my lyf bruingebrand en hard.

    My werk is nie tot die reservaat beperk nie. Vrydagaande waak ek op ’n koppie op die uitkyk vir skietlampe. Hierdie deel van die Noord-Transvaal het baie wild. Snags kom troppe koedoes, rooibokke en vlakvarke uit die bosse om langs die grondpaaie te wei. Dan kom die manne ná ’n paar stewige kappe brandewyn uit die kroeë in die omliggende dorpe te voorskyn. Met bakkies, skietlampe en genoeg gewere vir die derde vryheidsoorlog word daar jag gemaak op die wild langs die pad.

    Baie nagte sit ek die oortreders agterna, maar hulle ontglip my gereeld. Een nag ná ’n wilde jaagtog kry ek dit reg om ’n bakkie teen ’n plaashek vas te keer. Later in die hof moet die onwettige jagters hulle bakkie, skietlampe en gewere prysgee. Buite die hof word dreigemente en vloektaal in my rigting geslinger, maar die boodskap versprei vinnig: die nuwe veldwagter laat nie met hom speel nie.

    In die wintermaande is daar die wildvang- en uitdunningsoperasies. Oortollige getalle wild soos sebras en wildebeeste word na wildplase uitgevoer. Die wildvangspan kom kamp weke lank in die reservaat en ek help met die bou van vangkrale en houhokke. Die wildvangers is ervare bosmanne en hulle stories om die kampvuur saans wakker ons jonger manne se avontuurlus aan.

    Daar is ook die kommersiële benutting van oortollige wild in die reservaat. Ek moet self jag of jagters vergesel. Spoedig is my oog ingestel op die korrel en bewe my hand nie meer om die sneller nie. Vlakvarke, rooibokke en koedoes val voor my geweer. Al die skietoefening sal handig te pas kom wanneer ek volgende jaar weermag toe moet gaan.

    Dit was sover ’n goeie jaar, en om ’n luiperd te vang sal die jaar perfek afrond.

    Toe die middaghitte toeneem, stap ek terug kamp toe. Die Pedi’s het intussen ’n groot militêre tent opgeslaan. Hulle luister oor ’n draagbare radio na ’n sokkerwedstryd in Noord-Sotho.

    Dit gaan reën vanaand, morena, sê Januarie Mabogoane toe hy my gewaar.

    Toe die reënbui later begin, gaan sit ons almal in die tent.

    Vroeg die volgende môre laat ek en Januarie die res by die kamp agter en ry deur die nat veld om die hok te gaan inspekteer.

    Ek’s bekommerd, Januarie. Ons het daai valdeur baie fyn gestel. Die reën en wind kan hom dalk laat val.

    Ons sal sien, morena.

    Ek stop met die Land Cruiser ’n ent van die hok af. Ons loer deur die bosse.

    Die deur is nog oop, sê Januarie.

    Dit neem my ’n rukkie om die valdeur bo die sekelbosse te sien.

    Kom ons gaan terug kamp toe. Ons werk is klaar vir vandag.

    Ek loop die res van die dag in die veld rond. Januarie en die Pedi’s bly in die kamp.

    Die volgende môre is die valdeur nog steeds oop. Ek ry vir die dag reservaat toe om te kyk hoe dinge daar gaan. Toe ek die aand terugry kamp toe, reën dit hard. Vanaand waai daai valdeur wragtig af.

    Die volgende dag breek wolkloos en helder. Die gras en blare glinster in die oggendson toe ek en Januarie veld toe ry.

    Die deur is af, morena.

    Bliksem, ek het so gedink.

    Ek klim uit die Land Cruiser en stap na die hok om die valdeur weer te stel. Januarie kom agterna.

    Ek is omtrent tien treë weg toe ek ’n diep gegrom uit die skadu’s van die hok hoor. Ek steek in my spore vas. Die grom verander in ’n verwoede brul en van agter uit die hok duik die luiperd op my af, tande ontbloot en geel oë blitsend. Dit voel of die bloed in my are stol. Januarie spring om en nael kar toe. In my gerustheid het ek die 12-boor-haelgeweer op die bakkie se sitplek gelos.

    Die valdeur stuit die luiperd en hy val terug op die vloer van die hok. Maar hy werp hom weer teen die deur. Hygend en grommend beur hy met al sy mag. Sy kloue krap teen die staalrooster; ek sien hoe ’n nael stomp afbreek. Die luiperd gluur my woedend aan met sy geel oë. Ek staan versteen.

    Dan is Januarie langs my. Hy stop die geweer in my hand. Skiet hom, morena, skiet hom!

    Ek kom stadig tot verhaal. Dis ’n stewige hok; die luiperd kan nie uitkom nie. Ons het ’n luiperd gevang! Toe ek dit die minste verwag, wag daar ’n luiperd in die hok.

    Skiet die tier, morena, por Januarie.

    Ek skud my kop. Nee, ek gaan hom nie skiet nie. Ons gaan die hok op die bakkie laai en die tier in die reservaat vrylaat.

    Januarie kyk my ongelowig aan.

    Ons jaag met die Land Cruiser terug kamp toe om die ander veldwagters en die nodige toerusting te gaan haal. Januarie sweep die manne op en gou is hulle in rep en roer. Inkwe! Inkwe! weerklink dit deur die kamp soos hulle skarrel vir grawe, pale en die groot grondseil.

    Teen die tyd dat ons terugkom by die hok is die luiperd rasend. Ek tru die bakkie tot teen die hok. Die Pedi’s spring af en staan eenkant en kyk. Met die haelgeweer in een hand begin ek die takke van die hok af trek.

    Januarie kom val langs my in. Sy nuutgevonde moed maak hom minagtend teenoor die ander wat onseker rondstaan.

    Kom help, julle bang bliksems!

    Een-een val hulle in.

    Die luiperd werp hom na alle kante toe teen die hok en laat die Pedi’s verskrik terugspring. Hy spring sy neusvelle af teen die staalrooster van die hok se wande. Uiteindelik gaan lê hy grommend plat in ’n hoek, verskrik, woedend en wanhopig.

    Gou is al die takke verwyder. Aan die boonste rame van die hok is vier staalringe vas, twee aan elke kant. Twee stewige houtpale word daardeur gedruk om die hok op die bakkie te lig. Ek, Januarie en twee van die Pedi’s lig die hok uit die ruigte uit. Die luiperd protesteer met luide brulle. Die sekelbosse laat bloedstrepe oor ons arms en bene en sweet slaan op ons gesigte uit.

    Vorentoe en lig hoog, manne!

    Iemand struikel en die valdeur haak teen die bakkie se klap. Soos die hok afsak, skuif die deur oop. Pedi’s spat in alle rigtings. Ek sien die gevaar. Ek het die haelgeweer teen die bakkie se wiel staangemaak om die hok te dra. Die gaping onder die valdeur is groot genoeg vir die luiperd om uit te kom en verwoesting te saai. Hy is te besig om hom teen my kant van die hok te werp om die gaping te sien, maar dis ’n kwessie van sekondes voor hy dit gaan raaksien.

    Met al my krag beur ek die swaar hok boontoe. Dit voel of die are in my kop gaan bars. Sweet stroom oor my voorkop. Die hok sak nie verder nie, maar die gaping is nog groot genoeg vir die luiperd om uit te kom. Hy sal my eerste bykom.

    ’n Luiperd spring gewoonlik vir jou strot en haak sy voorkloue in jou nek of kopvel; met sy agterkloue krap hy jou binnegoed uit. Ek beur verbete met my laaste krag boontoe. Die hok lig ’n paar duim en die deur begin toeskuif.

    Januarie verskyn aan die ander kant van die hok. Hy gryp die paal vas en beur. Die hok lig vry van die bakkie se klap en die deur skuif toe. Ons laat die voorkant van die hok op die klap rus om asem te skep.

    Dit was amper, Januarie . . . fokken amper.

    Ek hou die haelgeweer op die luiperd gerig terwyl die veldwagters die hok op die bak instoot en dit toetrek met die seil. Onder die seil klink dit of die luiperd bedaar.

    Ek het ’n gunstelingplek in die reservaat. In die suidoostelike hoek is daar ’n mooi stuk sandveld omring deur sandsteenkoppe en ek kamp graag daar tydens patrollies. Dis ’n oop savanna met groot kameeldorings, sandvaalbos en raasblare. Daar is ’n paar groot panne wat vol loop tydens die reënseisoen.

    Tans is daar baie water, maar in die droë seisoen hou ons een van die panne vol met ’n pypleiding wat ons ondergronds van ’n nabygeleë windpomp af aangelê het. Troppies sebras en tsessebes is lief vir hierdie grasveld en die kameelperde kom vreet aan die kameeldorings. In die omliggende rante wemel dit van dassies, bobbejane en klipspringers. Goeie luiperdkos. Dis waar ek die luiperd wil vrylaat.

    Ek het soms al ’n ander luiperd se spore daar gekry, maar dit maak mos nie saak nie. Die reservaat is groot genoeg vir nog ’n luiperd.

    Die rit van sestig kilometer terug reservaat toe verloop sonder voorval. By die ou plaasopstal wat my hoofkwartier is, laai ek die veldwagters af. Net Januarie en twee ander kom saam.

    Ek ry na die stuk sandveld toe. Onder ’n dikbas met ’n oorhangende tak laai ons die hok af. ’n Tou word aan die valdeur vasgebind en oor die oorhangende tak gegooi. Ek maak die hok weer met die seil toe en neem die veldwagters terug kampong toe. Ek sal die luiperd alleen kom vrylaat.

    Dis laatmiddag toe ek terug is by die sandveld. Die ander Pedi’s was tevrede om agter te bly, maar Januarie het daarop aangedring om saam te kom. Dis mos sy tier ook.

    Saam verwyder ons die seil. Die luiperd raas en brul, sy stert klap heen en weer teen die vloer van die hok. Sy neus is nerfaf geskaaf en sy kloue bloei. Ek bewonder nog vir ’n paar oomblikke die pragtige dier. Dan neem ek die punt van die tou wat oor die tak hang en loop na die bakkie toe.

    Ek en Januarie klim in die kajuit. Ons maak die deure toe en draai die vensters halfpad op. Een van die ou veldwagters het vertel dat ’n luiperd wat uit ’n hok kom ’n omgekrapte dier is. Jy staan nie sommer bo-op die hok en trek die deur oop nie. Hy gaan jou vir seker opfok.

    Vanuit die bakkie trek ek die tou styf. Dit gly oor die tak en die valdeur skuif stadig oop. ’n Rukkie bly die luiperd nog grommend lê. Dan besef hy wat aangaan. Soos blits skiet hy by die hok uit. Ek sien hoe sy goue gespikkelde lyf in die lang gras verdwyn.

    Die luiperd se instink is om so ver moontlik van die hok en die mense weg te kom. Hy is te vol vrees en woede om die pyn van sy rougeskaafde pootkussings, gebreekte kloue en nerfaf neus te voel. Kop omlaag laat vat hy oor die savanna na die ruigtes aan die voet van die rante. Die oop grasvlakte in daglig maak hom kwesbaar. Gou word hy verswelg deur die blinkblaar-wag-’n-bietjie en ander struikgewasse tussen die rotse.

    Steeds hardloop hy aan, maar nou voel hy veiliger. Sy skerp sintuie lees vinnig die onbekende terrein waarin hy hom bevind. Hy draai skerp en met ’n paar spronge verdwyn hy in ’n beboste klofie wat teen ’n rantjie uitloop. Verskuil deur horingpeultjieboom, stamvrug en wildesalie verdwyn hy oor die kruin, weg van die afgelope ure se skrikwekkende ervaring.

    Diep in die koppe verminder hy spoed en slaan oor na ’n drafstap. Nou raak hy bewus van die uitputting en pyn, die oorweldigende dors. Dit neem hom nie lank voordat hy reënwater in ’n rotspoeletjie kry nie. Hy hurk en drink langsaam. Die water is ’n lafenis, maar die pyn klop in sy bebloede neus en pote. Uitputting oorwin sy vrees. In ’n graskol onder ’n struik tussen twee rotse gaan lê hy en begin lek sy pote en neus. Hy probeer sy waaksaamheid behou in die vreemde omgewing, maar die dag was te veel vir hom. Die son sak oor die sandsteenrantjies en dis nog nie behoorlik donker nie, toe laat sak hy sy kop op sy pote en slaap.

    In die nag word hy wakker. Hy sien sy omgewing duidelik, maar hy is gedisoriënteer; hy weet nie waar hy is nie. Hy is seer en honger en dors. Tog sê sy instink iets is nie pluis nie. Skielik weet hy. Oral teen die bosse, boomstamme en rotse hang die reuk onmiskenbaar. Nie die gehate mensreuk wat hy voortaan altyd met gevangenskap sal vereenselwig nie, maar ’n ander reuk, ander gevaar.

    Hy is in die gebied van ’n ander luiperdmannetjie. Die reuk aan die rotswand vertel hom dat die ander luiperd sterk is. Oud en wys. Hyself is nog jonk en onervare. Hy moet hier wegkom. Padgee of sterf.

    Hy staan op om weer water te drink. Sy pote is koud van die stil lê en elke tree op sy teer pootkussings is pynlik. Sy hele lyf is styf en die honger knaag. Hy moet kos kry en dan die pad vat, terug na sy eie gebied.

    Hy begin die koppe verken. Hy ruik oral kos. Dassie en bobbejaan, maar nie naby nie. Telkens rus hy, maar die beweging maak hom warm en verlig die pyn.

    Dagbreek kry hom op die kruin van ’n koppie. Onder hom lê die bosveld welig en nat van die dou. ’n Dassiefamilie kruip uit ’n skeur en gaan sit teen ’n rotswand, styf teen mekaar, om in die eerste sonstrale te ontdooi. Die luiperd hou hulle stip dop vanuit die skadu’s. Van bos tot rots sluip hy nader, tot teen die rotswand. Al sy sintuie is toegespits op die jag. Hy vorder ongesiens tot ’n paar meter van die dassies af.

    Met een sprong is hy tussen hulle. Die dassies skrik te laat en sy tande sink agter die nek van die grote in. Die ander skarrel vir rotsskeure. Die luiperd se voete gly oor die bros sandsteen en met die wriemelende dassie in sy bek tuimel hy oor die afgrond. Behendig land hy op sy pote tussen die nat gras en dorings ’n paar meter ondertoe. Sy kloue bloei van voor af, maar sy jagtog was suksesvol. Op ’n rotslys rus hy ’n ruk voor hy begin vreet.

    Hy weet hy moet padgee, maar die dassie lê behaaglik in sy maag en die stygende hitte maak hom lomerig. Die pyn in sy neus en pote klop dof. Hy skuif in die skadu van ’n rotsskeur in en slaap. Hy slaap diep. Hy is jonk en sterk. Terwyl hy slaap, herwin sy liggaam sy kragte.

    Die luiperd word verkwik wakker. Sy kop is dadelik helder. Weer eens kry hy die reuk van die ander luiperd waar hy sy gebied teen bome en rotse afgebaken het. Die ander luiperd is moontlik klaar op sy spoor. Waaksaam staan hy op en sluip met die bosse langs. Hy sal nie opgewasse wees teen die ander luiperd nie, hy moet wegkom.

    By ’n rotspoel in ’n klofie stop hy eers. Hy bespied die omliggende area lank voor hy hurk om te drink. Die koel water verkwik hom verder. Geruisloos verskyn ’n skadu bo hom. Hy probeer wegspring, maar vergeefs.

    Die geweld van die groot mannetjie se sprong dryf al die asem uit die jonger luiperd se longe uit. Die momentum van die aanval lig hulle al twee oor die rotslys. Die ouer luiperd het sy kloue in die jonge se skof en sy tande in die los nekvel ingeslaan. Ineengestrengel in ’n doodsomhelsing rol hulle in die klofie af.

    Naby die voet van die koppie kom hulle teen ’n rots te lande en spat uitmekaar. Paniekbevange kom die jong luiperd orent en slaan blindelings op die vlug. Die ouer luiperd haal hom van agter af in en klap sy agterpote onder hom uit. Die jong luiperd byt in die stof. Voor hy behoorlik regop kan kom, klap die ander luiperd hom ’n verblindende hou teen die slaap. ’n

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1